El-Roi - Afrikaans

Studies

Gedigte

God

Israel

Profesiee

Satan

Alt in die hemelkoor

Alt in die hemelkoor

deur

© Corlietha Swart

Haar oë was groot en kinderlik-onskuldig met net ’n sweempie van die ondraaglike pyn wat sy verduur toe sy vra: “Mamma, kan ek alt sing in Liewe Jesus se hemelkoor? Juffrou Annalie sê ek is ’n alt, want ek kom nie die hoë note van Stille Nag by nie.”

Ek het my vinnig weggedraai om kwansuis nuwe water in die vaas van die pienk rose te tap en my trane het ongesiens in die wit hospitaalwasbak gedrup toe ek met my rug na haar gekeer, sê: “Ek is seker Liewe Jesus het nog vir jou ’n plekkie tussen die alte, liefie.” Toe ek ’n rukkie later met droë oë omdraai, was sy vas aan die slaap, haar skraal handjie beskermend om die lyfie van haar geliefde bruin teddiebeer.

Sy was ses jaar oud, my enigste kind en deurtrek van die kanker. Die dokter het simpatiek verduidelik dat ek en my man ons in die loop van die volgende week gereed moes hou vir die ergste. Hulle kon niks meer vir haar doen nie. Sy kon huis toe gaan vir Kersfees. Dit was immers Desembermaand. Vreugdemaand, ’n maand vir samesyn. ‘n Kind word gebore; my kind is sterwend...

Haar laaste wens was dat sy vir oulaas ’n dag by haar kleuterklasmaatjies wou gaan speel. Juffrou Annalie het reeds op ’n mooi, taktvolle manier aan die kleutertjies vertel dat hulle nog net een keer met Jaminda kon speel en dat sy daarna moes weggaan om by Liewe Jesus in die hemel te gaan speel. Jaminda self het ook geweet dat Liewe Jesus vir haar wag en ek het met ’n knop in my keel na my man gekyk as sy kinderlik opgewonde raak oor dié vooruitsig.

My meisiekind se laaste skooldag het op ’n skamele sesjarige ouderdom aangebreek. Sy het vroegoggend vir my beduie van watter blomme in die tuin ek vir juffrou Annalie moes pluk. “Van daai geles, Ma. Juffrou Annalie sê altyd ek is ’n regte Sonstraaltjie in haar lewe.” Die klein, bruin skooltassie was gelaai van die speelgoed. Ek gun jou die lekkerste speeldag van jou lewe, my kind, het ek bewoë gedink toe ek haar uit die motor in die rolstoel tel.

Die kleuterklassie het die ene oë, maar verskrik, agter juffrou Annalie bly staan toe ons klaskamer toe begin beweeg. Jaminda se beste maantjie, Knoxie, het huiwerig vorentoe getree. “Kan ék Jaminda stoot, Tannie?” en ek het, dankbaar vir dié gebaar, oorgegee aan my klein helpertjie. Dit het die ys gebreek.

Binne oomblikke was die hele klas om die rolstoel geskaar. Dirkman het verneem of die rolstoel se wiele Slime in het, terwyl Emma en Fransien wou weet of die inspuitings seer was. Ek en juffrou Annalie het verwese eenkant trane afgevee en toe dapper begin deelneem aan die kleuters se skynbaar gewone gesprek. Na ’n uur se gesels kon ek sien dat die opwinding besig was om sy tol te eis. Jaminda se oë was baie blink in haar bleek gesiggie. Toe vra sy of sy iets kan sê voor ons huis toe gaan. Juffrou Annalie het al die kleuters voor haar op die mat laat sit.

Wat daarna gebeur het, het my van alle woorde gestroop. Ek het al in my enigheid begin wonder waarom die bruin tassie saamgekom het. Jaminda het die tassie oopgeknip en elkeen van haar vyftien kleutermaatjies by name vorentoe geroep. Op vyftien van haar geliefkoosde speelgoed het sy name met papiertjies en kleeflint vasgeplak. “Emma, jy moet my porselien-teestelletjie kry – dink aan my as jy en jou poppe tee drink. Dirkman, hier is my fietspomp – jou fiets se wiele is mos altyd pap.  Fransien, hier is my hartjiehangertjie waarvan jy so baie hou, As jy hom oopknip, is daar ’n foto’tjie van my in.”

So het die pynlike uitdelery aangehou. En toe kom Knoxie, haar spesiale maatjie, aan die beurt. Ek het my nek gerek, maar die bruin tassie het vir my leeg gelyk. Het Jaminda van Knoxie vergeet? Maar nee, Jaminda het haar mees geliefde speelding van haar skoot af opgetel, een laaste kyk in die bruin teddiekraalogies gegee en hom toe met ’n besliste trekkie om haar mond vir Knoxie aangegee. “Pas Teddie mooi op, want ek is baie lief vir hom. Vat ook my bruin tassie – ek het klaar jou naam in die deksel geskryf. Juffrou, ek moet nou huis toe gaan. Kan ons vir oulaas Stille Nag sing?” Bewerig het sy opgestaan en tussen die alte gaan staan en nog nooit het Stille nag so na-aan dié van ’n engelekoor geklink nie.

In die motor op pad huis toe het sy teruggesit, vir my gekyk, geglimlag en toe ’n laaste tevrede sug gegee. Ek het met trane in my oë besef: Jaminda het so pas aangemeld as alt by die hemelkoor…

© Corlietha Swart