El-Roi - Afrikaans

Studies

Gedigte

God

Israel

Profesiee

Satan

Heilige dae van God

Heilige dae van God

deur Dr. Roderick C. Meredith
Die Lewende Kerk van God
God se meesterplan
 
INHOUD
Inleiding – Heidense vakansiedae teenoor die Heilige Dae van God
Stap 1 – Die Pasga
Stap 2 – Die Fees van Ongesuurde Brood
Stap 3 – Pinkster
Stap 4 – Die Fees van Basuine
Stap 5 – Die Versoendag
Stap 6 – Die Huttefees
Stap 7 – Die Laaste Groot Dag
Gevolgtrekking – Volg God se Plan
 
Inleiding

Heidense vakansiedae teenoor die Heilige Dae van God

Waarom onderhou so baie belydende Christene vakansiedae soos Kersfees, Paasfees en andere, en NIE die Heilige Dae wat die Bybel so duidelik gebied nie? Maak dit werklik saak watter dae ons vier? Raak dit ons hoop op die ewige lewe? Die antwoord is, verbasend genoeg, JA. Dit maak wel saak want dit het ’n groot invloed op ons begrip van die AARD en NATUUR van die God wat ons aanbid, en die grootse DOEL wat Hy besig is om hier op aarde uit te werk.

Het u maar net onnadenkend AANGENEEM dat die Bybel ons leer om Kersfees en Paasfees te hou? Neem u aan dat Christus, wat vir ons die voorbeeld is hoe om te leef, sowel as die oorspronklike Kerk wat Hy in die eerste eeu gestig het deur middel van Sy Apostels, Kersfees en Paasfees (Engels “Easter”) gehou het?

Indien u dít glo, is u heeltemal verkeerd!

Daar is inderdaad teoloë en geskiedskrywers wat geredelik toegee dat hierdie vakansiedae begin het as heidense feesdae en baie jare ná die dood van die eerste Apostels opgeneem is in die belydende Christendom! Hoe het dit gebeur? ’n Belangrike feit om in gedagte te hou, is dat die oorgrote meerderheid van die sogenaamde “Christelike” priesters en geleerdes nog NOOIT werklik ’n poging aangewend het om Jesus Christus se voorbeeld en dié van Sy eerste Apostels te volg nie! Soos wat die Christelike kerk in die Romeinse Ryk gegroei het, het die kerkleiers probeer om hulle godsdiens “gerief­liker” te maak vir die heidene, in ’n poging om hulle te kersten, en soms ook om gods­diens­tige vervolging te probeer voorkom.

Die gevolg is dat die ware Christelikheid eenkant toe gegooi is en ’n heidense namaaksel in die plek daarvan aanvaar is. Dié gebeure word volledig verduidelik in ons gratis boekie, Die Christendom se Grootste Misleiding.

God waarsku egter ons geestelike voorvaders in antieke Israel om nie die gewoontes van die heidene in hulle omgewing aan te leer nie (Deut. 12:29-31). Jesus Christus bestraf die geestelike leiers van Sy tyd omdat hulle menslike oorleweringe bó die wet van God stel (Mark. 7:9).

Elkeen van ons moet dus ’n KEUSE maak. Ons moet kies tussen die viering van dae soos Kersfees, en die onderhouding van die Bybelse Feesdae. Kersfees het sy oorsprong in sonaanbidding, met die heidense byvoegings soos die Joelblok (“Yule log”), ’n immergroen kersboom, mistelkrans (“mistletoe”) en Kersvader. Die Feesdae van God gee ons stap vir stap die ontsagwekkende PLAN wat God besig is om hier op aarde uit te werk. Ons moet kies of ons Jesus Christus en Sy eerste Apostels wil volg en of ons die eiewyse priesters van die Middeleeue wil volg wat laag op laag heidense gebruike algaande in hulle vals Christelikheid ingevoer het.

Die Feestye van die Here

As u op die spreekwoordelike afgeleë eiland grootgeword het, sonder enige vooropgestelde idees, en met slegs die Bybel en die kalender wat die Jode vir duisende jare gebruik het, dan sou u kon bepaal dat die enigste dae wat u moes onderhou God se Sewende-dag Sabbat en Sy jaarlikse Feesdae is. Hierdie Feesdae sluit beslis nie Kersfees en Paasfees in nie, want nie een van hulle word in die Bybel genoem nie.

In een van die Engelse vertalings van die Bybel, die King James Vertaling, kom die woord “Easter” vir Paasfees wel voor, naamlik in Handelinge 12:4. Dit is egter ’n foutiewe vertaling van die Griekse woord Pascha, en gesaghebbende moderne Engelse vertalings gee dit korrek aan as “Passover”. Die korrekte Afrikaanse vertaling vir hierdie Heilige Dag van God is die Pasga. In beide die Ou en die Nuwe Afrikaanse Vertalings word die Pasga partymaal verkeerdelik aangegee as die “Paasfees”, wat dan ooreenstem met die Engelse “Easter” en al die Paasrituele en -gebruike. Enkele kere word dit egter korrek vertaal as “Pasga”.

God het aan antieke Israel spesifieke dae gegee wat uitgesonder is as heilig en waartydens hulle Hom moes aanbid. Ons lees daarvan in Levitikus 23 waar God Moses aansê om dit aan die Israeliete te verduidelik: “Die feestye van die Here wat julle moet uitroep as heilige samekomste – dit is my feestye” (vers 2). Vandag impliseer die woord “fees” dikwels ’n banket. Die Dictionary of Word Origins verduidelik egter dat “die idee van ‘eet’ ’n sekondêre semantiese ontwikkeling is vir fees, terwyl die onderliggende betekenis (soos afgelei kan word van die verwante feesviering en feestelikheid) meer te doen het met vreugde as om honger te stil” (John Ayto, 1990, bl. 222). Ons kan inderdaad “Feestyd” vervang deur “Feesviering”. Afgesien van die groot vreugde wat ervaar word, word dié Feestye van God gekenmerk deur die geestelike “voedsel” wat ons dan “eet” en “drink” – ons inname van God se Waarheid.

’n Ander belangrike feit waarop ons moet let, is dat hierdie vierings nie die feeste van die Jode genoem word nie, maar die “feestye van die HERE”. God noem hulle inderdaad “MY feestye”. Vandag egter dryf baie belydende Christene die spot met die onderhouding van Joodse heilige dae met hul vreemdklinkende name soos Rosh Hashana en Yom Kippur. Tog sê God dat hierdie dae Sy dae is.

Baie mense sal in die “Christendom” van vandag geskok wees wanneer hulle die identiteit begryp van die “HERE” wat hierdie heilige tye gegee het waarin Hy aanbid moet word. Hierdie Wese, wat Israel uit Egipte en deur die Sinai woestyn gelei het, word dikwels die “Rots” genoem in die Ou Testament (Deut. 32:4; Ps. 18:3). Die apostel Paulus skryf oor Hom in die Nuwe Testament en sê dat die Israeliete “almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit die geestelike ROTS wat gevolg het” (1 Kor. 10:4). Dan identifiseer hy Hom: “... en die rots was CHRISTUS!” Dus was Jesus Christus, voordat Hy vlees geword het, die God van die Ou Testament – die “Woord” (Joh. 1:1-3, 14) wat namens God die Vader gespreek en die skeppingswerk gedoen het (Joh. 14:24; Ef. 3:9). Vir meer inligting oor hierdie onderwerp, kan u gerus skryf vir ons gratis boekie, Die God wat u kan leer ken.

Kom ons gaan terug na Levitikus 23 waar God se Feestye gelys is. Hy begin met Sy weeklikse Sabbat, wat op die “sewende dag” val (vers 3) – die periode vanaf sononder op Vrydag tot sononder op Saterdag, aangesien alle Bybelse dae bepaal word vanaf sononder tot sononder (verwys vers 32; Gen. 1:5-31). Die opdrag om die Sabbat te onderhou, is ook een van die Tien Gebooie – wat steeds ’n vereiste vir hedendaagse Christene is, ten spyte van baie predikante se aansprake tot die teendeel. Vir meer inligting hieromtrent, kan u gerus ons gratis boekies, Watter dag is die Christelike Sabbat? en Die Tien Gebooie aanvra.

Maar behalwe hierdie weeklikse Feesdag het God sewe jaarlikse Feesdae wat ook in Levitikus 23 opgeteken is. In die noordelike halfrond kom die eerste twee in die vroeë lente voor, die derde in die laatlente, en die laaste vier in die herfs (verwys na die tabel “Die Hebreeuse Kalender”). Hierdie Feestye is dié wat binne die drie Feesperiodes val waarvan ons lees in Deuteronomium 16:16. Die jaarlikse Feestye wat later in meer besonderhede bespreek sal word, word só aangegee in Levitikus 23:

1. Pasga – ’n Fees wat gekenmerk is deur die offer van ’n lam, waarvan die bloed aan die deure van die Israeliete se huise in Egipte gesmeer is sodat hulle gespaar kon word toe God die eersgeborenes van die Egiptenare met die dood getref het (vers 5).

2. Die Fees van Ongesuurde Brood – ’n Fees van sewe dae wat volg op die Pasga. Dan moes enige rysmiddel, soos suurdeeg, wat brood laat rys, uit hulle woonplekke verwyder word en geen gesuurde produkte mag geëet word nie (verse 6-14).

3. Die Fees van Eerstelinge – ’n Fees wat die insameling van die eerste van die twee jaarlikse oeste gedenk. Dit is ook bekend as Pinkster (Pentecost), of “vyftigste”, aangesien dit presies 50 dae ná ’n spesifieke punt tydens die Dae van Ongesuurde Brood plaasvind (verse 15-22).

4. Die Fees van Basuine (Trompette) – ’n Dag van vreugde, onder die Jode bekend as Rosh Hashanah, en wat gekenmerk is deur die blaas van basuine of trompette (verse 23-25).

5. Die Versoendag – ’n Plegtige geleentheid van vas en verootmoediging (verse 26-32), en bekend as Yom Kippur by die Jode.

6. Die Huttefees – ’n Fees van sewe dae wat die insameling van die groot herfsoes simboliseer, en soms ook die Fees van Insameling genoem word. Vir die duur van dié Fees word daar in “hutte” – dus tydelike huisvesting – gebly (verse 33-36).

7. Die Agtste Dag (volg direk op die sewe dae van die Huttefees) – ’n Aparte Fees wat, gebaseer op ’n verwysing in die Nuwe Testament, bekend staan as die Laaste Groot Dag (verse 36-39).

Altesaam is daar dus 19 jaarlikse Feesdae (1+7+1+1+1+7+1). Sewe hiervan is spesiale rusdae of “Sabbatte”. Hierdie sewe jaarlikse Sabbatte, ook bekend as God se Heilige Dae, is die volgende:

1) Die Eerste Dag van Ongesuurde Brood (vers 7).
2) Die Laaste Dag van Ongesuurde Brood (vers 8).
3) Die Fees van Eerstelinge – of Pinkster (vers 21).
4) Die Fees van Basuine (verse 24-25).
5) Die Versoendag (vers 27, 30-32).
6) Die Eerste Dag van die Huttefees (verse 35, 39).
7) Die Agtste Dag – of Laaste Groot Dag (verse 36,39).

Levitikus 23 en Deuteronomium 16 is natuurlik nie die enigste plekke in die Bybel waar God se Feeste en Heilige Dae genoem word nie. Inteendeel, hierdie dae wat ons in opdrag van God moet onderhou, word dikwels in die Skrif genoem! Afgesien daarvan dat ons dwarsdeur die Ou Testament gebied word om hulle te onderhou, word hulle onderhouding deur die Christelike Kerk bevestig en bekragtig deur die feit dat Christus en die Apostels dié Heilige Dae in die NuweTestament onderhou het.

Die Hebreeuse Kalender

Ons moderne Gregoriaanse Kalender word bereken deur die aarde se posisie ten opsigte van die son te bepaal terwyl die aarde een omwenteling om die son maak. Aan die ander kant gebruik die Jode altyd ’n lunisolarkalender, dit wil sê, ’n kalender wat bereken word deur die aarde se posisie ten opsigte van beide die son en die maan te bepaal. Dit is lunêr (maan) omdat die eerste dag van elke maand ’n “nuwe maan” is – die begin van die maan se omwenteling om die aarde. (Ons woord “maand” kom oorspronklik van die woord “maan”). Dus het elke Hebreeuse maand 29 of 30 dae, wat behels dat ’n Hebreeuse jaar van 12 maande korter is as die Gregoriaanse – sowat 354 dae in plaas van die 365. Om die kalender dan in lyn te bring met die solarjaar (die aarde se omwenteling om die son), word sewe uit elke 19 jaar “lunêrskrikkeljare:” ’n ekstra maand van 29 dae word net ná die maand Adar gevoeg en Veadar of Adar II genoem (verwys na die kaart op die volgende bladsy). Dit is omtrent soos ons gebruik om elke vier jaar ’n 29e dag by Februarie te voeg, sodat die maande nie met verloop van tyd met verskillende seisoene van die jaar geassosieer word nie.

Trouens, die Jode gebruik gewoonlik twee oor­vleulende kalenders – albei lunisolar. Die eerste is die Burgerlike (siviele) Kalender – in die Bybel die amptelike kalender van konings, geboortes en kontrakte – wat strek vanaf herfs tot herfs in die noordelike halfrond. Hierdie kalender was algemeen in gebruik in ou Mesopotamië. Dit begin op die Fees van Basuine – die eerste dag van die maand Tishri (ook Ethanim genoem) – wat, volgens Joodse tradisie, saamval met die sewende dag van die skeppingsweek – vandaar die rede vir hierdie herfs-tot-herfskalender. Dit is ook die rede waarom die Jode die Fees van Basuine Rosh Hashanah noem. Dit beteken die “hoof van die jaar” en word steeds gevier as die Joodse Nuwejaar.

Maar God het aan antieke Israel ’n ander manier gegee om die jaar te bereken, soos ons leer uit die Israeliete se uittog uit Egipte onder Moses. In die lentemaand van Nisan, of Abib, in die noordelike halfrond, wanneer Pasga en die Fees van Ongesuurde Brood onderhou word (Ex. 12-13), sê die Here aan Moses en sy broer Aäron: “Hierdie maand moet vir julle die begin van die maande wees; dit moet vir julle die eerste van die maande van die jaar wees” (Ex. 12:2). Dié kalender, genoem die Heilige Kalender, gebruik dieselfde maande as die Siviele Kalender, maar begin in die lente, d.w.s. ses maande vroeër. Dit is volgens die Heilige Kalender dat ons God se Feestye onderhou. God het dit ongetwyfeld so ingestel om Sy Feestye met die landbouseisoene van die land van Israel te laat saamval, soos ons later in hierdie boekie sal sien.

Hier is die gewone maande, hulle aantal dae, en wanneer hulle voorkom in God se heilige kalender, die Joodse burgerlike jaar en die Gregoriaanse jaar:

Huidige maande (en ou name) Dae Heilige maand Burgerlike maand Gregoriaanse maand
Nisan (Abib) 30 1e 7e Mrt - Apr
Iyar (Ziv) 29 2e 8e Apr - Mei
Sivan 30 3e 9e Mei - Jun
Tammuz 29 4e 10e Jun - Jul
Ab 30 5e 11e Jul - Aug
Elul 29 6e 12e Aug - Sep
Tishri (Ethanim) 30 7e 1e Sep - Okt
Heshivan (Bul) 29/30 8e 2e Okt - Nov
Kislev 29/30 9e 3e Nov - Des
Tebeth 29 10e 4e Des - Jan
Shebath 30 11e 5e Jan - Feb
Adar 29/30 12e 6e Feb - Mrt

Christus en die vroeë Kerk

Belydende Christene wat maar te gretig is om alles te veroordeel wat naastenby Joods is, moet onthou dat ons Saligmaker, Jesus Christus, self ’n Jood was (Heb. 7:14). So ook Sy eerste Apostels! En net soos ander Jode het hulle ook die Feeste van God onderhou.

’n Beskrywing van Jesus se kinderjare in Lukas sê die volgende: “En die Kindjie het gegroei en sterk geword in die Gees en vol van wysheid. En die genade van God was op Hom. En Sy ouers was gewoond om elke jaar met die paasfees na Jerusalem te gaan” (Luk. 2:40-41). Let daarop dat die “paasfees” waarna hier verwys word, nie die paasfees was wat die Christendom vandag vier nie. Ons lees verder: “En nadat die feesdae vir hulle verby was … het die Kind Jesus in Jerusalem agtergebly” (vers 43). Alle geleerdes stem saam dat “die feesdae” waarna hier verwys word, die Dae van Ongesuurde Brood is wat direk volg op die Pasga. Alhoewel Jesus dus “sterk was in die Gees” en in staat was om diepgaande geestelike beginsels met die belangrikste geleerdes van die Joodse wet te bespreek, het Hy nogtans saam met Sy ouers die Fees van Ongesuurde Brood onderhou.

Gedurende Sy volwasse bediening vind ons dat Jesus steeds na Jerusalem gaan ons God se Feeste te onderhou. Toe die “Huttefees” aanbreek (Joh. 7:2), sê Hy aan Sy broers: “Gaan julle op na hierdie fees” (vers 8). Hy beveel hulle dus om hierdie Fees te onderhou! Jesus het ook Jerusalem toe gegaan om dié Fees te hou, alhoewel in die geheim om vervolging te vermy (vers 10). “En toe dit al in die middel van die Fees was, het Jesus opgegaan na die tempel en geleer” (vers 14).

Het Jesus selfs aan die einde van Sy lewe die Feeste onderhou? Ons lees in Lukas 22:7-8: “En die dag van die Ongesuurde Brode het gekom waarop die Pasga geslag moes word. Toe stuur Hy Petrus en Johannes en sê: Gaan berei die pasga vir ons, dat ons dit kan eet”. Dit is presies wat gebeur het. Wat egter in die wêreld bekend is as die “Laaste Avondmaal” word in die Bybel by ’n ander naam genoem. Want toe dit aanbreek, sê Jesus aan Sy dissipels: “Ek het baie sterk daarna verlang om hierdie pasga met julle te eet voordat Ek ly” (vers 15).

Natuurlik sal baie mense vandag redeneer dat die onderhouding van hierdie dae vandag nie meer op ons van toepassing is nie aangesien dit alles “voor die kruisiging” gebeur het. Tog het Christus gedurende Sy lewe vir ons ’n voorbeeld gestel wat ons moet navolg (1 Pet. 2:21; 1 Kor. 11:1). Hiérdie voorbeeld was om die Feestye wat Hy vroeër in die Ou Testament gegee het, te onderhou. Boonop is Christus op die Pasgadag gekruisig, wat vir Christene ’n selfs groter betekenis aan hierdie dag gee. Dit is wel waar dat die diere-offers en ander veeleisende rituele van die Mosaïese stelsel nie meer bindend is op Christene nie (Hand. 15:24; Heb. 10). Maar dit herroep nie al God se wette nie, asook nie Sy Heilige Feesdae nie. Om te verstaan wat ons behoort te doen, moet ons terugkeer na die “geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Judas 3). Maar waar vind ons dit? In die voorbeeld van die Christelike Kerk van die eerste Apostels, soos die Nuwe Testament ons gebied om na te volg (Hand. 16:4; 1 Thess. 2:14). En, soos ons algaande sal sien, is dit verbasend om te leer wat ná die kruisiging gebeur het.

Let op wat Jesus sê aan Sy dissipels ná Sy opstanding: “En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Luk. 24:49), met ander woorde, totdat hulle die Heilige Gees ontvang het. Op watter dag het hulle dit ontvang en is die begin van die Nuwe-Testamentiese Kerk ingelui? Handelinge sê: “En toe die dag van die Pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar. En daar kom skielik uit die hemel ’n geluid soos van ’n geweldige rukwind … En hulle is almal vervul met die Heilige Gees” (Hand. 2:1-4). Wat sou gebeur het as die dissipels God se Heilige Dae verwerp het en nie byeen was daardie dag waarop die Heilige Gees uitgestort is nie?

Sommige mense neem egter nou aan dat dit die enigste Pinksterdag was wat die vroeë Kerk onderhou het. Maar dis nie waar nie! Daar is ander Skrifture wat bewys dat hierdie dag steeds onderhou was. Paulus, van alle mense, het inderdaad dié dag onderhou! Hy was die apostel aan die Heidene, die een wat volgens baie teoloë veronderstel was om die wet van God af te skaf! Maar Paulus het niks van die aard gedoen nie! Inteendeel, hy het die wet van God onderhou (verwys 1 Kor. 7:19). In Handelinge 20:16 lees ons: “Want Paulus het besluit om by Éfese verby te vaar, sodat hy nie in Asië tyd sou verloor nie; want hy het hom gehaas om, as dit vir hom moontlik was, op die Pinksterdag in Jerusalem te wees”. Boonop het Paulus nóg ’n Pinksterdag in Éfese gehou: “Maar ek sal in Éfese bly tot Pinkster toe. Want ’n groot en kragtige deur het vir my oopgegaan, en daar is baie teëstanders” (1 Kor. 16:8-9).

Die Bybel gee talle bewyse van ander Heilige Dae wat ook deur die vroeë Kerk van die Apostels onderhou is. Handelinge 27:9 sê byvoorbeeld: “En omdat ’n geruime tyd verloop het en die skeepvaart al gevaarlik geword het [vir Paulus se reisgenote] en die Vastyd ook al verby was, het Paulus hulle gewaarsku”. Die Vastyd was die Versoendag, onder die Jode bekend as Yom Kippur. Tydens die herfs in die noordelike halfrond was seevaart gevaarlik. Maar wat so interessant is, is dat Handelinge, volgens tradisie in die vroeë 60’s n.C. geskryf is deur Lukas, Paulus se medewerker – en Lukas was nie “uit die besnydenis” nie, hy was nie Joods nie (verwys Kol. 4:11, 14). Hier kry ons dus ’n Heiden wat ongeveer 30 jaar ná Christus se opstanding skryf, en hy dui steeds vir ander die tyd aan volgens God se Fees­dae!

Het u geweet dat die Nuwe Testament Christene direk beveel om een van God se Feestye te onderhou? Want wat Paulus skryf aan die oorwegend Heidense Kerk in Korinte, geld ook vir ons vandag. Dit is duidelik dat Paulus die Fees van Ongesuurde Brood bedoel wanneer hy sê: “Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ’n nuwe deeg kan wees – soos julle inderdaad ongesuurd is – want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus. Laat ons [Christene] dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid” (1 Kor. 5:7-8). Ons sal later wel hierheen terugkom, maar vir eers is dit genoeg om te sê dat ons die Fees van Ongesuurde Brood moet onderhou.

Historiese Bewys

Die geskiedenisboeke verskaf bewyse dat die vroeë Kerk volgehou het om die Bybelse Feesdae te onderhou. Volgens die Encyclopaedia Britannica: “Daar is geen aanduiding in die Nuwe Testament of in die geskrifte van die eerste Apostels dat Paasfees [Easter] gehou is nie ... Die eerste Christene het voortgegaan om die Joodse Feeste te hou [d.i. GOD se Feeste] alhoewel in ’n nuwe gees, as herdenkings van gebeure wat dié feeste uitgebeeld het. So is die Pasga, met ’n nuwe betekenis daaraan toegevoeg, nl. dié van Christus as die ware Pasgalam … steeds gehou” (“Easter”, 11de uitgawe, vol. 8, bl. 828).

Ongelukkig het die afvallige Kerk van Rome egter stadig maar seker hierdie lewenswyse vervang deur die heidense gewoontes wat ons vandag sien. Die Nuwe-Testamentiese Pasga wat die vroeë Kerk aan die begin van die 14de dag van die Hebreeuse maand Nisan (of Abib) gehou het, is geminag en die naam daarvan verplaas na die heidense dag van die godin Ishtar, vandag bekend as “Easter” in Engels. Eintlik is dit net in sekere Germaanse tale dat hierdie vakansiedag die heidense naam behou het. In Grieks en in Romaanse tale soos Italiaans, Spaans en Frans, word “Easter” steeds Pasga genoem. In Afrikaans is Paasfees niks anders as “Easter” nie. Maar moenie ’n fout maak nie, dié wêreldse vakansiedag was nooit die ware Pasga nie!

As gevolg van hierdie verwarring gebruik sommige mense die woorde Paasfees, Pasga en “Easter” afwisselend. Alhoewel die Britannica ook die fout maak, gee dit egter steeds ’n uitstekende opsomming oor hoe die dag verander is:

“Alhoewel die Christelike Kerk van die vroegste tye af al die Paasfees gehou het, ontstaan ’n ernstige geskil tussen die Christene van Joodse en dié van Heidense [nie-Joodse] afkoms oor die dag waarop dit gehou moet word, en dit lei tot ’n lang en bitter geloofstryd ... Die Joodse Christene … onderhou dit op die 14de dag van die maan[d] in die aand ... ongeag die dag van die week. Die Heidense Christene [gelei uit Rome] aan die ander kant ... verbind die eerste dag van die week met die opstanding, en hou die vorige Vrydag as herdenking van die kruisiging, ongeag die dag van die maand”.

In die algemeen het die Westelike [Rooms-Katolieke] Kerk “Easter” op die 1ste dag van die week gehou, terwyl die Oostelike Kerk [insluitend die oorblyfsels van die ware Kerk] die Joodse gebruik gevolg het.

Polycarpus, ’n dissipel van Johannes, die Evangelis [laaste van die twaalf Apostels], en biskop van Smirna, besoek Rome in 159 n.C. vir samesprekings met Anicetus, biskop van daardie bisdom, aangaande dié onderwerp. Polycarpus lê klem op die tradisie wat hy van die Apostels ontvang het om die 14de dag te onderhou. Anicetus wys egter die samesprekings van die hand. Omtrent veertig jaar later (197), is die onderwerp weer bespreek deur Victor, biskop van Rome, en Polycrates, aartsbiskop van die provinsie Asië, maar in ’n heeltemal ander gees. Daardie provinsie [wat kerke ingesluit het wat die apostel Paulus gestig het, soos Antiochië – en al die kerke geïdentifiseer in Openbaring 2 en 3 as die ware Kerk] was die enigste deel van die Christendom wat nog vasgehou het aan die “Joodse” gebruik. Victor eis dat almal die gebruik van Rome moet aanvaar. Polycrates weier botweg om Rome se gebruik te aanvaar, en voer baie gewigtige redes aan teen Rome se gebruik. Daarna verban Victor Polycrates uit die kerk, sowel as daardie Christene wat voortgaan om die [korrekte] gebruik van die Oostelike Kerk [Oos-Romeinse Ryk] te volg. Hy is egter weerhou [op advies van ander biskoppe] om die banningsbevel werklik af te dwing ... en die kerke in Asië gaan ongestoord voort met hul gebruik. Ons vind dat die Joodse gebruik van tyd tot tyd weer sterk na vore tree, maar dit seëvier nie in enige groot mate nie” (bll. 828-829).

Let op Polycrates se verstommende brief aan Rome in antwoord op die dreigement om hom uit die kerk te ban: “Op ons beurt onderhou ons die dag [Pasga] nougeset, sonder om iets by te voeg, of weg te neem, want in Asië het groot geeste gesterf wat weer sal opstaan op die dag van die Here se koms, wanneer Hy in heerlikheid uit die hemel sal kom en al Sy heiliges sal opsoek – soos Filippus ... [die apostel] Johannes ... Polycarpus ... Sagaris ... Papirius ... Melito. Hulle almal het die veertiende dag van die maand onderhou as die begin van die Pasgafees, volgens die Evangelie, sonder om in die geringste mate af te wyk, maar volgens die reël van die geloof. Laastens het ook ek, die geringste van julle almal, gehandel volgens die tradisie van my familie ... want sewe van hulle was biskoppe en ek is die agtste, en my familie het altyd die dag gehou wanneer die mense die suurdeeg uitsit. Ek, my vriende, nadat ek 65 jaar in die diens van die Here gestaan het, en met Christene van oor die hele wêreld gepraat het, en sorgvuldig die Heilige Skrif ondersoek het, is nie bang vir dreigemente nie. Beter mense as ek het gesê [aanhaling uit Hand. 5:29]: “Ons moet God meer gehoorsaam wees as die mense” [soos aangehaal deur Eusebius, The History of the Church, boek 5, hoofstuk 24, vertaal deur G.A. Williamson, 1965, bl. 231).

Dan verduidelik die Britannica hoe viering van “Easter” die “ortodokse” gebruik geword het:

“Die finale bylegging van die geskil was een van die redes waarom [Romeinse Keiser] Konstantyn die Raad van Nicea in 325 byeengeroep het. Op daardie tydstip was die Siriërs en die Antiochiërs die enigstes wat die 14de dag onderhou het. Die Raad was eenparig dat “Easter” op Sondag gehou moes word, en op dieselfde Sondag dwarsdeur die wêreld, en dat “niemand hierna die blindheid van die Jode moet volg nie”. Die HANDJIEVOL wat hulself daarna afsonder het van die [polities invloedryke] kerk, en voortgegaan het om die 14de dag te hou, is die ‘Quartodecimani’ genoem [van die Latynse woord vir 14], en die geskil staan bekend as die ‘Quartodecimaanse geskil’” (bll. 828-829).

Dit was die “handjievol” wat getrou gebly het aan die waarheid.

Vir alle nasies

’n Kragtige profesie oor die eindtyd en die begin van ’n nuwe wêreld stel dit baie duidelik dat ALLE nasies spoedig sal leer om God se Feestye te onderhou, veral die Huttefees! Die boek van Sagaria gee die besonderhede van Jesus Christus se Wederkoms in krag en heerlikheid (Sag. 14:4). Op daardie tydstip sal Christus Sy troon in Jerusalem vestig en direk begin regeer oor alle nasies op aarde (Jes. 2:2-4; Jer. 3:17). Sagaria sê verder: “En almal wat oorbly uit AL die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die Huttefees te vier” (14:16). Die profesie sê selfs dat diegene wat hierdie opdrag verontagsaam, gestraf sal word (verse 17-19).

Dit is duidelik dat God in die verre verlede verwag het dat Sy mense Sy Feeste sou onderhou. Dit is ook duidelik dat Hy in die toekoms van alle nasies sal verwag dat hulle ook dié Feestye sal onderhou. Dink u nie dit maak sin dat ons hulle vandag moet onderhou nie? Die vroeë Christelike Kerk het so gedink. Dink ’n bietjie daaroor na. Aangesien ELKE mens op aarde spoedig sal leer om die Heilige Dae te onderhou, waarom begin u nie NOU om hulle te onderhou nie? Waarom word u nie ’n geestelike “pionier” en baan die weg vir die BILJOENE mense wat ná Christus se wederkoms tot hierdie insig sal kom nie?

Natuurlik sal sommige mense steeds beswaar maak op grond daarvan dat hierdie dae Joods is. Maar ons het reeds gesien dat ALLE nasies binnekort sal leer om die Bybelse Heilige Dae te onderhou, NIE omdat hulle “Joods” is nie, maar omdat God al Sy mense beveel om dié dae te onderhou. Soos ons ook reeds gesien het, het Jesus Christus en die Kerk wat Hy in die eerste eeu gevestig het, dié dae onderhou – dit is die voorbeeld wat ons moet navolg.

Miskien moet ons twee keer dink om iets te verwerp bloot omdat dit Joods is. Per slot van sake was Jesus self ’n Jood! En let op wat Hy aan die Samaritaanse vrou, wat nie ’n Jood was nie, sê: “Julle aanbid wat julle nie weet nie; ons aanbid wat ons weet, want die saligheid is uit die Jode” (Joh. 4:22).

Alhoewel die Jode dikwels Sy leerstellings verwerp het of allerhande menslike tradisies daaroor geplak het, het hulle wel die kennis van God die Skepper bewaar, sowel as die enigste geskrewe Bybel wat aan die oorspronklike Nuwe-Testamen­tiese Christene beskikbaar was – vandag is daardie Bybel bekend as die Ou Testament. Deur Jesus – die beloofde Saligmaker wat uit die Jode gebore is – het die regte begrip van die Ou Testament gekom: dus is die saligheid “uit die Jode” (verwys Rom. 3:1-2; 2 Tim. 3:15). Want, ten spyte van menslike swakhede en mensgemaakte tradisies, het die Jode wel die geestelike WET van God, die Tien Gebooie, bewaar. Die vierde van hierdie Gebooie is om die ware weeklikse Sabbat te onderhou – en, in die gees van hierdie gebod, dus ook die jaarlikse Sabbatte. Boonop wys Paulus dat alle ware Christene geestelike Jode is (verwys Rom. 2:28-29; Gal. 6:15-16). As geestelike Jode word van ons vereis dat ons die geestelike wette en die Heilige Dae sal onderhou wat God aan Israel gegee het en bevestig is deur Christus se voorbeeld en dié van die geïnspireerde Nuwe-Testamentiese Kerk.

Die Plan van God

Christene moet die dae wat God geheilig het, ook heilig, volgens die voorbeeld van Christus en Sy oorspronklike Apostels. Daardeur sal ons verstand geopen word om te verstaan wat die plan en doel is wat God besig is om hier op aarde uit te werk.

Die Skepper van die heelal het inderdaad ’n grootse plan vir die hele mensdom. Let op wat Paulus aan die gemeente in Éfese skryf: “Deurdat Hy aan ons die verborgenheid van sy wil bekend gemaak het na sy welbehae wat Hy in Homself voorgeneem het, om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig – in Hom in wie ons ook ’n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die VOORNEME van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil” (Ef. 1:9-11).

In dieselfde brief verduidelik Paulus wat die doel van sy bediening was: “Ek moet aan almal bekend maak hoe God, die Skepper van alle dinge, nou sy verborge PLAN uitvoer nadat Hy dit deur al die eeue geheim laat bly het ... soos Hy Hom van ewigheid af al VOORGENEEM het om dit deur Christus Jesus, ons Here, tot uitvoering te bring” (Ef. 3:9-11, NV).

Die meeste mense is egter onbewus van God se plan. Waarom? Volgens u Bybel is daar ’n werklike bose gees wat die heerser is van hierdie teenwoordige wêreld. Hy het voorheen teen God in opstand gekom (verwys Jes. 14) en sy naam is Satan, wat “teenstander” beteken. Hierdie bose wese, wat ook bekend is as die duiwel, verlei die hele wêreld (Op. 12:9). “Verlei” kan hier ook “mislei” beteken. Paulus verduidelik: “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld [dit is Satan] die sinne verblind het” (2 Kor. 4:3-4).

Een van die maniere waarop Satan hierdie wêreld verblind het, is om die fokus weg te neem van die ware Feestye van God deur namaaksels, die sogenaamde Christelike heilige dae, in te stel, want deur middel van hierdie Feestye word God se meesterplan duidelik gemaak. Kom ons kyk hoe die God wat later Jesus Christus geword het hierdie Feestye bekend stel: “Dit is die Feestye van die Here, die heilige vierdae [samekomste] wat julle moet uitroep op hulle bepaalde tyd” (Lev. 23:4). Interessant genoeg is die Hebreeuse woord wat as “Feestye” vertaal word dieselfde as die woord vir “bepaalde tyd”, naamlik mo`ed. Volgens die Enhanced Strong’s Lexicon beteken hierdie woord “bepaalde plek, bepaalde tyd, byeenkoms”. Die Feestye is dus God se geskeduleerde afsprake om Sy mense te ontmoet. Vir ons beteken dit: merk dit af op u almanak en sorg dat u daar is!

Maar wat is die doel met ’n samekoms of vergadering? Dit is gewoonlik om ’n saak te bespreek, iets te hersien, of ’n aksieplan vir ’n belangrike saak in werking te stel. Ons moet ook let op die ander woord wat gebruik word in verband met die Feestye, naamlik “vierdae”. Dit beteken verpligte samekomste – God beveel ons om die afsprake met Hom na te kom. Op sodanige dae kom ons dus byeen en ons aanbid God. Maar daar steek meer in ’n vierdag (OV), ’n samekoms (OV), of ’n gewyde byeenkoms (NV). Die Hebreeuse woord miqra – vir “vierdag” – kan ook ’n “voorlesing” of “repetisie” beteken (“Lexical Aids”, no. 4744, The Complete Word Study Old Testament).

Die verstommende gevolgtrekking is dat die Feestye dié tye is wat deur God geskeduleer is vir ’n afspraak met die mensdom om die ongelooflike stappe van Sy ontsagwekkende plan van verlossing te vervul. Elke jaar moet ons op hierdie dae byeenkom om dié belangrike stappe te herhaal en “in te oefen” – deur herhaling word die plan in ons verstand gevestig en verdiep ons begrip van die ware betekenis.

Ongelukkig weet die moderne Christendom byna niks van die plan waarmee God besig is nie aangesien hulle net een aspek van God se plan so op ’n manier onderhou. U sien, die meerderheid belydende Christene neem wel die brood en wyn om Christus se offer te gedenk – hulle noem dit die Nagmaal of die Avondmaal. Maar hulle verstaan nie die volle betekenis van Christus se offer soos wat dit deur hierdie simbole verteenwoordig word nie. Buitendien verteenwoordig die brood en die wyn slegs die EERSTE STAP in God se plan.

Ons kan tog nie ophou by die eerste stap nie. Want, God het ’n plan van sewe stappe. Inderdaad, baie van die dinge wat God doen, word geopenbaar in ’n patroon van sewe. In die begin skep Hy ’n sewe-dag week en heilig die sewende dag as Sy Sabbat (Gen. 2:1-3; Ex. 20:11). Later, soos ons al gesien het, gee Hy presies sewe jaarlikse Heilige Dae in sewe Feestye om Sy algehele plan en doel met die mensdom bekend te maak. In die Nuwe Testament, in Openbaring, vind ons die sewe Gemeentes, die sewe seëls, die sewe basuine of trompette en sewe laaste plae. Die getal sewe, soos baie Bybelkenners erken, word in die Skrif gebruik om voltooiing of perfeksie te simboliseer. Met dié kennis is dit dan belaglik om net een van die jaarlikse Heilige Dae te onderhou en al die ander in God se plan weg te laat!

Wil u werklik God se plan ten volle verstaan? Soek Hom dan heelhartig in gebed en Bybelstudie: “Dan sal julle daarvandaan die Here jou God SOEK en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek” (Deut. 4:29). Wanneer u Hom vind, GEHOOR­SAAM Hom dan deur die presiese dae te onderhou wat Hy gegee het juis om ons hiermee te help, die weeklikse en jaarlikse Sabbatte! Soos koning Dawid skryf: “Wysheid begin met die DIEN van die Here; almal wat dit doen, het ware insig” (Ps. 111:10, NV). Om die Here te dien, beteken om Hom te gehoorsaam. As u werklik wil weet waarom God u aansê om iets te doen, begin dit doen, en u sal spoedig die rede daarvoor uitvind!

Laat ons nou die doel en betekenis van elk van God se sewe godsdienstige Feestye navors en ten volle verstaan wat die betekenis en doel is van elk van daardie sewe godsdienstige Feestye wat God aan die mensdom gegee het om te onderhou. Onthou nou, deur hierdie Feestye te verstaan en te onderhou, bly die grootse MEESTERPLAN van ons Skepper altyd in ons gedagte.

Galasiërs 4:10

In Galasiërs 4 skryf die apostel Paulus: “Hoe val julle dan nou weer terug na daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls? Wil julle van voor af weer slawe daarvan wees? Julle hou aan om besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare te vier” (verse 9-10, NV).

Vandag redeneer baie mense dat Paulus hier die Joodse Feestye aanval. Maar sou Paulus God se Feestye “swak en armoedig” (OV) noem? ’n Eietydse publikasie verklaar dat die konteks van Galasiërs 4:10 “verstaan moet word as ’n heidense wêreldse plan” (Troy Martin, New Testament Studies, an International Journal, Jan. 1996, bl. 113). En, die ontvangers van Paulus se brief was hoofsaaklik bekeerde Heidene. Hulle het voor hulle bekering dus nooit God se Heilige Dae onderhou nie. Indien Paulus dus na God se Heilige Dae sou verwys, maak dit glad nie sin in dié konteks nie.

Maar hoekom dink so baie mense dan dat Paulus verwys na die Feestye wat die Jode onderhou het? Omdat die hele eerste gedeelte van Galasiërs gaan oor die verwerping van ’n wyd verspreide dwaalleer wat sommige Christene van Joodse afkoms verkondig het. Handelinge 15 bewys dat sommige van die Joodse Christene verkondig het dat nie-Joodse bekeerlinge besny moes word en die seremoniële wet van Moses moes hou om gered te kon word. Paulus begin Galasiërs 4 deur te verwys na “ons”, die Jode, wat slawe was van ’n wettiese godsdiensstelsel wat nodig was vanweë hulle gesamentlike ongehoorsaamheid.

Dan verander hy die fokus na “julle”, die Heidene, wat God voorheen “nie geken het nie”, en “nikswerd afgode” gedien het (vers 8, NV). Party van hulle het nou terug­gekeer na heidense gebruike. Hoekom? Alhoewel die boodskap wel vir sommige aanloklik was, verduidelik die bogenoemde Cambridge publikasie dat dié “verjoodse” boodskap baie mense egter van die Christendom wegge­dryf het, terug na hulle heidense gewoontes van tevore, weens ’n vrees vir die besnydenis.

As Paulus wel na God se Feestye of Sabbatte verwys het, sou hy gewis die presiese terme en name gebruik het (verwys Kol. 2:16). Hierdie gedeelte in Galasiërs beteken dus nie dat God se Heilige Dae weggegooi word nie. Trouens, dit handel nie eens oor die Heilige Dae nie!


STAP 1

Die Pasga

Ver, ver in die verlede, miskien selfs voordat tyd bestaan het, het die Ewige God besluit om wesens te skape wat eendag Sy seuns en dogters sou word, letterlik. Wesens soos Hyself, wat, in ’n sekere sin, “uit Homself sou voortkom”, wat Sy goddelike natuur sou hê (2 Pet. 1:4), Sy regverdige KARAKTER wat in hulle gevestig sou word deur Sy Heilige Gees.

Wat is God se karakter? Die Bybel verklaar: “God is liefde” (1 Joh. 4:8). Ware liefde is uit­gaan­de besorgdheid vir ander. Hierdie oorheersende beginsel is die basis vir God se lewenswyse, vir Sy ewige geestelike gedragskode, naamlik Sy wet. God se lewenswyse behels gee en dien, deel en hulp verleen, saam werk en vrede maak. Dit is alles wat reg en goed is.

Daar is natuurlik ook ’n ander lewenswyse, die bose lewenswyse. Dié lewenswyse is die teenoor­gestelde van God se karakter en fokus op die eie ek. Dit gaan oor selfbevordering, oor persoonlike voor­deel – met ander woorde, kry in plaas van gee. Hier­die wet van eiewaan belowe eer aan die aanhangers daarvan, maar in werklikheid lei dit uiteindelik tot wedywering, tweedrag, lyding en hartseer.

Heilige, regverdige karakter is die vermoë van ’n denkende wese met vryheid van keuse om gewillig die regte weg te kies – God se weg. Die engele, magtige geestelike wesens geskape deur God, het ook hierdie vrye keuse gehad. Ongelukkig het een derde van hulle – simbolies “sterre” genoem (verwys Op. 1:20) – onder Satan se invloed besluit om die bose weg te kies (Op. 12:4). Omdat die weder­strewige net onheil soek (Spr. 17:11), is dit nie vreemd dat hulle teen God gerebelleer het en Sy heilige wet van liefde oortree het nie. Sodoende het hierdie engele gesondig, want “sonde is immers oortreding van die wet van God” (1 Joh. 3:4, NV). Hulle het selfs ’n aanval teen die hemel geloods en teen die oorblywende, lojale twee derdes van die engele geveg. Maar die opstandige engele – nou bekend as demone of bose geeste – is na die aarde neergewerp, wat tot vandag toe hulle “geestelike tronk” is.

Toe, in ’n latere tydvak, word dit tyd dat God begin om Sy eie, letterlike geestelike kinders te skape. Maar hulle sou aanvanklik nie geskape word as magtige geestelike wesens soos die engele nie, want voordat Hy hulle gees sou maak, sou God hulle eers as fisiese wesens, as menslike wesens skape. Hulle sou Sy vorm en gedaante hê asook sekere goddelike vermoëns – soos verstand om te redeneer en verbeelding om te kan skep. Maar hulle sou vlees en bloed wees, onderworpe aan fisieke verval en aftakeling en selfs die dood. Deurdat hulle vryheid van keuse het om te besluit tussen goed en kwaad, sou hulle tydens hulle stoflike menselewens moes bewys dat hulle God se weg sou kies, bereid is om hulle wil aan God te onderwerp, Hom te dien, en NOOIT teen Hom sal draai soos die duiwels nie. As mense wel teen God sou rebelleer en sondig, dan sou hulle die boete moes betaal wat God bepaal het – soos Hy ons leer deur Paulus se woorde: “Die loon van die sonde is die dood” (Rom. 6:23).

Adam en Eva, die eerste menslike wesens, het inderdaad gesondig – weens die leuens en versoekings van Satan. Ten spyte van die feit dat God Sy geestelike wet, die Tien Gebooie, in gekodifiseerde vorm aan die mensdom gegee het, het elke mens – behalwe slegs Jesus Christus – sedertdien gesondig: “Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Rom. 3:23), en “die dood tot alle mense deurgedring het, en almal gesondig het” (Rom. 5:12). Maar is daar dan geen hoop nie? Is totale uitwissing dan onafwendbaar? Geensins! U sien, die Alwetende en Almagtige God het voorsiening gemaak vir so ’n moontlikheid. Die Almagtige laat in Sy alwysheid inderdaad toe dat die mensdom tot sonde gelei word deur Satan. Hy laat dit toe dat die mens deur sy ganse geskiedenis sy eie paadjie loop, om op die harde manier te leer waarheen sonde hom sou lei. Vandag leer die mens steeds die lesse van die lewe deur sy eie menslike ondervinding en lyding – maar die meeste mense LEER NIE werklik iets uit daardie lesse nie. Uiteindelik sal elkeen egter die geleentheid hê om werklik die regte weg te leer ken en dit na behore te lewe.

Verlossing word moontlik gemaak

Maar hoe sou God die mensdom met Homself versoen? Want selfs al sou mense die een of ander tyd in hul lewe berou oor hul bose weë beleef en hulle tot God keer en Hom begin gehoorsaam, sou hulle steeds onder die doodsvonnis wees as gevolg van hulle vorige sondes. Weer eens, hoe kan ons versoen raak met God? Die antwoord is God se plan van verlossing! Sondaars – en dis almal van ons – sou verlos word, “teruggekoop” word. Die prys is uiteraard geweldig hoog, want die verlossingsbedrag moes groter wees as die waarde van alle mense. Wat kan dan meer waarde hê as die totaal van alle mense­lewens deur die eeue? Die lewe van daardie God wat ons geskape het. Onthou, dat die Vader “alles geskape het deur Jesus Christus” (Ef. 3:9; verwys Joh. 1:1-3; Kol. 1:18).

Dis verstommend, maar Hulle het besluit om die uiterste offer te bring en die hoogste prys ooit te betaal: “Maar ons sien … Jesus, wat vir ’n kort tydjie minder as die engele gemaak is … sodat Hy deur die genade van God vir elkeen die dood sou smaak. Want dit het Hom betaam [om hierdie prys te betaal], ter wille van wie alle dinge en deur wie alle dinge is” (Heb. 2:9-10). Jesus Christus was die Een wat in ons plek sou sterf.

Dit was ’n ontsaglike offer. Die Vader het die Wese naaste aan Hom in die heelal, afgestaan sodat ons gered kon word. “Want”, sê die Goue Vers: “so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh. 3:16).

Dus, ter wille van ons, het die Wese wat later Jesus Christus sou word, Sy onbeskryflike heer­likheid prysgegee: “Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ’n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as ’n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis” (Fil. 2:6-8).

Hierdie ontsagwekkende gebeurtenis is van die begin af beplan. In Openbaring 13:8 word Christus beskryf as “die Lam wat geslag is van die grondlegging van die wêreld af”, wat die korrekte vertaling is (verwys na die Engelse King James vertaling, want ongelukkig is die OV en NV van hierdie vers onduidelik en foutief). Johannes die Doper noem Hom “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29). Waarom word Christus só genoem? Die Ou Testament gee die antwoord.

In die tyd van Moses, weke voordat die Israeliete by die berg Sinai aankom en dus voor die “Ou Verbond” met hulle gesluit is, beveel die Here dat elke huisgesin ’n “lam”, naamlik ’n bok- of skaap­rammetjie sonder gebrek, in bewaring moes hou (Ex. 12:3-5). Hierdie dier moes op die aand van 14 Nisan – die Pasgafees – geslag word (vers 6; verwys Lev. 23:5).

God het beplan om daardie nag AL die eersgeborenes in Egipte te vernietig omdat Farao Sy volk nie wou laat trek nie. Maar aan die Israeliete sê Hy dat as hulle Hom sou gehoorsaam deur die Pasgalam te slag en te eet, en van die bloed aan die deurposte te smeer, dan “as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. En daar sal geen verderflike plaag onder julle wees wanneer Ek Egipteland tref nie” (Ex. 12:13). In Engels word dit die “Passover” genoem na aanleiding van God se belofte: “I will pass over you”. Dan vervolg God: “En HIERDIE DAG moet vir julle ’n gedenkdag wees, en julle moet dit as ’n fees tot eer van die Here vier. Julle moet dit in julle geslagte as ’n EWIGE insetting vier” (Ex. 12:14). Eintlik hoef ons nie verder as hierdie vers te gaan om te verstaan dat ons Jesus Christus, ons Verlosser, se offerande op hierdie spesifieke dag moet herdenk nie – en nie sommer op enige dag wat ons sou pas nie.

Christus ons Pasgalam

Dit is duidelik dat die slag van die Pasgalam Jesus Christus se offerande simboliseer. Ons het al gesien dat Paulus skryf: “Want ook ons paaslam [Pasgalam] is vir ons geslag, naamlik Christus” (1 Kor. 5:7) Dus, byna 1,500 jaar vóór die tyd, lei God ’n hele nasie van omtrent 3 miljoen mense om die ongelooflike OFFERANDE wat Sy eie Seun, Jesus Christus, later vir die hele mensdom sou bring, in simboliek uit te beeld.

Dit is Jesus Christus se dood wat versoening bring vir die gruwelikheid van sonde. Elke mens wat hierdie versoening aanneem, kan vrygekoop of teruggekoop word. Die Pasga versinnebeeld die feit dat ons “en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. Hom het God voorgestel in sy bloed as ’n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God” (Rom. 3:24-25)

Ons moet ook daarop wys dat Jesus Christus dít wat die Pasgafees simboliseer, verder vervul het deurdat Hy op daardie dag gekruisig is! Onthou dat die laaste maaltyd wat Jesus Christus as ’n mens geëet het die Ou-Testamentiese Pasga was – dit was die aand, die aanvang van 14 Nisan. Onthou ook dat die Bybelse en Hebreeuse dae begin met sonsondergang. Let ook op die volgende feite: Jesus noem dié ete die Pasga: “hierdie pasga met julle te eet voordat Ek ly” (Luk. 22:15). Vroeër sê Hy Sy dissipels aan om aan die man in wie se huis hulle die Pasga sou eet, te sê: “Die Meester laat weet: My tyd is naby. By jou sal Ek die Pasga hou met My dissipels” (Matt. 26:18). Natuurlik, die volgende namiddag, toe Christus werklik sterf, was dit steeds die 14e dag van Nisan, en dus steeds die Pasga!

Maar wat van vandag? Noudat diere-offers in onbruik is (Heb. 10), hoe behoort Christene hierdie Fees te onderhou? Christus gee die antwoord. Tydens Sy laaste Pasgamaal stel Hy die voete­wasseremonie in (Joh. 13:1-7) om ons te leer om mekaar te dien en nederig te wees. Dan neem Hy twee items wat tradisioneel deel was van die aandete – brood en wyn – en beveel Sy dissipels om daaraan deel te hê as simbool van Sy offer aan die mensdom (Matt. 26:26-29).

Elke ware Christen behoort dieselfde seremonie te onderhou. Dit moet een maal per jaar, soos God beveel, onderhou word, en op dieselfde aand dat Jesus oorgelewer was om gekruisig te word. Die apostel Paulus verduidelik: “Want ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het, dat die Here Jesus IN DIE NAG waarin Hy verraai is, brood geneem het; en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis. Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis. Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink [dit is een maal per jaar tydens die Pasga], verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom” (1 Kor. 11:23-26).

Ons moet dus nie meer ’n lam offer en die volle Pasgamaal eet nie (verse 20, 34), want die brood en die wyn simboliseer nou Christus se gebreekte liggaam en Sy gestorte bloed. Vroeër het ons Verlosser hierna verwys met die woorde: “Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid. En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee … Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie. Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag. Want my vlees is waarlik spys, en my bloed is waarlik drank. Wie my vlees eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom” (Joh. 6:51-56).

Alhoewel daar groot geestelike waarheid steek in wat Christus hier sê, is die Pasgasimbole inderdaad daarby ingesluit. Dit moet beklemtoon word dat die brood en wyn slegs simbole is. Dit word NIE, soos die Rooms-Katolieke leer, “verander” in die letterlike liggaam en bloed van Jesus nie – wat dán immers beteken dat Jesus keer op keer sterf elke keer dat daardie seremonie gehou word! Die boek aan die Hebreërs stel dit baie duidelik dat Christus een keer, en net één keer, as ’n vlees-en-bloed offerande geoffer is (Heb. 7:26-27; 9:25-28; 10:10-14).

Wat stel hierdie simbole dan voor?

Die gebreekte brood

Die brood – ongesuurde boord, want dit was die enigste brood wat met die Pasga toegelaat is (verwys Ex. 12:8) – verteenwoordig die liggaam van Christus wat sonder sonde is, wat vir ons “gebreek” is (1 Kor. 11:24). God se Woord toon uitdruklik dat Jesus verskriklik gely het net voor Sy kruisiging toe Hy gekasty en gegesel is. Geskiedkundiges sê dat die Romeinse geseling bestaan het uit houe met ’n leersweep waarin skerp stukkies metaal vasgemaak is om vel te sny en te skeur. Eintlik het baie van die veroordeelde misdadigers gesterf voor hulle kruisiging, weens die trauma en gevolglike bloed­verlies van só ’n geseling.

WAAROM moes Jesus hierdie afgryslike geseling verduur?

Omtrent 700 jaar voor dié gebeurtenis, inspireer God die Profeet Jesaja om die Messias se laaste oomblikke asook die doel daarvan, te beskryf. “Nogtans het Hý óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte – dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was. Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom” (Jes. 53:4-5).

Ongelooflik! Omdat ons Verlosser daardie fisiese afranseling verduur het, kan ons gesond gemaak word as ons siek is of beseer is! Kyk ook hoe die sin “nogtans het Hý óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte … gedra” in die Nuwe Testament aangegee word. Die apostel Mattheus skryf hoe Jesus baie mense gesond gemaak het, en haal dan hierdie vers aan as die vervulling van Jesaja se profesie: “Hy het die geeste met ’n woord uitgedrywe; en almal wat ongesteld was, het Hy gesond gemaak, sodat vervul sou word wat gespreek is deur Jesaja, die profeet, toe hy gesê het: Hy het ons krankhede op Hom geneem en ons siektes gedra” (Matt. 8:16-17).

Maar hoe kan dit wees? Afgesien van die uiteindelike loon van die sonde – die ewige dood – het sonde ook nog verskriklike gevolge vir die mens in hierdie lewe. Dit bring allerhande lyding, hetsy geestelik, siele-angs, emosioneel of fisies. Siekte is op die ou einde die gevolg van sonde – óf dis iets wat ons self gedoen het, of iets wat iemand anders gedoen of nie gedoen het nie, óf bloot weens die feit dat siektes en siektetoestande die wêreld binnegekom het omdat die mensdom van God afgesny is sedert Adam en Eva gesondig het.

Hoe wonderlik om te weet dat Christus die finale doodsvonnis vir sonde om ons onthalwe betaal het. Maar Hy het ook betaal vir die ander gevolge van sonde – soos lyding, pyn en hartseer – deur die verskriklike geselhoue en marteling wat Hy verduur het. Dit beteken egter nie dat God in ons huidige leeftyd al die gevolge van ons sondes van die verlede sal verwyder nie. Hy kan verkies om dit nie te doen nie sodat ons lesse daaruit kan leer (verwys 2 Sam. 12:7-23). Maar ons kan dankbaar wees dat ons, weens Christus se offerande, dikwels in hierdie lewe genade sal ontvang. Van groter belang, ons wéét dat as ons kinders is van die Lewende God en Sy Heilige Gees in ons het, dan sál ons die uiteindelike vonnis vir sonde, die ewige dood, vryspring. Eendag sal alle gevolge van sonde verwyder word van die hele mensdom, omdat die mensdom dan volkome gehoorsaam sal wees aan God (verwys Op. 21:4).

Vir eers is dit egter belangrik dat ons verstaan dat die genesing van ons liggame moontlik is weens Jesus Christus se gebreekte liggaam. Toe Hy daardie verskriklike geseling ondergaan het, het Hy in Homself die pyn en ellende gedra wat siektes en beserings meebring. Die apostel Petrus haal Jesaja aan: “Wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle GENEES is” (1 Pet. 2:24).

Vandag egter, weet die grootste gros belydende Christene hoegenaamd NIE dat die gebreekte brood van die Pasga Christus se gebreekte liggaam simboliseer nie! Die vroeë Kerk in Korinte het hierdie bemoedigende feit selfs vergeet. Paulus waarsku die Christene in Korinte dat hulle die liggaam van die Here nie na behore onderskei nie: “Maar die mens moet homself beproef en só van die brood eet en uit die beker drink. Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ’n oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie. Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ’n aantal het ONTSLAAP [het gesterf]”(1 Kor. 11:28-30).

Mag God ons almal help met die besef dat wanneer ons tydens die Pasga die brood eet, ons herbevestig dat ons Christus se gebreekte liggaam aanvaar as betaling vir die straf wat ons sonde oor ons bring in hierdie lewe – en veral die fisiese straf van siekte en swakheid.

Die wyn

Nadat die dissipels van die ongesuurde brood geneem het, stel Christus die volgende deel van die Pasgaseremonie in: “Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit. Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament [verbond], wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes” (Matt. 26:27-28). Die drank wat hier gebruik was, was wyn, die “vrug van die wynstok” (vers 29). In hierdie seremonie simboliseer rooi wyn die gestorte bloed van Christus.

Maar waarom is die bloed belangrik? Die boek aan die Hebreërs sê: “En byna alles word met bloed gereinig volgens die wet, en sonder bloed­ver­gieting vind daar geen vergifnis plaas nie” (Heb. 9:22). Maar waarom is dit dan so? God het aan Antieke Israel gesê: “Want die SIEL [lewe, NV] van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen” (Lev. 17:11). Dit is duidelik dat bloedvergieting lei tot verlies van lewe. Die lewe wat hier gegee is, was dié van God se eie Seun, die Skepper van die ganse mensdom!

Paulus skryf oor Christus: “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Ef. 1:7). Diegene wat Christus se offerande aanneem as betaling vir hulle sondes is nou “geregverdig … in sy bloed” (Rom. 5:9). Die woord “geregverdig” beteken “van skuld vrygespreek” volgens die HAT, of “met God versoen deur die DOOD van Sy Seun”, soos die volgende vers verduidelik.

Hoe verstommend, wanneer ons dit verstaan! Die Wese wat later Jesus Christus sou word, soos ons gesien het in 1 Korintiërs 10:4, is die Een wat hierdie Feestye aan Israel gegee het. Hy was die Een wat die Tien Gebooie gespreek het. Hy was die Een wat die Israeliete uit Egipte uitgelei het, hulle “verlos” het. Hy was die Een wat hulle uiteindelik die Beloofde Land ingebring het. Later was Hy die Een wat Homself verneder het om ’n vleeslike mens te word en die Verlosser van die hele wêreld geword het deur toe te laat dat Sy bloed – die bloed van die Skepper van alle mense – uitgestort word om die volle prys vir ons sondes te betaal!

Geen wonder dat die Bybel praat van die “kosbare” bloed van Jesus Christus nie! Wanneer ons die wyn drink wat dié ontsaglike daad van nederigheid deur ons Skepper simboliseer, behoort ons inderdaad gevul te wees met diep waardering vir en AANBIDDING tot ons God en ons Verlosser. Soos 1 Petrus 1:18-19 ons verseker, as ons werklik berou tot bekering het oor ons sondes en Christus aanneem as ons Verlosser, dan kan ons ten volle glo dat ons nie “deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is … nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ’n lam sonder gebrek en vlekkeloos”. Laat ons dan die Pasga onderhou, ter nagedagtenis aan Jesus Christus.

STAP 2

Die Fees van Ongesuurde Brood

Ons het so pas gesien dat ons sondes van die verlede vergewe word deur Jesus Christus se Pasga-offerande en dat ons daardeur met God versoen word. Maar is dit die einde? Die hoofstroom Christendom antwoord dikwels, ja – dat dit eindig by die kruis en dat ons Jesus Christus bloot moet aanvaar as ons persoonlike Verlosser. Maar, volgens dié denkwyse, waarom moet ons dan vleeslike mense bly? Waarom kan ons nie onmiddellik verheerlik word ná vergifnis toegestaan is nie? Die antwoord: daar is nog iets wat ons moet DOEN!

Baie Christene in naam glo dat ons “gered” is sodra ons sondes vergewe is. Ons is inderdaad op daardie tydstip gered van die doodsvonnis wat ons vorige sondes oor ons gebring het. Maar ons kan tog weer in sonde verval en ons saligheid verloor (Heb. 6:4-8; 10:26-31; 1 Kor. 9:27). Redding, of verlossing, is dus ’n proses. Ons is nou in ’n proses om gered te word (1 Kor. 1:18), en uiteindelik sal ons gered word – as ons tot die einde toe volhard (Matt. 24:13). In Romeine 5:10 gee Paulus dié verduideliking: “Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy LEWE gered word nou dat ons versoen is”. Begryp dit: as ons slegs die Pasga onderhou, dan laat ons God se plan onvoltooid. Ons laat Jesus dood aan die kruis hang – uit en gedaan! Maar onthou, ons Verlosser het uit die dood opgestaan! En, soos ons later sal sien wanneer ons die saak dieper ondersoek, dit is deur Sy lewe dat ons gered sal word. Let weer daarop dat ons nog nie ten volle gered is nie.

Met goeie rede, want Jesus stel ’n voorwaarde vir ons verlossing. Hy sê: “Maar as jy in die [ewige] lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Matt. 19:17). Hy sê ons aan om ons te “bekeer” (Mark. 1:15) – wat beteken om van die sonde weg te draai na die teenoorgestelde rigting, ons moet die weg van geregtigheid wandel. Met ander woorde, God wil hê dat ons ’n verbond met Hom aangaan waarvolgens ons onderneem om sonde heeltemal uit ons lewens te sit – dat ons ophou om Sy geestelike wette te verbreek en hulle voortaan onderhou. En dan verwag Hy ook dat ons dié onderneming gestand sal doen.

Die proses van oorwinning

Die apostel Paulus skryf: “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie” (Ef. 2:8-9). Baie mense sal egter nou reken dié vers sê dat ons verder niks hoef te doen nadat ons God se genadegawe ontvang het nie – dat ons nie God se wet hoef te hou nie. Maar om só te redeneer, is kortsigtig, want in die volgende vers beskryf Paulus ons as God se maaksel, “geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel” (Ef. 2:10). Dis reg, ons hele lewenswyse moet verander: van ongehoorsaamheid aan God tot gehoorsaam­heid aan Hom. Natuurlik weet die Here ons is nie perfek in staat om Hom te gehoorsaam terwyl ons nog vleeslike mense is nie (Rom. 7:18, 24; 1 Joh. 1:8-10). Maar Hy verwag nogtans dat ons Sy karakter sal ontwikkel deur ’n proses van stry teen die sonde en die sonde oorwin (verwys 1 Kor. 9:24-27; Op. 2:11; 3:21; 21:7).

Ons vorige sondige lewe moet dus “gekruisig word met Christus” (Gal. 2:20). Ons word dan gedoop as simbool van ons ou natuur wat figuurlik begrawe word met Christus. Daarna kom ons op uit die “watergraf” van die doop – as simbool van ons “opstanding” tot ’n nuwe lewe in Christus. Van daar af moet ons dan lewe volgens Sy lewenswyse. Paulus verduidelik:

“Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe? Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ’n nuwe lewe kan wandel. Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie … Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie” (Rom. 6:1-12; verwys Kol. 3:1-10).

Let daarop dat toe ons in die verlede die sonde gedien het, ons SLAWE van die sonde was, wetsoor­treders was. Maar nou moet ons “slawe” van geregtigheid wees. Maar wat is geregtigheid? In Psalm 119:172 bid Koning Dawid tot God: “Al u gebooie is geregtigheid”. Die apostel Paulus vervolg in Romeine 6: “Wat dan? Sal ons sonde doen, omdat ons nie onder die wet is nie maar onder die genade? Nee! … want net soos julle jul lede diensbaar gestel het aan die onreinheid en wetteloosheid om wetteloos te wees, so moet julle nou jul lede diensbaar stel aan die geregtigheid tot heiligmaking” (verse 15-19).

Die volgende stap in God se plan is om te ontsnap van die sondebande wat tot die dood lei, en om God se lewenswyse ons eie te maak, dit heelhartig te lewe. Die Almagtige het ’n spesiale Feestyd gegee om hierdie proses vir ons uit te beeld – die Fees van Ongesuurde Brood.

Laat ons die Fees onderhou

Net nadat God Moses beveel het om die Pasga te onderhou, vertel Hy Moses van die Feestyd wat daarmee saamgaan en wat begin op 15 Nisan (verwys Lev. 23:6). Ons vind hierdie Feestyd ook in Exodus 12: “Sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet; alreeds op die eerste dag moet julle die suurdeeg uit julle huise verwyder …” (vers 15). Ons het reeds vroeër genoem dat suurdeeg enigiets insluit wat brood sal laat rys, soos koeksoda en bakpoeier of enige soort suurdeeg self. Die vers vervolg met “elkeen wat gesuurde brood eet, van die eerste dag af tot die sewende toe, dié siel moet uit Israel uitgeroei word”. Dit is dus ’n ernstige saak.

God verduidelik dan verder oor hierdie Feestyd: “En op die eerste dag moet daar ’n heilige samekoms wees; ook op die sewende dag moet daar vir julle ’n heilige samekoms wees. Daar mag géén werk op dié dae gedoen word nie; net wat deur elkeen geëet moet word, dit alleen mag deur julle berei word. Onderhou dan die [Fees van] onge­suurde brode, want op daardie selfde dag het Ek julle leërs uit Egipteland uitgelei. Daarom moet julle hierdie dag in julle geslagte as ’n ewige insetting hou” (verse 16-17).

Let op! Die Fees van Ongesuurde Brood was die tyd toe God Israel uit Egiptiese slawerny verlos het. En, soos reeds vermeld, is dié Feestyd vir Christene simbolies van bevryding uit die slawerny van SONDE! Antieke Egipte, saam met Sodom en Babilon, word soms in die Bybel gebruik as die geestelike tipe van ’n sondige samelewing wat in opstand is teen God (verwys Op. 11:8; 18:4). Boonop word suurdeeg ook in verskeie Skrifture gebruik as simbool van sonde. Jesus waarsku Sy dissipels teen die verraderlike, sondige leerstellings van die geestelike leiers van Sy tyd en sê vir hulle: “Pas op en wees op julle hoede vir die SUURDEEG van die Fariseërs en Sadduseërs” (Matt. 16:6). In Lukas 12:1 wys Hy daarop dat die Fariseërs en Sadduseërs veral “gesuurd” was met die suurdeeg van skynheiligheid.

Soos ons reeds gesien het, laat suurdeeg deeg rys of “opswel”, net soos ’n sondige gesindheid – of eiesinnigheid – ons laat “opswel” om te doen wat reg is in ons eie oë, ons “eie ding” te laat doen. Suurdeeg versprei dwarsdeur deeg net soos onbeteuelde SONDE van persoon tot persoon versprei – ook in die Kerk van God! Toe die Kerk in Korinte nie wou optree teen ’n onboetvaardige sondaar nie, moes Paulus aan hulle skryf om die man uit hulle midde te verwyder (1 Kor. 5:1-5). Dan verduidelik hy: “Weet julle nie dat ’n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie? Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ’n nuwe deeg kan wees – soos julle inderdaad ongesuurd is – want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus” (verse 6-7).

Hulle was in werklikheid, letterlik gesproke, op daardie tydstip net ná die Pasga en gedurende die Dae van Ongesuurde Brood wel ongesuurd.(verwys 1 Kor. 11:17-34).

Dus beveel Paulus die Heidene in die Kerk in Korinte: “Laat ons dan FEESVIER” (1 Kor. 5:8). Watter Fees? Natuurlik die Fees van Ongesuurde Brood! Dan vervolg hy: “nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug [onsedelikheid, NV] en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid” (vers 8).

Paulus se standpunt was dus dat, net soos wat die Korintiërs letterlik die Fees gehou, moes hulle dit ook in die regte gees onderhou – hulle moes sonde verwyder en geregtigheid aanneem. Hier vind ons ’n duidelike Nuwe-Testamentiese gebod om die Fees van Ongesuurde Brood te ONDERHOU, in die letter sowel as in die gees! En hierdie gebod is gegee aan ’n oorwegend nie-Joodse [Heidense] Kerk! Dit was nie die een of ander voormalige vorm van “Judaïsme” wat besig was om weer pos te vat in die Kerk nie! Inteendeel, die meeste van hulle het nog nooit tevore God se Feestye onderhou nie. In vers 7 koppel Paulus die Fees van Ongesuurde Brood aan die Pasga wat dit voorafgaan. Weer eens, die Pasga het te make met die vergifnis van sondes van die verlede, terwyl die Fees van Ongesuurde Brood die “opvolgaksie” is – vasberadenheid om met God se hulp TOE TE NEEM in genade en kennis (2 Pet. 3:18) om “soos ’n volgroeide mens [te] wees, so volmaak en volwasse soos Christus” (Ef. 4:13, NV).

Verwyder geestelike suurdeeg

Hoe moet ons nou eintlik dié Fees onderhou? Soos die Feestyd elke jaar nader kom, moet ware volgelinge van Nuwe-Testamentiese Christendom suurdeeg en gesuurde voedselprodukte uit ons huise en van ons eiendom verwyder. Dan moet ons vir sewe dae lank ongesuurde kos eet. (Terloops, daar is niks verkeerd met suurdeeg nie, dit is bloot vir dié sewe dae die simbool van sonde). Indien ons tydens die Fees ’n gesuurde produk in die huis raakloop wat ons tevore misgekyk het, moet ons dit ook verwyder (Ex. 13:7).

Terwyl ons ons eiendom deeglik skoonmaak, moet ons nadink oor die feit dat, net soos die krummels van gesuurde produkte orals in gleuwe en hoekies kan versamel, sonde ook in ons lewens “wegkruip”. Ons sal heel verbaas wees om te sien waar suurdeeg oral voorkom! Op ’n geestelike vlak moet ons God vra om ons deeglik skoon te maak en uit te skrop, ons te wys waar daar iewers in ons diepste gedagtes nog sonde skuil. Ons moet soos Dawid bid: “Kyk, U het ’n welgevalle aan waarheid in die binneste, en in die verborgene maak U aan my wysheid bekend. Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu” (Ps. 51:8-9).

Ja, vir sewe dae – en volgens God simboliseer sewe dikwels volmaaktheid – moet ons fokus op maniere om heeltemal ontslae te raak van sonde. Indien ons hierdie God gegewe Feestye onderhou soos Hy ons beveel, word ons herinner dat ons ’n voortdurende verantwoordelikheid teenoor God het om Satan se versoekings te weerstaan, dié van ons samelewing wat Satan mislei het, sowel as ons eie natuur wat ingestel is op Satan se “golflengte”. Rakende die bose invloed wat Satan voorheen op hulle gehad het, skryf Paulus só aan die Christene: “En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” (Ef. 2:1-2). Dit is inderdaad Satan, die “owerste van hierdie wêreld” (Joh. 14:30), wat sy bose en vernietigende gesindheid “uitsaai”. Aangesien Paulus hierdie “mag van die lug” beskryf het lank voordat radio en televisie hul verskyning gemaak het, moet ons verstaan dat dit ’n geestelike uitsending in ons gedagtes is, van sondige drange en idees waarvoor ons ontvanklik is. Maar deur geloof kan ons dit oorwin (1 Joh. 5:4).

Afgesien van die Israeliete se tog uit Egipte gedurende hierdie Feestyd het daar nog iets van belang gebeur. Volgens Joodse tradisie het God op die laaste Heilige Dag van hierdie Fees die Rooi See op wonderbaarlike wyse oopgekloof – ’n pad gemaak sodat die Israeliete tussen twee mure van water kon deurtrek op droë grond en só ontsnap van Farao en sy leër (Ex. 14:22). Later sien die Israeliete hoe die water op die Egiptenare terugval en hulle verswelg. Volgens die Nuwe Testament, was dít ’n tipe doopseremonie (1 Kor. 10:2)! Ons het reeds gesien dat die doop simbolies is van die ou mens wat dood­gemaak word en dan opstaan om ’n “nuwe lewe” te lei – asof ons reeds saam met Christus opgewek is. Maar wanneer het Christus uit Sy graf opgestaan? “Drie dae en drie nagte” ná Sy begrafnis op die Pasgadag (verwys Matt. 12:40), gedurende die Dae van Onge­suurde Brood!

Onthou, nadat ons gedoop is, moet ons nie net die suurdeeg van sonde uit ons lewens weer nie, maar ons moet ook leef volgens die “ongesuurde brood van reinheid en waarheid”. Maar wat is waarheid? Dawid sê aan God: “U wet is waarheid ... al u gebooie is waarheid ... die hele inhoud van u woord is waarheid” (Ps. 119:142, 151, 160). In gebed tot die Vader, uiter Christus dieselfde woorde: “U woord is die waarheid” (Joh. 17:17). Ons moet inderdaad leef van elke woord van die Skrif (Matt. 4:4). Verder, Jesus is die Lewende Woord (Joh. 1:1-3, 14), en Hy sê dat Hy die “weg en die waarheid en die lewe” is (Joh. 14:6). Dus moet ons Christus volg, uit die sonde wat ons omring, deur middel van die Skrif.

Net soos die Israeliete Farao se slawerny weerstaan en uit Egipte gevlug het, moet ons ook die heerser van hierdie wêreld weerstaan (Jak. 4:7), vlug uit die omstandighede wat ons kan laat sondig (verwys 1 Kor. 6:18; 10:14), en “geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sag­moedig­heid [najaag]… die goeie stryd van die geloof [stry] … na die ewige lewe [gryp]” (1 Tim. 6:11-12).

Dít is die ware betekenis van die Dae van Ongesuurde Brood!

Nie deel van die offerandewet nie

Aangaande die Fees van Ongesuurde Brood sê God aan Israel: “Maar julle moet sewe dae lank aan die Here ’n vuuroffer bring” (Lev. 23:8). Al God se Feeste het inderdaad sekere offerandes en Levitiese rituele gehad teen die tyd dat dié betrokke opdragte gegee is. Maar, soos ons weet, is die seremoniële wet van ou Israel, tesame met die diere-offers, voedsel- en drankoffers, wassinge, ens., gegee “tot op die tyd van herstelling” (Heb. 9:9-10) – dus, totdat Christus gekom het en Homself geoffer het (verse 11-15). Toe is die ou offerstelsel vervang deur die VOLMAAKTE offerande van Jesus Christus (verwys Heb. 10:1-10). God se vorige Verbond met Israel – die Ou Verbond – wat vereis het dat seremoniële wette onderhou word, was toe uitgedien (Heb. 8:13).

Gebaseer op die feit dat die seremoniële wette nie meer vandag van toepassing is nie, dink party mense dat die jaarlikse Feeste, waartydens sekere offerandes gemaak moes word en sekere rituele nagekom moes word, ook uitgedien is. Maar is dit werklik die geval?

Eerstens, Hebreërs 10 haal Psalm 40 aan as bewys dat God oorspronklik nie diere-offers wou hê nie. Hy wou eerder ware geestelike gehoorsaamheid van Sy mense hê. Trouens, die Ou Testament sê uitdruklik “om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer” (1 Sam. 15:22; verwys Ps. 51:16-19). Om wat te gehoorsaam? Natuurlik nie die wet van offerandes nie! Die verwysing is dus hier na ’n wet wat groter, hoër is as die wet van offerandes.

Toe God die Israeliete uit Egipte lei en die Ou Verbond met hulle aangaan by Sinai, stem die Israeliete in om ’n wet te gehoorsaam wat nie die seremoniële wet ingesluit het nie. Later sê God aan Israel: “Want Ek het met julle vaders, op die dag dat Ek hulle uit Egipteland uitgelei het, nie gespreek nie en hulle geen bevel gegee in verband met brandoffer of slagoffer nie. Maar hierdie saak het Ek hulle beveel, naamlik: Luister na My stem, dan sal Ek vir julle ’n God wees, en julle sal vir My ’n volk wees; en wandel net in die weg wat Ek julle beveel, dat dit met julle goed kan gaan” (Jer. 7:22-24). Dit was eers later toe Israel ongehoorsaam is aan God weens hulle afgodediens dat Hy die Levitiese priesterorde en die gepaardgaande rituele stelsel ingestel het.

Maar wanneer gebied God die Israeliete om die Pasga en die Dae van Ongesuurde Brood te onderhou? Voordat hulle Egipte verlaat! (Ex. 12 en 13). Dus, God se jaarlikse Feeste sowel as die weeklikse Sabbat (sien Ex. 16) is ingestel voor die Ou Verbond aangegaan is, en lank voor die offerstelsel! Al is die Ou Verbond nie meer van krag nie en die Levitiese godsdiensstelsel vervang, bly ware geestelike aanbidding egter steeds staan, en so ook die nodigheid om God se jaarlikse Feeste te onderhou.

Buitendien, dit is eintlik verregaande om te sê dat hierdie dae nie meer onderhou moet word nie omdat offerandes altyd op sodanige dae gebring is, want daar is elke dag van die jaar offers gebring! (Num. 28:3-10). As iemand dus sê dat God se Heilige Dae saam met die offerandes verval, moet die persoon ook tot die gevolgtrekking kom dat alle dae in die jaar dan ook verval. Dit is verregaande. Dit is dus duidelik dat die Feestye van die Here nog onderhou moet word, al is die tempelrituele nie nou nodig nie.


STAP 3

Pinkster

Miskien besef u nou dat elke Fees van God voortbou op die vorige een om God se plan vir die mensdom te verduidelik. Die Pasga stel ons aanvaarding van Christus se offerande ter vergifnis van ons sondes voor, nadat ons tot bekering gekom en met die Vader versoen is. Die Fees van Onge­suurde Brood stel ons getroue verbintenis voor om die sonde af te lê en in genade te groei deur ’n proses van oorwinning, want ons is reeds gedoop as ’n uiterlike teken van ons innerlike, geestelike verbintenis tot oorwinning.

Die volgende Fees is geen uitsondering nie. Net soos ons nie kan stop by die Pasga nie, kan ons ook nie by die Fees van Ongesuurde Brood ophou nie. Maar waarom nie? Omdat ’n groot dilemma dan te voorskyn tree. Onthou dat Christus ons aansê om die gebooie te onderhou (Matt. 19:17). Paulus sê dan: “omdat wat die vlees [menslike gedagtes] bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie” (Rom. 8:7). Dit lyk dan nou asof dit onmoontlik is om aan God se vereistes te voldoen? Maar, daar IS ’n uitweg, want “by God is alle dinge moontlik” (Matt. 19:26).

Ons behoort die Almagtige diep dankbaar te wees dat Hy dit inderdaad vir ons moontlik maak om Hom te kan gehoorsaam. Om dít te gedenk, bo en behalwe ander belangrike aspekte rakende Sy besigheid, het God ’n derde jaarlikse Fees ingestel – die “Fees van die oes” (Ex. 23:16), ook bekend as die “Eerstelinge”, die “Fees van die weke” (Ex. 34:22), en “Pinkster” (Hand. 2:1). Dié Fees is gekoppel aan die ander Feeste wat dit voorafgaan. U sien, dit was gedurende die Dae van Ongesuurde Brood, op die dag ná ’n weeklikse Sabbat, dat ’n spesifieke seremonie – die eerstelingsgerf (OV) of beweegoffergerf (NV) – plaasgevind het (Lev. 23:9-14). Die Fees van Eerstelinge vind presies sewe weke later plaas – op die 50ste dag, met die dag van die beweegoffer getel as dag een (verse 15-16). Daarom dan die name “Fees van Weke”, en “Pinkster”, wat “vyftigste” beteken in Nuwe-Testamentiese Grieks.

Beter beloftes

Volgens Joodse tradisie het Antieke Israel op dié dag die Tien Gebooie by die berg Sinai ontvang. Saam met hierdie gebeurtenis het Israel met God ’n verbond aangegaan waarvolgens hulle beloof het om Sy wet te gehoorsaam en dan Sy uitverkore volk te wees. Dít was die begin van die Ou-Testamentiese “vergadering [of kerk] in die woestyn” (verwys Hand. 7:38). Maar spoedig ondervind die Israeliete dieselfde probleem waarmee ons worstel – die menslike natuur – en gevolglik faal hulle in hulle belofte van gehoorsaamheid. Volgens Hebreërs 8 het die fout met die Ou Verbond nie by God se wet gelê nie, maar by die mense, want hulle kon die wet nie gehoorsaam nie (Heb. 8: 7-8). Hoekom kon hulle nie gehoorsaam wees nie? Omdat hulle nie genoeg geloof gehad het nie: “Want aan ons is die evangelie ook verkondig net soos aan hulle; maar die woord van die prediking het hulle nie gebaat nie, omdat dit by die hoorders nie met die geloof verenig was nie” (Heb. 4:2).

Dus het God, deur Christus, nou ’n Nuwe Verbond in werking gestel – “’n beter verbond wat op beter beloftes … gegrond is” (Heb. 8:6). Volgens dié Nuwe Verbond, skryf God Sy geestelike wet – dieselfde Tien Gebooie in hul volle, uitgebreide betekenis – in ons hart en verstand sodat ons nou gehoorsaam kan wees (vers 10). Maar hoe? Onthou dat ons, volgens Romeine 5:10, met God versoen is deur die dood van Sy Seun en “deur sy LEWE gered word”. Ja, ons moet Christus se lewenswyse deel maak van ons diepste wese. Maar is dit hoegenaamd moontlik? Ja! Paulus skryf: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Gal. 2:20). Ons ontvang eintlik die geloof van Jesus wanneer Hy en die Vader albei in ons leef (verwys Joh. 14:23). Maar hoe gebeur dit dan? Die apostel Johannes sê: “Hieraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons, [om]dat Hy ons van sy Gees gegee het” (1 Joh. 4:13).

Dit is dus deur die Heilige Gees dat die Vader en die Seun binne-in ons lewe, en ons in staat stel om God te gehoorsaam. Paulus skryf dat “die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is” (Rom. 5:5). Johannes skryf ook: “Dit IS die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar” (1 Joh. 5:3). Maar dit is nie al wat hierdie wonderlik gawe behels nie. Want: “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus … sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word” (Rom. 8:16-17). Die Heilige Gees is die instrument waarvolgens God ons verwek as Sy geestelike kinders – en so begin die proses waardeur ons uiteindelik in Sy Koninkryk ingebore word tydens die opstanding uit die dood.

Paulus verduidelik aan die Christene: “In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. Die Heilige Gees is die waarborg [deposito] dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos” (Ef. 1:13-14, NV). Dus is die “beter beloftes” van die Nuwe Verbond die geskenk van ewige lewe wat God aan ons bied sowel as die Heilige Gees waardeur die ewige lewe sal kom – en waardeur ons nou in staat gestel word om gehoorsaam te wees. Dit lyk inderdaad asof God Antieke Israel as ’n nasie gevestig en die Ou Verbond met hulle aangegaan het met die hoofdoel om te wys dat dit nie vir die mens genoeg is om net God se wette te ontvang en onder Sy regering en ingryping te staan nie – die Heilige Gees is ook nodig. As ’n volk, het Israel van ouds nooit die Heilige Gees ontvang nie. Maar Christene kan, deur middel van die Heilige Gees binne-in hulle, wel ware geloof hê (Gal. 5:22-23), God se plan beter verstaan (Joh. 16:13), en ook ’n mate van Sy eie karakter en geestelike krag ontvang om ons te help om sonde te oorwin en Sy lewenswyse tot ’n groter mate uit te leef (2 Tim. 1:6-7).

Petrus praat van hierdie wonderlike beloftes van God in 2 Petrus 1:4: “... sodat julle daardeur deelgenote kan word van die GODDELIKE NATUUR”. God plaas inderdaad deur die krag van die Heilige Gees Sy eie natuur – Sy goddelike karakter – in ons soos ons met Hom wandel en algaande geestelik groei. Ons moet ook meld dat, ten spyte van die idees van hoofstroom Christendom wat buite die Kerk van die Apostels ontwikkel het, die Heilige Gees nie ’n derde persoon in die Godheid is nie. God is nie ’n drie-eenheid nie. Inderwaarheid is die Heilige Gees die denke, natuur en lewe wat die Vader en die Seun deel – dis eintlik die krag waarvolgens Hulle doen en handel (skryf gerus vir ons gratis boekie, Die God wat u kan leer ken).

Pinkster simboliseer ons ontvangs van dié allerbelangrikste geskenk van die Vader. Dit was op dié Heilige Dag – ná Jesus se opstanding – dat die Heilige Gees op ’n wonderbaarlike en aanskoulike wyse aan die dissipels gegee is (Luk. 24:49; Hand. 2:1-11). Op daardie dag sê die apostel Petrus aan diegene wat toe oortuig geraak het dat hulle sondaars was: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep” (Hand. 2:38-39, NV).

Hierdie ontsagwekkende gebeurtenis was die begin van die Nuwe-Testamentiese Kerk – God se geestelike nasie van Israel (verwys Gal. 6:16). Slegs as ons die Heilige Gees in ons het, kan ons lidmate van die Kerk van God wees (Rom. 8:9; 1 Kor. 12:13; Ef. 1:22). Wat ’n wonderlike parallelisme! Ons het gesien dat hierdie Fees, volgens tradisie, die tyd was toe God Sy wet aan fisiese Israel gegee het met die Ou Verbond, en waarvolgens hulle dan Sy Ou-Testamentiese Kerk sou wees. Dit stem presies ooreen met Pinkster wat ook dié tyd was toe God aan geestelike Israel Sy Gees gegee het waarmee hulle in staat sou wees om Sy wet te onderhou volgens die voorwaardes van die Nuwe Verbond, en sodoende Sy Nuwe-Testamentiese Kerk sou word. Maar dis net die begin van al die parallelle.

God se geestelike oes

Onthou dat God se Feeste in drie seisoene verdeel kan word – vroeglente, laatlente en herfs, in die noordelike halfrond (Deut. 16:16). Interessant genoeg, posisioneer God hulle op Sy kalender om saam te val met die landboujaar in die land van Israel. Die Oxford Companion to the Bible verduidelik: “Sommige het die Pasga gekoppel aan die begin van die graanoes”. Dieselfde bron sê ook dat “die Fees van Weke geassosieer was met die vroeë vrugte en die einde van die graanoes. Die Huttefees was ’n vreugdevolle geleentheid aan die einde van die vrugte-oes” (1992, bl. 18).

Die Pasgaseisoen was wel die begin van die graanoes, wat plaasgevind het tydens Nisan, die eerste maand van die heilige jaar (Ex. 12:2; 13:4). U sal onthou dat Nisan eers bekend was as Abib, wat in Hebreeus “groen are” beteken – in hierdie geval die groen are van gars, wat net sou begin ryp word. Die beweegoffer is gehou op die Sondag gedurende die Fees van Ongesuurde Brood. Met hierdie geleentheid moes die Israeliete die “eerstelinggerf van [hulle] oes” – dus die eerste ryp garsare – na die priester bring (Lev. 23:10). Hy moes dit namens die volk voor die HERE beweeg sodat hulle “welgevallig” of “aanneemlik” kon wees voor God (vers 11), en sodoende die Here se seën verkry op die lente-oes.

Soos reeds genoem, is die aftelling tot Pinksterdag begin op die dag van die beweegoffer of omer in Hebreeus. “Dan moet julle tel van die dag ná die sabbat, van die dag af as julle die beweeg­offergerf bring – sewe volle weke moet dit wees; tot die dag ná die sewende sabbat moet julle vyftig dae tel; dan moet julle ’n nuwe spysoffer aan die Here bring. Julle moet uit jul woonplekke twee beweeg­brode bring; dit moet van twee-tiendes van ’n efa fynmeel wees; gesuurd moet dit gebak word as eerstelinge aan die Here” (Lev. 23:15-17). In hierdie geval was die spysoffer vars koring. Soos die Oxford verduidelik: “die Israeliete moes ’n tyd van sewe weke aftel en dan ’n offer van eerstelinge bring, wat nou koring was en nie meer gars nie”.

Die lentegraanoes was baie belangrik vir die welstand van die nasie. Dit was egter klein in vergelyking met die someroes van ryp koring, vrugte en groente, wat tot in die herfs ingesamel is, en dan gevier is as die Fees van die Insameling (Ex. 23:16; 34:22) – ook genoem die Huttefees, of die Fees van Tabernakels. Die Oxford verduidelik dat dié Fees in die herfs “ietwat later as die insameling self plaas­gevind het, naamlik toe die opbrengs van die lande, wingerde en boorde verwerk is in die vate en op die dorsvloer” (bl. 228).

Dit is baie betekenisvol. In die Nuwe Testament beskryf Jesus God se Werk waardeur mense in Sy Familie ingebring word as ’n “oes” (verwys Matt. 9:37-38; Joh. 4:35-36).

Kyk ’n bietjie na die eerstelingsgerfoffer tydens die beweegofferseremonie. Wanneer het die plaas­ge­vind? Op die eerste Sondag wat volg op die Pasga. Onthou dat Jesus Christus op die Pasgadag gesterf het en drie dae (72 uur) later uit die dood opgestaan het. Soos ons gratis boekie, Watter dag is die Christelike Sabbat?, bewys, was die Pasga daardie jaar op ’n Woensdag (die datum van die Pasga is altyd 14 Nisan, maar van jaar tot jaar kan dit op ’n ander weeksdag val). Dus is Christus opgewek teen die einde van daardie weeklikse Sabbat. Die volgende oggend – op die Sondag van die beweegoffer – het Maria Magdalena die herrese Christus gesien (Joh. 20:1-16). Maar sy mag Hom toe nie aanraak nie: “Raak My nie aan nie, want Ek het nog nie opgevaar na my Vader nie; maar gaan na my broeders en sê vir hulle: Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God” (vers 17). Maar later daardie selfde dag toe Maria Magdalena en die ander Maria op pad is om die dissipels te vertel, “kom Jesus hulle meteens teë en sê: Wees gegroet! Toe kom hulle nader en gryp sy voete en aanbid Hom” (Matt. 28:9). Dus, tussen hierdie twee gebeurtenisse moes Christus opgevaar het na die Vader en Homself aan die Vader aan­gebied het!

Wat sou dit dan beteken? Wanneer ons in ag neem dat Christus die “eersteling geword [het] van die wat ontslaap het” (1 Kor. 15:20), asook die “Eersgeborene uit die dode” (Kol. 1:18; Op. 1:5) en die “Eersgeborene ... onder baie broeders” is (Rom. 8:29), dan is dit duidelik. Jesus Christus was die ware beweegoffer! Ná Sy opstanding moes Hy, as Hoëpriester, die bloed van die Sy offerande aan die Vader aanbied in die hemelse Tempel (verwys Heb. 9:6-7; 21-26) om “aanvaar” te word namens ons as die “eerstelinge” of “eerste vrugte”. Sonder Christus se offerande en Sy voortdurende diens as Hoëpriester, sou daar geen verdere “geborenes” of “vrugte” kon wees nie.

Let daarop dat ander vrugte én ander “eerste vrugte” sou volg. Hoe dan so? Onthou dat daar twee groot oeste was in die noordelike halfrond, een in die lente en die ander een in die somer tot en met die herfs. Die kleiner, vroeë oes was eerste en die produkte van hierdie oes, was die eerstelinge (eerste vrugte). Die beweegoffer, as simbool van Christus, was die eerste van die eerstelinge. Wie word dan gesimboliseer deur die res van die eerstelinge? En wat van die laatoes (laatvrugte)?

Die Woord van God leer ons dat diegene in Sy Kerk die “eerstelinge van die Gees het” (Rom. 8:23). Dit sluit selfs die Ou-Testamentiese profete in aangesien hulle ook die Heilige Gees in hulle gehad het en deel was van die fondament waarop die Kerk gebou is (verwys 1 Pet. 1:10-11; Ef. 2:20-22). Verder is God se geestelike volk “eerstelinge van sy skepsele” (Jak. 1:18). Die 144,000 waarna Openbaring 14:1-4 verwys, word “eerstelinge vir God en die Lam” genoem. Diegene wat God se Heilige Gees het, word selfs die “gemeente van eersgeborenes” genoem (Heb. 12:23). Aangesien Nuwe-Testamentiese Christene en daardie enkeles wat die Heilige Gees ontvang het in Ou-Testamentiese tye eerste geoes moes word – soos uitgebeeld deur die klein lente-oes – beteken dit mos nou ook dat baie meer later geoes sal word met die groot “insameling”, die groot someroes, wat tot die herfs duur.

Ja, God se Kerk, genoem die “klein kuddetjie” (Luk. 12:32), word gesimboliseer deur die klein lente-oes, want baie min mense het in hierdie “teenwoordige bose wêreld” (Gal. 1:4) werklik God se Waarheid gevolg. Soos Jesus Christus sê aan diegene wat die regte pad sou volg: “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is MIN wat dit vind” (Matt. 7:13-14).

U sien, slegs diegene wat deur God geroep word, is in staat om nou berou tot bekering te beleef. Jesus sê uitdruklik: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag … Om hierdie rede het Ek vir julle gesê dat niemand na My toe kan kom as dit hom nie deur my Vader gegee is nie” (Joh. 6:44, 65). Vandaar die woord “kerk” of “gemeente” wat vertaal is uit die Griekse ekklesia, ’n term gebruik in die konteks van ’n “gemeente” of “vergadering”, maar wat letterlik “geroepenes” beteken. Weereens, min mense is inderdaad nou, in ons tydvak, deur God geroep.

Dit is duidelik nie God se plan dat almal nou die waarheid sal verstaan nie. En, Hy laat Satan toe om steeds die mense te verblind sodat hulle nie kan verstaan nie (2 Kor. 4:4). Hoe vreemd dit ook al mag klink vir hoofstroom Christene wat geleer is dat God probeer om die hele wêreld nou te red, is dit glad nie wat die ware God van die Bybel doen nie! Want as die Almagtige Skepper van die heelal wel besig was om die hele wêreld tot die waarheid te bring, sou die BILJOENE mense wat deur die eeue heen in Indië, China, Afrika en die wêreld oor geleef het, tot die ware Christenheid geroep gewees het! Maar die oorgrote meerderheid is dood sonder dat hulle ooit van die ware Evangelie van Jesus Christus gehoor het!

Die Pinksterfees of Fees van Eerstelinge herinner ons jaarliks daaraan dat die handjievol mense wat nou uit die wêreld geroep word slegs die “eerstelinge” is en dat ’n BAIE GROTER oes van bekeerde manne en vroue later sal kom, soos ons nog sal sien. Wanneer ons lees van die uitstorting van die Heilige Gees op die eerste Pinkster ná Christus se dood, kan ons moedig wees dat die “geroepenes” van vandag, alhoewel hulle ’n klein groepie is, die KRAG van die Heilige Gees het om God se werk te doen, sowel as om die sonde te oorwin, en dat dié krag wel later ook aan ander mense gegee sal word.

Die twee beweegbrode

Laat ons nog ’n aspek van hierdie Heilige Dag ondersoek. Ons het reeds gesien dat daar ’n seremonie was waartydens die priester twee gesuurde brode moes beweeg as “eerstelinge aan die Here” (Lev. 23:17, 20). Vandag verstaan ons dat hierdie twee brode die hele Kerk verteenwoordig, diegene wat God in die Ou- en die Nuwe-Testamentiese tye geroep het. Wat hier opval, is die feit dat die brode met suurdeeg gebak is, terwyl God vroeër uitdruklik sê dat geen spysoffer [graanoffer] met suurdeeg aan Hom geoffer mag word nie (Lev. 2:11). Dit maak sin, want ons het gesien dat suurdeeg in die Bybel dikwels verwys na sonde en korrupsie. Hierdie is egter die een keer dat suurdeeg wel toegelaat is: “As ’n offer van eerstelinge mag julle dit aan die Here bring, maar op die altaar mag dit nie as lieflike geur kom nie” (Lev. 2:12). Dié offer kon dus aan God geoffer word vir aanvaarding – maar Hy sou dit nie ontvang as ’n “lieflike geur” nie omdat daar “sonde” in was.

Beteken dit dan dat God sonde aanvaar omdat Hy hierdie brode aanvaar het? Nog nooit nie! Maar terwyl ons in die vlees is, sondig ons wel nog, al is ons bekeerd (1 Joh. 1:8-10), en dis waarom dié twee brode gesuurd is. Hulle simboliseer nie ’n herrese, ongesuurde Kerk nie, maar mense van vlees en bloed wat stry teen die sonde in hul lewens en by tye nog sondig. Tog, ons word nou opgehou en voor God beweeg – simbolies van om iets aan God in die hemel aan te bied (Ex. 29:24, 26, 27; Lev. 7:30, 34; 8:27, 29). In die geval van Christus se beweegoffer, moes Hy letterlik na die hemel opvaar om Sy eie bloed as offer aan God aan te bied. Maar dit geld nie vir ons nie. Ons word nou aanvaar omdat iets anders saam met ons beweeg word – Christus se sondoffer wat ons eie suurdeeg “uitwis” wanneer ons aan God aangebied word! (verwys Lev. 23:19-20).

In Antieke Israel het die Hoëpriester die Leviete as beweegoffer voor God beweeg, sodat hulle aan God kon behoort as Sy priesterorde (Num. 8:11-14). Net so beweeg ons Hoëpriester, Jesus Christus, ons voor die Vader – as Sy geestelike priesterorde (1 Pet. 2:5, 9). Die Vader neem ons dan aan as Sy eie. Weereens, ons word nou opgehef en voor Hom beweeg: “Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus – uit genade is julle gered – en saam opgewek [net soos die beweeg­brode] en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus, sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertieren­heid oor ons in Christus Jesus” (Ef. 2:4-7).

Natuurlik is toekomstige “eeue wat kom” die tyd waarop ons eintlik wag – wanneer ons uiteindelik verheerlik sal word, soos uitgebeeld deur die volgende Heilige Dag. Nietemin herinner Pinkster ons daaraan dat, alhoewel God nou net ’n klein klompie mense roep as geestelike oes van eerstelinge, Hy dié oes seën deur ons te VERSTERK met Sy Gees sodat ons kan oorwin en geestelik kan groei.

Deur middel van die Heilige Gees ontvang ons die geestelike liefde van God – die soort liefde wat ons moet hê om God se gebooie te onderhou en Sy karakter in ons lewens te bou. Jaar na jaar herinner Pinkster ons aan ons unieke roeping en aan die krag, gegee deur die Heilige Gees, om, soos 2 Petrus 1:10 dit stel, ons “roeping en verkiesing vas te maak”.

STAP 4

Die Fees van Basuine (of Trompette)

Soos ons gesien het, val die eerste drie Feestye wat God gebied in die eerste paar maande van die heilige jaar – in die noordelike halfrond is dit tydens die varsheid van die lente – en hulle simboliseer die eerste stappe van God se meesterplan om die mensdom vry te koop. Die laaste vier Feestye kom egter heelwat later, in die sewende maand, wanneer somer oorgaan tot herfs in die noordelike halfrond. As ons nou God se gereelde gebruik van sewe hier sou toepas, sou dit die maand voorstel van voltooiing en volmaaktheid. Aangesien die Fees van die Basuine op die eerste van die sewende maand val, kan ons aanvaar dat dit die finale gebeure in God se plan inlei.

Lees weer God se oorspronklike gebod aan Antieke Israel rakende dié Heilige Dag: “Spreek met die kinders van Israel en sê: In die sewende maand, op die eerste van die maand, moet dit vir julle ’n rusdag wees, ’n gedenkdag deur basuingeklank, ’n heilige vierdag [byeenkoms, NV]” (Lev. 23:24). Wat presies simboliseer hierdie Feesdag?

’n Oorlogsalarm!

In ou Israel is silwer trompette [basuine] gebruik om die volk byeen te roep, ’n teken van aksie soos om kamp te verskuif of as ’n alarm vir oorlog! (Num. 10:1-9). God sê inderdaad: “En as julle in jul land in oorlog kom teen die vyand wat met julle veg, moet julle met die trompette alarm blaas; dan sal aan julle gedink word voor die aangesig van die Here julle God, en julle sal van jul vyande verlos word” (vers 9). Die trompette is dus gebruik om die troepe te waarsku en die mense byeen te roep in veldslae.

Hierdie silwer trompette is ook met die Fees van Basuine geblaas. Hulle is inderdaad met elke Feestyd geblaas (vers 10). Maar op die Fees van Basuine is daar egter ook ’n ander blaasinstrument gebruik. Joodse tradisie sê dat die shofar of ramshoring ook op hierdie dag geblaas is, en die Skrif onderskryf dit. Net soos ons moderne blaas­instrumente, kon die silwer trompette verskillende note voortbring, maar die ramshoring kon net een harde, skerp geluid voortbring. Dit word dikwels beskryf as ’n “geroep” of “lawaai” en word nie as musikaal beskou nie – dit was eerder ’n onmiskenbare en dringende waarskuwing. In Levitikus 23:24 kom die woord “basuin” nie voor in die oorspronklike Hebreeus nie, alhoewel dit só verstaan word. Die hele frase is eintlik ’n vertaling van die woord teruah, wat deur die Enhanced Strong’s Lexicon aangee word as “alarm, sein, stormlawaai, roep, geroep of geskal van oorlog of alarm of vreugde” – dalk kan dit die beste vertaal word as ’n “opwekkingsroep”. Dit kon slegs deur die shofar voortgebring word.

Weereens, die trompet, of ramshoring, is gebruik as ’n OORLOGSALARM. Die klank daarvan het almal wat dit gehoor het met vrees vervul, want hulle het geweet dit lui die verskrikking van oorlog in! (verwys Jer. 4:19-21). Dié vreeswekkende waarskuwing onderskei die Fees van Basuine van God se ander Feestye en plaas ’n ernstigheid op hierdie vreugdevolle geleentheid.

Ons moenie vergeet dat die verskriklikste tyd van oorlog, chaos en wêreldomwenteling nog voorlê nie! Let op dié geïnspireerde profesie in die boek van Joël: “Blaas die basuin op Sion, en blaas alarm op my heilige berg! Laat al die inwoners van die land bewe, want die dag van die Here kom, want hy is naby – ’n dag van duisternis en donkerheid, ’n dag van wolke en wolkenag; soos die môreskemering, uitgesprei oor die berge, kom ’n talryke en magtige volk, wat van oudsher sy gelyke nie gehad het nie en dit hierna ook nie sal hê … nie ... Voor hulle bewe die aarde, sidder die hemel; die son en die maan word swart, en die sterre trek hulle glans in. En die Here verhef sy stem voor sy leërmag uit; want geweldig groot is sy leër, ja, magtig die uitvoerder van sy woord. Want die dag van die Here is groot en uitermate vreeslik, en wie kan dit verdra?” (Joël 2:1-11). Trompetgeskal kondig dus hier aan dat die “dag van die Here” naby is!

Dit is verstommend dat hierdie bose tydperk van menslike selfregering sal eindig met die mensdom op die drumpel van massa-uitwissing. Die Bybel het eintlik baie te sê oor ’n verskriklike toekomstige wêreldoorlog wat die hele aarde sal verswelg. As u meer wil weet oor hierdie verskriklike tyd, bekend as die “Groot Verdrukking” (Matt. 24:21), en die wêreld­omstandighede wat dit sal veroorsaak, skryf gerus vir ons gratis boekies Die Dier van Openbaring en Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?.

Voordat dit te laat is, sal die mensdom gelukkig verhoed word om homself te vernietig, omdat die Grote God sal ingryp (vers 22), want dan sal die dag van die mens verby wees en die Dag van die Here sal begin. Dit sal egter nie begin met vrede en vreugde vir elkeen nie. Die Almagtige sal dan vrede afdwing op ’n opstandige mensdom, deur eerstens hulle koppige eiesinnigheid te breek. So sal ons Skepper ingryp om SY MAG te toon en ’n eiewyse beskawing te wys dat HY die HEERSER van hemel en aarde is.

Dus sal ander groot, aardskuddende gebeure volg op die Verdrukking. Kyk wat gaan gebeur op die Dag van die Here, die jaar tussen die Verdrukking en Christus se wederkoms: “En die sewe engele met die SEWE BASUINE het hulle gereedgemaak om te blaas. En die eerste engel het geblaas, en daar het hael en vuur gekom met bloed gemeng, en dit is op die aarde gegooi. En ’n derde van die bome het verbrand, en al die groen gras het verbrand” (Op. 8:6-7). Met die volgende basuin val “’n groot berg wat brand met vuur” in die see (verse 8-9) – dalk ’n asteroïede of meteoor? Dan val “’n groot ster wat soos ’n fakkel brand” uit die hemel (verse 10-11) – bots ’n komeet dalk met die aarde? Al weet ons nie presies hoe hierdie voorspellings letterlik vervul gaan word nie, is dit wel seker dat hulle dui op geweldige rampe wat letterlik hierdie planeet sal skud! En elke ramp word ingelui met die blaas van ’n basuin.

Die Laaste Basuin

Let ook daarop dat trompette gebruik is om die kroning van ’n nuwe koning aan te kondig, soos in die geval van Koning Salomo (1 Kon. 1:34, 39). Die vredevolle regering van Salomo, ná sy vader Dawid se oorloë, tipeer die toekomstige heerskappy van die Prins van Vrede, Jesus Christus (verwys 1 Kon. 4:25; 1 Kron. 28:5).

Dan uiteindelik sal die Lewende Jesus Christus op bonatuurlike wyse ingryp om ’n opstandige mensdom te RED en ware VREDE aan die wêreld te bring. Terug by die laaste van die sewe basuine van Openbaring lees ons: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Op. 11:15). Jesus sal dus na die aarde terugkeer as “Koning van die konings en Here van die here” (1 Tim. 6:15; Op. 19:16).

Dit is dus duidelik dat Christus terugkeer met die sewende basuin! Aan Sy dissipels het Hy gesê: “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid. En Hy sal Sy engele uitstuur met harde TROM­PET­GELUID, en hulle sal Sy uitver­korenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan” (Matt. 24:29-31).

Wat is die betekenis daarvan dat Christus engele uitstuur om Sy uitverkorenes byeen te bring? ’n Gedeelte van die antwoord vind ons in Paulus se woorde: “Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het” (1 Kor. 15:20). Let egter op na wat Paulus verder sê: “Want aangesien die dood deur ’n mens [Adam] is, is die opstanding van die dode ook deur ’n mens [Christus]. Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus [as die eerste van die eerstelinge], daarna die wat aan Christus behoort by sy koms [die res van die eerstelinge]” (verse 21-23).

Wanneer gaan dit gebeur? Paulus sê: “Kyk, ek deel julle ’n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ’n oomblik, in ’n oogwink, by die LAASTE BASUIN; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word” (verse 51-52). Miskien is daar niks méér bemoedigend nie as hierdie verstommende feit. Paulus skryf aan die Kerk in Thessalonika:

“Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Want die Here Self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees” (1 Thess. 4:13-17).

Dit is verbysterend en wonderlik! Met Christus se wederkoms sal diegene wat die Heilige Gees van God het, verander van swak, vlees-en-bloed mense na goddelike, onsterflike geestelike wesens met dieselfde heerlikheid en voorkoms as ons Verlosser, Jesus Christus (1 Kor. 15:45, 49; Rom. 8:11; 1 Joh. 3:2). Dan sal ons ten volle verheerlikte “kinders van God, ... kinders van die opstanding” wees (Luk. 20:36) en “heeltemal vervul word met die volheid van God” (Ef. 3:19, NV).

Geen wonder dat koning Dawid begryp het dat die Fees van Basuine, net soos al God se Feestye, ’n geleentheid was om te jubel en te juig nie (Ps. 81: 2-4). Dit was ’n insetting vir Israel (vers 6), want ten spyte van die erns van die ramshoringklank, was die Fees van Basuine ’n dag van vreugde en vrolikheid, want die ramshoring was nie net ’n oproep tot oorlog nie, maar sou eendag letterlik die dooies opwek uit hulle dodeslaap! En baie Jode het dit só verstaan. Volgens die Talmud – die Joodse kommentaar op die Skrif – sal die opstanding van die dode op hierdie selfde dag geskied (Rosh Hashanah 16b). Dit is hoogs waarskynlik. Is dit nie interessant dat belangrike aspekte van dit wat die vorige Feesdae simboliseer, altyd vervul is op dié spesifieke dae nie? Eintlik behoort dit ons nie te verbaas nie, want onthou, hierdie dae is die vasgestelde “afsprake” van God. Net soos Christus gekom het om die eerste Feesdae te vervul, sal Hy ook die latere vervul (verwys Hos. 6:3).

Die Dag van Trompette simboliseer die belangrikste oomblik wat daar ooit sal wees: God se MASSIEWE ingryping in die mensdom se sake deur Jesus Christus se wederkoms as die Koning van die konings en as die klimaks van die sewende, of laaste, basuin. Kan u uself voorstel: ’n groot, ver­blin­den­de LIG, so helder dat ’n mens nie eens daarna kan kyk nie? Dit is hoe die gesig van die herrese Christus sal lyk wanneer Hy terugkeer in HEER­LIK­HEID? Kan u uself dit voorstel: ’n oorverdowende trompetgeskal, so erg dat dit letterlik die aarde skud wanneer Christus in al die onmeetlike krag van God terugkeer? Kan u uself dit voorstel: hoe God se ware heiliges, nou opgewek uit die dood en weergebore uit die Gees, die lugruim invaar om Christus te ontmoet om gekroon te word as goddelike konings en priesters om saam met Hom oor hierdie planeet te HEERS? (verwys Op. 2:26-27; 5:10). Wat ’n dag!

Ja, al hierdie dinge sal gebeur met die laaste basuin! Want alhoewel die Fees van Basuine die aaklige OORLOë en PLAE aan die einde van hierdie menslike beskawing simboliseer, simboliseer dit ook die wonderlike INGRYPING van die Skepper, wat finaal die orde sal herstel en ware VREDE en VREUGDE bring aan ’n gekastyde mensdom wat uiteindelik gereed sal wees om na Hom te luister en Sy regverdige weë te volg.

Kolossense 2:16-17

God se Feeste bloot ’n skaduwee?

In Kolossense 2 skryf die apostel Paulus: “Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ’n fees of nuwemaan of sabbat nie, wat ’n skaduwee is van die toekomstige dinge; (OV) die werklikheid is Christus (NV)” (verse 16-17). Baie mense sê dit is geskryf as bewys dat ons nie die Heilige Dae hoef te onderhou nie. Maar is dit werklik so?

Eerstens moet ons daarop wys dat bogenoemde gedeelte verkeerd vertaal is. Die woorde “in spys of in drank” behoort vertaal te word as “met die eet of drink van” (W R Smith, Expositor’s Greek Testament, vol. 3, bl. 530). Vervolgens, “met betrekking tot”. Die Enhanced Strong’s Lexicon verduidelik dat die Griekse naamwoord meros eintlik hier gebruik is en dit beteken “deel” of “porsie” (No. 3313). Dus, behoort “met betrekking tot” vertaal te word met “gedeeltelik” of “proporsioneel”. Dit is duidelik dat die nie-Joodse Christene met wie Paulus hier praat, wel sodanige Feeste, Nuwe Mane en Sabbatte moes onderhou as hulle deur ander mense oor die een of ander aspek van hulle onderhouding veroordeel is! (Terloops, ware Christene onderhou in ’n sekere sin die Nuwe Mane aangesien ons die lunisolar Hebreeuse kalender gebruik om die tye van God se Feeste te bepaal).

Dit blyk dat die nie-Joodse Christene veroordeel is omdat hulle OP hierdie spesifieke tye geëet en gedrink het. Verskeie Bybelverklaarders gee toe dat Paulus in die boek van Kolossense waarsku teen ’n vals leerstelling bekend as Gnostisisme – ’n mengsel van Joodse en Heidense filosofieë wat geleer het dat die vlees en fisieke plesiere boos is. Paulus verwys na hul asketiese regulasies as “raak nie, smaak nie, roer nie aan nie” (vers 21). Hy noem ook hulle vals “behae ... in nederigheid en verering van die engele” (vers 18). Paulus is beslis nie hier besig om GOD se Feeste aan te val nie, maar wel die “gebooie en leringe van MENSE” (vers 22).

Baie van die gnostiese gebruike het hul oorsprong gehad in die Joodse sekte bekend as die Essene. Volgens die Joodse historikus Joséfus (eerste eeu n.C.), het hulle die Sabbat so streng onderhou dat hulle nie eens liggaamsfunksies soos op ander weeksdae verrig het nie. (Wars of the Jews, bk 2, hfst. 8, deel 9). Geen wonder dat die Gnostici ontevrede was oor die Christene se vreugde en feesviering op die weeklikse en jaarlikse Sabbatte nie!

Gevolglik waarsku Paulus die gelowiges in Kolossense om nie toe te laat dat dié buitestanders hulle oordeel oor hoe hulle hierdie dae moes hou nie “wat ’n skaduwee is van die toekomstige dinge” (vers 17). Tog beskou baie mense hierdie vers as ’n negatiewe uitspraak oor die Feesdae – dat hulle nie meer onderhou moes word nie omdat hulle bloot ’n skaduwee is van die werklikheid wat nou in Christus gekom het. Maar let daarop dat Paulus sê hulle IS ’n skaduwee, nie WAS ’n skaduwee nie. Dus, die Feesdae moet steeds onderhou word.

Waarom noem Paulus hulle dan ’n skaduwee? Want hulle is! Soos hierdie boekie aandui, wys die Feesdae God se groot dade uit in Sy plan om die mensdom te red. Paulus probeer om die Kolossense daarop te laat fokus. Eintlik sê hy vir hulle: “Kyk, moenie bekommerd wees oor buitestanders se kritiek nie – hulle is vol fiemies oor wat om te eet, te drink en selfs die gebruik van die badkamer op hierdie dae. Fokus liewer op die GROOT PRENT wat deur dié dae gesimboliseer word!”

Professor Troy Martin skryf in sy Journal of Biblical Literature: “Hierdie Christelike gebruike mag die skaduwee behels en hulle word nie negatief gestel nie, behalwe deur die teenstanders daarvan ... Dit is in die teenwoordige tyd gestel en bevestig dat hierdie dinge TANS wel skaduwees is ... Die teks gee ’n TEEN­WOORDIGE, alhoewel tydelike, geldigheid aan die skaduwees” (Somer 1995, bl. 249).

Waarom sê Paulus dan in vers 17: “maar die liggaam behoort aan Christus”? Die antwoord is: hy sê dit nie! Die korrekte vertaling uit die oorspronklike Grieks is: “die liggaam van Christus”, wat na die Kerk van God kan verwys (1 Kor. 12:27; Ef. 4:12). Dit stem ooreen met Paulus se ander verwysings in Kolossense. Christus, skryf hy, “is die Hoof van die liggaam, die gemeente [kerk]” (Kol. 1:18). Maar slegs ’n paar verse verder in Kolossense 1 sê Paulus dat die Gnostiese kritici “nie vashou aan die Hoof [Christus] nie, uit wie die hele liggaam [die Kerk] … met goddelike groei groot word” (Kol 2:19).

Nou wat sê Paulus dan hier? Professor Martin verduidelik dat die woord “behoort” eintlik die verkeerde woord was om te gebruik (bll. 252-253). As voorbeeld verwys hy na 1 Korintiërs 10:24: “Laat niemand sy eie voordeel soek nie, maar elkeen die voordeel van ’n ander”. ’n Mens verstaan dat die tweede deel van die sin wel so moet lees: “maar [laat] elkeen die voordeel [soek] van ’n ander”. Kolossense 2:16-17 is baie dieselfde: “Laat niemand julle dan oordeel in [hoe julle die Feeste onderhou nie] ... maar [laat] die liggaam van Christus [oordeel]”. Hoe om ’n “Fees of nuwe maan of Sabbat te hou”, word dus nie deur kritici van buite bepaal nie, maar deur die Kerk, wat deur Christus gelei word.

STAP 5

Die Versoendag

As die Fees van Basuine die ontsaglike skok vir die nasies en Christus se wederkoms in alle krag simboliseer, wat is die volgende stap in God se meesterplan?

Onthou dat die nasies vandag eintlik in opstand is teen God en Sy weë omdat hulle mislei is. In Sy alwysheid en begrip het die ewige God die mens vryheid van keuse gegee en dit terwyl Hy wéét dat die mensdom sekerlik hulle eie kop sou volg voordat hulle sou leer dat GOD se weg reg is. Daarom laat God toe dat die mensdom mislei word – dat die mensdom vir die oorgrote duur van hulle byna 6,000-jaar se geskiedenis “afgesny” sou wees van God.

Die misleiding het hoofsaaklik gekom van die “god van hierdie wêreld” – Satan. Hy is die oorsaak dat die ware Evangelie van Jesus Christus “bedek” is (2 Kor. 4:3-4). In ’n vers wat ons tevore ondersoek het, verwys Johannes na hom as die “groot draak … die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei (mislei)” (Op. 12:9). Soos ook reeds genoem, is dit sy direkte invloed en geestelike “uitsendings” wat die mensdom op ’n dwaalspoor bring (verwys Ef. 2:1-2).

Dus, AS daar werklike vrede vir alle nasies asook ’n gees van samewerking onder die mensdom gaan wees, dan moet Satan verban word reg aan die begin van Christus se heerskappy! En dís presies wat gaan gebeur, gesimboliseer deur die volgende van God se Feeste, wat volg net nege dae ná die Fees van Basuine.

Let op die verordening oor hierdie Fees in Levitikus 23: “Maar op die tiende van hierdie sewende maand is dit die versoendag. ’n Heilige vierdag moet dit vir julle wees; dan moet julle jul verootmoedig en aan die Here ’n vuuroffer bring. En op daardie selfde dag mag julle géén werk doen nie, want dit is ’n versoendag om vir julle versoening te doen voor die aangesig van die Here julle God” (verse 27-28).

Die Afrikaanse woord “Versoendag” gee die werklike betekenis van hierdie dag, want dit kom van die Hebreeuse woord Yom Kippur, en kippur is afgelei van ’n ander woord kaphar, wat beteken om te “bedek”. Ons kan dit koppel aan Romeine 4:7-8: “Welgeluksalig is hulle wie se ongeregtighede vergewe en wie se sondes bedek is. Welgeluksalig is die man aan wie die Here die sonde nie toereken nie”. Wanneer ons Christus se offerande in geloof aanneem, word ons met God versoen. Die Engelse woord “Atonement” dra die betekenis van “at-one-ment”, wanneer ons een word met God.

Op die Versoendag moes die Israeliete hulle verootmoedig, hulle moes vas (Jes. 58:3, 5; Ps. 35:13; 69:11) – dus vir ’n tydperk geen water en geen kos inneem nie (Ex. 34:28; Ester 4:16). Maar wat is die doel daarvan om te vas? Dit is ’n manier om onsself te verneder, om ons eie nietigheid te besef en nader aan God te beweeg. Soos ons begin swak voel omdat ons geen voedsel inneem nie, begin ons besef dat ons eintlik nie so “wat wonders” is nie – dat ons patetiese mensies is wat gou sal sterf as God ons nie gedurig voorsien van die nodige nie (verwys Hand. 17:28). Dit dwing ons om te fokus op ons algehele afhanklikheid van God en om Hom in gebed te SOEK. Dan help dit ons ook om te dink aan geestelike dinge in plaas daarvan om die vlees te probeer bevredig met voedsel. As ons “drink” van God se Gees en “eet” van Sy Woord, begin ons verstaan dat dít is waar ons lewe werklik vandaan kom. Soos Christus aan Satan sê: “Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Matt. 4:4). Om te vas beteken nie, soos sommige dit sien, dat ons ons wil op God afdwing nie (verwys Jes. 58:4; Jak. 4:3). Dit help ons eerder om Sy wil beter te verstaan en daarvolgens te lewe (Esra 8:21; verwys 1 Joh. 5:14).

Jesus Christus het gesê dat Sy ware diensknegte wel sou vas (Matt. 9:15). Alhoewel Hy nie spesifiek na die Versoendag verwys het nie, weet ons dat hierdie Feestyd vandag steeds ’n vasperiode vir Christene is. Soos ons in die Nuwe Testament lees, het selfs die Apostel aan die Heidene onteenseglik die Versoendag ONDERHOU – jare nadat alles dan kwansuis aan die kruis gespyker sou wees! (verwys Hand. 27:9).

’n Jaarlikse ritueel

Maar wat presies is die betekenis van hierdie dag? ’n Baie duidelike aanduiding van die ware betekenis word in Levitikus 16 gegee. Daar vind ons ’n Ou-Testamentiese ritueel wat gehou is “in die sewende maand, op die tiende van die maand” (vers 29) – die Versoendag! In hierdie hoofstuk word die woord “versoening” 16 keer genoem.

Die seremonie draai om die Tabernakel, wat ’n tipe van die hemelse Tempel is (Heb. 8-9). Dit was in twee verdeel. Die voorste deel, bekend as die Heiligdom, was waar Israel se hoëpriester – aanvanklik Moses se broer Aäron – en sy seuns ingegaan het om verskeie priestertake te verrig. Die agterste deel, die Allerheiligste, waarin die Ark van die Verbond met die Versoendeksel was – die aardse “voorbeeld” van God se hemelse troon – was geskei van die voorste deel deur ’n dik voorhangsel. Niemand kon die Allerheiligste binnegaan nie, behalwe die hoëpriester, en ook net een maal per jaar op die Versoendag (Lev. 16:2; Heb. 9:7).

In dié ritueel moes die hoëpriester self eers gereinig word van sy eie sonde deur ’n jong bul as sondoffer vir homself en vir sy huisgesin te offer, en dan die bloed in die Allerheiligste inneem en dit op die Versoendeksel sprinkel (Lev. 16:5, 11-14; verwys Heb. 5:1-3). Die rede was dat hy ’n tipe sou wees van die sondelose, volmaakte Hoëpriester wat later sou kom, Jesus Christus (Heb. 3:1; 4:15). Christus was sonder sonde en het nie só ’n versoening vir Homself benodig nie (Heb. 7:26-28).

Vir die belangrikste deel van die ritueel is Aäron aangesê: “En van die vergadering van die kinders van Israel moet hy twee bokramme as sondoffer … neem … Hy moet ook die twee bokke neem en hulle voor die aangesig van die Here stel by die ingang van die tent van samekoms. En Aäron moet oor die twee bokke die lot werp, een lot vir die Here en een lot vir Asásel” (Lev. 16:5-8). Let daarop dat om die lot te werp hier nie gegaan het om tot ’n toevallige keuse te kom soos mense vandag doen met dobbelstene of lootjies trek nie. Dit was ’n beroep op GOD om die uitslag van die lot te beheer, God moes besluit wat elke bok sou verteenwoordig.

Laat ons eerstens kyk wat het gebeur met die bok wat “vir die Here” was – die een wat die God van Israel sou verteenwoordig, die Een wat Homself later geledig het en ons Verlosser geword het (verwys 1 Kor. 10:4). “Dan moet Aäron die bok aanbring waar die lot vir die Here op gekom het en hom as sondoffer berei … Dan moet hy die sondofferbok slag wat vir die volk bedoel is, en sy bloed binnekant die voorhangsel bring en met sy bloed doen soos hy met die bloed van die bul gedoen het: hy moet dit sprinkel op die versoendeksel en voor die versoendeksel. So moet hy dan vir die Heiligdom versoening doen vanweë die onreinhede van die kinders van Israel en vanweë hulle oortredinge, wat hulle sondes ook al mag wees; so moet hy dit ook doen vir die tent van samekoms wat by hulle te midde van hulle onreinhede woon” (Lev. 16:9, 15-16).

Die betekenis hiervan is onmiskenbaar. Die Nuwe Testament bevestig dit. In die konteks van die Versoendag (verwys Heb. 9:7), lees ons: “Maar Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie, ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ’n ewige verlossing teweeg­gebring … Want Christus het nie ingegaan in ’n heiligdom met hande gemaak, ’n teëbeeld van die ware nie, maar in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn … om sonde deur sy offer weg te doen” (Heb. 9:11-26).

Dus simboliseer die bok Jesus Christus wat geoffer is vir ons sondes. Verder simboliseer die hoëpriester die herrese Christus wat die hemel ingaan om Sy bloed as offerande aan die Vader te bied. Maar wat gebeur volgende? Die hoëpriester kom uit die Tabernakel en reinig Israel dan simbolies met die bloed. Net so tree Jesus Christus tans vir ons in as ons Hoëpriester en sal Hy eendag terugkeer uit die hemel – om wie te reinig? Is diegene in God se Kerk nie reeds al gereinig deur Christus se offerande nie? Natuurlik, want Christus se offerande word gesimboliseer deur die Pasga. Waarom is daar dan later ’n seremonie in die herfs wat Sy offerande simboliseer?

Hier is die verduideliking. Die Pasga verteen­woordig die offerande van Christus self. Die Versoen­dag volg ná die Fees van Basuine, wat God se ingryping in wêreldgebeure simboliseer, met Christus se Wederkoms as hoogtepunt. Hierdie vasdag simboliseer dan daardie tyd wanneer die Pasga-offer finaal op die hele mensdom toegepas word – en die afstammelinge van die Israeliete is eerste aan die beurt.

Onthou dat Joël 2:1-11 die verskriklike Dag van die Here beskryf, soos ons gesien het in die gedeelte oor die Fees van Basuine. Dan vervolg Joël: “Maar selfs nou nog, spreek die Here, bekeer julle tot My met julle hele hart, en met VAS en geween en rouklag. En skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die Here julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid … Blaas die basuin op Sion, heilig ’n vasdag, roep ’n vergadering saam! Versamel die volk, heilig die gemeente” (verse 12-16). Die volgende paar verse beskryf hoe God die moderne afstammelinge van antieke Israel – wat teen Hom in opstand is – uit slawerny sal red.

Ja, nadat die laaste basuin geblaas is, sal almal wat oorbly van die twaalf stamme van Israel – en nie net die Jode nie – teruggeneem word na die Heilige Land in ’n tweede eksodus: “En in dié dag sal daar met ’n groot basuin geblaas word; dan sal kom die wat verlore is in die land Assur en die wat verdryf is in Egipteland, en hulle sal die Here aanbid op die heilige berg in Jerusalem” (Jes. 27:13; verwys 11:11-12).

Die vreeslike beproewing wat hulle gaan beleef – insluitend “geforseerde vas” as gevolg van honger­snood – sal hulle ootmoedig en nederig laat, uit­eindelik bereidwillig om God te soek in ware geestelike vastye, met ’n onderdanige gesindheid. Selfs die oorblywende Jode sal besef dat die Man wat hulle voorvaders gekruisig het, niemand anders was nie as hulle God in die vlees. Soos Sagaria 12:10 namens die Here sê “En hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ’n mens rouklaag oor ’n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ’n mens bitterlik ween oor ’n eersgebore kind”.

Dan sal die Israeliete – gevolg deur die res van die mensdom – die versoening bekom wat moontlik gemaak is deur die bloed van Jesus Christus as die Pasga-offerande en sal hulle van hulle sondes skoon gewas word. Dit is interessant dat, alhoewel die Jode nie nou die betekenis van die Versoendag verstaan nie, hulle nogtans die Versoendag beskou as die heiligste en soberste dag van die jaar – soos ware Christene die Nuwe-Testamentiese Pasga beskou.

Die Asásel bok

Maar die vergifnis van Israel se sondes is nie die enigste gebeurtenis met Christus se wederkoms nie. Daar is ’n ander element in Levitikus 16 wat nog verduidelik moet word – die ander bok. Kyk wat die hoëpriester moes doen wanneer hy uit die Tabernakel kom: “Maar die bok waar die lot vir Asásel op gekom het, moet lewendig voor die aangesig van die Here gestel word, om oor hom versoening te bewerk deur hom vir Asásel in die woestyn te stuur” (vers 10). Dan kom die verdere bevele: “Aäron moet sy twee hande op die kop van die lewendige bok lê en oor hom belydenis doen van al die ongeregtighede van die kinders van Israel en al hulle oortredinge, wat hulle sondes ook al mag wees; en hy moet dié op die kop van die bok lê en hom deur ’n man wat gereed staan, na die woestyn toe stuur. So moet die bok dan op hom al hulle ongeregtighede na ’n woeste land wegdra; en hy moet die bok in die woestyn los” (verse 21-22).

Wat is die simboliek van die Asásel bok dan? Omdat dit sondes moes wegdra, dink party mense dat dit slegs nog ’n simbool is van Christus se offerande. Maar waarom sou Christus ons sondes dra en sterf, Sy bloed aan die Vader op Sy hemeltroon gaan aanbied as versoening vir ons sondes, en dan terugkom om weer daardie sondes op Homself te neem? Dit het geen sin nie.

Wat die Joodse skrywers sê, maak wel sin, naamlik dat Asásel die naam van ’n bose gees [demoon] is! (Jewish Encyclopedia, bl. 281). Trouens, in die apokriewe boek van Enog is Asásel die leier van bose geeste (8:1; 10:4). Dit beteken dat Asásel niemand anders is as Satan die Teenstander nie. Geen wonder ook dat die man wat hierdie bok die woestyn moes inneem, homself en sy klere in water moes was nie (vers 26), want simbolies moes hy gereinig word omdat hy in kontak was met ’n “onrein gees”, soos die Bybel herhaaldelik noem. Eintlik was dit die opperste onrein gees, die verpersoonliking van boosheid. Hierdie man is dus gebruik om die duiwel ver van God se volk af te verwyder.

Dit is, volgens die Nuwe Testament, presies wat sal gebeur nadat Christus terugkeer aarde toe. Sy Wederkoms as Koning van die konings is opgeteken in Openbaring 19:11-21. Dan, in hoofstuk 20, lees ons dat ’n engel gestuur word om Satan te verwyder: “En hy het die draak gegryp – die ou slang wat die duiwel en die Satan is – en hy het hom gebind duisend jaar lank, en hom in die afgrond gewerp [die woestyn van Levitikus 16] en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ’n kort tydjie ontbind word” (verse 2-3). Dis duidelik dat Satan – die Asásel, die Teenstander – HEELTEMAL VER­WYDER gaan word van die mensdom.

Nou waarom is dit alles nodig vir versoening? In die eerste plek is Satan die “aanklaer” wat gedurig die volk van God se sondes by God aandra (verwys Op. 12:10). Maar die Ewige God verwyder ons sondes heeltemal, “so ver as die ooste verwyderd is van die weste” (Ps. 103:12). Hy wil hê dat ons sondes “bedek” moet wees, nie gedurig “opgediep” moet word nie. Om dus ware versoening te bewerkstellig, moet Satan verhinder word om ons sondes wat reeds vergewe is steeds op te haal. Verder moet u onthou dat Israel se hoëpriester die sondes van die volk, figuurlik gesproke, op die kop van die Asásel bok geplaas het. U kan dalk vra: “As Christus vir ons sondes gesterf het, waarom word dit op Satan geplaas?” En die antwoord is dat daar ten minste twee skuldige partye is wanneer ons sondig. Ons is skuldig omdat ons toegee aan die versoeking en dan sondig. Maar wie versoek ons in die eerste plek? Dit is die “versoeker” (verwys Matt. 4:3; 1 Thess. 3:5) – Satan die Duiwel. Hy is trouens oneindig meer skuldig – want hy is die aanhitser vir alle sonde! (verwys Joh. 8:44).

U sien, Christus het gesterf vir ons aandeel van ons sonde, nie vir Satan se groter aandeel nie. Dan is dit mos net reg dat Christus op die ou end die uiteindelike blaam lê presies waar dit hoort – op die hoof van die Teenstander. Dan sal Satan, die aartsbedrieër en versoeker, verban word na die “afgrond”, ’n simboliese “woestyn”, waar hy ingeperk en opgesluit sal wees. Dit kan wel ook gebeur op die presiese Heilige Dag wat dit simboliseer – op 10 Tishri, die Versoendag – want soveel ander aspekte van God se plan gebeur op die spesifieke dag waarvan hulle die simbool is.

Dit is merkwaardig hoe ver Satan se misleiding gaan. In sommige Engelse Bybelvertalings word die Asásel bok die “scapegoat” genoem, met die betekenis van iemand wat onskuldig is en die blaam moet dra – Satan wat homself voordoen as ’n onskuldige slagoffer en nie geblameer kan word nie. Maar die alomteen­woordigende God weet beter. God is regverdig! Hy sal die enorme SKULD op Satan se kop lê, want dis hy wat die mensdom teen God aanhits – dis hy wat die hele mensdom MISLEI om te dink dat God “onregverdig” is en dat Sy wette en weë nie goed is nie. Die betekenis van die woord “sondebok” in Afrikaans word in die HAT aangegee soos in Levitikus 16, én as “iemand wat vir alles die skuld kry”, en die Nuwe Afrikaanse Vertaling verwys na die “sondeofferbok”.

En nou kom ons by ’n baie belangrike rede waarom Satan weggeneem gaan word. Dit is om te keer dat hy die mensdom MISLEI gedurende Christus se duisendjarige heerskappy! (verwys Op. 20:3-4). Dit is waarom die mensdom dan gou versoen sal word met God se weë – DAAR SAL GEEN SATANIESE INVLOED MEER WEES NIE. Dit is waarom, gedurende Christus se glorieryke heerskappy “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek” (Jes. 11:9).

En Jesaja verduidelik verder hoe God die mensdom se blindheid heeltemal sal wegneem: “En Hy sal op hierdie berg vernietig die uitgespreide sluier wat al die volke omsluier, en die omhulsel waarmee al die nasies bedek is. Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Here Here sal die trane van alle aangesigte afvee; en Hy sal die smaad van sy volk van die hele aarde af wegneem; want die Here het dit gespreek” (Jes. 25:7-8). Dan, met Satan se “uitsaaistelsel” tot niet, en die BLINDHEID van die mensdom verwyder, sal die mens inderdaad “een” word met God.

Gedagtig aan hierdie dinge behoort ons dié jaarlikse afspraak met God te onderhou deur te vas en innig te bid, om van booshede in ons lewens ontslae te raak. Daar is ’n interessante geval in die Bybel waar Christus se dissipels duiwels uitdryf terwyl hulle die Waarheid verkondig. Op ’n keer kry hulle te doen met ’n baie sterk duiwel wat nie wou luister en die persoon verlaat nie (Matt. 17:14-16). Toe Christus later wel daardie duiwel uitdryf, wou hulle weet waarom hulle dit nie kon doen nie (vers 19). Christus se antwoord was: “Maar hierdie geslag [tipe] gaan nie uit behalwe deur gebed en vas nie” (vers 21). Die dissipels het nie gevas voordat hulle probeer het om die duiwel uit te dryf nie. Indien hulle sou gevas het, sou God hulle die geloof gegee het wat hulle kortgekom het (vers 20). Dink ’n bietjie hieroor: die uiteindelike vervulling van die Versoendag behels dat die grootste bose gees ooit uitgedryf word! Geen wonder dan dat God wil hê ons moet op hierdie dag vas om nader aan Hom te kom nie.

Uiteindelik, met Satan gebind en ver verwyder en nie in staat om die mensdom verder seer te maak en te mislei nie, sal die mensdom leer om die ware God van die Bybel en Sy weë werklik te WAARDEER, en om Hom met opregtheid LIEF TE Hê en TE AANBID. Deur die bloed van Christus se offerande en die verwydering van die aartsvyand van beide God en mens, kan die versoening tussen God en mens finaal volbring word.

STAP 6

Die Huttefees

Nadat Satan verwyder is, wat sou die volgende stap in God se plan wees? Onmiddellik na die beskrywing van Satan se verbanning sê Openbaring 20: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (vers 6). Gedurende hierdie Millennium, of 1,000-jaar periode, sal Christus as Koning van konings regeer oor hierdie planeet. Die heiliges of “geroepenes” – die ware Christene – sal konings en priesters wees saam met Hom (Op. 5:10; verwys 1 Kor. 6:2-3).

Dit is hierdie wonderlike tyd wat God se volgende Feestyd simboliseer! In Levitikus 23 beveel God die Israeliete om ’n Fees te hou, net vyf dae ná die Versoendag: “Op die vyftiende dag van hierdie sewende maand is dit sewe dae lank die Huttefees vir die Here … Maar op die vyftiende dag van die sewende maand, as julle die opbrings van die land insamel, moet julle die fees van die Here sewe dae lank vier … En op die eerste dag moet julle vir julle vrugte neem van sierlike bome, met palmtakke en takke van digte bome en rivierwilgers, en sewe dae lank voor die aangesig van die Here julle God VROLIK wees. En julle moet dit as fees van die Here sewe dae in die jaar vier. Dit is ’n ewige insetting vir julle geslagte. In die sewende maand moet julle dit vier. Sewe dae lank moet julle in hutte woon; almal wat in Israel gebore is, moet in hutte woon” (verse 34-42).

Die Huttefees was dus ’n tyd van feesviering en vrolikheid ná die vrugte- en groente-oeste ingesamel is. Dit moes sewe dae duur – op sigself verteenwoordigend van ’n volledige tydperk. Net soos die weeklikse Sabbat, beeld dit die sewende millennium in mensegeskiedenis uit – die Millennium van Christus se regering. Dit is die Fees van Tabernakels of die Huttefees genoem omdat ou Israel sewe dae lank in hutte, tente, of ander tydelike huisvesting moes woon.

Wat kan ons uit hierdie Feestyd leer?

’n Wêreld gevul met vreugde

Deuteronomium bevat ook instruksies oor hierdie Feestyd: “Die Huttefees moet jy sewe dae lank hou as jy van jou dorsvloer en jou wynpers insameling hou. En jy moet VROLIK wees op jou fees, jy en jou seun en jou dogter en jou slaaf en jou slavin en die Leviet en die vreemdeling en die wees en die weduwee wat in jou poorte is. Sewe dae lank moet jy vir die Here jou God fees hou op die plek wat die Here sal uitkies; want die Here jou God sal jou seën in al jou inkomste en in al die werk van jou hande; en jy moet net maar vrolik wees” (Deut. 16:13-15).

’n Sleutelelement van die Huttefees is dus vreugde, want daar is baie waaroor ons vreugde sal hê! Die Bybel beskryf die tyd wat gesimboliseer word deur hierdie Fees: “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uit­gaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jes. 2:2-4).

Ja, met Christus se terugkeer sal die sluier van “blindheid” oor die mensdom gelig word. Mense met ’n nederige en ontvanklike gesindheid sal die wêreld vol wees, met Christus en Sy verheerlikte heiliges wat hulle leer en regeer, en vrede en harmonie sal seëvier. Soos ons gesien het, sal die aarde vol wees “van die kennis van die Here” en die mensdom sal nie meer “kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie” (Jes. 11:9). Daar sal VREUGDE wees soos die wêreld nog nooit beleef het nie: “Dáár sal geen leeu wees nie, en geen verskeurende dier sal daarop kom of daar aangetref word nie; maar die verlostes sal daarop wandel; en die losgekooptes van die Here sal teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry, maar kommer en gesug vlug weg” (Jes. 35:9-10).

Wanneer die moderne Israeliete terugkeer uit hul gevangenskap in die eindtyd, sal hulle “die ou puinhope bou, die verwoeste plekke uit vroeër dae weer oprig en die verwoeste stede weer nuut maak wat woes was van geslag tot geslag … In plaas van julle skande ontvang julle ’n dubbele deel; en in plaas van die smaad sal hulle jubel oor hul deel. Daarom sal hulle in hul land ’n dubbele deel in besit neem, ewige vreugde geniet” (Jes. 61:4, 7). Die Profeet Miga voeg by: “Maar hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik” (Miga 4:4). Trouens, daar sal geen armoede meer wees nie, geen haweloosheid nie. Oorvloed vir almal. Dit sal ’n tyd wees wanneer God vir die hele wêreld ’n “maaltyd van vetspyse” berei (Jes. 25:6).

Die geïnspireerde apostel Petrus noem dit “die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van AL sy heilige profete” (Hand. 3:21). Daar is werklik tientalle profesieë dwarsdeur die Ou en die Nuwe Testament wat praat van dié tyd van Christus se wederkoms, van die hele wêreld wat begin verstaan, en van ware vrede en veiligheid wat die aarde oorspoel omdat die mensdom dan God se regverdige WETTE leer en Sy hele lewenswyse uitleef. Dis ’n “herstelling”, want Satan se eeue lange terreur sal verby wees en God se Regering sal einde ten laaste op aarde in werking wees. Dit was die totale boodskap wat Jesus gepreek het met Sy Eerste Koms (Vra gerus ons gratis boekie, Glo u die ware Evangelie?)

Die groot laatoes

Onthou, ons lees in Exodus 23 van die “Fees van die INSAMELING aan die einde van die jaar as jy jou werk uit die land insamel” (vers 16). Uit die gedeelte oor die Pinkster, weet ons dié Fees simboliseer die groot oes in die herfs in Israel. Vir Christene simboliseer dit die groot geestelike oes van mense wat ingesamel word tydens die 1,000-jarige regering van Christus!

U sien, onder die regering van God se Koninkryk sal verlossing oopgestel word vir alle mense. Dit sal nie net ’n paar wees wat die kans sal kry om gered te word nie. Almal sal dan geroep word! God sê oor dié tyd: “En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees” (Joël 2:28). Alhoewel die vervulling hiervan begin het met die stigting van die Nuwe-Testamentiese Kerk (Hand. 2:14-21), sal dit wêreldwyd gebeur in die Wêreld van Môre, wanneer elkeen wat dan leef uiteindelik die weë van God sal leer en die kans sal kry om, sonder Sataniese misleiding, God te dien en Hom te gehoorsaam.

Die duisendjarige regering van Christus is gewis die tyd waarvan die Profeet Jeremia skryf: “Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ’n NUWE VERBOND sal sluit; nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie – my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die Here. Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die Here: Ek gee MY WET [dieselfde wet as vantevore] in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees” (Jer. 31:31-33).

Trouens, God se manjifieke geestelike wet, die Tien Gebooie, is nog NOOIT ontbind nie! Die punte daarvan is egter deur Jesus Christus “uitgebrei” en nog méér bindend gemaak, sodat ons nie bloot die letter van die wet moet hou nie, maar ook die geestelike bedoeling daarvan. Daarom moet ware Christene hulle nie net weerhou om letterlik moord te pleeg nie, maar hulle moet hulle ook weerhou van vyandigheid en haat, wat die gesindheid van moord is (Matt. 5:21-22). Ons leer om onsself nie alleen van letterlike owerspel te weerhou nie, maar ook om nie eens iemand in ons hart te begeer met wie ons nie getroud is nie! (verse 27-28).

Gedurende die Millennium sal God se wette oor die hele wêreld in mense se harte en denke geskryf word. Want, soos ons gesien het, beeld dié wet eintlik God se KARAKTER uit. Hy vereis dat ons hierdie karakter moet ontwikkel om vir ewig in Sy Koninkryk te kan leef!

Natuurlik is al die heilige Feestye van God ook bindend. Soos ons aan die begin van hierdie boekie gesien het, maak die Bybel dit baie duidelik dat ALLE nasies sal leer om die “Huttefees te ONDERHOU” in die wonderlike Wêreld van Môre onder die leiding van Jesus Christus. Selfs die Egiptenare, wat moontlik eers gekant sal wees teen enigiets “Joods”, sal leer om die Fees te VIER (Sag. 14:1-19 – sowel as die res van God se Feestye, want al hierdie Feestye staan of val saam.

Hierdie geestelike Feestye is vir die HELE mensdom, met die uitsluitlike doel om ons die groot meesterplan van ons Skepper te leer. As mense, nasies en kerke die Feestye nié onderhou nie is hulle blind vir die doel wat God besig is om hier op aarde uit te werk. Moenie wag totdat Christus terugkeer en almal GEDWING word om hierdie Feeste te hou nie. Word vandag ’n “pionier”. Leer om God se woord te GLO en te GEHOORSAAM en reageer NOU op Sy Waarheid. Dan sal Christus aan u sê wanneer Hy kom: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer” (Matt. 25: 21).

Maar wat is die doel van tydelike blyplek gedurende die Huttefees? Vir die antieke Israeliete was dit gedeeltelik ’n herinnering dat hulle “reisigers” in die land was, dat hulle net tydelik daar sou bly. Geestelik gesproke, herinner dit Christene dat ons – net soos Abraham, ons vader in die geloof – ook “vreemdelinge en bywoners op die aarde” is (Heb. 11:13), dat ons uitsien na daardie tyd wanneer die Koninkryk van God hier op aarde gevestig sal word.

Verder het ons van tyd tot tyd nodig om te onthou dat elkeen van ons in ’n “tydelike tentwoning” leef: ons stoflike liggaam. Paulus skryf: “Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ’n gebou het van God, ’n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele. Want om hierdie rede sug ons ook en verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word … Want ons wat nog in die tent is, sug en voel beswaard, omdat ons liewer nie ontklee nie, maar oorklee wil word, sodat die sterflike deur die lewe verslind kan word” (2 Kor. 5:1-4).

Paulus verduidelik op ’n ander plek “dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie” (1 Kor. 15:50). Dus is die enigste wesens wat werklik tydens die Millennium IN die Koninkryk sal wees, diegene wat verander is na geestelike wesens (vergelyk verse 45 en 49) – diegene wat gedoop is, die Heilige Gees ontvang het en tot die einde toe volhard het! Al die mense wat vlees-en-bloed wesens is aan die begin van die Millennium, sowel as die kinders wat gedurende die daaropvolgende duisend jaar gebore word, sal steeds in “tydelike tentwonings” wees – en wag op hul beurt om God se Koninkryk in te gaan, net soos dit tans die geval is met bekeerde Christene.

Vandag gehoorsaam die lidmate van die Kerk van God steeds die opdrag om op spesifieke plekke byeen te kom vir die Feeste van God – al is dit nie meer nodig om in Jerusalem te vergader nie (verwys Joh. 4:19-21). Veral met die Huttefees is die plek van samekoms dikwels ver van ons tuistes, en dan bly ons vir sewe dae in tydelike huisvesting, soos in hotelle of vakansiewoonstelle.

Laat ons vir seker die Huttefees ONDERHOU net soos ons al die ander Feesafsprake met God onderhou. Laat ons fokus op die ontsagwekkende simboliek daarvan, want hierdie GLORIERYKE tyd – wanneer alle ware Christene hierdie wêreld sal onderrig, regeer en seën saam met Christus – is BINNEKORT hier! Laat ons almal dan, in opregtheid, ons lewens OORGEE aan God ons Vader en aan die ware Jesus Christus, sodat ons hierdie wonderlike roeping waardig mag wees.

Wat van die ander Joodse feeste?

Een van die bekendste Joodse heilige dae is die winterfees van Hanukkah. Maar dis nie een van die Feestye wat die Here in Levitikus 23 gee nie. Moet ons dié dag herdenk, en ook die ander Joodse heilige dae soos Purim en sekere vasdae?

Sommige mense dink dat ons geen ander dae mag vier nie omdat God sê om niks by te voeg by die wette wat Hy in die Bybel gee nie (Deut. 12:32). Maar in konteks gesien, is dit duidelik dat God dit het teen heidense gebruike wat veronderstel is om Hom te vereer, soos Kersfees en Paasfees of “Easter” (verse 29-32).

Verder is daar etlike Bybelse voorbeelde waar nasionale leiers sekere dae opsy gesit het as nasionale dae vir gewyde diens en viering voor God. Salomo het dit gedoen met die inwyding van die Tempel (1 Kon. 8:62-66). Onder die koningskap van Hiskia het die mense die Fees van Ongesuurde Brood vir ’n verdere sewe dae gehou (2 Kron. 30:21-27). God het dit nie beveel nie, maar was verheug daaroor.

Eeue later, in die boek van Ester, lees ons hoe dat God die Jode dwarsdeur die Persiese Ryk verlos het toe ’n komplot gesmee is om hulle te vernietig. Toe stel die Jode Purim in om hierdie wonderbaarlike verlossing te herdenk. Later stel hulle Hanukkah in [die Fees van Ligte, of Tempelwyding]. Net soos Purim, het hierdie winterfees ook nié sy oorsprong in heidense godsdiens nie. Inteendeel, hierdie fees herdenk agt dae lank die heiliging van die tweede tempel (165 v.C.), nadat dit besoedel is deur die Siriese invaller Antiochus Epiphanes. Volgens tradisie was daar net genoeg olie oor om die Tempel Menora vir een dag te laat brand, maar dit het wonderbaarlik aanhou brand vir agt dae! Daarom dat die fees agt dae duur.

Selfs Jesus Christus het hierdie Fees van Tempelwyding bygewoon (Joh. 10:22-23). Daar is sekerlik niks verkeerd om die Tempel se inwyding te vier nie en om God op daardie spesifieke herdenkingsdag te dank nie. Trouens, Christus se perfekte voorbeeld wys hier baie duidelik dat dit reg is om deel te neem aan ’n nasionale godsdienstige fees of vakansiedag wat vir ’n eerbare doel ingestel is, solank daar geen heidense gewoontes en vals godsdienstige idees aan verbonde is nie. So, byvoorbeeld, kan die Amerikaanse viering van “Thanksgiving” beslis gebruik word om God te vereer.

Natuurlik sal die viering van Joodse feeste soos Hanukkah of Purim min betekenis hê vir nie-Jode. Daarom word daar nie van nie-Jode verwag word om sodanige feeste te vier nie. So sal “Thanksgiving” nie betekenis hê vir nie-Amerikaners nie, en so sal Geloftedag nie betekenis hê vir nie-Afrikaners nie.


STAP 7

Die Laaste Groot Dag

Toe ons die Pinksterfees ondersoek het, het ons gesien dat die oorweldigende meerderheid van hoofstroom Christendom glo dat vandag die enigste dag van verlossing is. Volgens hierdie kerke is God nou in ’n groot “sielereddingstryd” gewikkel met Satan. Ons behoort teen hierdie tyd te weet dat sodanige leerstelling vals is. Die volgende verse gee net weer ’n kort oorsig van hierdie grondbeginsel.

Eerstens, onthou dat die Bybel sê “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat ALMAL tot bekering moet kom” (2 Pet. 3:9). Let ook daarop dat Paulus praat van “God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom” (1 Tim. 2:3-4). God se geïnspireerde Woord sê ook dat Hy geen “aannemer van die persoon is nie” (Hand. 10:34; Rom. 2:11). Met ander woorde, God trek niemand voor nie. Hy het almal in die wêreld lief (Joh. 3:16) en wil aan almal wat ooit geleef het, die geleentheid gun om gered te word!

Maar wat van diegene wat in heidense kulture geleef en gesterf het, en nooit eens van Jesus Christus gehoor het nie? Dink daaraan dat die Seun van God onomwonde sê: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie nie by die deur in die skaapstal ingaan nie, maar van ’n ander kant af inklim, hy is ’n dief en ’n rower … Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, Ek is die deur van die skape” (Joh. 10:1, 7). Die apostel Petrus is geïnspireer om van Christus te sê: “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Hand. 4:12). Dus, u neem Jesus aan – die ware Christus van die Bybel – of u verwerp Hom. Indien u Hom verwerp, is u NIE ’n Christen nie. Dit is so eenvoudig.

Maar soos ons reeds bepaal het, is omtrent almal BLIND vir die waarheid oor die werklike God en die werklike Christus. Die feit is dat die oorgrote meerderheid van die mensdom deur die eeue heen nog nooit aan ENIGE vorm van Christenheid behoort het nie – en dit is vandag steeds die geval! Daar­benewens weet die meeste naamchristene nie waaroor ware Christelikheid gaan nie, want hulle het ’n wesenlike vals godsdiens aanvaar.

Om nou sommer reguit te praat: elke regdenkende mens behoort tog te begryp – as hy oor die saak nadink – dat miljoene mense in menseheugenis wat Christelikheid bely het egter nooit ware Christene was nie! Want die meeste van hulle het nooit eens enige vorm van diepe berou ondervind nie, en ’n ware aanvaarding van Jesus Christus as hulle Redder nie, en ook nie enige werklike VERAN­DERING in hul lewenstyl of denkwyse gehad nie. Met ander woorde, daar was GEEN aanduiding dat hulle ooit God se Heilige Gees ontvang het en ’n geestelike “ommekeer” beleef het nie. Die apostel Paulus skryf immers: “Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie” (Rom. 8:9). Indien u nie aan Christus behoort nie, is u nie ’n Christen nie – en kan u NIE gered word nie!

Maar ons sit steeds met ’n probleem: wat van al daardie mense wat geleef en gesterf het sonder dat hulle ooit God se waarheid geleer is? Is hulle vir ewig verlore? Kon die Almagtige nie seker maak dat hulle die waarheid sou leer ken en hulle ’n regverdige kans gee om gered te word nie? Wat is die werklike antwoord op hierdie dilemma?

Die Agtste Dag

Kom ons bekyk nou die laaste Heilige Dag in God se meesterplan van nader. Onthou, die Huttefees was slegs ’n Fees van sewe dae – sewe simboliseer voltooiing – dus, voltooiing van die hele Millennium. Maar let op God se opdrag in Levitikus 23 rakende dié Fees: “Op die vyftiende dag van hierdie sewende maand is dit sewe dae lank die Huttefees vir die Here. Op die eerste dag moet daar ’n heilige vierdag wees; géén beroepswerk mag julle doen nie. Sewe dae lank moet julle aan die Here ’n vuuroffer bring. Op die AGTSTE DAG moet daar vir julle ’n heilige vierdag wees … julle mag geen beroeps­werk doen nie … op die eerste dag is dit rusdag, en op die agtste dag is dit rusdag” (Lev. 23:34-39).

Dié “Agtste Dag” volg op die sewe dae van die Huttefees en is in werklikheid ’n aparte Fees. Dit is egter onlosmaaklik gekoppel aan die Huttefees, en word in ’n sekere sin as deel daarvan gereken. Dit is hoekom Johannes daarna verwys as “die LAASTE DAG, die GROOT DAG van die Fees” (Joh. 7:37), en vandaar ons hedendaagse verwysing daarna as die Laaste Groot Dag.

Wat sou hierdie Heilige Dag dan simboliseer? Omdat dit onmiddellik volg op die Huttefees kan ons aflei dat dit te doen het met die gebeure wat volg op die Millennium. Aangesien dit gekoppel is aan die Huttefees, kan ons dus verwag dat dit ’n voortsetting is van waaroor die Millennium gaan en dit is werklik die geval.

Kom ons ondersoek Johannes se beskrywing van dié Fees: “En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei” (Joh. 7:37-38). Hierdie stelling is waarskynlik gemaak na aanleiding van ’n seremonie wat daagliks gedurende die Huttefees plaasgevind het. Water uit die put van Siloam is saam met wyn uitgegooi oor ’n sukka of tent, wat bo-op die altaar in die Tempel gebou is. Hierdie seremonie is die “Huis van Waterstorting” genoem, en tydens die seremonie het die mense die woorde van Jesaja 12:3 gesing: “En julle sal water skep met vreugde uit die fonteine van heil”. Dit was moontlik net ná hierdie seremonie op die sewen­de dag, teen sononder en aan die begin van die Agt­ste Dag, dat Jesus bogenoemde woorde geuiter het.

Maar wat het Hy bedoel met “strome van lewende water?” Die apostel Johannes verskaf die antwoord in die volgende vers: “En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo” (Joh. 7:39). En, soos ons gesien het, God het reeds begin om Sy Gees “op alle vlees” (Joël 2:28) uit te stort, beginnende met die uitverkorenes vanaf die stigting van die Nuwe-Testamentiese Kerk. Ons het ook gesien dat dié proses sal voortgaan en uitbrei tot ’n selfs groter vervulling in die Millennium. Kan dit wees dat ’n nóg groter vervulling ná die Millennium kom? Steek daar meer in die “groot laatoes” as net diegene wat reageer op God se roeping gedurende daardie 1,000-jaar periode?

Kom ons kyk nou wat gebeur dan ná die Millennium. Openbaring 20:4-5 verwys na die opstanding van God se ware heiliges aan die begin van die 1,000 jaar as die “eerste opstanding”. Vanselfsprekend moet daar minstens nog ’n ander opstanding volg, nie waar nie? Dit is trouens presies wat vers 5 sê: “En die ANDER dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie”. Daar het u dit! Dié is ’n opstanding van die res van die mensdom, van diegene wat nooit tevore die kans gehad het om gered te word nie.

Maar wat gebeur met hulle? In verse 3 en 7-10, beskryf Johannes hoe Satan – wat vir ’n duisend jaar gebind was – aan die einde van die Millennium vir “’n kort tydjie” los gelaat word as ’n toets vir die mensdom en dan vir ewig uit die prentjie verwyder word. Johannes beskryf sy visioen van die oordeelstyd van daardie mense wat dan uit die dood opgewek word. Hy skryf: “En ek het ’n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ’n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke” (Op. 20:11-12).

“Die boeke” wat hier genoem word, is ongetwyfeld die boeke van die Bybel wat, soos met alle ware geestelike begrip, tot dusver vir die hele mensdom geslote was (verwys Mark. 4:11-12). Die Griekse term biblia, hier as “boeke” vertaal, is ook die oorsprong van ons woord “Bybel”. Vir die eerste keer sal hierdie mense se denke en hart tot die Skrif geopen word.

Aangesien die “Boek van die Lewe” – die lys van diegene wat die ewige lewe sal beërwe – ook geopen word, is dit duidelik dat die weg tot redding op dié stadium nog beskikbaar is. Dus beteken dit dat hierdie mense wat ’n nuwe, stoflike lewe gegee word ná die Millennium, uiteindelik hulle kans sal hê om gered te word. Let mooi op: dit is hoegenaamd nié ’n tweede kans nie – dié kans word gegee aan diegene wat nooit tevore ’n kans gehad het nie! Dit is tydens hierdie “Groot Wit Troon Oordeel” dat hulle vir die eerste keer werklik geroep word vir húlle eerste kans – hulle eerste en enigste – tot redding. Met Satan vir ewig uit die pad, sal hulle denke dan vir die eerste keer geopen wees tot ware begrip.

Die Oordeelsdag

Party mense verstaan dat “oordeel” in hierdie geval veroordeling, verdoeming, of die vel van ’n vonnis beteken. Maar dit is nie wat hier bedoel word nie. Die bedoeling is dieselfde as in 1 Petrus 4:17: “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God”. Dit beteken dat ons in die Kerk van God nou, in hierdie tyd, geoordeel word volgens ons optrede. Dié oordeelsperiode duur ons hele leeftyd lank. Net so sal daar in die Groot Wit Troon Oordeel vir almal wat in onkunde geleef en gesterf het ’n leeftyd van geleentheid wees om tot bekering te kom, om die Gees van God te ontvang en goddelike karakter te ontwikkel.

Let op wat Christus sê aan die stede van Sy tyd wat Hom en Sy leerstellings verwerp het: “Wee jou, Górasin, wee jou, Betsáida! want as in Tirus en Sidon [heidense Feniciese stede] die kragtige dade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle hul lankal in sak en as bekeer het. Maar Ek sê vir julle, dit sal vir Tirus en Sidon verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir julle” (Matt. 11:21-22).

Die inwoners van hierdie heidense stede wat nog nooit van Christus gehoor het nie, sal dit makliker vind om by God se lewenswyse aan te pas en om verkeerde waardes en begrippe af te leer in die toekomstige oordeelstyd. Selfs Sodom, ’n stad wat sinoniem is met boosheid, word in hierdie kategorie ingesluit: “En jy, Kapérnaüm … want as in Sodom die kragtige dade plaasgevind het wat in jou plaas­gevind het, sou hy bly staan het tot vandag toe. Maar Ek sê vir julle dat dit vir die land van Sodom verdraagliker sal wees in die oordeelsdag” (verse 23-24).

Hier word beslis nie na vonnisse verwys nie. Hoekom nie? “Want die loon van die sonde is die dood” (Rom. 6:23). Watter verskil sal dit dan maak om slegs een groep sondaars te straf en nie ’n ander groep nie? Dood is dood! Nee, as God hierdie mense oordeel volgens dieselfde standaard as ander – en die Bybel sê uitdruklik dat God almal oor dieselfde kam skeer – dan sou die ou heidene geen kans staan op die ewige lewe nie, omdat hulle Jesus Christus NIE as Saligmaker aangeneem of God se weë gehoorsaam het nie. Weereens, die ENIGSTE antwoord is dat hulle – in ’n toekomstige oordeelstyd – die kans sal hê om God se plan werklik te verstaan, om Jesus Christus aan te neem as hul Heer en Verlosser, en dat hulle dan geoordeel sal word volgens hulle optrede in hulle eerste geleent­heid tot redding.

Dink ’n bietjie hieroor na. Hoe kan ’n regverdige en redelike God anders optree – veral in die lig van Christus se stelling dat hierdie heidene in die verre verlede hulle sou bekeer het AS hulle kon sien wat hulle nodig gehad het om te sien? Soos Abraham gevra het: “Sal die Regter van die ganse aarde geen reg doen nie?” (Gen. 18:25). Die antwoord is dat God, wat nooit partydig is nie, altyd reg sal laat geskied. Daarom sal Hy elkeen ’n werklike kans tot bekering gun.

Ons kan nou wel vra waarom dit vir heidense nasies makliker sal wees in die Groot Wit Troon Oordeel as vir diegene wat in die tyd van Christus in Judea geleef het. Die antwoord is dat die heidense nasies geen geestelike kennis gehad het nie, terwyl die Jode van daardie tyd BETER GEWEET HET – want hulle is van kindsbeen af uit die Woord van God geleer! Maar selfs dit is relatief, want die mense in Christus se tyd was ook blind vir die waarheid van God, maar tot ’n mindere mate (verwys Matt. 13:10-11).

As ons dus kyk na die mense om ons wat nie nou bevoorreg is om die wonderlike Waarheid te verstaan wat God aan ons gegee het nie, moet ons besef dat ontelbare miljoene ongelowiges uit die verlede en die hede vurig sal vasklou aan die Waar­heid wanneer hulle dit ten volle verstaan. Hulle mag beter Christene word – beter diensknegte van God – as baie van ons aan wie die kosbare Waarheid tans gegee is. Hulle sal, ás ons die Waarheid as vanselfsprekend aanvaar en nie so geesdriftig daaroor is soos ons behoort te wees nie! Verder moet ons nooit dink dat wat ons genadige God vir ons gedoen het, ons enigsins beter maak as die res van die mensdom nie.

Dit is eintlik ’n kwessie van TYDSBEREKENING, want, op die tyd wat God beplan, sal alle mense wat ooit geleef het, ware begrip van Sy meesterplan en doel ontvang – en die oorgrote meerderheid sal die Waarheid AANVAAR wanneer hulle oë oopgemaak word.

Lewende Water

In Esegiël 37 beskryf God ’n laagte van dor bene (verse 1-4) – die oorblyfsels van mense wat lank gelede al dood is. Aan hierdie bene sê Hy: “Kyk, Ek bring gees in julle in, sodat julle lewendig kan word. En Ek sal senings op julle lê en vlees oor julle laat opkom en ’n vel oor julle trek en gees in julle gee, sodat julle lewendig kan word; en julle sal WEET dat Ek die Here is” (verse 5-6). Hier is mense wat uit die dood opgewek is en weer fisieke lewe gegee is – dis anders as met die “eerste opstanding” waar die heiliges verander na ewige geestelike lewe (verwys 1 Kor. 15:35-50). Die dor bene wat opgewek word, word geroep om die Here te “ken”, om die ware God en Sy plan te leer ken.

Wie is hierdie mense wat die “ontsaglike groot leër” uitmaak? God sê aan die Profeet Esegiël: “Mensekind, hierdie bene is die hele huis van Israel. Kyk, hulle sê: Ons bene is verdor, en ons verwagting is verlore; dit is klaar met ons!” (Eseg. 37:11). God laat die dor bene figuurlik hierdie woorde sê om hulle klaarblyklik hopelose toestand te beskryf – hopeloos weens hulle dwaling, hulle eiesinnige lewenswyse, en duisende jare in die graf. Behalwe vir die handjievol profete, was die meeste Israeliete van die verlede totaal en al vleeslik en het geen benul gehad van die werklike plan van die Almagtige God nie.

Maar ons genadige God sê: “Kyk, Ek sal julle grafte oopmaak en julle uit jul grafte laat opkom, o my volk! En Ek sal julle bring in die land van Israel … En Ek sal MY GEES in julle gee, dat julle lewendig kan word; en Ek sal julle vestig in jul land” (verse 12-14).

Hoe duidelik!

Hier is mense wat nooit die Heilige Gees ontvang het nie – dus van God afgesny was (verwys Rom. 8:9). Nou word die Heilige Gees aan hulle gegee nadat hulle uit die dood opgewek is tot ’n fisiese bestaan. Ja, die Ewige God sal die ontelbare miljoene opwek wat geleef en gesterf het lank voordat Jesus gekom het en die volle betekenis van redding gebring het, asook diegene wat geleef het sedert Christus se Eerste Koms en wat eenvoudig net nie geroep is nie. Natuurlik weet ons dat dit nie net Israel insluit nie. Soos ons gesien het, wil God hê dat elke mens wat ooit geleef het, gered moet word.

Daarom moet elke individu die kans hê om God se Heilige Gees te ontvang, die “strome van lewende waters” waarvan Christus gepraat het. Deur middel van die Heilige Gees word God se natuur en karakter, Goddelike liefde “in ons harte uitgestort” (Rom. 5:5), en daarvandaan vloei dit uit na ons medemens. Hierdie kosbare Gees sal gegee word aan diegene in die Laaste Oordeel, net soos dit vandag gegee word aan Christene, ná werklike bekering en doop. Dan sal hulle ook die geleentheid hê om TOE TE NEEM “in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 3:18). Al is hulle roeping op ’n later stadium as ons s’n, dit gaan gewis kom!

U sien, die waarheid is dat God nie besig is om die wêreld nou te probeer red nie! Soos voorheen al gesê is, as die Grote God wat die heelal gemaak het die hele mensdom nou sou wou red, sou Hy geslaag het. Die BILJOENE mense op elke kontinent sou almal spoedig goeie Christene geword het!

Een Skrifgedeelte wat deur die bank verkeerd toegepas en verkeerd verstaan word, is waar God deur Paulus sê: “In die tyd van die welbehae het Ek jou verhoor, en in die dag van heil het Ek jou gehelp. Kyk, nou is dit die tyd van die welbehae; kyk, nou is die dag van heil [verlossing]” (2 Kor. 6:2). Ongelukkig het verskeie Bybelvertalers verkeerdelik die bepaalde lidwoord “die” gebruik – “die dag van heil” – waar die oorspronklike Grieks die onbepaalde lidwoord “’n” het. Paulus haal hier aan uit Jesaja 49:8, waar dit ook foutief vertaal is. Die oorspronklike Engelse King James vertaling, en die New Revised Standard Version gee dit korrek weer.

Dus, die tyd wanneer God Sy Gees werklik op alle vlees sal uitstort, lê nog ver in die toekoms. Dan sal elkeen wat ooit geleef het die kans hê om gered te word, en om die ewige lewe te hê in die Koninkryk en Familie van God. Dit beteken egter nie dat elke mens uiteindelik God se lewenswyse sal kies nie. Sommige sal weier. Diegene wat God verwerp, sal in die poel van vuur gewerp word wanneer die hele aardoppervlakte sal brand en vergaan (Op. 20:14-15; 21:8; 2 Pet. 3:10). Maar selfs hierdie vernietiging is die liefde en genade van ons Skepper – want Hy wil nie hê dat mense moet voortlewe in die smart en ellende wat sonde en rebelsheid nood­wendig bring nie.

Daarna, nadat die aarde gesuiwer is deur vuur, sal daar ’n wonderskone “nuwe hemel en nuwe aarde” wees (Op. 21:1). Die ewige stad van God, die Nuwe Jerusalem, sal uit die hemel na die aarde neerdaal (vers 2). God die Vader, die Opperwese van die heelal, sal uiteindelik Sy tuiste hier by ons maak. Let op die verstommende woorde wat die apostel Johannes in sy visioen gehoor het: “Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan” (verse 3-4). Sonde en lyding sal verby wees en ons sal saam met God en Christus lewe deur die krag van die Heilige Gees – “’n suiwer rivier van die water van die lewe, helder soos kristal, wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam” (Op. 22:1)

Met die Laaste Groot Dag, die sewende van God se vereiste Feestye, eindig ons die uitbeelding van die MEESTERPLAN van ons Skepper. Vanaf ons aanvaarding van Christus as ons Verlosser, tot by Sy Wederkoms en verder tot by die Laaste Groot Dag, weerspieël hierdie Godgegewe, Godgeïnspireerde Feestye die WERKLIKE plan van God. Die heidense feesdae wat Satan aan ’n misleide mensdom afgesmeer het, is inderdaad ’n goedkoop plaas­vervanger, want in werklikheid beeld hulle ’n vals god en ’n vals Christus uit en lei dit tot die aan­vaarding van ’n vals evangelie, wat lynreg in stryd is met die ware boodskap wat die WARE Christus en Sy WARE Apostels gepreek het.

Wanneer ons die wonderlike wysheid en genade van God besef uit Sy ware plan van verlossing, kan ons heelhartig dié woorde van die apostel Paulus beaam: “O, diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy wee!” (Rom. 11:33).

Gevolgtrekking

Volg God se Plan

As die Lewende God besig is om u verstand te open om Sy Waarheid te verstaan, is u verant­woorde­lik om op te tree (Jak. 1:22, 4:17). Om u daarmee te help, het die Lewende Kerk van God leraars en plaaslike gemeentes of videogroepe dwarsdeur die wêreld. Hulle kom gereeld bymekaar vir weeklikse eredienste op die Sabbat en op die jaar­likse Heilige Dae. Die Lewende Kerk van God pu­bli­seer hierdie boekie asook die Wêreld van Môre-tydskrif.

Indien u belangstel om hierdie dae saam met ons te onderhou, bel of skryf gerus aan ons. Die adres en telefoonnommer is agter in hierdie boekie. Wees verseker dat niemand u sal besoek of bel, behalwe as u daarom vra nie. Indien u dit sou verkies, kan een van ons verteenwoordigers ’n afspraak met u maak op ’n tyd en plek wat vir u geleë is. U sal NIE verplig word om by enige groep aan te sluit nie. Trouens, ons leraar of verteenwoordiger mag voor­stel dat u eers meer lees en studeer op u eie, en seker maak dat u werklik volgens elke woord van God wil leef.

Daarna, wanneer u sou besluit om dienste by te woon saam met God se mense en werklik Sy weeklikse en jaarlikse Sabbatte te onderhou, sal u dalk verbaas wees hoe versterk u geestelik voel. Om dienste by te woon, om God se Waarheid elke week te hoor en om die geleentheid te hê vir gesels met gelukkige, optimistiese mense wat dieselfde glo, sal waarlik ’n plesier wees.

In al hierdie dinge sal u ’n geestelike “pionier” wees. U sal aan u Skepper getoon het dat u gewillig is om in geloof Sy geïnspireerde Woord te gehoor­saam ten spyte van moontlike probleme en teen­kanting. Sodoende sal u dan werklik besig wees om voor te berei vir die eerste opstanding, die “beter opstanding” (Heb. 11:35). Indien u vasstaan in hierdie nuwe lewenswyse, sal u uiteindelik Jesus Christus se bemoedigende woorde hoor: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer” (Matt. 25:21).

Ons hoop om spoedig van u te verneem.

Laai af in PDF (251 KB) | Bestel GRATIS Gedrukte Uitgawe
Geliewe daarop te let dat genoemde boekies nie by Bruid van Yeshua beskikbaar is nie, maar dat u dit direk kan bestel vanaf
Die Lewende Kerk van God of u kan die PDF dokument aflaai indien beskikbaar. Baie Dankie.