El-Roi - Afrikaans

Studies

Gedigte

God

Israel

Profesiee

Satan

Studies
Gedagtes rondom die Christelike doop
Die onderwerp van die doop is seker die een saak waaroor daar meer gepraat en geskryf en gewonder en verskil word as oor enige ander saak wat met die Christelike geloof te make het. En tog sê die Woord: "Daar is net een doop ..." (Efes 4:4-5). Ek is maar te bewus daarvan dat nog 'n geskrif oor die doop net nog verdere verwarring mag meebring en van nuuts af twyfel mag saai in die harte van mense wat in alle eerlikheid soek na antwoorde uit Yahweh se Woord. Ek hoop van harte dat hierdie skrywe nie so 'n effek sal hê nie. Behalwe as dit 'n soort twyfel is wat lei tot die ontdekking van iets wat Yahweh wil hê ons moet weet. Ek skryf veral omdat ek graag wil probeer om (sommige van die) vrae op te klaar - veral vrae in die harte van mense wat, soos ek, van kleins af net aan een beskouing van die doop (nl. die gereformeerde beskouing) blootgestel is. En ek skryf omdat Yahweh in my eie lewe 'n nuwe oortuiging oor die doop gebring het wat so sterk was, dat ek nie anders kon as om my te laat doop nie - 'n daad van gehoorsaamheid aan Hom wat direk daartoe gelei het dat ek in Desember 1998 as predikant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk geskors is.

1. Die besluit om my te laat doop was geen geringe besluit nie. Ek het dit nie maar net gedoen omdat ek "anders" wou wees of 'n "stelling" wou maak nie. Ek het my laat doop omdat Yahweh deur sy Woord en sy Gees met my daaroor gepraat het en my oor 'n periode van langer as drie maande onteenseglik daarvan oortuig het dat die praktyk van die suigelingdoop nie reg laat geskied aan die diepste betekenis van die doop, soos wat dit in duidelike taal in Yahweh se Woord na vore gebring word nie. Ek wil op geen manier 'n oordeel uitspreek oor diegene wat as babas besprinkel en nie as gelowiges gedoop is nie. Ek betwyfel hoegenaamd nie hulle redding of die opregtheid van hulle geloof nie.

2. Daar word vandag talle vrae rondom die doop gevra. Waarom laat sommiges hulle doop en bly dan stil daaroor om so min as moontlik konflik te veroorsaak? Is die doop dan nie een van die sentrale aspekte van ons geloof nie?

Waarom het die doop deur die eeue heen soveel stryd en konflik veroorsaak? Waarom word mense wat hulle laat doop dikwels swaarder "gestraf" as hulle wat ooglopend in ongehoorsaamheid voor Yahweh lewe? Is die doop noodsaaklik vir ons redding? Is dit 'n wesenlike deel van die evangelie? As dit nie 'n wesenlike deel van die evangelie is nie, waarom veroorsaak dit soveel verdeeldheid? As dit nie 'n wesenlike deel van die evangelie is nie, waarom word mense wat hulle laat doop, verag en verwerp en selfs uitgeskuif? Waarom is daar soveel aspekte van die gereformeerde doopleer wat vir die man op straat nie klop met die Woord nie? Waarom word 'n leerstuk wat nie klop met die Woord nie, so gelate en kritiekloos deur Christene regoor die wêreld aanvaar? Waarom is daar so 'n geheimsinnige stilswye oor die doop as die doop bedoel is om onder meer 'n openbare getuienis te wees? En so kan 'n mens aangaan...

3. Vergelyk 'n mens die Nuwe Testamentiese praktyk van die doop met dit wat vandag op grondvlak in gemeentes gebeur, is daar 'n aantal dinge wat onmiddellik opval:

3.1 Die doop in die Nuwe Testament was die grootste enkele simbool/ illustrasie/ bevestiging van mense se verbintenis met Yahshua (vgl Rom 6:4). Dit is ondenkbaar dat gelowiges wat gedoop is daaroor sou stilbly asof dit nie werklik so belangrik is nie. Ek glo vas 'n mens word alleen deur geloof in Yahshua die Messias gered, en nie deur jou doop nie (vgl Gal 2:16), maar dis jammer dat diegene wat so gretig is om die "nie-saligmakende" karaker van die doop te beklemtoon, nie altyd eerlik genoeg is om te erken dat die bekeringsdoop deel is van die wil (Luk 7:29) en die bedoeling (Luk 7:30) van Yahweh nie. Vir Paulus was die doop so 'n sentrale aspek van die geloof, dat hy so ver gaan om te sê dat diegene wat in die Messias glo, deur die doop met die Messias verenig is en deel van die Messias geword het (Gal 3:27). Die feit dat hy aan die Korintiërs skryf dat die Messias hom nie gestuur het om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig (1 Kor 1:17), dui hoogstens daarop dat Paulus (wat homself in die heel eerste plek as apostel en evangelis sien) self nie die doop aan baie mense bedien het nie, maar doen geensins afbreuk aan die feit dat die Messias aan die apostels die opdrag gegee het om diegene wat tot geloof kom, te doop nie (Mat 28:19; Mark 16:16). Ons kan daarvan seker wees dat elkeen van die honderde mense wat onder Paulus se prediking tot geloof gekom het, in ooreenstemming met die opdrag van Yahshua gedoop is (vgl. Hand 18:8).

3.2 Ook die apostel Petrus sien die doop as 'n uiters belangrike aspek van ons verlossing as hy daarop wys dat die manier waarop Noag en sy mense deur die water gered is, 'n heenwysing is na die doop waardeur julle (dws die gelowiges in die Messias) ook nou gered word (1 Pet 3:21). Ons weet dat dit eintlik die ark is wat vir Noag en sy mense gered het en dat dit Yahshua is wat vir ons red, maar vir Petrus staan die doop hierin so sentraal dat hy sê ons word deur (dws "langs die weg van...") die doop gered.

3.3 Juis omdat die doop binne die konteks van die Christelike geloof so belangrik is, is dit vir my onaanvaarbaar om vredesonthalwe liewer oor die doop, of oor sekere aspekte daarvan, te swyg. Tog is dit wat in die praktyk in baie gemeentes gebeur. Lidmate en selfs predikante sit met ernstige vrae oor die "doop" van suigelinge in hulle harte, baie lidmate verstaan hoegenaamd nie hulle kerk se standpunt oor die doop nie en nog ander heg hulle eie onbybelse interpretasie aan die doop, ongeag hoe suiwer leraars die kerk se standpunt van die kansel af verkondig. Maar omdat die "suigelingdoop" so vasgelê is in die gereformeerde tradisie en die kerk in die verlede dikwels met tugmaatreels vorendag gekom het as iemand in hierdie opsig 'n "misstap" begaan, verkies meeste mense om die doop af te maak as "nie so belangrik nie" en liewer stil te bly oor die hele aangeleentheid. Hierdie onnatuurlike, selfopgelegde stilswye oor, en onderbeklemtoning van die doop het die kerk tot 'n groot mate beroof van die seën wat die doop veronderstel is om vir almal in te hou. Ek is bewus van lidmate wat andersins heeltemal tuis voel in hulle gemeente, maar wat eenvoudig nie kerk toe gaan wanneer babas tydens die erediens "gedoop" word nie!

3.4 Saam met die persoonlike oortuiging dat ek my as 'n daad van gehoorsaamheid moes laat doop, het daar ook 'n verdere oortuiging in my hart posgevat: dat ek alles in my vermoë sou doen om die dekmantel bo-oor die doopkwessie te verwyder en geleentheid te skep vir mense om hulle harte hieroor uit te praat. Elke gelowige, en ook elke gemeente, behoort in alle eerlikheid, en met verantwoording teenoor Yahweh, 'n standpunt oor die doop in te neem wat hulle ten volle as die Vader se wil vir hulle lewens kan aanvaar.

4. Baie mense wil graag weet op watter Bybelse gronde ek tot die oortuiging gekom het dat die praktyk van die "suigelingdoop" nie reg laat geskied aan die ware betekenis van die doop nie. Ek wil probeer om kortliks hierop te antwoord.

4.1 In die Nederlandse Geloofsbelydenis, een van die gereformeerde belydenisskrifte, word meer as een maal daarop gesinspeel dat die Nuwe Testamentiese doop in die plek van die Ou Testamentiese besnydenis ingestel is. Volgens hierdie siening sou dit beteken dat die doop, net soos die besnydenis, in die heel eerste plek 'n teken is van ons insluiting in Yahweh se verbond met sy volk. Wat behels hierdie verbond in die Ou Testament? Daar is sprake van verskeie verbonde in die Ou Testament, waarvan die verbond met Abraham die bekendste is. Volgens Gen 17:7-11 het Yahweh die volgende verbond met Abraham aangegaan:"Ek bring 'n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is 'n blywende verbond: Ek sal jou Elohim wees en ook die Elohim van jou nageslag. Ek gee aan jou en jou nageslag die land waar jy as vreemdeling woon, die hele Kanaan, as 'n blywende besitting, en Ek sal hulle Elohim wees. Verder het Elohim vir Abraham gesê: Jy moet my verbond nakom, jy en jou nageslag en al hulle nageslagte. Dit is my verbond wat moet geld vir jou en jou nageslag: elke lid van die manlike geslag onder julle moet besny word. Julle moet besny word aan die voorhuid. Dit is die verbondsteken tussen My en julle..." In hooftrekke, dus, behels die verbond in die Ou Testament die volgende: Yahweh belowe aan sy volk dat Hy hulle Elohim sal wees en hulle sal seën, en van hulle verwag Hy dat hulle sy volk sal wees en Hom in gehoorsaamheid sal dien. Wanneer 'n Israelitiese seuntjie besny word, beteken dit effektiewelik dat hy, en almal wat later deur huwelik of voortplanting aan hom verbind sal word, deel het aan hierdie verbond.

4.2 In die lig van Nuwe Testamentiese gedeeltes soos Mat 26:28; 1 Kor 11:25; 2 Kor 3:6 en Heb 8 en 9 het gereformeerdes vir eeue lank volgehou dat die verbonde in die Ou Testament in Yahshua die Messias besondere en nuwe betekenis gekry het en dat alle gelowiges vandag in 'n nuwe verbond met Yahweh staan. Dit is ook in lyn met die profesieë van die Ou Testament (vgl. Jer 31:31-34 en Eseg 34:20-31) en ek kan my heeltemal met hierdie standpunt vereenselwig. Waarmee ek my egter glad nie kan vereenselwig nie, is dat daar 'n direkte lyn getrek word vanaf die verbond en die besnydenis in die Ou Testament na die doop in die Nuwe Testament. Ek vind niks in die hele Bybel om so 'n "sprong" te regverdig nie. Die Nuwe Testament gebruik verskillende beelde en begrippe om die gelowige se verhouding met Yahweh te probeer omskryf (bv volk van Yahweh; kinders van Yahweh; burgers van Yahweh se koninkryk; lede van die liggaam van die Messias; ensovoorts). Die verbondsgedagte is maar net een daarvan. Maar nêrens in die Bybel word gemeld dat die doop 'n teken van die verbond is nie; nêrens word verbond en doop in dieselfde konteks gebruik nie - daar is selfs nie 'n enkele vers waarin beide woorde gelyktydig voorkom nie. Ek vind dit moeilik om te glo dat kerke na soveel eeue nog volhou om 'n teologiese leerstuk (die leer van die verbondsdoop) te verdedig wat kerklik gesproke as uiters belangrik en sentraal beskou word, maar Bybels gesproke op uiters wankelende bene staan!

4.3 Daar word dikwels na Kol 2:11-12 verwys ter ondersteuning van die gedagte dat die doop in die plek van die besnydenis gekom het: "Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook besny, nie met die besnydenis wat deur mense verrig word nie, maar met die besnydenis deur die Messias, en dit bestaan in die wegneem van die sondige natuur van die mens. Dit het by die doop gebeur deurdat julle toe saam met Hom begrawe is. Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook saam met Hom opgewek, omdat julle geglo het in die krag van Elohim wat Hom uit die dood opgewek het." As die doop vir ons as Nuwe Testamentiese gelowiges werklik in die plek van die besnydenis gekom het, beteken dit vir ons geld die besnydenis nie meer nie, maar wel die doop. As "B" in die plek van "A" gekom het, is "A" immers nie meer van toepassing nie. Dit is egter nie wat Paulus in Kol 2 sê nie. Hy sê juis: die besnydenis is wel op ons as Nuwe Testamentiese gelowiges van toepassing - nie die besnydenis wat deur mense verrig word nie, maar die besnydenis deur die Messias. In elke gelowige se lewe het daar 'n geestelike besnydenis plaasgevind: die Messias het ons sonde vergewe en so ons sondige natuur "weggesny".

Dit is ook wat deur die doop uitgespel word. Die doop is soos 'n begrafnis waar ons sonde vergewe word, ons sondige natuur begrawe word, en die gelowige in verbondenheid met Yahshua opgewek word. Daar is geen manier hoedat 'n mens met verantwoordelike Bybeluitleg uit hierdie gedeelte die gevolgtrekking kan maak dat die Nuwe Testamentiese praktyk van die doop in die plek van die Ou Testamentiese praktyk van die besnydenis gekom het nie.

Daar word 'n hele aantal keer in die Nuwe Testament na die praktyk van die besnydenis verwys. Meeste van die kere word hierdie onderwerp ter sprake gebring omdat daar dikwels 'n probleem in die vroeë gemeentes ontstaan het deurdat gelowiges uit Joodse agtergrond verwag het dat hulle nie-Joodse broers ook besny moes word wanneer hulle tot geloof in Yahshua die Messias kom. Hierdie probleem is later opgelos toe daar deur die leiers 'n besluit geneem is dat dit nie nodig is dat nie-Jode wat pas tot geloof gekom het hulle moes laat besny nie (vgl. Hand 15). Die opvallende is egter dat nóg in Handelinge 15 (waar daar vir ons 'n breedvoerige bespreking opgeteken is oor die voortgesette rol van die besnydenis, al dan nie), nóg op enige ander plek waar die Nuwe Testament oor die fisiese besnydenis praat, word daar een enkele woord oor die doop gemeld of selfs net die suggestie gemaak dat die doop in die plek van die besnydenis gekom het.

As die Nuwe Testamentiese skrywers (en gelowiges) wel van mening was die doop in die plek van die besnydenis gekom het, waarom word daar dan nooit 'n enkele woord oor die doop gemeld wanneer die rol van die besnydenis bespreek word nie? As die Christelike doop werklik in die plek van die besnydenis gekom het, waarom het die apostels nie juis hierdie argument gebruik om dit eens en vir altyd duidelik te maak dat die nie-Joodse Christene hulle nie hoef te laat besny nie - hulle is immers reeds gedoop? Diegene wat vandag so volhou daarmee dat die doop in die plek van die besnydenis gekom het, wil ons laat glo dat dit nie soseer gaan oor dit wat swart op wit in die Bybel staan nie, maar oor dit wat agter die teks van die Bybel staan - dit wat met teologiese insig gesnap en afgelei kan word. Ek is bevrees Yahweh het nooit bedoel dat sy wil vir die gewone Bybelleser verborge sal wees en slegs deur sogenaamde "kundiges" verstaan kan word nie.

4.4 Hand 2:38-39 is 'n gedeelte in die Skrif wat dikwels omgebuig word om byna die teenoorgestelde betekenis aan te neem as wat die skrywer, Lukas, daarmee bedoel het: "Toe antwoord Petrus hulle: 'Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Yahshua die Messias, en Elohim sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. Wat Elohim belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat Yahweh ons Elohim na Hom toe sal roep." Hoe dikwels het ek nie al gehoor nie hoedat vers 39 in 'n verbondskonteks gebruik word om die argument te versterk dat Yahweh sy verlossing uit genade aan ons as gelowiges skenk -nie net aan ons nie, maar ook aan ons kinders, ja, selfs aan babas en suigelinge - op grond van die feit dat hulle die kinders van gelowiges is. Maar is dit werklik wat hierdie gedeelte vir ons sê? Ek verstaan vers 39 só: Dit wat Yahweh belowe het (d.w.s. al die beloftes van die Ou Testament, maar in die besonder die belofte van die Heilige Gees, vgl. 2:17-18 en 2:38), "is vir julle en vir julle kinders" (d.w.s. vir die Jode wat op daardie oomblik na Petrus geluister het, vgl. 2:14; 2:22; 2:29 en 2:36, maar nie net vir hulle nie - ook vir die geslagte Jode wat na hulle sou kom) "en vir almal wat daar ver is, vir almal wat Yahweh ons Elohim na Hom toe sal roep" (d.w.s. Jode en selfs nie-Jode van alle oorde en alle tye - dus ook mense soos ons - wat deur Yahweh se genade die boodskap van die evangelie sou hoor). Is daar enige van hierdie groepe mense teenoor wie Yahweh sy beloftes outomaties sal waar maak? Nee, beslis nie. Die beloftes is vir hulle (en vir ons) bedoel en in sy groot genade het Yahweh daardie beloftes deur sy Seun en deur sy Gees reeds 'n werklikheid laat word, maar daar is iets wat ons moet doen (vgl 2:37). Ons moet ons bekeer en laat doop (vers 38); ons moet ons laat red tussen die ontaarde mense van hierdie wêreld (vers 40); ons moet die woorde van die evangelie aanneem (vers 41). Dit is nie 'n verskraling van die redding uit genade alleen nie, dit is die suiwer, Bybelse boodskap van die mens se gelowige aanvaarding van dit wat Yahweh uit genade aan hom skenk.

4.5 Daar is 'n duidelike verskil tussen die "ou verbond" en "nuwe verbond" wat ons nooit uit die oog mag verloor nie: elke gebore lid van die Joodse volk was inbegrepe by die voorregte en die verantwoordelikhede van die ou verbond - niemand is uitgesluit nie en elke Joodse babaseuntjie is daarom ook besny. Met die "nuwe verbond" is dit anders. Dis 'n "vernuwing" van die verbond tussen dieselfde twee partye (d.w.s. tussen Yahweh en Israel - met die uitbreiding dat nie-Israeliete soos wilde olyfboomtakke op die oorspronklike olyfboom ingeënt kan word, Rom 11), maar die "nuutheid" bestaan daarin dat daar vergifnis is deur die bloed van die Messias van die ongeregtigheid van die verlede en die moontlikheid van oorwinning oor sonde deur die innerlike werking van die Gees. Hierdie twee aspekte word op 'n onmiskenbare wyse deur die sterwe en die opstanding van Yahshua op die voorgrond geplaas en elkeen wat werklik glo dat die bloed van die Messias die bloed van die nuwe verbond is (vgl.Matt 26:28) word ingesluit in die nuwe verbond. (vgl. 2 Kor 3:6-11; Efes 2:11-19). Sonder hierdie geloof in, en vereenselwiging met, die dood en opstanding van Yahshua, is daar vir geen mens - Jood of nie-Jood - enige moontlikheid van insluiting in die nuwe verbond nie.

Om te beweer dat iemand deel kan wees van die nuwe verbond op grond van die feit dat sy ouers, of enige iemand anders as hyself, gelowiges is, druis in teen alles wat die Nuwe Testament leer (vgl. onder meer Mark 16:16; Luk 5:20; Joh 1:12; Hand 5:14; Rom 1:16; 2 Kor 3:14; Gal 2:16; Ef l:1; Fil 3:9; Kol 2:12; ens). Ten spyte van die feit dat die Bybel geloof in Yahshua die Messias as die enigste, maar ook onmisbare vereiste vir ons insluiting in die nuwe verbond beskou, hou die meeste gereformeerde kerke nog vol met die standpunt dat Yahweh "kinders van die begin af insluit in sy verbond". Die Nederlandse Geloofsbelydenis sê in soveel woorde dat die dopeling in die kerk (d.w.s. die gemeenskap van gelowiges) opgeneem word; as kind van Elohim weergebore word; van alle vuilheid en ongeregtigheid gereinig word; van die ou mens en al sy werke ontklee word en met die nuwe mens beklee word. Die Bybel en die praktyk leer egter dat hierdie dinge slegs met 'n mens gebeur wat sy eie verlorenheid voor Yahweh besef, berou het oor sy sonde en Yahweh se gawe van verlossing deur Yahshua die Messias in die geloof sy eie maak. Ons hoef die Bybel nie teologies te manipuleer om die ewige bestemming van klein kindertjies op 'n vaste grondslag te plaas nie. Dink ons vir een oomblik Yahweh, wat absoluut regverdig en barmhartig is, sal nie reg en genade betoon teenoor diegene wat (nog) nie die kans gehad het om op sy genade-aanbod te reageer nie?

4.6 Wat van die gedeeltes in die Nuwe Testament waar ons lees van mense wat tot geloof gekom het en dat "hy en sy huisgesin" of "sy en haar huisgesin" kort daarna gedoop is? Sou daardie huisgesinne nie ook babas kon insluit nie? Die Griekse woord "oikos" kan ook met "huishouding" vertaal word en verwys waarskynlik na meer as net gesinslede, dit wil sê ook slawe, werknemers en bywoners wat deel uitmaak van die totale huishouding. Tereg wys Skrifverklaarders daarop dat gesinsverhoudinge en groepsverbondenheid in die Bybelse tyd baie belangrik was en dat wanneer 'n gesinslid byvoorbeeld tot geloof sou kom, dit 'n bepaalde uitwerking op die ander lede van die huishouding sou hê.

Om hieruit egter die afleiding te maak dat selfs gesinslede wat nie self geglo het nie (bv. suigelinge) ook "gedoop" is as die gesinshoof tot geloof gekom het, is in stryd met wat die hele Nuwe Testament oor die doop leer en daarom hoogs onwaarskynlik. Daar is vyf gedeeltes in die Nuwe Testament wat melding maak van 'n "oikos" of huishouding wat gedoop is, maar in minstens drie van hierdie vyf gedeeltes word uitdruklik gesê dat die lede van die huishouding wat saam met die gesinshoof gedoop is, ook die evangelie geglo (of aangeneem) het - die moontlikheid dat dit babas kon wees, is dus totaal uitgesluit - vgl. Hand 10:44-48, saam met Hand 11:14-17 (Kornelius); Hand 16:31-34 (die tronkbewaarder) en Hand 18:8 (Krispus).

Die oorblywende twee persone van wie gesê word dat hulle "oikoi" (meervoud van oikos) ook gedoop is, is Lidia (Hand 16:13-15) en Stefanas (1 Kor 1:16). Dit is baie interessant dat daar elders in die Bybel verwysings na beide hierdie twee "oikoi" is. In Hand 16:40 word ons meegedeel dat Paulus en sy geselskap na hulle gevangenskap "na die huis van Lidia gegaan" het en dat hulle daar die "broeders" (dit wil sê diegene wat kort tevore saam met Lidia gedoop is) bemoedig het. Om selfs net die moontlikheid oop te laat dat daar onder hierdie "broeders" ook suigelinge kon gewees het (wat bemoedig moes word!) klink maar moeilik om te aanvaar. En in 1 Kor 16:15 word daar van die "oikos" van Stefanas gesê dat "hulle hul tot diens van die heiliges gestel het" - eweneens iets wat beswaarlik van suigelinge gesê sou kon word!

4.7 Iets wat mense se siening van die doop geweldig sterk beinvloed, is die feit dat die doop dikwels verkeerdelik aan 'n sekere Bybelse waarheid gekoppel word om sodoende teologiese geloofwaardigheid aan die praktyk van die "suigelingdoop" te verleen. Ek het reeds probeer aantoon (veral by 4.2 hierbo) hoedat dit in die geval van doop en verbond gebeur. Dieselfde fout word ook gemaak in die geval van doop en genade. Die argument word dikwels gebruik dat 'n mens die "suigelingdoop" kan regverdig omdat dit die waarheid onderstreep dat ons verlossing slegs uit genade is en dat die mens van sy kant af niks kan doen om sy verlossing te verdien nie. 'n Baba kan immers letterlik niks doen om sy verlossing te verdien nie! Niemand betwyfel die waarheid dat ons verlossing slegs uit genade, en nie uit verdienste is nie. Die probleem is net: die Bybel hou vol dat ons die evangelieboodskap van genade slegs deur geloof ons eie kan maak (vgl. 4.5 hierbo) en daar is nêrens enige aanduiding dat babas gedoop mag word (op grond van hulle ouers se geloof, of op grond van hulle eie geloof wat hopenlik later gestalte sal aanneem) om die waarheid van die verlossing uit genade alleen na vore te bring nie.

4.8 Op soortgelyke wyse word die doop ook foutiewelik gekoppel aan die waarheid dat Yahweh kinders liefhet en dat Yahshua die kindertjies geseën het en hulle tipe geloof as voorbeeld vir grootmense voorgehou het (vgl. Mark 10:13-16). Niemand betwyfel die waarheid daarvan dat Yahweh kinders besonder liefhet en dat hulle kosbaar in sy oë is nie. Maar dit op sigself gee ons nie die reg om die kinders van gelowiges voor die voet te doop nie! Yahshua het nie kindertjies gedoop nie en Hy het ook nooit aan sy volgelinge opdrag gegee om kindertjies te doop nie. Wat Yahshua wel gedoen het, is dat Hy die kindertjies wat na Horn toe gebring is, geseën het en miskien is dit 'n voorbeeld wat ons in die kerk ook met groot vrymoedigheid kan navolg. Die doop word ook dikwels gekoppel aan die waarheid dat ouers hulle kinders aan Yahweh moet toewy en in sy weë moet grootmaak (vgl. Deut 6:7; Spr 22:6; Jes 8:18). 'n Baie groot persentasie van alle ouers wat hulle kinders in die N.G. Kerk laat doop, sien die doop as 'n geleentheid waar hulle hulle kinders aan Yahweh toewy. Hoe mooi hierdie gedagte ook al mag klink, dit is hoegenaamd nie in lyn met wat die Bybel (of die NG Kerk) oor die doop verkondig nie. Die bedoeling met die doop is dat dit in die eerste plek die geloof van die dopeling self moet versterk en bevestig en verkondig - nie die geloof of die toewyding van sy ouers of van die gemeente nie!

4.9 Uit die geskrifte van die Nuwe Testament as geheel is dit duidelik dat elke nuwe gelowige in die Naam van Yahshua, die Messias gedoop is en nie "in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees" nie. 'n Studie van gedeeltes soos Joh 10:9; Joh 14:6; Hand 2:38; Hand 4:12; Hand 8:16; Hand 10:48; Hand 19:5; Hand 22:16; Rom 6:3,4; 1 Kor 1:11-13; Gal 3:26-29 toon onteenseglik dat die vroeë gelowiges almal in die Naam van die Messias gedoop is. Die formule "in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees" kom nêrens anders in die Skrif voor as net in Matt 28:19 nie en baie Skrifkenners meen dat hierdie formule later in die teks van Matteus ingevoeg is, nadat die kerk van die 2 de en 3 de eeu n.C. begin het om hierdie (onskriftuurlike?) formule in hulle leerstellinge en spreektaal in te bring. Hoe dit ook al sy, dis hoegenaamd nie nodig om die korrektheid van Matt 28:19 in twyfel te trek nie. Die opdrag van die Messias was dat nuwe dissiples in 'n sekere "Naam" (enkelvoud) gedoop moes word. Geeneen van die drie begrippe "Vader", "Seun" of "Heilige Gees" kan werklik as 'n "naam" beskou word nie (almal is beskrywende titels van die Godheid). Daarom het die apostels, toe hulle hierdie opdrag van hulle Meester begin uitvoer het, reg van die begin af die gelowiges gedoop in die Naam van Yahshua, die Messias - die enigste naam "wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word" (Hand 4:12). Ek meen dat ons vandag dieselfde behoort te doen.

5. Wat is dan die ware en diepste betekenis van die doop, volgens die onfeilbare Woord van Yahweh? Omdat die antwoord op hierdie vraag tot 'n groot mate reeds uit bogenoemde afgelei kan word, gaan ek volstaan deur slegs enkele van die vernaamste aspekte uit te lig.

5.1 Die doop waarmee Johannes die Doper mense gedoop het en wat as 'n voorloper van die Christelike doop gesien kan word (omdat dit voor Yahshua se dood en opstanding plaasgevind het) het in die openbaar plaasgevind en deurgaans met die aspekte van sondebelydenis en bekering gepaard gegaan (vgl. Mat 3:2-12; Mark 1:4-5; Luk 3:3; Hand 13:24). Hier het die doop dus die betekenis van 'n persoonlike en openbare belydenis van 'n keuse wat mense gemaak het, naamlik die keuse om hulle sondes te bely en van 'n sondige lewenswyse na Yahweh toe terug te keer. Die doop wat ná Yahshua se hemelvaart aan mense bedien is, het ook hierdie betekenis gehad (vgl. Hand 2:38; Hand 22.16; 1 Pet 3:21). Die feit dat Yahshua Hom ook deur Johannes die Doper laat doop het, dui daarop dat Yahshua Homself volledig met ons, as sondige mense, vereenselwig en 'n voorbeeld stel wat deur al sy volgelinge nagevolg behoort te word.

5.2 Vir die apostels was die doop egter meer as net 'n teken van sondebelydenis en bekering. Die doop was vir hulle 'n identifikasie, 'n vereniging; 'n stuk gemeenskap met die Messias. As iemand hom laat doop het, het hy in werklikheid getuig: Net soos die Messias gesterf het, sterf ek ook en net soos die Messias opgestaan het, staan ek ook op in 'n nuwe lewe (vgl. Rom 6:3-5; Kol 2:12). Die feit dat ek my laat doop het, beteken dat ek my met Yahshua beklee, dat ek Yahshua aantrek soos wat 'n mens 'n kleed aantrek (Gal 3:27, Ou Vertaling). Wanneer ek my laat doop, gebeur daar iets wat van deurslaggewende belang is vir my verhouding met Yahshua die Messias: dit wat Hy 2000 jaar gelede vir my en in my plek gedoen het, is nou nie meer 'n koue feit waarvan ek bloot net kennis neem nie - nee, dit is nou iets waaraan ek self deel gekry het: deur die geloof en deur my doop het ek dit my eie gemaak - ek kan nou waarlik sê: die Messias het ook vir my verlossing gebring!

5.3 Dit is opvallend hoe dikwels die Nuwe Testament in dieselfde konteks van die doop en die Heilige Gees praat (vgl. Mat 3:11; Mat 28:19; Mark 1:8; Luk 3:16; Joh 1:33; Hand 2:38; Hand 8:16; Hand 10:47; Hand 11:16; Hand 19:1-6; 1 Kor 12:13; 1 Joh 5:6). Sonder om hier in detail in te gaan op die hele kwessie van die doop met die Heilige Gees (waarna die meerderheid van bogenoemde tekste verwys), is dit belangrik om raak te sien dat die Christelike doop 'n deur oopmaak vir die kragtige werking van die Heilige Gees in ons lewens. Petrus se uitspraak in Hand 2:38 is in hierdie verband van deurslaggewende belang: "Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Yahshua die Messias, en Elohim sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang ..." As 'n mens die gereformeerde siening van die doop konsekwent toepas, kom dit daarop neer dat die kinders van gelowige ouers as babas reeds die Heilige Gees ontvang het en dat daar nie werklik ruimte is vir die ontvangs van die Heilige Gees as gawe op 'n later stadium van hulle lewe nie! Ek dink nie dis toevallig dat die eerste Christelike doopplegtigheid en die uitstorting van die Heilige Gees op presies dieselfde dag plaasgevind het nie (vgl. Hand 2:1-4 en 38-41). Dit is baie interessant om in hierdie verband ook kennis te neem van Johannes se uitspraak in 1 Joh 5:6-8: "Die Een wat deur die water van sy doop en die bloed van sy dood na ons toe gekom het, is Yahshua die Messias; nie net deur die water nie, maar deur die water en die bloed. Die Gees is die getuie daarvan, en die Gees is die waarheid. Daar is dus drie wat getuig: die Gees en die water en die bloed, en die drie se getuienis stem ooreen..." Volgens Johannes het Yahweh dit so gewil dat daar drie "getuies" moet wees wat vir die gelowige in sy geloofslewe moet versterk en aanspoor, nl. die Heilige Gees, die water van die doop en die bloed van Yahshua die Messias. Hoeveel gelowiges is daar nie vandag nie wat op een of ander manier probeer klaarkom sonder een of meer van hierdie "getuies" in hulle lewe en in die proses nie naastenby die mate van geloofsekerheid en geloofsgroei beleef wat Yahweh vir hulle bestem het nie!

Ek hoop en bid werklik dat hierdie klompie gedagtes mag bydra tot eerlike en selfondersoekende denke rondom die saak van die doop en dat dit nie tot (verdere) klipgooiery en swartsmeerdery sal aanleiding gee nie. My gebed is dat elke leraar en elke gemeenteleier besondere wysheid van Yahweh sal ontvang om lidmate in hierdie verband met groot deernis en pastorale sensitiwiteit, maar baie belangrik: ook in die waarheid, te begelei. 'n Mens doen onmeentlike skade aan jouself en aan andere wanneer jy bonatuurlike waarheid en menslike wysheid met mekaar verwar en dit so verkondig. Mag Yahweh gee dat die miernes wat oopgekrap word, elke keer as iemand in 'n gemeente opstaan en besluit om hom of haar in gehoorsaamheid aan die Woord te laat doop, uiteindelik nuwe lig en nuwe lewe te voorskyn bring in areas waar die waarheid van die doop grootliks nog verborge is.

Persoonlike getuienis deur John Wahl, geskryf in Desember 1998, kort na sy eie doop en gevolglike skorsing as leraar van die NG Kerk, en effens aangepas in Januarie 2002.