El-Roi - Afrikaans

Studies

Gedigte

God

Israel

Profesiee

Satan

Die Ware God - bewyse en beloftes

Die Ware God - bewyse en beloftes

deur Dr. Douglas S. Winnail

Die Lewende Kerk van God

 
INHOUD
Vrae oor God?
Bewys 1: Skepping vereis ’n Skepper
Bewys 2: Lewe vereis ’n Lewegewer
Bewys 3: Wet vereis ’n Wetgewer
Bewys 4: Ontwerp vereis ’n Ontwerper
Bewys 5: Vervulde profetiese beloftes
Bewys 6: Verhoorde gebed
Bewys 7: ’n Lewenswyse wat werk
Slotsom: ’n Toekomstige oordeel
 

Vrae oor God?

Het u al ooit gewonder of God werklik bestaan? Kan u verseker weet? Kan u dit bewys? Is daar een ware God of is daar baie gode? Is die idee van God nie maar net ’n produk van die menslike verbeelding nie? Maak dit saak of u aan God glo of nie? Hierdie is van die belangrikste vrae wat u ooit kan vra. In ons “moderne” wêreld vandag weet ons egter meer van televisieprogramme, beroemde persone se private lewens en professionele atlete se statistiek as wat ons van God weet!

Terwyl miljoene bely dat hulle in God glo, is die ware God egter vir die meeste mense nie ’n werklikheid nie! Hoe werklik is God vir u? Is die God wat u aanbid dieselfde God wat in die bladsye van die Bybel verklaar word – of is u idee van God een wat deur menslike redenasie opgetower is? Het die twyfel en skeptisisme wat ons samelewing deurspek, u idee oor God beïnvloed? Vandag het baie mense regtig probleme om deeglike, gegronde antwoorde rakende God te bekom.

Dit mag dalk vir u ’n skok wees om uit te vind dat ons moderne, gesofistikeerde, goed opgeleide wêreld mislei is aangaande die grootste vrae oor die lewe! Die waarheid oor die ware God is verdraai en onder­druk – nie net deur ateïstiese filosowe en wêreldlike wetenskaplikes nie – maar deur misleide teoloë! Dit klink dalk verregaande, maar die Bybel onthul dat dit sou gebeur, en dit word ook deur geskiedkundige feite gestaaf, soos ons in hierdie boekie sal uitwys.

Ateïste [godloënaars] beweer dat God nie bestaan nie en dat die idee van God ’n uitvindsel van die menslike verstand is. Agnostici [niegelowiges] sê dat dit onmoontlik is om te weet of God bestaan of nie. Evolusionêre bioloë verkies om te dink dat God glad nie nodig is nie. Wêreldlike wetenskaplikes wil God weglaat uit alle besprekings weens hul siening dat die hele idee van God op persoonlike geloof berus en nie op bewyse nie. Onwetend speel misleide en waningeligte teoloë reg in die hand van hierdie misleiding met hul idee dat ’n mens God se bestaan moet aanvaar in blindelingse geloof – glo net – geen bewyse is nodig of moontlik nie!

Met sogenaamde kundiges wat soveel teenstel­lende idees handhaaf, is dit dan geen wonder dat die gemiddelde mens twyfel en voorbehoude het rakende God nie. Twyfel u enigsins? Ons vra vir ’n kwitansie as bewys dat ons ’n item gekoop het. Ons ontvang ’n depositostrokie wanneer ons geld in die bank deponeer. Wanneer dit kom by die belangrikste vraag in ons lewe, word ons egter vertel dat ons “in geloof moet aanvaar” – blindelings, sonder enige bewys – dat God bestaan! Of ons luister na “kundiges” wat beweer dat God nie bestaan nie, of dat ons dit nie verseker kan weet nie. Maar ons bevraagteken dit nie ernstig of vereis geen beves­tiging vir sulke dramatiese stellings nie.

Vir die grootste gedeelte van die afgelope eeu het baie mense dit as vanselfsprekend aanvaar dat die wetenskap die heelal sonder God kan verduidelik en dat Sy bestaan twyfelagtig is. Soms word beweer dat intelligente mense nie meer in God glo nie – alhoe­wel niks verder van die waarheid kan wees nie! Teoloë wat verskonings maak vir die Bybel en daarvan weg­skram om dogmatiese stellings oor God en Sy Woord te maak in ’n poging om wetenskap en godsdiens in harmonie te bring, het slegs daarin geslaag om hul eie invloed te ondergrawe. Georganiseerde godsdiens is vandag meestal aan die afneem bloot omdat die waarheid aangaande die ware God geïgnoreer, verdraai en onderdruk is.

Die God van die Bybel daag ons uit om te bewys dat Hy werklik bestaan – en Hy wys ons op spesifieke maniere hoe om dit te kan doen. Die ware God voorspel die toekoms en daag enigeen uit om dieselfde te doen met soortgelyke akkuraatheid. Die God wat die Bybel geïnspireer het, stel dit onomwonde dat ’n lewe in stryd met Sy instruksies rampspoed tot gevolg sal hê. Die ware God gaan Jesus Christus terugstuur aarde toe om ’n einde te maak aan die mens se wanregering, én om Sy koninkryk – hier op aarde te vestig, nie in die hemel nie – as ’n wêreld­heersende regering met die hulp van Sy heiliges. Is dít die God wat u aanbid? Is dit die God waarvan u hoor wanneer u kerk toe gaan of inskakel op ’n godsdienstige radio- of televisie­uitsending? Waarskynlik nie!

In hierdie boekie sal u sien hoe en waarom die waarheid oor die ware God verdraai en onderdruk is. U sal leer hoekom ons moderne samelewing so skepties is wanneer dit kom by vrae oor God. U sal sien waarom die mensdom se vrae oor God nie bloot net sal weggaan nie. U sal ook self sewe definitiewe bewyse kan bestudeer wat bevestig dat God sonder twyfel werklik en lewend is!

Maar eers moet ons verstaan waarom ons moderne kultuur so skepties en verward is wanneer dit kom by vrae oor God, en hoe dit gebeur het. Laat ons ondersoek waarom geloof in God afgemaak word as onbelangrik, en navors wat die gevolge van daardie misleide benadering is. U kan nie bekostig om in die donker te tas oor sulke fundamentele sake nie. Die ware antwoorde mag u dalk skok en verras!

Oppervlakkige Godsdiens

Onlangse meningsopnames het getoon dat ongeveer 95% van Amerikaners in God glo, maar tog leef baie van hulle hul lewens asof God nie bestaan nie. Meer as 80% woon selde of ooit kerk by of lees die Bybel. Slegs omtrent 30% beskou die Woord van God – die Bybel – as die finale gesag in hul lewens. Die meeste mense volg slegs hul eie gewete en doen wat hulle dink die beste is, of waarvoor hulle lus is! In Europese lande is geloof in God veel minder, en daar is die getal mense wat nie gereeld godsdiens van enige aard beoefen nie, selfs hoër. In Brittanje, Frankryk, Italië, Duitsland en Skandinawië, glo slegs 30% of minder in ’n persoonlike God (The Empty Church: The Suicide of Liberal Christianity, Reeves, 1996, bll. 51, 61-65). Hierdie statistiek wys daarop dat geloof in God vir die meeste mense vandag, selfs in sogenaamde “Christelike” lande, eenvoudig nie ’n toepaslike en praktiese deel van hul daaglikse lewens is nie. Suid-Afrika is nie hiervan uitgesluit nie.

Alhoewel belangstelling in godsdiens hoogty vier in Amerika, word Amerika beskryf as ’n wêreldlike en materialistiese samelewing. Vanderbilt Divinity School se professor Edward Farley stel dit dat “godsdiens ’n bitter klein rol speel” in Amerikaanse kulturele instellings – regering, sakewêreld, onder­wys en vermaak. Die meningspeiler George Gallup het bevind dat Amerika ’n “volk van Bybel­ongeletterdes” is, waar minder as die helfte van alle volwassenes die name van die vier Evangelies van die Nuwe Testament kan opnoem (ibid., bll. 49, 63). Minder as die helfte van alle Amerikaners kan selfs net vyf van die Tien Gebooie – daardie fundamentele beginsels wat die ware God vir menslike samelewing uitgestip het – opnoem. As mense nie eens die Gebooie kan opnoem nie, is dit geen wonder dat hulle nie daarvolgens kan leef nie!

Vandag beoefen baie mense ’n oppervlakkige “verbruikerschristelikheid” of “kafeteriagodsdiens”. Dit behels, dat baie mense kies en keur watter gods­dienstige leerstellinge hulle aan wil glo en verwerp dan daardie leringe wat hulle nie aanstaan nie. Vir baie mense is godsdienstige oortuiging baie maal vaag, veralgemeen, toevallig en persoonlik. Hul vlak van oortuiging en vertroue is baie maal taamlik laag. Geloofsleerstellings is gewoonlik vaag. Elke persoon neig om te glo wat vir hom of haar reg lyk. Dit is deel van die nalatenskap van die Protestante Hervorming, waarvolgens die individu en nie die kerk of die Bybel nie, die enigste gesag is (ibid. bll. 61-62). Soos een tiener geantwoord het op ’n verslaggewer se vraag wat sy van God dink: “God is oral. God is in my. Ek is God”. Sulke menings is, soos ons sal sien, treurige wanopvattings!

Amerika en die Europese lande het ’n sogenaamde “post-Christelike era” (ibid., hoofstuk 2), binnegegaan. Ons glo nie meer aan die werklike leer­stellinge van Jesus Christus, in die Woord van God, nie. Die Bybel gee uitdruklik te kenne dat Jesus Christus sal terugkeer om op hierdie aarde te regeer saam met Sy heiliges (Dan. 2:44-45, 7:27; Op. 5:10, 11:15-18). Tog verkondig hoofstroom-Christendom dat ons almal hemel toe gaan, en die meeste belydende Christene verkies om dit te glo. God gee ons opdrag om die Sabbat te gedenk (Ex. 20:8-11), maar die meeste mense “doen hul eie ding” op díe dag. Die Bybel veroordeel voorhuwelikse seks, egbreuk en moord, en tog is ons samelewing deurspek met hierdie gedrag. Die bekende opvoed­kundige, skrywer en Amerikaanse staatsamptenaar William Bennet het geskryf: “Ons het die soort samelewing geword waarheen beskaafde lande gewoonlik sendelinge gestuur het” (ibid. bl. 66). Dit is hoofsaaklik omdat ons die ware God vergeet, verwerp of dalk nooit eens van Hom gehoor het nie. Maar hoe het dit gebeur?

Rede vervang godsdiens

Dieselfde Amerika wat op hul munte aan die wêreld verkondig dat hulle op God vertrou (In God We Trust), het hul herkoms uit Europese nasies. Europa het die kennis oor die ware God van die Apostels ontvang, wat dit van Jerusalem na die Europese nasies gebring het. Ons leer op skool dat die Westerse beskawing gebou is op die edele idees van die Griekse demokrasie en Romeinse regering­stelsel. Tog toon die Bybel en die geskiedenis albei hoe die misleide godsdienstige idees van hierdie antieke, heidense kulture bygedra het tot die huidige verwarring. In Handelinge lees ons dat die apostel Paulus die bygelowige heidense Athene vertel van die een, ware God. Ná hy ’n beskrywing gesien het wat lees: “AAN ’N ONBEKENDE GOD” sê hy: “Hom dan wat julle vereer sonder om Hom te ken, verkondig ek aan julle” (Hand. 17:23). Hulle mag nou wel demokrasie beoefen het, maar hulle was maar waningelig oor die godsdienstige waarheid!

In Rome was Paulus selfs meer uitgesproke. Hy vertel aan die Romeine: “Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar [bewys] is, want God het dit aan hulle geopenbaar” (Rom. 1:18-19). Hy vertel dié opgevoede Romeine dat hulle geen verskoning het om nie te weet van die ware God nie, “want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word” (Rom. 1:20). Paulus sê verder dat misleide mense “alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie”. Die gevolg was dat hul begrip verduister het, en “hulle het dwaas geword in hul oorlegginge … die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel [skepping] vereer en gedien het bo die Skepper” (Rom. 1:21-25). Die Bybel wys hier op ’n merk­waardige menslike neiging en die gevolge daarvan: “En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ’n slegte gesindheid”, wat gelei het tot wydver­spreide geestelike verwarring, fisiese immoraliteit en maatskaplike euwels wat ons vandag steeds in die gesig staar (Rom. 1:26-32).

Baie mense van vandag besef nie dat die kennis van die ware God en ware Christelikheid wat Paulus na Griekeland en Rome gebring het, gou deur ’n mengelmoes van heidense godsdienstige idees besmet is nie. Soos die Rooms-Katolieke geskied­kundige Will Durant skryf: “Die Christendom het die heidendom nie vernietig nie, dit het dit aangeneem”. Die vorm van Christendom wat in Europa ontwikkel het en later na Amerika en die res van die wêreld versprei het “was die laaste groot skepping van die antieke heidense wêreld” (Ceasar and Christ, 1944, bl. 595). Durant en ander historici verduidelik dat geloof in die een ware God as gevolg van die invloed van heidense filosofie ’n geloof in ’n drie-enigheid geword het. Hulle merk op dat verdraaide Gnostiese [niegelowige] idees “die Christelike geloof verberg het” en dat teoloë opgelei in heidense filosofie die wese van God probeer verduidelik het deur bespie­geling eerder as om te leer wat God oor Homself openbaar in die Bybel. Ná eeue van soort­gelyke besprekings en debatte is dit nie vreemd dat die dikwels abstrakte God van die moderne Christendom min in gemeen het met die ware God van die Skrif nie.

Ander Europese idees het ook die leringe aangaande die ware God ondermyn en verander. Die Verligting van die 18de eeu en wetenskaplike ontdekkings wat klaarblyklik die Bybel weerspreek het, het sommige mense tot die gevolgtrekking gelei dat die Bybel en die God van die Bybel slegs fabels was (verwys God’s Funeral, Wilson, 1999). Darwin se beskouings oor evolusie het gelyk asof dit wegdoen met die behoefte aan die God van die Skepping. Julian Huxley, ’n voorstander van Darwin se idees, het vertroulik gesê: “Daar is in die evolusionêre denkwyse nie meer ’n behoefte of plek vir bonatuurlike wesens wat die loop van gebeure kan beïnvloed nie. Die aarde is nie geskep nie, dit het ontwikkel. Dieselfde geld vir die diere en plante wat daarop bestaan, insluitend die mense self, hul verstand en siel, brein en liggaam”. Huxley het ook onomwonde verklaar dat “God in die praktyk nie met ’n heerser vergelykbaar is nie, maar met die laaste glimlag van ’n nar”. Op grond van díe klaarblyklik oorweldigende ontdekkings deur die wetenskap, het teoloë die aftog geblaas en in hul leringe oor God teruggestaan.

Huxley het ’n ander opmerking gemaak wat steeds hedendaagse sienings van God beïnvloed: “Ons konsep van God moet eerder godsdienstige ondervinding as geloof in ’n spesifieke geloofsleer beklemtoon”. Met ander woorde, God is daardie warm gevoel wat u in u hart voel, nie ’n Opperwese wie se bestaan u kan bewys en wat in geskiedenis ingryp nie. Dié idee is in die 1600’s deur die Franse filosoof Pascal verkondig: “Dit is die hart wat God ervaar, nie die rede nie”. Die Hervormingsteoloog John Wesley het ook gepraat van die “verwarmde hart” as ’n teken dat iemand godsdienstige waarheid ont­dek het. Tog druis al hierdie idees in teen dié ver­maning van Paulus aan ’n Griekse gehoor: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thess. 5:21). Die pro­feet Maleagi haal God aan in dié woorde: “Be­proef My tog” (Mal. 3:10). Bewyse behels grondige, oortuigende redes. Geloof in die ware God behels die verstand, nie bloot ’n warm gevoel in u hart nie!

Gedurende die afgelope twee eeue het baie intellektuele in die Weste, as sogenaamde kinders van die Verligting, geloof in God aangeval. Die Duitse filosoof Nietzsche, het aangevoer: “God is ’n gedagte”. Freud het geloof in God ’n vorm van geestesafwyking genoem wat die mensdom met verloop van tyd sou ontgroei. Karl Marx het godsdienstige geloof “die opium van die mensdom” genoem. HL Mencken, ’n ateïs, het aangevoer: “God is die onvergeetlike ontvlugting vir die onbevoegdes, die hulpeloses, die miserabeles”. Die dramaturg Tennessee Williams het God beskryf as ’n “seniele misdadiger”. In die 1960’s het vooraanstaande teoloë Nietzsché se vroeëre idees herhaal en inderdaad gevra: “Is God dood?” Richard Dawkins, ’n dierkundige van Oxford, het in ’n toespraak getiteld ’n Wetenskaplike se saak teen God, genoem dat daar geen bewyse is om godsdiens te steun nie en dat die beter opgevoede mense dit erken (Science, 15 Aug. 1997, bl. 892). Hy het beweer dat elkeen wat in God die Skepper glo “wetenskaplik ongeletterd” is.

Op grond van sulke aanvalle teen geloof in God, die amperse afwesigheid van kragtige Bybelse leringe deur leraars en die gebrek aan eerlike, objektiewe voorlegging van fisiese bewyse deur wetenskaplikes, is dit nie vreemd dat die ware God van die heelal vandag steeds onbekend is aan die mense nie. Maar vrae móét gevra word. Is die kritici reg, of is hulle mislei? Het die uitlatings van wêreldlike, ateïstiese persone ons samelewing tragies mislei oor God? Laat ons ’n paar belangrike lesse ondersoek uit die Bybel en uit ons onlangse verlede wat betrekking het op vrae oor God. Daarna sal ons dan sewe bewyse ondersoek wat die werklikheid van die ware God sal uitwys.

Nuwe bewyse, nuwe lesse

Dawid het meer as 3,000 jaar gelede in die Psalms geskryf: “Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie” (Ps. 14:1). Salomo het gesê: “Die mond van die dwase laat sotheid uitborrel” (Spr. 15:2). ’n Terugblik oor die laaste paar eeue wys uitdruklik dat baie van die “verligte” intellektuele wat ons moderne wêreld gevorm het, doodeenvoudig verkeerd was! Hulle het dwase aannames en dwase stellings gemaak en baie mense het dit geglo! Hierdie misleide individue was in wese blindes wat ander blindes gelei het!

Marx se kommunisme is bewys as ’n algehele mislukking wat ongekende lyding veroorsaak het. Freud se sielkundige teorieë is grootliks betwyfel. Alhoewel Freud godsdiens as ’n neurose beskryf het, het een van sy studente, Carl Jung, godsdiens egter baie voordelig gevind in die behandeling van geestesversteurde persone (God: The Evidence, Glynn, 1997, bl. 69). ’n Toenemende getal weten­skap­like geskrifte bewys trouens die positiewe effek van sekere godsdienstige gelowe op persoonlike gesondheid. Marx en Freud, wie se idees baie bygedra het tot die verwêreldsing van ons same­lewing – weens ondermyning van ’n godsdienstige en morele grondslag – was oor baie sake sommer hopeloos verkeerd.

Dieselfde word nou gesê oor die idees van Charles Darwin en sy vrydenkende tydgenote. Die evolusieteorieë van Darwin wat glo weggedoen het met die nodigheid vir ’n Skepper, loop die afgelope paar dekades deur onder toenemende kritiek. Al hoe meer geleerdes, onder meer kosmoloë, bioloë, biochemici en paleontoloë, erken dat die teorie van evolusie eenvoudig nie die oorsprong van die aarde, van lewe en van spesies verduidelik of kán verduidelik nie. Die idees van Darwin en andere pas net nie in by die feite van die fossielrekords of by dit wat die afgelope eeu oor die heelal ontdek is nie (verwys Creation and Evolution, Hayward, 1995; Debating Darwin, Christian Century, 15-22 Julie 1998, bll. 678-681).

Soos wat die 20ste eeu tot ’n einde gekom het en ons ’n nuwe millennium betree het, word daar met hernude erns vrae oor God gevra. Daar is bewys dat evolusieleerders se doellose heelal ’n sielkundige leë en ontmoedigende idee is. Verbasende ontdekkings oor die heelal dui op ’n intelligente Skepper (sien Newsweek, 20 Julie 1998, bll. 47-52; 9 November 1998, bl. 88). Daar word nou erken dat die natuurwetenskappe ernstige tekortkominge het.

In die res van hierdie boekie sal ons leer van die ware God deur bewyse te ondersoek uit beide die natuur en die Bybel. Die bewyse is verstommend en kragtig – en dit kom van “wetenskaplik geletterde” kundiges. U kan bewys dat God wel bestaan. U hoef nie daaroor te twyfel of dit blindelings “in geloof” te aanvaar nie. Die God van die heelal is werklik!

Bewys 1 – Die skepping vereis ’n Skepper

Die evolusieteorie voer aan dat die aarde en heelal oor ’n onmeetlike tydperk stadig tot stand gekom het, of dat die heelal nog altyd bestaan het. Die ateïstiese sterrekundige, Carl Sagan, het eenmaal gesê: “Die kosmos is al wat is of was of wat ooit sal wees”. Dit is egter glad nie waar nie! Kosmologiese studies het in onlangse jare bewys dat daar ’n tyd was toe die heelal nie bestaan het nie, dat dit ’n begin gehad het op ’n spesifieke tydstip. Dit is presies wat die Bybel sê in Genesis 1:1: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape”. Die Bybel sowel as wetenskaplike ontdekkings wys duidelik dat die aarde en die heelal nie altyd bestaan het nie.

Sterrekundiges wat die beweging van sterre­stelsels bestudeer het, het bepaal dat die heelal uitwaarts beweeg vanaf ’n gegewe punt, maar teen ’n verminderende spoed. Dit wil voorkom asof die heelal begin het met ’n reuse ontploffing. Dit word die “oerknal” [big bang] genoem. Wetenskaplikes het eggo’s van hierdie ontploffing opgespoor wat steeds deur die heelal weergalm, en dit staan bekend as uitstralingseggo’s of agtergrondgeraas. Stephen Hawking, ’n teoretiese fisikus by Cambridge Universiteit, het geskryf dat die oerknalkosmologie miskien die “gedagtes van God” kan openbaar, en Amerikaanse astrofisikus George Smoot het voorgestel dat agtergronduitstraling die “handskrif van God” kan wees (Science, 15 Augustus 1997, bl. 890). Sulke bewyse dwing wetenskaplikes om die gekoesterde natuurteorieë van etlike jare te heroorweeg.

Fisici het ook wette rakende termodinamika geformuleer. Die Eerste Wet van Termodinamika stel dit dat die hoeveelheid energie in die heelal konstant bly. Die Tweede Wet van Termodinamika stel dit dat die hoeveelheid bruikbare energie in ’n geslote stelsel (die heelal) afneem. Dit beteken dan dat die heelal “afwen”, dus “nie vir ewig in die verlede bestaan het nie, en nie vir ewig in die toekoms sal bestaan nie” (When Skeptics Ask, Geisler and Brooks, 1996, bl. 220). Die heelal het ’n begin gehad. Die bestaan van radioaktiewe elemente (soos koolstof-14) wat verval teen ’n meetbare koers (die sogenaamde halfleeftyd) dui ook op ’n tydstip toe daardie elemente radioaktief gemaak is. Weereens dui dit op ’n beginpunt. Dit is dus ook in stryd met evolusievoorstanders se teorieë, maar stem ooreen met die Skrif.

Maar watter oorsaaklike bewerker het die heelal tot stand gebring? Die wetenskap werk volgens die beginsel dat daar ’n oorsaak vir elke effek moet wees. Wat het die “oerknal” veroorsaak? Was dit bloot blindelingse, natuurlike kragte, of het ’n intelligente wese, ’n Skeppergod, dit uitvoerig of vooraf beplan? Aangesien dit ’n eenmalige gebeurtenis was wat nie waargeneem is of herhaal kan word nie, is wetenskaplike metodes nutteloos om ’n antwoord te bekom. Die onderwerp rakende oorsprong lê buite die sfeer van wetenskaplike ondersoek. Die Bybel beskryf egter die oorsprong van die heelal en die aarde in terme wat ooreenstem met die feite wat ontdek is deur wetenskaplikes. Die ontdekking dat die heelal ’n definitiewe begin gehad het, stem ooreen met duidelike stellings in die Bybel.

Die Skrif verwys telkens na God as die Skepper van die fisiese aarde en heelal (Gen. 1; Jes. 40:28; Mark. 13:19; Op. 4:11). Die ware God is egter betrokke by veel meer as net die fisiese skepping. Die Bybel onthul ook dat daar ’n voortgesette geestelike dimensie tot God se skepping is.

Die apostel Paulus het geskryf dat wanneer ’n persoon verkies om sy rug te keer op ’n selfgesen­treerde lewenswyse en kies om te begin leef volgens die leringe van Jesus Christus, daardie persoon ’n “nuwe skepping” of “nuwe skepsel” (2 Kor. 5:17; Gal. 6:15) word. Soos ons sal sien, het God ’n ongelooflike doel vir diegene wat gewillig is om dié uitdagende geestelike reis aan te pak. Die Bybel dui aan dat daar meer aspekte tot die lewe is as wat die natuurwetenskap kan ontdek. Hierdie aspekte word onthul deur die Skepper – deur die ware God van die heelal. Dit is nie moontlik om dit in ’n laboratorium deur middel van wetenskaplike metodes te ontdek nie! Die skepping, in al sy aspekte, vereis ’n Skepper.

Bewys 2 – Lewe vereis ’n Lewegewer

Die oorsprong van lewe bied nog ’n uitdaging aan diegene wat die idee van ’n bonatuurlike God wil verwerp. Evolusioniste dink dat lewe spontaan ontstaan het in ’n poel chemikalieë terwyl die aarde biljoene jare gelede afgekoel het. Ons word vertel dat koolstof, stikstof, waterstof en ammonia, met die hulp van sonenergie en kosmiese strale, lukraak verbind het om aminosure en DNA-molekules te vorm. Oor baie miljoene jare het selle glo uit hierdie toevallige kombinasies ontwikkel. Alhoewel dit gangbaar klink, weet die biochemici egter van beter. Wetenskaplikes wat probeer het om volgens hierdie metode lewe te skep het geleer dat dit baie moeiliker is as wat hulle teorieë voorgegee het. ’n DNA-molekule bevat soveel inligting as ’n reeks ensiklopedieë. Om hierdie evolusieteorie dan voor te stel as die oorsprong van lewe is so verregaande as om voor te stel dat ’n ontploffing in ’n skrootwerf ’n volledig vervaardigde voertuig sal kan produseer – en dat dié voertuig dan sal begin om homself te herproduseer.

In die 1950’s het Stanley Miller ’n eenvoudige eksperiment gedoen om te sien of dié teorieë werklik sal werk. Hy het daarin geslaag om eenvoudige aminosure te produseer, en sy eksperiment is aangeprys as die bewys dat lewe spontaan uit nie-lewende materie verwek kon word. Hierdie aanspraak was egter voorbarig. Niemand kon nog ooit lewe skep uit ’n poel chemiese middels (pre-biotiese sop) nie, ten spyte van talle pogings. Astrofisikus Hugh Ross se kommentaar was: “Selfs onder hoogs gunstige laboratoriumtoestande, het hierdie soppe nie daarin geslaag om iets voort te bring wat naastenby lewe is nie. Een probleem is dat hulle slegs ’n toevallige verspreiding van links- en regshandige voor-biotiese molekules kon voortbring … Lewenschemie vereis dat alle molekules óf regs- óf linkshandig moet wees. Met al ons kennis en tegnologie kan ons nie eens naastenby daarin slaag om lewe in ’n laboratorium te skep nie” (The Creator and The Cosmos, Ross, 1993, bl. 148).

Veertig jaar ná sy oorspronklike eksperiment het Miller gesê: “Die probleem met die oorsprong van lewe was toe veel moeiliker as wat ek, en die meeste ander mense, voorsien het” (Scientific American, Februarie 1991, bl. 117). Die Duitse biochemikus Klaus Dose het gesê dat al die eksperimentele pogings “gelei het tot ’n beter begrip van die probleem van die oorsprong van lewe op aarde, eerder as tot die oplossing daarvan. Tans eindig alle besprekings oor grondslagteorieë en eksperimente in die veld óf in ’n dooiepunt óf in ’n belydenis van onkunde” (The Creation Hypothesis, Moreland, 1994, bl. 176).

Dit is nie verbasend nie. Anaxamander van Miletus, ’n antieke Griekse filosoof, het ook gespekuleer dat lewe spontaan kon ontwikkel uit nie-lewende materie. Dié bygelowige idee het die botoon gevoer tot die 1800’s toe die eksperimente van Redi en Pasteur die teendeel bewys het. Hulle klassieke eksperimente het bewys dat maaiers in verrotte vleis nie uit die vleis kom nie, maar uit die eiers van die vlieë wat met die vleis in aanraking was. Lewe kom van lewe, nie uit nie-lewe nie. Tot onlangs is hierna verwys as die wet van biogenetika. Eers tydens die afgelope paar dekades, toe wetenskaplikes gepoog het om lewe spontaan voort te bring om die evolusieteorieë te bevestig, is dié eens aanvaarde wet geïgnoreer. Daar is steeds geen bewys dat daar enige uitsondering op hierdie wet is nie.

Mense kan maar spekuleer dat lewe spontaan uit nie-lewende materie voortkom, maar die feite stem nie ooreen met sodanige gissings nie. Die mens kon nog nie daarin slaag om lewe te skep nie, ten spyte van omvangryke pogings deur hoogs intelligente individue. Die Skrif beeld God uit as Skepper van lewe, as Lewegewer. In Genesis 2:7 lees ons: “En die Here God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe ge­blaas. So het dan die mens ’n lewende siel ge­word”. Dit is iets wat al die gesofistikeerde labora­toriums in die wêreld nie eers kan begin namaak nie. Lewe vereis ’n lewegewer. Daar is klaarblyklik geen ander uitweg nie.

Bewys 3 – Wette vereis ’n Wetgewer

Die wetenskap bestaan omdat wetenskaplikes verstaan dat die heelal op ’n geordende wyse bedryf word, volgens wette, die wette van fisika (gravitasie en beweging), die wette van chemie en wette van biologie. Soos een skrywer gesê het: “Sedert Isaac Newton het die wetenskap ’n duidelike boodskap uitbasuin; die wêreld volg reëls; reëls wat funda­menteel wiskundig is, reëls wat die mens kan uit­werk” (Newsweek, 20 Julie 1998, bl. 49). Selfs die evolusioniste begin hul gissings met die veronder­stelling dat die reëls of natuurwette op dieselfde wyse gewerk het in die begintyd as vandag. As die heelal nie volgens dié reëls of wette werk nie, sou dit ophou funksioneer en in chaos uitmekaarspat. Kom ons ondersoek nou hoe ’n paar van hierdie wette werk.

Aantrekkingskrag hou die planete in hul wentelbane. Sonder dié aantrekkingskragte sou daar nie sonnestelsels wees nie. Sterre en planete sou holderstebolder deur die ruimte trek. Aantrekkings­kragte hou die aarde ’n sekere afstand van die son, wat lewe op ons planeet moontlik maak. As die aantrekkingskragte sterker of swakker was, sou sterre (soos ons son), nie warm genoeg brand nie of te vinnig uitbrand, en sekere chemiese elemente wat onontbeerlik is vir lewe sou eenvoudig nie vervaardig word nie. Ons liggame bestaan omdat chemiese elemente op ’n sekere wyse verbind. Indien chemiese reaksies nie elke keer op dieselfde wyse (volgens wette) sou verbind nie sou ons ophou bestaan as lewende, asemhalende menslike wesens. Lewe sou ophou bestaan.

Vir baie jare, het biologiehandboeke verwys na ’n ander wet bekend as die onveranderlikheid van die spesies, naamlik dat daar ’n genetiese beperking is in die getal variasies wat binne ’n spesie kan voorkom. Plante- en dieretelers is bewus van hierdie beperkinge. Charles Darwin was bewus van die verskeidenheid wat bewys is deur die teling van huisdiere (soos honde, duiwe) asook koeie en perde. Tydens sy seereis op die Beagle het hy ook ’n treffende variasie opgemerk tussen vinke en skilpaaie op die eilande in die Stille Oseaan. In die formulering van sy evolusieteorie het hy gespekuleer dat indien genoeg tyd verloop, sulke klein variasies uiteindelik ’n nuwe spesie sou voortbring, dus dat die natuurlike kragte alleen nuwe lewensvorme kan voortbring sonder dat ’n skepper nodig is. Dié idees het ’n geweldige invloed op die Westerse wêreld gehad veral op godsdiens, en het geloof in God erg ondermyn.

Tyd het egter ernstige probleme met Darwin se idees uitgewys. Niemand het nog ooit ’n nuwe spesie op hierdie manier in die natuur sien ontstaan nie. Ten spyte van vele pogings kon niemand nog daarin slaag om ’n nuwe spesie te skep deur selektiewe teling nie. Honde mag verskillende groottes, kleure en talle ander kenmerke hê, maar hulle bly honde. Perde is steeds perde. Vrugtevlieë is steeds vrugtevlieë. Die Bybel stel dit duidelik dat God elke soort plant en dier “volgens sy soort” (Gen. 1:11-12, 21-25) gemaak het. Daar is geen bewys in die biologiese wêreld dat een spesie in ’n ander kan verander nie. Die Bybel dui ook aan dat God menslike wesens geskape het in die “gelykenis van God” wat, soos ons sal sien, geweldige implikasies het vir die doel van die menslike lewe.

Selfs die fossielrekords ondersteun hierdie basiese Bybelse beginsel. Darwin het gereken dat die intermediêre lewensvorme moes bestaan het soos wat die spesies deur die jare ontwikkel het, maar tog het hy geweet dat dit nie werklik die geval was nie. Hy het in Origin of the Species geskryf: “Waarom dan is elke geologiese formasie en elke stratum nie vol sulke intermediêre skakels nie? Geologie wys beslis nie enige sodanige fyn gegradeerde organiese ketting nie, en dit is moontlik die duidelikste en ernstigste beswaar wat teen my teorie gelig kan word” (verwys Geisler en Brooks, bl. 228). Darwin het aangeneem dat hierdie inter­mediêre skakels gevind sou word, maar ’n honderd jaar na sy boek gepubliseer is, is hulle steeds nie gevind nie! Hierdie afwesigheid van oorgangsvorme word die “handelsgeheim” van paleontologie genoem. Wanneer die spesies in die geologiese rekord verskyn, is hulle ten volle gevorm. Dit maak sin as hulle geskep is. Die bewyse uit fossielrekords ondersteun dus die Bybelse konsep van die onveranderlikheid van die spesies en ’n ware God wat werk volgens wette en reëls.

Die fundamentele vraag is: Hoe het hierdie wette dan ontstaan? Waar kom hulle vandaan? Wie het hulle in werking gestel? Hoe word hulle onderhou? Evolusioniste weet dit nie. Natuurwetenskaplikes het geen idee nie. Fisikus Stephen Hawking, ’n weten­skap­like wat probeer het om vrae oor die heelal te antwoord sonder die hulp van die Skrif, het erken dat “die wette (van fisika) moontlik oorspronklik deur God vasgestel is” (Ross, bl. 91). Dit is ’n interessante stelling, omdat die Bybel telkens na die ware God verwys onder andere as die “Wetgewer” (Jak. 4:12). As Skepper het God die wette en kragte ontwerp en in werking gestel wat die heelal saambind (Job 28:24-27). Ons word ook in die Skrif vertel dat God “alle dinge dra deur die woord van sy krag” (Heb. 1:3), dat Hy die wette onderhou wat Hy ontwerp en in werking gestel het.

Aangaande wette wys die Bybel na ’n dimensie wat veel groter is as die fisiese. Terwyl God beskryf word as ’n wetgewer in die fisiese sin, bevat die Skrif geestelike wette wat God ontwerp het om menslike gedrag te beheer. Die Tien Gebooie vorm die basis van die geestelike wet van God. Ons word in eenvoudige terme vertel dat indien ons daardie wette gehoorsaam, ons geseën sal wees, en as ons hulle verontagsaam, ons die negatiewe gevolge sal moet dra (Lev. 23; Deut. 28). Salomo het in Spreuke geskryf dat die lewe moeilik sal wees vir iemand wat die wette van God oortree (Spr. 13:15). Waarom dan, tensy daar ’n werklike God is wat daardie wette ontwerp het en onderhou? Die evolusieteorie het nie ’n antwoord hierop nie. Een van die redes waarom mense wil wegdoen met die konsep van God, is dat daar sonder God geen wette vir hul gedrag sou wees nie en dat enige tipe optrede dan toelaatbaar sou wees. Ons lewe vandag met die gevolge van daardie filosofie – en dit vernietig ons samelewing! Die bestaan van wette vereis ’n wetgewer. Vir daardie wette om voort te bestaan, is ’n stuurman, ’n “onderhouer” nodig. Dit is hoe die ware God werk.

Bewys 4 – Ontwerp vereis ’n Ontwerper

Een van die kragtigste bewyse van God se bestaan en een van die mees onthullende aspekte van die ware God, is die verbasende bewys van ontwerp wat regdeur die heelal te vinde is – van die kleinste atoom tot die grote kosmos. Dit is weens die kwessie van ontwerp dat die naturalistiese evolusie­teorieë misluk. Daar is die afgelope jare verstom­mende ontdekkings gemaak op die gebied van ontwerp, ontdekkings wat selfs skeptiese wetenskap­likes dwing om die werklikheid van God te oorweeg.

Salomo het geskryf: “Die Here het deur wysheid die aarde gegrond, deur verstand die hemele vasgestel” (Spr. 3:19). Dawid het na die menslike liggaam verwys en gesê: “Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke” (Ps. 139:14). Abraham Lincoln het eens gesê: “Ek kan verstaan hoe ’n mens na die aarde kan kyk en ’n ateïs kan wees; maar ek kan nie verstaan hoe hy na die hemele kan kyk en sê daar is geen God nie”. Selfs Albert Einstein het geskryf: “God speel nie ’n dobbelspel met die heelal nie”.

Die diepliggende waarheid van hierdie stellings begin tans posvat in wetenskaplike kringe weens onlangse verbasende ontdekkings in velde so ver van mekaar verwyder soos molekulêre biologie en kosmologie. Darwin het erken dat “komplekse organe soos die oog moeilik verduidelik kon word in terme van die geleidelike, stapsgewyse proses van sy teorie”, maar hy het nie besef hoe kompleks die molekulêre biologie van sig uiteindelik sou wees nie (Christian Century, 15-22 Julie 1998, bll. 679-680). Die biochemikus Michael Behe het in Darwin’s Black Box geskryf dat evolusioniste se onvermoë om die ontwikkeling van sulke gekompliseerde strukture en prosesse te verduidelik, ’n “baie sterk aanduiding is dat Darwinisme ’n onvoldoende raamwerk is vir begrip van komplekse biochemiese stelsels” (ibid.).

Ontdekkings oor die heelal is net so ver­stommend. Soos wat die mens se kennis uitbrei, so ook die bewyse dat die heelal nie toevallig kon ontstaan nie. Een skrywer het opgemerk: “Die einste wetenskap wat God ‘doodgemaak’ het, herstel geloof in die oë van gelowiges. Fisici het tekens gevind dat die kosmos nommer pas gemaak is vir lewe en bewustheid. Dit blyk dat indien die onveran­der­likes in die natuur, soos aantrekkingskrag, die lading van ’n elektron en die massa van ’n proton, net effens anders was, sou atome nie ’n geheel bly nie, sterre nie sou brand nie en lewe sou nooit kon ontwikkel nie” (Newsweek, 20 Julie 1998, bl. 48). John Polkinghorne, ’n fisikus wat ’n Anglikaanse priester geword het, het geskryf: “Wanneer ’n mens besef dat die wette van die natuur ongelooflik fyn ingestel moet wees om die heelal wat ons waarneem, te kan oplewer, plant dit die saadjie vir die idee dat die heelal nie slegs gebeur het nie, maar dat daar wel ’n doel daarvoor moet wees” (ibid.). Astrofisikus Hugh Ross bespreek 33 van daardie ingewikkelde toestande wat lewe op hierdie aarde moontlik maak in The Creator and the Cosmos, Ross, 1993, bll. 131-145.

’n Toenemende getal wetenskaplikes op die gebied van fisika, sterrekunde en kosmologie erken die sogenaamde “antropiese beginsel” (Grieks anthropos = mens). Hierdie beginsel is in die 1970’s deur die fisikus Brandon Carter voorgestel: vir lewe om op aarde te bestaan, moes alle toestande “vooraf beplan” gewees het, vanaf die begin van die kosmos. Dr. Patrick Glynn, met ’n doktorsgraad van Harvard, het gesê: “Die basiese verduideliking vir die heelal is dat dit ’n proses blyk te wees met die doelwit of einddoel om mense te skape” (God: The Evidence, Glynn, 1997, bll.7, 32). Glynn het gesê: “Vanuit ’n wetenskaplike oogpunt, mag die feit dat die heelal blykbaar ’n definitiewe beginpunt het, ontstellend genoeg wees. Maar wat die kosmoloë klaarblyklik tot raserny dryf, is die ‘antropiese beginsel’ – dat die aarde en die heelal geskape is vir die mensdom (ibid., bl. 42). Dit is ’n verstommende uitlating vir ’n geleerde in hierdie moderne tyd!

Terwyl ’n heelal wat vooraf vir die mensdom beplan is, ’n skokkende oorweging vir ateïste en evolusioniste mag wees, is dit presies wat die Bybel uitdruklik sê. Die Skrif wys dat God mense vir ’n doel geskape het. Ons lees in Genesis 1:26-28 dat God mense na Sy eie beeld geskape het (nie na die beeld van ape nie) en aan mense die heerskappy op aarde gegee het – om dit te beheer en te bestuur. Die apostel Paulus het aan die Romeine gesê dat ons “kinders van God” en “erfgename van God en mede-erfgename van Christus” kan word (Rom. 8:14-17). Dit beteken dat ons, deur beërwing deel sal hê in dit wat Jesus Christus het, naamlik ewige lewe (1 Kor. 15:50-53) en heerskappy op hierdie aarde in die toekomstige Koninkryk van God (Op. 5:10). Die Bybel wys dat mense geskape is vir die uiteindelike doel om deel te word van die Familie van God (1 Joh. 3:1-4; Heb. 2:1-11) en dan uiteindelik oor hierdie aarde te regeer saam met Jesus Christus (Op. 5:10; Dan. 7:27). Dít is die doel vir menslike lewe, maar hierdie opwindende inligting is deur die eeue heen verdraai en onderdruk! Dit word vandag nie eens deur die meeste teoloë begryp nie.

Vergelyk hierdie verstommende toekoms, soos uiteengesit in die Bybel, met die algemene gedagte dat ons óf hemel toe gaan en op wolke sit en harp speel, óf ons gaan vir ewig in die hel brand. Vergelyk die toekoms wat die ware God ons wys, met die idees van die dierkundige Richard Dawkins dat “die heelal wat ons sien, het…geen ontwerp, geen doel, geen goed of sleg, niks behalwe doellose onver­skil­ligheid nie…ons is masjiene wat DNA voortplant…dit is elke lewende ding se enigste rede vir lewe” (Science, 15 Augustus 1997, bl. 892). Dis geen wonder dat mense vandag geen werklike doel in die lewe sien, of geen hoop of entoesiasme oor die toekoms het nie! Wetenskap, filosofie en teologie het gefaal om die ware betekenis van lewe te begryp!

Die Bybel stel dit duidelik dat die mensdom mislei is deur ’n baie slim bedrieër (Op.12:9). Evolusie­teorieë wat geloof in die ware God ondermyn en die misleide idees van teoloë het bygedra tot hierdie bedrogspul. So ook mense wat eenvoudig nie eens daaroor wil dink dat God bestaan nie weens die gedrags­beperkings wat dit vir hulle sou inhou. Die ware God, wat hierdie heelal ontwerp het, het egter ook ’n plan en ’n doel vir die mensdom. Wetenskaplikes ontdek steeds verstommende getuienis ter stawing van die intelligente ontwerp en ’n plan in die kosmos. Die Skrif toon God se verstommende, uiteindelike doel vir die mensdom. Intelligente en doelgerigte ontwerp, beide fisies en geestelik, vereis ’n bonatuurlike Ontwerper – ’n ware God!

Bewys 5 – Vervulde profetiese beloftes

Party van die oortuigendste bewyse vir ’n almagtige, bonatuurlike God vind ons in die geskiedenis en in profesieë. Die verstommende akkuraatheid van Bybelprofesieë bly steeds ’n uitdaging aan skeptici. Tog is dit verbasend hoe baie mense, ook die wêreldlike geleerdes, eenvoudig daarvan onbewus is hoe Bybelprofesieë deur die geskiedenis bevestig word. Nog meer verbasend is die feit dat predikers so selde profesieë noem, al bewys vervulde profesie absoluut dat daar ’n werklike, almagtige God is. Isaac Newton, een van die briljantste breine in die Westerse samelewing, was gefassineer deur Bybelprofesieë (Science, 15 Aug. 1997, bl. 892).

Die ware God van die Skrif, daag mense letterlik uit om die toekoms akkuraat te voorspel en tot uitvoer te bring. Die profeet, Jesaja, het God só aangehaal: “Bring julle regsaak voor…gee te kenne dinge wat later sal kom, sodat ons kan weet dat julle gode is…Kyk, julle is niks, en julle werk is niks; ’n gruwel is hy wat julle uitkies” (Jes. 41:21-24). Diegene wat voorspellings bestudeer verstaan die gekheid om toekomstige gebeure in besonderhede te probeer voorspel, veral in die onbestendige politieke wetenskap en sosiologie – tog doen die Skrif dit herhaaldelik en met treffende akkuraatheid! Bykans 30% van die Bybel is aan profesie gewy, wat maar selde aangeraak word in Sondagpreke in die meeste kerke. Geen wonder dan dat die magtige God van die Bybel nie vir mense werklik is nie.

’n Treffende voorbeeld van vervulde profesie is aangeteken in Esegiël en dateer uit 600 v.C. Esegiël gee baie uiteenlopende toekomsbeelde vir die twee groot Fenisiese stede, Tirus en Sidon. Dit sal wees soos om te voorspel wat met Los Angeles, Londen, Parys en Kaapstad gaan gebeur oor die volgende 2,500 jaar. Sidon is ’n bloedige geskiedenis belowe, maar sou bly voortbestaan (Eseg. 28:22-23). Daarteenoor het Esegiël baie spesifiek voorspel dat talle nasies teen Tirus sou optrek soos die golwe van die see (Eseg. 26:3). Tirus sou word soos ’n kaal rots (vers 4), en nooit herbou word nie (vers 14). Hierdie magtige stad, sentrum van ’n groot handelsryk, sou ’n onbeduidende plek word waar vissers hulle nette sou droogmaak (vers 5). Dit het alles só gebeur – tot in die fynste besonderhede (verwys Evidence That Demands a Verdict, McDowell, 1979, Vol.1, bll. 274-281). ’n Ware God het die toekoms in besonderhede voorspel en dit toe laat gebeur (verwys Jes. 46: 9-10).

Nog ’n reeks merkwaardige profesieë behels spesifieke beloftes rakende die geboorte, lewe, dood en opstanding van Jesus Christus. Hierdie profesieë is baie eeue vóór Christus se geboorte reeds aangeteken. Die eerste twee hoofstukke van Mattheus haal profesieë aan dat Jesus uit ’n maagd gebore sou word (Jes. 7:14), in Bethlehem (Miga 5:1). Hy sou na Egipte vlug (Hos. 11:1). Voor Sy dood sou Hy Jerusalem binnery op ’n donkie (Sag. 9:9). Met Sy dood sou Sy hande en voete deurboor word (Ps. 22:17), en die lot sou gewerp word oor Sy klere (Ps. 22:19). Dawid het geprofeteer dat Christus uit die dood opgewek sou word (verwys Ps. 16:10). Weereens het die ware God van die Bybel spesifieke toekomsgebeure voorspel en dit laat gebeur – tot in die fynste besonderhede!

Vervulde profesieë is egter nie net beperk tot antieke geskiedenis en langverdwene ryke nie. Bykomende profesieë word vandag vervul terwyl u hierdie boekie lees! Die sleutel tot begrip van profesieë wat op ons tyd van toepassing is, is die identiteit van die moderne Israelitiese nasies, daardie moderne afstammelinge van antieke Israel. Die God van die Bybel het Abraham belowe dat sy afstammelinge groot sou word en ’n seëning sou wees vir die mense van die aarde (Gen. 12:1-3). God het voorspel dat hulle uiteindelik die poorte van hul vyande sou besit (Gen. 22:17; 24:60).

Die moderne Israelitiese nasies is die afstammelinge van Jakob, Abraham se kleinseun, wie se naam na Israel verander is (Gen. 32:28). Jakob het 12 seuns gehad, en sy seun Juda was die vader van die Jode. Daar is voorspel dat twee van Jakob se kleinseuns, Efraim en Manasse, die hoof­erfgename sou word van die geboortereg­beloftes wat oorspronklik aan Abraham gemaak is. Manasse sou ’n groot nasie word (Gen. 48:14-20), en Efraim ’n menigte van nasies. Die seëninge wat belowe is aan Manasse en Efraim, is beërwe deur die Verenigde State van Amerika en lande wat die Britse Gemenebes gevorm het. Hierdie verstommende ver­haal en die sober toekoms wat voorspel is vir die geboorte­regvolke word beskryf in ons gratis boekie wat u gerus kan aanvra: Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?, wat deel was van die Britse Gemenebes.

Die geskiedenisrekords, asook wêreldgebeure van vandag, bevestig die ongelooflik akkurate profesieë wat in die Woord van God aangeteken is. Die Bybel is geïnspireer deur ’n almagtige, bonatuurlike God. Die profesieë daarin is nie bloot die produk van sterflike mense wat ’n filosofie of godsdiens wil formuleer nie. Die vervulde profetiese beloftes van die Skrif vereis ’n verduideliking – hulle kan nie eenvoudig geïgnoreer of weggeredeneer word nie. Die God wat daardie profesieë geïnspireer en hulle ook laat plaasvind het, moet werklik wees!

Bewys 6 – Verhoorde gebed

Nog ’n dramatiese bewys van God is dat Hy Sy beloftes van verhoorde gebed nakom. Vir diegene wat nie in God glo nie en nooit gebid het nie, is dit bloot ’n kwessie van twyfel en skeptisisme. Vir diegene wat egter in God glo en wat wel bid, en dit sluit die meerderheid Suid-Afrikaners in, is verhoorde gebed een van die kragtigste persoonlike bewyse dat God bestaan. Diegene wat weet dat hul gebede verhoor is, steur hulle min aan die twyfel van skeptici.

Dit is uit die Bybel, nie uit die natuurwetenskap nie, dat ons van gebed leer. Die Skrif bevat baie voorbeelde van verhoorde gebed. Daar is voldoen aan Salomo se versoek om wysheid (1 Kon. 3:5-13), met ekstra seëninge daarby gevoeg. Ons word vertel “Elia was ’n mens net soos ons, en hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie gereën nie; en hy het weer gebid, en die hemel het reën gegee” (Jak. 5:17-18).

In die Nuwe Testament is baie voorbeelde aangeteken van dramatiese antwoorde op gebede. Jesus het die hele nag gebid om God te vra vir leiding voordat hy die 12 Apostels gekies het wat Hy sou gebruik om Sy Kerk te vestig (Luk. 6:12-13). Jesus was in ernstige gebed voordat Hy na die dissipels gekom en op die water geloop het (Matt. 14:23-25). Lasarus is uit die dood opgewek as gevolg van Jesus se gebed tot God (Joh. 11:41-44). Toe lede van die pasgestigte Nuwe-Testamentiese Kerk gebid het vir onverskrokkenheid om die Evangelie te verkondig, het God hul versoek erken deur die gebou waarin hulle vergader was, te skud (Hand. 4:23-31).

Die Bybel leer ons ook hoe om te bid. Net soos wat ’n kind moet leer praat, moet ons leer om te bid. Jesus is deur Sy dissipels gevra: “Here, leer ons bid” (Luk. 11:1). Jesus het ons ’n model gegee om te volg (Matt. 6:5-15). Ons sien uit dié voorbeeld dat gebed ’n ernstige gesprek is met God oor ons behoeftes en bekommernisse, nie bloot die herhaling van dieselfde woorde en frases nie (vers 7). Ons word vertel dat God die gebede van die regverdiges verhoor, daardie persone wat probeer om Hom gehoorsaam te wees (1 Pet. 3:12; 1 Joh. 3:22). Die Bybel wys ook dat die gebede van die heiliges vir God aangenaam is, soos soete wierook (Op. 5:8).

Jesus het Sy volgelinge so aangemoedig: “Bid en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word” (Matt. 7:7-8). Een uitdaging verbonde aan die proses om reg te leer bid, is om te leer vra volgens God se wil (1 Joh. 5:14). Om God se wil te verstaan, moet ons die Bybel bestudeer, God se handleiding vir die mens. Deur middel van gebed kan ons met God praat oor al ons bekommernisse.

As u vind dat daar ’n leemte in u lewe is, as u afgesny en alleen voel, waarom praat u nie met God daaroor in gebed nie? As u ’n gebrek aan betekenis en doel sien in ons wêreldlike, materialistiese samelewing, waarom gaan u nie op u knieë in ’n stil plek en praat met u Vader daaroor nie? As u die leemte en ontoepaslikheid van georganiseerde gods­diens ervaar, deel daardie gevoelens met u Skepper, die ware God van die heelal. Vra Hom om u te help om die Bybel en die ware betekenis van die lewe te verstaan. Vra Hom om u te lei na waar Hy deur Sy Kerk werk. Vra Hom om u te help om u lewe volgens Sy instruksies te leef, sodat u die beloning kan ontvang wat Syne is om te gee. Volg die instruksies van Jesus Christus in Mattheus 6:6-15 en Lukas 11:1-4. Begin bid!

U kan self die bewys van verhoorde gebed ervaar wanneer u begin vra volgens God se instruksies. God verander nie (Mal. 3:6). Hy het in die verlede gebede verhoor. Hy verhoor vandag nog gebede. Hy sal in die toekoms ook gebede verhoor. Die Bybel stel dit duidelik: “Sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is” (2 Kron. 16:9). Verhoorde gebed is ’n kragtige, persoonlike bewys dat God inderdaad bestaan!

Bewys 7 – ’n Lewenswyse wat werk

Die finale bewys dat ’n ware God bestaan en dat Sy Woord waar is, is een wat ’n mens tot soberheid dwing. Hierdie bewys is dalk meer betekenisvol vir individue wat die lewe beleef en ’n paar foute gemaak het. Dit is egter ook ’n belangrike bewys vir enigeen, oud of jonk, wat “oë het om mee te sien en ore om mee te hoor”, wat kan leer deur waar te neem wat met ander gebeur. Hierdie bewys behels om die gevolge van twee uiteenlopende lewens­wyses te ontleed en te vergelyk.

Die boodskap wat ons moderne samelewing deurdrenk, is dit wat ook al werk reg is vir jou – dat iets soos absoluut reg en verkeerd nie bestaan nie. Die boodskap wat God in die Bybel aangeteken het, is baie anders. Die Skrif wys dat daar God se manier van leef is, en dat daar die wêreld s’n is waar ons net ons “eie ding doen”. En, soos die ou gesegde sê: “Ondervinding is die beste leermeester”.

Die Skrif gee ’n duidelike beskrywing van dié twee teenstellende lewensbenaderings. Moses het God se opdragte aan die Israeliete van ouds só verduidelik: “Kyk, ek het jou vandag voorgehou die lewe en die geluk, en die dood en die ongeluk ... Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag” (Deut. 30:15-19). Vandag is dít steeds een van die groot uitdagings van die lewe.

As mense met ’n vrye keuse, het ons die vryheid om te kies om God te gehoorsaam en Sy seëninge te ervaar, of om Sy instruksies te ignoreer en in teenstelling daarmee te leef (volgens ons eie redenasie) en die gevolge daarvan te dra (Deut. 28; Lev. 26). Salomo het soortgelyke raad aangeteken: “Die weg van die ontroues is hard” en “As die Here behae het in die weë van ’n man, dan laat Hy selfs sy vyande met hom vrede hou” (Spr. 13:15; 16:7). Jesus het daardie selfde keuses beskryf, as die smal, uitdagende weg wat na die lewe lei, teenoor die breë, maklike weg wat die meeste mense kies en wat na die verderf lei (Matt. 7:13-14).

Die hartseer verhaal van menslike geskiedenis is dat die meeste mense maar saam met die stroom swem – doen wat reg is in ons eie oë. In plaas van te strewe om van ons Skepper te leer hoe om volgens Sy instruksies te leef, verkies ons om dinge op ons eie manier te doen. Die gevolge van hierdie benadering word die “harde leerskool van die lewe” genoem. As u lewe ’n reeks probleme, teleurstellings en doodloopstrate is, waarom probeer u nie ’n ander benadering nie? Ondersoek die Woord van God en begin om dinge op Sy manier te doen. Laat dit u “goeie leermeester” wees.

Kom ons ondersoek kortliks die lewenswyse wat God voorstel in die Skrif, sodat u Sy manier kan beproef. Toentertyd het God op die berg Sinai Sy wet aan die Israeliete gegee (Ex. 20), en hulle het ingestem om dit te volg (Ex. 19:5-8). God het beplan dat die Israeliete as voorbeeld sou dien vir die hele wêreld soos wat hulle sou leer om volgens Sy goddelike instruksies te lewe (Deut. 4:1-10). Hulle het egter versuim om hierdie ooreenkoms gestand te doen en is in ballingskap weggevoer omdat hulle God se opdragte die rug gekeer het (verwys Eseg. 20).

In die Nuwe Testament word ons vertel dat Jesus gekom het om die wet meer volledig aan Christene te verduidelik (Matt. 5:17). Hy het verduidelik hoe om volgens die gees van die wet te leef, nie net volgens die letter nie (Matt. 5:21-28). Weereens, dit was God se plan dat dié mense wat kies om Sy aanwysings te volg, ligte [voorbeelde] vir die wêreld sou wees dat God se lewenswyse wel werk.

Jesus het dit uitdruklik gestel: “Ek het gekom dat hulle lewe en oorvloed kan hê” (Joh. 10:10). Hy het definitief ’n beter lewens­wyse verkondig. Die teenstelling tussen Jesus se leringe en die wêreld se weë is vergelyk met die verskil tussen dag en nag (Joh. 3:16-21). Toe Sy dissipels mense begin aanmoedig om uit die wêreld te kom en volgens Jesus se leringe te leef (2 Kor. 6:11-18), is hulle beskuldig as “die mense wat die wêreld in opstand bring, hulle het hier ook gekom” (Hand. 17:5-6).

God se lewenswyse, soos uitgewys in die Bybel, is nie ’n vae, newelagtige, verwaterde benadering wat mense kan aanneem of laat staan en aanpas soos húlle wil nie. God se lewenswyse is gebaseer op Sy wette. Dit behels spesifieke gesindhede, gedrag en optrede wat alle mense egter nie bereid is om uit te leef of na te streef nie. Ons word vertel dat die waarheid van God eintlik vriende en families sal skei (Matt. 10:34-36), maar God se lewenswyse werk en dit sal gewis beloning bring (Op. 3:10-11).

Een van die hoofredes waarom hoofstroom­christendom vandag in Westerse lande aan die kwyn is, is dat godsdiensleiers die leringe van die Bybel so verwater het dat godsdienstige geloof letterlik geen impak het op hoe mense hul lewens leef nie. Een algemene godsdienstige organisasie is beskryf as: “’n organi­sasie wat vry val... met niks om aan vas te hou nie...geen gedeelde geloof, geen gemeenskaplike aanname, geen ooreengekome riglyn, geen aanvaarde definisie” van wat dit beteken om aan daardie kerk te behoort nie (The Empty Church, Reeves, 1996, bl.10). ’n Kapelaan in hierdie organisasie het verklaar dat “hy nie in die besigheid is van dogmatiese antwoorde oor enigiets uit te deel nie” (ibid. bl. 24).

Dit is eenvoudig nié dieselfde kerk wat Jesus Christus gevestig het en waarvan u in die Nuwe Testament lees nie! Dit werk eenvoudig nie om die Skrif af te water of om ’n kompromis daarmee te probeer bereik nie. Kerke sterf geestelik wanneer hulle dit probeer doen. Dit is ook ’n lewende bewys dat God se weg wel werk. Daardie weg wat vir die menslike verstand reg lyk, is dit egter nie (Spr. 14:12). Dit is wat die ware God baie duidelik stel in Sy woord.

Slotsom: ’n Toekomstige oordeel

Die moderne belydende Christendom hou aan die wêreld ’n goedgelowige God voor wat gaaf, liefdevol, vergewensgesind en eindeloos geduldig is. Hy laat maar die mense toe om te doen wat hulle wil en is gelukkig as hulle af en toe bid en ’n paar maal per jaar kerk toe gaan. Hierdie vals idee van God – wat ’n produk is van die mens se verbeelding – is vandag egter nie toepaslik in die lewens van die meeste mense nie, soos ons in hierdie boekie gesien het.

Die ware God van die Bybel staan in skrille kontras met die mens se idees! Die God wat uit die Bybel na vore kom, is ’n sterk skepper, ’n intelligente ontwerper, ’n gewer van lewe en wette, wat ingryp in die gang van die geskiedenis, en nog steeds die gebede van individue verhoor. Hy onderskei duidelik tussen twee uiteenlopende lewenswyses in Sy Woord. Alhoewel Hy liefdevol en genadig is, is Hy ’n God van reg en oordeel wat ons beloon volgens ons werke. Hy gee ons die kans om lewenskeuses te maak en Hy laat ons maai wat ons saai. Dit is waarom die God van die Bybel Sy ware dienaars die opdrag gee: “verkondig aan my volk hulle oortreding en ... hulle sondes” (Jes. 58:1), en om nie “vleitaal” te preek wat mense mislei nie (Jes. 30:9-10). God wil hê dat mense moet verstaan waaroor die lewe gaan, sodat hulle kan leer om die regte keuses te maak, keuses wat die blywende belonings bring waarna ’n mens strewe – daardie belonings kan net van God kom. Die ware God vergewe ons wanneer ons tot inkeer kom – wanneer ons ons foute besef (dat ons Sy wette oortree en sondig 1 Joh. 3:4). God is ver­heug wanneer ons ons lewens begin verander, en leef volgens Sy riglyne.

Die Bybel wys dat God besig is om ’n plan en doel op hierdie aarde uit te werk. Die ware God gaan Jesus Christus binnekort na hierdie aarde toe terug­stuur om die Koninkryk van God hier te kom vestig. Dít is letterlik die kern van die ware Evangelie. Dít is wat Jesus geleer het en wat Sy dissipels verkondig het (Mark. 1:14-15; Luk. 9:1-2; Hand. 8:12; 28:23, 31). Hierdie selfde boodskap sal ook aan die wêreld verkondig word deur God se ware Kerk net voor die einde van hierdie era (Matt. 24:14).

Met Sy wederkoms sal Jesus Christus letterlik die gang van die mens se geskiedenis op ’n baie dramatiese wyse verander. Hy sal hierdie aarde regverdig oor­deel – volgens Sy goddelike wet (Ps. 96:13; Op. 19:11). Hy gaan ’n einde maak aan menslike lyding en wanregering. Die apostel Johannes het geskryf oor hierdie tyd wanneer God met Sy groot mag gaan regeer, Sy dienaars gaan beloon, en diegene gaan vernietig wat die aarde vernietig [besoedel en bederf] (Op. 11:15-19). God sal ’n onderskeid tref tussen diegene wat kies om dinge op Sy manier te doen, en diegene wat daarop uit is om dinge op hul eie manier te doen (Matt. 25:31-46). Hy sal ’n onderskeid tref tussen diegene wat weet wat die Bybel uitdruklik leer, en diegene wat mislei is deur die vals idees van misleide leraars. Daardie tyd van oordeel blyk om die draai te wees.

Jesus Christus gaan menslike samelewings heroriënteer tot ware vrede, regverdigheid en waarheid (Jes. 9:5-6; Op. 11:15-18) met die hulp van Sy heiliges (Dan. 7:27). Die profeet Miga het gesê: “En Hy sal oordeel tussen baie volke en regspreek vir magtige nasies tot in die verte; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoei­messe; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Miga 4:3). Hierdie almagtige God het deur die profeet Esegiël gesê: “En Ek sal my heilige Naam bekend maak onder my volk Israel en sal my heilige Naam nie meer laat ontheilig nie; en die nasies sal weet dat Ek die Here is, die Heilige in Israel. Kyk, dit kom en gebeur, spreek die Here Here” (Eseg. 39:7-8). Die misleiding, twyfel en ongelowigheid aan­gaande God wat ons samelewing so oorheers, sal vir ewig verwyder word.

Die ware God van die Bybel het Sy uitverkorenes die opdrag gegee om nie enige ander god of gode te aanbid nie (Ex. 20:1-7). Hy het Sy uitverkorenes gewaarsku oor die gevolge indien hulle agter ander gode sou aanloop (Deut. 8:11-20). Die apostel Paulus het aan die Kerk in Rome gesê dat hulle God se toorn sou laat opvlam indien hulle sou begin om God volgens hulle eie idees te beskou (Rom. 1:18-23). Hy het die Kerk in Korinte teen dieselfde ding gewaarsku (2 Kor. 11:1-4). Die wanopvattings oor God het egter ook in ons moderne tyd gebeur. Misleide teoloë het verkies om sogenaamde “natuurlike bewyse vir die bestaan van die Skepper te laat vaar en om persoonlike geloof en die teenwoordigheid van God in die menslike bewustheid te beklemtoon” (Reeves, bll. 95-96). Die ongelukkige resultaat van hierdie moderne, liberale benadering is dat baie mense mislei is aangaande die ware God.

Soos wat die einde van hierdie era nader kom, moet u nie toelaat dat u mislei word nie. Jesus het by verskeie geleenthede uitdruklik gewaarsku oor dié moontlikheid (Matt. 7:15-20; 24:4-5, 11, 24). Die apostel Paulus het lede van die vroeë Nuwe-Testamentiese Kerk só vermaan: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thess. 5:21). U kan bewys dat God bestaan; u hoef dit nie blindelings “in geloof” te aanvaar nie. U kán ware geloof hê, gebaseer op ware getuienis en u kán ’n werklike verhouding met u Skepper hê! Die God van die heelal, die God wat die Bybel geïnspireer het, is eg. Die Skepper, die Argitek en die Onderhouer van die kosmos leef. Hy gaan volbring wat Hy in Sy woord voorspel. Jesus Christus gaan na hierdie aarde terugkeer om die Koninkryk van God te vestig wat oor al die nasies sal regeer. Dit is waaroor die Evangelie van die ware God gaan. U kan deel wees van hierdie opwindende toekoms as u die WARE GOD leer ken.

Laai af in PDF (99 KB) | Bestel GRATIS Gedrukte Uitgawe
Geliewe daarop te let dat genoemde boekies nie by El-Roi beskikbaar is nie, maar dat u dit direk kan bestel vanaf
Die Lewende Kerk van God of u kan die PDF dokument aflaai indien beskikbaar. Baie Dankie.