El-Roi - Afrikaans

Studies

Gedigte

God

Israel

Profesiee

Satan

Die doelbewuste vervalsing van die Naam van die Vader

Die doelbewuste vervalsing van die Naam van die Vader

Daar is deesdae baie stemme wat daarvoor opgaan dat ons die geopenbaarde Naam van ons hemelse Vader moet ken en gebruik. Die vraag wat ons graag in hierdie stuk wil behandel, is die volgende: As sy Naam dan nie "Here" en "God" [*] is, soos dit in meeste Bybels staan nie, wat is sy werklike Naam en is dit noodsaaklik dat ons sy Naam gebruik? En wat word bedoel met "die doelbewuste vervalsing" van sy Naam?  

[*]  Die woord “God” wat in meeste vertalings as ‘n titel vir die Allerhoogste gebruik word, is nie ‘n eienaam nie (dus is dit NIE die geopenbaarde Naam van die Almagtige nie), maar ‘n poging om die Hebreeuse woord “Elohim”, wat bloot “magtiges” of “magtige een” beteken, te vertaal.  Die woord “God” is egter op sy beurt self van heidense afkoms en is afgelei van die naam van die afgod “Gad”, wat in sommige kulture ook as “Godan”, “Goda”, “Gott”, “Guth”, “Gud” en “God” bekendstaan!  Volgens die Indogermanisches Etymologisches Wörterbuch, vol 1, van Julius Pokorny beteken die woord “ghodh”:  vereniging, ook seksuele vereniging of paring.  Behalwe die name van die afgode wat hierbo genoem is, kom die Duitse woord “gatten”, die Nederlandse “gaden” en die Engelse “beget, begat, begotten” ook van hierdie woord.  Daar is nog meer bewyse (lees “Gaan uit haar uit, my Volk” deur C.J. Koster) wat dit absoluut duidelik maak dat die woord “God” van heidense oorsprong is en daarom verkies ons om hierdie woord nie met die Almagtige te verbind nie.

Kom ons begin by Moses se roeping om die volk uit Egipte uit te lei (Exod 3). Moses beleef 'n bonatuurlike verskyning van die Almagtige in die doringbos wat brand maar nie verteer nie en kry die opdrag om na die Farao te gaan en die Israeliete uit Egipte uit te lei. Moses is eers half teësinnig en vra: "As ek by die kinders van Israel kom en aan hulle sê: Die Elohim van julle vaders het my na julle gestuur, en hulle my vra: Hoe is sy Naam? - wat moet ek hulle antwoord?" Hierop lees ons in vers 14: "En Elohim sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur."

Om die daaropvolgende verse te verstaan is dit noodsaaklik om die betekenis van die "vreemde" benaming ("Ek is wat Ek is" of net "Ek is") wat hier aan Moses bekendgemaak word, te verstaan. Die benaming "Ek is" is 'n vertaling van die Hebreeuse woord "ehyeh" wat op sy beurt 'n verbuiging is van die woord "hayah" wat beteken "om te wees", "om te bestaan", "om te gebeur", "om in die lewe te roep", "om 'n werklikheid te laat word". Wat in ons Bybels vertaal word met "Ek is wat Ek is", sou ook as volg weergegee kon word: "Ek is die Een wat is en wat laat gebeur" of "Ek is die Een wat bestaan en wat (dinge en mense en volkere) in die lewe roep".

Direk hierna (vers 15) ontvang Moses die opdrag: "Dit moet jy aan die kinders van Israel meedeel: Yahweh (nie “Die HERE” nie), die Elohim van julle vaders (nie die “God” van julle vaders nie), die Elohim van Abraham, die Elohim van Isak en die Elohim van Jakob, het my na julle gestuur. Dit (Yahweh) is my Naam vir ewig, en dit (Yahweh) is my gedenknaam van geslag tot geslag." Sommige mense wil weet waarom dit lyk of hier twee name aan Moses gegee word: "Ek is" ("Ehyeh") en "Yahweh". Die antwoord is baie duidelik - dit is een en dieselfde Naam: "Ehyeh" en "Yahweh" kom van presies dieselfde Hebreeuse woord "hayah" met die betekenis wat reeds hierbo aangedui is. Wanneer Yahweh met Moses praat, is dit Hyself wat sy Naam eerstehands aan Moses bekendmaak - daarom gebruik Hy die vorm van die werkwoord waarin die woord "Ek" voorkom (Eerste persoon, enkelvoud: "Ek is die Een wat is en wat laat gebeur"). Wanneer Hy egter vir Moses sê met watter Naam Hy graag "van geslag tot geslag" geken wil word, gebruik Hy die vorm van die werkwoord ("Yahweh") waarin die woord "Hy" voorkom (Derde persoon, enkelvoud: "Hy is die Een wat is en wat laat gebeur").

In Exod 6:1,2 lees ons: "Verder het Elihim met Moses gespreek en vir hom gesê: Ek is Yahweh. En Ek het aan Abraham, aan Isak en aan Jakob verskyn as El die Almagtige (El Shaddai), maar met my Naam Yahweh het Ek My nie aan hulle bekend gemaak nie." Die probleem met hierdie vers is dat ons weet dat Abraham, Isak en Jakob wel Yahweh se Naam geken het en dit ook gebruik het. In Gen 15:7,8 kan ons duidelik sien dat dit waar was in die geval van Abraham: "Verder het Hy vir hom gesê: Ek is Yahweh wat jou uitgelei het uit Ur van die Chaldeërs om jou hierdie land in besit te gee. En hy sê: My Meester, Yahweh, waaraan sal ek weet dat ek dit in besit sal neem?" Dieselfde geld vir Isak (Gen 26:25) en ook vir Jakob (Gen 32:9). Wat sou Yahweh dan bedoel het met die stelling dat Hy Hom nie met sy Naam, Yahweh, aan die drie aartsvaders bekend gemaak het nie?

Dit is duidelik dat dit hier gaan oor die betekenis van sy Naam as "die Een wat is en wat laat gebeur". Yahweh het met Abraham, Isak en Jakob 'n verbond aangegaan dat Hy aan hulle die beloofde land sou gee. Nie een van hierdie drie het egter die belofte in vervulling sien gaan nie. Met ander woorde hulle het Hom nooit leer ken as die Een wat (beloftes) laat gebeur of 'n werklikheid laat word nie. Met Moses (en sy tydgenote) is dit anders: hulle sal Yahweh leer ken as "die Een wat is en wat dinge laat gebeur" want hulle sal die beloofde land met hulle eie oë sien en dit binnegaan.

Is dit noodsaaklik dat ons hierdie Naam gebruik? Exod 3:15 alleen behoort vir ons 'n genoegsame antwoord te bied: "Yahweh ... is my Naam vir ewig, en dit is my gedenknaam van geslag tot geslag" (NIV: "the name by which I am to be remembered from generation to generation"). Daar is egter oorvloedige aanduidings in die res van die Skrif dat die naam Yahweh nie maar net 'n terloopse naam is wat ons kan gebruik of kan ignoreer soos wat ons wil nie. Ons kan hier net vlugtig daarop wys dat die Skrif spesifiek meld dat mense soos Abraham (Gen 13:4), Moses (Exod 34:5) en Elia (1 Kon 18:24) die Naam van Yahweh aangeroep of uitgeroep het; dat Israel 'n volk was oor wie die Naam van Yahweh uitgeroep is (Deut 28:10); dat die priesters en konings mense in die Naam van Yahweh geseën het (Deut 21:5; 2 Sam 6:18); dat die waarheid in die Naam van Yahweh uitgespreek is (1 Kon 22:16; 2 Kron 18:15); dat lofprysing en aanbidding in die Naam van Yahweh gedoen is (Ps 7:18; Ps 113); dat die een wat kom in die Naam van Yahweh as geseënd beskou word (Ps 118:26; Matt 23:39); dat ons hulp volgens Ps 124:8 in die Naam van Yahweh is; dat die Naam van Yahweh volgens Spr 18:10 'n sterk toring is; dat daar in die Naam van Yahweh geprofeteer is (Jer 26:20); dat elkeen wat die Naam van Yahweh aanroep gered sal word (Joël 2:32; Hand 2:21) en dat Miga 4:5 ons oproep: "Want al die volke mag wandel elkeen in die naam van sy god, maar óns sal wandel in die Naam van Yahweh onse Elohim vir ewig en altyd". Die Naam "Yahweh" kom meer as 6800 keer in die oorspronklike, Hebreeuse weergawe van die Ou Testament voor. Wie het ons die reg gegee om die geopenbaarde Naam van die Skepper, Koning en Verlosser van die mensdom eenvoudig uit ons vertalings, en dus ook uit ons woordeskat en aanbidding, uit te boender?!!

Hoe het dit dan gekom dat sy Naam oor die eeue heen vervals is, sodat daar vandag in die meeste Bybels nie eens 'n spoor van hierdie Naam gevind kan word nie? (Die woord wat in Deut 5:11, die derde gebod, met "ydellik gebruik" vertaal word, is dieselfde woord wat in die negende gebod met "valse getuienis spreek" vertaal word en beteken: "valslik gebruik, valslik spreek of vervals" - die bedoeling van die derde gebod is dus onder meer dat ons die naam van Yahweh nie mag vervals nie!). Die eeuelange (en rampspoedige!) gebruik in Bybelvertaling om die Naam van Yahweh deurgaans met "LORD" of "HERE" te vertaal het sy ontstaan te danke het aan 'n Joodse (en onskriftuurlike) tradisie wat 'n paar eeue voor die geboorte van YAHSHUA, die Messias, ontstaan het.

Hierdie tradisie (wat later as die "ineffable name doctrine" bekend gestaan het) het bepaal dat YAHWEH se Naam te "heilig" was om uit te spreek en dat die uitspreek van sy ware Naam sou neerkom op 'n skending van die derde gebod ("Jy mag die Naam van YAHWEH jou Elohim nie ydellik gebruik nie ..."). Iemand wat dus die Skrifte lees en die naam YAHWEH teëkom, is deur hierdie Joodse tradisie verplig om "elohim" ( letterlik "magtige" of "magtiges") of "adonai" (letterlik "heersers" of "my heerser") te lees, ondanks die feit dat daar YAHWEH in die teks gestaan het!

Toe 'n groep Joodse geleerdes (bekend as die Masorete) baie eeue later klinkers bygevoeg het by die Hebreeuse woorde van die Ou Testament (wat aanvanklik slegs uit medeklinkers bestaan het), het hulle YAHWEH se Naam willens en wetens - ter wille van die "ineffable name doctrine" - verdere skade berokken. Hulle het wel die medeklinkers, JHWH, behou, maar tussenin die klinkers van "adonai" of "elohim" ingevoeg. Die resultaat was 'n woord wat in Hebreeus werklik onmoontlik was om uit te spreek en wat daarom noodgedwonge as "adonai" of "elohim" gelees moes word. Die woord "Jehovah" wat vandag in sommige vertalings voorkom en wat in sommige kerklike kringe gebruik word, is afgelei van hierdie verdraaide weergawe van YAHWEH se Naam (in werklikheid 'n mengelmoes tussen JHWH en "adonai") en is beslis nie die korrekte uitspraak van die Vader se Naam nie.

Die grootskaalse onkunde oor, en weerstand teen die Naam van Yahweh moet in 'n baie ernstige lig gesien word. Daar is 'n woord in Jeremia wat myns insiens volledig op die kerk se hantering van hierdie kwessie van toepassing is: ""Is hulle (d.i. die valse profete) daarop bedag om my volk my Naam te laat vergeet deur hulle drome wat hulle die een aan die ander vertel, soos hulle vaders my Naam vergeet het deur (of ter wille van) Baäl?" (Jer 23:27). Volgens die Strongs woordeboek kan "Baäl" vertaal word met "master", "owner" of "lord". Wat is dit anders as om die Almagtige se Naam te vergeet ter wille van Baäl, wanneer 'n groep mense (in hierdie geval: feitlik die somtotaal van gelowiges oor die afgelope 2000 jaar) òf nog nooit van die naam Yahweh gehoor het nie, òf daarvan gehoor het, maar nog steeds nie omgee om die geopenbaarde Naam van hulle Elohim, in hulle Bybels, in hulle aanbidding, in hulle getuienis en in hulle harte te verruil vir 'n naam soos "Here" of "Lord", wat in werklikheid geen naam is nie en boonop 'n vertaalde weergawe van die veragtelike Baäl van die heidennasies.