El-Roi - Afrikaans

Studies

Gedigte

God

Israel

Profesiee

Satan

Studies

Bou 'n Vreugdevolle Huwelik

deur Dr. Roderick C. Meredith

Die Lewende Kerk van God

 

INHOUD
Voorwoord
Bou ’n Godgesentreerde huwelik
Verbintenis en vertroue
Opregte kommunikasie
Die huwelik beteken om te gee
Leer die belangrikheid van vergifnis
Bou u gesinskoninkryk
Romanse is noodsaaklik

 

Voorwoord

Baie vroue het al met trane in hul oë vir my gesê: “My man praat eenvoudig nie met my nie! Hy is afsydig! Hy deel niks meer met my nie. Alhoewel ons in dieselfde huis woon en saam eet, voel ek die meeste van die tyd so alleen!”

Die verbrokkeling van die huwelik en die gesin in ons Westerse samelewings is reeds legendaries. Die statistiek is skokkend, maar sou veel erger wees as dit nie was vir die miljoene paartjies wat deesdae verkies om saam te woon sonder die voordeel van die huwelik nie. Aangesien daar nie ’n huwelik was nie, is daar ook nie ’n amptelike bewys van egskeiding as sulke paartjies uitmekaar gaan nie – wat selfs gouer gebeur as dié wat darem nog die moeite gedoen het om te trou.

Desondanks het Associated Press onlangs berig dat 19,4 miljoen Amerikaanse volwassenes tans geskei is – dit is 9,8 persent van die bevolking. Omtrent een uit tien Amerikaanse volwassenes is dus op hierdie oomblik geskei! Daar is egter vele ander wat natuurlik voorheen geskei was en sedertdien weer getrou het. Na raming is daar talle miljoene Amerikaners wat die een of ander tyd deur die trauma van ’n egskeiding gegaan het en miljoene ander Amerikaners wat diep seergemaak is deur egskeidings: kinders, familielede, vriende en kennisse. Dit is tragies om te sê, maar egskeiding is “so Amerikaans soos Hollywood”. Hier in Suid-Afrika is die situasie ook nie juis veel beter nie.

Wat is GOD se siening?

Wat sê GOD oor egskeiding en oor die werklike betekenis en doel van die huwelik? Dit is lewensbelangrik om dit te verstaan. Die geskiedenis het bewys dat enige volk waar die samelewing veroorsaak of toelaat dat hul gesinne verbrokkel, self baie gou ineenstort. Die meeste geskiedkundiges is dit eens dat die “ineenstorting van die gesin” een van die simptome was, indien nie ’n oorsaak nie, van die Romeinse Ryk se ondergang. In ons koerante lees ons talle berigte dat jongmense uit vaderlose huise veel meer neig om hulle tot verdowingsmiddels, ongeoorloofde seks en misdaad te wend as die kinders wat in standvastige gesinne opgroei.

Trouens, ongeveer 20 miljoen Amerikaanse kinders onder 18 jaar woon by slegs een ouer. Dit behels 28% van alle kinders. Die meerderheid van hulle, 84%, woon by hul moeders. Met ander woorde, ongeveer 17 miljoen Amerikaanse kinders is deel van ’n gesin waar daar nie ’n vader is nie!

Geen wonder dan dat jeugmisdaad die afgelope 25 jaar die hoogte ingeskiet het nie. Geen wonder dat ons ’n hele geslag jongmense voortgebring het wat oënskynlik geen vrees het om verkeerde dinge te doen nie. Hulle het blykbaar geen gewete nie, is heeltemal blatant in hul sarkasme en in hul rebels­heid teen die reëls van die samelewing en teen God se wette. Soos baie mense al gesien het, is dit ’n “uittartende” geslag. In ’n twee­ledige profesie, wat by nadere ondersoek ’n tipe is van ons moderne tyd, is die Profeet Jesaja geïnspireer om te skryf:

“En Ek sal seuns hulle vorste maak, en moeds­williges sal oor hulle heers. En die mense sal mekaar verdruk, man teen man, en die een teen die ander; die seun sal die grysaard, die veragtelike sal die agbare, stormloop” (Jes. 3:4-5). In die Nuwe Testament skryf die Apostel Paulus ook: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af” (2 Tim. 3:1-5). Sulke mense wat ondankbaar, onheilig, onversoenlik en ongehoorsaam aan hulle ouers is, sal heel waarskynlik nie sterk, standvastige en liefdevolle huwelike hê nie!

Wat ons dus almal nodig het, is “sleutels” om GODgesentreerde huwelike te bou en beginsels van hoe Hy wil hê ons vreugdevol as man en vrou moet saamleef. Wat nou volg, is presies daardie Goddelike beginsels, versamel uit byna 47 jaar van pastorale- en gesinsberading, baie naslaan­werk en studie, en 42 jaar van ’n gelukkige huwelikslewe.

Bou ’n Godgesentreerde huwelik

“As die here die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou” (Ps. 127:1). Vir baie van u wat dit lees, mag dit miskien nodig wees om terug te gaan en weer die WERKLIKHEID van God vir uself te bewys! Ons het beslis NIE bloot “gebeur” nie. Ons menslike verstand is vanselfsprekend geskape deur ’n groter Wese as onsself. Die aktiewe natuurwette om ons, soos die wette van swaartekrag, traagheid en termodinamika, vereis almal ’n groot WETGEWER. Die grootse ontwerp van die menslike liggaam, van die plante, diere en hemelliggame, vereis almal ’n groot ONTWERPER. Die geïnspireerde profesieë van die Bybel – sommige waarvan reeds vervul is en ander wat nou besig is om vervul te word – vereis die werklikheid van ’n persoonlike God, ’n God wat aan die stuur van die Heelal is en INGRYP in Sy skepping, ’n God wat ’n uiters belangrike PLAN hier op aarde uitwerk!

Namate u hierdie werklike God leer ken, sal u al hoe beter verstaan dat Hy werklik weet wat die beste is vir u in elke aspek van u lewe, insluitend u huwelik, want Hy is die Een wat ons manlik en vroulik GESKAPE het. Hy is die Een wat ons liggame en verstand geskape het en wat spesifiek die verskille tussen ons ontwerp het en ook die verskillende maniere waarop mans en vrouens dink en hoe hulle die wêreld om hulle waarneem.

Die SKEPPER het man en vrou vir mekaar gemaak. Hy weet beslis beter as al die sielkundiges en huweliksberaders saam hoe ons liggame en verstand werk en hoe ons ons huweliksverhouding met mekaar ten beste kan uitleef. Die Heilige Skrif sê vir ons: “En die here God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So dan het die mens ’n lewende siel geword” (Genesis 2:7). ’n Bietjie verder aan lees ons: “Ook het die here God gesê: ‘Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ’n hulp maak wat by hom pas’” (vers 18)It .

Die mens alleen is NIE volmaak of volkome nie. Adam het daardie onvolledigheid en uiterste eensaamheid aangevoel. Hy het niemand van sy eie soort gehad om mee te praat of om dinge mee te deel nie. Hy het niemand gehad om lief te hê en te koester nie – niemand aan wie hy, in sy diepste wese, gevoel het hy werklik behoort nie.

Ons Hemelse Vader het dit verstaan.

God het toe vir Adam aan die slaap gemaak en letterlik een van sy ribbes geneem en daaruit ’n vrou gemaak! God kon dit natuurlik op ’n ander manier gedoen het. Hy het egter besluit om aan beide die manlike en vroulike geslag te wys dat ons per slot van rekening by mekaar hoort. God het daarom iets geneem uit Adam se sy, naby sy hart, en Eva gemaak. “Toe sê die mens: ‘Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem’” (vers 23).

In die oorspronklike Hebreeuse taal, lees hierdie vers: “Sy sal Ishah [van Ish] genoem word, want sy is uit Ish [man] geneem”. So het God dan vir Adam ’n “helper” gemaak wat by hom pas (vers 20), een met wie hy werklik sy gedagtes, sy planne, sy verwagtinge en drome kon deel.

God se doel met die huwelik

Dit is van die allergrootste belang dat ons uit die staanspoor verstaan dat die man en die vrou deur God geskape is. Hulle moes hul lewe saam in liefde deel. Die vrou is egter geskape om ’n “helper” vir die man te wees. Sy is uit die man gemaak en ten spyte van al die verklarings deur moderne “deskundiges” kan sy haar grootste geluk en vervulling vind wanneer sy werklik haar man bystaan en aanvul in hulle lewe saam, kinders grootmaak en die huishouding waarneem.

’n Baie werklike Satan die Duiwel doen vandag alles wat hy kan om hierdie begrip uit die verstand van jong mense te VERDRYF. Deur middel van sielkundiges en huweliksberaders, deur die media en selfs deur die onderwysstelsel, is Satan ernstig besig om God se plan vir die familie aan te val. Hy is kragtig besig om die idee dat die mensdom NIE deur ’n werklike God geskape is nie, uit te basuin. Hy wil ons laat glo ons het bloot “toevallig” ontwikkel, dat daar geen uiters belangrike DOEL vir ons lewens is nie en dat mans en vroue in baie opsigte NIE wesenlik verskil nie – sodat dit nie eintlik ’n verskil maak watter rolle hulle in die huwelik speel en wie die leiding in die gesin neem nie.

Satan het selfs begin om sekere segmente van die samelewing te beïnvloed om die idee te aanvaar dat ’n “gesin” NIE noodwendig uit ’n man en sy vrou hoef te bestaan nie. Dit kan maar twee of meer persone van dieselfde geslag wees wat net “saamwoon”. As u egter in die Bybel glo, let op wat sê Christus oor die huwelik: “Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie, en gesê het: ‘Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees;’ sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie” (Matt. 19:4-6). Jesus plaas God in die middel van die prentjie. Hy wys dat God die eerste vrou vir die eerste man geskape het. Hy het hulle bymekaar laat kom om as man en vrou “een vlees” te word in ’n verhouding wat deur God ingestel is. God wil hê dat alle huwelike van toe af daardie voorbeeld moes volg.

Jesus verduidelik dat dit weens die “hardheid” van hulle harte was dat God ’n man en vrou sou toelaat om te skei, en dan ook slegs weens onsedelikheid. Jesus verwys hier duidelik na die skeppingsverhaal in Genesis as ’n FEIT. Hy erken dat God ons “manlik en vroulik” geskape het (vers 4). Aangaande die huwelik sê Jesus ook nog: “Wat GOD dan saam­gevoeg het, mag GEEN mens skei nie” (vers 6). As u dié begrip werklik verstaan, dat dit GOD is wat die huwelik ingestel het en dat God die werklike kern van u huwelik is, sal u ’n oneindige beter kans op sukses hê.

Die man se verantwoordelikheid

’n Man moet beslis nie met ’n vrou trou tensy hy haar werklik innig lief het nie. Ons moet egter jammerlik erken dat miljoene mans nooit die betekenis van die woord “liefde” geleer het nie. As gevolg van goedkoop rolprente en verkeerde voorbeelde, verwar hulle “liefde” al te maklik met wellus. Mans dink dat ’n onedele, dierlike seksuele begeerte om bevrediging van die teenoor­gestelde geslag te “kry”, liefde is. Niks is verder van die waarheid nie!

Ware liefde behels ’n behoefte om te wil GEE, die deelname van twee persone in planne, verwagtinge en drome waaraan hulle ’n hele leeftyd lank saam werk tot die dood hulle skei. Indien hulle nie sake kan bespreek, in mekaar se oë kan glimlag, vreugde en vertroulikheid kan deel en by mekaar kan staan wanneer die groot beproewinge kom nie, is hul liefde werklik verlore.

Die Apostel Paulus gee dié opdrag: “Manne, julle moet jul vroue liefhê en nie teen hulle verbitter word nie” (Kol. 3:19). Party mans laat hulself toe om gou “verbitter” te raak omdat hul vrouens nie voldoen aan hul eie menslike voorstelling van ’n engelagtige toonbeeld van volmaaktheid nie!

’n Vrou was nooit bedoel om ’n afgod te wees nie! Sy is nooit bestem om in hierdie lewe perfek te wees nie, soos haar man ook nie bedoel is om perfek te wees nie! Sy is nie bedoel om ’n perfekte huishoudster, moeder, metgesel en Holly­woodse seksgodin alles in een te wees nie!

Sy is eintlik bestem en geskape – deur die Skepper van ons almal – om ’n liefling, hulp en inspirasie vir die man te wees, wat homself met haar moet deel, wat sy planne, verwagtinge en drome met haar moet bespreek, wat haar sal bemoedig en hul huislike lewe sal lei – nie voortdryf nie – met ’n gesindheid van vertroue en liefde!

Vandag se moderne mans dink al hoe meer dat dit “vroulief” se plig is om die kinders oor geestelike sake in te lig en om hulle ge­ïnteresseerd te kry in God en die Kerk. Dit is egter nie waar nie, en elke man wat sy Godgegewe verantwoordelikheid hierin versuim, verkoop eenvoudig sy eie geboortereg! God het bedoel dat die man, as hy verantwoordelik is en sy geleenthede benut, die geestelike leier in die huis moet wees.

Let op die volgende geïnspireerde Bybelse verklaring: “Maar ek wil hê dat julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou, en God die Hoof van Christus” (1 Kor. 11:3).

Elke man wat leef, het die geleentheid om die direkte verteenwoordiger van God te wees oor sy eie huis – om sy vrou en kinders te onderrig, om hulle leiding en aanmoediging te gee om die woorde van die Heilige Skrif te gehoorsaam en om die God wat hulle geskape het, te dien en te aanbid. Die meeste vrouens en kinders sal onmiddellik met blydskap hierop reageer as hulle net die kans kry! Mans moet dit besef. Hulle moet ’n dinamiese voorbeeld stel van toewyding aan hul Skepper, Sy Woord bestudeer, gebed tot God rig met maaltye – en in gesinsgebed, sowel as private gebed op hul knieë in die slaapkamer of ’n ander private plek.

Die man behoort die voorbeeld te stel van Godvresende selfdissipline. Hy moet wys dat hy mans genoeg is – sterk genoeg is – om sy begeertes te oorwin en sy luste te beheer. Deur sy rookgewoonte te oorwin, sy dranklus en ander luste te beheer, sy emosies te beteuel en reg te kanaliseer, deur sy tong te beheer en te lei volgens die “wet van goedhartigheid”, kan hy ’n voor­beeld stel wat sy kinders nooit sal vergeet terwyl hulle grootword nie. Sodanige voorbeeld sal beslis die respek, bewondering en liefde afdwing van enige sensitiewe, verstandige vrou.

As u dus die Bybel werklik bestudeer om te bepaal wat dit leer aangaande die huwelik, as u daarna streef – met God se hulp – om die Bybelse leerstellings, beginsels en voorbeelde in u huwelik toe te pas, sal u beslis geseën wees. As ’n pas getroude paartjie op hul knieë gaan en God opreg vra om hulle te lei en die weg aan te dui in hul huwelik, en Sy geïnspireerde Woord bestudeer en toepas, sal hulle ’n soort “hemel op aarde” beleef, ten minste soverre dit hul huwelik aanbetref!

Dit is ’n FEIT, alhoewel dit mense wat nie met God se weë bekend is nie, sal verbaas. Ek het dié beginsels in my eie huwelik sien werk, en in die huwelike van baie ander wat op God vertrou. Tot dieselfde mate wat ons hierdie leerstelling volg, sal dit werk.

Maak God die MIDDELPUNT van u huwelik! Soek heelhartig God se wil – en pas dit dan toe!

Verbintenis en vertroue

Een van die tradisionele huwelik­seremonies bevat die uitdrukking “tot die dood ons skei”. Alhoewel baie mense hierdie begrip minag, is dit absoluut lewensbelangrik dat elke huwelik op dié begrip gebou word. Ons het reeds gesien dat dit God is wat die huwelik ingestel het. Dit is Jesus Christus wat gesê het: “Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie” (Matt. 19:6).

Alhoewel moderne sielkundiges, beraders en selfs baie belydende Christenpredikante blykbaar angstig is om getroude mense van allerhande “skuiwergate” te voorsien, stem God nie saam nie! God erken wel dat “seksuele onsedelikheid” (Grieks porneia) rede is vir egskeiding. Dit is egter God se uitdruklike wil dat die huwelik ’n lewenslange verbintenis sal wees!

Let ’n bietjie op na dié sleutelverse in God se open­baring aan die mens: “En boonop doen julle dít: julle bedek die altaar van die here met trane, met geween en versugting, omdat Hy Hom nie meer wend na die offer nie en dit van julle hand nie aanneem as welgevallig nie. En julle vra: ‘Waarom?’ Omdat die here getuie is tussen jou en die vrou van jou jeug aan wie jy ontrou geword het, terwyl sy tog jou metgesel is en die vrou van jou verbond. Het Hy dan nie een mens gemaak nie, hoewel Hy Gees oorgehad het? En waarom die een? Hy het ’n geslag van God gesoek. Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou aan die vrou van jou jeug nie. ‘Want Ek haat egskeiding,’ sê die here die God van Israel, ‘en dat ’n mens sy kleed met geweldpleging bedek,’ sê die here van die leërskare. Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou nie” (Mal. 2:13-16).

God verwys hierbo na die huwelik as ’n “verbondsverhouding”. Hy wys dat een van die oogmerke van die huwelik is om ’n “geslag van God” voort te bring. ’n Standvastige en liefde­volle verhouding is natuurlik ’n voorvereiste hiervoor. God verwys drie keer hierbo na iemand wat “ontrou” is en ’n huwelik laat verbrokkel.

Die huwelik is, onder andere, ook ’n “toets”. ’n Toets om te sien hoe LOJAAL u sal wees in God se instruksies oor die huwelik en teenoor u maat met wie u hierdie geheiligde verhouding deel. Hoeveel sal u van uself “gee” aan hierdie ander mens? Tot watter mate sal u geduldig, liefdevol en nederig wees ten einde dit te laat werk? Bowenal sê God dat Hy egskeiding “haat” (vers 16). God haat nie die geskeide mense nie, maar Hy verag die selfsugtigheid, die wellus, die ydelheid, die selfbeheptheid en verraad wat altyd teenwoordig is wanneer ’n huwelik deur egskeiding geskeur word.

Elke huwelik behoort rekening te hou met die kragtige, Godgeïnspireerde lering van die Apostel Paulus: “Vroue, wees aan julle eie mans onder­danig, soos aan die Here. Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam. Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees. Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het” (Ef. 5:22-25). Hierdie verse wys uitdruklik dat die huwelik ’n TIPE is van die verhouding tussen Christus en die Kerk. Dit is ’n verhouding van algehele onderdanigheid aan mekaar en aan God se wil. Dit moet ’n BLYWENDE verhouding wees – wat aangaan “tot die dood ons skei”. Dit moet die liefde voorstel, die algehele besorgdheid vir die welstand van ’n ander en die gevolglike VERTROUE en STABILITEIT wat tussen Christus en Sy ware Kerk bestaan.

’n Suksesvolle huwelik verg harde werk

Om hierdie soort GODingestelde verhouding in u huwelik te hê, verg dat u albei daaraan moet werk! Dit verg beplanning en energie, soos dié van ’n top wetenskaplike wat aan ’n belangrike uitvinding werk. Volkome gelukkige en suksesvolle paartjies neem nie hulle huwelik as vanselfsprekend aan nie. Ware Christelike paartjies bid gereeld vir hul huwelik. Hulle bestudeer die Bybel en ander bronne om hul huwelik te verbeter. Hulle maak ook ’n weder­sydse verbintenis om hul huwelik te laat slaag – “tot die dood ons skei”.

Al dié dinge bou ’n gevoel van “vertroue” en standvastigheid. Lees wat sê Spreuke: “Wie sal ’n deugsame vrou vind? want haar waarde is ver bo korale. Die hart van haar man VERTROU op haar, en aan wins sal dit hom nie ontbreek nie. Sy doen aan hom goed, en nie kwaad nie, al die dae van haar lewe” (Spr. 31:10-12). Wat ’n wonderlike toonbeeld van liefdevolle diens en toewyding deur ’n Godvresende vrou! So ’n vrou moet opreg waardeer en as ’n kosbare skat bewaar word.

’n Man met ’n opregte, liefdevolle vrou behoort op soortgelyke wyse te reageer en “sy lewe vir sy vrou te gee” – haar lief te hê, te eer, te beskerm, in haar behoeftes te voorsien en haar op elke moontlike manier te dien. Enige ordentlike man moet nooit, OOIT toelaat dat sy gedagtes of emosies romanties by ’n ander vrou betrokke raak nie. Jesus noem sulke wellustige gedagtes owerspel: “Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ’n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het” (Matt. 5:28).

As ’n man aan so ’n verraderlike gedagte toegee, sal dit nie net sy vrou emosioneel verwoes en hul huwelik heel moontlik verongeluk nie, maar dit sal ’n diep hartseer en pyn – bo en behalwe WOEDE – meebring vir die eggenoot van die ander vrou.

Die Een wat ons manlik en vroulik geskape het, sê vir ons: “Hy wat met ’n vrou owerspel pleeg, is sonder verstand; hy wat sy eie lewe wil verwoes, hý doen so iets” (Spr. 6:32). Die oorspronklike Hebreeus word soms vertaal “sonder hart” in plaas van “sonder verstand”. Sulke swak deurdagte, korrupte, uiters selfsugtige gedrag sal omtrent ’n liefdevolle eggenoot se “hart breek” wanneer hy uitvind dat hy op só ’n manier bedrieg en oneer aangedoen is. Dieselfde gebeur natuurlik ook met die vrou wat op so ’n wyse bedrieg word, want die diep emosies van liefde en vertroue, van huis en haard, van diep verbintenis en sekuriteit is skielik VERPLETTER!

Geen wonder dan dat hierdie passasie vervolg met: “Want jaloersheid is ’n toorngloed in ’n [getroude] man, en op die dag van wraak verskoon hy nie; hy neem glad geen losprys in aanmerking nie, en hy willig nie in nie al maak jy die omkoopgeskenk nog so groot” (verse 34-35).

Almal van ons wat getroud is of wat in die toekoms gaan trou, behoort ’n besliste besluit te maak om ons huweliksbeloftes op elke manier te EERBIEDIG. Ons behoort God se Woord hieroor te bestudeer, daagliks te bid vir ons huwelik en ons gesin, God gereeld te dank as ons ’n liefdevolle en getroue maat het, en alles binne ons vermoë doen – met God se hulp – om ’n diep gevoel van liefde, vertroue en stabiliteit in ons huwelik te bou. “Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet, al die dae van jou nietige lewe wat Hy jou gegee het onder die son – al jou nietige dae; want dit is jou deel aan die lewe en aan jou arbeid wat jy met moeite verrig onder die son” (Pred. 9:9). In hierdie fisiese lewe is daar geen groter seën as hierdie soort geheiligde verhouding nie!

Opregte Kommunikasie

Soos reeds genoem, het baie vroue al desperaat aan my gesê: “My man praat net nie met my nie! Dis waarom ons nie na aan mekaar is nie – hy deel eenvoudig niks met my nie! Hy sit net stuurs aan tafel tydens maaltye of lees saans koerant of kyk TV!”

Hierdie voorbeeld is tipies van letterlik miljoene huwelike. Dikwels dink minstens een van die maats dat hulle wel kommunikeer. Maar die ander een, gewoonlik die vrou, weet dat dit nié die geval is nie en voel alleen en gefrustreerd. Sy besef dat sy en haar man bloot in dieselfde huis saamwoon. Hulle baklei nie, of maak mekaar nie noodwendig fisies of met woorde seer nie. Daar is egter nie die openhartigheid, die samesyn, die totale deel van twee lewens, die liefde wat daar behoort te wees nie.

Een kenner op die gebied haal ’n vrou aan wat haar huwelik van tien jaar bespreek: “Dit is hart­verskeurend. Voor my troue kon ek na ’n restaurant gaan en deur net in die vertrek rond te kyk, kon ek sien wie getroud was en wie nie. Die getroude pare het óf in doodse stilte gesit en eet óf die vrou het aanhou babbel en die man het geëet en gemaak asof sy nie daar is nie. Ek het gesweer dat dit nooit met my sou gebeur nie – dit het!”

Waarom gebeur dit? Waarom kommunikeer getroude mans en vroue, van alle mense, nie beter met mekaar nie?

Om lief te hê, beteken om te deel. Elke man as eggenoot wat die naam werd is, behoort die gewoonte aan te kweek om sy planne en verwag­tinge met sy vrou te bespreek, sy diepste gedagtes en begeertes met haar te deel – nie net die negatiewe nie! – en haar laat voel dat sy “deel van hom” is. Dié gesindheid en benadering beteken baie meer vir ’n vrou as wat die meeste mans ooit kan besef! Ongelukkig deel baie min mans hul lewens só met hul vrouens.

WAAROM?

Pas getroudes werk gewoonlik hard daaraan om mekaar se gesindhede en voorkeure aan te leer en daarby aan te pas. Hulle put genot daaruit om idees en menings oor bykans alles te verwissel.

Ná ’n paar maande is alle sienswyses egter met mekaar uitgeruil, gesindhede is blykbaar gepeil, en die belangstelling en opgewondenheid van “jou leer ken” is verby.

Namate die huwelik voortgaan en kinders gebore word, is die vrou se belangstelling en geselskap meer en meer gemik op haar kinders en ’n menigte huishoudelike besonderhede wat van min of geen belang vir haar man is nie. Die twee neem mekaar se sienswyse oor sekere onderwerpe as vanselfsprekend aan sonder om dit te bespreek.

Die meeste mans wil net goeie nuus van hul kinders hoor en word ergerlik of verveeld as die vrou die probleme van kinders grootmaak tot in die fynste besonderhede met hulle deel. Vrouens mis hul mans gewoonlik die meeste wanneer die kinders klein is. Hulle het die hele dag lank geen volwassene om mee te praat nie en het dus ’n dringende behoefte om saans met hul mans te kommunikeer. Maar baie mans kruip egter agter hul koerante weg of skakel die TV aan in plaas daarvan om te luister na wat hulle beskou as ’n vervelige “relaas” van huishoudelike frustrasies.

’n Man moet sy vrou soos sy “liefling” behandel. Hy moet ’n atmosfeer van liefde, romanse en vertroulikheid in hul huis opbou en vertroetel – hy moet haar soengroet wanneer hy van die werk af kom, haar hand vashou as hulle gaan stap en haar dikwels gedurende die dag met vrye en kwistige liefde omhels.

Ware liefde bring diep en blywende respek mee. Die man behoort baie dankbaar te wees dat sy vrou hom bo ander mans uitverkies het om tot die dood toe aan te kleef. Hy behoort dié feit – en die talle goeie eienskappe van hulp, geduld en diens – waaroor die meeste vroue beskik – diep te waardeer. Hy behoort haar aan te moedig en die beste in haar na vore te bring – nie aanhou brom, op haar pik, haar verkleineer met aanmerkings wat haar, in die meeste gevalle, net sal laat sleg voel of op dieselfde afbrekende manier laat terugkap nie.

’n Man behoort die feit dat sy vrou ’n volwassene is, na God se beeld geskape is, te respekteer. Hy moet besef dat sy eendag – volgens die ontsaglike plan van ons Grote God – bestem is om ’n verheerlikte geestelike wese te word wat saam met Christus oor die aarde gaan regeer en selfs oor engele gaan heers (1 Kor. 6:3).

Met dié soort begrip en respek behoort elke ware Christenman sy gedagtes, sy planne en sy lewe geheel en al te deel met die lieflike mens wat hy gekies het as sy lewensmaat. “My vrou is my beste maat” behoort NIE net ’n afgesaagde gesegde te wees nie. Dit behoort ’n werklikheid te wees. ’n Lewensmaat wat ’n ware vriend is, help ons selfrespek bou, bemoedig ons deur die moeilike tye en help dat ons nie eensaam is nie. Paartjies wat in alle eerlikheid dinge met mekaar bespreek wat vir hulle belangrik is – insluitend hul eie verhouding – is gelukkiger en sal heel waarskynlik ’n blywende huwelik hê. Alhoewel daar ’n verstaanbare risiko is om u diepste wese bloot te lê, is dit baie beter om dít te doen as om toe te laat dat pyn en misverstande ophoop.

Kommunikeer op ’n positiewe wyse

Onthou, om te “luister” na u maat se diepste seer en bekommernis gee u NIE outomaties die reg om te “oordeel” óf u raad te gee nie. Dikwels is dit beter om net te luister. Met verloop van tyd sal u maat u raad of mening begin vra. Laat hulle egter die eerste stap neem, nie u nie. U moet egter liefde en belangstelling toon. U moet bereid wees om regtig die TYD AF TE STAAN om werklik na u maat te luister, werklik belang te stel in wat u geliefde sê en deurmaak. Leer in hierdie proses om vrae te vra en u maat aan te moedig om te praat sodat u die situasie beter kan verstaan: “Vertel my meer!” “Ek sien, verstaan ek reg wat jy sê?” “Ek het dit nie besef nie. Help my asseblief om beter te verstaan sodat ek jou kommer kan deel”, en soortgelyke woorde van liefdevolle belangstelling.

Moet egter NOOIT voordeel trek uit u maat se openhartigheid en onthullings nie! U maat sal een­voudig soos ’n mossel toeklap. Beskou die intieme mededelings wat u in die huwelik deel as ’n heilige vertroue – as vertroulik tussen die twee van u, en moet dit nooit as ’n “slaanding” gebruik om voordeel te trek in ’n latere argument nie.

Aan die ander kant is dit uiters noodsaaklik om u maat te prys en aan te moedig. Maak seker dat u opreg en spesifiek is in u lof. Loof u vrou vir ’n spesiale maaltyd, loof u man omdat hy eerste opstaan en die huis verwarm – dít is voorbeelde van bedagsaamheid en bemoediging wat u maat kan inspireer en liefde en waardering in u huwelik kan bou. Dink beslis na oor “waardering”. My moeder se gedurige uitdrukkings van dank­baarheid en waardering het almal in die gesin gehelp om haar meer te waardeer en lief te hê.

Onthou om alle kommunikasie positief te hou. Die een moenie gedurig die ander een kritiseer nie! Dié soort negatiewe foutvindery breek ’n huwelik af en moet ten alle koste vermy word. ’n Man sal baie dwaas wees om sy vrou voortdurend tereg te wys – hoe kan sy as sy liefling reageer as sy gedurig afgekraak en tereg­gewys word deur haar man? Die Bybel maak dit baie duidelik dat ’n vrou net soveel skuld dra as sy gedurig kerm en kla en haar man afkraak. “Dit is beter om op die hoek van ’n dak te woon as by ’n twisgierige vrou en ’n gemeenskaplike huis” (Spr. 21:9).

Weereens, die wese van ’n gelukkige huwelik is liefdevolle, positiewe kommunikasie, inligting en mededeelsaamheid in planne en drome tussen man en vrou. Dink daaroor! Selfs GOD “deel” Sy verwagtinge en planne met ons nietige mense! “Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat ’n dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van My Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het” (Joh. 15:15). As die lewende Jesus Christus genoeg omgee vir ons om “alles” wat Hy van God die Vader gehoor het met ons te deel, hoeveel te meer behoort óns nie gewillig te wees om openlik ons gedagtes en drome met ons wederhelf te deel nie?

Werk en droom saam

In u woorde en dade, lag en trane, kyk saam terug en herleef die gedagtes van ’n jong seun wat oor die toekoms droom. Bespreek en ontleed daardie drome liefderyk en met begrip, tesame. Werk en bid dan saam om daardie drome te bewaarheid.

Op dieselfde manier moet u die hoop en ver­wagtings van ’n jong meisie herleef wat gedroom het om eendag ’n man en huis van haar eie, kinders, sekuriteit, warmte, gelag en vreugde te hê. Maak seker dat u saam werk om ook haar drome te bewaarheid.

Leer om openlik en liefderyk op mekaar te reageer. Moenie onbehoorlike geheime hê nie. Moenie griewe koester nie. Dit is u enigste lewe, u enigste lewensmaat, u enigste liefde. Leer om as ’n eenheid te dink en te voel en om sodoende al u probleme saam, as ’n span, op te los. Die gedeelde bemoediging en aansporing, saam met warmte en liefde, sal vreugde in u lewe bring wat op geen ander manier verkry kan word nie. “Waarlik, dit is nie goed dat die mens alleen is nie” (Gen. 2:18).

Die huwelik beteken om te gee

Jesus Christus het meer as enige mens voor­beelde van God se liefde gegee. Een van die grootste en duidelikste is dat Hy Sy lewe vrywillig gegee het en ook Sy bloed vir ons gestort het, sodat Hy ons Verlosser kan wees.

Soos ons reeds gesien het, beeld die verhouding tussen Christus en die ware Kerk die verhouding tussen man en vrou uit. Aan die einde van Sy lewe op aarde, ná ’n leeftyd waarin Hy gegee en gedien het, het Jesus Christus Homself aan die Kerk gegee: “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees. So behoort die mans hul eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief” (Ef. 5:25-28).

Normaalweg dink ons almal natuurlik net aan ons eie behoeftes. Ons sien om na ons eie begeertes. Ons sien om na daardie dinge wat ons genot gee. Omdat God ons egter “een vlees” in die huwelik gemaak het, moet ons leer om gedurig die behoeftes en begeertes van ons maat in ag te neem en hoe om vir ons wederhelf te sorg! Dit vereis deurdagte beplanning en selfdissipline. Dit vereis dat ’n mens jouself aan ’n ander mens GEE. Dit is waaroor die huwelik gaan!

Een van Christus se belangrikste leringe word nie in die evangelies nie, maar in ’n brief van die Apostel Paulus gevind, in Handelinge: “Ek het julle in alles getoon dat ons deur so te arbei die swakkes moet help en die woorde van die Here Jesus moet onthou, dat Hy gesê het: Dit is saliger om te gee as om te ontvang” (Hand. 20:35). Veral in die huwelik is dit “saliger” om te gee. In die meeste gevalle is dit ’n kwessie van “hoe meer ’n mens gee, hoe meer sal ’n mens kry”. As u opreg probeer om te bemoedig, te dien en te GEE, sal u vind dat u maat u op soortgelyke wyse sal behandel. U sal albei gee. U sal albei baie bly en verheug wees oor die warmte en waardering wat uit hierdie deugsame patroon sal volg.

Elke man behoort deeglik te beplan hoe hy sy vrou se vreugde kan vermeerder en vervulling van haar lewensdoel kan aanhelp. Behoort hy haar nie partykeer met die opwas en huiswerk te help nie? Behoort hy nie al die swaar optelwerk en rond­skuiwery in en om die huis te doen nie? Behoort hy haar nie aan te moedig om meer slaap, oefening, ontspanning in te kry, om ’n verandering in haar lewenspatroon aan te bring nie? As hulle dit kan bekostig, behoort hy haar nie een of twee keer per week vir ’n ete uit te neem nie? Behoort hy haar nie af en toe op ’n “naweek­wittebrood” te neem om weg te kom van haar gewone roetine en werk nie? Behoort hy nie hul albei se lewens te verryk deur haar na simfonie­konserte, kunsmuseums, opvoedkundige lesings en na ander opbouende gebeure en plekke te neem nie? Dié is maar enkele maniere waarop ’n man aan sy vrou kan “gee”.

Op haar beurt moet ’n vrou daaraan dink hoe sy haar man se fisiese, emosionele en intellektuele lewe en geluk kan verryk. Miskien behoort sy sy gunsteling geregte meer dikwels voor te berei. Behoort sy hom nie aan te moedig om meer oefening en slaap te kry nie, en na homself te kyk sodat hy langer gespaar sal bly nie? Miskien moet sy in die middag of ná werk ’n bietjie rus of ’n vinnige stort neem en ander klere aantrek, sodat sy vars en opgewek en mooi kan lyk soos toe hy haar die hof gemaak het. Behoort sy hom nie aan te moedig om sy mening te lug oor aktuele gebeure of oor geestelike onderwerpe nie? Behoort sy nie toegeneë te wees vir sy vertroeteling en liefde en hom op die hande te dra en baie gelukkig laat voel dat hy met so ’n liefdevolle vrou getrou het nie?

U het seker al gehoor dat die huwelik veronderstel is om ’n 50/50-ooreenkoms te wees, u gaan halfpad en u eggenoot gaan halfpad. As u egter nie saamstem oor iets nie, wie bepaal dan die halfpadmerk? Ware liefde beteken egter om te gee sonder om iets terug te verwag, om 100% te gee, selfs meer te gee as wat u dink van u “verwag” word.

Christus gee ons die voorbeeld van die ekstra myl: “En elkeen wat van jou een myl afdwing, loop met hom twee myl saam” (Matt. 5:41). Selfs al sou u nie daarna voel nie, loop daardie ekstra myl en gee aan u wederhelf. God sal aanvul waar u tekort skiet. Vra Hom om u te help om meer minsaamheid, liefde en respek aan u geliefde maat te betoon. Na ’n tyd sal u die vrugte van ’n verrykte en verbeterde huwelik pluk.

Dink dus aan maniere hoe u aan u maat kan gee. Klein geskenkies of woorde van waardering maak ’n groot verskil. ’n Opregte en onverwagte soentjie of drukkie kan ’n kosbare geskenk in die oë van u wederhelf wees. ’n Eenvoudige vraag soos: “Hoe het dit vandag gegaan?” kan ’n welkome geskenk van aandag aan u maat wees, wat u maat kans bied om gedagtes en gevoelens met u te deel.

Ek ken ’n besige paartjie wat tyd maak om hul liefde en besorgdheid aan mekaar te toon. Een aand, toe die vrou die ete bedien, het sy haar man gevra: “Is daar nog iets wat jy nodig het?” Die man het geglimlag en gesê: “Ek het jou liefde nodig”. Hy het sy stoel agteruit gestoot en haar op sy skoot geneem. Hulle het mekaar gesoen en gedruk. Hierdie soort spontaneïteit, die gretigheid om aan mekaar te gee, help om ’n atmosfeer van liefde en vrede te skep.

Dit is nie altyd romanties en idealisties nie, maar ’n gelukkige paartjie sal dag en nag, jaar na jaar, daarna strewe om van hulself aan mekaar te “gee”. Elkeen sal probeer om hul maat te help om hul volle menslike potensiaal in elke opsig te bereik. Ons “kry” slegs ’n gelukkige huwelik, wanneer ons leer om ’n gelukkige huwelik te GEE!

Leer die belangrikheid van vergifnis

’n Ander uiters noodsaaklike vereiste vir ’n gelukkige huwelik is die bereidwilligheid om te VERGEWE. Wanneer twee mense hul hele lewe deel, wanneer hulle vir die grootste gedeelte van elke dag en nag saam is, sal daar wel soms wrywing ontstaan. Ons is immers steeds menslik. Die beste manier om hierdie probleem op te los, is op GOD se manier.

Om nukkerig te wees, bose gedagtes teenoor u lewensmaat te koester en om verkeerde bedoelings aan u maat toe te skryf, is sinneloos. Dit veroorsaak net meer moeilikheid, ontevredenheid en moontlik selfs egskeiding. Soos vantevore genoem, praat oor dinge wat u kwets en oor misverstande. Luister waarlik na u maat se standpunt – MOENIE net sit en dink wat u volgende gaan sê nie! MOENIE net dink hoe u hom of haar gaan antwoord of gaan “terugbetaal” nie.

Met gelyke munt terugbetaal?

Wie moet terugbetaal word? As u die feit volkome begryp dat u en u lewensmaat “een vlees” is en deur God SAAMGEBIND is vir die res van u lewens, sou u dan eintlik USELF terugbetaal! U sal net uself seermaak. U sal dan letterlik ’n “teenaanval” op uself loods.

As u dus ná ’n gesinsargument of opregte bespreking met u lewensmaat oor iets wat u gekwets het of ’n onreg – werklik of denk­beeldig – steeds ontsteld of kwaad is, wat moet u doen? Doen dan eenvoudig wat God beveel vir so ’n situasie – VERGEWE die ander persoon!

“Maar dit was eintlik hulle skuld!” sê ons gewoonlik. “Hulle het ook nie eens om verskoning gevra nie, hoe kan ek hulle vergewe?” Deur innige gebed en God se leiding, kan u leer om elke persoon allerhande werklike óf denkbeeldige “onregte” teen u te vergewe: van daardie bestuurder wat voor u insny, of die tiener langsaan wat sy popmusiek kliphard speel tot laat in die nag, tot die buurvrou wat skinderstories oor u versprei.

Toe Christus van baie erger dade as dié gepraat het, het die Een wat ons grootste voorbeeld is, gesê: “Vader, VERGEEF hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Luk. 23:34).

Ons moet almal begin besef dat die meeste mense nie “bedoel” om ons seer te maak nie. Hulle “bedoel” nie om iemand kwaad aan te doen nie. Hulle is bloot menslik. Hulle slinger kwetsende woorde rond en doen verkeerde dinge sonder om te dink wat hulle werklik doen. Dit maak ons baie keer “seer”.

Die Een wat Sy lewe vir ons gegee het, gee dié opdrag aan ons: “Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie” (Matt. 6:14-15).

As ons dan elke persoon op dié wyse moet vergewe, hoeveel te meer moet ons nie ons eie maat vergewe wat nou ons eie vlees en liggaam geword het nie?

Wat daarvan as u man byvoorbeeld aanhou om grond uit die tuin of olie uit die motorhuis die huis in te trap? Wat daarvan as u vrou aanhou om een of twee keer per week die boontjies te verbrand?

Leer om met ’n opbouende gesindheid daardie probleem met u lewensmaat te bespreek. As party van hierdie menslike swakhede jare lank duur, hou eenvoudig aan om te vergewe. Sou u eerder verkies om u gebrande boontjies nou en dan af te krap, of om ALLEEN te woon, u eie kos te maak en niemand te hê om mee te gesels of om snoesig mee te wees op ’n koue winteraand nie? Moet nooit Jesus se opdrag vergeet nie: “Toe kom Petrus na Hom en sê: ‘Here, hoe dikwels sal my broeder teen my sondig en ek hom vergewe? Tot sewe maal toe?’ Jesus antwoord hom: ‘Ek sê vir jou, nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe’” (Matt. 18:21-22).

Die gees van vergifnis

Ons moet almal gereeld vir God in gebed vra om aan ons die “gees van vergifnis” te gee. Party mense vind dit blykbaar baie moeilik om ander te vergewe. Dis amper asof hulle dit “geniet” om die pyne en griewe vir jare met hulle saam te dra.

Onthou, u toorn teenoor ander maak hulle gewoonlik nie seer nie. Hulle is dalk nie eens bewus daarvan nie! Maar dit maak u egter seer. Dit maak u nors en ongelukkig en dikwels moeilik om mee saam te leef. Deskundiges het bevind dat hierdie negatiewe emosies baie bydra tot kankers, maagongesteldhede, hoë bloeddruk, beroerte of hartaanvalle. U negatiewe emosies kan u letterlik DOODMAAK!

Weereens, vra u Hemelse Vader om u te help om dié neiging heeltemal te oorwin en leer om almal lief te hê en te vergewe, veral u eie lewens­maat! Probeer om u denkpatroon te verander sodat u nie so maklik “seerkry” nie. Onthou, God word die “Vader van ontferminge” genoem (2 Kor. 1:3).

Namate u besef hoe baie daar is waarvoor God u moet vergewe, vra God om u te help om ander te vergewe.

Die Apostel Petrus is geïnspireer om alle mans te onderrig om aan hul vroue “eer [te] bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is – sodat julle gebede nie verhinder mag word nie”. (1 Pet. 3:7). Hy gaan dan voort om instruksies te gee wat van toepassing is in ons algehele Christelike lewenswyse, maar bowenal in die huwelik: “En eindelik, wees almal eensgesind, medelydend, vol broederliefde en ontferming, vriendelik. Vergeld geen kwaad met kwaad of skeldwoorde met skeldwoorde nie, maar seën inteendeel, omdat julle weet dat julle hiertoe geroep is, sodat julle seën kan beërwe. Want wie die lewe wil liefhê en goeie dae wil sien, moet sy tong bewaar vir wat verkeerd is, en sy lippe dat hulle geen bedrog spreek nie. Hy moet afwyk van wat verkeerd is, en doen wat goed is; hy moet vrede soek en dit najaag” (verse 8-11).

Ons behoort almal die huwelik te beskou as ’n soort “werkswinkel” waar ons leer hoe om te gee, hoe om te deel en hoe om ander mense op ’n voortdurende grondslag te vergewe. Namate ons die bogenoemde verse noukeurig bestudeer, word dit duidelik dat God wil hê ons moet leer om ons lewensmaats met spesiale welwillendheid en hoflikheid te behandel. In die meeste huwelike egter leer die twee partye maklik aan om mekaar “as vanselfsprekend” te beskou. Ons is dus geneig om teleur te stel en oneerbiedig en kortaf met mekaar te praat. Ons vergeet hoe maklik dit is om iemand seer te maak deur ondeurdagte woorde en dade. Ons vergeet dalk hoe uiters belangrik dit is om “vrede na te streef” in die huwelik.

Dink ’n bietjie hieroor! Dink net hoe moeilik dit dalk vir u lewensmaat is om al die selfsugtige dade en eienaardighede te verdra wat u (en almal van ons) het! Indien die situasie omgekeer was, sou u dit met USELF kon uithou?

Nie een van ons kan vreugdevol wees as ons met pyn en wrokke rondloop nie, vernaamlik nie teenoor ons lewensmaats nie! Leer dus om met God se hulp u lewensmaat op ’n daaglikse grondslag ten volle te VERGEWE, beweeg vorentoe en bou ’n werklik intieme en liefdevolle verhouding.

Bou u gesinskoninkryk

Die bou van ’n gelukkige huwelik behoort ook die idee van die bou van ’n “gesinskoninkryk” in te sluit. Daar is ’n ou gesegde: “eie haard is goud waard”. Hierdie vergelyking behoort betrekking te hê op die man se hele gesin waar hy die koning is, sy vrou die geliefde koningin en sy kinders die koninklike prinse en prinsesse – wat opleiding nodig het om hul toekomstige verantwoordelik­hede te vervul. Die ouers werk dus geesdriftig saam om seker te maak dat hierdie toekomstige leiers sorgvuldig opgevoed, gelei, gedissiplineer en onderrig word vir die belangrike rol wat hulle in die toekoms gaan speel.

Die intelligente en vreugdevolle vermenging van hierdie twee konsepte in die huwelik – die oop en liefdevolle verbintenis van die liggaam, hart en verstand van die getroude paartjie en die skep van die noodsaaklike “gesinskoninkryk” – kan en behoort ’n geleentheid en atmosfeer te skep waar ’n man en vrou volkome vervulling sal vind. Hierdie vervulling word só deur die Psalm­skrywer gestel: “Welgeluksalig is elkeen wat die here vrees, wat in Sy weë wandel … Jou vrou is soos ’n vrugbare wingerdstok binne-in jou huis; jou kinders soos olyfboompies rondom jou tafel” (Ps. 128:1, 3).

Wanneer ’n mens eers hierdie begrippe oor die betekenis en doel van die huwelik ten volle begryp, waarom dan nie u huwelik en huis­houding hierop bou nie?

Pleks daarvan dat die man en vrou verveeld is en nie geïnteresseerd is om mekaar se gedagtes te deel nie, behoort albei die allergrootste belang te hê in hul klein “gesinskoninkryk”, wat hulle met entoesiasme saam bou. Daar behoort ’n doelgerigte, gesamentlike belangstelling te wees in die opvoedingstaak, om hul tuiste en finansiële posisie te verbeter, en in toekomsplanne, vir hulle toekoms.

In ’n werklike gelukkige huwelik is dit nie “my huis”, “my motor”, of selfs “my salaristjek” nie. Die gesindheid behoort eerder te wees “ons huis”, “ons inkomste” en “ons toekoms”.

Bou saam aan u “paleis”

Die gesamentlike gesindheid behoort dus die hele tyd te wees om vooruit te beplan om u “paleis, u tuiste” te verbeter. Die vrou se aan­voeling en haar begrip en deskundige kennis van binnenshuis­versiering, tuinuitleg, toestelle, ens., behoort altyd in berekening gebring te word. Elke groot aankoop soos dié van ’n huis of motor, behoort ’n gesinsprojek te wees – wat die geleentheid en voordeel bied vir ’n ondervinding waarin beide die man en vrou deel.

Niks om oor te praat nie?

Nee, alles om oor te praat en te deel. Dit is die regte antwoord.

Sonder om laf of onrealisties daaroor te wees, behoort die man en vrou aan hulself te dink as “vennote” in ’n groot avontuur – ’n loopbaan, ’n besigheid, ’n lewe saam. Hulle behoort besonder­hede van hulle gemeenskaplike bondgenote – hul vriende, sakekennisse en familielede – te bespreek. Deur heelhartig te deel in sodanige bespreking, behoort hulle onderlinge strategieë te beplan en in besonder te besluit hoe elkeen kan bydra om hul lewensideaal te kan verwesenlik.

Dan is daar die kinders. Hoeveel geleenthede bied hulle nie aan ouers vir bespreking, beplanning, gesamentlike probleemoplossing en opregte deelgenootskap in hoop en drome nie!

Deur saam doelwitte vir die gesin te stel, kan daar ’n werklik betekenisvolle “samehorigheid” geskep word. As die man en vrou albei werk, moet hulle in die fynste besonderhede bespreek hoe om genoeg geld te spaar sodat die vrou na ’n paar jaar kan ophou werk en hulle met ’n gesin kan begin. Later behoort hulle saam te beplan hoe hulle finansieel en andersins voorsiening kan maak wanneer die man of vrou, of albei, sal moet aftree. Hoe kan hulle dit bekostig? Waarheen kan hulle verhuis om uitgawes te verminder? Watter soort lewenswyse sal hul albei die nodige vervulling bied namate hierdie gebeurtenisse ontvou? Kan hulle ’n tuisbesigheid op die been bring wat hulle ’n redelike inkomste kan verseker selfs al sou een of albei aftree?

Indien die man en vrou hulself beskou as deel van ’n “span”, kan hul huwelik soveel meer beteken. Hulle sal dan elkeen gereeld ’n bydrae lewer tot die “gesinskoninkryk”. Hulle sal albei op besondere wyse gee, bou en deel hê aan die groot avontuur van hul lewe saam.

Romanse is noodsaaklik

Ons bespreek “romanse” heel laaste. Alhoewel dit die magneet is wat jong mense na mekaar toe trek, vergeet hulle dikwels die belangrikheid van die ander aspekte van die huwelik – waarvan ons die meeste reeds bespreek het.

Laat ons egter NIE “romanse” uit die prentjie laat nie. Dit maak nie saak hoe lank ’n paartjie getroud is nie, of hoe “oud” hulle is nie; die diep menslike behoefte vir romantiese liefde en vertroeteling bly steeds daar in die meeste mense. Die behoefte om te soen en te omhels, “om te hê en te hou”, is in die meeste mense amper so basies soos om asem te haal.

Daar is NIKS daarmee verkeerd nie!

Die Groot God, wat ons manlik en vroulik geskape het, het spesifiek ons seksorgane geskep. Hy het die mans en vrouens gemaak sodat hulle tot mekaar aangetrokke sou voel. Hy het ons gemaak met gevoelens en begeertes wat lei tot seksuele uiting. Wat was God se eerste bevel aan Adam en Eva? “En God het hulle geseën en God het vir hulle gesê: ‘Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit’” (Gen. 1:28).

Let wel, deurdat God aan ons eerste ouers die “geskenk” van seks en menslike voortplanting gegee het, het God hulle “geseën”. As seks op die regte manier binne die huwelik gebruik word, is dit voorwaar ’n seëning. Op ’n fisiese manier bring dit die algehele eenwording van hart, verstand, emosie en liggaam mee van twee mense wat mekaar so innig liefhet dat hulle hul aan mekaar verbind het vir die res van hul LEWE. Ons het reeds gesien dat hierdie verbintenis die totale eenwording uitbeeld wat eendag sal plaas­vind tussen Christus en die ware Kerk van God (Ef. 5:22-25).

Hierdie geheiligde verbintenis tussen man en vrou in die huwelik is so belangrik dat God een van die Tien Gebooie daaraan gewy het om dit te beskerm! Ons Skepper het beveel: “Jy mag NIE egbreek nie” (Ex. 20:14). Jesus Christus het dit beklemtoon en uitgebrei, dit meer bindend gemaak: “Julle het ge­hoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: ‘Jy mag nie egbreek nie’. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ’n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het” (Matt. 5:27-28).

Indien seks egter binne die huwelik gebruik word as ’n herbevestiging van liefde, van vertroue, van die GEE van die een maat aan die ander – dan is dit kosbaar en heilig in die oë van God. Ek sê onom­wonde, dit moet definitief NIE goedkoop, grof en algemeen gemaak word, soos deur hedendaagse rolprente, televisie en ander media uitgebeeld word nie. Daardie verhouding wat God bedoel het om die klimaks van fisieke uitdrukking van LIEFDE in die huwelik te wees, wat Christus en die Kerk voorstel, word dan net deur die modder gesleep.

Ek hoop ons kan almal sien hoe “duiwelslim” Satan is om van God se seëninge te versleg en goedkoop te maak deur daarvan misbruik te maak.

Deurdat hy miljoene mense mislei om die gawe van seks te misbruik, takel Satan die Godgegewe grondslag van enige ordentlike samelewing af, die tuiste en die gesin. Dit is PRESIES wat met die meeste van ons Westerse samelewings aan die gebeur is!

Aan die ander kant wil God hê dat jong getroude paartjies mekaar ten volle moet liefhê. Sy geïnspireerde openbaring sê vir ons: “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel” (Heb. 13:4).

Die Bybel verduidelik verder aan ons: “Mag jou fontein geseënd wees, en verheug jou oor die vrou van jou jeug – die lieflike wildsbokkie en aanvallige steenbokkie; laat haar boesem jou altyd vermaak, mag jy in haar liefde gedurigdeur bedwelmd wees. Maar waarom sou jy, my seun, by ’n vreemde bedwelmd raak en die boesem van ’n ontugtige omhels?” (Spreuke 5:18-20).

Wanneer ’n jong paartjie mekaar die hof begin maak, spandeer hulle gewoonlik BAIE tyd aan romantiese bedrywighede. Hulle gaan stap ver ente in die maanlig. Hulle eet in romantiese kafeetjies, gaan dans, hou hande vas, lag saam en probeer om die persoon wat hul as lewensmaat oorweeg, ten volle te verstaan en te waardeer. Hulle probeer om bykans altyd skoon en netjies, fyn uitgevat te wees, gebruik selfs ’n bietjie parfuum of naskeermiddel. Hulle sal in alle opsigte probeer om “die beste voetjie voor te sit”.

Nadat die bruilof en wittebrood egter verby is, begin die meeste paartjies om af te skeep. Die man sal miskien nie behoorlik bad voordat hy bed toe kom nie. Die vrou se hare lyk miskien soos ’n “mop” of sy dra slordige rokke voor haar man. Sy “vergeet” miskien om te bad of om ’n mooi rok aan te trek en spesiaal goed vir hom te lyk wanneer hy huis toe kom. Omdat so baie vroue deesdae ook werk, is dit selfs moeiliker vir ’n vrou om dit te doen.

Die man en vrou moet egter albei probeer “om die vure te laat brand” in hul romanse! Hulle moet probeer om vol te hou met al die spesiale aandag en hoflikheid aan mekaar, soos voor en kort ná die bruilof. ’n Liefdevolle man sal sy vrou totsiens soen in die oggend en weer ’n soentjie gee wanneer hy van die werk af kom, haar bedank vir aandete en weer soen as “nagereg”. Moontlik help hy om die skottelgoed weg te pak, of verras haar met ’n drukkie wanneer sy voor die wasbak staan, ens. Albei moet probeer om liefde en waardering in oorvloed uit te deel. Dan sal die “eindresultaat” baie maklik en natuurlik bereik word, want hulle sou mekaar heeldag lank al “liefgehad” het, en op ’n fisieke manier, sal dit ook hul huwelik vreugdevol en pragtig maak!

Bestee baie aandag en beplanning aan hierdie NOODSAAKLIKE aspek van u huwelik. Moenie toelaat dat enigiets in die pad staan om so ’n liefdevolle, romantiese atmosfeer in u huis te skep nie. Moenie toelaat dat “bekommernis oor werk” tussenin kom nie. Moenie dat kommer oor die kinders, hoe om ’n “perfekte” huishouding te hê of ENIGIETS u daarvan weerhou om binne u huis en huwelik die spesiale romanse en VREUGDE te bou wat u Skepper beoog het nie!

Mans, MOENIE foutvinderig, of nors, of veeleisend teenoor u vrou wees nie. Wees lief vir haar en moedig haar aan, tree so op dat sy op u ononderbroke liefde en goedhartigheid wil reageer. Probeer om uself in alle opsigte aan u lewensmaat “te GEE” en maak sodoende haar lewe vol en vreugdevol.

Vroue, bestee die tyd daaraan en doen moeite om u man se “liefling” te wees. Beantwoord sy liefde en vertroeteling en probeer hom inspireer en aanmoedig waar u ook al kan. Probeer om hom, binne God se wette, op elke moontlike manier gelukkig en vervul te laat voel. Glimlag met hom, terg hom, soen hom hartstogtelik terug en maak hom bly dat hy met u getrou het.

Op bogenoemde en talle ander maniere, moet u albei leer om mekaar opreg lief te hê en te vertroetel. Vra GOD op u knieë om u te help om ’n liefdevolle lewensmaat te wees! Gee Hom erkentlike DANK omdat Hy u voorsien het van ’n lewenslange maat, ’n minnaar, ’n vriend, ’n metgesel met wie u ten volle die seëninge van hierdie fisiese bestaan kan deel.

Vra God om u te help om al die bogenoemde “sleutels” vir ’n VREUGDEVOLLE huwelik toe te pas. Dan sal u iemand “spesiaal” hê om u aan te moedig, ten spyte van die beproewinge en toetse wat die lewe meebring. Dan sal u in hierdie verbintenis wat God ingestel het – wat ons die huwelik noem – op merkwaardige wyse leer hoe om die tweede groot gebod van ons Skepper te gehoorsaam: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matt. 22:39).

Laai af in PDF (91 KB) | Bestel GRATIS Gedrukte Uitgawe
Geliewe daarop te let dat genoemde boekies nie by El-Roi beskikbaar is nie, maar dat u dit direk kan bestel vanaf
Die Lewende Kerk van God of u kan die PDF dokument aflaai indien beskikbaar. Baie Dankie.