El-Roi - Afrikaans

Studies

Gedigte

God

Israel

Profesiee

Satan

Studies
Die Bybel: Feit of Fiksie

deur Dr. Douglas S. Winnail

Die Lewende Kerk van God

INHOUD
Hoofstuk 1: Wat glo u oor die Bybel?
Hoofstuk 2: Profesie: Die Bybel se unieke dimensie
Hoofstuk 3: Het God die Bybel geïnspireer?
Hoofstuk 4: Het die Bybel akkuraat behoue gebly?
Hoofstuk 5: Ware antwoorde op die lewe se belangrike vrae
Slot: Waarheid en gevolge

Is die Bybel net ’n versameling mites en legendes of is dit die geïnspireerde Woord van God? Baie mense aanvaar dat moderne geleerdheid die Bybel ongeloofwaardig maak, maar die geskiedkundige feite – en die ontdekkings van argeologie – bevestig dat die inhoud daarvan eg is! Die Bybel sit die verlede met verstommende akkuraatheid uiteen en voorspel die toekoms soos geen ander boek nie!

Die oorgrote meerderheid van die wêreld is mislei en waningelig oor die Bybel. Dit is noodsaaklik dat u die waarheid verstaan en hoe dit u lewe kan beïnvloed!

Hoofstuk 1
Wat glo u oor die Bybel?

Is die Bybel werklik die geïnspireerde Woord van God? Het dit vir duisende jare akkuraat behoue gebly as ’n unieke openbaring van die Skepper van die heelal? Of is dit net ’n versameling menslik uitgedinkte mites en fabels? Het ons inderdaad die regte boeke in die Bybel of ontbreek belangrike bronne wat ons siening van God, Jesus Christus en Christendom kan verander? Kan ons die Skrif vertrou? Is die Bybel vandag noodsaaklik en toepaslik?

Om die waarheid oor die Bybel te ontdek, kan een van die belangrikste en opwindendste avonture wees wat u nog ooit aangepak het. Hoewel kritici die Bybel aanval en predikante baie van die Bybel se leringe verdoesel of ignoreer, bevat die Bybel ’n dimensie van kennis wat bykans heeltemal afwesig is in ons hedendaagse wêreld. Die Bybel onthul die ware doel van die lewe. Nie net voorspel Bybelprofesieë die aan bewind kom en val van antieke nasies nie; dit verduidelik ook die ware belang van wêreldgebeure wat deesdae koerantopskrifte haal en waarop daardie gebeure afstuur. Ondanks dit wat miljoene misleide mense gemaak is om te glo, is die Bybel veel meer as net ’n vrome boek van aanbidding of ’n wierook-gehulde bron van vertroosting vir die besorgdes en bemoeides!

Vandag aanvaar baie geleerde mense dat die wetenskap en moderne geleerdheid die Bybel behoorlik in twyfel trek. Hierdie aanname floreer omdat so baie mense so min oor die Bybel weet. Baie mense is vandag bloot onbewus van ontdekkings wat steeds die geskiedkundige akkuraatheid van die Skrif bevestig. Pleks daarvan word mense aangemoedig om te glo dat alle godsdienste ewe geloofwaardig is – of ewe denkbeeldig – sonder om ooit die bronneversameling van daardie godsdienste te vergelyk. Gevolglik is miljoene mense onbewus van hoe uniek die Bybel is en watter wonderlike kenmerke dit van alle ander godsdiensboeke onderskei.

Voordat u die idee aanvaar dat die Bybel “net soos enige ander boek” is, moet u die bewyse vir uself ondersoek. Daardie bewyse is insiggewend en uiters leersaam en dit kan u lewe verander! U moet verstaan waarom so baie mense vandag die Bybel se geloofwaardigheid in twyfel trek en wat die waarheid oor die Bybel vir u toekoms kan beteken.

’n Verandering in gesindheid

Jode en Christene het vir duisende jare geglo dat die Bybel die geïnspireerde woord van ’n almagtige God is, en hulle het gesterf vir wat hulle geglo het. Regdeur die eeue het teenstanders en skeptici die Bybel uitgedaag, aangeval en verkleineer. Pouse en heidense Romeinse keisers het probeer om die Skrif te vernietig en het selfs die woorde daarvan verander. Tog, gedurende dieselfde onstuimige eeue, is die Bybel noukeurig bewaar en het die boodskap daarvan op merkwaardige wyses versprei!

Die Bybel is beslis die invloedrykste boek wat nog ooit geskryf is. Dit is in meer tale vertaal as enige ander letterkundige werk. Meer as twee miljard mense wat vandag leef, aanvaar die Bybel se leringe, selfs al is dit net in naam. Tog besef baie mense nie hoe diepliggend die Bybel die verloop van die hele Westerse beskawing beïnvloed het nie. Miljoene mense verstaan nie dat Bybelse wette en leringe vir eeue die grondslag voorsien het vir maatskaplike waardes en regstelsels regdeur die Westerse wêreld nie. Sir Isaac Newton, met een van die briljantste verstande van sy tyd, het opgemerk: “Daar is meer tekens van geloofwaardigheid in die Bybel as in enige ongewyde geskiedenis.” Brittanje se koningin Victoria het van die Bybel gesê: “Daardie boek verklaar die oppermag van Engeland.” Amerika se president, Andrew Jackson, het gesê: “Daardie boek, meneer, is die rots waarop ons republiek staan.” Amerikaanse president George Washington sê: “Dit is onmoontlik om die wêreld sonder God en die Bybel te regeer.” Frankryk se Napoleon het waargeneem: “Die Bybel is nie net ’n blote boek nie, maar ’n Lewende Wese, met ’n mag wat almal oorwin wat dit teenstaan” (Halley’s Bible Handbook, bl. 18-19).

Tog het baie dinge verander sedert hierdie stellings gemaak is. Vandag kan Bybels in verafgeleë dele van die wêreld gevind word, maar in die Westerse nasies wat op Bybelse beginsels gegrond is, is daar ’n sterk afname in respek vir die Bybel. Daar is ’n deurdringende opvatting dat die Bybel maar net nog ’n boek is en dat die leringe van die Bybel argaïes, outyds en ontoepaslik in ons moderne lewens is. Baie mense betwyfel dit sterk dat God die Skrif geïnspireer het. Miljoene mense van nasies wat eens op ’n tyd geleer het om uit die Bybel te lees en Bybeldraende sendelinge om die wêreld gestuur het, kan nie eens die name van die Bybelboeke opnoem of basiese Bybelse leerstellings verduidelik nie. Opnames wat in onlangse dekades gedoen is, toon dat selfs baie belydende Christene min ware kennis van die Bybel het. Amerikaanse munte verklaar: “In God We Trust [Ons vertrou op God]”. Tog het onlangse wetgewing en regsbesluite in Amerika dit onwettig verklaar om die Tien Gebooie in openbare geboue te vertoon of vir leerders om op skool te bid!

Wat het so ’n dramatiese verandering in die gesindhede teenoor die Bybel meegebring in die einste nasies wat eens ’n sterk geloof in die Skrif bely het? Waarom twyfel miljoene mense nou dat God die Bybel geïnspireer het? Waarom soek miljarde mense op alle ander plekke vir antwoorde wat duidelik in die Bybel te vinde is? Waarom erken mense nie dat die Bybel profesieë bevat wat duidelik die verloop van wêreldgeskiedenis en selfs die toekoms van spesifieke nasies onthul nie? Waarom het hedendaagse geslagte besluit om ’n boek te ignoreer wat belangrike besonderhede oor die toekoms onthul en die weg na vrede en die uiteindelike doel vir die mens se bestaan verduidelik? Waarom het soveel noodsaaklike inligting vir so baie mense vandag verskuil gebly?

Die antwoorde op hierdie belangrike vrae lees soos ’n roman gevul met gevaar, intrige en avontuur. Die inligting oor die Bybel wat geredelik beskikbaar is en desondanks nie na waarde geskat word nie, of geïgnoreer word, sal u verbaas. U sal geskok wees om te wete te kom hoe magsugtige godsdiensleiers die Skrif verdraai het om misleide en anti-bybelse leerstellings te steun.

Hoe meer u oor die Skrif te wete kom, hoe meer sal u besef dat u die Bybel kan glo, want dit is geïnspireer en bewaar deur ’n ware God wat vandag leef! Die Bybel is stewig gegrond op die feite van geskiedenis, nie op mite en fiksie nie. Die bewyse wat in hierdie boekie gegee word, sal dit verduidelik.

Die uitdaging van die Skrif

Baie mense neem vandag aan dat ten einde die Bybel te glo, jy die feite van die wetenskap en geskiedenis moet ignoreer en net op “blinde geloof” moet voortgaan. Party gelowiges skep behae in die ou gesegde “God het dit gesê. Ek glo dit. Klaar gepraat.” Dit vind egter nie inslag by die skeptisisme wat ons tyd oorheers nie. Ander mense wil ignoreer wat die Skrif duidelik sê en dink maniere uit om die Bybel “in harmonie” te bring met moderne voorkeure. Baie teoloë onderrig dat die Bybel net gesaghebbend is wanneer dit van breë geestelike beginsels praat en stel voor dat die besonderhede van wetenskap of geskiedenis in die Bybel bloot die onbetroubare toevoegings van menseskrywers is.

Hierdie begeerte om die Bybel te versoen met die moderne wêreld word weerspieël in ’n dokument van Oktober 2005 wat deur die Rooms-Katolieke biskoppe van Engeland, Skotland en Wallis uitgereik is. In “The Gift of Scripture” waarsku die biskoppe dat hoewel hulle die Bybel as eg beskou in skrifdele betreffende saligmaking, “ons nie algehele akkuraatheid van die Bybel kan verwag in ander sake nie ... Ons moet nie verwag om in die Skrif volle wetenskaplike of algehele geskiedkundige akkuraatheid te vind nie.” Nietemin bely die biskoppe respek vir die Skrif en sê vir hul kudde: “Ons het die Bybel herontdek as ’n kosbare skat, beide antiek en ewig nuut.” Hierdie dubbelhartige stellings weerspieël die gedagtegang van baie hedendaagse teoloë, wat sê dat hulle respek vir die Bybel het, maar die gesag daarvan ontken. Wanneer godsdiensleiers mense aanmoedig om in ’n boek te glo wat nie vertrou kan word betreffende baie onderwerpe nie, is dit nie verbasend dat kerkbywoning in talle lande dramaties afgeneem het in die afgelope dekades nie.

Die eenvoudige leringe van die Bybel staan egter in skrille kontras met wat baie godsdiensleiers vandag preek. Die apostel Paulus het nie Christene van die eerste eeu aangemoedig om net in Jesus “te glo” en bloot die leringe van die Bybel en Christendom te aanvaar “in geloof” nie. Pleks daarvan sê hy vir sy gehore: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21). Paulus het mense aangemoedig om die feite te ondersoek en te glo wat hulle as waar kon bewys! Sy vermaning weerspieël die skrifdele in die Ou Testament waar God die Israeliete van ouds uitdaag “toets My hierin ... of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie” (Maleagi 3:8-10, NV). God spoor Israel aan om Sy beloftes op die proef te stel en beloof dat Hy hulle sou seën deur te bewys dat Hy eg is en dat Sy beloftes eg is! Paulus het geweet dat ware godsdienstige oortuiging bewyse, versekering en sekerheid behels, nie “blinde geloof” nie. Hy skryf: “Die geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie” (Hebreërs 11:1). Volgens die Bybel moet geloof berus op vaste bewyse, nie net warm, wasige emosionele gevoelens in ’n mens se hart nie. U behoort nooit iets te glo ondanks die feite nie, en dit sluit die betroubaarheid en gesag van die Bybel in!

Die apostel Petrus benadruk die geloofwaardigheid van die Skrif en van die Christenboodskap wanneer hy skryf: “Want ons het nie kunstig verdigte fabels nagevolg toe ons julle die krag en koms van onse Here Jesus Christus bekend gemaak het nie, maar ons was aanskouers van sy majesteit” (2 Petrus 1:16). Petrus waarsku ook sy lesers “sodat julle die woorde kan onthou wat deur die heilige profete tevore gespreek is” want “aan die einde van die dae [sal] spotters ... kom” wat die Skrif bevraagteken en verkleineer “en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms?” (2 Petrus 3:1-9). Petrus betwis heersende wanopvattings oor die Skrif; hy het nie probeer om fundamentele skriftuurlike lering te verwater nie.

Die Bybel onthul duidelik dat die skrywers van die tyd van die Apostels voorstanders was van die Skrif en die leringe van die Christengeloof! Hulle het geweet dat hulle die waarheid onderrig! Hul benadering het die voorbeeld gevolg van hul leermeester, Jesus Christus. Die Nuwe Testament toon dat Christus se manier van preek sy gehore verbaas het. “En toe Jesus hierdie woorde geëindig het, was die skare verslae oor sy leer; want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie” (Mattheus 7:28-29).

Die inhoud van die Skrif kan bewys word deur die feite van geskiedenis en ontdekkings van hedendaagse wetenskap en argeologie. Dan voorsien die Bybel ook nog antwoorde op die belangrike lewensvrae. Nie net onthul honderde gedetailleerde Bybelprofesieë die toekomstige verloop van wêreldgebeure nie; dit verhef ook die Bybel bo alle ander godsdiensboeke! Die Bybel verskaf ’n dimensie van kennis wat bloot nie in enige ander bron beskikbaar is nie.

Met soveel beskikbare bewyse, is die eintlike vraag wat ons vandag in die gesig staar bloot of ons die Bybel kan glo al dan nie. Soos wat u deur hierdie boekie lees, sal u sien die antwoord is: “Ja, ons kan!”

Hoofstuk 2
Profesie: Die Bybel se unieke dimensie

Baie mense neem aan dat alle godsdienste ewe geloofwaardig is, dat godsdienstige mense almal dieselfde God aanbid en dat die heilige boeke van die onderskeie godsdienste van gelyke waarde is. Tog kan niks verder van die waarheid af wees nie! Geleerdes maak selfvoldaan daarop aanspraak dat niemand die toekoms met sekerheid kan voorspel nie en dat net dwase dit probeer doen! Hierdie aansprake ignoreer of sien die ongelooflike verskynsel van Bybelprofesie, wat die Bybel onderskei van enige ander boek wat nog ooit geskryf is, oor die hoof.

Die God van die Bybel maak daarop aanspraak dat Hy die toekoms kan voorspel en dit teweeg kan bring! Die Bybel bevat honderde profesieë wat waar geword het en deur die geskiedenis bevestig is. Die Bybel bevat ook talle profesieë wat vandag gestalte aanneem! Bybelprofesieë verduidelik die ware betekenisvolheid van wêreldgebeure wat vandag hoofnuus haal. Bybelprofesieë onthul ook wat voorlê vir groot nasies van ons hedendaagse wêreld – en vir die mensdom! Geen ander boek, godsdienstig of sekulêr, doen dit met soveel akkuraatheid en detail nie! Profesie is duidelik die Bybel se treffendste kenmerk!

Let op hierdie verbasende stelling deur dr. Gleason Archer, hoogaangeskrewe Ou-Testamentiese geleerde: “Die Bybel is soos geen ander boek in die hele wêreld nie. Dit is die enigste boek wat homself voorgee as die geskrewe openbaring van die een ware God, bedoel vir die saligmaking van die mens en wat sy goddelike gesag met baie onfeilbare bewyse staaf. Ander godsdiensdokumente, soos die Mohammedaanse Koran, mag dalk daarop aanspraak maak dat dit God se eie woord is, maar dit bevat geen sodanige selfbekragtigende bewyse soos die Bybel nie (byvoorbeeld, die verskynsel van vervulde profesie)” (A Survey of Old Testament Introduction, Archer, bl. 9).

Nog ’n gesaghebbende bron merk op: “Een van die sterkste bewyse dat die Bybel deur God geïnspireer is, is sy voorspellende profesie. Anders as enige ander boek, bied die Bybel ’n magdom spesifieke voorspellings – party honderde jare vooruit – wat letterlik vervul is of andersins dui op ’n besliste tyd in die toekoms wanneer dit vervul sal word” (Geisler, bl. 609). ’n Professor van die Ou Testament, Milton C. Fisher, erken ’n “duidelike onderskeid tussen profesie in Israel en die uiterlik soortgelyke verskynsel in omliggende kulture ... beide die soort boodskap sowel as die geskrifte van Israel se profete, is sonder weerga” (The Origin of the Bible, Bruce, bl. 105-106). Nog ’n geleerde het opgemerk dat “die Bybel ... die merkwaardigste volume is wat nog ooit aan die lig gekom het in vyfduisend jaar ... dit is die enigste volume wat nog ooit deur mense, of ’n groep mense, geskryf is waarin ’n groot aantal profesieë gevind word wat verband hou met individuele nasies, met Israel, met alle volke van die aarde, met sekere stede en met die komende Een wat die Messias sou wees. Die antieke wêreld het baie verskillende middele gehad om die toekoms vas te stel, wat as waarsêery bekend staan, maar nêrens in die ganse omvang van Griekse of Latynse literatuur ... kan ons enige ware spesifieke profesie oor ’n groot geskiedkundige gebeurtenis vind wat in die verre toekoms sou plaasvind nie, ook geen profesie van ’n Saligmaker wat uit die mensdom te voorskyn sou kom nie” (Evidence That Demands a Verdict, McDowell, bl. 22). Hierdie is absolute merkwaardige stellings wat duidelik die unieke aard van Bybelprofesie erken!

Die uitdaging van profesie

Om in staat te wees om die toekoms akkuraat en deurlopend te voorspel, is eenvoudig nie ’n menslike kenmerk nie. Selfs die beste strategiese beplanners erken dat gedetailleerde voorspelling van toekomsgebeure, veral geopolitiese gebeure, op die korttermyn moeilik, en op die langtermyn feitlik onmoontlik is, ten minste sover dit enige vlak van detail betref. Tog voorspel die Bybel herhaaldelik die aan bewind kom en val van prominente individue, nasies en ryke met verbasende akkuraatheid en in merkwaardige besonderhede! Bybelgeleerdes het vasgestel dat meer as ’n kwart van die Bybel, ongeveer 27 persent, aan profesie afgestaan is en dat die Bybel meer as 1 800 voorspellings bevat, waarvan baie heel spesifiek is. Honderde spesifieke profesieë wat eeue voor hul presiese vervulling gegee is, is onteenseglike bewyse dat ’n almagtige God leef en in beheer van toekomstige gebeure is!

Die Skrif maak dit duidelik wanneer die God van die Bybel skeptici uitdaag om die toekoms te voorspel en dit teweeg te bring! Deur die pen van die profeet Jesaja, bulder God: “Gee te kenne dinge wat later sal kom, sodat ons kan weet dat julle gode is ... Kyk, julle is niks, en julle werk is niks; ’n gruwel is hy wat julle uitkies” (Jesaja 41:23-24). En weer: “Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen” (Jesaja 46:9-10). Hierdie verse sê reguit dat geen mens die toekoms kan voorspel en dit teweegbring op die skaal wat die God van die Bybel sê Hy kan – en het en sal – nie!

Hierdie unieke vermoë om die toekoms akkuraat te voorspel laat die Bybel uitstaan bo enige ander letterkundige werk. Bybelgeleerdes erken dit: “Ander boeke, soos die Koran, die Boek van Mormone en dele van die [Hindoe] Veda maak aanspraak op goddelike inspirasie. Nie een van hierdie boeke bevat egter voorspelde profesie nie. Gevolglik is vervulde profesie ’n sterk aanduiding van die unieke, goddelike gesag van die Bybel” (The New Evidence That Demands a Verdict, McDowell, bl. 13). Bybelprofesie staan in opvallende kontras met menslike pogings om die toekoms te voorspel. ’n Studie van 25 top gerekende spiritistiese mediums het aan die lig gebring dat 92 persent van hul voorspellings heeltemal verkeerd was en dat lotgeval of algemene kennis van omstandighede die oorblywende 8 persent wat akkuraat was, kon verklaar (Geisler, bl. 615). Enigeen wat vertroud is met die sogenaamde profesieë van Nostradamus (Michael de Nostradame), die 16de eeuse Franse spiritistiese medium wat hom besig gehou het met astrologie, alchemie en ander okkultiese bedrywighede, is bewus daarvan dat sy vae en newelagtige verse eenvoudig nie vergelyk kan word met Bybelprofesieë nie. Spesifieke profesieë wat gegee is eeue voordat hulle akkuraat en konsekwent vervul is, vorm ’n deel van die verstommendste bewyse dat die Bybel die geïnspireerde woord van God is!

Honderde profesieë oor Jesus Christus!

Party van die Bybel se treffendste voorbeelde van vervulde profesieë, is dié wat spesifieke besonderhede van Jesus Christus se lewe, dood en opstanding akkuraat voorspel het eeue voordat Hy gebore is. Meer as 200 profesieë wat eeue voor Sy geboorte geskryf is, voorspel spesifieke gebeure in Sy lewe wat tot die letter vervul is. Hy sou in Bethlehem (Miga 5:2; Mattheus 2:3-8) uit ’n maagd gebore word en Emmanuel genoem word (Jesaja 7:14; Mattheus 1:23). Hy sou ’n afstammeling van Dawid wees (Mattheus 1:1; 22:42-45). Hy sou in Egipte swerf (Hosea 11:1; Mattheus 2:13-15). Sy geboorte sou aanleiding gee tot ’n slagting van kinders (Jeremia 31:15; Mattheus 2:16-18). Hy sou in Galilea woon (Jesaja 9:1-2; Mattheus 2:19-23). Hy sou Jerusalem op ’n donkie binnegaan (Sagaria 9:9; Mattheus 21:1-5). Hy sou saam met oortreders sterf en in die graf van ’n ryk man begrawe word (Jesaja 53:9, 12). Hy sou opgewek word na drie dae (Mattheus 12:40; Jona 1:17).

Die merkwaardige vervulling van honderde spesifieke voorspellings wat eeue tevore in die Hebreeuse Skrif opgeteken is, toon bo enige redelike twyfel dat Jesus wel die geprofeteerde Messias van die Bybel en die Seun van God was. Neem kennis dat “Mohammedanisme nie op enige profesieë kan dui van die koms van Mohammed wat honderde jare voor sy geboorte uitgespreek is nie. Nog minder kan die stigters van enige kultus ... enige antieke teks korrek identifiseer wat hul verskyning spesifiek voorspel het nie” (McDowell, bl. 22). Party Moslemgeleerdes haal Ou-Testamentiese verse aan wat volgens hulle Mohammed profeteer (Deuteronomium 18:15-18), hoewel dit eintlik Jesus Christus was wat daardie profesieë vervul het (sien Mattheus 21:11; Lukas 1:76; 24:19; Handelinge 3:18-22) meer as 600 jaar voordat Mohammed gebore is! Die Bybel se profesieë oor Jesus Christus is uniek onder godsdiensgeskrifte.

Stede en konings

Die Bybel bevat meer as 1 500 profesieë wat in merkwaardige besonderhede die toekoms van prominente stede, konings en koninkryke voorspel. Vervulde profesieë oor die antieke Fenisiese stad, Tirus, is ’n sombere getuienis van die mag en akkuraatheid van Bybelprofesie. Toe Esegiël sy profesieë aangeteken het (rondom 585 v.C.), was Tirus een van die groot stede van die antieke wêreld. Dit was geleë op ’n eiland aan die kern van ’n seehandelsnetwerk wat handel in die Middellandse See beheer het. Tirus was ’n welaf handelsplek van goedere, omring deur 45 meter hoë mure wat as ondeurdringbaar beskou is. Die Bybel berig dat die inwoners van Tirus gejuig het toe Nebukadneser en sy Babiloniese leër Jerusalem oorwin het; hulle het verwag dat hulle toegang sou verkry tot waardevolle binnelandse handelsroetes wat deur Jerusalem loop. In antwoord het God ’n reeks spesifieke profesieë oor Tirus se toekomstige vernietiging gelewer. Esegiël skryf: “Omdat Tirus oor Jerusalem geroep het: Ha, ha! die poort van die volke is gebreek ... daarom, so sê die Here HERE: Kyk, Ek het dit teen jou, o Tirus! en Ek laat baie nasies teen jou optrek soos die see sy golwe laat optrek. Húlle sal die mure van Tirus verwoes en sy torings afbreek; ja, Ek sal sy puin van hom af wegvee en hom ’n kaal rots maak. Hy sal binne-in die see ’n droogmaakplek van nette wees ... hulle sal jou klippe en jou houte en jou puin in die water slinger ... en nooit herbou word nie; want Ek, die HERE, het dit gesê, spreek die Here HERE” (Esegiël 26:2-14).

Ten einde die mag en omvang van Esegiël se profesieë te waardeer, bid jou aan iemand probeer voorspel wat oor die volgende 2 500 jaar met New York of Londen gaan gebeur! Tog teken die geskiedenis aan hoe Esegiël se voorspellings waar geword het. In 585 v.C. het Nebukadneser met ’n 13 jaar lange beleg teen Tirus begin. Dit was die eerste van vele nasies wat soos golwe teen Tirus sou kom. Rondom 530 v.C. het die Perse beheer van Tirus verkry. In 332 v.C. het Alexander die vastelandgedeelte van Tirus vernietig en die puin in die see gegooi ten einde ’n laagwaterbrug te bou om die eilandstad aan te val. Toe Alexander die eilandfort van Tirus oorwin het, het hy die mure omgestoot en die stad in puin gelê. Soos Fenisiese deskundige Glenn Markoe skryf: “Alexander se oorwinning ... het die begin van die einde beteken vir Tirus en Fenisië ... Tirus sou kommersieel spoedig herstel ... tog sou dit nooit ten volle die plek van trots herwin wat dit tevore geniet het nie” (Phoenicians, Markoe, bl. 61). Later het Grieke en Romeine dít wat van die stad oorgebly het, oorheers. In 638 n.C. het Moslemleërs Tirus beleër. Kruisvaarders het die stad in 1124 herwin en dit gebruik as loodsplek vir militêre operasies. In 1291 het die Moslems Tirus weer herwin en dit totaal vernietig, “waarna sy nooit weer enige aansien herwin het nie” (Geisler, bl. 870). Vandag is daar ’n klein vissersdorpie naby die ruïnes van die eens trotse stad Tirus, maar die stad se mag en praal van ouds en sy uitgebreide handelsnetwerk, is verlore. Die ligging van een van die rykste stede in die antieke wêreld, het “’n droogmaakplek van nette” geword, net soos die Bybel voorspel het.

Die Bybel bevat profesieë oor ander stede naby Tirus wat ’n bloeddorstige geskiedenis, maar ’n ander toekoms sou hê. Sidon, ’n afgodsaanbiddende Fenisiese stad sowat 32 kilometer noord van Tirus, was welbekend vir kunstige metaalwerk en fyn linne. Bybelprofesieë onthul dat Sidon ’n bloedige geskiedenis sou hê en onder pessiektes sou ly, maar “hulle sal weet dat Ek die HERE is” (Esegiël 28:21-23). Nêrens profeteer God algehele vernietiging of vergetelheid vir Sidon nie. Die geskiedenis teken aan dat die Assiriërs Sidon in 678 v.C. vernietig het, maar die stad is herbou en het oorgegee aan Nebukadnesar nadat dit gely het onder ’n vernietigende pessiekte. Die Perse het die stad in ongeveer 351 v.C. afgebrand. Sirië en Egipte het oor Sidon baklei en dit het onder Romeinse heerskappy ’n vry stad geword. Die Bybel toon dat Jesus Sidon kon besoek het (Mattheus 15:21) en dat Sidoniërs Jesus die evangelie hoor verkondig het (Markus 3:7-8). Die apostel Paulus het Sidon ook besoek (Handelinge 27:3). Vandag is hedendaagse Sidon bekend vir sy tuine en lemoenboorde. Bybelprofesie het vir Tirus se susterstad, Sidon, ’n heel verskillende toekoms voorspel en dit het so plaasgevind, net soos die Skrif voorspel het!

Rondom 700 v.C. het die profeet Jesaja verskeie spesifieke profesieë aangeteken oor die val van die Babiloniese Ryk en die vernietiging van die stad Babilon (sien Jesaja 13; 14). Ten tye van Jesaja se profesie, was Babilon onderdanig aan die Assiriërs en sou dit vir die volgende 100 jaar nie ’n groot moondheid word nie. Tog het Jesaja die toekomstige glorie voorsien wat Babilon sou bereik onder Nebukadneser met sy Hangende Tuine, manjifieke paleise, luukse leefwyses, massiewe mure en militêre oorwinnings. Jesaja het ook die Mede se vernietiging van Babilon en die stad se uiteindelike verlatenheid voorsien, ’n paar honderd jaar vooruit! Jesaja se profesieë voorspel: “Godspraak oor Babel ... Kyk, Ek verwek die Meders teen hulle ... So sal dan Babel, die sieraad van die koninkryke, die trotse pronkstuk van die Chaldeërs, wees soos toe God Sodom en Gomorra omgekeer het. Mense sal daar in ewigheid nie woon nie, en dit sal van geslag tot geslag nie bewoon word nie; en die Arabier sal daar geen tent opslaan nie, ... Maar daar sal boskatte lê, ... en sy dae sal nie verskuif word nie” (Jesaja 13:1-22). Die geskiedenis teken aan dat hierdie profesieë vervul is: “In 539 [v.C.] het Babilon geval onder die Mede en Perse ... Xerxes vernietig die stad in 478 en dit is uiteindelik verlate in die 4de eeu v.C.” (Eerdmans’ Handbook of the Bible, bl. 382).

Die uitverkore volk

Party van die Bybel se verstommendste en verbasendste profesieë handel oor die afstammelinge van Abraham, Isak en Jakob – die twaalf stamme van Israel, wat deur God gekies is om vir ’n spesiale doel gebruik te word (Eksodus 19:1-6). God het vir Abram (Abraham) beloof dat in ruil vir gehoorsaamheid, sy afstammelinge ’n groot nasie sou word en die wêreld tot seën sou strek (Genesis 12:1-3). Latere profesieë noem dat Jakob se afstammelinge deur Manasse en Efraim uiteindelik ’n “groot” nasie en ’n “groot menigte [gemenebes]” sou word, wat, tesame met die ander afstammelinge van Jakob in Bybelprofesie die Israeliete genoem sou word (Genesis 48:14-22). In die Bybel is die terme Israel en Israeliet oor die algemeen van toepassing op die afstammelinge van al twaalf Jakob se seuns. Die Jode is die afstammelinge van Juda, wat net een van Jakob se seuns was. In ’n meer bepaalde sin is Israel van toepassing op die afstammelinge van die tien stamme wat die nasie van Israel (met sy hoofstad in Samaria) uitmaak, wat weggebreek het van die nasie van Juda (met sy hoofstad in Jerusalem) toe die koninkryk van Salomo verdeel is (sien 1 Konings 12). Hierdie Bybelse onderskeid tussen die Jode en die ander Israelitiese nasies is ’n belangrike sleutel tot begrip van Bybelprofesie.

Genesis 49 bevat ’n merkwaardige reeks profesieë wat voorspel hoe die Israeliete – afstammelinge van Jakob se twaalf seuns – herken sal word “in die laaste dae”. Reuben sal magtig word en grootsheidswaan ervaar, maar sal ’n gebrek aan nasionale stabiliteit hê; dink ’n bietjie hoe hierdie beskrywing Frankryk sou kon beskryf. Juda (die Jode) sal die Messias voortbring en kennis behou van die Wet van God. Zebulon sal by die see woon en ’n handelsvolk word; ’n beskrywing wat herinner aan hedendaagse Holland. Dan sal sy merk laat, soos hulle getrek het van sy basis in die Midde-Ooste; ’n beskrywing wat herinner aan Denemarke en Ierland. Josef (Efraim en Manasse) sal ’n koloniserende volk word wat in die beste plekke van die aarde – en “apart van sy broers” – woon, ’n beskrywing wat heeltemal geskik is om die nasies van die voormalige Britse gemenebes en Amerika te beskryf (sien Genesis 49:22-26). Hierdie merkwaardige profesieë is nie net deur die Jode – aan wie die wêreld die naam “Israel” gee – vervul nie, maar ook deur die elf ander nasies wat deel vorm van die “hele huis” van Israel. Hierdie profesieë onthul sleutels tot die identiteit en ligging van die hedendaagse afstammelinge van Jakob se twaalf seuns – die kinders van Israel. Vir ’n meer gedetailleerde bespreking van hierdie onderwerp, versoek asseblief ons gratis boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?

Begrip van die ware identiteit van die Israelitiese nasies is nie net ’n sleutel vir begrip van Bybelprofesie nie, hierdie kennis is ook noodsaaklik vir God se Kerk, wat die opdrag moet vervul wat Jesus gegee het. Jesus het Sy dissipels opdrag gegee: “Gaan na die verlore skape van die huis van Israel” – om te preek oor die komende Koninkryk van God en om die Israeliete te waarsku teen verskriklike beproewings wat hulle in die laaste dae in die gesig sal moet staar weens hul ongehoorsaamheid aan God se Wette (sien Jeremia 30:7-24). Jesus se dissipels het hierdie opdrag ernstig opgeneem. In hul tyd was die stamme van Israel nie “verlore” nie. Die apostel Jakobus rig sy sendbrief “aan die twaalf stamme wat in die verstrooiing is” (Jakobus 1:1). Josefus onthul dat in die tyd van die Apostels “die tien stamme anderkant die Eufraatrivier ... en ... ’n reuse menigte” was (Antiquities of the Jews, Boek XI, 5, 2). Dit verduidelik waarom verskeie van die Apostels, insluitend Petrus en Andreas, in daardie rigting gereis het.

Geskiedkundige bronne toon ook aan dat Petrus, Paulus en ander na Wes-Europa en Brittanje gereis het om die evangelie te verkondig. Die duidelike implikasie van hierdie leidende Apostels se reise na die Weste, is dat Israelitiese volke daar was! Ondersoek die geskiedenis van antieke Ierland en kyk watter Israelitiese stamnaam in die anale verskyn. Wanneer u Genesis 49 se profesieë bestudeer oor die karaktereienskappe en toekomsgeskiedenis van Jakob se afstammelinge, sal u opmerk watter ooreenkoms daar is met volke wat tans woon in of geëmigreer het vanuit noordwes Europa! Wanneer u die identiteite verstaan van hedendaagse Israelitiese nasies, kan u begin om Bybelprofesie te verstaan van wat voorlê vir hierdie nasies – en vir ander nasies wat in Bybelprofesie genoem word!

Die toekoms van nasies

Bybelprofesieë handel nie slegs oor antieke geskiedenis nie. Die boek Daniël bevat gedetailleerde, tog veelomvattende profesieë wat ’n omskrywing van geskiedenis gee van die tyd van Nebukadneser se Babilon regdeur tot by die Wederkoms van Jesus Christus aan die einde van die tyd. Hedendaagse kritici, wat poog om die profetiese en bonatuurlike elemente in die boek Daniël ongeloofwaardig te maak, het idees laat herleef wat deur Porfirius, ’n heidense filosoof van die derde eeu in Tirus, verkondig is. Porfirius (ook bekend as Porfirie) het beweer dat die boek Daniël ’n vervalste werk was wat in die tweede eeu v.C. te voorskyn gebring is, nadat die gebeure wat daarin genoem word reeds plaasgevind het! Hierdie teorie strook egter nie met die feite nie. Die boek Daniël gee presiese datums, plekke en name wat geverifieer kan word. Die profeet Esegiël was ’n tydgenoot van Daniël en Esegiël verwys met die grootste respek na Daniël (Esegiël 14:20). Die boek Daniël word algemeen as geïnspireer aanvaar en is in die Hebreeuse Bybel ingesluit in die tweede eeu v.C. Jesus erken Daniël as die skrywer van die boek (Mattheus 24:15). Een gerespekteerde bron merk op: “In NT-profesie word daar meer na Daniël verwys as na enige ander boek in die OT. Voorts bevat dit meer vervulde profesieë as enige ander boek in die Bybel” (sien The Expositor’s Bible Commentary, vol. 7, bl. 3).

Daniël teken ’n droom aan oor ’n reusebeeld (Daniël 2). Die vier dele van die beeld – kop, bors, lende en bobene, bene en voete – beeld die vier ryke uit wat in die toekoms aan bewind sou kom om die wêreld om die Middellandse See te oorheers. Bybelgeleerdes herken nou hierdie ryke as die Babiloniese Ryk, die Medo-Persiese Ryk, die Grieks-Macedoniese Ryk onder Alexander die Grote en die Romeinse Ryk. Daniël onthul ook dat Jesus Christus die laaste oorblyfsel van die Romeinse Ryk op sy voete en tone (gemaak van yster en klei) sal tref wanneer Hy terugkeer om Sy Koninkryk op hierdie aarde te vestig aan die einde van die tyd (Daniël 2:41-45). Daniël beskryf dieselfde vier ryke as vier diere en gee bykomende besonderhede oor elk. Die derde ryk (Grieks-Macedoniese onder Alexander) is uitgebeeld met vier koppe (Daniël 7:6). Die geskiedenis teken aan dat ná Alexander se dood, sy ryk in vier dele verdeel het, ongeveer 300 jaar nadat Daniël die profesie aangeteken het. Daniël beskryf die vierde dier (die Romeinse Ryk) met tien horings wat “tien konings” verteenwoordig wat “uit daardie koninkryk sal ... opstaan” (Daniël 7:7, 24). Die geskiedenis teken die talle pogings aan wat deur die eeue aangewend is om die Romeinse Ryk te laat voortleef of te laat herleef. Al hierdie pogings het in Europa plaasgevind, insluitend herlewings onder Karel die Grote, Karel V van die Hapsburgs, Napoleon en Mussolini. Volgens Bybelprofesie, sal die laaste herlewing gelei word deur ’n persoon wat “die dier” genoem word, gesteun deur ’n godsdiensleier, naamlik die “vals profeet” (sien Openbaring 13 en 17). Vir meer inligting oor hierdie eindtydse profetiese ontwikkelinge, versoek asseblief ons gratis boekie Die Dier van Openbaring.

Daniël noem ook ’n “horinkie” wat die eerste drie pogings om die Romeinse Ryk voort te sit, sou verloën, maar wat intiem betrokke sal wees by daaropvolgende herlewings van die Romeinse Ryk in sy onderskeie vorme. Van hierdie figuur word geprofeteer dat hy “’n mond gehad het wat groot dinge gespreek het ... teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel [het]; en hy sal probeer om tye en wet te verander” (Daniël 7:8, 20, 24-25). Hierdie “horinkie” voorspel daardie godsdiensleiers wat daarop aanspraak gemaak het om die “vikaris van Christus” te wees (wat beteken “in plek van Christus”), wat Christene vermoor het wat in die Bybel geglo het deur ’n Inkwisisie en wat die Heilige Dae wat in die Bybel beveel word, met heidense vakansiedae vervang het. Ander profesieë identifiseer hierdie “horinkie” as ’n prominente godsdienstige figuur wie se eindtydse eweknie ’n belangrike rol sou speel in gebeure wat sal lei tot Jesus Christus se Wederkoms (2 Thessalonicense 2; Openbaring 13; 17).

Die tien tone van Daniël se beeld (Daniël 2:40-43), stem ooreen met tien konings wat hul mag en gesag aan “die dier” sal gee, ’n kragtige en bedrieglike politieke leier wat in Europa op die toneel sal verskyn net voor Jesus Christus se Wederkoms aan die einde van die tyd (Openbaring 17:1-13). Hierdie politieke leier sal steun ontvang van en beïnvloed word deur ’n kragtige godsdiensleier – die laaste manifestasie van die “horinkie”. Soos sy voorgangers sal hierdie “horinkie” ’n sleutelrol speel in wêreldpolitiek (Openbaring 13; 17). Die geskiedenis teken aan dat Rooms-Katolieke pouse die keisers van die Heilige Romeinse Ryk gekroon het en dat pouse en biskoppe lank reeds Europese politiek beïnvloed het. Die yster en klei van die tien tone van Daniël se beeld voorspel die pogings deur kibbelende Europese nasies om ’n unie te vorm deur hul soewereiniteit aan ’n sentrale regering oor te gee (soortgelyk aan wat die EU in Brussel gedoen het). Huidige pogings om ’n verenigde Europa te skep wat gebaseer is op die ou Romeinse Ryk is gesteun deur verskeie pouse en die Roomse Kerk. Daniël en ander boeke van die Bybel toon dat die laaste vervulling van hierdie merkwaardige profesieë sal plaasvind in die jare wat nou nét voorlê!

Dit is ironies dat terwyl hierdie antieke en gedetailleerde profesieë vandag gestalte aanneem, leiers van die Roomse Kerk daarop aandring dat die simboliese taal wat in Daniël en Openbaring gebruik word, “nie letterlik opgeneem moet word nie. Ons behoort nie te verwag om in hierdie boek [Openbaring] besonderhede te vind oor die einde van die wêreld nie” (The Times, 5 Oktober 2005) – tog is dit presies waarop hierdie profetiese boeke aanspraak maak om te onthul! Vir die mense wat werklik wil weet waarop wêreldgebeure afstuur, is die uitdaging vandag: Wie glo u, teoloë of die Bybel? Dit is waarom dit belangrik is om vas te stel of die Bybel werklik die woord van God is al dan nie – of dit feit of fiksie is!

Die einde van die wêreld

Ongelukkig maak hedendaagse skeptici, en selfs baie mense wat daarop aanspraak maak dat hulle in Jesus Christus glo, idees oor die einde van die tyd as pure fantasie en verwilderde oordeelsdag praatjies af. Tog neem die Bybel ’n lynperspektief van geskiedenis en beeld al die gebeure uit wat op ’n hoogtepunt afstuur. Die profesieë in Daniël neem hierdie perspektief met die hoogtepunt as Jesus Christus se Wederkoms om die Koninkryk van God op hierdie aarde te vestig. Jesus het vryelik en in besonderhede gepraat oor spesifieke gebeure wat die einde van die tyd sou aandui. Toe Jesus se dissipels vir Hom vra: “Wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?”, het Hy nie doekies omgedraai of die vraag probeer vermy, soos baie teoloë deesdae doen nie (Mattheus 24:3). Hy het vir Sy dissipels gesê om op die uitkyk te wees vir ’n tyd wanneer hulle wydverspreide godsdienstige verwarring en misleiding asook toenemend gereelde berigte van geweld, oorloë, etniese konflik, hongersnode, siekte-epidemies en natuurrampe op wêreldskaal sou sien (Mattheus 24:4-7).

Dit is die einste koerantopskrifte wat ons nuus vandag oorheers! Tog sê Jesus dat dit net die “begin van die smarte” is (Mattheus 24:8). Dan onthul Christus verder dat daar ’n wêreldwye vervolging van Christene gaan wees, maar dat die ware evangelie van die komende Koninkryk van God nietemin “verkondig [sal] word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheus 24:14). Jesus sê dat al hierdie gebeure wat afstuur op die klimaks van hierdie tyd sal plaasvind op ’n tydstip in die geskiedenis wanneer die einste bestaan van lewe op hierdie planeet bedreig sal word. Let op Jesus se beskrywing dat “as daardie dae nie verkort was nie [deur Jesus se Wederkoms], sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Mattheus 24:22). Jesus vermaan Sy dissipels om te waak – om waaksaam te bly – sodat hulle sou raaksien wanneer die beskawings van hierdie wêreld hul laaste uur betree (Mattheus 24:36-44; 25:1-13; Markus 13:32-37; Lukas 21:34-38).

In die 1950’s het wêreldleiers vir die eerste keer besef dat die mens met die ontwikkeling van kernwapens, die vermoë geskep het om alle lewe van die aangesig van die aarde te vernietig. Dit was nooit moontlik tot die laaste helfte van die 20ste eeu nie! Is dit blote toeval dat ons tussen 1950 en nou die wêreldwye verspreiding van MIV/VIGS, die terugkeer van middel-bestande tuberkulose en die bedreiging van internasionale pandemies van voëlgriep en ander aansteeklike siektes gesien het? Is dit blote toeval dat ons vandag bemoeid is met die dreigende gevaar van aardverwarming en die somber gevolge van wêreldklimaatsveranderinge? Is dit blote toeval dat dit alles gebeur te midde van stygende vrese oor internasionale terrorisme en groeiende konflik in die Midde-Ooste – wat alles lank gelede in die Bybel voorspel is? Is dit alles blote toeval, of sien ons die naderende vervulling van antieke Bybelprofesieë wat in detail die einde van hierdie tyd beskryf? Hierdie verbasend akkurate profesieë onderskei die Bybel van enige ander boek op hierdie planeet en dit dien as bewys dat die Bybel deur die “vinger van God” geskryf is.

Hoofstuk 3
Het God die Bybel geïnspireer?

Een van die Bybel se treffendste kenmerke is dat dit eenvoudig daarop aanspraak maak om die geïnspireerde woord van ’n almagtige God te wees. Ons sien dit in die woorde van die apostel Paulus, ’n hoogs geleerde Hebreër, wat skryf: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer” (2 Timotheus 3:16, NV). Die apostel Petrus skryf dat die inhoud van die Skrif nie “ooit deur die wil van ’n mens voortgebring [is] nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Petrus 1:21). Vir vroeë Kerkleiers “was inspirasie nie ’n ekstatiese oorweldiging van die skrywer se bewustheid nie, meer eerder ’n hoë vlak van verligting en kalm bewustheid van God se openbaring ... wat strek tot elke woord van die Skrif” (The Origin of the Bible, Bruce, et al., bl. 38). Die Skrif dui aan, en die vroeë Kerk het erken, dat God die Bybelskrywers geïnspireer het om hul eie verstand en hul eie styl te gebruik om te skryf wat God wou hê hulle moes skryf.

Die Bybel beskryf die proses van goddelike inspirasie in die manier waarop God met Moses gewerk het: “Toe het God al hierdie woorde gespreek en gesê ... En Moses het al die woorde van die HERE opgeskrywe ... En toe Moses die woorde van hierdie wet klaar in ’n boek geskryf het ... het Moses aan die Leviete ... bevel gegee en gesê: Neem hierdie wetboek en sit dit neer aan die kant van die verbondsark” (Eksodus 20:1; 24:4; Deuteronomium 31:24-26). Eeue later het Esra en Nehemia aan die volk van Israel gelees uit “die boek van die wet van Moses”, wat ook “die wetboek van God” genoem is (Nehemia 8:1, 19). Jesus het erkenning gegee aan die goddelike inspirasie van die Bybel toe Hy sê, “... het julle nie gelees in die boek van Moses ... hoe God vir hom gesê het” (Markus 12:26). Die profeet Jeremia teken ’n soortgelyke ervaring aan: “Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het. So spreek die HERE, die God van Israel: Skryf vir jou in ’n boek al die woorde wat Ek met jou gespreek het” (Jeremia 30:1-2). Die frase “So spreek die HERE” word meer as 350 keer in die Ou Testament gebruik, wat duidelik impliseer dat die woorde van die Skrif van God afkomstig is.

Soos ons sal sien, kan ander godsdiensboeke dalk, soos die Bybel, aanspraak maak op goddelike inspirasie, tog skiet hulle tekort aan die spesifieke kenmerke wat die Bybel se egtheid bevestig.

Nie net maak die Bybel aanspraak daarop om goddelik geïnspireer te wees nie, dit maak ook aanspraak daarop om die primêre bron van waarheid te wees, onthul deur die een ware God. Die apostel Johannes skryf: “U woord is die waarheid” (Johannes 17:17). Dawid skryf: “U wet is waarheid ... al u gebooie is waarheid ... Die hele inhoud van u woord is waarheid” (Psalm 119:142, 151, 160). Die profeet Jesaja bevestig: “Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ’n volk wat geen dageraad het nie” (Jesaja 8:20). Jesaja het bedoel dat indien stellings en idees nie met die Skrif ooreenstem nie, ons dit as vals kan erken. Die apostel Paulus noem die Skrif ook “die woord van die waarheid” (2 Timotheus 2:15).

Hierdie stellings staan sterk in teenstelling met die onsekere woorde wat deur Pontius Pilatus gespreek is: “Wat is waarheid?” (Johannes 18:38). Vandag deel baie skeptici en sinici Pilatus se vraag. Tog maak die Bybel onbeskroomd daarop aanspraak om te toon dat sy skrywers duidelik geglo het dat die woorde wat hulle aangeteken het beslis waar en geïnspireer was deur ’n wyse en almagtige God (sien Genesis 17:1; Psalm 86:10; Judas 1:25). Wat is waarheid? U moet dit vir uself bewys!

Die Bybel benadruk herhaaldelik: “Die HERE is waarlik God” (Jeremia 10:10; sien ook Johannes 17:3; 1 Thessalonicense 1:9; 1 Johannes 5:20). Die Skrif teken aan dat die antieke Egiptiese priesters gesien het dat hul eie gode magteloos was toe hulle die wonderwerke wat deur Moses gedoen is gesien het en aangekondig: “Dit is die vinger van God!” (Eksodus 8:16-19). Daniël berig dat Nebukadneser, heidense koning van Babilonië, tot dieselfde gevolgtrekking gekom het nadat hy die God van die Bybel teëgekom het: “Waarlik, julle God is die God van die gode en die Here van die konings en die Openbaarder van geheimenisse” (Daniël 2:47). Die Bybel teken aan dat die apostel Paulus, ontsteld omdat hy gesien het dat Athene “vol afgodsbeelde was”, bygelowige Griekse filosowe van die ware God geleer het (Handelinge 17:16-34). Vir meer inligting oor die ware God van die Bybel, versoek ons gratis boekie, Die ware God: Bewyse en beloftes.

Die Bybel se duidelike en ondubbelsinnige boodskap is dat die Skrif die geïnspireerde woord van ’n ware God is, en die fundamentele bron van waarheid! Dit is moeilik vir baie mense vandag om te glo, want ons leef in ’n tyd van skeptisisme waar selfs sogenaamde Bybelgeleerdes twyfel dat die Bybel werklik God se Woord is. Die Bybel se onbeskroomde aanspraak dat dit die geïnspireerde Woord van ’n almagtige God is en in sy geheel die waarheid is, kan in die rekords van geskiedenis en die ontdekkings van argeologie geverifieer word. Die bewyse is beskikbaar vir enigeen wat bereid is om dit te ondersoek!

Kritici daag die Bybel uit

Die Bybel maak onbeskroomd daarop aanspraak dat ... “die woord van onse God hou stand in ewigheid” en “die woord van die Here bly tot in ewigheid” (Jesaja 40:8; 1 Petrus 1:25). Koning Dawid skryf: “Sy trou duur van geslag tot geslag (Psalm 100:5, NV). Tog, regdeur die eeue, het teenstanders en kritici probeer om die Skrif te ondermyn, te verkleineer, uit te daag en te vernietig, en selfs om die God van die Bybel te bespot. Die Bybel waarsku: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie” (Galasiërs 6:7). Die Ou Testament teken aan dat daar gedurende die Assiriese inval van Juda (rondom 700 v.C.),’n heidense Assiriese koning, Sanherib, die God van Israel voor koning Hiskia en die mense van Jerusalem bespot het (2 Kronieke 32:9-19). Kort daarna “stuur die HERE ’n engel, en dié het al die dapper helde ... van Assirië verdelg, sodat hy [Sanherib] met ’n beskaamde aangesig na sy land teruggegaan het; en toe hy in die huis van sy god kom, het die wat uit sy eie liggaam voortgekom het, hom daar met die swaard neergeslaan” (2 Kronieke 32:21-22).

Geskiedkundige rekords bevestig dat Sanherib Jerusalem nie oorwin het nie en dat sy eie seuns hom doodgemaak het. Sekulêre geskiedenis verduidelik nie waarom dit gebeur het nie. Die Bybel onthul egter dat vreeslike gevolge kan voortspruit wanneer twyfelaars en kritici die ware God bespot! Behalwe vir die eksodus uit Egipte, is hierdie een van God se mees dramatiese ingrypings in Israel se geskiedenis en die feite van sekulêre geskiedenis steun die Bybelse rekord. Terloops, die Griekse geskiedskrywer, Herodotus, vertel dat Sanherib ook ’n pynlike terugslag, met bonatuurlike botone, beleef het toe sy leër Egipte binnegeval en ’n swerm veldmuise hul wapens opgevreet het, wat hom gedwing het om met groot verliese uit die veld naby Pelusium te vlug (The Histories, 2:141). Hierdie waarheid van die Skrif – dat God nie bespot sal word nie – staan bevestig.

In die eeu na die Apostels bevestig geskiedenisbronne dat Celsus, ’n welsprekende heidense filosoof, ’n groot opskudding veroorsaak het toe hy ’n hewige aanval teen die Bybel en Christendom geloods het. Celsus het geskryf dat Bybelse leringe “buitensporig” was, dat die evangelievertellings ’n “misleiding” was en dat enigiemand wat in een God glo, “bedrieg” was (Is the Bible true?, Sheler, bl. 9). Die Bybel het oorleef en Christendom het oor die wêreld heen versprei, maar min mense vandag het ooit van Celsus gehoor! Hedendaagse Bybelkritici wat Celsus se idees laat herleef het, behoort te onthou dat sy aanval op die Skrif beantwoord is deur ’n vroeë godsdiensgeleerde met die naam Origen, wie se agt-volume Against Celsus ’n punt-vir-punt repliek gelewer het ter verdediging van die Bybel.

Aan die begin van die vierde eeu het die Romeinse keiser Diokletianus gepoog om die Christengodsdiens uit te wis. Hy het ’n verskriklike vervolging van Christene van stapel gestuur en beveel dat alle Bybels verbrand word. Slegs enkele jare daarna het ’n nuwe keiser (Konstantyn) egter die vervaardiging van 50 Bybels beveel! Gedurende die Middeleeue (rondom 500-1500 n.C.) het geleerdes, onder die invloed van heidense filosofie, onderrig dat skriftuurlike vertellings blote beeldspraak was en nie letterlik opgeneem behoort te word nie. Hul allegoriese benadering het aangeneem dat Skrifgedeeltes ’n dieper betekenis verberg het, wat die letterlike betekenis onbelangrik gemaak het. Die Bybel het oorleef, maar hierdie denkwyse oorleef ook vandag in baie kweekskole. Die allegoriese benadering is ’n baie subtiele manier om die Bybel se duidelike boodskap te ondermyn, omdat dit ignoreer wat die Bybel eintlik sê.

Sekulêre geleerdes het in die 18de eeu betower geraak deur die oënskynlike mag van menslike redenasie en die nuwe wetenskaplike ontdekkings. Deur menslike redenasie as die fundamentele gesag te ag en gewapen met vooroordeel teenoor die bonatuurlike, het hierdie kritici begin om spekulatiewe teorieë oor die Bybel se veronderstelde oorsprong, klaarblyklike teenstrydighede en vermeende foute te opper. Die aannames en spekulasies van hierdie kritici het egter nie die toets van tyd deurstaan nie. Trouens, party van hul onbeskroomde uitlatings kom nou uiters voorbarig en naïef voor. Naby die einde van die 18de eeu het die Franse filosoof, Voltaire, voorspel dat die Christendom binne ’n eeu uitgewis sou wees. Tog, 50 jaar na sy dood, het die Geneefse Bybelgenootskap stapels Bybels in Voltaire se huis gedruk, met sy eie drukmasjien (The New Evidence That Demands a Verdict, McDowell, bl. 10). Die geskiedkundige feite en die argeologiese ontdekkings maak dit duidelik: Sekulêre kritici se ongegronde uitlatings en teorieë is intellektuele lugkastele wat op kafpraatjies gegrond is.

Bewyse uit argeologie

Gedurende die afgelope 200 jaar het die opgang van Bybelkritisisme baie oortuigende bewerings deur geleerdes wat die inspirasie van die Skrif in twyfel getrek het, voortgebring. Skeptici het aanvanklik daarop aanspraak gemaak dat aangesien daar geen bewyse buiten die Bybel was van verskeie mense en plekke wat in die Bybel genoem word nie moes die Bybelskrywers dit uitgedink het. Hierdie benadering het teelaarde gevind in “progressiewe” kweekskole en sekulêre akademiese kringe. Die pers en media het hierdie idees vir die samelewing opgedis en sodoende verdere twyfel oor die Bybel se geloofwaardigheid laat ontstaan. Hierdie twyfel en skeptisisme kom vandag steeds voor, selfs al bekragtig voortgesette argeologiese ontdekkings steeds die Bybel se geskiedkundige akkuraatheid en diskrediteer dit die skeptici se aannames!

So onlangs soos in 1992 het party geleerdes vol vertroue beweer: “Daar is geen letterlike kriteria om te glo dat Dawid meer geskiedkundig as Josua, Josua meer geskiedkundig as Abraham en Abraham meer geskiedkundig as Adam is nie” (sien “House of Dawid Built on Sand,” Biblical Archaelogy Review, Julie/Augustus 1994, bl. 54-55). Tog, net een jaar later, het argeoloë wat in die boonste gedeelte van Galilea opgrawings gedoen het, ’n 9de eeuse v.C. inskrywing oor die “huis van Dawid” gevind. Jeffrey Sheler, ’n bekroonde joernalis en godsdiensskrywer vir die U.S. News & World Report, skryf: “Die fragmentêre verwysing na Dawid was ’n geskiedkundige knuppel in die hoenderhok. Nog nooit tevore is die bekende naam van Juda se antieke soldaatkoning ... in die rekords van die Oudheid buite die bladsye van die Bybel gevind nie” (Is the Bible True?, bl. 60).

Die simmetrie van die Bybel

Hoewel Afrikaanssprekendes dikwels dink dat die Bybel 66 boeke bevat -- 39 in die Ou Testament en 27 in die Nuwe Testament -- het die eertydse Hebreeuse berekening die Ou Testament in 22 boeke verdeel. Ons kan dus sien dat die Bybel uit 'n kanon van 49 boeke bestaan -- sewe keer sewe -- 'n getal wat regdeur die Skrif gebruik word om voltooing aan te dui. Die 49 boeke kan op hulle beurt in sewe onderafdelings geklassifiseer word.
OU TESTAMENT

I. Die Wet
Die vyf "Boeke van Moses" begin met die skepping en word voortgesit deur die Wet wat gegee word en die Israeliete se vroeë geskiedenis.
1. Genesis
2. Eksodus
3. Levitikus
4. Numeri
5. Deuteronomium

II. Die Profete
Die volgende ses boeke bevat vertellings van en profesieë deur Hebreeuse profete na Moses.

6. Josua-Rigters
7. Samuel-Konings
8. Jesaja
9. Jeremia
10. Esegiël
11. Die Twaalf Kleiner Profete

III. Die Geskrifte
Hierdie is verhale, opstelle, liedere, gedigte en geskiedskrywes wat God se mense uit Babiloniese ballingskap tot en met die oprigting van die tweede tempel gevolg het.

12. Psalms
13. Spreuke
14. Job
15. Hooglied van Salomo
16. Rut
17. Klaagliedere van Jeremia
18. Prediker
19. Ester
20. Daniël
21. Esra-Nehemia
22. Kronieke

 

NUWE TESTAMENT

IV. Christus stig Sy Kerk

Die vier evangelies en Handelinge sit Jesus se geboorte, bediening, dood en opstanding uiteen en beskryf die stigting en vroeë verspreiding van die Nuwe-Testamentiese Kerk.
23. Mattheus
24. Markus
25. Lukas
26. Johannes
27. Handelinge

V. Die Algemene Sendbriewe
Kerkleiers het aanvanklik hierdie briewe aan die "algemene" Kerklidmaatskap eerder as aan een spesifieke gemeente of persoon gerig.

28. Jakobus
29. 1 Petrus
30. 2 Petrus
31. 1 Johannes
32. 2 Johannes
33. 3 Johannes
34. Judas

VI. Sendbriewe van Paulus
Die apostel Paulus het hierdie briewe aan gemeentes of individue geskryf wie hy gedien het.

35. Romeine
36. 1 Korinthiërs
37. 2 Korinthiërs
38. Galasiërs
39. Efesiërs
40. Filippense
41. Kolossense
42. 1 Thessalonicense
43. 2 Thessalonicense
44. Hebreërs
45. 1 Timotheus
46. 2 Timotheus
47. Titus
48. Filemon


VII. Die Profesieë
Die apostel Johannes het dié geheimsinnige boek geskryf sodat Christene die Kerkgeskiedenis en eindtyd-gebeure kon verstaan.

49. Openbaring

Sommige Bybels sluit addisionele Ou-Testamentiese boeke in wat as "Apokriewe" bekend staan. Dit is nie-kanonitiese teks, wat nie as geïnspireerd geag kan word nie en nie op staatgemaak kan word vir leerstelling nie, maar kan egter soms nuttig wees om geskiedkundige gebeure duidelik te maak. Hierdie boeke is geskryf na Maleagi (die jongste Ou-Testamentiese boek, die laaste van die twaalf kleiner profete) maar voor die Nuwe Testament. Van die nie-kanonitiese teks wat na Christus se opstanding geskryf is, staan ook bekend as "Apokriewe" -- wat nie vir geskiedenis of leerstelling vertrou kan word nie en in baie gevalle geskryf is om planne voor te staan wat Christus se ware leringe teenstaan.

Kritici het die Bybelse verhaal van Dawid en Goliat vir dekades as ’n denkbeeldige verhaal van godsdiensfiksie gesien. Tog, onlangs, het “argeoloë wat by die beweerde tuiste van Goliat [Gat, sien 1 Samuel 17:4] opgrawings doen, ’n stuk potskerf opgegrawe wat ’n inskrywing bevat oor die Filistyn se naam, ’n vonds wat hulle sê geskiedkundige geloofwaardigheid verleen aan die Bybel se verhaal van Dawid se geveg met die reus” (The London Times, 13 November 2005). Hierdie is die oudste Filistynse inskrywing wat nog ooit ontdek is – wat terugdateer na 950 v.C. – binne 70 jaar van die tyd van die Bybelse vertelling.

Ongelowige geleerdes het vir jare aanvaar dat “daar geen Hetiete was in Abraham se tyd nie, aangesien daar geen rekord van hul bestaan buiten die Ou Testament was nie. Hulle moet ’n mite wees” (McDowell, bl. 11). Later, egter, het “argeologiese navorsing ... meer as 1 200 jaar van Hetietiese beskawing ontdek” (ibid.). Eweneens het kritici aangeneem dat die Bybelse patriarge, Abraham, Isak en Jakob fiktiewe karakters uit Hebreeuse volksverhale was. Tog het spykerskrif kleitablette wat in die koninklike argiewe van die paleis van Mari in noordelike Sirië ontdek is, wat dateer uit die begin van die tweede millennium v.C. (ongeveer die tyd van die patriarge), “name genoem soos Abam-ram (Abraham), Jacob-el en Benjaminiete” (When Skeptics Ask, Geisler & Brooks, bl. 186-187). Al hierdie ontdekkings staaf die Bybelse rekord en weerlê die aantygings van kritici.

Geleerdes wat skepties staan teenoor die Bybel het die ooreenkoms waargeneem tussen die skeppingsverhaal van Genesis en die Babiloniese kleitafels wat die skepping van die aarde beskryf. Hierdie geleerdes het ’n paar groot verskille in die vertellings verdoesel en voorgestel dat die Bybelskrywers bloot hul materiaal uit ander bronne geleen het. Die ontdekking van meer as 17 000 kleitablette by Ebla (in hedendaagse Sirië), wat uit 2500 v.C. dateer, het die kritici se teorieë omvergewerp. Die Ebla-tablette (wat die Babiloniese skeppingsverhaal met sowat 600 jaar voorafgaan) bevat “die oudste bekende skeppingsverhale buiten die Bybel ... Die skeppingstablet is treffend soortgelyk aan dié van Genesis, met vertellings van een wese wat die hemele, maan, sterre en die aarde geskape het. Parallelle vertellings toon dat die Bybel die ouer, minder sierlike weergawe bevat ... Hulle [die Ebla-tablette] vernietig die kritiese geloof in die evolusie van monoteïsme uit die veronderstelde vroeëre politeïsme” (Baker Encyclopedia of Christian Apologetics, Geisler, bl. 208).

Daar was talle ander merkwaardige ontdekkings. Die Merneptah Stela beskryf ’n Egiptiese farao wat Israel oorwin (rondom 1200 v.C.). Die Swart Obelisk van Nimrud beeld die Israelse koning Jehu uit wat voor die Assiriese koning Salmaneser III buig. ’n Inskrywing naby Jerusalem verwys na “Josef, seun van Kajafas,” (Kajafas was die hoëpriester in Jerusalem ten tye van Christus se kruisiging; sien Mattheus 26:57). ’n Gegraveerde steen uit eerste-eeuse Cesarea lui: “Pontius Pilatus, die Prefek van Judea” (Pilatus was die Romeinse goewerneur ten tye van Jesus se kruisiging, sien Mattheus 27:2). Sodanige bewyse, in klip gegraveer, ondersteun die gevolgtrekking dat die Bybelskrywers feite, nie fiksie nie, aangeteken het (sien The Signature of God, Jeffrey, bl. 72-74; Is the Bible True?, Sheler, bl. 110-112).

Die wyse waarop argeoloë die geskiedkundige akkuraatheid van die Bybel verifieer, is niks minder as merkwaardig nie! Soos die bekende argeoloog Nelson Glueck skryf: “Dit kan onomwonde gestel word dat geen argeologiese ontdekking ooit ’n enkele Bybelse verwysing weerlê het nie. Talle argeologiese vondste is gemaak wat geskiedkundige stellings in die Bybel in duidelike beskrywing of presiese besonderhede bevestig (Rivers in the Desert, Glueck, bl. 136). Glueck se kommentaar praat die woorde na van ’n ander prominente argeoloog, William F. Albright, wie gesê het: “Dit ly geen twyfel dat argeologie die wesenlike geskiedkundigheid van Ou-Testamentiese tradisies bevestig nie ... Die oordadige skeptisisme wat deur belangrike geskiedskole van die agtiende en negentiende eeu teenoor die Bybel betoon is ... word toenemend in twyfel getrek” (Evidence that Demands a Verdict, McDowell, vol. 1, bl. 65). Die bewyse van die geskiedenis en argeologie daag die kritici uit en ondersteun die Skrif!

Hoofstuk 4
Het die Bybel akkuraat behoue gebly?

Hoe kan ons weet of die teks van die Bybel regdeur die eeue akkuraat behoue gebly het? Is dit logies om te glo dat ’n boek wat deur meer as 40 skrywers op verskillende plekke oor ’n tydperk van 1 500 jaar geskryf is, betroubaar kan wees? Kan ons bewys dat die teks wat ons vandag het, betroubaar is?

Indien die Bybel die geïnspireerde Woord van ’n Almagtige God is wat mense aanmoedig om “die feite na te gaan”, behoort ons te verwag om oortuigende bewyse te vind dat die Skrif wel oor die tyd noukeurig en akkuraat behoue gebly het. Sodanige bewyse is beskikbaar – in die Bybel self! Bewyse kan ook in die Joodse geskiedkundige letterkunde, in die skrywes van die vroeë kerkvaders en in ’n magdom hedendaagse bronne gevind word. Die bewyse vir die akkurate oordrag van die Bybel is merkwaardig, oorweldigend en inderdaad onweerlegbaar!

Bewaring van die Ou Testament

Die apostel Paulus onthul waar om bewyse te vind van die bewaring van die Skrif toe hy skryf: “Wat is dan die voordeel van die Jood? ... dat aan hulle die woorde van God toevertrou is” (Romeine 3:1-2). Bybelgeleerde Bernard Ramm lewer kommentaar: “Die Jode het dit [die Ou Testament] bewaar soos geen ander manuskrip ooit bewaar is nie” (McDowell, bl. 9). Toe God Sy Wette aan hul voorouers openbaar het, is aan hulle ’n mandaat gegee: “Julle mag by die woord wat ek julle beveel, niks byvoeg nie, en julle mag daar niks van weglaat nie; ... Onderhou dit dan en doen dit [die insettinge van God] ... en jy moet dit aan jou kinders en jou kindskinders bekend maak” (Deuteronomium 4:1-10). Die geskiedenis toon duidelik hoe dit gebeur het.

Die Bybel teken aan dat God Sy Wette regstreeks vir Moses gegee het (rondom 1400 v.C.) en dat “toe Moses die woorde van hierdie wet klaar in ’n boek geskryf het ... het Moses aan die Leviete ... bevel gegee ... Neem hierdie wetboek en sit dit neer aan die kant van die verbondsark” (Deuteronomium 31:24-26). Hierdie ark was ’n kis wat die kliptafels van die Wet wat deur God gegraveer is en die geskrifte van Moses bevat het (sien Deuteronomium 10:5). Dit is in die Tabernakel gehou en later in die Tempel te Jerusalem. Die Bybel toon dat Esra die priester die “Boek van die wet van Moses” aan die Jode, wat in die vyfde eeu v.C. na Jerusalem teruggekeer het uit Babilonië, gelees en verduidelik het (Nehemia 8:1-12). Teen 150 v.C. is daar selfs bewyse van bronne anders as die Bybel dat die Pentateug (die eerste vyf boeke van die Ou Testament) aan Moses toegeskryf is (The Origin of the Bible, Bruce, et al., bl. 56). In die eerste eeu n.C. het Jesus en die Apostels ook uit die boeke van Moses aangehaal en daarna verwys as die geïnspireerde Skrif (sien Markus 12:19-27; Johannes 1:17; Romeine 10:5). Dus verskaf die Bybel sy eie weergawe van hoe die Skrif behoue gebly en oor die geslagte heen gebruik is.

Kanon vs. verwarring

Bewyse bestaan ook uit die Bybel sowel as uit geskiedkundige bronne, dat die Ou Testament bestaan uit spesifieke boeke wat algemeen erken is as goddelik geïnspireer. Die lys van boeke wat as goddelik geïnspireer erken is, het die kanon van die Ou Testament, die Hebreeuse Bybel geword. In die eerste eeu n.C. het beide Jesus (Lukas 24:44) en die Joodse leraar, Filo, verwys na drie hoof-afdelings van die Ou-Testamentiese kanon: die Wet, die Profete en die Geskrifte (sien Bruce, bl. 60). Josefus, ’n eerste-eeuse Joodse geskiedkundige, het erken dat die Hebreeuse Bybel uit 22 boeke bestaan – wesenlik dieselfde teks wat net anders verdeel is en die 39 boeke van ons hedendaagse Ou Testament uitmaak – en dat hierdie boeke “almal so lank as wat almal kan onthou, as kanoniek aanvaar is” (ibid., bl. 61). Die feit dat 22 boeke van die Ou Testament en 27 boeke van die Nuwe Testament die 49 boeke van die hele Bybel uitmaak (49 is beskou as ’n getal van voltooiing), toon dat ’n goddelike verstand hierdie proses gelei het. Die Bybel is nie net ’n saamgeflanste versameling boeke nie!

Hedendaagse geleerdes stem oor die algemeen saam dat die Hebreeuse Skrif as geïnspireer erken is van vroeë tye af. Volgens een bron: “Die bewyse steun die teorie dat die Hebreeuse kanon lank voor die eerste eeu n.C. daargestel is, meer waarskynlik so vroeg as in die vierde eeu v.C. en beslis nie later as 150 v.C. nie” (McDowell, bl. 26). Nog ’n bron sê: “Dit ly geen twyfel dat die Pentateug beide volledig en kanoniek was teen die tyd van Esra en Nehemia in die vyfde eeu v.C. nie ... sodanige bewyse impliseer dat teen die begin van die Christen-era die identiteit van al die [Ou-Testamentiese] kanonieke boeke welbekend en algemeen aanvaar is” (The Origin of the Bible, Bruce, et al., bl. 56). Dit is die moeite werd om kennis te neem dat geen van die Bybelskrywers of vroeë Kerkgeleerdes die apokriewe boeke wat in die inter-testamentele tyd geskryf is, as geïnspireer aanvaar het nie.

Presiese afskrifte voorberei!

Presies hoe betroubaar is die Ou-Testamentiese boeke wat ons vandag het? Is die teks van die Ou Testament akkuraat aan ons oorgedra? Oorweeg die bewyse. “In Judaïsme is ’n opvolging van geleerdes die opdrag opgelê om die Bybelse teks te standardiseer en te bewaar” gedurende ’n tydperk wat gestrek het van 500 v.C. tot ongeveer 1000 n.C. (McDowell, bl. 73-77). Die vroegste skrifgeleerdes, die Soferim (400 v.C tot 200 n.C.) het saam met Esra gewerk en “is geag as die Bybelbewaarders tot die tyd van Christus” (ibid.). Hulle is opgevolg deur die Talmoediste (100 n.C. tot 500 n.C.) en uiteindelik deur die Masorete (500 n.C. tot 1000 n.C.). Talle weergawes bevestig dat hierdie skrifgeleerdes die Bybelse teks met uiterste sorg oorgeskryf het, die aantal woorde in ’n boek getel het, die aantal kere wat ’n letter in ’n boek voorgekom het getel het, en selfs die middelste letter van die Pentateug en die middelste letter van die Bybel uitgewys het!

As gevolg van sulke noukeurige aandag aan besonderhede in die opstel en oordrag van die Ou-Testamentiese manuskripte, erken hedendaagse geleerdes dat “die Hebreeuse Bybel met die noukeurigste akkuraatheid oorgedra is ... daar kan met veiligheid gesê word dat geen ander werk van die Oudheid so akkuraat oorgedra is nie ... [dit is] net duskant wonderbaarlik” (Evidence That Demands a Verdict, McDowell, bl. 55-56). Die ontdekking van die Dooie See-perkamentrolle in 1947 bewys presies hoe akkuraat die Jode die Ou-Testamentiese teks bewaar en oorgedra het. Voor die ontdekking van die perkamentrolle in ’n grot naby die Dooie See, het die oudste afskrif van die Hebreeuse teks uit ongeveer 1000 n.C. gedateer. Die nuut-ontdekte perkamentrolle dateer uit die eerste eeu n.C. – sowat 1 000 jaar vroeër! Die boekrolle bevat twee bykans volledige afskrifte van die boek Jesaja, wat “woord vir woord identies was met ons standaard Hebreeuse Bybel in meer as 95 persent van die teks. Die vyf persent van die variasies het bestaan uit duidelike skryffoute en variasies in spelling” (When Skeptics Ask, Geisler & Brooks, bl. 158-159). Die Dooie See-perkamentrolle verskaf onteenseglike bewys dat die teks van die Ou Testament in meer as 2 000 jaar nie verander het nie!

Die Nuwe Testament bewaar

Die betroubaarheid van die Nuwe Testament berus op die rykdom van materiaal wat beskikbaar is. Geleerdes erken geredelik: “Daar is vroeëre en meer manuskripte van die Nuwe Testament as van enige ander boek in die antieke wêreld” (Baker Encyclopedia of Christian Apologetics, Geisler, bl. 93). Hierdie manuskripte onthul duidelik dat die Nuwe Testament “aan ons oorgedra is met geen, of bykans geen, variasies nie” (Evidence that Demands a Verdict, McDowell, bl. 44).

Meer as 24 000 manuskrip afskrifte van die Nuwe Testament in Grieks, Latyn en ander tale verskaf bewyse oor die teks. Die vroegste Nuwe-Testamentiese manuskripte dateer binne ’n paar dekades of ’n paar eeue van die tyd van die apostoliese skrywers. In vergelyking daarmee, is daar slegs 643 manuskripte van Homerus se Iliad (wat in die 8ste eeu v.C. geskryf is) en die vroegste afskrif wat vandag bestaan dateer uit omtrent 400 v.C. – nagenoeg 500 jaar nadat dit geskryf is. Net 10-20 afskrifte van skrywes van Julius Caesar, die Romeinse geskiedkundige Tacitus en die Griekse geskiedkundige Herodotus bestaan vandag, met die oudste manuskripte wat 1 000 jaar nadat die oorspronklikes geskryf is, gekopieer is (McDowell, bl. 39-43). In vergelyking met die Nuwe Testament het geen ander dokument uit die antieke wêreld so ’n rykdom van materiaal agtergelaat wat die betroubare oordrag van sy teks aangeteken het nie. Benewens al die beskikbare manuskripte, het vroeë Kerkskrywers die Nuwe Testament so breedvoerig aangehaal dat bykans die ganse Nuwe Testament uit ander bronne opgestel kan word.

Kritici het bespiegel dat onbekende skrywers die evangelies eeue na die Apostels opgestel het. Tog is die vroegste fragment van Johannes se evangelie gedateer as 130 n.C., ongeveer 30 jaar na die Apostel se dood. Dit ondersteun die tradisionele siening dat Johannes sy evangelie geskryf het naby die einde van die eerste eeu (sien McDowell, bl. 39-47). Ook, “daar is geen bewyse uit die eerste twee Christen-eeue dat die evangelies ooit sonder die name van die skrywers daarby gesirkuleer is nie (Sheler, bl. 33). Een geleerde merk op: “Indien ons die huidige staat van die Nuwe-Testamentiese teks vergelyk met dié van enige ander antieke geskrif, moet ons ... verklaar dat dit wonderbaarlik korrek is” (McDowell, bl. 45). Nog ’n prominente geleerde sê: “Dit kan nie genoeg beklemtoon word dat die teks van die Bybel in wese séker is nie. Dit is veral die geval met die Nuwe Testament ... Dit kan van geen ander antieke boek in die wêreld gesê word nie” (ibid.).

Nuwe-Testamentiese kanon

Vir dekades het kritici aangevoer dat die boeke van die Nuwe Testament nie geskryf is tot ’n eeu of meer nadat Jesus en die Apostels geleef het nie en moontlik saamgeflans is deur anonieme skrywers. Sodanige laat samestelling sou tyd toelaat vir mites en legendes om in die teks in te sluip. Party progressiewe teoloë en hedendaagse skrywers, soos in The Da Vinci Code, beweer ook dat die boeke van die Nuwe Testament uitgesoek is deur polities-gemotiveerde komitees en dat waardevolle boeke opsetlik weggelaat is waardeur die akkuraatheid en waarde van die Bybel in die weegskaal geplaas is. Die interne bewyse van die Nuwe-Testamentiese boeke, die feite van die geskiedenis en die oorwig van hedendaagse geleerdes weerlê egter almal hierdie idees!

Vandag stem die geloofwaardigste geleerdes saam dat “die Nuwe-Testamentiese kanon met die Evangelies en die meeste van Paulus se Sendbriewe teen die einde van die eerste eeu saamgestel is ... Die bewese datum vir die kanonieke Evangelies is nie later nie as 60-100 n.C. (Geisler, bl. 520). Nóg die evangelie van Lukas, nóg die boek Handelinge (wat ook deur Lukas geskryf is) maak melding van die 70 n.C. vernietiging van Jerusalem en die Tempel, wat vir die Jode die belangrikste gebeurtenis van die eeu was. Inderdaad vermeld nie een Nuwe-Testamentiese skrywer die vernietiging van die Tempel nie, wat sterk daarop dui dat die Nuwe-Testamentiese kanon vroeg geskryf is.

Die Nuwe-Testamentiese boeke onthul self dat die skrywers erken het watter geskrifte deur God geïnspireer is en in die kanon tuishoort. Die apostel Paulus skryf dat “wat ek aan julle skrywe, bevele van die Here is” (1 Korintiërs 14:37). Paulus skryf dat die leringe van die Apostels goddelik geïnspireer is en in die gemeentes gelees moes word, want “toe julle die woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, [het] julle dit aangeneem ... nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God” (1 Thessalonicense 2:13; 5:27). Petrus waarsku dat diegene wat die geskrifte van Paulus verdraai, “die Skrifte” verdraai (2 Petrus 3:15-16). Geleerdes in die vroeë eeue van die Kerk het die Apostels se skrywes as Skrif aanvaar, maar hulle “het almal ’n duidelike onderskeid getref tussen hul eie [skrywes] en die geïnspireerde, gesaghebbende apostoliese geskrifte” (Bruce, bl. 71). Dit dui sterk daarop dat die Nuwe-Testamentiese kanon baie vroeg reeds in Kerkgeskiedenis erken is.

Tertullianus, ’n godsdiensgeskiedkundige wat in die vroeë 200’s geskryf het, blyk die eerste skrywer te wees wat die Christelike Skrif die “Nuwe Testament” noem. Dit is betekenisvol, want dit “plaas die Nuwe-Testamentiese Skrif op ’n vlak van inspirasie en gesag tesame met die Ou Testament” (Bruce, bl. 66). Ons het rekords wat uit die 300’s dateer wat toon dat die Nuwe Testament kanon uit 27 boeke bestaan het – dieselfde boeke wat ons vandag het. ’n Brief wat in 367 n.C. deur Athanasius, biskop van Alexandrië, geskryf is, verskaf die vroegste aantekening van die presiese 27 boeke van die Nuwe-Testamentiese kanon. Sy brief, wat “ontwerp is om vir eens en vir altyd die gebruik van sekere apokriewe boeke uit te skakel” waarsku: “Laat niemand hierby toevoeg nie; laat niks weggeneem word nie” (Bruce, bl. 74). Later, in 397 n.C., het ’n kerkraad in Kartago verorden dat “behalwe vir die kanonieke Skrifte [wat die raad as 27 boeke gelys het], niks in die kerk gelees mag word onder die Naam van Goddelike Skrifture nie” (Bruce, bl. 74). Die duidelike doel was om te identifiseer watter boeke deel was van die geïnspireerde Nuwe-Testamentiese kanon en om die gebruik van apokriewe literatuur uit te skakel.

Wat van die apokriewe boeke?

Presies wat is die apokriewe boeke? Waarom was dit ’n twispunt in die vroeë Kerk? Is hulle vandag relevant? Die “Apokriewe” (wat verskuilde of verborge beteken) verwys na boeke wat nóg die Jode, nóg die vroeë Kerk ooit as geïnspireerd of deel van die kanon aanvaar het (sien Bruce, bl. 79-94; Geisler, bl. 28-34). Die meeste apokriewe boeke dateer uit die inter-testamentele tydperk en is deur anonieme skrywers of onder die naam van ’n persoon of ’n plek wat in die Skrif genoem word, geskryf. Hierdie boeke maak nie daarop aanspraak om geïnspireerd te wees nie. Dit bevat geen voorspellende profesieë nie, maar eerder geskiedkundige en aardrykskundige foute en bevorder verbeeldingryke idees en vals leerstellings wat teenstrydig met die kanonieke Skrif is. Jesus en die skrywers van die Nuwe Testament het nooit die Apokriewe as deel van die Skrif erken nie. “Geen kanonieke lys of kerkraad het die Apokriewe vir bykans die eerste vier eeue aanvaar nie” (Geisler, bl. 33).

Hoewel sommige apokriewe saam met kanonieke boeke in die Septuaginta (’n Griekse vertaling van die Hebreeuse Skrif wat rondom 250 v.C. deur 70 geleerdes in Alexandrië geproduseer is) gepubliseer is, was hierdie vertaling nie onder toesighouding van skrifgeleerdes van die Judaïese tradisie, wat hul sentrums in Tiberias en Babilonië gehad het nie.

Josefus, wat in die eerste eeu n.C. geskryf het, het spesifiek die apokriewe boeke uit die Hebreeuse kanon weggelaat toe hy skryf: “Ons het ... maar net twee-en-twintig boeke wat regmatig geglo kan word goddelik te wees” (Against Apion, 1:8). Philo, ’n eerste-eeuse Joodse leermeester in Alexandrië, “het oorvloedig uit die Ou Testament aangehaal uit bykans elke kanonieke boek. Hy het egter nie een keer uit die Apokriewe aangehaal asof dit geïnspireer is nie” (Geisler, bl. 32). Prominente vroeë skrywers soos Origenus, Sirillius van Jerusalem, Athanasius van Alexandrië en Jerome het almal die apokriewe boeke as oneg verwerp. Trouens, dit was Jerome (wat die Latynse Vulgaat rondom 400 n.C. opgestel het), wat eerste die term Apokriewe gebruik het wanneer hy na boeke verwys het wat nie as deel van die geïnspireerde Bybelse kanon beskou is nie en wat nie gebruik behoort te word om leerstellings vas te stel nie. Jerome het ’n geskil gehad met die teoloog Augustinius, wat gevoel het dat die apokriewe boeke geïnspireer was en in die kanon ingesluit behoort te word, skynbaar omdat dit in die Septuaginta ingesluit was.

Die Apokriewe boeke het ’n groot geskilpunt geraak gedurende die Hervorming, toe Protestante (wat soos Jerome gedink het) die Apokriewe as ongeïnspireer verwerp het. Gedurende die Raad van Trent in 1546, het Rooms-Katolieke leiers (wat Augustinius se idees gevolg het) egter daardie boeke as deel van die Nuwe-Testamentiese kanon verklaar. Dit was ’n poging deur die Roomse kerk om die invloed van Martin Luther en ander hervormers teen te staan wat gepreek het teen selibaat bly, gebede vir die dooies en die vagevuur – idees wat nie uit die kanonieke Skrifte kom nie, maar in party apokriewe boeke gevind word. Tog was dit nie die einde van die twispunt oor apokriewe skrywes nie.

Gnostiese “evangelies”?

In 1945 is ’n versameling boeke wat gewoonlik die “Gnostiese evangelies” genoem word, naby Nag Hammadi, ’n Egiptiese dorp noord van Luxor, aan die Nylrivier gevind. Gnostisisme het ’n versameling dwaalleer-idees behels wat vroeë Kerkleiers aan Simon die towenaar toegeskryf het (sien Handelinge 8:9-25; Geisler, bl. 274). Gnostiese skrywes bevat beweerde “geheime gesegdes” van Christus wat dramaties verskil van Sy Nuwe-Testamentiese leringe. In die Evangelie van Thomas, raak Jesus onbeheers woedend en veroorsaak dat ’n kind wat Hom aanstoot gegee het, wegkwyn (3:1-3). In ’n ander werk, maak Jesus voëltjies van klei op die Sabbat; wanneer Sy ouers Hom reghelp, klap Hy Sy hande en die voëltjies vlieg weg. Die Evangelie van Filippus doen aan die hand dat Christus ’n romantiese verhouding met Maria Magdalena gehad het. Die Evangelie van Maria beweer dat Maria die ware leier van Christus se dissipels was.

Vroeë Kerkleiers het die Gnostiese skrywes as vals en dwaalleer veroordeel. Tog het hedendaagse Bybelkritici, tesame met revisionistiese teoloë, kreatiewe skrywers en mistiese New Agers, hierdie “alternatiewe” evangelies laat herleef en gee voor asof dit ewe geloofwaardig as die kanonieke Skrif is. Dan Brown, skrywer van die wydgelese fiktiewe roman The DaVinci Code, kry sy inspirasie grootliks uit die dwaalleer-idees van Gnostiese skrywes, asook die okkulte, heidense godin-aanbidding en mistisisme. In sy roman, maak hy die stelling “dat Maria Magdalena ... ’n sterk onafhanklike figuur was, beskermer van Jesus, medestigter van sy beweging, sy enigste gelowige in sy grootste uur van nood, skrywer van haar eie evangelie, sy romantiese metgesellin en moeder van sy kind. Vir die miljoene vroue wat vandag versmaad, teen gediskrimineer of onwelkom in kerke van alle gelowe voel, is die roman ’n geleentheid om vroeë kerkgeskiedenis in ’n heel ander lig te sien ... The DaVinci Code maak almal se oë oop vir ’n sensasionele ander siening van die magtige rol van vroue in die ontstaan van die Christendom. Hierdie temas het algemeen geword by Harvard se kweekskool en ander intellektuele sentrums” (Secrets of the Code, Bernstein, bl. xxvii).

Wanneer Dan Brown sy hoofkarakters laat sê: “Amper alles wat ons vaders ons oor Christus geleer het, is vals” en “Die Bybel is ’n produk van die mens, my vriend, nie van God nie,” bevorder hy ’n agenda en wêreldsiening wat poog om die Bybel en die Jesus Christus van die Bybel te ondermyn en in twyfel te trek. Hoewel die knoop van The DaVinci Code blyk om ’n “moedige soeke vir waarheid ten alle koste voor te staan, is die ware doel daarvan om een van die fundamentele kenmerke van die Christengeloof te ondermyn – die oortuiging dat die oorspronklike boodskap van die Evangelie, heilig in die Bybel bewaar, die unieke, geïnspireerde woord van God is” (Cracking the Code, Garlow & Jones, bl. 72). Die ware gevaar van boeke soos The DaVinci Code, lê in die twyfel wat in die gemoed van mense geplaas word wat nie geskiedkundige of Bybelkennis het nie. Vir sulke mense blyk die fiksie van apokriewe geskrifte feitlik te wees, wat lei tot misleiding oor die ware aard van die geïnspireerde Skrif. Een van die hoofredes vir openbare verklarings oor watter boeke die kanons van die Ou- en Nuwe Testamente uit bestaan het, was om duidelike onderskeid te tref tussen geïnspireerde boeke en die vals en misleidende skrywes van die Gnostici.

Hoofstuk 5
Ware antwoorde op die lewe se belangrike vrae

Vandag leef baie mense in ’n materialistiese wêreld van weelde en oorvloed. Meer mense geniet vandag ’n hoër lewenstandaard as gedurende enige ander tyd in die mens se geskiedenis. Tog, met meer geld in ons sakke en meer tyd op hande, vind miljoene mense die lewe steeds leeg en betekenisloos. Al hoe meer mense vind deesdae dat geld, materiële besittings en die soeke na die allernuutste ondervinding, bloot nie blywende geluk meebring, die leemte vul of betekenisvolle antwoorde op die lewe se belangrike vrae bied nie: Waarom is ek gebore? Waarom is ek hier? Waarom bestaan ek? Wat is die ware doel van die lewe? Wat gebeur wanneer ek sterf?

Diegene wat die tyd neem om verby hulself te kyk, let gou op die geweldige ongeregtigheid in ons hedendaagse wêreld en wonder: Waarom ly miljoene mense weens die gebrek aan voedsel, vars water, sanitasie en ontoereikende beskutting? Waarom word so baie mense uitgebuit en mishandel deur korrupte leiers in agteruitgaande lande? Waarom neem oorloë en opsetlike dade van verskriklike geweld en terrorisme wêreldwyd toe? Waarom is daar geen vrede nie? Miljoene mense wil ’n beter wêreld hê, maar weet dat hulle dit nie kan teweegbring nie. Waarom gryp God dan nie in nie – mits daar inderdaad ’n God is?

Min mense vind bevrediging in die vae antwoorde wat hulle by die meeste godsdiensleiers en sekulêre filosowe kry. Om te hoor dat die mensdom bloot “broekdraende ape is” – niks meer as sakke vol DNS wat sukkel om te oorleef in ’n doellose heelal, afwagtend op ewige niks met afsterwe – gee nie juis ’n besielende bestaansrede nie. Aan die ander kant, blyk dit ’n doellose fantasie te wees om te glo dat die doel van die lewe is om vir ewig op ’n wolk te sit en harp speel. Om te hoor “God is liefde” – en om dan al die boosheid en ongeregtigheid in die wêreld te aanskou – maak bloot nie sin nie. Dit is tragies dat baie mense vandag onder die indruk gebring word dat hierdie antwoorde “die heel beste antwoorde is”.

Dit is egter onsin! Die meeste mense wat aanvaar dat hierdie die beste antwoorde op die lewe se belangrike vrae is, het nooit die ware antwoorde gehoor wat God in die Bybel aangeteken het nie! Baie teoloë weet nie, of andersins, glo nie wat die Bybel werklik sê oor die lewe se belangrike vrae nie. Weens ons samelewing se vooroordeel teen die bonatuurlike, opgestook deur Bybelse geleerdes wat nie in die persoonlike en almagtige God van die Bybel glo nie, is miljoene mense gewoond gemaak daaraan om skepties te wees oor wat ook al die Skrif onthul oor hierdie onderwerpe. Die Bybel verskaf egter ware antwoorde op die lewe se belangrike vrae!

Die doel van die lewe

In teenstelling met gewilde moderne idees dat die lewe uit warm, slikagtige poele pre-biotiese sop ontstaan het (soortgelyk aan die idee wat heidense Griekse filosowe voorgestaan het), en dat mense uit ’n aapagtige voorouer ontwikkel het (soos dissipels van Charles Darwin sonder enige bewyse aanneem), onthul die Bybel dat God mense geskep het na Sy eie beeld (Genesis 1:26-28). Of u hierdie stelling glo al dan nie, sal afhang daarvan of u die talryke bewyse aanvaar dat die Bybel waarlik die Woord van God is. Volgens die Skrif, is mense nie geskep om die gode te vermaak, soos sommige filosowe aanvaar het nie. Die Bybel onthul dat God mense geskape het sodat hulle kon leer om die aarde te regeer (Genesis 1:26-28; 2:15) en om karakter te bou deur te leer om tussen reg en verkeerd te onderskei (Genesis 2:16-17). Volgens die Skrif het God die huwelik en gesin ingestel (Genesis 2:18-24). Hy het ook rolle in die huwelik vasgestel en belangrike riglyne bekend gemaak sodat hierdie goddelik verordende instellings glad en suksesvol kon funksioneer (Mattheus 19:3-9; Efesiërs 5:22-33; 6:1-4; 1 Timotheus 2:8-15; 1 Petrus 3:1-7).

Die rede vir die Bybelse klem daarop om te leer om ons eie lewens te bestuur en om gladweg te funksioneer in die huwelik en gesin, is dat ons geskape is om lede te word van God se geestelike gesin (sien Romeine 8:15-17; Hebreërs 2:5-11; 1 Johannes 3:1-3). Indien ons kwalifiseer om lede van daardie geestelike gesin te word, sal ons saam met Jesus Christus regeer wanneer Hy terugkeer om die Koninkryk van God op aarde te vestig (sien Openbaring 1:4-6; 5:10). Die Bybel, wanneer dit reg verstaan word, onthul duidelik dat ons nie hemel toe vlieg wanneer ons sterf nie (sien Johannes 3:13; Handelinge 2:29, 34; 13:36). Wanneer u verstaan wat die Skrif werklik oor die doel van die lewe onthul, kan u begin verstaan waarom die leringe van vandag se “algemene” Christendom nie baie bevredigend of oortuigend is nie. Om meer te wete te kom oor die ware doel van die lewe soos dit in die Bybel onthul word, versoek ons gratis boekie U uiteindelike lotsbestemming.

Die plan van God

Wat is egter die oorsaak van die mens se lyding wat oor al die tye plaasgevind het? Waarom is daar soveel boosheid in die wêreld? Waarom laat God dit toe? Indien daar ’n God is, waarom versuim Hy om op te tree? Mense vra hierdie vrae omdat hulle nie verstaan dat God ’n plan en doel hier op aarde uitwerk nie. Die Skrif onthul Sy plan en dit word uitgebeeld in die Heilige Dae wat Hy Sy mense beveel het om te onderhou (Levitikus 23). God se plan onthul nie net die oorsaak van die probleme wat ons in ons wêreld sien nie, maar ook die oplossing daarvoor.

Baie mense vandag glo nie in God se bestaan nie, maar selfs minder mense glo dat Satan werklik is. Die Skrif onthul egter heelwat oor hierdie geestelike wese. Die Bybel onthul dat Satan oorspronklik “’n gérub met uitgespreide vlerke” was wat die troon van God beskut het en gesondig het, wie se “binneste met geweld gevul” is, waarna hy ’n derde van die engele in opstand teen God gelei het (sien Esegiël 28:1-19; Jesaja 14:12-17; Judas 6; Openbaring 12:4). Ons sien vandag soveel boosheid in die wêreld omdat Satan die “god van hierdie wêreld [is] ... wat die sinne verblind het” deur mense te beïnvloed om die opdragte en leefwyse wat God in die Bybel onthul het, te verwerp (2 Korintiërs 4:3-4; Efesiërs 2:1-2). U moet hierdie skrifture self lees ten einde te kontroleer wat die Bybel werklik sê oor hierdie individu wat die hele wêreld mislei het (Openbaring 12:9).

Die Bybelse Heilige Dae beeld die hoofstappe in God se plan van verlossing uit. Daardie stappe onthul dat Jesus Christus gekom het om te sterf vir die sondes van die mensdom en om Satan te vervang as god van hierdie wêreld. Jesus het toe Sy Kerk gestig (Handelinge 2) – wat die “Gemeente [Kerk] van God genoem word” (1 Korintiërs 1:2; 10:32; 15:9; 2 Korintiërs 1:1) – om die evangelie van die Koninkryk van God aan die wêreld te verkondig (Markus 16:15) en om ’n groep gelowiges voor te berei om die “eerstelinge” te word (Jakobus 1:18; Romeine 8:23; Openbaring 14:1-5) wat vir ’n duisend jaar saam met Hom sal regeer in die komende Koninkryk van God – ’n tydperk wat die Millennium genoem word (Openbaring 20:4-6).

Die Bybel onthul ook dat wanneer Christus terugkeer, Satan gebind en buite aksie gestel sal word (Openbaring 20:1-2). Dit is hoe God boosheid sal vernietig en die individue sal gebruik wat Hy voorberei het om die wêreld se probleme op te los. Dit sal alles gebeur volgens God se plan, wat in die Skrif onthul word. Om meer te wete te kom oor God se groot plan vir die mensdom, versoek ons gratis boekie Die Heilige Dae – God se Meesterplan. Om meer te wete te kom oor die Kerk wat met Jesus Christus begin is – en die merkwaardige en gevaarlike koers wat dit deur die eeue ingeslaan het – versoek gerus ons boekie God se Kerk deur die Eeue.

Die wêreld wat voorlê

Wat is egter die ware hoop vir die toekoms? Waarom moet ons ’n stryd voer teen die beproewings en versoekings van hierdie wêreld? Watter waarde kan daaraan geheg word om te leer om volgens God se Wette en die Bybelse opdragte te leef? Die antwoorde kom te voorskyn wanneer ons verstaan wat die Bybel oor die Koninkryk van God onthul en waarom dit die “evangelie” genoem word. Die woord “evangelie” beteken “goeie nuus” en die Bybelse boodskap oor die Koninkryk van God is goeie nuus – dit is opwindende nuus! Die evangelie van die Koninkryk van God, soos dit in die Bybel beskryf word, gaan nie oor die een of ander wasige gevoel in ’n mens se hart nie. Dit gaan oor ’n komende wêreldregering wat Jesus Christus op hierdie aarde gaan vestig.

Die Bybel onthul duidelik dat Jesus sal terugkeer na Jerusalem (Sagaria 14:4). Hy sal beheer neem van die koninkryke van hierdie wêreld (Openbaring 11:15-18) en ’n wêreldregering daarstel wat ware geregtigheid en blywende vrede na hierdie planeet sal bring. Jesus sal bygestaan word deur die heiliges, individue wat die Wette van God verstaan en geleer het om binne die gesin van God te funksioneer, wat as staats- en godsdiensleiers sal optree – “konings en priesters” (Openbaring 5:10). God se regering sal vrede en geregtigheid na die aarde bring (Jesaja 9:6-7). Die heiliges sal ook as leermeesters optree (Jesaja 30:20-21) wat die Wette van God sal verduidelik (Jesaja 2:2-4), aan mense die weg na vrede wys (Psalm 119:165) en hulle sal help begryp wat die ware oorsake van konflik en oorlog is (Jakobus 4:1-4). Christene word aangemoedig: “Julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here” (2 Petrus 3:18) sodat hulle gereed sal wees om saam met Christus te regeer in hierdie komende Koninkryk.

Die Bybel onthul dat herboude stede ’n gemeenskapsgevoel gaan voorstaan en in harmonie sal wees met die omgewing in die komende Koninkryk van God (Jesaja 61:4; 11:6-9; Amos 9:14-15). Ons besoedelde planeet sal herstel en produktief gemaak word (Jesaja 35:1-7; Amos 9:13). Die wêreldvloek van siekte sal uitgewis word aangesien mense sal leer om te leef volgens die Bybel se persoonlike en openbare gesondheidswette (sien Levitikus 3:17; 7:23-27; 11:1-47). Die nasies van die wêreld sal leer om een taal te praat (Sefanja 3:9) en “die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:9). Die Bybel praat van die komende Koninkryk van God as die “tye van verkwikking” waarin daar ’n “wederoprigting van alle dinge” sal wees (Handelinge 3:19-21). Die apostel Paulus noem hierdie “die toekomstige wêreld” (Hebreërs 2:5). Ons noem dit ook Die Wêreld van Môre. Die Bybel hou hierdie skriftuurlike leringe vir ons as ons ware hoop vir die toekoms voor!

Hedendaagse kritici bespot die idee om die Skrif letterlik, op sigwaarde, aan te neem. Baie predikante praat nie eens oor die opwindende Bybelse inligting wat ons in hierdie boekie gedek het nie. Pleks daarvan sal die meeste mense dít wat die geskiedenis onthul oor die leringe en oortuigings van die vroeë Kerk willens en wetens oor die hoof sien of selfs ignoreer. Geskiedkundige Edward Gibbon skryf: “Die antieke en gewilde leerstelling van die Millennium was nou verbind met die Wederkoms van Christus ... 'n blye Sabbat van eenduisend jaar; en dat Christus, met die triomfantlike groep heiliges en die uitverkorenes ... op aarde sou regeer ... Die versekering van so ’n Millennium was sorgvuldig ingeskerp deur ’n opeenvolging van vaders, van Justinianus die Martelaar en Irenaeus, wat met die onmiddellike dissipels gepraat het ... Hoewel dit nie universeel ontvang is nie, blyk dit die heersende sentiment te gewees het van ortodokse gelowiges; en dit blyk so goed aangepas te wees tot die begeertes en vrese van die mens, dat dit tot ’n groot mate moes bydra tot die vooruitgang van die Christengeloof” (The Decline and Fall of the Roman Empire, Gibbon, vol. 1, bl. 187-188).

Gibbon het duidelik geskryf dat die vroeë Christene aan die Millennium – die komende Koninkryk van God – geglo en daaroor onderrig het. Die Bybel se opwindende en besielende evangelie van God se Koninkryk het gelowiges gemotiveer en die groei van die vroeë Kerk aangespoor. Gibbon teken egter ook aan hoe vroeë teoloë onder die invloed van heidense filosowe – met die idee dat hulle beter as God se geïnspireerde woord geweet het – geleidelik hierdie belangrike lering van die Skrif verwater en toe later weggeredeneer het, nadat hulle dit eers beeldspraak en later dwaalleer genoem het. Miljoene mense het die ware Bybelse antwoorde op die lewe se belangrike vrae uit die oog verloor – of dit nooit gehoor nie – omdat die meeste geleerdes en godsdiensleiers daardie antwoorde verwerp – of nooit gehoor het nie! Dit is een rede waarom so baie mense die lewe vandag leeg en betekenisloos vind.

Slot
Waarheid en gevolge

In ons hedendaagse wêreld is daar baie mense wat ernstig twyfel of openlik nie glo dat ’n almagtige bonatuurlike God die Skrif geïnspireer het nie. Baie mense aanvaar dat die Bybel geensins anders is as enige ander boek wat deur mense geskryf is nie. Baie mense aanvaar ook dat hedendaagse geleerdheid die Bybel heeltemal ongeloofwaardig gemaak het en dat daar geen bewyse bestaan wat die teendeel bewys nie. Tog, soos ons in hierdie boekie gesien het, is die presiese teendeel die waarheid! Hierdie oortuigings en aannames wat algemeen geglo word, is in der waarheid, fiksies wat heeltemal teenstrydig met die feite is!Die belangrike vraag wat u in die gesig staar en die uitdaging wat baie mense vandag konfronteer, is: Wat presies sal u oor die Bybel glo? Sal u die feite glo wat in hierdie boekie bespreek is (wat net die ore van die seekoei oor hierdie omvangryke onderwerp is), of sal u die skeptici se spekulasies aanvaar wat die Bybel ondermyn en betwis – grotendeels deur die feite te ignoreer?

Die God van die Bybel kan ons uitdaag om alle dinge te “beproef” en te “toets” of Hy bestaan (en of Hy die Bybel geïnspireer het), want daar is so baie merkwaardige en onweerlegbare bewyse beskikbaar! Ware Bybelstudente weet dat die Bybel anders as enige ander godsdienstige boek in die wêreld is en dat die mees onderskeidende kenmerk van die Bybel profesie is. Diegene wat profesie bestudeer, weet dat die Bybel honderde spesifieke profesieë bevat wat deurlopend en akkuraat vervul is. Geen ander boek op aarde bevat soveel merkwaardige profetiese materiaal nie en menslike pogings om die toekoms te voorspel, vergelyk bloot nie met die omvang en akkuraatheid van Bybelprofesie nie. Dit alles verskaf kragtige bewyse wat dui op die Bybel se goddelike oorsprong.

Die geskiedkundige feite toon dat die Bybel vir duisende jare bewaar en akkuraat oorgelewer is, in weerwil van gesamentlike pogings om dit onwettig te verklaar, te onderdruk, te verdraai, te verbrand en te vernietig. Die voortgesette bestaan van die Bybel onder sulke ongunstige en vyandige omstandighede, dien as ’n sterk bewys dat ’n almagtige God Bybelse stellings soos “die woord van die Here bly tot in ewigheid” en “My raad sal bestaan” geïnspireer het. Die merkwaardige manier waarop argeologiese ontdekkings steeds die Skrif se geskiedkundige akkuraatheid bevestig en kritici se gissingsteorieë ondermyn, bevestig duidelik dat die Bybel die geïnspireerde Woord van God is! Die Bybel verskaf ware antwoorde op die lewe se belangrike vrae, anders as akademici, filosowe en teoloë, wat blote onbenullighede bied. Dit dui sterk daarop dat die Bybel se antwoorde van ’n bonatuurlike bron geopenbaar is.

Waarom ignoreer kritici en skeptici – wat dikwels hooggeleerd is – dan die feite en maak steeds aanspraak dat die Bybel net ’n versameling mites en legendes is, onbetroubaar as ’n bron van geskiedkundige, teologiese of wetenskaplike inligting? Is dit betekenisvol dat sekulêrdenkende geleerdes twyfel oor die Bybel in die gemoed van miljoene mense vandag gewek het? Wat is die gevolge wanneer ’n mens die bewyse ignoreer dat die Bybel die geïnspireerde Woord van God is? Die Skrif gee insiggewende antwoorde en bied somber waarskuwings.

Die Bybel onthul die oorsaak van hierdie wydverspreide bedrog: Dit is Satan “wat die hele wêreld verlei” (Openbaring 12:9). Ons kan dit beslis sien wanneer ons dink aan die ongelooflike wanopvattings wat so baie mense oor die Bybel aangeleer het. Jesus profeteer dat een teken van die “voleinding van die wêreld” die toenemende aantal vals leermeesters sal wees wat “baie mense mislei” deur vals leringe te versprei (Mattheus 24:3-5, 11). Die apostel Petrus waarsku dat vals leraars op subtiele wyse “verderflike ketterye” sal invoer wat die waarheid van God ongeloofwaardig sal maak en baie mense sal mislei (2 Petrus 2:1-3). Hy waarsku ook dat daar “aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel” wat die Skrif in twyfel trek en die feite van die geskiedenis sal ignoreer (sien 2 Petrus 3:3-9). Hierdie misleiding sal wydverspreid voorkom teen die voleinding van die wêreld.

Die apostel Paulus onthul egter dat spotters en vals leraars ernstige gevolge sal maai van die God wat hulle bespot en verloën. Hy skryf: “Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al ... die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is ... sodat hulle geen verontskuldiging het nie; omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik ... het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister. Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword” (Romeine 1:18-22). Paulus se verdoeming van die misleide heidense intellektuele van sy tyd is ook van toepassing op die misleide geleerdes en kritici van vandag – wat die kragtige bewyse ignoreer wat op God dui as die skrywer en ondersteuner van die Bybel. Ons moet onthou dat daar ’n komende oordeel is!

Die treffende vermanings wat die profeet Jeremia teen sy tydgenote gelewer het, is ook op ons huidige tyd van toepassing. Jeremia waarsku “en die profete sal wind word; ja, die Woord [van God] is nie by hulle nie ... die profete profeteer vals, ... en my volk wil dit graag so hê ... bedrieglik werk die leuenpen van die skrywers ... Die profete profeteer vals in my Naam; Ek het hulle nie gestuur [nie] ... profete is van die bedrieëry van hulle hart – is hulle daarop bedag om my volk my Naam te laat vergeet deur hulle drome ... en my volk verlei met hulle leuens en hulle grootpratery ... en hulle vir hierdie volk hoegenaamd geen voordeel bring nie” (Jeremia 5:13, 31; 8:8; 14:14; 23:26, 30-32). God sê deur Jeremia, omdat Sy volk “my wet ... verlaat het en na my stem nie geluister ...[het] nie, maar gewandel het agter die verhardheid van hulle hart ... aan, ... [daarom] verstrooi [Ek] hulle onder die nasies wat hulle en hul vaders nie geken het nie, en stuur die swaard agter hulle aan totdat Ek hulle verteer het (Jeremia 9:13-16). Die Bybel onthul duidelik dat ernstige gevolge diegene sal tref wat die Wette van die Here versaak en hul eie teorieë bevorder, of diegene volg wat dit doen.

Wonderlike voordele kom egter na diegene wat bewys en glo dat die Bybel God se geïnspireerde Woord is en wat God se Bybelse opdragte volg. Koning Dawid skryf: “Welgeluksalig is die opregtes ... wat in die wet van die HERE wandel ... U gebooie maak my wyser as my vyande ... U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad ... Die wat u wet liefhet, het groot vrede, en vir hulle is daar geen struikelblok nie ... al u gebooie is waarheid ... Die hele inhoud van u woord is waarheid” (Psalm 119:1, 98, 105, 151, 160, 165). Die Bybel onthul dat God gunstig sal kyk na diegene wat ’n diepe respek vir Sy Woord aankweek en bereid is om die opdragte daarin te volg. Die profeet Jesaja skryf: “Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord” (Jesaja 66:2).

Die Bybel onthul dat God mense nie oorgelaat het om rond te spartel sonder fundamentele riglyne, of sonder belangrike antwoorde op die lewe se belangrike vrae nie. God het die Bybel geïnspireer en bewaar op ’n wyse wat geen ander boek ooit bewaar is nie. Hy het die Skrif met honderde profesieë gevul wat die toekoms akkuraat voorspel – wat die Bybel onderskei van alle ander godsdienstige boeke op aarde. Die ontdekkings van argeologie en die feite van die geskiedenis bevestig nog steeds die geldigheid van die Skrif, selfs al is dit duisende jare gelede geskryf. Hierdie feite is bloot verbysterend en kan nie met redelikheid ontken word nie!

Wanneer u die kritici se aansprake oor die Bybel teen die geweldige bewyse van die Bybel se goddelike inspirasie opweeg, word u gelaat met ’n duidelike keuse. U kan besluit om die kritici se teorieë te glo wat dalk effense grondslag in feite mag hê, terwyl u wag vir die volgende teorie om te verander en aannames om hersien te word. Of u kan die bewyse van argeologie, geskiedenis en vervulde profesie vertrou, wat duidelik onthul dat die Bybel die geïnspireerde Woord van God is – dit is ’n feit, nie fiksie nie!

Laai af in PDF (161 KB) | Bestel GRATIS Gedrukte Uitgawe
Geliewe daarop te let dat genoemde boekies nie by Bruid van Yeshua beskikbaar is nie, maar dat u dit direk kan bestel vanaf
Die Lewende Kerk van God of u kan die PDF dokument aflaai indien beskikbaar. Baie Dankie.