El-Roi - Afrikaans

Studies

Gedigte

God

Israel

Profesiee

Satan

Profesiee oor die Wederkoms

Profesiee oor die Wederkoms

Prof. Johan Malan, Universiteit van die Noorde, Suid Afrika

Opsomming: Profesieë oor die wederkoms van Christus moet letterlik vertolk word. Hiersonder sal 'n Christen geen duidelik beeld oor die eindtyd en die koms van die Here Jesus hê nie.

Hieronder is kort bydraes deur verskeie skrywers oor die vertolking van Bybelse profesieë oor die eindtyd. Onder hulle is my oorlede vader (ds. J.S. Malan) asook my broer, ds. D.E. Malan.

Die herstel van Israel

Deur prof. J.S. Malan

‘n Baie belangrike tema in Bybelse profesieë is dié van die eindtydse herstel van die volk Israel na hulle eie land. Die herstel van die stad Jerusalem is trouens die belangrikste enkele teken wat ons oor die einde van die tye van die nasies het, en dus ook van die einde van die kerkbedeling (Luk. 21:24). Oorweeg asb. noukeurig die volgende aspekte m.b.t. die historiese, huidige én toekomstige posisie van die volk Israel:

Die Here het ‘n onvoorwaardelike belofte aan Abraham gemaak dat die land Kanaän as ‘n ewige besitting aan sy nageslag gegee word: “Slaan tog jou oë op en kyk van die plek waar jy staan, na die noorde en suide, na die ooste en weste; want die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee en aan jou nageslag tot in ewigheid” (Gen. 13:14-15). Hierdie belofte is ook aan Isak (Gen. 26:3) en aan Jakob, die vader van die 12 stamme van Israel, bevestig (Gen. 28:13).

Later het die Here die voorwaarde van gehoorsaamheid en getrouheid teenoor Hom gestel indien Israel voorspoedig in die Beloofde Land wou woon. Indien hulle teen die Here opstandig sou raak en nie sy gebooie onderhou nie, sou die land verwoes en die volk as ballinge deur hulle vyande weggevoer word: “En Ek sal julle onder die volke verstrooi en ‘n swaard agter julle uittrek; en julle land sal ‘n wildernis en julle stede puinhope word” (Lev. 26:33).

Hoe vernietigend en absoluut hierdie strawwe ook al mag klink, het die Here nooit daardeur die onvoorwaardelike beloftes wat Hy aan Abraham, Isak en Jakob gemaak het, in die gedrang gebring nie. Hy sou dus deur die eeue heen ‘n oorblyfsel van Israel in stand hou om die beloftes wat Hy aan hulle vaders gemaak het, te beërf:

“Maar ook dan, as hulle in die land van hul vyande is, verwerp Ek hulle nie en het Ek van hulle geen afsku, sodat Ek ‘n einde aan hulle sou maak en my verbond met hulle sou verbreek nie; want Ek is die Here hulle God. Maar Ek sal tot hulle beswil dink aan die verbond van die voorvaders wat Ek uit Egipteland voor die oë van die nasies uitgelei het om vir hulle ‘n God te wees. Ek is die Here” (Lev. 26:44-45).

Hierby word ook nog die volgende belofte gevoeg:

“...die Here jou God (sal) jou lot verander en Hom oor jou ontferm; en Hy sal jou weer versamel uit al die volke waarheen die Here jou God jou verstrooi het. Al was jou verstrooides aan die einde van die hemel, daarvandaan sal die Here jou God jou versamel, en daarvandaan sal Hy jou gaan haal. En die Here jou God sal jou bring in die land wat jou vaders in besit geneem het” (Deut. 30:3-5).

Tydens hulle verstrooiing onder die nasies word Israel gelouter, sodat die begeerte in hulle harte kan ontstaan om na die Here en na hulle land terug te keer. Hoewel die Here dus harde woorde teenoor hulle gespreek het, het Hy hulle nooit as volk verwerp en sy verbond met hulle verbreek nie:

“Is Efraim vir My ‘n dierbare seun of ‘n troetelkind? Want so diwels as Ek teen hom spreek, dink Ek nog altyd aan hom; daarom is my ingewande oor hom in beroering; Ek sal My sekerlik oor hom ontferm, spreek die Here” (Jer. 31:20).

Die beloftes oor die instandhouding van die verbond tussen God en Israel is nog sekerder as die vaste natuurwette wat God ingestel het (Jer. 31:35-37). Van Israel se herstel het die profete van God telkens bevestiging gegee:

“Daarom, sê vir die huis van Israel: So spreek die Here... Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in jul land bring. Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word... en julle sal woon in die land wat Ek aan jul vaders gegee het” (Eseg. 36:22-28).

Hierdie groot herstel van Israel is uit die internasionale verstrooiing wat eers in die Nuwe Testamentiese tyd aangebreek het (Luk. 21:24), dus moet dit nie met die herstel uit die Babiloniese ballingskap verwar word nie. Die profeet Hosea voeg by dat die fisiese herstel van die volk ook op ‘n geestelike herstel sal uitloop, en dat dit in die laaste dae sal plaasvind (Hos. 3:5).

Daar is dus geen Bybelse regverdiging van enige aard dat God weens Israel se ontrouheid sy verbond met hulle sou verbreek en nietig verklaar nie:

“Wat is dan die voordeel van die Jood? Of wat is die nut van die besnydenis? Groot, in alle opsigte: ten eerste tog seker dat aan hulle die woorde van God toevertrou is. Want wat maak dit as sommige ontrou geword het? Sal hulle ontrou miskien die getrouheid van God vernietig? Nee, stellig nie!” (Rom. 3:1-4).

Paulus herbevestig hierdie belangrike feit later in die boek Romeine:

“Het God miskien sy volk verstoot? Nee, stellig nie! Want ek is ook ‘n Israeliet uit die nageslag van Abraham, van die stam van Benjamin... die verharding (het) ten dele oor Israel gekom totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en die goddelooshede van Jakob afwend” (Rom. 11:1, 25-26).

Ons sien in Openbaring 7 hoedat daar vroeg in die verdrukking 144000 Jode “uit al die stamme van die kinders van Israel” gered sal word (Op. 7:4). Dit is ‘n voorspel tot die nasionale bekering van die oorblyfsel van Israel wanneer die Messias met sy wederkoms sy voet op die Olyfberg sal sit (Sag. 12:10; 13:1, 9; 14:4-5).

Die Here Jesus het in sy profetiese rede klem op die feit gelê dat Jerusalem een van die belangrikste tekens van die eindtyd is. Hierdie stad sou deur die eeue heen vertrap word terwyl die nie-Joodse wêreld geëvangeliseer word. Die einde van Jerusalem se vertrapping spel dus die einde van die bedeling van die nasies uit:

“Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24).

Die vertrapping van Jerusalem word in fases tydens die laaste geslag beëindig. In 1967 met die oorwinning in die Sesdaagse Oorlog, is Jerusalem se fisiese vertrapping en oorheersing deur nie-Joodse nasies beëindig. In 1980 is die staatkundige vertrapping van Jerusalem beëindig toe die stad deur die destydse eerste minister, mnr. Begin, tot die ewige en onverdeelbare hoofstad van Israel verklaar is. Al wat nou nog steeds voortgaan, is die geestelike vertrapping van die Tempelberg deur die heidene, waar tans drie Moslem moskees staan. Met Israel se voorbereidings vir die herbouing van die tempel, sal die einde van Jerusalem se eeue oue vertrapping aanbreek. Die volk Israel en die stad Jerusalem is van die groot bewyse dat Bybelse profesieë letterlik bedoel is.

‘n Letterlike duisendjarige vrederyk op aarde

Deur ds. J.S. Malan

Die begrippe chiliasme (uit Grieks afgelei) en millennialisme (uit Latyn afgelei) verwys beide na die duisendjarige vrederyk van Christus, soos in Openbaring 20 beskryf. Die verskil tussen chiliaste (millennialiste) en antichiliaste (amillennialiste) is dus of daar ‘n aardse vrederyk sal wees, of nie.

Dit is egter nie al nie – vir my is die verskille tussen hierdie twee skole van denke veel meer diepliggend. Die chiliaste en antichiliaste verskil oor die toekoms van Israel, die duisendjarige ryk, die eerste en tweede opstanding, asook die vertolking van verskeie ander profesieë. Deur vergeesteliking word ‘n totaal ander verklaring daaraan gegee as dit wat in die Bybel staan.

Hierdie laaste gebruik kan ons ‘n bietjie nader toelig. Alles wat nie by die antichiliaste se vooropgestelde idees inpas nie, word vergeestelik en ‘n betekenis gegee wat anders is as dit wat in die Bybel staan. So word die seëninge van Israel na die vlees op die kerk van toepassing gemaak, maar die veroordelings en strawwe van Israel word oor die hoof gesien en geïgnoreer. As Paulus bv. sê: “God het sy volk wat Hy tevore geken het, nie verstoot nie” (Rom. 11:2), dan sê die antichiliaste: “Mens moet dit anders verstaan.”

Die mees jammerlike verdraaiing van die Skrif vind ons by die antichiliaste se eksegese van Eségiël 37 waar Israel en Juda met die doodsbeendere in die vallei vergelyk word. Op ‘n ondubbelsinnige wyse sê die Here: “Kyk, Ek gaan die kinders van Israel haal tussen die nasies uit waarheen hulle getrek het, en Ek sal hulle van alle kante bymekaar laat kom en hulle bring in hulle land. En Ek sal hulle een volk maak op die berge van Israel en een Koning [die Messias] sal vir hulle almal koning wees” (Eseg. 37:21-22). Tóg vergeestelik die antichiliaste hierdie gedeelte en ontken dat dit op Israel betrekking het.

Graag wil ek dit duidelik stel dat chiliasme nie, soos soms beweer word, ‘n dwaalleer is wat later by die kerk ingesluip het nie. In werklikheid het die apostels en vroeë kerkvaders chiliasme geglo en geleer.

Origenes het in die derde eeu met ‘n nuwe teologiese rigting begin waarin Skrifgedeeltes vergeestelik word om ‘n ander betekenis daaraan te gee. Dit was ‘n dwaalleer waarin die oorlewering van die apostels en vroeë kerkvaders teëgestaan is. Hierdie metode van Skrifverklaring is streng deur Martin Luther, dr. Adam Clarke en andere veroordeel.

‘n Groep teoloë, ook in die NG Kerk, het later verkondig dat die vrederyk óf met die opstanding en hemelvaart van Christus óf met die bekering van Konstantyn die Grote in 325 n.C. ‘n aanvang geneem het. Dié vrederyk het egter in die Middeleeue, tot by die Kerkhervorming, in ‘n toestand van goddeloosheid verval.

In Jesus komt, die Nederlandse vertaling van William Blackstone se boek Jesus is coming (bl. 72-73), is talle aanhalings uit geskiedskrywers se werke wat almal erken dat die leer van die vrederyk die algemene beskouing van die Christelike kerk tot aan die einde van die derde eeu was. Hierna het die antichiliasme ingesluip.

Die beskouings wat in die NG Kerk se Leerboek vir senior kategese, No. 3 (bl. 173-174) gehuldig word, is lynreg in stryd met hulle eie kerkleer. Dit is ‘n onreg aan ons ouers en hulle kinders dat die jeug só in die katkisasie onderrig word. Dit is opvallend dat die beredenering van die saak van antichiliasme ook in hierdie kategese-boek glad nie op Skrifuitsprake gebaseer is nie. Dit word slegs beweer dat chiliasme ‘n dwaalleer is wat met die Christendom in stryd is, sonder om dié stelling verder te kwalifiseer.

Van die duisendjarige vrederyk word bloot gesê: “’n Deeglikse eksegese van Openbaring 20 toon duidelik aan dat ons nou, d.w.s. vanaf die kruisiging tot voor die wederkoms, in die duisend jaar lewe waarin Satan gebind is” (bl. 173).

Kom ons keer na die basiese Bybelse waarhede terug en verkondig die volle raad van God, ook met betrekking tot die wederkoms, sodat lidmate nie in hierdie laaste dae in onsekerheid hoef te leef en in die duister rond te tas oor wat die toekoms vir ons inhou nie.

Die Bybel se grondbetekenis word in chiliasme eerbiedig

Deur ds. D.E. Malan

Hoe lees ons die Bybel? Wanneer ons die profetiese woord bestudeer, is hierdie vraag van deurslaggewende belang. Uit ‘n bestudering van die vervulling van Ou Testamentiese profesieë kan elke persoon vir homself besluit of hy met die letterlike verklaringsmetode saamstem, en of hy liewer op allegoriese wyse na ‘n meer verborge betekenis agter dit wat geskryf is, wil soek. Die twee sienings oor die wederkoms, nl. die chiliasme (verwag ‘n duisendjarige vrederyk van Christus op die aarde ná die wederkoms) en die antichiliasme (geestelike koninkryk gedurende die bedeling van die kerk) kan met die letterlike en allegoriese verklaringsmetodes onderskeidelik, in verband gebring word.

Die letterlike, of normale wyse waarop ons die Bybel lees, leer ons inderdaad die dinge waaraan ons as chiliaste glo. Hamilton, wat self ‘n antichilias is, erken hierdie feit in sy boek The basis of millennial faith, wanneer hy sê: “Ons moet eerlik erken dat ‘n letterlike interpretasie van Ou Testamentiese profesieë aan ons dieselfde beeld van ‘n aardse Messiaanse ryk bied as dit wat deur die chiliaste geleer word.” Hamilton erken dus dat die verskil tussen chiliasme en antichiliasme nie is of die Bybel ‘n duisendjarige koningskap van Christus leer nie, maar hoe die Skrif wat wél so ‘n koningskap leer, geïnterpreteer moet word – letterlik of allegories.

Verskeie verklaringsmetodes van die Bybel is deur die eeue gevolg. Daar is egter twee wat werklik van belang is, veral in die bestudering van profesieë, en dit is die allegoriese en grammaties-historiese metodes. Laasgenoemde is die letterlike verklaringsmetode.

Allegorie

In sy Dictionary of the Christian Church definieer McDonald allegorie soos volg: “Die gebruik van taal om ‘n dieper en verskillende betekenis oor te dra as dit wat basies gekonstateer word.”

‘n Allegoriese verklaring moet duidelik van ‘n simboliese verklaring onderskei word. Die Bybel maak dikwels, ook in profesieë, van simboliese taal gebruik. ‘n Simbool, wat in sigself nie altyd ‘n besondere betekenis het nie, word dan gebruik om ‘n bepaalde gedagte, persoon of gebeurtenis by die leser tuis te bring. Dit is dan uit die verband duidelik dat dit ‘n simbool is en ‘n ander verklaring moet hê, bv. die dier met die sewe koppe wat op die Antichris dui.

By ‘n allegoriese verklaring het die Skrifwoord self egter wél ‘n duidelike en voor die hand liggende verklaring, maar die leser besluit dat hy iets anders daarin wil lees en ken dan willekeurig ‘n geestelike of figuurlike betekenis daaraan toe. Hy verklaar bv. “Israel” as “die kerk”, die 144 000 Jode van Openbaring 7 wat vroeg in die verdrukking gered gaan word, word vir hom al die miljoene gelowiges van alle tye, en die komende duisendjarige vrederyk word die veel langer kerkdispensasie waarin die duiwel volgens hom gebind is.

Die allegoriese verklaarder onderwerp hom dus nie aan die gesag van die Skrif om ‘n betekenis daaruit te haal nie (uitlegkunde of eksegese), maar kom met ‘n vooropgestelde idee wat dan in die Skrif ingelees word (inlegkunde). Dit word die vervangingsteologie genoem waarin die grondbetekenis van ‘n woord met ‘n ander betekenis vervang word.

Angus en Green praat in The Bible handbook ook van hierdie gevaar wanneer hulle sê: “Daar is ‘n onbeperkte moontlikheid vir vrysinnige vertolkings wanneer hierdie beginsel erken word en die enigste basis vir Skrifverklaring in die gedagtes van die verklaarder gevind word. Geen egte Skrifverklaring kan op hierdie wyse gedoen word nie.”

In sy Protestant Biblical interpretation voeg Bernard Ramm die volgende by: “Om te beweer dat die grondbetekenis van die Bybel ‘n sekondêre betekenis is, en dat die belangrikste metode van Skrifverklaring die vergeestelikingsmetode is, is om die deur vir feitlik onbeheerde spekulasie en verbeelding oop te maak. Om hierdie rede dring ons daarop aan dat beheer oor interpretasie deur die letterlike metode uitgeoefen word.”

Die allegoriese metode van interpretasie word byna nooit konsekwent toegepas nie, want dit berus by die interpreteerder om te besluit wanneer hy die normale betekenis van ‘n Skrifwoord wil aanvaar, en wanneer hy dit wil vergeestelik. Daar is dus geen beheer oor dit wat iemand uit die Bybel haal nie, en die Bybel self het nie meer beheer oor hoe dit gelees word nie. O.T. Allis erken die gevaar hiervan wanneer hy sê:

Die vraag of die figuurlike of geestelike interpretasie van ‘n bepaalde gedeelde geregverdig is of nie, hang slegs daarvan af of dit die ware betekenis weerspieël. Wanneer hierdie metode van verklaring gebruik word om woorde van hulle duidelike en voor die hand liggende betekenis te ontledig om vir ander betekenisse plek te maak, dan is dit heeltemal geregverdig om allegorisering, of vergeesteliking, as ‘n oneerbare en verwerplike metode van Skrifverklaring te beskryf.

Origenes (geb. 185 n.C.) is die vader van die allegoriese interpretasie en het heelwat boeke oor die verstaan van die Bybel geskryf. Hy was egter sterk onder die invloed van die Griekse filosofie van Plato, en wou filosofies meeleef maar tóg ook Christen bly. Prof. F.J.M. Potgieter skryf soos volg oor hom:

Origenes vind tóg ‘n poort waardeur hy aan die filosofiese toegang kan verleen. Daar is naamlik ‘n drieërlei eksegese (interpretasie) van die die Bybel:

Somatiese of letterlike eksegese wat vir die eenvoudige genoeg is;
die psigiese of morele vir die gevorderdes; en
die pneumatiese of allegoriese vir diegene wat die wysheid besit.

Dié wat die wysheid het, moet deur die simbole heen dring en na die misterieuse opklim. Deur hierdie eksegese het hy die weg geopen vir allerlei dwalinge en metafisiese spekulasie.

In die lig van bogenoemde is dit ook glad nie snaaks dat Origenes nie alleen die vader van die allegorie is nie, maar ook van die antichiliasme. Die werklike bestaan was vir hom in die filosofies-geestelike gnosis (godsdienstige waarheidskennis) geleë waarheen elkeen moet vorder. Daar kan dus geen sprake van ‘n fisiese koningskap van Christus wees nie. Ons vind derhalwe hier ‘n baie bedenklike oorsprong van allegoriese interpretasie en van antichiliasme as sodanig!

Kerkvaders voor Origenes was byna sonder uitsondering letterlike verklaarders en chiliaste. Hiervan is Irenaeus (geb. 110 n.C.) ‘n baie goeie voorbeeld. Hy was in ‘n verbete stryd teen die heidense gnostieke invloed op die Christendom. Prof. Potgieter, wat self ‘n antichilias is, skryf soos volg oor Irenaeus:

Die reaksie teen die Gnostiek is ook duidelik op die klem wat hy op die opstanding van die liggaam lat val. Die antitese teen Gnostisisme het hom egter in chiliasme laat verval. Nadat die wêreld 6000 jaar bestaan het, sal Christus volgens hom weer kom. Onmiddellik vooraf verskyn die Antichris, wat deur Christus vernietig sal word. Dan word die liggame van die gelowiges opgewek en hulle heers vir ‘n duisend jaar met Israel as sentrum van die vrederyk. Aan die einde van die duisend jaar staan die liggame van die goddelose op. Na beide liggaam en siel ontvang hulle dan hulle ewige straf.

Vandag beskou die gereformeerde antichiliaste hulleself nie as allegories nie, hoewel hulle Bybelse profesieë allegories verklaar. Die rede hiervoor is omdat Calvyn die allegoriese verklaringsmetode bestry het, waarskynlik op grond van die heidense en Katolieke konnotasie daarvan. Calvyn wou alle outoriteit en beheer oor Skrifverklaring aan die Bybel teruggee, maar hy het tóg nie die insig gehad om te besef dat antichiliasme ‘n direkte gevolg van die popularisering van die allegorie was nie.

‘n Studie van die allegoriese en histories-grammatiese verklaringsmetodes maak dit onomwonde duidelik dat vandag se antichiliaste nog allegoriese reste oorgehou het om by die voor die hand liggende betekenisse van Bybelse profesieë verby te skram.

Histories-grammatiese interpretasie

In sy gesaghebbende boek, Things to come, gee Dwight Pentecost die volgende definisie van die letterlike metode van Skrifverklaring:

"Die letterlike metode van interpretasie is daardie metode wat aan elke woord dieselfde betekenis toeskryf as wat dit in die gewone, alledaagse gebruik van die spreektaal, skryf- of denkwyse het. Dit word die grammaties-historiese metode genoem om die feit te beklemtoon dat betekenis deur beide die grammatiese konstruksie en die historiese verband waarin die woord gebruik is, bepaal word."

Wanneer ‘n woord dus ‘n logiese betekenis het in die verband waarin dit gebruik word, dan mag dit nie simbolies opgeneem en anders verklaar word nie: “When the plain sense of the word makes common sense, then seek no other sense.”

Die sterkste bewys vir die letterlike verklaring is waarskynlik die wyse waarop die Nuwe Testament van die Ou Testament gebruik maak. Mens kan maar net kyk na die Ou Testamentiese profesieë oor Christus wat in die Nuwe Testament vervul is, naamlik oor sy geboorte, sy lewe, sy werk en sy dood. Geen een van hierdie profesieë is anders as letterlik vervul nie.

Die Ou Testament gee meer as 300 uitdruklike voorspellings aangaande die eerste koms van Christus, sodat dit vir elke Fariseër en skrifgeleerde duidelik moes wees wie Jesus is. Tóg het hulle Jesus nie erken en aanvaar nie, maar die waarheid onderdruk en hulle eie mense mislei. Waarom het hulle dit gedoen?

Lindsey sê: “Enige persoon wat nog nie ingesien het dat sy grootste probleem ‘n innerlike, geestelike probleem is nie, verkies ‘n politieke bo ‘n geestelike verlosser.” Is dit nie ‘n onbetwisbare waarheid wat vandag nog nét so van toepassing is nie? Kerke neem openlik aan die gelykmakings- en verenigingsproses deel om só die weg vir die groot politieke verlosser van die wêreld, die Antichris, te berei.

Die ganse sisteem van die verdoeseling en versluiering van Bybelse profesieë deur middel van allegoriese interpretasie, is ‘n duidelike set van die Satan om mense te laat vergeet van die koms van ons groot geestelike Verlosser wat as Persoon van die hemel af sal kom om hier te regeer. Tydens sy eerste koms het mense die voorspellings oor sy koms geïgnoreer, en moes die bittere gevolge daarvan dra:

En hulle sal jou en jou kinders in jou verpletter en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie (Luk. 19:43-44).

Met die wederkoms sal dit nét so wees. Mense sal die letterlike voorspellings oor die wederkoms waninterpreteer sodat ‘n vrugbare teelaarde geskep kan word vir ‘n uitsiglose kerk wat noodwendig op aardse dinge soos materialisme en aardse politieke verwagtings aangewese is. Jesus het self gesê dat dit soos in die dae van Noag en Lot sal wees. Mense sal in wêreldse plesier leef, totaal onbewus van die oordele wat op hande is.

Israel se profetiese blindheid tydens Jesus se eerste koms is ‘n direkte oorsaak waarom hulle ‘n verbond met die valse Messias sal sluit (Joh. 5:43)

Die letterlike interpretasie beteken slegs dat ons die Bybel op normale wyse lees soos wat hy homself vir ons aanbied. Simboliese en figuurlike taal word verklaar, maar dan het daardie simbool nog steeds ‘n letterlike antitipe, of objek, waarop dit dui. Jesaja 11:1 sê bv. dat daar ‘n takkie uit die stomp van Isai uitspruit, en ‘n loot uit die wortels, wat vrugte dra. Die verklaring hiervan is natuurlik dat Jesus as ‘n letterlike, historiese figuur sou verskyn, en dat Hy die dinge sou doen wat duidelik in die res van die hoofstuk beskryf word.

Letterlike verklaring negeer ook nie die groot geestelike waarhede in die Bybel nie, want alles wat geestelike betekenis het word op normale wyse geestelik verstaan. Dit is juis die fisiese verwagting van dit wat kom, wat ons tot die grootste mate van geestelike paraatheid, toewyding aan Christus en vervulling met die Heilige Gees aanspoor.

Ons kennis van die profesieë verskans ons ook teen die Antichris se misleiding, wat nou al volstoom aan die werk is. Ons aktuele verwagting van dit wat gaan kom, bevry ons ook van ‘n onbybelse koninkryk-nou teologie wat op aansien, rykdom, sorgeloosheid en die ervaring van allerlei bonatuurlike tekens, manifestasies en wonderwerke gebaseer is.

Die Fariseërs het Jesus se geloofsbriewe tydens sy eerste koms verwerp. Die kerk as instituut sal ook aan die slaap gevang word, en sal die Here Jesus se geloofsbriewe tydens sy tweede koms verwerp. Die kerk sal deur sy eie toedoen geen ander keuse hê nie, want hy verwerp nou reeds al die duidelike tekens wat die wederkoms voorafgaan. Wie sal die verantwoordelikheid daarvoor aanvaar – miskien Origenes en sy allegoriese navolgers?

Duisendjarige vrederyk eers ná die wederkoms

Deur ds. J. Rabie

(Die volgende is ‘n geredigeerde en uitgebreide weergawe van ‘n aanhangsel wat ds. Rabie meer as 50 jaar gelede by sy boek Die koms van Christus en sy koninkryk ingesluit het):

Teenoor die opvatting, soos duidelik deur die Bybel geleer, dat die Messiasryk ná die wederkoms van die Here ‘n aanvang sal neem, is daar ‘n ander opvatting dat die Messiasryk 1900 jaar gelede reeds met die oorwinning van Christus aan die kruis ‘n aanvang geneem het. Meer bepaald sou hierdie ryk volgens sommige met die opstanding van Jesus ‘n aanvang geneem het, en volgens andere met sy hemelvaart en die bestyging van sy Vader se troon.

Dat die Heiland toe die groot Oorwinnaar was, is heeltemal waar, maar dat Hy toe reeds die koninkryk aanvaar het, is om die volgende vier redes ‘n foutiewe en onskriftuurlike aanname:

1. Christus se aardse ryk is eindtyds

Daniël 2 verklaar dat die koninkryk wat ons as die Messiasryk erken, sy begin sal hê eers nadat die aardse koninkryke heeltemal vernietig sal wees. Dit sal ná, en nie gelyktydig met daardie ryke nie, bestaan. Die Here het aan Nebukadnésar in ‘n naggesig “bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur” (Dan. 2:28). Hy het ‘n groot beeld gesien wat verskeie aardse koninkryke voorstel. Die laaste van hierdie ryke word deur die tien tone van die beeld voorgestel, wat op die eindtydse ryk van die Antichris dui (Op. 13:1-2). Sonder toedoen van mensehande raak daar dan ‘n klip in die berg los, tref die beeld aan sy tone en vewoes dit heeltemal. Dit dui op die koms van Christus en sy aanvaarding van die koningskap op aarde:

"Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ‘n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan" (Dan. 2:44).

Dit sal by die wederkoms van die Here Jesus gebeur:

"En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid" (Op. 11:15).

Hoewel die Messiasryk net ‘n duisend jaar sal wees, gaan dit aan die einde daarvan oor in die ewige koningskap van Jesus op die nuwe aarde. Daar is dus geen einde aan sy koninkryk nie.

2. Die Antichris word eers vernietig

In Daniël 7 word dit baie duidelik gestel dat Christus die heerskappy aanvaar nadat die Antichris vernietig is. Daniël sê:

"…en [die dier] het tien horings gehad. Terwyl ek op die horings ag gee, kom daar ‘n ander horinkie tussen hulle op, en drie van die vorige horings is daarvoor ontwortel; en kyk, in hierdie horing was oë soos mens-oë, en ‘n mond wat groot dinge spreek (verwysende na die Antichris)… Ek het toe bly kyk vanweë die stem van die groot woorde wat die horing gespreek het; ek het bly kyk totdat die dier gedood en sy liggaam vernietig en aan die verbranding deur vuur oorgegee is. Ook aan die ander diere is hulle heerskappy ontneem… Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ‘n mens… En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie” (Dan. 7:8-14).

Die Antichris is nog nie eers geopenbaar nie, daarom is die openbaring van Christus se koningskap beslis nog toekomstig. Die Antichris is onteenseglik ‘n eindtydse wêreldleier wat tydens die wederkoms van Christus ‘n lewende persoon op aarde sal wees. Paulus sê: “…dan sal die ongeregtige (die Antichris) geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen” (2Thess. 2:8-9).

In Openbaring 19 is meer besonderhede oor hierdie ontmoeting:

"En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand” (Op. 19:19-20).

Op daardie dag sal daar ‘n dramatiese aankondiging wees: “Halleluja! Want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar” (Op. 19:6).

3. Die Koning wat weer terugkom

Die gelykenis van die ponde in Lukas 19:11-27 is gegee na aanleiding van die Jode se verwagting dat die Messias se koninkryk onmiddellik ná sy eerste koms sou aanbreek (Luk. 19:11). Die Here wou hulle laat verstaan dat veel nog moes gebeur en ‘n lang tyd van die Koning se afwesigheid sou verloop voor Hy sou terugkom om sy koningskap te aanvaar. Wanneer Hy terugkom, sal Hy eers sy diensknegte beloon vir hulle arbeid en hulle in sy koninkryk as heersers aanstel (Luk. 19:17-19).

Daarna sal Hy sy toorn uitstort oor sy vyande wat geweier het om Hom as Koning van hulle lewens te aanvaar (Luk. 19:27). Dit sal in die komende groot verdrukking gebeur wanneer die goddeloses tot die berge en rotse sal uitroep: “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:16-17).

4. Ryke seëninge vir Israel

Volgens die profete sal die Messiasryk ongekende seëninge vir die volk Israel inhou, en hulle sal die hoof van die nasies wees (Jer. 31:7). Die wêreld sal uit Jerusalem regeer word, en al die nasies sal daarheen optrek om die Here te eer en deur Hom onderrig te word (Jes. 2:2-4). Israel sal ‘n sierlike kroon vir die Here wees, en Jerusalem verhef word tot ‘n lof op aarde (Jes. 62:1-7). Die troon van die Here sal daar gevestig wees (Jer. 3:17).

Van al hierdie seëninge is daar geen enkele wat Israel die afgelope 1900 jaar geniet het nie. Selfs in die 40 jaar voor die verwoesting van Jerusalem in 70 n.C. was die land ‘n kookpot van haat, twiste en opstande teen die owerhede. Van ‘n rustige volkslewe en aansien onder die nasies was daar geen sprake nie. Sedert daardie tyd, deur die eeue heen, was daar geen ander volk op aarde wat soveel aanhoudende smarte as die Jode beleef het nie.

In die komende ryk sal die Messias die Koning van die Jode wees. Die feit is dat die Jode nog nooit as volk vir Jesus as hulle Koning en Messias erken het nie. Hulle het nog nie die geopende oë gehad om op te sien na Hom vir wie hulle deurboor het, en die sonde-oortuiging om bitterlik oor Hom te ween nie (Sag. 12:10). Indien Hy reeds die koningskap op die troon van Dawid aanvaar het (Luk. 1:32-33; Hand. 15:16-17) dan is Hy as Koning van die Jode ‘n koning sonder ‘n volk.

Eksegetiese maneuvers

In ‘n poging om die letterlike uitsprake van die Bybel as onskriftuurlik voor te stel, word daar verbasende maneuvers deur die antichiliaste uitgehaal. Ons noem ‘n paar daarvan.

Lengte van die vrederyk

Ons weet dat die Skrif duidelike stellings maak dat die Messiasryk ‘n duisend jaar sal duur. Indien dit met die opstanding of hemelvaart van die Here begin het, dan moes dit meer as 900 jaar gelede reeds geëindig het. Omdat die Messiasryk deur ‘n hemelse toestand opgevolg word, moes ons dié hemelse toestand nou al eeue lank ondervind het! Anders moet daar ‘n fout met die voorstelling van die Bybel wees, want dan het die Messiasryk al 900 jaar langer geduur as wat voorspel is!

Om uit hierdie probleem te kom, word gesê dat as getalle in profetiese gedeeltes van die Bybel voorkom, dit nie letterlik opgeneem moet word nie. Die tydperk van 1000 jaar word in Openbaring 20 genoem, en omdat dit ‘n profetiese boek is, kan dit net sowel 2000 jaar of langer wees. Ons weet egter dat as Jeremia profeteer dat die Babiloniese ballingskapvan Israel 70 jaar sou duur (Jer. 25:11-12), dit nie 75 of 700 jaar sou duur nie. Daniel het homself op die eksaktheid en betroubaarheid van die profetiese woord verlaat en is nie verkeerd bewys nie (Dan. 9:2).

Die binding van Satan

Volgens die Bybel sal Satan vir ‘n duisend jaar lank gebind word, sodat hy die nasies nie meer kan verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie (Op. 20:3). Ons weet natuurlik dat hy aan die oppergesag van God onderworpe is en net binne sy toelatende wil kan optree. Hy is egter vry om elke mens te versoek, en het met sy versoekings selfs na Christus gekom. Gedurende die duisend jaar word hierdie vryheid hom ontneem en sal hy die nasies nie kan versoek en verlei nie.

Omdat ons volgens die antichiliastiese siening reeds in die Messiasryk is, leef ons in vrede en is die Satan op die huidige oomblik gebind! Dit word werklik deur genoemde verklaarders geleer! Al wat hierop gesê kan word, is dat as hy vandag gebind en onmagtig is om iemand te verlei, daar met verbasing gevra kan word: “Wat sal gebeur as hy eendag losgelaat word?” Petrus, onder andere, was dus volgens hierdie siening ook heeltemal aan die dwaal toe hy Ananias verwyt het dat hy hom deur Satan laat verlei het (Hand. 5:3).

Indien, soos ook beweer word, die uitbreiding van die Christendom ‘n bewys is dat die Satan gebind is, dan moet die bande taamlik los hang omdat die heidendom vandag groter is as wat dit 500 jaar gelede was, en dit word by die dag groter!

Heiliges wat regeer

Die deelgenote aan die eerste opstanding sal volgens die Bybel as konings saam met Christus in die vrederyk regeer (Op. 20:6). Al is ons volgens die genoemde verklaarders nou reeds in die vrederyk, was daar tot dusver nog nie ‘n opstanding nie en dus ook nie opgewekte heiliges om as konings saam met Christus te regeer nie!

Om uit hierdie probleem te kom, word beweer dat alle vrome gestorwenes nou reeds heers. Paulus heers dus ook reeds, alhoewel hy sy kroon eers by die wederkoms van die Here sal ontvang (2Tim. 4:8). Só ‘n antwoord kan wel van die Roomse Kerk verwag word, waar hulle aan vrome gestorwenes nou reeds ‘n posisie toeken wat daartoe lei dat baie van hulle selfs aanbid kan word.

U kan met vertroue die Bybel glo dat die vrederyk eers ná die wederkoms van Christus, die verdelging van die Antichris en die binding van Satan sal aanbreek.