El-Roi - Afrikaans

Studies

Gedigte

God

Israel

Profesiee

Satan

God se Kerk deur die eeue

God se Kerk deur die eeue

deur Mnr. John H. Ogwyn

Die Lewende Kerk van God

 
INHOUD
Hoofstuk 1: Wat het van die Kerk geword?
Hoofstuk 2: ’n Dramatiese Oorgang
Hoofstuk 3: Die Kerk in die wildernis
Hoofstuk 4: Vestiging in die Nuwe Wêreld
Hoofstuk 5: Verdeeldheid, skeuring en ’n nuwe begin
 
HOOFSTUK 1

Wat het van die Kerk geword?

Jesus Christus sê: “Ek [sal] My kerk bou, en die magte van die doderyk [Gr. hades] sal dit nie oor­weldig nie” (Matt. 16:18, NV). Watter Kerk het Christus gebou en wat het daarvan geword?

Wanneer die Bybel van die Kerk praat, bedoel dit nooit ’n gebou of ’n menslike organisasie geïnkor­poreer onder sekulêre, menslike gesag nie. Die Griekse woord wat in Afrikaans as “kerk” vertaal word, is ekklesia. Dit word afgelei van twee stamwoorde in Grieks en beteken letterlik “uitgeroep” of “geroep van”. In algemene gebruik het dit verwys na ’n groep burgers wat “uit” die inwoners van die stad “geroep” is om ’n belangrike saak te oorweeg. Dit is dikwels in die Griekse vertaling van die Ou Testament gebruik om te verwys na die gemeente van Israel of na die vergadering van God se mense. “Gemeente” of “vergadering” in die Nuwe Testament dra dieselfde betekenis.

Die “uitgeroepe” aspek van ekklesia is egter die grondslag om die Kerk te verstaan. In Genesis 12 lees ons dat God Abraham “uitgeroep” het uit Ur van die Chaldeërs. In Exodus 12 lees ons van Abraham se afstammelinge, die kinders van Israel, wat deur God uit Egipte “uitgeroep” is. Israel het toe die vergadering in die woestyn geword, of “die Kerk in die Wildernis”, soos die Engelse King James vertaling dit aangee (Hand. 7:38).

Een van God se finale waarskuwings aan Sy mense is ’n beroep om “uit” Babilon (Op. 18:4) uit te gaan. Die regverdiges van God moenie deelneem aan die korrupte kultuur van die eindtyd met al sy sondes nie – sodat hulle nie dieselfde goddelike strawwe as “Babilon” ontvang nie.

Jesus het dit duidelik gestel dat die enigste manier waarop iemand na Hom kan kom en deel van Sy Kerk kan wees, is wanneer die Vader ’n persoon roep (Joh. 6:44). Slegs diegene wat op die Vader se oproep reageer deur berou tot bekering en die doop sal die Heilige Gees ontvang (Hand. 2:38). Dit is slegs deur die Heilige Gees van God dat ons deel kan word van die Kerk wat Jesus gebou het (Rom. 8:9; 1 Kor. 12:13).

Wat het geword van die Kerk wat Jesus Christus van voorneme was om te bou? Het dit deur die jare aanpassings en veranderings ondergaan volgens progressiewe openbaring? Het dit die spoor byster geraak en moes dit toé ’n hervorming ondergaan onder leiding van mense soos Martin Luther en Johannes Calvyn? Of is daar ’n groep gelowiges wat deur die eeue heen aangehou glo het in dieselfde leerstellings wat Jesus Christus en die Apostels van die eerste eeu geleer het – en daardie selfde leerstellings beoefen?

Wanneer ons die hoofstroom, belydende Christelike kerk deur die eeue ondersoek, dan blyk dit ’n heel verskillende kerk te wees as die een wat in die bladsye van U Nuwe Testament beskryf word. In die boek van Handelinge vind ons dat God se Kerk “Joodse” heilige dae onderhou het (Hand. 2:1; 13:14, 42, 44; 18:21), gepraat het oor die wederkoms van Jesus Christus om die wêreld te oordeel (Hand. 3:20-21; 17:31) en geglo het in die letterlike vestiging van die Koninkryk van God op die aarde (Hand. 1:3, 6; 28:23).

Tog, minder as drie honderd jaar later, kry ons ’n kerk wat aanspraak maak op ’n apostoliese oor­sprong, maar die “eerwaardige dag van die Son” onderhou eerder as die Sewende-dag Sabbat. Toe daardie kerk met sy biskoppe vergader het om leerstellings te bespreek tydens die Raad van Nicea, was die voorsitter, die Romeinse Keiser, Konstantyn! Hoe kon so ’n merkwaardige verandering plaas­gevind het? Wát het gebeur?

Die Protestantse skrywer, Jesse Lyman Hurlbut, erken in sy boek, The Story of the Christian Church, dat ’n dramatiese verandering wel plaasgevind het. Hy skryf: “Vir 50 jaar na Paulus se lewe hang ’n gordyn oor die kerk, waardeur ons vergeefs probeer kyk; en toe die gordyn uiteindelik oopmaak, in ongeveer 120 n.C. met die geskrifte van die vroegste kerkvaders, vind ons ’n kerk wat in baie aspekte baie verskil van die een in die tyd van Petrus en Paulus” (bl. 41).

Die geskiedenis van die Christelike Kerk vanaf die Pinksterdag van 31 n.C. tot die Raad van Nicea in 325 n.C., omtrent 300 jaar later, is ’n merkwaardige storie. Dit is die verhaal van hoe gister se ortodokse leerstellings vandag se dwaalleer geword het en hoe ou dwaalleerstellings tot ortodokse Christelike leerstellings verander is. Dit is die verhaal van hoe kerktradisie en die leringe van die biskoppe die woord van God as die bron van leerstellings ver­vang het. Dit is ’n verhaal wat vreemder is as fiksie, maar tog bevestig word uit die geskiedenis.

Simon en die “ander” evangelie

In Handelinge 8 word ons bekendgestel aan ’n man wat deur Satan gebruik is om God se Kerk te infiltreer en te ondermyn. Hierdie man was Simon, die Towenaar van Samaria. Hy is algemeen bekend as “Simon Magus”. Die Samaritane het Simon beskou as God se verkose verteenwoordiger (Hand. 8:9-10). Edward Lohse skryf in The New Testament Environment dat die uitdrukking: “die groot krag van God” Simon se “aanspraak om die draer van goddelike openbaring te wees” verteenwoordig (bl. 269). Simon is gedoop en het bloot ’n Christen in naam geword, soos die res van die Samaritane. Die apostel Petrus het egter Simon se ware motiewe herken. In Handelinge 8:22-23 het Petrus hom met sterk woorde tereggewys deur te sê dat hy “in ’n gal van bitterheid en bande van ongeregtigheid” was.

Wie was die Samaritane? Die tweede boek van Konings vertel ons dat die noordelike tien stamme van Israel weggevoer is deur die koning van Assirië en dat Babiloniërs in hulle plek gevestig is. Dié Babiloniese Samaritane het voortgegaan om hul ou Babiloniese heidense gelowe te beoefen, maar met die toevoeging van Bybelse terminologie om te verbloem wat hulle besig was om te doen (2 Kon. 17:33, 41). Alhoewel hulle gehoorsaamheid aan die God van Israel bely het, het hulle nie werklik God se wette gehoorsaam nie (vers 34). In die boeke van Esra en Nehemia word dit later duidelik gestel dat hulle eintlik die vyande van die ware Werk van God geword het.

Die Samaritane het, net soos die Jode, deur die hele wêreld verspreid geraak as gevolg van die veroweringsveldtogte van Alexander die Grote. Daar was Samaritaanse kolonies in verskeie hoofsentra van die Romeinse Ryk asook in Alexandrië, Egipte en Rome. Simon die Towenaar het bewonderaars en volgelinge onder hierdie mense gehad.

Die Samaritaanse geloof, met sy samevoeging van die Babiloniese heidendom en lippediens aan die God van Israel, is ook sterk beïnvloed deur die Griekse filosofie. Simon die Towenaar voeg toe die erkenning van Jesus Christus as die verlosser van die mensdom hierby. Soos Jesus egter verduidelik het: “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here!’ sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is” (Matt. 7:21). Simon het Jesus se naam gebruik, maar het ’n plaasvervangerboodskap verkondig – ’n bood­skap wat weggedoen het met die nodigheid om God werklik te gehoorsaam en Sy gebooie te onderhou!

Eerdman se Handbook to the History of Christianity maak die volgende stelling: “Vroeë Christen­­skrywers het Simon as die fontein van alle dwaalleer beskou” (bl. 100). Die Encyclopaedia Britannica (11de uitgawe) identifiseer Simon die Towenaar in ’n artikel as die “stigter van ’n skool van Gnostiek [godsdienstige filosofie waarvolgens kennis eerder as geloof die sleutel tot saligmaking is, HAT] en as ’n vader van dwaalleer”. Die bekende historikus Edward Gibbon sê die Gnostici het “die geloof van Christus vermeng met talle verhewe maar onduidelike, obskure leerstellings wat hulle afgelei het van die Oosterse filosofie” (The Triumph of Christendom in the Roman Empire, bl. 15).

Gnostisisme (die term wat afgelei is van die Griekse woord vir kennis) was ’n hoogs intellektuele lewenswyse. Dit verteenwoordig ’n vermenging van die Babiloniese verborgenheid (geheimenis), Griek­­se filosofiese bespiegeling en ’n deklaag van Bybelse terminologie. Die Gnostici het Bybelse mededelings nie letterlik opgeneem nie, maar dit aangewend as sinnebeeldige voorstellings om dieper “waarhede” te leer. “Die Mosaïese weer­gawe van die skepping ... is met diep veragting beskou deur die Gnostici” (Gibbon, bl. 13). Gnostici beklemtoon die heidense tweeledigheid met nadruk op die onsterflikheid van die siel en die inherente kwaad van materie. Dit het ook baie ydele bespiegelings oor God se aard en natuur en die geeste­ryk aan die gang gesit. Verskeie Nuwe-Testamen­tiese boeke – insluitende die evangelie van Johannes, Kolossense en die Eerste Sendbrief van Johannes – is geskryf om die Gnostiese dwaalleer wat Simon die Towenaar en talle ander begin versprei het, te weerlê.

Die Hellenistiese kultuur, wat gebiede in die Midde-Ooste en Middellandse See deurtrek het, was ’n alternatiewe wêreldbeskouing – ’n mededinger van die uitgangspunt en waardes van die Bybel. Dit het die heerskappy van rede en logika beklemtoon eer­der as goddelike openbaring. Die latere Grieke, wat verleë was oor die verfoeilike manewales van hulle antieke gode en helde soos vervat in die geskrifte van Homeros en Hesiodos, het die gode en helde as diepsinnige beeldspraak probeer wegredeneer. Dié beskouing tot “geïnspireerde” geskrifte is deur die Hellenistiese Jode, soos Philo van Alexandrië, oor­ge­neem en op die Bybel toegepas. Deur die Ou Testament as ’n sinnebeeld af te maak, was ’n handige instrument vir Gnostici en andere wat gehoor­saamheid aan uitdruklike gebooie wou ont­duik.

Ongeveer 15 jaar ná die doop van Simon die Towenaar ag die apostel Paulus dit nodig om die Kerk in Thessalonika te waarsku: “Want die ver­borgenheid van die ongeregtigheid (wetteloos­heid) is al aan die werk” (2 Thess. 2:7). Omtrent vyf jaar later waarsku Paulus die Korintiërs dat hulle die gevaar loop om verlei te word deur vals apostels wat ’n “ander Jesus” en ’n “ander evangelie” verkondig. Simon en sy volgelinge was in werklikheid dienaars van Satan wat hulle egter as dienaars van Christus voorgedoen het (2 Kor. 11:3-4, 13-15).

Teen die 60’s n.C. het die apostel Judas, die broer van Jakobus en Jesus Christus, die nood­saaklikheid beklemtoon dat Christene [ernstig] moes “stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oor­gelewer is” (Judas 3). Voorts waarsku hy hulle dat sekere mense in die kerkorganisasie ingewurm was en probeer het om genade na wetteloosheid te verander – deur te leer dat God se wet nie meer noodsaaklik was nie (vers 4). In Judas se tyd was die geloof reeds een maal aan die heiliges oorgelewer. Moderne geleerdes wat daarop aan­spraak maak dat teoloë toe in die tweede en derde eeu moes begin om ’n akkurate begrip van God se aard en natuur te probeer formuleer, behoort Judas 3 goed te bestudeer. Dit is duidelik dat Judas nie ’n sogenaamde “progressiewe openbaring” ondersteun het nie.

Die bejaarde apostel Johannes skryf aan die einde van die eerste eeu, byna 30 jaar nadat die Nuwe Testament voltooi is, dat hy te kampe gehad het met dwaalleer wat wyer verspreid was as in die dae van Paulus en Judas. Johannes beklemtoon her­haal­delik die noodsaaklikheid om God se gebooie te onderhou (1 Joh. 2:3; 3:4, 22; 5:3). In 2 Johannes vers 7 beklemtoon hy: “Want baie verleiers het in die wêreld ingekom”. In 3 Johannes verse 9-10 meld hy dat ’n leier genaamd Diotrefes beheer verkry het oor sekere gemeentes in Klein-Asië en besig was om ware Christene, wat lojaal gebly het aan die apostel Johannes en sy leerstellings, uit die Kerk te sit.

Die Kerk in ’n oorgangsfase

’n Gebeurtenis met verreikende gevolge vir die Nuwe-Testamentiese Kerk het omtrent 25 jaar voor Johannes se geskrifte plaasgevind. Dit was toe Jerusalem in 70 n.C. verwoes is deur die Romeinse legioene van Titus. Die Jerusalem Kerk van God, onder die leierskap van Jakobus se opvolger, Simeon (’n neef van Jakobus en Christus), het kort voor 70 n.C. uit Jerusalem na Pella gevlug, ’n afge­sonderde woestyngemeenskap. Ná Simeon se dood ervaar die Jerusalem Kerk van God groot onstabiliteit – hulle het 13 leiers in die volgende 28 jaar gehad.

Baie van die dwaalleerstellings wat vantevore verkondig is, het nou ’n bloeitydperk belewe. Daar­benewens was baie in die Kerk mismoedig en verward. Gebeure het nie verloop soos wat in die alge­meen verwag is nie. Die Kerk het al hoe meer ’n vermenging geword van nuwe heidense bekeer­linge en tweede- en selfs derde-geslag lidmate.

Tydens die laaste deel van die eerste eeu en die begin van die tweede, word die Romeinse Wêreld meer vyandiggesind teenoor die Jode. Verskriklike verdruk­kende wette en hoë belastings is as straf op hulle gelê deur die Romeinse Ryk. Tussen die eerste (66-73 n.C.) en tweede (132-135 n.C.) Joodse opstande is daar talle gewelddadige anti-Joodse bloed­baddens uitgevoer in plekke soos Alexandrië en Antiochië. In teenreaksie kom die Jode in Mesopotamië, Palestina en Egipte in opstand.

Die Christene het ook gereeld as slagoffers gely onder hierdie uitbarstings omdat hulle deur die owerhede beskou is as ’n Joodse sekte. Hulle is egter deur Joodse revolusioniste beskou as verraaiers van Judaïsme en die Joodse politieke ambisies omdat hulle nie teen die Romeine wou veg nie. Gedurende dié periode is honderde duisende sinagoge- en kerkgangers – diegene wat op die Sabbatdae aanbid het en die Skrif bestudeer het – doodgemaak deur die Romeine of deur die gepeupel.

In dié gevaarlike era begin die Romeinse Kerk om onder sy Biskop Sixtus (circa 116-126 n.C.) aan­biddings­dienste op Sondae te hou, en hou op om die jaarlikse Pasga te hou – dié word vervang deur Paassondag en Nagmaal. Dit is die duidelike rekord opgeteken deur Eusebius van Caesarea, ’n geleerde van die laat derde/vroeë vierde eeu en wat bekend geraak het as die “vader van kerkgeskiedenis”. Eusebius het sy inligting aangehaal uit ’n brief van Irenaeus, biskop van Lyons (circa 130-202 n.C.), aan Biskop Viktor in Rome. Dr. Samuele Bacchiocchi erken in sy boek From Sabbath to Sunday: “Daar is wye konsensus van opinie onder geleerdes dat Rome in werklikheid die geboorteplek is van Paas­sondag. Sommige noem dit met reg die ‘Romeinse Pase’” (bl. 201). Wat natuurlik nie algemeen besef word deur nie-Latynse sprekers nie, is dat die Romeine nie die naam “Pase” gebruik het vir hul nuwe feestyd nie; hulle het voortgegaan om dit die Latynse woord vir Pasga, naamlik paschalis, te noem.

Hierdie amptelike wegbreek van die Wet van God was die natuurlike uitvloeisel van die “verborgenheid van ongeregtigheid” wat genade verwar het met wette­loosheid en geleer het dat gehoorsaamheid aan die wet onnodig was. Wanneer ’n gebruik nie nodig geag word nie, is dit slegs ’n kwessie van tyd voordat dit gerieflikheidshalwe verander word of afgeskaf word. Toe die konflik tussen Judaïsme en die Romeinse Ryk vererger, het baie “Christene” in Rome onder die leierskap van Biskop Sixtus, stappe geneem om te verhoed dat hulle enigsins as Jode beskou sou word en dus vervolg sou word.

In 135 n.C., teen die einde van die Tweede Joodse Opstand, stel die Romeinse Keiser Hadrianus (Publius Aelius Hadrianus) drastiese maat­­reëls in teen die Jode. Hy herdoop Jerusalem na homself en die “god” Jupiter Capitolinus – Aelia Capitolina – en lê die doodstraf op vir enigeen wat “Jood” genoem is en dit sou waag om die stad binne te kom.

Op hierdie stadium word Marcus, ’n Italianer, die biskop van Jerusalem, soos Edward Gibbon aanhaal in die vyftiende hoofstuk van sy beroemde Decline and Fall of the Roman Empire: “Met sy [Marcus] se oorreding het die grootste gedeelte van die ge­meente die Mosaïese wet, ’n gebruik waarin hulle reeds langer as ’n eeu volhard het, afgesweer. Deur hierdie offer van hulle gewoontes en vooroordele het hulle vryelik toegang tot die kolonie van Hadrianus bekom en hulle verbintenis met die Katolieke Kerk stewiger gevestig” (vol.1, bl. 390).

Wat het geword van diegene wat volhou dat die Wet van God bindend was op Christene? Gibbon skryf: “Die misdade van dwaalleer en afsplitsing is toegeskryf aan die obskure oorblyfsel Nasareners wat geweier het om hulle Latynse biskop te volg ... Binne ’n paar jaar ná die terugkeer van die kerk na Jerusalem het dit ’n saak van twyfel en twis geword of ’n persoon wat Christus opreg erken het as die Messias maar steeds volgehou het om die wet van Moses na te kom, enige hoop op saligmaking kon hê” (bl. 390).

Dit was net ’n kwessie van tyd voordat belydende Christene, wat opgehou het om die Sabbat te onder­hou, hulle “verjoodse broeders uitgesluit het van die hoop op verlossing ... en geweier het om enige omgang met hulle te hê in algemene kontak soos vriendskap, gasvryheid en sosiale lewe”.

Ongelooflik! Dít gebeur al het hulle almal net ’n paar jaar vantevore God se Feesdae saam onder­hou. Nadat Biskop Markus egter “nuwe waarheid” ingebring het, het die meeste belydende Christene saam met hom daardie getroue Christene wat vasgehou het aan die geskiedkundige geloof waarin hulle almal onderrig is, veroordeel. Diegene wat lojaal gebly het aan die waarheid is gou vermy as ’n bron van “verdeeldheid” deur die oorgrote meerder­heid wat die geskiedkundige Christenskap met iets anders wou vervang.

’n Teologie van “nuwe waarheid”

Baie van die “Christen” geskrifte wat sedert die tweede eeu behoue gebly het, verskil totaal van die teologie van die apostel Johannes wat slegs 10 of 20 jaar tevore geskrywe is. Dr. Bacchiocchi het die volgende mening: “Ignatius, Barnabas en Justinianus wie se geskrifte ons hoof inligtingsbron is vir die eerste helfte van die tweede eeu, was getuies van en het deelgeneem aan die proses om van Judaïsme te skei – die proses wat die meerderheid Christene daartoe gelei het om die Sabbat te laat vaar en Sondag as die nuwe dag van aanbidding aan te neem” (bl. 213). Ignatius van Antiochië skryf in ongeveer 110 n.C.: “Dit is verskriklik om van Jesus Christus te praat en Judaïsme te beoefen” (Magnesiane, 10). Hy het ook gepraat van “die Sabbatte nie meer onderhou nie”. Daarenteen beklem­toon Johannes, wat sy evangelie skaars 20 jaar vantevore geskryf het, dat Jesus dieselfde Feeste as die Joodse gemeente onderhou het (Joh. 7:2; 11:55).

Barnabas van Alexandrië – moet hom nie verwar met die apostel Barnabas nie – beweer in sy send­brief wat omtrent 130 n.C. geskryf is dat die Ou Testament ’n sinnebeeld (allegorie) is en nie bedoel is om letterlik opgeneem te word nie. Hy beskou die verbodsbepaling in die wet teen die eet van onrein vleis as ’n sinnebeeld van die tipe mense wat Christene behoort te vermy (Epistle of Barnabus, 10). Hy probeer ook om die Sabbat te versinnebeeld deur te sê: “Ons onderhou die agtste dag in vreugdevolle herinnering van die dag waarop Jesus opgestaan het” (Epistle of Barnabus, 15).

Twee prominente tweede-eeuse teoloë wat ’n belangrike rol gespeel het in die oorgangsperiode van Bybelse teologie na die Rooms Katolieke s’n, was albei gedoop in kerke wat onder die leierskap van die getroue Polycarpus gestaan het. Polycarpus (circa 69-155 n.C.) was ’n persoonlike dissipel van die apostel Johannes en een van die min kerkleiers van sy tyd wat aan die waarheid vasgehou het. Hierdie twee mans, Justinianus Martelaar (circa 95-167 n.C., ook bekend as Justin Martyr) en Irenaeus (circa 130-202 n.C.) het, terwyl hulle onder Polycarpus geleer het, ook gepoog om in te skakel by die nuwe rigting van die Roomse teologie, sogenaamd ter wille van “kerkeenheid”. Alhoewel Irenaeus weg­beweeg het van baie van Polycarpus se leerstellings, het hy ’n lewenslange bewondering behou vir Polycarpus as ’n groot man van God.

Justinianus was ’n Griek uit Samaria wat ’n Plato­nistiese filosoof geword het en toe onder invloed van Polycarpus en sy dissipels in ongeveer 130 n.C. in Efese gedoop is as ’n Christen. Hy het in 151 n.C. in Rome aangekom, ’n skool gevestig en toe in 167 n.C. ’n marteldood gesterf. Ná sy aankoms in Rome het Justinianus probeer om die middeweg te hou aangaande die wet. Henry Chadwick skryf:

“Justinianus het geglo dat ’n Joodse Christen eintlik vry was om die Mosaïese wet te onder­hou sonder om op enige wyse sy Christelike geloof in te boet, en selfs dat ’n Heidense Christen wel Joodse gebruike mag onderhou as ’n Joodse Christen hom daartoe beïnvloed het; maar daar moes onthou word dat sodanige onder­houding eintlik maar kwessies van on­verskil­ligheid en persoonlike gewete was. Justinianus moes egter erken dat ander Heidense Christene nie so ’n liberale oogpunt gehad het nie en geglo het dat diegene wat die Mosaïese wet onderhou, nie gered sou word nie” [The Early Church, bll. 22-23).

Irenaeus het in Klein-Asië groot geword en as tiener vir Polycarpus hoor preek. Hy is as jong man na Rome en het in 179 n.C. die biskop van Lyons in Frankryk geword. Irenaeus word beskou as die eerste vername Katolieke teoloog en het blykbaar baie moeite gedoen om vrede en ’n versoenende gesindheid te bevorder. Sy begeerte vir vrede was so groot dat hy egter bereid was om die Waarheid op te offer om kerkeenheid te kon behou. Die kerke in Klein-Asië het onder Polycarpus se leierskap die Sabbat en die Heilige Dae onderhou. Toe Irenaeus in Rome aankom, het hy gewillig toegegee aan die Romeinse gebruike om Sondag en Paasfees te hou. In Lyons was daar party mense wat die Pasga op 14 Abib gehou het en ander wat die Paasfees gehou het. Irenaeus het die Paasfees gehou, maar gepoog om verdraagsaam te wees teenoor diegene wat nog steeds die Pasga gevier het.

’n Teologiese revolusie het inderdaad in die tweede eeu in die Kerk plaasgevind. Let hierop: “Justinianus die Martelaar beklee ’n sen­trale posisie in die geskiedenis van die Christelike denkwyse van die tweede eeu ... Justinianus het ook die denke van Irenaeus, biskop van Lyons, gevorm” (Chadwick, bl. 79). Alhoewel Justinianus ’n belydende Christen in Efese geword het, het hy “dit nie nodig geag om sy filosofiese ondersoeke te staak of selfs alles wat hy van Plato geleer het, te verloën nie” (bl. 75). Hy het geglo dat die God van Plato ook die God van die Bybel was. “Justinianus het nie rigiede en eksklu­siewe eise van goddelike openbaring aan die Jode ondersteun ten koste van die waarde wat ander bronne van wysheid kon bied nie. Abraham en Sokrates is gelyke Christene voor Christus” (bl. 76). Hierdie benadering het die weg gebaan vir die hervorming van die Christelike teologie om baie Griekse filosofiese denke rakende God se natuur en aard te aanvaar.

Ten spyte van al hierdie dinge het Justinianus ook die gesag van die boek van Openbaring erken en geglo dat “Christus sou terugkeer na ’n herboude Jerusalem om vir ’n duisend jaar met Sy heiliges te regeer” (bl. 78).

Irenaeus, sterk onder Justinianus se invloed, het ook stukkies en brokkies van die Waarheid behou ten spyte daarvan dat hy ingeval het by Romeinse gebruike. Hy het tereg geleer dat “die doel van ons bestaan is om karakter te bou deur die bemees­tering van moeilikhede en versoekings” (bl. 81). Hy het ook vasgeklou aan die letterlike hoop van ’n aardse millennium wanneer Christus op die aarde sou regeer, en het verder gepreek teen die inter­pretasie dat die duisendjarige hoop simbolies van die hemel sou wees. Hy het egter in latere geskrifte sy standpunt oor laasgenoemde gewysig.

Die Waarheid laat vaar ten gunste van eenheid en tradisie

Daar was twee fundamentele dwalings wat belydende Christene onderskei het van diegene wat werklik die voortsetting was van die Kerk wat Jesus gebou het. Hierdie dwalings het te doen gehad met die oortuiging of God se wet nog verpligtend was vir Christene, en wie en wat God is. Dwalings op hierdie twee punte het gelei tot ’n wyer wordende uiteenlopendheid tussen die bely­den­de Christelike kerk en die ware Kerk van God.

Vanaf ongeveer 50 n.C. tot 200 n.C. was die belangrikheid van die wet een van die grootse geskilpunte. Dié geskil is eers finaal beslis tydens die Raad van Nicea (325 n.C.) en die Raad van Laodicea (363 n.C.) toe die Romeinse staat daarby betrokke geraak het. Die kern van hierdie konflik is bewaar in die konfrontasie tussen Polycrates van Klein-Asië en Viktor, die biskop van Rome, om en by die jaar 190 n.C. Polycrates was die opvolger van Polycarpus, wat weer ’n dissipel was van die apostel Johannes. Irenaeus het geskryf dat Polycarpus in die middel van die tweede eeu na Rome gereis het om Anicetus, die biskop van Rome, te probeer oortuig van die korrekte tydsperiode om die Pasga te onderhou. Anicetus het beweer dat hy gebind was deur die tradisie van sy voorgangers vanaf Biskop Sixtus, terwyl Polycarpus verklaar het: “Hy het dit [die Pasga] altyd saam met Johannes, die dissipel van ons Here, gehou, en met die res van die Apostels, met wie hy omgegaan het ...” (Eusebius, xxiv).

Omtrent 50 jaar ná Polycarpus se reis het Viktor van Rome probeer om die kerke van Klein-Asië te intimideer om hulle te skaar by die Roomse gebruik van Paasfees. Polycarpus het aan Viktor geskryf:

“Ons onderhou derhalwe die ware dag [Pasga]; sonder om daarby te voeg of daarvan weg te neem. Want in Asië het groot ligte aan die slaap geraak, wat weer sal opstaan op die dag van die Here se verskyning, wanneer Hy in glorie uit die hemel sal kom en al die heiliges sal opwek; Filippus, een van die twaalf Apostels, wat slaap in Hierapolis ... Johannes, wat aan die boesem van die Here gelê het ... Polycarpus van Smirna ... Almal van hulle het die Pasga op die veertiende dag onderhou volgens die evangelie, en geensins daarvan afgewyk nie, maar die reël van die geloof gevolg ... en my familielede het altyd die dag onderhou wanneer die mense die suurdeeg weggegooi het [Abib 14]. Ek, broeders, wat nou 65 jaar in die Here is, het met die broeders dwarsoor die wêreld gepraat, ek het die hele heilige Skrif bestudeer, ek is geensins beangs oor die dinge waarmee ek gedreig word, om my te intimideer nie. Want hulle wat groter as ek is, het gesê: ‘Ons moet eerder vir God gehoorsaam as vir mense’” (Eusebius, xxiv).

Terwyl verskeie geskille gedurende die tweede eeu gewoed het, sou ’n nuwe benadering tot kerk­gesag verreikende gevolge hê. Hierdie benadering was ’n beklemtoning van wat die Apostoliese Op­volging genoem is.

In die eerste eeu het Paulus die mense van Berea geloof vir hulle gesindheid om “sy leerstellings te toets” deur daagliks die Skrif te ondersoek om vas te stel of hy die waarheid verkondig het (Hand. 17:11). Hy het die Christene in Thessalonika só onderrig: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thess. 5:21). Ons vind dat regdeur die eerste eeu daar gereeld ’n beroep op die Skrif gedoen is.

Maar, met die geskrifte van Clemens, biskop van Rome, begin ’n nuwe beklemtoning na vore kom. Clemens skryf ’n brief aan die Kerk in Korinte om en by 100 n.C., waarskynlik kort na Johannes se dood. Die redakteurs van Masterpieces of Christian Literature som Clemens se hoof idees soos volg op: “Die weg na vrede en enigheid is deur gehoor­saam­heid aan gevestigde gesag, die ouderlinge. Christus regeer die kerke deur die Apostels, die biskoppe deur hulle aangestel, en die goedgekeurde opvolgers van die biskoppe”.

Omtrent tien jaar later beklemtoon Ignatius die­selfde punt: “Eenheid en vrede in die kerk en die geldig­heid van die kerk word verkry deur getrouheid aan die biskop ...” (Masterpieces).

Teen die middel van die volgende eeu het die bewerings so geweldig gegroei dat Cyprianus van Noord-Afrika sê: “Die fokus van eenheid is die biskop. Om hom te verlaat, is om die kerk te verlaat, en hy wat die kerk nie as sy moeder het nie, kan nie God as sy Vader hê nie” (Chadwick, bl. 119).

Hierdie bewerings is gemaak om broeders binne ’n organisasie te hou wat vinnig besig was om te ont­wikkel in die organisasie wat ons vandag ken as die Rooms-Katolieke Kerk. Hoe verskil hierdie oproepe nie van dié van Paulus en ander Nuwe-Testamen­tiese leiers wat na die Skrif en die vrugte van hul bediening verwys ter stawing nie (verwys 1 Kor. 11:1; Hand. 17:2). Omdat kerkleiers in die tweede en derde eeue nie meer uitdruklik staat gemaak het op die Skrif nie, het hulle al hoe meer hulle eise op die lojaliteit van die broeders gebaseer, op hulle aanspraak dat hulle die wettig ver­ordende opvolgers was van die apostels en die biskoppe wat hulle opgevolg het.

Terwyl hulle al hoe meer die leerstellings van die Apostels laat vaar het, het hierdie bedrieërs gepoog om die broeders bymekaar te hou met pleidooie tot eenheid en ter nagedagtenis van die Apostels.

HOOFSTUK 2

’n Dramatiese oorgang

Hoe het so baie dan so ver en so vinnig beweeg? Dit is die vraag wat ons tussen die oë tref wanneer ons die geskiedenis van die vroeë Kerk bestudeer.

Ten tye van die apostel Johannes se dood aan die begin van die tweede eeu n.C. het die Christelike beweging, alhoewel dit baie probleme en vals leraars gehad het, tog ’n herkenbare ooreenkoms getoon met die Kerk van God soos dit in die boek van Handelinge beskryf word. Teen die begin van die derde eeu n.C. het die meeste van dié ge­meentes, al het hulle hulself nog steeds as die “Kerk van God” beskou, egter baie meer ooreenkomste getoon met die latere leerstellings van die Middel­eeuse Katolieke Kerk as met die Kerk van God in die tyd van die apostels Petrus, Jakobus, Paulus en Johannes.

Gedurende die tweede eeu vind daar ’n aantal geleidelike verskuiwings in beide die leerstellings en gebruike van die oorgrote meerderheid van die gemeentes plaas. Die toneel is voorberei vir daardie ver­skui­wings deur party van die idees wat reeds ver­kondig is net ’n paar jaar ná Christus se opstanding en hemelvaart. Idees het altyd gevolge!

’n Ander Evangelie

Christus het Sy bediening gewy aan die verkon­diging van die “Goeie Nuus” van ’n toekomstige goddelike regering wat die onderdrukkende menslike regerings wat Christus se luisteraars so goed geken het, sou vervang. Die dissipels het vir tekens gevra wat sou aandui wanneer dié tyd naby sou wees (Matt. 24:3). Die laaste vraag wat hulle gevra het toe Hy voorberei om na die hemel op te vaar, was of dit toe tyd was dat daardie Koninkryk gevestig sou word (Hand. 1:6). In die laaste stadium van Paulus se bediening waarvan ons kennis dra, het Paulus steeds “die Koninkryk van God gepreek en onderrig gegee ... aangaande die Here Jesus Christus, met volle vrymoedigheid sonder enige verhindering” (Hand. 28:31)! Selfs in die laaste geïnspireerde boek van die Nuwe-Testamentiese kanon het Jesus Christus die apostel Johannes geïnspireer met visioene omtrent die letterlike vestiging van die konin­kryk van God hier op aarde (Op. 19:11-21; 20:4-6; 21).

Ten spyte van hierdie duidelike verslag van Jesus Christus se maklik verstaanbare lering, lees ons egter in 2 Korintiërs 11:3-15 dat daar reeds binne 25 jaar ná die vestiging van die Nuwe-Testamentiese Kerk vals predikers in die Kerk ingesluip het wat besig was om, wat Paulus dit genoem het, ’n “ander evangelie” te preek. Teen die tweede eeu is die ware Evangelie wat Christus self verkondig het, bestempel deur die leiers van die ontluikende “Ortodokse” Christelike kerk as ’n “twyfelagtige opinie”. Teen die derde eeu was Christus se eie voorbeeld en leringe as flagrante kettery (dwaalleer) beskou. Tydens die tweede en derde eeue het die “evangelie” wat verkondig is uitsluitlik gefokus op die persoon van Jesus. Terselfdertyd het heidense konsepte aan­gaande die onsterflikheid van die siel en ook rakende hemel en hel, groter aanvaarding gekry.

Tot diep in die tweede eeu is korrekte insig oor die Koninkryk van God wel nog gehandhaaf, selfs deur manne soos Justinianus die Martelaar en Irenaeus. Hulle was natuurlik van die spoor af rakende ander aspekte, soos byvoorbeeld hulle leerstelling aan­gaande God se Wet. Edward Gibbon skryf oor hier­die tydperk:

“Die versekering van so ’n Millennium is sorgvuldig ingeskerp by diegene wat gesels het met die direkte dissipels van die Apostels ... Toe die gebou van die Kerk omtrent klaar was, is die tydelike stut eenkant gestoot. Die leerstelling van Christus se regering op die aarde is eers bestempel as ’n sinnebeeldige voorstelling, later as ’n twyfelagtige en nuttelose opinie, en ten slotte verwerp as die belaglike versinsel van dwaalleer en dweepsug” [Decline and Fall, vol.1, hfst. 15].

Dié vooruitgang was hoofsaaklik die resultaat van Origines se invloed. Origines was egter nie een van die mees regdenkende individue wat al as ’n Chris­telike teoloog aanvaar is nie – soos ons later sal sien. Hy het ’n vername rol gespeel in die formulering van die Katolieke leerstellings aan­gaande die Drie-eenheid, die onsterflikheid van die siel en die koninkryk van God.

Toe die grondliggende begrip van die ware aard van die Evangelie en die Koninkryk van God laat vaar is, was daar talle rampspoedige gevolge. Een was dat kerklidmate in die politiek en die weermag betrokke geraak het. Geskiedkundiges is dit omtrent almal eens dat vroeë Christene sulke betrokkenheid vermy het: “Maar terwyl hulle die grondreëls van passiewe gehoorsaamheid ingeskerp het, het hulle geweier om aktief deel te neem aan die siviele administrasie of militêre verdediging van die Ryk” (Gibbon, The Triumph of Christendom in the Roman Empire, bl. 41). Teen die einde van die derde eeu was daar egter “Christelike” legioene in die Romeinse leër. Belydende Christene is vertel dat politieke betrokkenheid aanvaarbaar was.

Die onsterflike siel

Die leerstelling aangaande die onsterflikheid van die siel, wat feitlik universeel is in die heidendom, word nie in die Ou óf die Nuwe Testament aangetref nie. Kyk ’n bietjie na dié erkenning van die Interpreter’s Dictionary of the Bible:

“In die Ou Vertaling van die OT [die leidraad is gedeeltelik doodgevee in moderne vertalings] verteenwoordig “siel” byna sonder uitsondering die Hebreeuse woord nephesh. Die woord “siel” in Engels ... dikwels met botone, kom eintlik van filosofiese Grieks (Platonisme) en van Orphisme en Gnostisisme, wat afwesig is in [nephesh]. In die Ou Testament beteken dit nooit die onsterflike siel nie, maar is essensieel die lewensbeginsel of die lewende wese ... [psuche] in die Nuwe Testament kom dit ooreen met [nephesh] in die Ou Testament ...” [vol. 4, bl. 428].

Hoe het die begrip van ’n onsterflike siel dan die Christendom binnegekom? Reeds in 200 v.C. begin sekere Joodse sektes hierdie idee absorbeer weens die Griekse invloed, en probeer om dit met die Bybel­se leerstelling van die opstanding saam te laat smelt. Dit word geïllustreer deur intertestamentele apokriewe geskrifte soos die boek van Jubileums en Vierde Makabeërs, sowel as deur beide Philo en Josefus. Die Gnostici, met hul klem op heidense twee­ledigheid, beklemtoon die onsterflikheid van die siel in teenstelling met die opwekking van die liggaam. Die International Standard Bible Encyclopedia sê: “Daar is ’n onderskeid tussen ’n Platoniese geloof in bloot die onsterflikheid van die siel en die Bybelse leerstelling aangaande die opstanding van die dooies” (vol.2, bl. 810).

Skrywers in die laat tweede en vroeë derde eeu, soos Tertullianus en Origines, het ’n groot rol gespeel in die vorming van die toekomstige Katolieke leerstellings aangaande die hemel, die hel en die onsterflikheid van die siel. Die ISB Encyclopedia sê voorts die volgende: “Vroeë Christene is dikwels beïnvloed deur Griekse sowel as Joodse denke. So byvoorbeeld is baie beïnvloed deur Pythagoras se leerstelling rakende die siel se verdeling in verskeie dele en sielsverhuising (transmigrasie): Platoniese en Neo-Platoniese [veral Plotinus se] begrippe is die grondslag van Origines se beskouing van die siel. Tertullianus het Stoïsynse denkwyse gevolg ...” (vol. 4, bl. 588). Die Encyclopedia of Religion meld dat baie invloedryke Katolieke teoloë “almal die Bybelse konsepte van die siel volgens Platoniese denke en volgens die algemene tradisie van Origines en sy skool geïnterpreteer het”.

Die Drie-eenheid

Daar was nie net een dwaalleer aangaande die aard van God nie, maar baie verskillende teen­strydige dwaalleerstellings. Daar was skynbaar net so baie verskillende idees as wat daar filosofiese skole en leermeesters was. Die hoofstroom Katolieke denke, waaruit ortodokse Protestantse leerstellings oor dié onderwerp ontstaan het, verteenwoordig slegs die spesifieke dwaalleer wat oor al die teenstrydige leerstellings geseëvier het. Omdat hier­die leerstelling, met enkele aanpassings, tot ons tyd oorleef het, is dit die een wat ons noukeurig sal ondersoek.

Die agtergrond tot derde-eeuse ortodokse gods­diens­beskouings oor die Drie-eenheid is nie in die Bybel te vind nie, maar in Griekse filosofiese geskrifte. Die Roman Catholic New Theological Dictionary gee ’n paar eerlike erkennings in hierdie verband. Rakende die Skriftuurlike leerstelling oor die aard van die Heilige Gees, die volgende erkenning in die artikel “Trinity:” “As sodanig is die Gees nooit die uitdruklike onderwerp van aanbidding in die Nuwe Testament nie, en word die Gees nooit in NT-gesprekke voorgestel as sou dit op ’n interpersoonlike wyse met die Vader en die Seun kommunikeer nie”.

Later in dieselfde artikel tydens die bespreking van die agtergrond van ortodokse leerstelling oor die Drie-eenheid, erken moderne Katolieke geleerdes die heidense invloede op hulle teologie:

“Christene ... bekend met die destydse dominante filosofie van middel-Platonisme het die geleentheid aan­ge­gryp om die Christelike boodskap in die wydverspreide Hellenistiese gemeen­­skap te verklaar volgens ’n denk­patroon wat betekenisvol was vir die opge­voede klasse. Hierdie beweging, wat in die algemeen deur die Katolieke teologie as positief beskou is, sou ’n geweldige uitwerking hê op die ontwikkeling van Christelike teologie ... Oortuig dat die God wat hulle [die heidense Griekse filosowe] gepreek het, die Vader van Jesus Christus was en dat die verlossing wat hulle verkondig het dié van Jesus was, het die verdedigers baie van die Hellenistiese wêreld­beskouing aangeneem ... [Tertullianus het], sover bekend, die eerste keer die term “drie-eenheid” gebruik.

Origines het die filosofie van die middel-Platonisme meer sistematies as die ver­dedigers en Tertullianus aangewend. In werklik­heid was sy “konsep van ewige voortplanting” ’n aanpassing van die middel-Platoniese leer­stelling dat die hele wêreld van geestelike wesens ewig was. Die Seun is ewigdurend afgelei (of voortgeplant) uit die ware wese van God en is dus deel van die Vader se essensie, maar is tweede geplaas tot die Vader ... Origines het, soos Tertullianus, ’n generiese term vir “drie” in die god­delike drietal geskep. Die Vader, die Seun en die Heilige Gees is “drie hipo­stases” ... Origines se groot bydrae tot die formulering van die Drie-eenheid­leerstelling is die idee van ewige voortplanting. Sy generiese term vir die “drie” (hipostases) sal aangeneem en verfyn word in die vierde eeu” [bl. 1054].

Wanneer ons na die ontwikkeling van “Christelike” teologie in die laat tweede en vroeë derde eeu kyk, dan verskyn die name van Tertullianus en Origines tel­kens. Tertullianus (circa 150-225 n.C.), die soge­naam­de vader van Latynse teologie, was “een van die magtigste skrywers van die tyd en amper so invloedryk soos Augustinus in die ontwikkeling van teologie in die Weste” (Eerdman, Handbook to the History of Christianity, bl. 77).

Tertullianus het in Carthago geleef en was een van die eerstes om te leer dat ’n vurige hel met die dood begin. In sy latere jare het hy van Rome weggebreek en ’n Montanis geword. Dit beteken dat hy die bewerings aanvaar het van twee duiwelbesete vroue wat hulself profetesse genoem het. Hulle het in ekstatiese waansin gegaan en in “tale gespreek”, beweer dat hulle die “Paraklete” was (’n term vir die Heilige Gees in Johannes se evangelie), en ’n boodskap verkondig wat die “Nuwe Profesie” genoem is.

Origines (circa 185-254 n.C.) “was die ver­naamste geleerde en mees vrugbare skrywer van die vroeë kerk” (Eerdman, bl. 104). In ongeveer 203 n.C. volg Origines vir Clemens van Alexandrië op as leier van ’n beroemde skool wat beweer dat dit Christene vir die doop voorberei en wat kursusse in filosofie en natuurwetenskap vir die algemene publiek aan­gebied het. Met sy reputasie as ’n vername geleerde en leermeester in die teologie, hoeveel het Origines in werklikheid verstaan? Volgens die vierde-eeuse kerkhistorikus, Eusebius, het Origines homself gekastreer kort nadat hy die skool in Alexandrië oorgeneem het! Hierdie daad was gebaseer op sy begrip (of liewer wanbegrip!) van Christus se woorde in Mattheus 5:29-30.

Hierdie selfde totale gebrek aan helder deurdagte insig van die ware betekenis en bedoeling van die Heilige Skrif word skerp weergegee in baie van sy teologiese geskrifte. “Origines het die moontlikheid van ’n genesende hel [vagevuur] bekend gestel” (Inter­national Bible Encyclopedia, “Hell”). Hy het ook ’n belangrike rol gespeel in wat later ontwikkel het as die Katolieke Maria-aanbidding deurdat hy eerste die idee voorgestel het dat Maria ’n maagd gebly het ná die geboorte van Jesus.

Godsdienstige kuns gebruik in aanbidding

Een van die mees dramatiese veranderings wat die kerk na die eerste eeu beïnvloed het, was die gebruik van godsdienstige kuns in aanbidding. Hierdie nuwigheid was so duidelik deel van die afgodery wat deur die tweede gebod verbied is dat dit stadig aanklank gevind het. Let hierop:

“Beide Tertullianus en Clemens van Alexandrië het hierdie gebod beskou as absoluut en bindend op Christene. Afdrukke en kultiese beelde het aan die duiwelse wêreld van die heidendom behoort. Eintlik was die enigste bekende tweede-eeuse Christene wat beelde van Christus gehad het radikale Gnostici ... Tog, voor die einde van die tweede eeu het Christene vrylik hul geloof in kunstige terme uitgedruk” (Henry Chadwick, The Pelican History of the Church, bl. 277).

Die vroegste voorbeeld van ’n kerk met prente aan die mure, was ’n derde-eeuse gebou in Dura aan die Eufraat. Selfs toe was dit hoofsaaklik Ou-Testamen­tiese tonele. So laat as in die tyd van Keiser Konstantyn was baie leiers van die belydende Christelike kerk nog geskok deur die idee om prente of beelde van Christus te besit. Ons lees:

“Teen ongeveer 327 [n.C.] het die geleerde geskiedkundige, Eusebius van Caesarea, ’n brief ontvang van die Keiser se suster, Konstantia, wat hom om ’n prent van Christus gevra het ... Eusebius het haar baie stroef geantwoord. Hy was goed daarvan bewus dat ’n mens prente van Christus en die Apostels kon raakloop. Hulle was te koop in die basaars van Palestina en hy het dit self gesien. Maar, Eusebius het nie gedink dat die skilders en die winkeleienaars wat hierdie aandenkings aan pelgrims verkoop het Christene was nie ... [hy] neem dit as vanselfsprekend aan dat slegs heidense kunstenaars sou droom om sulke voorstellings te maak” (ibid., bll. 280-281).

Epiphanius van Salamis, ’n vierde-eeuse kerkleier, was geskok om ’n gordyn met ’n sogenaamde prent van Christus aan te tref in ’n kerkportaal in Palestina. Hy het nie net ’n vurige protes by die biskop van Jerusalem ingedien nie, maar het persoonlik die gordyn afgeruk en vernietig. Ten tye van sy dood in 403 n.C. het afbeeldings van Christus en die heiliges toenemend wydverspreid voorgekom. Dit het gepaard gegaan met verering van Maria; wat teen 400 n.C. al hoe belangriker geword het in private aanbidding.

Die keiserlike kerk

Ná bykans drie eeue waarin die Romeinse regering Christene aan en af vervolg het, is die Edik van Verdraagsaamheid in 313 n.C. in Milaan uitgereik. Kort daarna het Christelikheid gevorder van ’n godsdiens wat bloot verdra is deur die Romeinse Ryk, tot die amptelike staatsgodsdiens van die Ryk. Was hierdie gebeurtenis ’n sukses vir die kerk wat Jesus Christus gebou het? Het ware Bybelse Christelikheid die oorwinning behaal in die Romeinse Ryk?

Stellig nie! Wat ons hier sien, is ’n heidense godsdiens wat Christelike terminologie toegeëien het terwyl dit heidense tradisies behou het – en dit is alles afgedwing deur die Romeinse keiser, Konstantyn. Dié godsdiens het baie verskil van die Judeo-Christelike Kerk wat Jesus Christus self in die eerste eeu gevestig het en wat vervolg is. Konstantyn het die belangrike rol verstaan wat godsdiens kon speel in die vereniging van sy ryk en om die volksmenigte ’n gemeenskaplike identiteit te gee. Gemotiveer deur hierdie politieke oor­wegings, smee Konstantyn ’n verdrag met die biskop van Rome en begin die proses van ’n “gestan­daardi­seerde” soort “Christelikheid” dwarsdeur sy Ryk. Hy was verantwoordelik vir die hou van die Raad van Nicea in 325 n.C. en het eintlik self die voorsitterstoel ingeneem. Hou in gedagte dat Konstantyn toe nie eens gedoop was nie! In werklik­heid het hy die doop uitgestel tot op sy sterfbed, toe hy te siek was om ondergedompel te word. Sy persoonlike voorbeeld om gedoop te word deur besprinkeling het grootliks daartoe bygedra dat besprinkeling ten gunste van onderdompeling aanvaar is.

Die Raad van Nicea het hoofsaaklik probeer om twee krapperige kwessies te beslis wat nie tevore na behore afgehandel is nie. Dié kwessies het ge­draai om die aard van God sowel as die Paasfees/ Pasga-vraag. Gerugsteun deur keiserlike gesag het die beskouing van die Roomse Kerk geseëvier by Raadslede. Alle teenkanting is verpletter.

Konstantyn was ook verantwoordelik dat die “eerwaardige dag van die Son” as ’n staats­vakansie­dag verklaar is waartydens die howe gesluit sou wees en die meeste besighede ook hul deure sou sluit.

Hierdie Romeinse keiser was voorheen ’n aanbidder van Sol Invictus (“die Onoorwonne Son”) en met sy “bekering” het baie grondidees van sonaanbidding, soos die gebruik van die kruis en die stralekrans in kunswerke, die “Christendom” binnegekom. Op hierdie stadium het ’n stortvloed bekerings onder die bevolking ook begin plaasvind. Om dit aan te help, is gewilde vakansiedae soos Saturnalia en Lupercalia ingestel as nuwe “Christelike” vierings, nou bekend as Kersfees en Valentynsdag. Die leiers van die kerk in Rome het beweer dat hulle slegs die weg verbreed het om sodoende die Christelikheid meer toeganklik te maak vir die volksmassa, en gewis minder “Joods”. Anti-Semitisme was ’n motiverende krag in Roomse Christelikheid.

Waar was die Kerk wat Jesus gebou het?

Wat het van die Kerk geword wat gestig is op daardie Pinksterdag in 31 n.C. met die uitstorting van God se Heilige Gees? Waar was Christus dan, en waarmee was Hy besig in dié tyd?

In die tweede en derde hoofstukke van die boek van Openbaring vind ons boodskappe wat Christus aangeteken het vir die sewe kerke in Klein-Asië. In een hoofstuk sien die apostel Johannes ’n visioen van die verheerlikte Christus wat in die middel van sewe goue kandelare staan. Hierdie sewe kandelare verteenwoordig die Kerk van God as geheel deur haar geskiedenis. (Op. 1:12-20). Die sewe stede van Klein-Asië wat in Openbaring genoem word, was agtereenvolgende stilhouplekke op die Romeinse pos­roete. Wat is die betekenis van hierdie sewe bood­skappe?

Dit is baie duidelik dat daar ’n historiese toepassing van hierdie boodskap is aan die sewe letterlike gemeentes van die eerste eeu. Bykomend –wat vir ons vandag van belang is – hierdie gemeentes stel gesindhede en probleme voor wat die Christengemeenskap, sowel as individuele Christene, mag kenmerk in die jare sedert Johannes geskryf het (sien Openbaring 2:7).

As ons egter na die konteks van die boek van Openbaring kyk, moet ons erken dat dit hoof­saaklik bedoel is as ’n profesie. Openbaring 1:1 toon dat die boek se doel is om aan God se dienaars daardie dinge te wys wat binnekort sou plaasvind. Dus moet ons verstaan dat die sewe kerke hoofsaaklik verteenwoordigend is van die hele geskiedenis van God se Kerk gedurende sewe agter­eenvolgende kerktydperke of eras.

Die eerste Kerk wat aangespreek word in Openbaring 2 is die Kerk in Efese. Hierdie Kerk het die era van die Apostels gekarakteriseer. In vers 2 lees ons dat die groot toets vir daardie eerste era gelê het in die bepaling van wie die ware Apostels van Christus was en wie die leuenaars was (verwys 2 Kor. 11:3-15). Dié era het lank en hard gewerk om die Werk van God te doen en moes baie moeilikhede en vervolging in die proses verduur. Die ware Christene van die era van Efese was diegene wat die gebruike van die Nikolitane (volgelinge van Simon die Towenaar) verwerp en gehaat het.

Ná die verwoesting van die Tempel in Jerusalem in 70 n.C., het mismoedigheid en geestelike sufheid egter ingetree.

Die Sewe Kerke van Openbaring

Die apostel Johannes het boodskappe van Jesus Christus aan die kerke in sewe spesifieke stede in die westelike gedeelte van Klein-Asië (tans die land van Turkye) opgeteken in die tweede en derde hoofstukke van Openbaring. Hierdie stede, wat bekend was vir hulle handel en kommunikasie, was verbind deur hoofpaaie en het gedien as agtereenvolgende stilhouplekke op die Romeinse posroete tydens Johannes se optekening van sy visioen. Let daarop dat Christus hierdie kerke in hulle presiese geografiese volgorde aanspreek. Indien ons erken dat die hele boek van Openbaring as ’n profesie bedoel is (Op. 1:1) en dat sekere verskillende omstandighede wat in die sewe kerke teenwoordig was, nie gelyktydig kon plaasvind nie (sien Op. 2:10; 3:7-8), dan is dit duidelik dat hierdie kerke die geskiedenis van die hele Kerk van God verteenwoordig as sewe Kerk-eras wat in chronologiese volgorde plaasvind.

Dit was op die eiland van Patmos, waarheen Johannes verban was, waar hy sy profetiese visioen ontvang en opgeteken het in die boek van Openbaring.

1. Boodskap aan Efese: “Jy [het] dié op die proef gestel .. wat sê dat hulle apostels is en dit nie is nie ... Maar ... jy [het] jou eerste liefde verlaat” (2:2,4).

2. Boodskap aan Smirna: “Julle sal tien dae lank verdrukking hê. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee” (2:10).

3. Boodskap aan Pérgamus: “Ek ken jou werke ... Ek het enkele dinge teen jou” (2:13-14).

4. Boodskap aan Thiatíre: “Ek ken jou werke ... die laaste [is] meer ... as die eerste” (2:19).

5. Boodskap aan Sardis: “Jy die naam het dat jy leef, en jy is dood” (3:1).

6. Boodskap aan Filadelfía: “Ek het voor jou ’n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie jy het ... my Naam nie verloën nie” (3:8).

7. Boodskap aan Laodicéa: “Omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug” (3:16).


Die broeders het verwag dat Christus sou terugkeer kort nadat die Romeinse leërs Jerusalem omsingel het. Nou het die grootste gedeelte van Judea en Galilea in puin gelê – beset deur die Romeinse legioene. Die Joodse Christene is deur hul landgenote as verraaiers beskou en deur die Romeinse owerheid as moontlike kwaadstokers. Die lewe was moeilik en gevaarlik.

Hierdie era het hulle eerste liefde verlaat, daardie vroeë ywer om die Werk te doen. Die lidmate het hul fokus aangaande die leerstellings, gebruike en prioriteite wat aan hulle hul ware identiteit en doel gegee het, begin verloor.

Die lewende Christus se boodskap aan Christene van die Efesiese era was dat as hulle hulle nie sou bekeer en weer terugkeer na hulle oorspronklike dade om die Evangelie entoesiasties te verkondig nie, Hy hulle kandelaar sou verwyder. Die geloofs­versaking van die oorgrote meerderheid in die Jerusalem Kerk in 135 n. C. (toe die Tweede Joodse Opstand teen Rome totaal verpletter is) word algemeen as die einde van die era van Efese gekenmerk. Diegene wat in hierdie moeilike tyd getrou gebly het, is deur die groter kerk geklassifiseer as “Nasareners” (verwys Hand. 24:5) en “Ebioniete” (arm mense). Net soos dit ook vandag die geval is, was daar ’n groot verskeidenheid “onafhanklike” groepe met ’n wye reeks idees, wat waarheid met dwaling vermeng het en saam met die ware Kerk van God bestaan het. Somtyds is hierdie groepe ook deur die Roomse Kerk beskou as mede-”ketters” van die “Nasareners” of “Ebioniete”.

Die kerk in Smirna is die tweede van die sewe kerke wat in Openbaring aangespreek word. Die apostel Johannes is oorlede in Efese teen die einde van die eerste eeu. Die volgende getroue leier in Klein-Asië was Polycarpus, die biskop van Smirna, soos ons reeds in die vorige hoofstuk gesien het. As ’n jong man was Polycarpus ’n persoonlike dissipel van Johannes en hy het by verskeie geleenthede die Pasga saam met hom gevier. Polycarpus het gedurende die eerste paar dekades van die tweede eeu as leier na vore getree. Vir die res van die tweede eeu, was die kerke onder sy leierskap een van die enigstes wat God se Feesdae steeds bly onderhou het. Op sy oudag, het Polycarpus selfs na Rome gereis om die Biskop van Rome, Anicetus, te oortuig van sy dwalinge om nie die Bybelse Paasfeesdatum te onderhou nie, en om in die plek daarvan ’n jaarlikse Paasfeesviering op ’n Sondag en ’n weeklikse Nagmaalsviering (eukaristie) in te stel.

’n Getroue kerkleier Polycrates, wat persoonlik deur Polycarpus onderrig is, het teen die einde van die tweede eeu na vore getree. Hy was die enigste vername Christenleier wat getrou gebly het aan die voorbeeld van die Apostels van die Kerk van God in Jerusalem. Polycrates het die ware Evangelie rakende die letterlike vestiging van die Koninkryk van God hier op die aarde, die bewustelose toestand van die dooies wat op die opstanding wag; die belangrikheid om God se Wet te onderhou en die viering van die Bybelse Feesdae verkondig.

Teen die einde van die tweede eeu het Viktor, biskop van Rome, Polycrates en diegene wat sy leer­stelling gevolg het as ketters en bronne van onmin en skeuring in die kerk geklassifiseer. Polycrates het getrou gebly ten spyte van toenemende druk en verwerping deur sogenaamde “mede-Christene”, asook ten spyte van vervolging en vyandigheid afkomstig van die heidense gemeenskap in die omgewing. Ná sy dood is daar egter geen rekord van enige ander sterk en vername leier in daardie getroue kerke in Klein-Asië nie.

Volgens openbare mening, het ware Christene die stryd verloor teen die meer populêre en tegemoet­komende Roomse Kerk. Hulle getalle het gekrimp en hulle het meer geïsoleerd geraak. Hulle was verag en as “Ebioniete” geklassifiseer deur die algemene kerk, en individue en groepe families wat getrou gebly het, moes hulle in die meer afgeleë dele van Klein-Asië gaan vestig.

Reeds aan die einde van die eerste eeu is ware Christene uit die gemeentes geskors waar afvallige leiers aan die stuur van sake was (3 Joh. 9-10). Teen die tweede eeu, is ander gelowiges, soos die getroues wat geweier het om die “nuwe waarheid” van Biskop Markus van Jerusalem te aanvaar, gedwing om te onttrek van die gemeentes waar hulle lidmate was. Dit het gebeur toe ontroue leiers die sigbare kerk verder en verder op ’n dwaalspoor gelei het.

Die groot toets vir die Smirna era was tweeledig. Een aspek was hulle vermoë om te onderskei tussen die voortsetting van die ware Kerk van God en die organisasie wat in werklik­heid die opkomende Sinagoge van Satan was. Die ander aspek was hulle gewilligheid om ver­volging en selfs die dood te verduur om aan God getrou te bly (Op. 2:9-10).

Fisies gesproke was die Christene van hierdie era baie arm en is hulle vervolg. Hulle is deur die vinnig groeiende “Ortodokse” beweging verwerp as ketters, deur die Jode geklassifiseer as afvalliges van die Sinagoge, en deur die heidense Romeinse gemeen­skap met veragting en agterdog bejeën. In God se oë het diegene wat in dié verskriklike tyd getrou gebly het, beskik oor ’n geestelike rykdom van groot waarde en hulle sal uiteindelik ’n kroon van die lewe ontvang (Op. 2:9-10).

Nadat Konstantyn gehoorsaamheid aan die Romeinse teologie in 325 n.C. stelselmatig begin afdwing het, was die res van die ware Kerk van God grootliks gedwing om die grense van die Romeinse Ryk te ontvlug. Hulle het die berge van Armenië ingevlug en later na die Balkan areas in Europa. Hulle getalle was klein, hulle was heeltemal sonder aansien of rykdom, en was geklassifiseer as vyande van die staat deur die sogenaamde “Christelike” Romeinse Ryk.

In God se oë was hulle egter kosbaar. Dit was nie God se doel dat Sy ware Kerk sou groei tot ’n groot, magtige organisasie wat die hele wêreld sou bekeer tot die “Christendom” nie. Sy ware Kerk sou ’n “klein kuddetjie” bly (Luk. 12:32). Die Kerk se voortbestaan sou nie gemeet word aan ’n opeenvolging van trotse, magtige, voorsittende biskoppe in ’n spesifieke stad nie (verwys Heb. 13:14). Die Kerk sou eerder gemeet word aan ’n opeenvolging van getroue, bekeerde persone wat, alhoewel hulle verspreid en vervolg is, sou voortgaan om die Vader in gees en waarheid te aanbid (Joh. 4:23-24).

Daar sou tye wees dat God getroue leiers na vore sou laat kom om Sy volk nuwe krag te gee en ’n Werk te laat doen wat sigbaar sou wees, ten minste in plaaslike gebiede. Daar sou ook ander periodes wees dat God se Kerk so verspreid en onbekend sou wees dat dit net vir God sigbaar sou wees. God se Kerk het nooit uitgesterf nie.

HOOFSTUK 3

Die Kerk in die wildernis

Die nasleep van die Raad van Nicea was dat Keiser Konstantyn en sy opvolgers probeer het om alle tipes Christelikheid wat van hulle idee afgewyk het, uit te wis. Groepe wat geweier het om in te val by die leerstellings en gebruike van die “gevestigde” kerk – nou bekend as die Katolieke (universele) Kerk van God – is nie net as ketters beskou nie, maar as ondermynende vyande van die Romeinse staat.

Die ware Kerk, gesimboliseer deur ’n vrou in Openbaring 12, is gedwing om vir 1260 “dae” die wildernis in te vlug. In Bybelprofesieë verteen­woordig ’n “dag” dikwels ’n jaar (Num. 14:34; Eseg. 4:6). Dus sou die ware Kerk vir 1260 jaar ná die Raad van Nicea moes wegkruip. Volgens die geskiedenis is dit presies wat gebeur het. Alhoewel dit werklik die donker en duister eeue was, het ’n lig egter aanhou brand, en al het sy vlammetjie party­keer geflikker, is dit nooit uitgedoof nie.

Verskeie probleme duik op vir enige kerk­historikus wat die swerftogte van die ware Kerk gedurende dié 1260-jaar periode wil naspeur. Dit is omdat die ware Kerk se geskiedenis nie die vervolgverhaal van een ononderbroke menslike organisasie is nie. Die geskiedenis van die Sabbatonderhoudende Kerk van God het hoofsaaklik “behoue” gebly omdat haar vyande (wat die ware Kerk as ketters beskou het) daardie geskiedenis opgeteken het. Ons lees van groepe wat deur vyandige buitestanders geklas­sifiseer is as die Paulitane, die Bogomille en die Waldense – van wie kleiner of groter gedeeltes klaar­blyklik tydens verskillende periodes ware Christene was, volgens die gietvorm van die Jerusalem Kerk van God in die eerste eeu n.C. ’n Verdere probleem is dat die leerstellings van elk van hierdie groepe met verloop van tyd verander het, en oor die algemeen meer en meer soos dié van hulle Katolieke en Protestantse bure geword het.

Ons vind ook dat skrywers dikwels verskeie groepe onder die ketternaam geklassifiseer het, insluitend die ware Kerk, sonder om werklik ’n onderskeid te tref tussen hulle verskillende leerstellings. Die groot uitdaging in die Kerk­ge­skiedenis is nie net om te onderskei wie wat onderrig het nie, maar om te herken wanneer ’n kerk opgehou het om deel van die ware Kerk te wees en wanneer God daardie ware Kerk na ’n ander plek verskuif het.

Die Kerk vlug na die wildernis

Gedurende die eerste drie eeue van haar bestaan het die Kerk van God afwisselende periodes van erge vervolging ondervind. In daardie tye is hulle egter nie uitgesonder nie maar gewoonlik saam­ge­gooi met die Jode en ’n wye verskeidenheid Christus­belydende sektes. Daardie vervolgings was van korte duur en plaaslik in omvang. Die Romeinse Keiser Diocletianus het van 303 tot 313 n.C., in die 10-jaar periode voor die Raad van Nicea, die ergste ver­volgings geloods. Dit is die “tien dae” waarna verwys word in Openbaring 2:10.

Toe Konstantyn sy mag in die Ryk konsolideer, begin sake betekenisvol verander. Gibbon vertel ons dat Konstantyn se godsdienstige aanbidding “... spesifiek gerig was tot die grootsheid van die Son ... en hy was ingenome om verteenwoordig te word deur die simbole van die God van Lig en Digkuns. Die onfeilbare ligstrale van daardie godheid, die helderheid van sy oë ... maak hom oënskynlik die beskermheer van ’n jong held. Die altare van Apollo is bedek met Konstantyn se gelofte-offers; en die goedgelowige menigtes is geleer om te glo dat die Keiser toegelaat was om met sterflike oë die sigbare majesteit van hulle beskermende godheid te aanskou ... Die Son is universeel verheerlik as die onsigbare gids en beskermer van Konstantyn” (The Triumph of Christendom, bl. 309).

Vier jaar voor die Raad van Nicea vaardig Konstantyn ’n wet uit vir die Romeinse Ryk wat verreikende gevolge vir God se mense sou hê. “Die vroegste herkenning van Sondagaanbidding as ’n wetlike plig was ’n instelling deur Konstantyn in 321 n.C., en het gelas dat alle geregshowe, inwoners van dorpe en werkswinkels in rus moes wees op Sondag (venerabili die solis, d.i. die eerbiedwaardige dag van die Son) ... Dit was die eerste in ’n lang reeks keiserlike bepalings, waarvan die meeste in die Kode van Justinianus opgeneem is”. Omtrent veertig jaar later volg die Katolieke Kerk hierdie keiserlike edik op in “kanon [29] van die Raad van Laodicea [363 n.C.] wat Christene verbied om te verjoods en op die Sabbatdag te rus, en hulle in werklikheid gelas om op daardie dag te werk” (Encyclopaedia Britannica, 11de uitg., art. “Sunday”).

Die blote feit dat die Romeinse Kerk dit in die laaste gedeelte van die vierde eeu nodig geag het om wetgewing teen Sabbatonderhouding uit te vaar­dig, wys dat getroue groepies gelowiges, hoofsaaklik in Klein-Asië, volhard het in die waarheid. Hierdie toenemende magtige kerk het daarop aangedring dat almal nou die “verchristelikte” tipe van Romeinse Sonaanbidding moes aanvaar. Diegene wat geweier het, is maklik uitgeken en kon nie langer funksioneer as hulle in die stedelike gebiede van die Romeinse Ryk aangebly het nie. Gevolglik het daardie Christene wat as Nasareners geklassifiseer is ge­durende die vierde eeu verdwyn uit die dig bevolkte gebiede van Klein-Asië. Die oorblyfsels van die ware Kerk het drie eeue lank daar gebly, maar met die uitvaardiging van dié Sondagwet deur Konstantyn, is hulle gedwing om te vlug. Die vierde-eeuse Katolieke geskiedkundige, Epifanes, beskryf hierdie mense, wat verskil het “... van die Jode en [Katolieke] Christene: met die Jode stem hulle nie saam nie omdat hulle in Christus glo, met die [Katolieke] Christene omdat hulle in die wet opgelei is ... Hierdie dwaalleer van die Nasarene bestaan in Beroea in die omgewing van Coele Syria en die Dekapolis in die omgewing van Pella ... vandaar neem dit as plek van oorsprong die uittog uit Jerusalem toe al die dissipels in Pella gaan woon het” (Ray Pritz, Nazarene Jewish Christianity, bl. 34).

Die “Paulitane” verskyn in Armenië

In die vyfde eeu verskyn die Kerk in afgesonderde areas, die oostelike dele van Klein-Asië naby die Eufraat Rivier en in die berge van Armenië. Hulle tydgenote het hulle die “Paulitane” genoem. Wie was hulle?

Volgens die Armeense geleerde Nina Garsoian in The Paulician Heresy: “Dit blyk dan dat die Paulitane beskou kan word as die oorlewing van die vroeëre vorm van Christelikheid in Armenië” (bl. 227). Die skrywer meld ook dat die Paulitane “daarvan beskuldig is dat hulle erger as ander sektes was omdat hulle Judaïsme bygevoeg het” (bl. 213).

Christus se boodskap aan hierdie derde era van God se Kerk (Paulitane) word gekarakteriseer deur die Kerk in Pergamus (Op. 2:12-17). Die woord Pergamus beteken “versterk” of “vesting” en die Kerklidmate van hierdie era was bekend dat hulle in afgesonderde, bergagtige gebiede gewoon het. In Openbaring 2:13 sê Christus dat die Pergamus Kerk woon waar Satan se troon is. Pergamum was ’n middelpunt van die antieke Babiloniese verborgen­heids­godsdiens. In 133 v.C. toe Attalus III, die laaste “godkoning” van Pergamum sterf, bemaak hy in sy testament sy koninkryk en sy titel, Pontifex Maximus (“Opperste Brugbouer” tussen mens en God) aan die Romeine. Die Romeinse heersers het die titel oorgeneem en behou totdat Keiser Gratianus dit in 378 n.C. aan Pous Damascus geskenk het. Tot vandag toe gebruik die Katolieke pouse daardie titel. Die term “Satan se troon” verwys ook histories terug na Nimrod se ou koninkryk wat, in die verre verlede, Armenië en die Bo-Eufraat ingesluit het (Gen. 10). Die Pergamus Kerk – die Paulitane – het geografies na daardie selfde gebied verskuif toe Konstantyn Sondagonderhouding op die Romeinse Ryk afge­dwing het.

Reeds in die vyfde eeu vind ons dat die Paulitane as ketters verdoem is in Katolieke dokumente. Die eerste prominente leier onder die Paulitane wie se naam bekend is, was Konstantyn van Mananali wat in die sesde eeu geleef het (circa 620-681 n.C.). Teen ongeveer 654 n.C. begin hy te preek en help om nuwe lewe in die Kerk in te blaas. Voor die tyd van sy bediening was die meeste van die Kerk­lidmate afstammelinge van Christene wat meer as twee eeue vantevore uit Griekeland en Klein-Asië gevlug het. Hulle het die name van hulle oor­spronk­like gemeentes behou en het voortgegaan om na hulself te verwys as die “Kerk van Efese” of die “Kerk van Macedonië” alhoewel hulle honderde myle van dié oorspronklike plekke gevestig was.

Konstantyn van Mananali is in 681 n.C. tereg­gestel deur Bisantynse soldate (Oos-Romeinse Ryk) onder aanvoering van ’n offisier genaamd Simeon. Simeon was so oorweldig deur die voorbeeld en leerstellings van Konstantyn dat hy in 684 n.C. terug­gekeer het, nie as ’n Romeinse soldaat nie, maar as ’n bekeerling. Hy word ’n ywerige Paulitaanse prediker en sterf op sy beurt drie jaar later in 687 n.C. ook ’n marteldood.

In 1828 is die manuskrip van ’n antieke boek getiteld The Key of the Truth, in Armenië ontdek. Dele van die boek dateer so ver terug as 800 n.C. en gee aan ons die fynste besonderhede van die leer­stellings van die Paulitane. Aan die begin van die 20ste eeu is dit in Engels vertaal deur Fred Coneybeare. Hieruit leer ons dat die Paulitane die gebruik van die kruis in aanbidding en godsdienstige kuns vermy het en dit ’n vervloeking genoem het. Hulle het oorlog verdoem en die Pasga op die veertiende dag van die eerste maand van die heilige kalender gevier. Die Paulitane het die bewerings van die Rooms-Katolieke Kerk verwerp dat laas­genoem­de die Kerk van God is en pouslike bewerings van “apostoliese opvolging” en ander verwaande aansprake betwis. Hulle het die Drie-eenheid, die vagevuur en bemiddeling deur heiliges as onskrif­tuurlik beskou.

In die inleiding van sy Engelse vertaling van The Key of Truth, verskaf Coneybeare onskatbare historiese agtergrond tot die gebruike van die vroeë Paulitane. “Uit ’n kennisgewing wat behoue gebly het in Ananias van Shirak weet ons dat die Paulitani – dieselfde groep mense op ’n vroeëre tydstip – “Quartodesimane” was en Paasfees op die primitiewe manier op die Joodse datum gehou het. Johannes van Otzun se taal impliseer moontlik dat die ou gelowiges in Armenië tydens die sewende eeu Quartodesimane was, soos ons dit te wagte behoort te wees” (Coneybeare, intro, clii). Dr. Coneybeare sê verder: “Die Sabbat is moontlik onder­hou en daar was geen spesiale Sondag­vieringe nie” (bl. cxiii). Hy sê verder van die Paulitane dat “... hulle waarskynlik die oorblyfsel was van ’n ou Judeo-Christelike Kerk, wat deur Edessa na Siuniq en Albanië versprei het” (bl. clxii).

Op ’n stadium in hulle geskiedenis het die Paulitane egter ’n groot fout begaan. Hulle het gedink dat hulle uitwendig kon toegee met baie van die gebruike van die Katolieke Kerk om vervolging vry te spring solank as wat hulle in hulle harte van beter geweet het. Hierdie pad van toegeeflikheid het daartoe gelei dat baie hulle kinders laat doop [besprinkel] het en ander het weer die Katolieke mis bygewoon. Christus het dit voorspel en die Kerk in Pergamus vermaan oor diegene wat aan heidense, onsedelike leerstellings vashou (Op. 2:14-15). As gevolg van dié kompromis het Christus toegelaat dat hulle erg vervolg is. Toe die vervolging kom, het party van die beleërde Paulitane besluit dat die oplossing vir hul moeilikhede opgesluit lê in ’n bondgenootskap met die Moslem Arabiere wat toe ernstige invalle in die Bisantynse (Oos-Romeinse) Ryk gemaak het. Geskille tussen die Paulitane gedurende dié periode het verskeie skeurings in die groep veroorsaak.

Voor 800 v.C. word ’n leidende kerkper­soonlikheid, ’n man genaamd Baanes, die leier van die Paulitane in Armenië, en verkondig ’n leerstelling van militêre vergelding. Kort daarna tree ’n ander Paulitaanse predikant, genaamd Sergius, op die voor­grond. Omdat Sergius oorlogvoering verdoem en nie met Baanes se standpunt saamstem nie, word hy daarvan beskuldig dat hy verdeeldheid onder die groep bring. Maar, ten spyte van moeilikhede, duur Sergius se bediening meer as 30 jaar voort. Ná sy dood begin die meeste van sy volgelinge egter deelneem aan oorlogvoering.

Opkoms van die Bogomille

In die agtste en negende eeue is baie van Armenië se Paulitane deur die Bisantynse keisers gedwing om hulle in die Balkan te hervestig. Hulle is daar geplaas as ’n verskansing teen die invallende Bulgaarse stamme. Daar in die Balkan staan die Paulitane later bekend as die Bogomille.

Wat het hierdie Bogomille verkondig? “Die doop was net vir volwasse mans en vroue ... beelde en kruise was afgode ...” (Encyclopaedia Britannica, 11de uitg., art. “Bogomils”). Hulle het ook geleer dat gebed by die huis gedoen moet word en nie in afsonderlike geboue soos kerke nie. Hulle het geleer dat die gemeente bestaan uit die “uitverkorenes” en dat elke individu moes probeer om die perfektheid van Christus te bereik. Daar word gesê dat hulle bediening gegaan het oor die genesing van siekes en die uitdrywing van duiwels.

In die 10de en 11de eeue beweeg baie Bogomille weswaarts en vestig hulle in Serbië. Later, teen die einde van die 12de eeu, neem groot getalle hulle toevlug tot Bosnië. Hierdie Bogomille was “net een weergawe van ’n groep kettersektes wat gedurende die Middeleeue oor Klein-Asië en suidelike Europa floreer het onder verskeie name, die bekendste waarvan die Patarene, Kathare en Albigense” (Encyc. Britannica, 15de uitg., vol. 29, bl. 1098). Hulle is as ketters verdoem weens hulle geloof dat “... die wêreld regeer word deur twee beginsels, goed en sleg en dat menslike sake gevorm word deur die konflik tussen dié twee beginsels; die hele sigbare wêreld is aan Satan oorgegee” (Encyc. Britannica, bl. 1098). Vanaf hulle basis in die Balkan strek die Bogomille se invloed, aanvanklik bevorder deur ’n handelaarsnetwerk, tot in Piedmont in Italië en ook tot in die suide van Frankryk. Teen die tyd dat die Ottomaanse Turke die mag oorgeneem het in Bosnië, het die saad van die waarheid versprei na Piedmont en die Provensaalse en die Alpynse gebiede van Europa.

Die Kathare en Waldense

Aan die begin van die 12de eeu is daar ’n oplewing van die Waarheid met die vestiging van die volgende fase van die Kerk onder die leierskap van Pieter de Bruys in suidoostelike Frankryk. Hierdie fase in die kerkge­skiedenis word in Openbaring 2 gekarakteri­seer deur die Kerk in Thiatire. Die Piedmont valleie van suidoostelike Frankryk is in 1096 deur Pous Urbanus II beskryf as “verpes met kettery”. Dit is uit een van hierdie valleie, die Louis Vallei, dat Pieter de Bruys in 1104 na vore tree en bekering begin preek. Aanvanklik trek hy baie volgelinge onder die Kathare en later ook uit die algemene publiek.

Die Kathare (dit beteken “puriteine”) tussen wie De Bruys oorspronklik gepreek het, was oorblyfsels van die vroeëre Bogomille nedersettings. Teen dié tyd het die meeste van hulle ’n verskeidenheid nuwe en vreemde leerstellings aanvaar en het daar nogal groot verdeeldheid onder hulle geheers. Sy bediening en dié van sy volgelinge vul die Kerk daar in die valleie van suidoostelike Frankryk met nuwe lewe tydens die eerste helfte van die 12de eeu. De Bruys beweer dat hy die Christelikheid tot haar oorspronklike reinheid herstel het. Aan die einde van ’n bediening van omtrent 20 jaar is hy op die brandstapel verbrand. Twee sterk predikers, Arnold en Henri, het kort na sy dood op die voorgrond getree.

Ná Henri se dood in 1149 kwyn die Kerk en lyk dit asof dit klaar was met die Kerk. ’n Paar jaar later word Pieter Waldo, ’n ryk handelaar in Lyons, plat geslaan deur ’n buitengewone situasie en hy begin die evangelie verkondig in 1161. Nadat hy daartoe geskok is om die ware betekenis van die lewe te ondersoek weens die skielike dood van ’n goeie vriend, bekom Waldo ’n afskrif van die Heilige Skrif en begin hy God se Woord bestudeer. Hy was gou verbaas om te vind dat die Heilige Skrif die teenoor­gestelde leer van baie dinge wat hy gedurende sy Katolieke opvoeding geleer is.

Die historikus, Peter Allix, in ’n aanhaling uit ’n ou Waldense dokument, The Noble Lesson, vertel: “Die skrywer, onder die indruk dat die einde van die wêreld op hande is, spoor sy broeders aan om te bid, om waaksaam te wees ... Hy herhaal baie artikels van die wet en laat nie dié uit wat betrekking het op afgode nie” (Ecclesiastical History of Ancient Churches of Piedmont, bll. 231, 236-237).

Op ’n ander plek skryf Dr. Allix dat die Waldense leiers “hulself verklaar het as die Apostels se opvolgers, met apostoliese gesag en met die sleutels om te mag bind en ontbind. Hulle beskou die kerk van Rome as die hoer van Babilon” (Ecclesiastical History, bl. 175).

Pieter Waldo maak Lyons, Frankryk, die middelpunt van sy bediening vanaf 1161 tot 1180. Toe, weens vervolging, verskuif hy na noordelike Italië. Vanaf ongeveer 1210 tot sy dood sewe jaar later, preek Waldo in Bohemië en Duitsland. “Soos St. Franciscus [van Assisi] volg Waldo ’n lewe van armoede sodat hy vry kon wees om te preek, maar met dié verskil dat die Waldense die leerstelling van Christus preek, terwyl die Fransiskane die persoon van Christus gepreek het” (Encyc. Britannica, 11de uitg.).

Watter ander leerstellings het die Waldense verkondig? Is daar bewyse dat die vroeë Waldense Sabbatonderhouers was? Een van die name waar­aan hulle in die ou tyd geken was, is dié van Sabbatati! In sy 1873-werk, History of the Sabbath, haal historikus J N Andrews aan uit ’n vroeëre werk van die Switsers-Calvinistiese historikus, Goldastus – wat ongeveer in 1600 geskryf is. Aangaande die Waldense skryf Goldastus: “Insabbatati [so is hulle genoem] nie omdat hulle besny is nie, maar omdat hulle die Joodse Sabbat onderhou het” (Andrews, bl. 410). Dr. Andrews verwys verder na die getuienis van Aartsbiskop Ussher (1581-1656) wat erken het “dat baie mense verstaan het dat dit [die name Sabbatati of Insabbatati] aan hulle [die Waldense] gegee is omdat hulle op die Joodse Sabbat aanbid het” (bl. 410). Dit is duidelik dat selfs beroemde Protestantse geleerdes aan die einde van die Middeleeue gewillig was om te erken dat baie Waldense die sewende-dag Sabbat onderhou het.

In sy werk, The History of the Christian Church, skryf William Jones in 1845:

“’n Ondersoekspan het ’n verslag voorgelê aan Louis XII, Koning van Frankryk [1498-1516], nadat hulle al die gemeentes van die Waldense besoek het. Hulle het al die plekke van aanbidding geïnspekteer ... maar het geen beelde gevind nie, geen teken van daardie ordinansies wat hoort by die mis of by die sakramente van die Roomse kerk nie ... Hulle het die Sabbatdag onderhou, hulle het die ordinansie van die doop volgens die primitiewe kerk nageleef, en hulle kinders onderrig in die artikels van die Christelike geloof en die gebooie van God ...

Die Waldense kon groot gedeeltes van die Ou en die Nuwe Testamente voordra. Hulle verag die sêgoed en uiteen­settings van die heilige manne [Roomse Kerkvaders] en hulle toets alles slegs aan die Heilige Skrif. Die tradisies van die [Roomse] kerk is niks beter as die tradisies van die Fariseërs nie want [Rome] het groter klem gelê op die nalewing van menslike tradisies as op die onderhouding van God se wet. Hulle verag die Paasfees en alle ander Roomse feesdae vir Christus en die heiliges” [A Handbook of Church History, bll. 234, 236-237].

Weereens word toegegee

Daar was egter ’n ernstige probleem wat die meeste van die Waldensiese groepe in die laat Middel­eeue beïnvloed het, net soos dit die Paulitane geteister het. Dit was die neiging van baie gelowiges om toe te laat dat Katolieke priesters hulle kinders doop [besprinkel] en ’n gewilligheid om aan Katolieke aanbidding-seremonies deel te neem. Wetende dat sodanige seremonies nutteloos was vir hulle salig­heid, het baie gevoel dat ’n uiterlike kompromis met Rome vervolging sou verhoed en hulle sou toelaat om die Waarheid in privaatheid te beoefen. Hierdie gesind­heid van die Kerk in Thiatire is voorspel in Openbaring 2:20-24. Uit God se oogpunt was hulle optrede gelyk aan geestelike hoereerdery en hul gebruik van die Katolieke nagmaal was “om afgodsoffers te eet”.

Wat het toe met die Waldense gebeur? “Die Waldense het stadig uit die groot bevolkingsgebiede verdwyn en hul toevlug geneem na die afgeleë valleie van die Alpe. Daar, in die skuilplekke van Piedmont ... is ’n nedersetting van die Waldense gevestig wat hul naam aan die valleie van Vaudois verleen het ... By tye is pogings aangewend om die sekte van Vaudois te onderdruk, maar weens die omgewing wat hulle bewoon het, hulle isolasie en hulle ‘onsigbaar­heid’ was dit makliker om hulle alleen te laat as om te probeer om hulle te onderdruk” (Encyc. Britannica, 11de uitg., art. “Waldenses”).

In 1487 vaardig Pous Innocentius VIII ’n pouslike bul uit om hulle te vernietig en ’n sterk aanval word op hul vesting geloods. ’n Misbank wat oor die Katolieke leërs gekom het, het die Waldense van totale uitwissing gered. Baie Waldense was toe egter reeds so gedaan dat hulle in ’n gees van toegeeflik­heid verval het. Toe die Hervorming ’n paar jaar later begin, stuur die Waldense leierskap gesante na die Lutherse kerk. “Dus”, skryf die Encyclopaedia Britannica “hou die Vaudois op om oorblyfsels van die verlede te wees en word hulle opgeneem in die algemene beweging van Protestantisme”.

Toe algehele afvalligheid die meeste van die oor­blywende Waldense teen die einde van die 1500’s ingesluk het, het God ’n getroue oorblyfselgroep bewaar. Individue wat die vrugte was van die laaste sewe jaar van Waldo se bediening, is tydens die 13de eeu in Bohemië en Duitsland aangetref. In afgeleë gebiede van die Karpate [bergreeks] in Middel- en Oos-Europa, het individue en klein groepies oorleef. In werklikheid het ’n getroue oor­blyfselgroep in afsondering in daardie gebiede bly bestaan tot in die moderne tyd (verwys Op. 2:24-25).

Toe die 17de eeu aanbreek, is die volgende era van God se Kerk gereed om op die verhoog te verskyn. Oorblyfsels van die Duitse Waldense, party­keer die Lollarde genoem deur buitestanders, het reeds in die 14de en 15de eeu na Holland en Engeland deurgedring. Eers in die finale dekades van die 16de eeu sou die Kerk openlik na vore kom in Duitsland en Brittanje.

HOOFSTUK 4

Vestiging in die Nuwe Wêreld

Wat het van die Kerk geword wat Jesus gebou het? Dit het vasgebyt en teen alle waarskynlikheid in oorleef! Die manne en vroue wat die geestelike voorsate van God se mense van vandag is, het as voorbeeld van geloof en moed gedien. Deur die eeue moes hulle hul keer op keer hervestig om hulself van vervolging van buite of interne afvalligheid en toegeeflikheid te distansieer. Gedurende daardie tye, toe dit voorgekom het of die vlam van God se Waarheid op sy flouste brand, het Christus altyd ’n ander getroue leier na vore laat tree om Sy mense bymekaar te hou en vernuwing in die Werk van God te laat plaasvind.

Teen die einde van die 1500’s het gemeentes, geklassifiseer as “Sabbatariese Anabaptiste” uit die oorblyfsels van die Waldense ontstaan en gegroei in Middel-Europa, Duitsland en Engeland. Hulle is Sabbatariërs genoem omdat hulle die sewende-dag Sabbat verkondig en onderhou het. Hulle is Ana­baptiste genoem – dit beteken om weer te doop – omdat hulle geweier het om diegene wat slegs besprinkel was as babas, as Christene te aanvaar. Hulle verkondig dat die doop slegs vir volwassenes is wat die Evangelie begin glo en hulle van hulle sondes bekeer het (verwys Hand. 2:38).

Die verhaal van die Anabaptiste

Onder hulle was merkwaardige manne soos Oswald Glaidt, Andreas Fischer en Andreas Eossi. Hulle bedieningsgebied was hoofsaaklik in Duitsland, Pole, Hongarye en gebiede wat later bekend staan as Tsjeggo-Slowakye en Roemenië. Hierdie manne het almal onderhouding van die Sabbat en die Heilige Dae gepreek, sowel as die verwerping van die kleindoop en die Drie-eenheidsleer. God het hulle gebruik om die getroue oorblyfselgroepies te onder­skraag en om getuienis van die Waarheid te lewer toe die stormagtige Protestantse Hervorming die gebied tref.

Oswald Glaidt en Andreas Fischer het mekaar in 1527 ontmoet tydens ’n reis op die Donau Rivier. Hulle het altwee boeke geskryf ter verdediging van die Sabbat. As antwoord aan diegene wat hom daarvan beskuldig het dat hy probeer het om saligheid te verdien deur te preek dat gehoorsaam­heid aan die Tien Gebooie noodsaaklik was, sê Glaidt: “Die sedelike wet sê: ‘Jy mag nie doodslaan nie’, maar niemand sal ernstig argumenteer dat dit nie langer van toepassing is nie, en nog minder sal iemand ernstig redeneer dat om jouself slegs van moord te weerhou ’n poging is om saligheid te bekom deur middel van ‘werke’” (Daniel Liechty, Sabbatarianism in the Sixteenth Century, bl. 31). Glaidt is in 1546 in Wenen tereg­gestel. Kort voor sy dood sê hy vir sy aanklaers: “Al verdrink julle my, sal ek God en Sy Waarheid nie verloën nie. Christus het vir my gesterf en ek sal Hom steeds volg en vir Sy Waarheid sterf voordat ek dit sal opgee” (bl. 35). Boeke en traktaatjies oor die Sabbat en ander verwante onderwerpe is ook in die laat 1500’s gedruk deur Andreas Eossi, ’n Hongaar van adellike afkoms.

Teen die middel van die 1600’s is oorblyfsels van die Kerk in Middel-Europa toenemend vervolg deur ’n herrese Katolieke Kerk wat besig was om beheer terug te win na die onstuimigheid van die Hervorming. Ware Christene het óf ernstige ver­volging óf emigrasie na ’n gebied wat groter geloofs­vryheid gegun het, in die gesig gestaar. Die gebied in die afgeleë Trans-Karpate, wat reeds die tuiste was van Waldensiese oorblywendes, word vir baie ’n toevlug. In die 18de eeu emigreer die meeste van die paar oorblywende Duitse Sabbatonder­houers na Pennsilvanië in Amerika. Daar was reeds ’n aantal mense gevestig wat hulle met die “Ana­baptistiese Beweging” vereenselwig het, maar wat ander Prote­stant­se leerstellings van die Hervorming aangehang het, en uit hulle kom moderne groepe soos die Baptiste, Mennoniete en Amish.

In die tussentyd het getroue volgelinge van die ware Kerk in Engeland aangekom. Die toneel was gereed vir die vyfde stadium in die geskiedenis van die Kerk van God, gekarakteriseer deur die Kerk in Sardis. Die eerste duidelike rekords van Sabbat­onderhoudende kerkge­meentes in Engeland dateer uit die 1580’s. Teen die vroeë 1600’s heers daar ’n openbare debat of die Bybelse Sabbat steeds van toepassing was. Gedurende hierdie tydperk is heelparty boeke geskryf oor die wet van God en die Sabbat, waarvan baie nog bestaan.

John Traske was een van die eerste persone om in Engeland ’n boek te publiseer aangaande die Sabbat. Dié skryf hy om en by die jaar 1618 en hy is in die tronk gestop vir sy poging. Party geleerdes dink dat hy die Mill Yard Kerk in Londen gevestig het, die oudste erkende Sabbatonderhoudende kerk wat toe nog gefunksioneer het, en die moeder van latere Sabbatariese kerke in Amerika was. Alhoewel sekere ander geskiedkundiges die grondlegging van die Mill Yard Kerk in die 1580’s plaas, lank voor Traske se tyd, was hy tog pastoor van die kerk in die vroeë 17de eeu. John Traske is later in hegtenis geneem en in die tronk gegooi. Daar het hy blykbaar sy leerstellings teruggetrek om sy vrylating te bewerkstellig. Sy vrou het egter geweier om dit te doen en getrou aan die Waarheid het sy die res van haar lewe, omtrent 15 jaar, in die tronk deurgebring.

In 1661 is John James, nog ’n prediker van die Kerk van God in die Londen omgewing, in hegtenis geneem omdat hy die Waarheid verkondig het.

“Sy finale woorde aan die hof was bloot om hulle te vra om die volgende teksgedeeltes te lees; Jeremia 26; 14-15 en Psalm 116:15 ... na sy teregstelling is sy hart uitgehaal en verbrand, die vier kwarte van sy liggaam aan die hekke van die stad opgehang en sy kop op ’n paal geplaas in White Chapel, oorkant die stegie waar sy bymekaarkomplek was. Dit was die verskriklike prys wat sommige mense bereid was om in die Engeland van die 17de eeu te betaal vir gehoorsaamheid aan God” (Ivor Fletcher, The Incredible History of God’s True Church, Giving and Sharing Publishing, Neck City, MO, bl. 176).

Nog ’n merkwaardige leier was Francis Bampfield, van wie ’n kopie van sy outobiografie, The Life of Shem Acher, behoue gebly het in die Britse Museum Biblioteek. Vanaf 1662 tot sy dood in 1683 was hy die meeste van die tyd óf in die tronk óf aan die vlug vir die Britse owerhede. Selfs toe hy in Dorchester Tronk aangehou is, het mense daarheen gestroom om hom te hoor preek. Dit was tydens dié periode van vervolging dat ’n gebeurtenis met verreikende gevolge plaasgevind het: Stephen Mumford en sy vrou, lidmate van die Kerk, verlaat Engeland vir die Nuwe Wêreld en kom in 1664 in Rhode Island aan. Teen die vroeë 1700’s het die Kerk van God in Engeland omtrent uitgesterf. Die meeste van die predikante het in daardie tyd, bo en behalwe hul bediening op die Sabbat, ook op Sondae in ander kerke gepreek om ekstra geld te verdien. Om kompromieë aan te gaan, het sy tol geëis.

Die Kerk in vroeë Amerika

Met die Mumfords se aankoms in Rhode Island, die enigste Amerikaanse kolonie wat op die beginsel van godsdiensvryheid gevestig is, voeg hulle hulle by die Baptiste in Newport. Hulle bly egter nie stil oor hulle oortuiging van Sabbatonderhouding nie. In 1665, binne die eerste jaar ná die Mumfords se aankoms, begin Tracy Hubbard saam met hulle die Sabbat onderhou en word só die eerste bekeerling in Amerika. Kort daarna voeg haar man, Samuel, hom by die groepie. In 1671 begin die eerste Sabbat­onderhoudende kerk in Amerika amptelik met sewe lidmate. William Hiscox is die eerste leraar van die Kerk, en sy bediening strek van 1671 tot en met sy dood in 1704.

In 1708 is ’n tweede kerk amptelik georganiseer in Westerly, Rhode Island (later herbenaam na Hopkinton). Dwarsdeur die 18de eeu blyk Rhode Island, Pennsil­vanië en New Jersey die hoofgebiede te wees waar Sabbatonderhoudende kerke vergader. Tydens dié periode emigreer Duitse Sabbat­onderhouers na Pennsilvanië. Peter Miller was die bekendste leraar van die Duitse Sabbatonderhouers in Pennsilvanië en was ’n vriend van Benjamin Franklin.

Die Amerikaanse Revolusie was ’n moeilike tyd vir baie van God se mense. Die geskiedenis van daardie tydvak toon dat baie van die leraars en lidmate geestelik dood was. Etlike gemeentes het baie verskil oor die kwessie van oorlogvoering en politieke betrokkenheid. Jacob Davis, pastoor van die Kerk van God in Shrewsbury, New Jersey, sluit by die Kontinentale Leër aan as kapelaan. Baie van die lidmate volg sy voorbeeld en sluit ook by die leër aan. Een lidmaat, Simeon Maxson, maak sterk daarteen kapsie en noem lidmate wat fisiese oorlogvoering ondersteun “kinders van die duiwel” (Richard Nickels, Six Papers on the History of the Church of God, bl. 60). Hy is uit die gemeente gesit weens dié standpunt.

Sabbatonderhouers in die Shrewsbury omgewing was verarm en verdeeld deur die oorlog. Baie is ná die Revolusie terug na Pennsilvanië en, voor 1800, trek die meeste van hulle na Salem, Virginië (later Wes-Virginië). Vanaf 1800 tot die 20ste eeu is Salem en die omliggende gebiede een van die hoof­sentrums van God se mense. Die geskiedenis van God se mense in dié gebied is egter nie ’n verhaal van eenheid en ’n groot werk wat gedoen word nie. Dit is ’n storie van verdeeldheid, afvalligheid en geestelike traagheid by meeste van die mense. Dié gesindheid is aangehelp deur die invloed van die vooraanstaande Davis familie waaruit baie van die leidende leraars van die 18de en 19de eeue gestam het. Dit blyk dat die grootste gros van die broeders geestelik so dood was dat hulle blindelings die afvallige leraars na Protestantisme gevolg het.

William Davis, gebore in Wallis in 1663, gaan van die Kerk van Engeland na die Kwakers en word toe ’n Baptis. In 1706 aanvaar hy die Sabbat en doen aansoek om lidmaatskap in die Newport kerk maar was aanvanklik afgewys omdat hy verkeerde leerstellings aangehang het. Uiteindelik, in 1710, is hy vir lidmaatskap aanvaar en in 1713 gemagtig om te preek en te doop. Hy bly egter glo in die Drie-eenheid, die onsterflikheid van die siel en dat ’n mens met sy dood na die hemel gaan – heeltemal teenstrydig met die leerstellings wat die Kerk daardie tyd geleer het! Vir die res van sy lewe is Davis òf “in” òf “buite” kontak met die Kerk. “Davis het ’n sterk rol gespeel in die vorming van die toekoms van die Sabbatariese Baptiste” (Nickels, bl. 55).

Aanvanklik is daar nie gedink aan ’n amptelike kerknaam nie. In hulle korrespondensie met mekaar verwys die gemeentes na hulself as die “Kerk van Christus in Newport” of die “Kerk van God in Piscataway”. Die meeste lidmate noem dit eenvoudig “die Kerk”. Buitestanders verwys na hulle as Sabbatariërs of Sabbatariese Baptiste. Toe die kerk in Newport ’n amptelike magtigingsbrief ontvang in 1819 (dit is in 1671 gestig, maar wetlike vereistes was besig om te verander), is dit geregistreer as die “Sewende-dag Baptiste Kerk van Christus”.

In 1803 reël agt Sabbatonderhoudende gemeen­tes in die Noordooste van Amerika ’n konferensie om hulle evangelisasiepogings te koördineer en om saam te werk om hulle literatuur te publiseer. In 1805 neem hulle die naam Die Sabbatariese Algemene Konferensie aan. Teen 1818 is die naam verander na die Sewende-dag Baptiste Algemene Konferensie en die organisasie brei uit om Sabbatonderhoudende gemeentes buite die Noordooste in te sluit.

Die Kerk ondergaan talle veranderings gedurende hierdie tydperk. Ons kan kennis neem van hulle vordering van nie-aanvaarding van die Drie-een­heids­­leer tot erkenning daarvan, soos verkondig deur die Davis familie en andere. ’n Verklaring in 1811 handhaaf nog die tradisionele leerstelling van die Kerk en stel dit “dat Sabbatariese Baptiste glo dat die Heilige Gees die werkende krag of gees van God is ... daar is min ... wat glo dat die Vader, Seun en Heilige Gees drie duidelik onderskeibare persone is, gelyk aan mekaar ... en tog een God is” (Nickels, bl. 91). Slegs 22 jaar later, in die Expose of Sentiments van 1833 egter, is die amptelike posisie “ons glo dat daar ’n verbintenis bestaan tussen die Vader, die Seun en die Heilige Gees; en dat hulle ewe goddelik is en almal ewe geregtig is op ons aanbidding” (Nickels, bl. 91). Selfs in 1866 is daar erken dat party van die predikante steeds sterk gekant is teen die gebruik van die woord “Drie-eenheid”.

Gedurende dié periode beweeg baie predikante en lidmate so ver weg van die Waarheid dat hulle toe bloot Protestante was wat op Saterdag bymekaar­gekom het. In The Westerly Sun se uitgawe van 18 November 1983 word die herdenkingsfees van die oudste Sabbatonderhoudende kerk in die Verenigde State onder dié hoofopskrif beskryf: “Kerk gedenk 275 jaar gekenmerk deur verandering”. Die artikel sê: “Die Kerk vier sy 275ste gedenkdag hierdie na­week – ’n ondervinding gekenmerk deur verandering weens gemeenskapsdruk, ten spyte van haar tradisie om die Sabbat te onderhou”.

Die veranderings wat plaasgevind het, word ge­ken­merk deur ’n bestendige erosie van die Waarheid en ’n beweging tot hoofstroom Protestantisme. Om die waarheid te sê, het die Sewende-dag Baptiste Kerk in Rhode Island lankal nie meer die lewende Kerk van God gehuisves nie. Hulle is slegs ou geboue, museums van waar die Waarheid eens geleer is en die Werk van God eens gedoen is. Die gemeentes wat nou daar bymekaarkom, glo in die Drie-eenheid, vier Kersfees en Paasfees, en het selfs agteruitgegaan en torings – definitiewe heiden­se simbole – op party van die ou geboue opgerig.

Terwyl die meeste van die Sabbatonderhoudende gelowiges verder en verder van die Waarheid weg­beweeg, is daar egter individuele lidmate en gemeentes wat getrou bly. Daar bestaan ’n rekord van die Kerk in South Fork, Wes-Virginië, wat in die vroeë 1800’s die Pasga onderhou en onrein vleis vermy het. Hierdie klein groepie is geforseer om hulle te onttrek van “omgang met die Algemene Konferensie en ander Sewende-dag Baptiste organisasies weens hulle afwykende leerstellings” (Nickels, bl. 68). Teen die 1870’s is ’n volgende geslag op die toneel en uiteindelik aanvaar die meeste van die South Fork Kerk die Sewende-dag Baptiste organisasie.

’n Ander groep, genaamd die Kerk van God in Wilbur, is in 1859 byeengebring deur ouderling J W Niles van Pennsilvanië. In die 1930’s funksioneer dit steeds en Andrew Dugger noem dit in sy boek A History of the True Religion “die oudste ware Kerk van God wat nog funksioneer in die staat van Wes-Virginië” (bl. 311).

Die Adventiste Beweging

In die 1830’s ontstaan ’n beweging onder Protestantse kerke in westelike New York wat fokus op Jesus Christus se terugkeer na die aarde en die vestiging van ’n letterlike Koninkryk. Hierdie bood­skap, wat eerstens met krag verkondig is deur William Miller, het heeltemal verskil van die algemeen aanvaarde Protestantse leerstelling. Sy leerstelling oor profesie het baie belangstelling gelok en meer en meer aandag getrek namate sy voorspelde 1844-datum vir die wederkoms van Christus nader gekom het. Ná die sogenaamde “groot teleurstelling” raak hierdie Protestantse Adventiste verward. Weens die bespotting deur algemene Protestante, is party so ontnugter dat hulle godsdiens heeltemal opgee. Ander hou aan om die Skrifte te bestudeer om te sien waar hulle verkeerd geredeneer het.

Frederick Wheeler was ’n Methodiste leraar in Washington, New Hampshire, wat die Adventiste­boodskap van Christus se Tweede Koms en die letterlike oprigting van Sy Koninkryk aangeneem het. Rondom die begin van 1844 ontvang hy ’n besoeker by sy gemeente. Mev. Rachel Oakes, ’n lid van die Sewendedagbaptiste gemeente in Verona, New York, het by haar dogter kom kuier.

Toe mev. Qakes hoor dat mnr. Wheeler sy gemeente vra om God te gehoorsaam en Sy gebooie in alle dinge na te streef, loop sy hom na die diens trompop met die waarheid dat Sabbatonderhouding essensieel is vir gehoorsaam­heid aan God se gebooie. Uit die veld geslaan, belowe hy om die onderwerp te bestudeer. Binne enkele weke is hy oortuig van die Waarheid aangaande die Sabbat en begin dit verkondig. Dié waarheid oor die Sabbat versprei soos ’n veldbrand onder die ontnugterde Adventiste. Honderde ander mense reageer toe ook op die eenvoudige waarheid van die ware Evangelie en van gehoor­saam­heid aan al God se gebooie.

Roswell Cottrell, ’n jarelange predikant en Sabbatonderhouer, raak bevriend met hierdie ywerige Sabbatariese Adventiste. Sy familie was van die eerste lidmate van die Kerk van God in Rhode Island, wat toe bekend gestaan het as die Sewende-dag Baptiste Kerk. Die Cottrell-familie het hulle egter van die kerk onttrek as gevolg van nuwe leerstellings in die kerk. Dit was die tyd toe sulke veranderings soos die Drie-eenheid en die onsterflikheid van die siel aanvaar is as amptelike Sewende-dag Baptiste leerstellings. Omtrent 15 jaar nadat hy die Sabbatariese Adventiste se dienste begin bywoon het, was hy weer eens in ’n geskil betrokke. Ouderling James White, wat as die hoofleier van die Sabbatonderhoudende Adventiste Kerke van God na vore getree het, het hom beywer vir ’n organi­satoriese kongres en ’n amptelike naam, die Sewende-dag Adventiste Kerk. Daar was mense wat hierdie verandering teengestaan het – dit as onskriftuurlik beskou het – en ook geweier het om die visioene van ouderling White se vrou, Ellen G. White, te glo. Roswell Cottrell staan mnr. White se organisatoriese skuiwe teen. Hy skryf; in die Review and Herald van 3 Mei 1860: “Ek glo nie in pousery nie; ook glo ek nie in anargie nie; maar in Bybelse orde, dissipline, en regering in die Kerk van God” (Nickels, bl. 162).

In Oktober 1860, tydens ’n konferensie in Battle Creek, Michigan, verwerp die oorgrote meerderheid van die teenwoordiges die naam “Kerk van God” en neem die naam Sewende-dag Adventiste aan as beskrywend van hulle geloof. Dit is die naam wat die Whites voorgestaan het. Mev. White se visioene word al meer voorgehou as die “nuwe waarheid” vir die Kerk.

Tydens die dekade van die 1860’s word die skeuring, tussen die meerderheid wat die Whites gevolg het en die verspreide oorblywendes wat hulle nie gevolg het nie, al duideliker. Gedurende die Amerikaanse Burger­oorlog neem lidmate van die Kerk van God ’n ferm standpunt in as gewetens­beswaardes, in teenstelling met die Sewende-dag Adventiste onder die Whites se leierskap. ’n Afvaar­diging van die Kerk van God ontmoet President Abraham Lincoln in 1863 om gewetensbeswaarde status vir jong mans in die Kerk te bewerkstellig.

’n Aanhaling uit ’n omsendbrief van broeders in Marion, Iowa, wat op 7 September 1864 verskyn in die Kerk se publikasie The Hope of lsrael gee ’n idee van wat op daardie tydstip aan die gebeur was:

“Op 10 Junie 1860 het ’n bietjie meer as 50 van ons ’n tipe kerkverbond aange­neem, opgestel deur [M E Cornell] ... Bykans ’n jaar en ’n half later het die­selfde boodskapper, in die openbaar, etlike ander volumes saam met die Bybel opgehou ... en ons aangespoor om hulle leringe ook te aanvaar, as ’n geloofsreël en as dissipline. ’n Groep van ons was onwillig om hierdie nuwe planke in die platform van ons Kerk te aanvaar. Die gevolg was dat omtrent helfte van die Kerk ingestem het om hierdie volumes as geldige Skrifte te aanvaar, en van ons weg­getrek het, of liewer: ons van hulle weggestoot het deur ons as rebelle te veroordeel ... Dat ons rebelle sou wees, sê ons reguit dat ons nie rebelle is nie. Ons het nie teen die konstitusie wat ons aangeneem het, gerebelleer nie, want ons staan steeds ferm daarby ... dus reflekteer die klagte van rebellie met skande op diegene wat dit gelê het, want hulle is juis diegene wat wegbeweeg het van hulle eerste standpunt en ’n nuwe een aanvaar het” [Robert Coulter, The Story of the Church of God Seventh Day, bl. 16].

In Augustus 1863 word ’n klein kerkkoerantjie, The Hope of Israel, in Michigan gepubliseer. Dit begin met minder as veertig intekenare. In 1866 is dit hervestig in Marion, Iowa, en in 1888 verskuif dit weer na Stanberry, Missouri. Deur die jare ondergaan die koerant etlike naamsveranderings en word uiteindelik The Bible Advocate genoem.

Een van die vernaamste persone in die Kerk van God gedurende dié tyd was Jacob Brinkerhoff. Hy was redakteur van die koerant van 1871 tot 1887 en weer van 1907 tot 1914. In 1874 tree A F Dugger Snr. van Nebraska voltyds toe tot die bediening in die Kerk van God. Vanaf die 1870’s tot die jare net voor die Eerste Wêreldoorlog dra die ouderlinge Brinkerhoff en Dugger baie van die artikels by wat help om die leerstellings in die Kerk te verduidelik en te vestig. Artikels aangaande profesie, rein en onrein vleis, die gee van tiendes, die regte manier om die Pasga te onderhou en wat dit beteken om weder­gebore te wees, word gedruk.

Reeds in 1866 wys artikels oor profesie daarop dat die Jode teruggebring sou word na ’n tuisland in Palestina. Sommige waarhede is wel herstel, maar in die geheel was die pogings van die Kerk maar swak en is slegs klein getalle mense, hoofsaaklik in die landelike gebiede van die Middel-Weste (VSA), bereik.

Die fase van kerkgeskiedenis waarop ons in hierdie hoofstuk gefokus het, word die beste beskryf deur Christus se boodskap aan die Kerk in Sardis, soos opgeteken in Openbaring 3:1-6. Daar is aan hierdie Kerk gesê dat alhoewel dit die naam gedra het dat dit lewendig was, dit in werklikheid geestelik dood was. “Wees wakker en versterk die wat oorbly, wat op die punt staan om te sterwe, want Ek het jou werke nie volkome voor God gevind nie” (Op. 3:2). Alhoewel hierdie Kerk as geheel traag of selfs dood was, was daar enkele mense in die groep wat volgens Christus “hulle klere nie besoedel het nie, en hulle sal saam met My in wit klere wandel, omdat hulle dit waardig is” (vers 4)

HOOFSTUK 5

Verdeeldheid, skeuring en ’n nuwe begin

Die 20ste eeu was beslis dié periode in die mens se geskiedenis wat gekenmerk is deur die mees vinnigste verandering. Die eeu begin met die perd en perdekar as hoofvervoermiddel, maar binne 70 jaar reis die mens na die maan en terug.

Hierdie eeu het twee groot Wêreldoorloë beleef asook die bekendstelling van wapens van massa­vernietiging. Vir die eerste keer in die mens se geskiedenis, was dit moontlik om alle lewe op hierdie planeet te vernietig, net soos Jesus Christus dit voorspel het (Matt. 24:22).

’n Verdere profesie wat hierdie eindtyd op ’n unieke manier karakteriseer, is dat die ware Evangelie van die Koninkryk van God as ’n getuienis verkondig sal word deur die hele wêreld, en dan sal die einde kom (vers 14).

Die eerste kwart van die 20ste eeu

Aan die begin van die 20ste eeu was die Kerk van God klein en verspreid, met minder as 1,000 lidmate wat hoofsaaklik in die Amerikaanse Midde-Weste gewoon het. Die Algemene Konferensie van die Kerk van God is in 1900 wetlik geïnkorporeer in die staat van Missouri. Die Kerk se koerant ondergaan daardie selfde jaar ’n naamsverandering om, soos die vorige hoofstuk gewys het, The Bible Advocate te word.

In 1903 sterf die 89-jarige Gilbert Cranmer, ’n leraar sedert die 1850’s en een van die hoofbouers van die Kerk in die periode ná die skeuring tussen die Sewende-dag Adventiste Kerk en die Kerk van God in die 1860’s. In 1910 sterf Alexander Dugger, die leier van die Algemene Konferensie sedert sy ontstaan en redakteur van The Bible Advocate. ’n Derde getroue pionier, Jacob Brinkerhoff, sterf in 1916. Met tye was hy redakteur van die Advocate in die tydperk 1871 tot 1914. Baie mense het mnr. Brinkerhoff beskou as die mees uitstaande leier van die Kerk in sy tyd. “Jacob Brinkerhoff het die Kerk van God vir meer as 40 jaar gedien ... In plaas daarvan om in 1874 ’n huis te koop, het Brinkerhoff die geld gebruik om die drukkerytoerusting vir die Advent and Sabbath Advocate te koop ... Dit blyk dat hy man alleen die algehele ineenstorting van die Werk verhinder het” (Richard Nickels, History of the Seventh Day Church of God, bl. 85).

Andrew N Dugger, seun van Alexander Dugger, begin sy bediening in die Kerk van God in 1906. Toe Jacob Brinkerhoff in 1914 uittree as redakteur van The Bible Advocate word hy beide president van die Algemene Konferensie en redakteur. “Gedurende sy dienstyd as president en redakteur oefen Dugger baie invloed uit op die Kerk. Tydens die vroeë periode van Dugger se leierskap beleef die Kerk van God van haar vinnigste en grootste groei” (Robert Coulter, The Story of the Church of God Seventh Day, bll. 41-42). Andrew Dugger dien as leier vanaf Junie 1914 tot 1932.

Die kwessie van organisasie en regering of bestuur was lank reeds ’n bron van twis in die Kerk van God. Andrew Dugger het besef dat geen noemens­waardige werk gedoen kon word met die klein bedrag geld wat by die hoofkantoor in Stanberry, Missouri, ingekom het nie. Dit was minder as $1,000 in 1917. Dugger neem toe stappe om die saak reg te stel. In 1922 stuur hy ’n opnamevorm aan lidmate om te bepaal hoeveel tiendes hulle die vorige jaar betaal het en aan wie hulle dit betaal het. Dit blyk dat meeste van die tiendes deur individuele leraars ingesamel is en dat een leraar wat maar “min gewerk het” die leeue-aandeel ingesamel het. Gou is ’n beleid ingestel dat alle tiendes by die Staatskonferensies inbetaal moes word en dat ’n tiende daarvan weer aan die Algemene Konferensie gestuur moes word. In 1923 het die inkomste van die Algemene Konferensie in Stanberry tot meer as $18,000 gestyg.

Om en by 1904 betree G G Rupert die bediening van die Kerk van God. Mnr. Rupert was voorheen in die bediening van die Sewende-dag Adventiste Kerk en het gemeentes in Suid-Amerika gevestig. Na verskeie jare van toe­nemende leerstellingsverskille verlaat hy die Adven­tiste in 1902. Onder andere het Mnr. Rupert begin verstaan dat beide die Sabbat en die jaarlikse Heilige Dae bindend was op die Nuwe-Testamen­tiese Kerk. In 1913 publiseer Jacob Brinkerhoff ’n reeks artikels deur G G Rupert in The Bible Advocate waarin die wet van God bespreek is en geredeneer is dat die Heilige Dae van Levitikus 23 bindend was op die Nuwe-Testamentiese Kerk. Alhoewel die Kerk in die Verenigde State min ag slaan op hierdie leerstelling, volg baie van daardie Suid-Amerikaanse gemeentes wat mnr. Rupert gevestig het nie alleen sy voorbeeld om die broeder­skap van die Adventiste te verlaat nie, maar hul aanvaar ook die Heilige Dae. Weens ’n geskil tussen mnre. Dugger en Rupert oor sekere leerstellings, en in die besonder oor die kwessie van kerkorganisasie en -bestuur, gaan mnr. Rupert voort as ’n “onafhanklike” leraar van die Kerk van God en publiseer sy eie tydskrif, The Remnant of Israel, tot en met sy dood in 1922.

Die 1930’s en 1940’s – ’n nuwe begin

In die laat Twintiger- en vroeë Dertigerjare is die Kerk van God feitlik verlam deur politieke binne­gevegte en leerstellingsverskille. Die Kerk se Konferensie van 1929 is gekenmerk deur aansienlike verwarring en verdeeldheid. Die twispunte het gegaan oor “wedergeboorte”, rein en onrein vleis, die gebruik van tabak, die datum van die Pasga (14 of 15 Nisan) en die werking van die Heilige Gees (“Pente­costalism”). Die getal mense wat bekeer is, het gedaal en die werk van die Kerk het feitlik tot stilstand gekom.

Dit was op dié stadium, in die herfs van 1926, dat die lewe van mnr. Herbert W Armstrong met die verhaal van die Kerk van God deurweef geraak het. Mnr. Herbert W Armstrong se bediening het ongetwyfeld ’n groter impak op meer mense gehad as enige ander leraar in die Kerk van God sedert die eerste eeu. Weens ’n uitdaging deur sy vrou om die korrekte dag van die Christelike Sabbat te bewys en ’n geskil met sy skoonsuster oor die evolusieteorie, begin hy met ’n intensiewe studie wat ses maande duur. Teen die lente van 1927 besef hy dat baie dinge wat hy in sy jeugjare geleer het nie Bybelse Waarheid was nie. Hy besef dat beide die Sewende-dag Sabbat sowel as God se jaarlikse Heilige Dae deur Christene onderhou moet word.

Ná hierdie intensiewe studie worstel mnr. Armstrong met die vraag “Waar is die ware Kerk?” Uiteindelik voeg hy hom by die Kerk van God in die Willamette Vallei in Oregon, omdat hulle meer Waarheid onderhou as enige ander groep.

Teen 1928 begin mnr. Armstrong artikels voorlê vir publikasie in The Bible Advocate. Omdat daar toe geen leraar in Oregon was nie, vra die lidmate hom dikwels om die gemeente toe te spreek. In Junie 1931 word mnr. Armstrong in die bediening ingeseën deur die Oregon Konferensie van die Kerk van God. Sodoende begin ’n bediening wat amper 55 jaar geduur het!

In die tussentyd begin daar moeilikheid broei vir die Kerk van God as ’n geheel. Tydens die Alge­mene Konferensie van Augustus 1933, verloor Andrew Dugger, die hoofkerkleier vir die afgelope 20 jaar, sy posisie met een stem. Dit lei tot ’n krisis wat die Kerk in die helfte skeur. “Aan die eenkant hou Andrew N Dugger en andere by die ‘herorganisasie’ van kerkregering, rein vleis, geen tabak en die Pasga op 14 Nisan. Aan die ander kant lei Burt F Marrs ’n groep ‘onafhanklikes’ wat ten gunste van varkvleis en tabak was, en die Pasga op 15 Nisan wou onderhou. Tydens dié onstuimige tyd is die kwessie oor wanneer om die Pasga te onderhou drie dae lank bespreek” (Nickels, bl. 151). Andrew Dugger onttrek van die Algemene Konferensie van die Kerk van God met sy hoofkwartier in Stanberry en hou in November 1933 ’n vergadering in Salem, Wes-Virginië, om die Kerk in Salem te herorganiseer. ’n Nuwe organisasiestruktuur word ingestel met “Twaalf Apostels”, “Sewentig Ouderlinge” en “Sewe” in beheer van finansies.

Dié posisies is volgens lot bepaal, eerder as deur stemming. Mnr. Armstrong, van Oregon, word toe gekies as een van die “Sewentig”. Hy en die meeste van die Oregon lidmate verskuif hulle affiliasie van die Stanberry organisasie na die nuwe organisasie met Salem as hoofkwartier. Alhoewel mnr. Armstrong nie ’n salaris van Salem ontvang het nie, ontvang hy hulle geestelike geloofsbriewe en dien maandeliks leraarsverslae in.

“Die verdeling van die Kerk van God (Sewende Dag) het die lidmate en leierskap baie hartseer besorg. Baie lidmate en voornemende lidmate is ontmoedig deur die gereelde aanvalle wat die een kerk teen die ander geloods het. In party gevalle het leraars van organisasie verander en daardeur hulle lidmate verwar. In ander gevalle het die lidmate pionne geword in die leraars se wedywering vir hulle lojaliteit en ondersteuning. In die dekades van die 1930’s en die 1940’s kon die goeie toename in lid­maatskap van die 1920’s nie naastenby geëwenaar word nie” (Coulter, bl. 55). In werklikheid het die lidmaatskap gedurende hierdie periode afgeneem.

Gedurende dié onstuimige tyd word die grondslag gelê vir ’n Werk van God wat ongekende wêreldwye impak sou hê. Eerder as om sy energie te vermors op politieke binnegevegte in die Kerk, begin mnr. Armstrong met gereelde weeklikse radio-uitsendings wat daarop gemik was om die Evangelie aan die wêreld te verkondig. Die program was die “Radio Church of God” genoem, en is vir die eerste keer uitgesaai op KORE, ’n 100-watt stasie in Eugene, Oregon. Dié radioprogram is geloods op die eerste Sondag in Januarie 1934. In Februarie publiseer mnr. Armstrong ’n mimeograaf “tydskrif” met die naam The Plain Truth, wat aan omtrent 200 mense gestuur is. Min het hy geweet dat Christus hom op daardie tydstip gebruik het om die sesde tydperk van die Kerk, uitgebeeld deur die Gemeente in Filadelfia (Openbaring 3:7–13), op te rig.

Saam met die weeklikse radio-uitsendings onderneem mnr. Armstrong evangelisasieveldtogte in die hele gebied. Alhoewel verskeie kerke gestig is as gevolg van sy pogings, het hierdie nuwe gemeentes gewoonlik ten gronde gegaan of afgedwaal weens ’n gebrek aan getroue en toegewyde leraars om as herders van die kudde leiding te neem. Gedurende hierdie periode beleef mnr. Armstrong toenemend konflik met die Kerk se hoofkwartier in Salem weens sy leerstellings omtrent die identiteit van Israel en die jaarlikse Sabbatdae. Alhoewel Andrew Dugger in ’n private brief aan mnr. Armstrong erken dat sy leerstelling rakende die “verlore Tien Stamme” korrek is, weier mnr. Dugger om ’n artikel oor dié onderwerp in The Bible Advocate te plaas.

Uiteindelik kom die saak van die Heilige Dae tot ’n punt in 1937. Vervolgens ’n aanhaling uit die notule van ’n sakevergadering van die Raad van Twaalf Apostels van die Kerk van God (Sewende Dag), Salem, Wes-Virginië, Hoofkwartier, wat gehou is van 5 tot 7 Mei 1937 in Detroit, Michigan: “1:00 nm, 7 Mei: Voorlesing van Ouderling Armstrong se brief aan die Twaalf. Voorlesing, in periodes van 20 minute elk, van Ouderling Armstrong se artikels rakende die Fees van Ongesuurde Brood, die Pasga, Pinkster, Huttefees ens., telkens gevolg deur ’n bespreking deur die Ouderlinge ten gunste of daarteen ... ’n Beslissing is geneem soos aangedui in die volgende besluit: ‘In soverre dat party persone die Kerke lastig val met die leerstelling dat hulle die Fees van Ongesuurde Brood en die jaarlikse Sabbatdae moet onderhou ... herbevestig ons die leerstelling van die Kerk van God oor hierdie aangeleentheid ... dat ons geen sodanige gebruik onderhou nie’” (John Kiesz, History of the Church of God, bl. 180). Volgens die amptelike rekord verskaf deur Virginia Royer, boekhoudster van die Kerk van God Uitgewers in Salem “is hy [mnr. Armstrong] in 1938 gevra om sy geloofsbriewe in te dien omdat hy voortgaan om in stryd met Kerkleerstellings te preek” (bl. 180).

Alhoewel mnr. Armstrong ná 1938 nie meer geloofsbriewe van die Kerk van God (Sewende Dag) gehad het nie, onderrig en preek hy nou met groter vurigheid as ooit tevore. Soos genoem in die Good News van April 1939, bereik die weeklikse uitsending van die Radio Church of God 100,000 luisteraars in die Noordwestelike gebied van die VSA aan die kus van die Stille Oseaan. Dit was ook in daardie jaar dat die eerste agt-dae Huttefees gehou is in Eugene, met ’n opkoms van 42 lidmate. (Vanaf 1933 tot 1938 was dienste net op die Heilige Dae gehou). Bo en behalwe mnr. Armstrong was ander ouderlinge van die Kerk van God, soos John Kiesz, tot omtrent 1945 die gassprekers tydens die Fees.

Teen die middel van 1942 verander die naam van die radioprogram van “Radio Church of God” na “The World Tomorrow”, en is ’n toetsperiode van daaglikse uitsendings begin in die Los Angeles gebied. In die laatsomer van 1942 woon meer as 1,700 mense ’n evangelisasieveldtog by wat mnr. Armstrong gehou het in die Biltmore Teater in Los Angeles. Die Werk wat God vermag deur mnr. Armstrong was besig om te groei en vrugte te dra. In Augustus 1942 begin “The World Tomorrow” met landswye uitsendings op ’n Sondag op WHO in Des Moines en, in 1943, ook op WOAI in San Antonio. Teen 1944 bereik The Plain Truth ’n sirkulasiesyfer van 35,000.

Soos wat die impak van die Werk wat God deur mnr. Armstrong gedoen het, toeneem, hou die Kerk van God (Sewende Dag) aan om te skeur en te versplinter in al hoe meer onafhanklike kerke en leraars. Pogings tot eenheid lei in 1949 tot die samesmelting van die Salem en Stanberry groepe. Dié samesmelting bring egter verdere skeurings mee en, 20 jaar later in 1969, is die oplaag van daardie kerkgroep se hoofpublikasie, The Bible Advocate, net oor die 2,000. Die Kerk van God (Sewende Dag) verteenwoordig die finale fase van die Kerk in Sardis. Onthou, die Sardis kerk word as geestelik dood beskou, alhoewel daar tog ’n paar regverdige persone met wit klede sou wees wat saam met Christus sou bly wandel.

Oop deure en dramatiese groei

In 1946 stel God die Radio Church of God en die Werk waarmee mnr. Armstrong besig was in ’n posisie vir dramatiese groei. Gekonfronteer met die druk van daaglikse radio-uitsendings – Hollywood, in die suide van Kalifornië, was goed toegerus om tegniese ondersteuning te bied – en die besef van ’n behoefte aan ’n kollege om ’n opgeleide en getroue bediening daar te stel, ondersoek mnr. Armstrong die moontlikheid om na Suid-Kalifornië te verhuis. Hy vind geskikte eiendom in Pasadena en begin met onderhandelings om dit aan te koop.

Op hierdie stadium onderneem mnr. en mev. Armstrong ’n reis na Europa om ondersoek in te stel na die moontlikheid van die vestiging van ’n Europese tak van die kollege om leraars vir ’n wêreldwye Werk daar te kan oplei. Niemand kan mnr. Armstrong daarvan beskuldig dat hy klein gedink het nie! Nogtans sou die meeste mense sy idee as totaal onrealisties beskou het, want slegs 50 persone het dan die Huttefees in 1946 in Belknap Springs bygewoon! Verder was daar nog nie eens ’n gevestigde Amerikaanse kollege nie – bloot groot drome en ’n bouvallige eiendom met twee geboue wat mnr. Armstrong nog besig was om te probeer koop. Ander mense, binne én buite die Kerk van God, het gepraat van “wanneer hierdie ding in duie stort”. Maar, ’n toekomsvisie en die vermoë om groot te dink was kwaliteite wat mnr. Armstrong in groter maat getoon het as enige ander leier in die Kerk van God van sy dag. Ambassador Kollege maak sy deure oop in die herfs van 1947, met vier studente en agt leermeesters. Die uitbreiding en ’n Europese kollege sou ’n klein rukkie moes wag.

In 1949 onderneem Ambassador Kollege studente hul eerste landswye dooptoer. Die vrugte van daardie eerste studente dooptoer word weerspieël in die toename in die Feesbywoning: van 150 persone in 1951 tot 450 in 1952. In Desember 1952 seën mnr. Armstrong die eerste evangeliste van hierdie fase van die Kerk van God in: Richard Armstrong, Raymond Cole, Herman Hoeh, C Paul Meredith en Roderick C Meredith. In Februarie 1953 word Marion en Raymond McNair ingeseën, wat die totaal op sewe te staan bring. Dit was die begin van ’n tydperk van snelle groei en ontwikkeling in die Werk.

Nadat die eerste twee groepe studente aan Ambassador Kollege gegradueer het, is ’n Nagraad­se Skool van Teologie begin. Mnr. Armstrong gebruik die Nagraad­se Skool van Teologie as ’n afspringplek om dieper te delf in ’n aantal onderwerpe, die belangrikste hiervan was God se aard en natuur en die mens se lotsbestemming.

Dwarsdeur haar geskiedenis is die Kerk van God gekant teen die Drie-eenheidsleer, en sy aanvaar nooit die formulering van die vroeë Katolieke rade as ’n geldige gids vir ware Christene nie. Dit is egter eers in die moderne tyd, in die lente van 1953, dat mnr. Armstrong en ander leraars ’n helder begrip begin kry van die Bybelse leerstelling dat God ’n geestelike familie is en dat werklik bekeerde mense tydens die opstanding in daardie Familie ingebore sal word. Aan die begin het hulle gepoog om hierdie begrip uit die Bybel as vals te bewys. Hulle vind egter dat dit dwarsdeur God se Woord herbevestig word. Alhoewel hierdie begrip die duidelike bedoeling was van wat vantevore onderrig is, vind mnr. Armstrong en die ander dit ’n uitdaging om hierdie eenvoudige – dog baie belangrike en oorweldigende waarheid – te aanvaar. Die belangrikste lering van die Bybel – dat ons in die Familie van God ingebore kan word – is moontlik die grootste enkele waarheid wat God deur mnr. Armstrong aan Sy Kerk teruggegee het.

In 1953 is twee reusagtige spronge gemaak in die verkondiging van die Evangelie. Die jaar begin met een van die grootste oop deure in die geskiedenis van die Werk. Op 1 Januarie 1953 begin Radio Luxemburg, toe dié sterkste radiostasie op aarde, om The World Tomorrow na Europa uit te saai. Daarby bekom mnr. Armstrong ’n uitsaaityd vir daaglikse radio-uitsendings op die hele ABC Radio Netwerk.

In Februarie 1953 vestig Dick Armstrong (mnr. Armstrong se oudste seun wat in 1958 in ’n motorongeluk oorlede is) ’n kantoor in Londen om posnavrae te hanteer. In 1954 onderneem mnr. Armstrong – vergesel van sy vrou, Loma, Richard Armstrong en Roderick C Meredith, evangelisasie­veld­togte in Brittanje. In 1956-57 keer mnr. Meredith terug vir verdere evangelisasieveld­togte. Terug in die VSA word hy in 1958 as vise-president van die Kerk aangestel.

Die Junie 1960-uitgawe van The Plain Truth bevat ’n spesiale aankondiging van mnr. Armstrong aan Britse lesers, waarin hy bekend maak dat mnr. Meredith ’n reeks evangelisasieveldtogte in Brittanje sou onderneem. Mnr. Armstrong skryf: “Mnr. Meredith is ten volle toegewy en volkome opreg ... Hy gaan u dinge vertel wat u van geen ander bron kan hoor nie ... u sal geskok, verbaas wees – u sal op een van hierdie vergaderings meer oor die regte waarheid hoor as wat die meeste mense leer deur jare se prediking!” (Ivor Fletcher, The Incredible History of God’s True Church, bl. 256). Teen Oktober 1960 open die tweede Ambassador Kollege sy deure, in Bricket Wood, Engeland en in 1964 open ’n derde kampus in Big Sandy, Texas.

Soos wat die getal leraars toeneem wat doopreise kon onderneem en kerke kon vestig en lei, word die vrugte wat die Werk oes, al hoe meer. Feesbywoning skiet die hoogte in: van 750 in 1953 tot meer as 2,000 in 1957. Teen 1961 is die totaal byna 10,000 en teen 1967 meer as 40,000. In 1964 steek die Plain Truth se verspreidingslys die halfmiljoenmerk verby en tref eenmiljoen teen 1967. Teen die laat 1960’s word The World Tomorrow daagliks uitgesaai en 10 miljoen mense rondom die wêreld hoor dié radio-uitsendings. Te midde van hierdie wêreldwye ontploffing van belangstelling in God se Woord, verander die wetlik ingelyfde naam van die organisasie in 1967 van “Radio Kerk van God” na “Wêreldwye Kerk van God”.

Gedurende die 1960’s is Garner Ted Armstrong (mnr. Armstrong se jongste seun) die hoofspreker op The World Tomorrow en dien as vise-president van die Kerk. Dr. Roderick C Meredith (wat in Januarie 1966 sy doktorsgraad in teologie van die Ambas­sador Kollege Nagraadse Teologieskool ontvang het) word direkteur van die Amerikaanse leraarskap.

In 1967 is mev. Loma Armstrong op die ouderdom van 75 oorlede. Teen die einde van die 1960’s is daar reeds tekens van toekomstige probleme vir die Werk.

In Januarie 1972 is die Kerk geskud toe Garner Ted Armstrong van sy pligte onthef is. Vier maande later is hy weer in sy amp herstel. In die 1970’s vat daar in die Kerk as geheel, soos dit die geval was in Amerika, ’n toenemende liberale, permissiewe gees pos. ’n Aantal leraars en lidmate verlaat die Kerk in 1974 en toenemende verwarring oor leerstellings, gekoppel aan beskuldigings van ’n skandaal, tref die Werk. Nadat mnr. Armstrong begin herstel van hartversaking in 1977 onthef hy uiteindelik sy seun van sy pligte in 1978 en skors hom uit die Kerk in Junie.

In Januarie 1979 is die Kerk tydelik getref deur ’n ontvangerskap wat deur die Staat van Kalifornië ingestel is. Terwyl hy nog in Tucson, Arizona aansterk na hartmoeilikheid, stel mnr. Armstrong weer vir Dr. Meredith aan in sy ou pos as direkteur van die bediening in ’n poging om stabiliteit in die Kerk en die bediening te herstel in dié moeilike tyd. Terselfdertyd begin mnr. Armstrong om “die Kerk weer op die regte spoor te bring” ten opsigte van leerstelling ná die liberale, afgewaterde doktrinale benadering van die 1970’s. Teen die tyd van mnr. Armstrong se dood in Januarie 1986 word meer as agt miljoen kopieë van The Plain Truth wêreldwyd versprei in sewe tale. Wêreldwye bywoning van die Huttefees raak-raak aan die 150,000.

Toe Joseph Tkach in Januarie 1986 die stuur van die Wêreldwye Kerk van God oorneem met die dood van mnr. Armstrong, het dit voorgekom asof die Kerk ’n verenigde liggaam was. Dit het gelyk asof die Kerk gefokus was op die Werk van God wat nog voorlê en verbind was tot die Waarheid. Onder die oppervlak was daar egter probleme, wat mettertyd al hoe duideliker geword het.

Die finale fase van Kerkgeskiedenis

In Openbaring 3 lees ons van die twee finale fases in die geskiedenis van die Kerk van God. Die Kerk van Filadelfia sou gekenmerk word deur ’n ywer om die Werk van God te doen. God belowe om hulle van ’n “oop deur” te voorsien om die Evangelie te verkondig (vers 8), asook om hulle teen die toekomstige Groot Verdrukking (vers 10) te beskerm. ’n Finale, sewende fase van die Kerk word egter ook in Openbaring 3 beskryf, naamlik die Kerk in Laodicea. Hierdie kerk sou gekenmerk word deur ’n louwarm en trae geestelikheid (verse 15-17). Alhoewel mnr. Armstrong die Kerk “weer op die regte spoor gebring het” gedurende die laaste sewe jaar van sy lewe, begin dit vanaf die vroeë 1970’s duidelik word dat daar twee verskillende “geestes-instellings” of denkwyses langs mekaar bestaan binne die een organisasie.

Omtrent ’n jaar ná mnr. Armstrong se dood begin ’n geleidelike tendens posvat om terug te keer na die losbandige, liberale benadering van die 1970’s. Binne ’n paar jaar beweeg die veranderings egter ver verby die 1970’s tot by totale afvalligheid van die Waarheid – selfs tot die punt dat die Drie-eenheid onderrig word, en dat gehoorsaamheid aan God se Wet (insluitend die Sabbat, Heilige Dae, die gee van tiendes en onrein vleis) as onnodig beskou word. In Desember 1992, 40 jaar ná sy inseëning, word Dr. Meredith uit die Worldwide Church of God gedwing weens sy weiering om hom by die heersende mag van afvalligheid te skaar. Saam met getroue lidmate en leraars spring Dr. Meredith vinnig om die Werk van God onder die vaandel van die “Global Kerk van God” te laat herleef. Binne ses weke, begin die Kerk met die produksie van ’n weeklikse radioprogram. Gedurende Mei 1995 begin die Kerk met ’n weeklikse televisieprogram.

Teen Januarie 1995 laat vaar die leierskap van die Wêreldwye Kerk van God alle skynvertoon van voortsetting met die geskiedkundige Kerk van God leerstelling en omarm Protestante teologie. Dit lei feitlik tot die ineenstorting van die organisasie en die uittog van duisende lidmate, sowel as hordes leraars rondom die wêreld. Ongelukkig bring hierdie 1995-uittog mee dat baie kompeterende organisasies gestig word en ’n menigte onafhanklike bedienings voortgaan om uit mekaar te skeur en verdeel. In November 1998 is daar selfs ’n poging onder leiding van verskeie Global Kerk van God raadslede om ’n “korporatiewe oorname” van daardie organisasie teweeg te bring. Teen die wense van die meerder­heid van die Kerk se Ouderlingsraad, lig raadslede Dr. Meredith uit die stoel, maar vind gou uit dat die oorgrote meerderheid van Global se lidmate en leraars steeds die ontslane leier ondersteun, asook daardie lede van die Ouderlingsraad wat die raad verlaat het na sy ontslag. Dr. Meredith laat die Werk onmiddellik herleef onder die vaandel van die “Lewende Kerk van God”, ondersteun deur duisende getroue lidmate en leraars en is binne minder as twee maande terug op televisie – op presies die­selfde televisiestasie en in presies dieselfde tyds­gleuf wat die Raadslede gekanselleer het!

Veertig weke nadat Dr. Meredith die stigting van die “Lewende Kerk van God” aangekondig het, begin die Global Kerk met insolvensie stappe. Sedertdien het splintergroepe wat van die bankrot organisasie voortgespruit het, verder verdeel en uitmekaar gespat. Die tien manne wat in Desember 1998, na Dr. Meredith uitgeskop is, op die Global Kerk se Ouderlingsraad gedien het, is met die skrywe van hierdie boekie onder sewe verskillende Kerk van God organisasies versprei. In teenstelling is al die Ouderlingsraadslede wat Global verlaat en Dr. Meredith bly steun het, steeds tot vandag toe saam in die Lewende Kerk van God.

Die Lewende Kerk van God het die fokus van die Werk behou – om die wêreld te bereik met die ware Evangelie van Jesus Christus. U lees hierdie boekie danksy die spangees en eenheid wat die Lewende Kerk van God toegelaat het om aan Filadelfiese ywer as gemeenskaplike ideaal vas te klou, om die gees van eiewil en “op jou louere rus” wat so baie Laodisese lidmate van God se Kerk getref het, te verwerp. Die Lewende Kerk van God is toegewyd om volgens elke woord van God te leef – insluitend Jesus Christus se “Groot Opdrag” om “die hele wêreld in [te gaan] en ... die evangelie [te verkondig] aan die ganse mensdom” (Markus 16:15).

Soos so baie kere in die verlede gebeur het, bevind God se mense hulle vandag by ’n kruispad. Satan saai verwarring en ontmoediging. Gevolglik is baie lidmate seergemaak en kwaad, of oorweldig deur die sorge van hierdie lewe. Andere is deur vals leraars mislei en het in dwaalleer verval. Andere raak so suf en louwarm van gesindheid dat hulle hul visie verloor en slegs wens om plaaslike gemeentes te onderhou, sonder om besorg te wees oor die Werk wat gedoen moet word. Dit verteenwoordig ’n vervulling van Christus se waarskuwing aan die Kerk soos vervat in Mattheus 24:10–13.

Die Evangelie sal egter in hierdie eindtyd aan die hele wêreld verkondig word (Mattheus 24:14) en daar is ’n groeiende groep gelowiges wat beide vol geesdrif is vir die volle Waarheid en ywerig is om God se Werk te voltooi. Net soos God se mense vanaf die eerste eeu moes maak, so moet God se mense vandag kragtig “stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Judas 3). God stel dit duidelik: “Hy volbring ’n saak en verkort dit in geregtig­heid” (Rom. 9:28). Wie sal Hy gebruik om die saak te volbring? Volgens Daniël 11:32 is dit “die volk wat hulle God ken, ... [wat] vashou en optree”.

Waar is die Kerk wat Christus gebou het? Dit het nie uitgesterf nie! Dit het etlike kere die poorte van die doderyk trotseer en is op ’n wonderbaarlike wyse steeds besig om dit te doen. Vandag gaan die Lewende Kerk van God voort om die Werk van God te doen, deur die ware Evangelie te verkondig aan ’n wêreld wat op totale vernietiging afstuur.

Sal u een van die mense wees wat God gebruik om Sy Werk in die eindtyd te volbring? Het u die ware Filadelfia-gesindheid wat na die hele wêreld uitreik in opregte liefde en besorgdheid om God se boodskap van waarheid en hoop te deel? Is dit vir u belangrik dat die Huis van Israel gewaarsku moet word teen die toekomstige moeilike tyd vir die mense van Jakob? Is die Werk van God belangriker as u persoonlike gemak?

In die Lewende Kerk van God glo ons dat ons ’n voortsetting is van die Filadelfia era wat Christus baie jare gelede deur mnr. Herbert W Armstrong opgerig het. Ons word in hierdie jare wat die onmiddellike voorspel tot die Groot Verdrukking is, gemotiveer deur ’n dringendheid. Ons glo werklik wat Jesus Christus onderrig het – dat ons die werk van die Vader moet doen terwyl dit dag is, want die nag kom inderdaad, wanneer geen mens kan werk nie (vergelyk Johannes 9:4)! Sal u ook ag gee op Christus se woorde?

Laai af in PDF (186 KB) | Bestel GRATIS Gedrukte Uitgawe
Geliewe daarop te let dat genoemde boekies nie by Bruid van Yeshua beskikbaar is nie, maar dat u dit direk kan bestel vanaf
Die Lewende Kerk van God of u kan die PDF dokument aflaai indien beskikbaar. Baie Dankie.