El-Roi - Afrikaans

Studies

Gedigte

God

Israel

Profesiee

Satan

Studies

Chirstelike Sabbat
deur Dr. Roderick C. Meredith
Die Lewende Kerk van God

Verstommende gebeure gaan binnekort hierdie wêreld uit sy normale gang ruk. Alles om ons gaan in die nabye toekoms verander! Die mens het nou die stadium bereik waar hy hierdie planeet oor en oor kan vernietig. Die geskiedenis bewys dat, as gevorderde wapens eers ontwikkel is, dit altyd deur vegtende nasies gebruik word.

Jesus sê dat – by die voleinding van hierdie wêreld – alleen die direkte ingryping van God sal verhoed dat die mens alle lewe op hierdie planeet vernietig. Hy sê: “En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Matt. 24:22).

Soos ons vinnig die einde nader van hierdie tydperk van menslike heerskappy onder die invloed van Satan, die Duiwel, is dit van lewensbelang dat ons seker maak of ons werklik die God gehoorsaam wat aan ons lewensasem gee. Omdat die Jesus Christus van die Bybel oor en oor leer dat “leë geloof” NIE genoeg is nie! Aan die einde van Sy Bergrede sê Jesus: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is” (Matt. 7:21).


In hierdie verband vra Hy: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Luk. 6:46). In ’n heftige woordewisseling met die Fariseërs, haal Jesus die Profeet Jesaja aan – “En Hy antwoord en sê vir hulle: Tereg het Jesaja oor julle, geveinsdes, geprofeteer soos geskrywe is: Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (Mark. 7:6-7). Dink daaraan! Jesus sê duidelik dat dit moontlik is om God te dien – maar dit nogtans TEVERGEEFS doen deur die leringe van mense te volg! Dan sê Jesus aan hulle: “Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou” (vers 9).

Volgens Jesus Christus is dit duidelik dat, wanneer die oorleweringe van mense strydig is met die gebooie van God, daar GROOT probleme ont­staan!

Het u geweet dat u bereidwilligheid om die ware Sabbatdag wat God geheilig het, te eerbiedig, ’n direkte uitwerking gaan hê op u toegang tot die Koninkryk van God? Het u geweet dat die onder­houding van die ware Sabbat nog altyd ’n spesiale “toetsgebod” was in die oë van God?

Watter dag is die Bybelse Sabbat?

Jesus Christus leer ons: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Luk. 4:4). Jesus maak dit ook duidelik dat die Bybel NIE die Bybel weer­spreek nie, dat die leerstellings van die Skrif besten­dig en konsekwent is, wanneer Hy sê dat “... die Skrif NIE gebreek KAN word nie” (Joh. 10:35).

Die apostel Paulus bou voort hierop: “Die HELE Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim. 3:16-17).

As u gewillig is om hierdie geïnspireerde stellings te GLO, sal u geen probleem hê om hierdie lewensbelangrike onderwerp te verstaan nie. Die Bybelse leerstelling oor die ware Sabbat van God is opgeteken vanaf Genesis tot Openbaring. Dit is inderdaad een van die duidelikste en mees verstaan­bare onderwerpe in die Bybel – AS u eerlik kyk na die feite en nie bang is vir “wat ander mense dink” nie. Onthou dat baie van die geestelike leiers in Jesus se tyd geweet het dat Hy die Christus was, maar dit nie wou erken nie, vir daardie einste rede: “Want hulle het die eer van die mense meer liefgehad as die eer van God” (Joh. 12:43).

Het u die geloof en die moed om te doen wat God uitdruklik beveel – ongeag wat ander dink?

Goed. Laat ons begin met duidelike, onomstoot­like BEWYSE oor die ware Sabbat van die Almagtige God. Kom ons veronderstel dat u u soeke na die ware Sabbat op die spreekwoordelike verlate eiland begin. Dat die enigste geskrewe materiaal wat u kon red toe u skipbreuk gely het, die Bybel en ’n kalender was. Indien u u soektog begin met ’n oop, nugter gemoed, en u het miskien selfs die dag wat u voorheen onderhou het, vergeet, watter dag sou u MOES onderhou ná so ’n objektiewe studie?

“Sondag”, sê u?

“Nooit!”

WAAROM nie? Omdat die Bybel nooit enigiemand beveel om Sondag te onderhou as ’n weeklikse dag van aanbidding nie! Inteendeel, die Bybel leer ons om op daardie dag te werk. Trouens, vanaf Genesis tot Openbaring wys die Bybel duidelik dat, in plaas van die eerste dag – Sondag – dit die sewende-dag Sab­bat is (van Vrydag sononder tot Saterdag son­onder) wat deur al God se getroue dienaars onder­hou is in beide die Ou én die Nuwe Testamente. Hierdie selfde sewende-dag Sabbat sal deur Christene gehou word gedurende die toekomstige 1,000-jarige heerskappy van Christus hier op aarde! (Sien Op. 20:4-6).

Let op wat Jesus Christus leer in Markus 2:23-28. Jesus laat Sy dissipels toe om are te pluk om te eet terwyl hulle op die Sabbat deur die gesaaides loop. Hieroor roep die Fariseërs Hom tot verantwoording, want hulle het meer as 60 wettiese “moets en moenies” by die Sabbatgebod gevoeg – alles hulle eie menslike versinsels. Maar Jesus antwoord hulle: “Die Sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die Sabbat nie. Daarom is die Seun van die mens Here ook van die Sabbat” (verse 27-28).

Christus sê nie dat die Sabbat vir die Jode gemaak is nie – maar vir “die mens”. Hy sê die Sabbat (nie Sondag nie) is die dag waarvan Hy die Here is. Jesus gee nie die geringste aanduiding dat die Sabbatgebod afgeskaf gaan word nie. Inteen­deel, Hy leer ons hier, en in die verse wat volg, hoe om die Sabbat op ’n meer sinvolle manier te onder­hou. Jesus sê dat die Sabbat “gemaak is vir die mens” – vir hom om te onderhou – LANK VOORDAT die Joodse volk ooit bestaan het.

Kom ons ondersoek op hierdie stadium die geïnspireerde verhaal van die tyd toe God die mens gemaak het – en die Sabbat aan die mens gegee het. In Genesis 1:1 lees ons: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape”. Hierdie oorspronk­like skepping kon miskien biljoene jare gelede geskied het. Die volgende vers dui aan dat die aarde in chaos verval het, dit was “woes en leeg”. Die daaropvolgende verse beskryf hoe God ons planeet omtrent 6,000 jaar gelede hervorm het en die huidige plant- en dierelewe geskep het. Let op vers 26: “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip”. So is die mens dus geskape na die “beeld” van God. Die mens is HEERSKAPPY gegee oor die res van die skepping. Maar hoe moes die mens in kontak bly met sy Skepper? Hoe moes ons ons­self daaraan herinner dat die ware God inder­daad die SKEPPER is van alles wat bestaan?

Genesis 2:2-3 begin vir ons die antwoord aandui: “En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. En God het die sewende dag GESEËN en dit GEHEILIG, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak”.

Let op dat God Sy werk afgehandel het, “voltooi” het deur op die sewende dag van die week te rus. Die woord “Sabbat” is afgelei van die Hebreeuse woord Shabath, wat letterlik “rus” of “einde” of “stil­stand” beteken. God het die Sabbat geskep deur op daardie dag te rus en op te hou om stoflike dinge te skep. Hy het hierdie dag – en geen ander dag nie – “geseën” en dit “geheilig” – dit wil sê, die dag afgesonder vir gewyde gebruik! Deur die sewende dag te seën en dit te heilig, dui God aan dat Sy teenwoordigheid op ’n baie spesiale manier IN hierdie dag is. Van al die weeksdae is hierdie die ENIGSTE een wat op ’n unieke manier na Hom as die ware God wys, na die Een wat die ganse heelal geskape het en dit nou regeer.

Die Toetsgebod

Soos alle Bybelstudente weet, was die patriarg Abraham die oupagrootjie van Juda – stamvader van die “Jode”. Het hy God se ware Sabbat onderhou? Beslis, ja! want God sê: “... omdat Abraham na my stem geluister en my ordening, my gebooie, my insettinge en my wette onderhou het” (Gen. 26:5).

Daaropvolgende geslagte Israeliete het baie duidelik uit hierdie verse verstaan dat Abraham die sewende-dag Sabbat onderhou het – die Sabbat wat God heilig gemaak het by die skepping van die mens. In die Nuwe Testament leer die apostel Paulus ons dat Abraham die “vader” van die ge­lowiges is (Rom. 4:11, 16).

Baie mense sal redeneer dat die Tien Gebooie – insluitend die vierde gebod oor die heiliging van die Sabbat – slegs deel was van die “Ou Verbond” wat God met Israel gemaak het by die berg Sinaï in Moses se tyd. Hulle voer aan dat die Ou Verbond afgeskaf is met Christus se dood, en dat die Tien Gebooie dus verval het – insluitend die vereiste van Sabbatonderhouding.

Maar dit was aan die begin van die mens se geskiedenis dat God die sewende-dag Sabbat heilige tyd gemaak het. Omtrent 2,000 jaar later het Abraham, die vader van die gelowiges, vir ons die VOORBEELD van getrouheid gestel deur die gebooie en insettinge van God te onderhou. Vanselfsprekend sluit dit die onderhouding van die Sabbat in. Onthou, dit was nog LANK VOORDAT daar enige Ou Verbond met Israel aangegaan is!

Honderde jare later lei Moses Abraham se afstammelinge uit slawerny met die uittog uit Egipte. Etlike weke vóór die Ou Verbond by die berg Sinaï gesluit is, herinner God Sy volk aan die ware Sabbat wat Hy met die skepping aan die mensdom gegee het. Daar was ’n sterk moontlikheid dat antieke Israel die Sabbat vergeet het of miskien verward was daaroor, want hulle was honderde jare in Egiptiese slawerny. Daarom gee God hulle ’n reeks tekens om dit baie duidelik te maak watter dag Hy geheilig het.

Laat ons nou die beskrywing hiervan in Eksodus 16:1-30 ondersoek. Die Israeliete “murmureer” teen God omdat hulle meer kos wil hê. God sê: “... sodat Ek hulle kan beproef, of hulle in my wet sal wandel of nie” (vers 4) – baie interessant – want dit is ’n verdere bewys dat die wet van God beslis in werking was selfs VOORDAT die Ou Verbond by Sinaï gesluit is!

Toe verduidelik God dat Hy die volgende wonder­werk sou verrig: Elke dag van die week, behalwe Saterdag, sou spesiale voedsel van die hemel af, op die grond lê soos dou. Hulle het dit “manna” genoem. Hulle moes dit elke oggend insamel en dit daardie selfde dag eet. As dit oorgehou is tot die volgende dag, het daar wurms in gekom en dit het bederf.

Maar op Saterdag sou daar GEEN manna op die grond wees nie. Wat moes hulle dan op daardie dag eet? God se antwoord: die tweede fase van Sy wonderwerk. Elke Vrydag sou Hy hulle ’n dubbele porsie manna gee – een porsie vir daardie dag, en een porsie wat hulle oornag kon bêre en dan die Saterdag kon eet (vers 23). Dit sou beteken dat daar ’n derde fase van die wonderwerk moes wees om te verhoed dat die manna wat gebêre is, bederf. Vanaf Vrydag tot Saterdag was die enigste tyd van die week wat hulle toegelaat was om kos te bêre. Daardeur het God hulle gewys dat Vrydag die voorbereidingsdag vir die Sabbat was.

God was dus besig om dinge so te reël dat hulle nie nodig sou hê om manna op Saterdag in te samel nie. Dit sou hulle in staat stel om op die Sabbat te rus en nogtans iets te hê om daardie dag te eet. “En hulle het dit gebêre tot die môre toe, soos Moses beveel het; en dit het nie bederwe nie, en daar het geen wurms in gekom nie. Toe sê Moses: Eet dit vandag, want dit is vandag die sabbat van die Here. Vandag sal julle dit nie in die veld kry nie” (verse 24-25).

Onthou, dit was ’n TOETS – om te bepaal of hulle die wet van God sou gehoorsaam, of nie. Maar wat doen die volk toe?

Soos mense dikwels doen, het hulle God NIE ernstig opgeneem nie! Sommige Israeliete gaan toe selfs op die Sabbat uit om manna in te samel. “Toe sê die Here vir Moses: Hoe lank weier julle om my gebooie en my wette te onderhou? Kyk, omdat die Here julle die sabbat gegee het, daarom gee Hy julle op die sesde dag brood vir twee dae. Laat elkeen bly waar hy is; laat niemand op die sewende dag van sy woonplek af weggaan nie. So het die volk dan op die sewende dag gerus” (verse 28-30).

Met dié geleentheid, verskeie weke voordat Israel by die berg Sinaï aangekom het, het God weekliks ’n wonderwerk in drie fases verrig om aan Sy volk te toon WATTER DAG nog altyd Sy heilige Sabbat is. Toe party mense nogtans op daardie dag probeer werk, roep God uit: “Hoe LANK weier julle om My gebooie en My wette te onderhou?”!

Wie Het die Tien Gebooie Gegee?

Die Tien Gebooie – wat die Sabbatgebod insluit – bestaan reeds sedert die mens gemaak is. God het die Israeliete net weer aan dié belangrike feit herinner.

Vervolgens kom ons by die geleentheid toe God die Tien Gebooie opskryf of kodifiseer vir Sy volk, Israel. Dit was werklik ’n ontsagwekkende gebeur­tenis, met donderslae en blitse en die aarde wat SKUD met die krag van die Skepper! Toe het God Self – nie Moses nie – die Tien Gebooie hardop gespreek! (Ex. 20:1). Baie mense dink dat God die Vader hierdie gebooie gegee het en dat Jesus Christus later gekom en dit afgeskaf het. Maar Jesus sê aan die Jode: “Julle het nog nooit sy [die Vader se] stem gehoor of sy gedaante gesien nie” (Joh. 5:37).

Wie was hierdie God dan wat saam met Israel in die woestyn was? Hy word dikwels die “Rots” van Israel genoem (Deut. 32:4, 15, 31; Ps. 18:3, 32, 47). In die Nuwe Testament is die apostel Paulus geïnspireer om só oor Hom te skryf: “almal [die Israeliete] [wat] dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ’n geestelike rots wat gevolg het, en die Rots was CHRISTUS”! (1 Kor. 10:4). Die Bybel stel dit baie duidelik dat die Persoon in die Godheid wat met Ou Israel gepraat het, die Een is wat Homself later “geledig” het en Jesus Christus geword het!

Gedurende Sy leeftyd as Mens, sê Jesus aan die twisgierige Fariseërs: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, IS EK” (Joh. 8:58). Baie gerespekteerde Bybelverklaarders erken dat Jesus in hierdie vers duidelik te kenne gee dat Hy inderdaad die God van Israel was wat nou in die vlees gekom het.

Aangaande hierdie frase “EK IS” (“I am”) sê die Expositor’s Bible Commentary die volgende: “‘Ek is’ impliseer voortdurende bestaan, insluitend ’n bestaan toe Abraham op die toneel verskyn het. Jesus maak dus daarop aanspraak dat Hy reeds bestaan het ten tye van Abraham se geboorte. Verder het die Jode ‘EK IS’ erken as ’n titel van die Godheid. Toe God aan Moses die opdrag gee om die Israeliete se vryheid van Farao te eis, sê Hy: ‘So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur’” (Ex. 3:14). [Een geleerde] sê dat die frase in sigself die mees outentieke, die mees onbe­skaam­de en diepsinnige bevestiging deur Jesus bevat van wie Hy in werklikheid is” (Vol. 9, bl. 99).

Ja, Jesus Christus was beslis die God van die Ou Testament – die “Woord”, soos die eerste hoofstuk van die Evangelie van Johannes Hom noem, die Een wat namens die Vader spreek. (Om meer oor hierdie onderwerp te leer, vra gerus ons gratis boekie aan, Die God wat u kan leer ken). Die Bybel maak dit ook duidelik dat Christus die Een was deur wie God alles geskape het (Joh. 1:1-3, 14; Ef. 3:9; Kol. 1:16-17; Heb. 1:2-3). Dit beteken dat Jesus Christus die Een is wat oorspronklik die Sabbat geskep het deur op die sewende dag te rus! Geen wonder dan dat Hy die Here van daardie dag is nie, soos ons in Markus 2:28 gesien het. HY het die Sabbat GEMAAK!

Ons sien dus nou dat dit Christus se stem was wat die berg GESKUD het toe die groot geestelike WET gespreek is. Ons het reeds bepaal dat daardie wet bestaan sedert die skepping. Maar die Israeliete was in slawerny en hulle kennis van die wet sou seer sekerlik deur die eeue vervaag het. Hier is God nou – in die persoon van die “Woord”, Jesus Christus – wat die wet spreek en dit dan op tafels van klip skryf (Ex. 31:18; 34:1).

Om en by die middel van daardie wet – met meer ruimte daaraan afgestaan as aan enige van die ander – is die vierde gebod. Daarin herinner God Israel weereens om die sewende-dag Sabbat te heilig: “Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die Sabbat van die Here jou God; dan mag jy géén werk doen nie – jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diens­maagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die Here die sabbatdag geseën en dit geheilig” (Ex. 20:8-11).

Let op dat God sê hulle moet die Sabbat “gedenk”. Israel was reeds sedert die skepping onderrig in die Sabbat en toe weer in Eksodus 16 – soos ons vroeër gesien het. Dan sê God hulle moet dit “heilig”. ’n Mens kan nie koue water warm hou nie! Net so moes die Sabbat reeds heilig gemaak gewees het, anders kon Israel dit nie aanhou heilig hou nie! Slegs God kan iets “heilig” maak – in hierdie geval, ’n sekere tydsduur. En, soos ons sal sien, is die sewende dag die ENIGSTE weeklikse tydsduur wat God ooit “geheilig” het of afgesonder het as heilige tyd.

In vers 11 herinner God ons daaraan dat die Sabbat verwys na die skepping. Nadat God ses dae lank dinge geskep het, het Hy op die sewende dag “gerus”. “Daarom het die Here die Sabbatdag geseën en dit geheilig”. Weereens, geen ander dag van die week is deur God op hierdie manier geseën nie. Dit beteken dat Hy Sy goddelike guns daarop geplaas het.

Maar was die Sabbat dan nie deel van die Joodse offer- en seremoniële wette wat afgeskaf is nie? Party teoloë probeer argumente ten gunste hiervan te versin. Maar as u egter u Bybel bestudeer, is dit maklik om die onjuistheid van hierdie redenasies raak te sien. Let op dat daar in Eksodus 20 hoegenaamd NIKS gesê word van offers, wassinge of enige seremoniële pligte ten opsigte van die Sabbat nie (sien Jer. 7:22-23). Want, soos ons in die geïnspireerde Woord lees, staan die Tien Gebooie ALLEEN as die groot, geestelike wet van God. Moses herinner die volk só daaraan: “Met hierdie woorde het die Here julle hele vergadering op die berg, uit die vuur, die wolk en die wolkedonkerheid met ’n groot stem toegespreek, en NIKS MEER NIE; en Hy het dit op twee kliptafels geskrywe en dit aan my gegee” (Deut. 5:22).

’n Teken tussen God en Sy volk

Later sluit God – weereens in die persoon van Jesus Christus – ’n spesiale verbond met Israel met betrekking tot die Sabbat. God sê aan Moses: “Spreek jý met die kinders van Israel en sê: Julle moet sekerlik my sabbatte onderhou, want dit is ’n TEKEN tussen My en julle in julle geslagte, SODAT DIE MENSE KAN WEET dat Ek die Here is wat julle heilig” (Ex. 31:13).

Hier val die klem daarop dat ons die ware God ken wat ons afsonder – indien ons die TEKEN van Sy Sabbat onderhou, wat na Hom as die SKEPPER wys.

Die Een wat later Jesus sou word, vervolg: “En die kinders van Israel moet die sabbat onderhou deur die sabbat te vier in hulle geslagte as ’n EWIGE verbond. Tussen My en die kinders van Israel is dit VIR EWIG ’n TEKEN; want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, maar op die sewende dag het Hy gerus en Hom verkwik” (verse 16-17).

’n Merk of ’n brandmerk is gewoonlik iets wat op ’n mens of dier afgedwing of ingebrand word. Maar ’n teken is iets wat vrywillig vertoon word, soos ’n teken wat sê “Van Tonder & Seuns” op die venster van ’n sakeonderneming. In die geval van die Sabbat, wys dit wie God se getroue volgelinge is. Hulle het hul lewens oorgegee aan God en is gewillig om die TEKEN van die Skepper te vertoon deur die enigste dag wat God ooit heilig gemaak het, heilig te hou. Vir die getroues self is dit ’n voortdurende herinnering dat hulle NIE “gode” van hout en klip, of ’n menslike versinsel aanbid nie. Hulle aanbid die SKEPPER van alle hout en klip – en selfs die menslike verstand – wat dikwels probeer om ontslae te raak van die Skepper en ’n “god” volgens eie opvatting skep.

Let veral daarop dat die Israeliete die Sabbat moes onderhou as ’n “ewige verbond” tussen hulle en God. Is daar ENIGE aanduiding dat die Israeliete wat Christene word die heilige verbond moet versaak en nou ’n ander dag moet heilig? Handhaaf God dubbele standaarde as dit kom by watter dag as die Sabbat heilig gehou moet word?

Nee. Volgens Paulus, moet Christene eerder uit die nie-Israelitiese volke op Israel ingeënt word en geestelike Israeliete word (sien Rom. 11:17, 24; Gal. 3:28-29). Hierdie selfde apostel is geïnspireer om baie duidelik te sê: “Want nie hý is ’n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dít is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie; maar hy is ’n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die Gees, nie na die letter nie. Sy lof is nie uit mense nie, maar uit God” (Rom. 2:28-29). Om hierdie rede noem Paulus die Nuwe Testamentiese Kerk die “Israel van God” (Gal. 6:16).

Waarlik bekeerde nie-Israeliete (“Gentiles”) word dus deel van geestelike Israel en moet ook die Tien Gebooie – die groot, geestelike WET van die Skepper – gehoorsaam. Hulle moet seer sekerlik dan ook die voorwaardes nakom van die ewige Sabbat­verbond wat die Here met Israel gesluit het. Dit is ’n teken tussen Jesus Christus en Sy volk, VIR EWIG!

In Jesaja 56 vind ons ’n merkwaardige profesie reg in die middel van die EINDTYD-profesieë, waarvan baie betrekking het op die nabye toekoms. In hierdie profesie gee God die volgende bepaalde opdrag aan manne en vroue van ALLE nasies: “Welgeluksalig is die mens wat dit doen en die mensekind wat daaraan vashou; wat die sabbat hou, sodat hy dit nie ontheilig nie; en sy hand terughou dat dit geen kwaad doen nie” (vers 2).

’n Paar verse verder aan gee God die vreemdelinge [of nie-Israeliete], opdrag om Sy Sabbat heilig te hou en beskryf dan die SEËNINGE wat hulle sal ontvang as hulle dit doen: “En die uitlanders wat hulle by die Here aangesluit het, om Hom te dien en om die Naam van die Here lief te hê deur sy knegte te wees – elkeen wat die sabbat hou, sodat hy dit nie ontheilig nie, en hulle wat vashou aan my verbond, hulle sal Ek bring na my heilige berg, en Ek sal hulle vreugde laat smaak in my huis van gebed; hulle brandoffers en hulle slagoffers sal welgevallig wees op my altaar; want my huis sal ’n huis van gebed genoem word vir AL DIE VOLKE” (vers 6-7).

Soos Jesus gesê het, “Die Sabbat is gemaak vir die mens” – dit wil sê, vir ALLE MENSE, vir die ganse mensdom. Laat ons nou oplet hoe Jesus en die Apostels voortdurend die sewende-dag Sabbat gehou het – dieselfde dag wat al die Jode om hulle gehou het.

Die voorbeeld van Jesus Christus

God sê oor en oor dat Christus die “lig” is – die VOOR­BEELD van hoe ons moet lewe. Dit is ver­basend hoeveel belydende Christelike leraars lippe­diens betoon aan hierdie stelling, maar tog “redeneer” en gedurig argumenteer téén die navolging van Christus se volmaakte voorbeeld in Sabbatonderhouding en algehele gehoorsaamheid aan God se wet!

In sy Evangelie sê Johannes die volgende oor Jesus: “In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie” (Joh. 1:4-5). Begryp vandag se godsdienstiges enigsins meer as die godsdienstige leiers in Jesus se tyd, wat daardie “lig” werklik behels?

Later sê Christus: “Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê” (Joh. 8:12). Wat bedoel Hy met die term “My volg”? Kan ’n persoon Jesus se lering verwerp, weier om Sy voorbeeld en Sy lewenswyse te volg, en tóg nog daarop aan­spraak maak dat hy ’n “volgeling” van Christus is? God inspireer Petrus in 1 Pet. 2:21-22 om ons te leer: “Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en vir julle ’n VOORBEELD nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg; Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie”.

Ja, in alle dinge het Christus vir ons ’n voorbeeld nagelaat! Die apostel Paulus bou voort hierop wan­neer hy aan die Korintiërs sê: “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is” (1 Kor. 11:1). Ons moet Jesus Christus dus “navolg” – nie net die naam van “volgelinge” dra volgens ons eie menslike idees nie. Aan die einde van sy lewe skryf die apostel Johannes: “Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het” (1 Joh. 2:6).

Hoe het Christus geleef? Die Bergpredikasie word gewoonlik beskou as die KERN van Sy leringe. Hierin sê Jesus: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul [NV: om hulle hulle volle betekenis te laat kry]. Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan [en hulle het nog nie!], sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. Elkeen dus wat een van die MINSTE van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele” (Matt. 5:17-19).

Jesus het nie gekom om die Tien Gebooie wat Hy in die Ou Testament vanaf die Vader oorgedra het, in die Nuwe Testament tot niet te maak nie. Inteendeel, Hy het gekom om hulle ten volle te verklaar – om hulle ware geestelike doel of oogmerk te verduidelik. Hy het die Tien Gebooie inderdaad meer bindend gemaak. So verduidelik Jesus dat die sewende gebod oor egbreuk meer as net seksuele omgang met iemand anders as jou huweliksmaat verbied. Dit verbied ook die begéérte daarna in jou gedagtes (verse 27-28). Soos ons hierbo gesien het, verklaar Hy ook dat, om “groot” te wees in Sy toekomstige Koninkryk, ons selfs die minste van God se gebooie moet “doen en leer”. Hoeveel te meer is dit dan uiters belangrik dat ons die TOETSGEBOD sal gehoorsaam en leer – die gebod wat die aandag vestig op die ware God – die Skepper!

Baie mense sê egter dat Christus self die Sabbat verbreek het, dit ontheilig het. Maar dié stelling is van alle waarheid ontbloot! Die Bybel sê dat Hy “sonder sonde” was (Heb. 4:15), en “die sonde IS die wetteloosheid” [“Sonde is immers oortreding van die wet van God” – NV] (1 Joh. 3:4). Daarom weet ons dat Jesus nooit die wet van God verbreek het nie – insluitend die vierde gebod oor die heilighouding van die Sabbat. As Jesus die Sabbat sou verbreek het, sou Hy die loon van die sonde – die dood – verdien het (Rom. 6:23). Dan sou Hy nie ons Saligmaker kon word nie. Dit is dus duidelik dat Jesus nooit eers die minste van God se gebooie verbreek het – óf mense geleer het om dit te doen nie. Inteendeel, Jesus sê in Joh. 15:10: “As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar…”

Bowendien stel Christus reg aan die begin van Sy bediening die standaard wat Sy lewenslange voorbeeld sou wees: “Toe kom Hy in Násaret waar Hy opgevoed was; en soos Hy gewoond was, gaan Hy op die sabbatdag in die sinagoge en staan op om te lees” (Luk. 4:16). En, ons lees in Lukas 13:10 die volgende: “En Hy was besig om op die sabbat in een van die sinagoges te leer”. Ons behoort tog sekerlik Christus se voorbeeld te volg deur dieselfde Sabbatdag te hou wat Hy gehou het! Watter dag was hierdie Sabbat? Natuurlik, dieselfde dag wat al die Jode om Hom gehou het – Saterdag.

Soos die Jode toe verstaan het en nou nog verstaan, moet die Sabbat van God gehou word vanaf sononder Vrydag tot sononder Saterdag. Om die waarheid te sê, volgens God se kalender duur al die dae vanaf sononder tot sononder – nag gevolg deur dag (sien Lev. 23:32; Gen. 1:5-31). God begin nie Sy dae in die middel van die nag soos ons mensgemaakte horlosies dit bereken nie! Die feit is dat hulle nie sulke mensgemaakte horlosies daardie tyd gehad het nie. Maar hulle het God se GROOT “horlosie” in die lug gehad – die son.

Hulle het die sterre gehad waarvolgens ALLE mensgemaakte kalenders selfs vandag nog aange­pas moet word. In die begin het God gesê: “Laat daar ligte wees aan die uitspansel van die hemel, om skeiding te maak tussen die dag en die nag; en laat hulle dien as tekens sowel vir vaste tye, asook vir dae sowel as jare” (Gen. 1:14). As ons die dae heilig hou wat God heilig gemaak het, vind ons dat hulle gebaseer is op Sy skepping – met al die hemel­liggame wat die tyd aandui – wat weereens dui op Hom as die SKEPPER van alles wat bestaan!

Terloops, die feit dat Christus dieselfde Sabbat as die Jode gehou het, bewys dat die korrekte dag nie in die verre verlede verlore geraak het nie, soos sommige mense vandag te kenne wil gee.

Onthou dat die Een wat Christus sou word, baie moeite gedoen het om die Israeliete te herinner aan watter dag die regte Sabbat was toe hulle uit Egiptiese slawerny gekom het. Sou Hy dan nie die Sabbat op die regte dag gehou het gedurende Sy lewe as mens nie – selfs al sou die Jode dit op die verkeerde dag gehou het? Natuurlik sou Hy! Maar die Jode was nie verkeerd nie. Christus was Here van die dag wat die Jode as Sabbat gehou het! (Sien Markus 2). Van daardie tyd af tot nou toe het die sewe-dag week onveranderd gebly.

Hoe kan ons seker wees? Die Jode het volgehou om die Sabbat te onderhou – selfs nadat hulle versprei is. As die weeklikse siklus verlore geraak het, sou Jode in een deel van die wêreld een spesifieke dag gehou het en Jode elders weer ander dae. Ons vind egter dat Jode in elke nasie waarheen hulle versprei is, DIESELFDE dag hou – Saterdag! Saterdag is dus steeds die sewende dag van die weeklikse siklus wat met die skepping begin is.

Christus en Dissipels – Sabbatskenders?

Uit al die voorafgaande is dit duidelik dat Jesus die Sabbat van God geheilig het. Waarom sê sommige dan dat Hy dit gebreek het? Een van die redes is reeds genoem aan die begin van hierdie boekie – die episode in Markus 2, waar Jesus Sy dissipels toelaat om are te pluk om te eet toe hulle honger was en deur die gesaaides loop. Maar dit was NIE ’n skending van die Sabbat nie. Dit was slegs ’n skending van die wettiese beperkings wat die Skrifgeleerdes en die Fariseërs op die Sabbat geplaas het.

Waarom het die Skrifgeleerdes en Fariseërs mens­like beperkings op die Sabbat geplaas? Eerstens, omdat die straf vir Sabbatontheiliging, onder die Ou Verbond, steniging was (Ex. 31:15; Num. 15:32-35). So ernstig was dit! Tweedens, word Sabbatontheiliging en afgodediens deur God uitgesonder as twee van die grootste sondes waar­voor Hy Israel en Juda se nasionale gevangenskap en slawerny eeue gelede bewerkstellig het. Volgens Bybelprofesie, gaan Hy dit wéér doen (sien Neh. 13:17-18; Eseg. 20:10-25; 22:6 tot 23:47)! Soos hulle met die meeste wette van God gedoen het, het die Skrifgeleerdes en Fariseërs hier ook oorboord gegaan en in die fynste besonderhede vasgelê wat op die Sabbat toegelaat kon word en wat nie. Soos voorheen genoem, het hulle 60 spesifieke vereistes of beperkings bygevoeg tot die Sabbatwet. Daardeur het hulle die weeklikse Sabbat van God ’n las gemaak – iets wat dit nooit bedoel was om te wees nie (sien 1 Joh. 5:3). So het hulle byvoorbeeld besluit dat ’n mens net ’n sekere aantal treë op die Sabbat mag gee voordat jy eers moes sit om te rus. Tog maak die wet van God geen melding van so iets nie.

Natuurlik was dit die verantwoordelikheid van die individu om seker te maak dat hy homself nie so ooreis op die Sabbat dat dit as werk gereken kon word nie. As Jesus nie saam met Sy dissipels was nie, sou hulle self moes oordeel. Maar Christus was daar, as die volmaakte Regter – God in die vlees en Here van die Sabbat. Maar Hy het onomwonde verklaar dat die Skrifgeleerdes en die Fariseërs verkeerd was! Om ’n paar are te pluk en te eet, skend nie die Sabbatgebod nie. As die dissipels egter besig was om te oes, sou dit ’n ander saak wees. Maar hulle was nie! Hulle het maar net gepeusel!

’n Ander rede hoekom sommige dink dat Jesus die Sabbat ontheilig het, is die feit dat Hy mense op die Sabbat gesond gemaak het. Net nadat Hy sê dat Hy Here van die Sabbat is, het Hy “… in hulle sinagoge gekom. Daar was ’n man met ’n verdorde hand, en hulle het Hom gevra en gesê: Is dit geoorloof om op die sabbat gesond te maak? – sodat hulle Hom sou kan aanklae” (Matt. 12:9-10).

Het Jesus op Sondag opgestaan?

Indien u ’n hoofstroom Christelike kerk sou besoek en die lidmate vra waarom hulle op Sondag kerk toe gaan, sal die antwoord waarskynlik wees dat Jesus op Sondag opgestaan het uit die dood. Maar kan hierdie konsep ’n noukeurige ondersoek deurstaan?

Let op wat Christus aan die Fariseërs sê toe hulle vra om ’n teken dat Hy die Messias is: “Maar Hy antwoord en sê vir hulle: ’n Slegte en owerspelige geslag soek na ’n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees” (Matt. 12:39-40).

Die enigste teken wat Jesus gegee het om te bewys dat Hy wel die Messias was, was dat die graf Hom net vir ’n beperkte tyd sou vashou – presies “drie dae en drie nagte” (of 72 uur). Maar die Paas-sondagtradisie hou vol dat Christus begrawe is net voor sononder op “Goeie Vrydag” en dat Hy vroeg op Sondagmôre opgestaan het – na slegs twee nagte en een dag (36 uur)!

Sommige mense sal argumenteer oor die definisie van “dag”. Maar Christus het reeds vroeër in Joh. 11:9-10 verklaar dat daar 12 ure in ’n dag is, die nag uitgesluit. Dus, wanneer die voorstanders van Paas­sondag hierdie opmerking van Hom neem en tot die gevolgtrekking kom dat Hy in die graf was vir 3 dae x 12 uur = 36 uur, is dit duidelik dat hulle die “drie nagte” uitlaat. Daar is gemiddeld 12 ure “dagtyd” en 12 ure “nagtyd” in ’n 24-uur dag! Dus is drie dae en drie nagte beslis 72 uur. Maar was dit presies 72 uur? Jesus sê dat Hy “NA drie dae” (Mark. 8:31) – d.w.s. nie minder as 72 uur nie – sou opstaan. Maar Hy sê ook dat Hy “IN drie dae” sou opstaan (Joh. 2:19, 21) – dus ook nie meer as 72 uur nie. Dit is absoluut duidelik – presies 72 uur is ter sprake! God se tydsberekening is altyd presies reg.

’n Ander feit om in aanmerking te neem, is dat toe die vroue vroeg op Sondagmôre by Sy graf kom “dit nog donker was” (Joh. 20:1) en het Hy reeds opge­staan. Hoe is dit moontlik? Die voorstanders van ’n Sondag-opstanding voer aan dat Hy net oom­blikke tevore opgestaan het. As hierdie stelling korrek is, beteken dit dat “drie dae en drie nagte” voor dit sou neerkom op ’n tydstip net voor sonsopkoms, Donderdagmôre. Tog glo niemand dat Christus op Donderdagmôre begrawe is nie – of enige ander môre nie. Want, toe Josef van Arimathéa die liggaam van Christus in die graf neergelê het, was dit “… die dag van voorbereiding, en die sabbat wou aanbreek” (Luk. 23:50-54). Bybelse dae, insluitend die Sabbatte, begin met sononder en eindig die volgende dag met sononder (sien Gen. 1:5-31; Lev. 23:32) – ’n nagperiode gevolg deur ’n dagperiode.

Dus is Christus begrawe in die laatmiddag – voordat ’n bepaalde Sabbat met sononder sou begin. Drie dae en drie nagte later sou dus dieselfde tyd van die dag wees – laat namiddag! Nou het ons ’n ander probleem. As ons sou aanneem dat Christus op Vrydag namiddag begrawe is, soos die Goeie-Vrydag tradisie beweer, dan sou Sy opstanding – 72 uur later – dus op Maandagnamiddag moes plaas­vind. Weereens glo niemand dit nie, en met reg. Onthou, Christus het alreeds opgestaan voor­dat die vroue by die graf gekom het voor dagbreek op Sondagmôre! Wat is die antwoord dan?

Hoekom dink so baie mense dat Christus op Vrydag namiddag begrawe is? Markus 15:42 sê: “... omdat dit die voorbereiding was, dit is die voor­sabbat”. Aangesien die weeklikse Sabbat altyd op die sewende dag van die week (nou Saterdag genoem) plaasgevind het, was die voorsabbat of dag van voorbereiding (vir die Sabbat) altyd op Vrydag. Ons het nietemin reeds die probleem hiermee gesien. Die antwoord tot hierdie skynbare dilemma is dat die weeklikse Sabbat nie die enigste Sabbat is wat in die Bybel genoem word nie. Levitikus 23 gee ’n lys van sewe jaarlikse Heilige Dae wat in die Feestye van God voorkom. Elkeen van dié Heilige Dae is eerbiedig as ’n Sabbat (of “rus”, onthouding van gewone arbeid). Alle jaarlikse Sabbatte of “Groot Dae” (Heilige Dae) val op bepaalde kalenderdatums in plaas van bepaalde weeksdae, behalwe Pinkster.

Die raaisel kan nou opgelos word deur Johannes 19:31 te lees. Die Jode wou die liggame van die kruise afhaal “aangesien dit die voorbereiding was – want die dag van daardie sabbat was GROOT”. Christus het die Pasga (Paasmaaltyd) die aand voor Sy dood saam met Sy dissipels gehou (Luk. 22:15). Hy het aan die kruis gesterf die volgende namiddag, wat nog Pasga was (die veertiende dag van Abib of Nisan volgens die Hebreeuse kalender – Lev. 23:5). Lev. 23:6-7 deel ons mee dat die volgende dag, wat die aand na Sy kruisiging sou begin, nie ’n weeklikse Sabbat was nie, maar ’n jaarlikse Sabbat – die eerste dag van die Fees van Ongesuurde Brood.

Laat ons nou die feite bymekaar bring. Dit is duidelik uit die Bybel dat Christus gesterf het en be­grawe is op die Pasga namiddag – en dat die volgende dag ’n jaarlikse Sabbat was. Dit is ook duidelik dat Hy opgewek is teen dieselfde tyd van die dag – laatmiddag. Maar watter namiddag? Aange­sien die vroue Hom nie kon vind op daardie vroeë Sondagoggend nie, is die verstandige gevolgtrekking dat Hy die vorige namiddag opgewek is, op Saterdag! Dit beteken dus dat Hy drie dae en drie nagte tevore begrawe is – Woensdag namiddag. Dit beteken ook dat die Pasga, Nisan 14, daardie jaar op ’n Woensdag geval het. Dit is inderdaad wat gebeur het in 31 n.C., ’n jaar wat presies pas in die raamwerk wat die Bybel vereis.

Die Bybel lewer nog ’n verdere bewys dat daar daardie week TWEE Sabbatte was – ’n jaarlikse en ’n weeklikse Sabbat. In Markus 15:47 vind ons dat Maria Magdalena en die ander Maria sien hoe Jesus teen die einde van die Pasgadag in die graf gelê word deur Josef van Arimatea. Die volgende vers, Markus 16:1, sê dat Maria Magdalena en Maria ná die “Sabbat verby was” speserye gekoop het om die liggaam van Christus te gaan salf. Lukas 23:56 sê egter dat hulle die speserye berei het vóór die Sabbat. Natuurlik kon hulle nie die speserye berei het vóór hulle dit gekoop het nie! Die enigste logiese verklaring is dat hulle die speserye op die Vrydag gekoop het en dit dieselfde dag berei het, nadat hulle gerus het op die Donderdag, wat ’n jaarlikse Sabbat was, en dat hulle dit voorberei het voordat die week­likse Sabbat, Saterdag, sou begin. Toe het hulle gerus op die Saterdag, die weeklikse Sabbat, en aan die einde van die weeklikse Sabbat is Christus opgewek. Die volgende dag, Sondag, toe hulle vóór sonop by die graf kom, was Christus reeds weg, Hy het reeds opgestaan.

Maar sommige sal daarop wys dat Markus 16:9 sê: “En nadat Hy opgestaan het, vroeg op die eerste dag van die week” met ander woorde, Hy het reeds opge­staan en daarná verskyn Hy aan Maria Magdalena vroeg op die eerste dag van die week. Let daarop dat Jesus nie besig was om op te staan nie, Hy het reeds opgestaan, laat op die Saterdag­middag. Vroeg Sondagmôre was Hy dus nie meer in die graf nie. (Die punktuasie in die 1983 Nuwe Afrikaanse Vertaling kan egter verkeerdelik die indruk skep dat Hy eers op die eerste dag van die week opgestaan het. Dit is noodsaaklik om te onthou dat die oorspronklike Grieks nie leestekens bevat nie. Boonop is die verwysings na “Vrydag” [bv. Matt. 27:62] en “Sondag” [bv. 28:1] hoogs misleidend. U word ten sterkste aangeraai om verskeie vertalings te gebruik in u soektog na die Waarheid!)

’n Opstanding op Sondagmôre kon nie die rede wees waarom die Sabbat moes plekmaak vir Sondag as die weeklikse dag van aanbidding nie. Selfs al sou Christus op ’n Sondag opgestaan het, waarom sou Sy dissipels – wat die sewende-dag Sabbat saam met Hom gehou het – Sy voorbeeld om die gebooie te hou, versaak en oorskakel na Sondag? Waarom sou hulle Sondag kies, ’n dag wat verbind word met sonaanbidding? Die Bybel maak dit baie duidelik dat die volk van God nie heidense gewoontes moet aanneem om die ware God te eer nie. Sulke verering is tevergeefs (sien Deut. 12:30-32; Jer. 10:2; Matt. 15:3, 9). Christus se ware dis­sipels sou seer sekerlik NIE Sondag as die “Dag van die Here” gehou het nie!


“Maar Hy sê vir hulle: Watter mens sal daar onder julle wees wat een skaap het, en as dit op die sabbat in ’n sloot val, dit nie sal gryp en uithaal nie? Hoeveel meer is ’n mens dan nie werd as ’n skaap nie! So is dit dan geoorloof om op die sabbat goed te doen. Toe sê Hy vir die man: Steek jou hand uit! En hy het dit uitgesteek, en dit is herstel, gesond soos die ander een” (Matt. 12:11-13).

Het Jesus die Sabbat hier ontheilig? NEE! Onthou, die Sabbat is vir die mens gemaak, nie andersom nie. Indien daar ’n noodgeval was, kon mense op die Sabbat werk – soos die Fariseërs goed geweet het. Byvoorbeeld, as iemand se huis aan die brand was, kon sy bure hom help om die vuur te blus en hulle sou nie die Sabbat in die gees verbreek nie. Sommige mense sal nou redeneer dat die man met ’n verdorde hand nie ’n noodgeval was nie. Dis waarskynlik waar. Maar ons moet ook besef dat die genesing wat Jesus bewerkstellig het, nie eintlik werk was nie. Die genesing was eerder wonderbaarlik en oombliklik en het geen fisieke inspanning van Christus vereis nie. Waarom moes Hy dan wag tot die volgende dag? Weereens – Jesus het nie die Sabbat gebreek nie. Hy het dit nooit gebreek nie – nog minder was Hy ooit ’n voorstander van Sabbatskending!

Tog sal sommige mense nog volhou dat die Sabbatgebod weggeval het met Jesus se dood. Maar het dit? Het Sy dissipels so gedink? Let op dat, ná Christus se begrafnis, sommige van Sy mees toegewyde volgelinge besluit om Sy liggaam te balsem sodat dit nie so gou sou bederf in die graf nie. “Daarop het hulle teruggegaan [huis toe] en speserye en salf berei en op die sabbat gerus volgens die gebod” (Luk. 23:56). Lukas is deur die Heilige Gees geïnspireer om te skryf dat hierdie toegewyde vroue op die Sabbat gerus het “volgens die gebod”! Selfs na Jesus se dood – selfs nadat ALLES wat “aan die kruis gespyker” sou word, reeds vasgespyker was, toe staan God se Sabbat-gebod steeds ongeskonde!

Het Christus se dissipels op hierdie stadium die Sabbat vervang deur Sondag? Ons het nou net gelees dat hulle gerus het op die Sabbat, nie gewerk het nie. Let op die volgende verse. “En baie vroeg in die môre, op die eerste dag van die week, het hulle en ander saam met hulle by die graf gekom en die speserye gebring wat deur hulle toeberei was. En hulle het die steen van die graf afgerol gevind” (Luk. 24:1-2). Dit wil sê, op Sondag het hulle gekom om werk te kom doen. Die Sabbat wat hulle geheilig het deur daarop te rus, was dus duidelik die vorige dag – Saterdag.

Het Christus, ná Sy opstanding, op enige wyse aangedui dat Sy vorige leerstellings “verval” of “aan die kruis gespyker” is? Nee, GLAD NIE ! Inteendeel, Christus gee aan Sy dissipels die opdrag om na die hele wêreld te gaan en mense hierdie selfde leerstellings te leer – selfs tot die eindtyd toe: “... Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Matt. 28:18-20).

LET MOOI OP! Soos Jesus se dissipels deur die eeue voortgegaan het met Sy Werk, selfs tot die EINDE toe, moes hulle alle nasies leer om ALLES te onderhou wat Hy hulle beveel het!

Kan enigiets duideliker wees?

Gewoonte van die Eerste Apostels

Dwarsdeur die Handelinge van die Apostels vind ons dat die Apostels voortgaan om die Sabbat te hou. Dit doen hulle saam met Jode sowel as nie-Israeliete, en – gelei deur die Heilige Gees – gaan die hele Nuwe Testamentiese Kerk voort om op die sewende-dag Sabbat byeen te kom. So gaan dit voort vir dekades na Jesus se dood. Selfs algemene Protestantse geskiedskrywers erken hierdie feit. In sy boek, The Story of the Christian Church, sê Jesse Lyman Hurlbut: “So lank as wat die kerk hoofsaaklik Joodse lede gehad het, het hulle die Joodse Sabbat onderhou; maar soos wat die kerk al hoe meer heidens geraak het, het die eerste dag geleidelik die sewende dag verdring” (1970, bl. 36).

Let op dat Hurlbut sê die eerste dag van die week het “geleidelik” die sewende dag vervang. Het God Sy wet geleidelik afgeskaf? Belaglik! Soos ons later sal sien, was dit mense wat saamgesweer het en “geleidelik” miljoene belydende Christene MISLEI het om die Sabbat te laat vaar en Sondag te hou. Hierdie samesweerders het nie alleen die afskaffing van die Sabbat bewerkstellig nie, maar ook veroorsaak dat die hele konsep van gehoorsaamheid aan God se wet verwerp is!

Geen sodanige verandering het egter plaasgevind gedurende die leeftyd van Christus se oorspronklike Apostels nie. Selfs die apostel Paulus – die Apostel vir die Heidene [nie-Israeliete] – het die Sabbat gereeld gehou. Hy is eers lank na die opstanding van Christus bekeer. In Handelinge 13:14 lees ons: “Maar hulle het van Perge af verder gegaan en in Antiochíë in Pisídië aangekom, en hulle het op die sabbatdag in die sinagoge gegaan en gaan sit”.

“Maar”, sal sommige mense redeneer, “Paulus het maar net saam met die Jode vergader omdat dit hulle Sabbat was!” Handelinge 13:42 sê egter: “En toe die Jode uit die sinagoge gaan, het die heidene [nie-Israeliete] versoek dat daardie woorde op die volgende sabbat tot hulle gespreek sou word”. Hier was nou ’n uitstekende geleentheid vir Paulus om die nie-Israeliete in kennis te stel dat hulle van toe af op Sondag sou vergader! Maar hét hy? Inteendeel! Vers 44 sê: “En op die volgende sabbat het byna die hele stad saamgekom om die woord van God te hoor”.

Die waarheid is dat nie Paulus of ENIGE van die ander Apostels een enkele woord sê oor die verandering van die heilige Sabbat, of van enige ander deel van die Tien Gebooie nie. Net soos Christus hulle geleer het, onderhou hulle die Sabbat en kom altyd op die sewende dag byeen.

Wat doen Paulus toe hy deur oorwegend heidense gebiede reis? Die Woord van God sê: “Toe het hulle deur Amfípolis en Apollónië gereis en in Thessaloníka gekom, waar ’n sinagoge van die Jode was. En volgens sy GEWOONTE het Paulus na hulle gegaan en drie sabbatte lank met hulle gespreek uit die Skrifte” (Hand. 17:1-2).

Dit is baie duidelik dat dit Paulus se “gewoonte” was om op die Sabbat byeen te kom. Handelinge 18:4 sê: “En hy het elke sabbat in die sinagoge gespreek en Jode sowel as Grieke oortuig”. Voorbeeld na voorbeeld in die Handelinge van die Apostels wys daarop dat wanneer Paulus of die ander Apostels gereeld byeenkom om te aanbid, daar geen enkele verwysing is dat dit op enige ander dag van die week geskied behalwe Saterdag nie – dieselfde sewende-dag Sabbat wat hulle altyd onderhou het en wat die Joodse gemeenskap ook steeds onderhou.

Sondag in die Nuwe Testament

Die woord “Sondag” verskyn nêrens in letterlike Bybelvertalings nie. Maar ons vind wel die frase “eerste dag van die week”. Dit kom slegs agt keer voor – en net in die Nuwe Testament. As daar dus enige Bybelse gesag vir Sondagonderhouding is, sou ons verwag om dit in een van hierdie agt Skrifgedeeltes te vind. Die enigste ander moontlik­heid is ’n vers wat melding maak van die “Dag van die Here”. Kom ons ondersoek al hierdie teksverse, een vir een:

1. Mattheus 28:1 – “En laat ná die sabbat toe dit begin lig word, teen die eerste dag van die week, kom Maria Magdalena en die ander Maria om na die graf te gaan kyk”. Hier staan niks van die veran­dering van die dag van aanbidding nie, alhoewel sommige mense dit mag sien as die natuurlike gevolg van Christus se veronderstelde Sondag­opstan­ding. Maar hierdie vers dui nie aan dat Christus op Sondag opgestaan het nie. Trouens, Christus is alreeds die vorige middag opgewek (sien insetsel: “Het Jesus op Sondag opgestaan?”).

2. Markus 16:1-2 – “En toe die sabbat verby was, het Maria Magdaléna en Maria, die moeder van Jakobus, en Salóme speserye gekoop om Hom te gaan salf. En baie vroeg op die eerste dag van die week, net ná sonop, kom hulle by die graf”. Weer­eens – Jesus was alreeds weg. En, natuurlik, geen melding van ’n oorskakeling na Sondagaanbidding nie.

3. Markus 16:9 – “En nadat Hy opgestaan het, vroeg op die eerste dag van die week, het Hy eers verskyn aan Maria Magdaléna, uit wie Hy sewe duiwels uitgedryf het”. Sy het Jesus dus ’n bietjie later in die oggend gesien en Hy het niks gesê oor ’n verandering van die Sabbat na Sondag nie.

4. Lukas 24:1 – “En baie vroeg in die môre, op die eerste dag van die week, het hulle en ander saam met hulle by die graf gekom en die speserye gebring wat deur hulle toeberei was”. Die vorige vers sê hulle het die vorige dag – Saterdag – “gerus volgens die gebod” (23:56). Selfs toe Lukas dit baie jare later geskryf het, was Sabbatonderhouding deur te rus op Saterdag nog “die gebod”. Hulle het egter op Sondag­oggend die fisiese werk van verdere begrafnis­voorbereiding kom verrig!

5. Johannes 20:1 – “En op die eerste dag van die week kom Maria Magdaléna vroeg, terwyl dit nog donker was, by die graf en sien dat die steen van die graf weggeneem was”. Weereens – geen Sabbat verandering nie.

6. Johannes 20:19 – “En toe dit aand was op daardie eerste dag van die week en die deure waar die dissipels vergader het uit vrees vir die Jode, gesluit was, het Jesus gekom en in hul midde gestaan en aan hulle gesê: Vrede vir julle!” Let wel dat hierdie NIE ’n aanbiddingsdiens was nie. Hulle het vergader “uit vrees vir die Jode” – dit wil sê, hulle het weggekruip, omdat hulle gevrees het dat hulle dieselfde lot as hulle gekruisigde Meester sou ly. Hulle het heel beslis NIE vergader om die opstanding te vier nie – want hulle het nie geglo Christus het opgestaan nie! (Markus 16:14; Lukas 24:27-41). Dus, geen Sondagonderhouding hier nie.

7. Handelinge 20:7-8 – “En op die eerste dag van die week, toe die dissipels vergader het om brood te breek [’n maaltyd te nuttig], het Paulus hulle toegespreek, omdat hy die volgende dag sou vertrek, en hy het sy rede gerek tot middernag toe. En daar was baie lampe in die bovertrek waar hulle vergader het”. Uiteindelik – ’n godsdienstige byeenkoms op die eerste dag van die week. Maar dit was nie op ’n Sondag nie! Onthou dat Bybelse dae van sononder tot sononder strek. Hierdie moes dus Saterdagnag gewees het! Die Today’s English Version stel dit duidelik: “On Saturday evening we gathered together for the fellowship meal. Paul ... kept on speaking until midnight since he was going to leave the next day”.

Vers 6 wys dat die apostel en sy metgeselle ’n week in hierdie stad Troas deurgebring het. Terwyl die ander ná sononder per boot vertrek het, het Paulus agtergebly vir die afskeidsbyeenkoms. Die vol­gende oggend – met sonop, Sondag – het Paulus ver­trek en byna 20 myl ver geloop om in hul vol­gende bestemming, Assus, by sy metgeselle aan te sluit (verse 11-14). Let wel dat op hierdie eerste dag van die week sy metgeselle in arbeidsintensiewe roei­werk betrokke was op hul skip, terwyl Paulus self ’n dag se swaar werk verrig het met sy 20-myl voet­reis – alles behalwe rus op die “Dag van die Here”!

8. 1 Korintiërs 16:1-3 – “Wat die insameling vir die heiliges betref, moet julle ook so doen soos ek vir die gemeentes van Galásië gereël het. Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is, sodat die insamelinge nie eers plaasvind as ek kom nie. En wanneer ek aangekom het, sal ek die persone wat julle goedkeur, met briewe stuur om julle gawe na Jerusalem te bring”. Hierdie verse praat nie van “die kollektebord omstuur” in een of ander weeklikse Sondagaanbiddingsdiens nie. Die Christene in Jeru­salem het gely as gevolg van droogte en honger­snood en het voedsel nodig gehad. Paulus het dieselfde instruksies aan die ander Kerke gegee: “Want Macedónië en Acháje het dit goedgevind om iets by te dra vir die armes onder die heiliges in Jerusalem.... As ek ... vir hulle hierdie vrug veilig oorgebring het, sal ek by julle langs na Spanje afreis” (Rom. 15:26-28). Die woord wat as “vrug” hier vertaal is, kan ook verwys na graan, wyn en ander produkte wat vir lang tydperke geberg kon word sonder dat dit bederf. Paulus het geweet dat ’n aantal mense nodig sou wees om hierdie versameling te vervoer (vgl. 1 Kor. 16:4).

Selfs al het hy na geld verwys, sê Paulus nie hier vir die Korintiërs om elke Sondag muntstukke in die kollektebord te gooi nie. Nee, hy het duidelik gesê dat elkeen iets moes opsy sit en versamel en opgaar vir die armes – natuurlik tuis. Hier is geen melding van bywoning van aanbiddingsdienste op Sondag nie. Bowendien het Paulus gesê hulle moes dit doen “sodat die insamelinge nie eers plaasvind” as hy kom nie. Dit lyk meer na ’n aanduiding dat ons nie kollektes gedurende gewone aanbiddingsdienste moet opneem nie.

Daar is nog een vers waarna soms verwys word as rede om Sondag die “Dag van die Here” te noem. In Openbaring 1:10 sê die apostel Johannes, “Ek was in die Gees op die dag van die Here, en ek het agter my ’n groot stem gehoor, soos van ’n basuin”. Maar hy praat nie hier van aanbidding op die eerste dag van die week – of sover dit aangaan, enige dag van die week nie. Openbaring is ’n profesie van eind­tyd­gebeure. Die “Dag van die Here” is duidelik die toekomstige tydperk wat meer as 30 keer in Bybel­profesie genoem word, soos bv.: Joël 1:15, 1 Thess. 5:2, Hand. 2:20, Sef. 1:14, 2 Pet. 3:10, Jes. 13:9, 1 Kor. 5:5. Dit is die tyd wanneer God gaan ingryp in menslike aangeleenthede, die nasies straf, en vir Jesus Christus terugstuur om uiteindelik wêreldvrede op hierdie aarde te bring. Johannes het bedoel dat hy in ’n visioen weggevoer is deur God se Gees na daardie tyd toe.

Maar al sou dit ook na ’n dag van die week verwys het, watter dag sou dit wees? Onthou wat Jesus gesê het: “die Seun van die mens [is] Here ook van die Sabbat” (Mark. 2:28). Voor Sy vleeswording het Christus die Sabbat “my heilige dag ... die heilige dag van die Here” genoem (Jes. 58:13). So ook in die vierde gebod, het Hy gesê, “die sewende dag is die sabbat van die Here jou God”. Die sewende-dag Sabbat is dan vanselfsprekend nie ons dag nie. Dit is – sonder enige twyfel – die Here se dag! Sondag­onderhouding het dus absoluut geen Bybelse grond­slag nie.


Om die waarheid te sê, as die Apostels skielik sou begin om ’n ander dag voor te hou as die dag van aanbidding, sou dit letterlik ’n OPSTAND onder die Joodse Christene veroorsaak het! Die enigste groot konferensie van apostels en ouderlinge wat in die Nuwe Testament genoem word, is die een in Hande­linge 15. Dié verbete stryd oor die afdwingbaarheid van die besnydenis op nie-Israelitiese Christene, het aanleiding gegee tot hierdie konferensie en die insident wat alles begin het, word so beskryf: “En sekere persone wat van Judéa afgekom het, het die broeders geleer: As julle nie besny word volgens die gebruik van Moses nie, kan julle nie gered word nie. Toe daar nou geen klein stryd en woordewisseling van die kant van Paulus en Bárnabas teen hulle ontstaan het nie, het hulle besluit dat Paulus en Bárnabas en nog ’n paar ander van hulle sou opgaan na die apostels en ouderlinge in Jerusalem in verband met hierdie vraagstuk” (Hand. 15:1-2).

Op die konferensie in Jerusalem, nadat daar ’n “groot woordewisseling” plaasgevind het, staan Petrus op en verduidelik mooi hoedat God die nie-Israeli­tiese Christene deur sy prediking geroep het sonder enige gebod dat hulle besny moes word. Daar­na vertel Paulus en Barnabas van hulle werk onder die Heidene, oor die tekens en wonders wat God onder die Heidene doen sonder dat hulle eers besny moes word. Daarna som Jakobus, die voorsittende apostel in Jerusalem, die saak op en sê: “Daarom oordeel ek dat ons die wat uit die heidene hulle tot God bekeer, nie moet bemoeilik nie, maar aan hulle skrywe dat hulle hul moet onthou van die dinge wat deur die afgode besoedel is en van hoerery en van wat verwurg is en van bloed” (verse 19-20). Uiteindelik is ’n brief geskryf wat hierdie mylpaalbesluit uitstippel en die redes daarvoor gee (verse 22-29). Paulus neem ’n afskrif van hierdie brief met die bepalings en lees dit aan al die gemeentes onder sy gesag (Hand. 16:1-5).

Sommige mense sal nou redeneer dat die verbod op die vier noodsaaklike dinge wat hier genoem word, die enigste wette van die Ou Testament is wat nog bindend is op Christene. Maar let op dat moord nie genoem word nie. Staan dit ons dus vry om moord te pleeg? Natuurlik nie! Waarom word hierdie vier dinge dan spesifiek genoem? Omdat hierdie vier dinge waarvan Christene hulle moes weerhou, gebruike was wat algemeen in heidense godsdienste voorgekom het. Wanneer hulle offerandes aan hul afgode gebring het, het baie heidene die diere verwurg in plaas van om die kele af te sny en hulle te laat uitbloei. Daarna het hulle die vleis geëet en afgryslike seksuele dade gepleeg as deel van hul godsdienstige rituele. Die verbodsbepalings in Handelinge 15 was oorspronklik deel van God se verordeninge. Dié verbodsbepalings word ook later genoem in verband met die seremonies en rituele van die Leviete se godsdienstige stelsel wat moes verhoed dat Israel dié verkeerde gebruike aanvaar (vgl. Lev. 17:7, 10; Num. 25:1-3). Die Apostels wou hê die mense moes verstaan dat, alhoewel die seremoniële en rituele dele van die Ou Testamen­tiese wet – wat die besnydenis insluit – nie meer nodig was nie, hierdie vier punte wat wel in die seremoniële deel van die wet gegee is, egter steeds bindend was. Hoekom was hulle nog bindend? Omdat hulle deel was van God se oorspronklike wet – wat steeds bindend was!

Onthou dat die groot geskil en die daaropvolgende konferensie in Jerusalem gegaan het oor die voorskrif van fisieke besnydenis. Hoeveel GROTER sou die geskil nie gewees het as die Apostels een van die Tien Gebooie sou wou verander of afskaf nie! Veral die een oor die weeklikse Sabbat, die ware “uitkenteken” van God se volk! Daar sou ’n volslae OP­ROER gewees het! Maar vind ons selfs die geringste teken van twis oor so ’n verandering?

NEE!

Soos hulle sê, “die stilte is OORVERDOWEND!” Daar was geen verandering van dié aard, tot honderde jare na die dood van die eerste Apostels nie! Nie Christus of die Kerk in die Apostels se tyd het dus OOIT probeer om die Sabbat te verander nie. Hulle het nooit, ooit probeer om gehoorsaamheid aan ENIGE van die Tien Gebooie af te skaf nie!

Latere Leerstellings van die Apostels

Baie Protestantse teoloë is opgelei in die teorie van “progressiewe openbaring”. Maar ons sal sien dat hierdie teorie niks anders is as ’n algehele ver­draaiing van die waarheid nie. Dié teorie verkondig die idee dat die ou profete eenvoudig net Hebreeuse filosowe was wat probeer het om ’n goddelike wese volgens hul eie idees te versin. Toe kom Jesus, ’n Joodse skrynwerker – wat beïnvloed is deur die sterk godsdiens en morele kodes van Sy tyd – en Hy leef en verkondig Sy leerstellings volgens die Ou Verbond. Volgens dié teorie, was Jesus se eerste Apostels ook ongesofistikeerd, agterlik, en het nie werklik “verstaan” nie.

Toe kom die apostel Paulus – die “bevryder” volgens hierdie teorie – en dinge begin verbeter. Paulus, so word gesê, is gewillig om “weg te breek” uit die Joodse vorm, en gewillig om moderne Christen­heid – Heidense Christenheid – bekend te stel, wat baie meer aanvaarbaar sou wees vir die wêreld as geheel.

Die moeilikheid met die bostaande teorie is dat dit HOPELOOS VERKEERD is! Dit probeer Jesus se eie gebod geheel en al ontken: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Matt. 4:4). Verder moet ons onthou dat, afgesien van die lewe en leerstellings van Jesus self, die Ou Testa­ment die enigste Woord van God was wat beskik­baar was aan die mensdom toe Hy hierdie verklaring gemaak het. Hierdie feit skep ’n groot probleem vir die progressiewe teoloë. Beide die Ou Testa­men­tiese profete en Jesus Christus leer duidelik dat GE­HOOR­SAAMHEID aan die Tien Gebooie nood­saak­lik is – insluitend die onder­hou­ding van die sewende-dag Sabbat. Baie Protestantse teoloë erken wel dat Jesus die onderhouding van die Sab­bat geleer het, en self ook die Sabbat onderhou het.

Wat die leraars van “progressiewe openbaring” ook nie kan verduidelik nie, is waarom die oorspronk­like Apostels se geskrifte duidelik leer dat die Tien Gebooie onderhou moet word as lewenswyse van die Christen – weereens is die Sabbatgebod hierby ingesluit.

Jakobus, die broer van Jesus Christus, wat die voorsittende apostel te Jerusalem geword het, skryf: “Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword. Want Hy wat gesê het: Jy mag nie egbreek nie, het ook gesê: Jy mag nie doodslaan nie. As jy nou nie egbreek nie, maar doodslaan, het jy ’n oortreder van die wet geword. Julle moet so spreek en so doen soos diegene wat deur die wet van vryheid geoordeel sal word” (Jak. 2:10-12). Dus moet ware Christene die “hele wet” gehoorsaam. Dit is ’n wet met verskeie “punte” – insluitend die wette teen doodslaan en owerspel – duidelik die Tien Gebooie. Jakobus sê dat as ons “in een opsig struikel”, een punt van hierdie wet verbreek, ons skuldig is aan ALMAL. Vanselfsprekend sluit dit die Sabbat in – dis een van die punte van die Tien Gebooie!

Teen die EINDE van die tyd van die eerste Apostels skryf Johannes, die dissipel wat “Jesus liefge­had het”, ook oor die wet van God. As enig­iemand ’n nuwe “progressiewe” leerstelling moes verkondig, sou dit hy wees. Watter “progressiewe openbaring” gee Johannes dus aan ons? Hy is deur God geïnspireer om te skryf: “En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar. Hy wat sê: Ek ken Hom – en sy gebooie nie bewaar nie – is ’n leuenaar en in hom is die waarheid nie” (1 Joh. 2:3-4).

’n Persoon kan weet van God deur slegs ’n gedeelte van die waarheid te verstaan. Maar om God waarlik en persoonlik te “ken”, sê Johannes, moet ons Sy lewenswyse ervaar deur Sy gebooie te ONDERHOU! Die liefde van God – Sy natuur en karakter – word betuig, word uitgedruk in die Tien Gebooie. Weer skryf Johannes dat God se ware liefde uitgedruk word in die Tien Gebooie: “Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Joh. 5:3). Elkeen wat nalaat om die Tien Gebooie waarlik te onderhou [natuurlik nie volkome nie, maar as ’n lewenswyse], is ONGEHOORSAAM aan sy Skepper en ken God nie werklik nie.

Wat van Paulus? Het hy God se wet ontbind? Natuurlik nie! In Romeine 2:13 skryf hy: “... omdat nie die hoorders van die wet by God regverdig is nie, maar die DADERS van die wet geregverdig sal word”. In 1 Kor. 7:19 sê hy: “Die besnydenis is niks en die onbesnedenheid is niks, maar die onder­houding van die gebooie van God”. Weereens, sluit dit tog seer sekerlik die vierde gebod oor die Sabbat in!

Die apostel Paulus word algemeen aanvaar as die skrywer van die brief aan die Hebreërs – en daar is sterk getuienis ter stawing daarvan. Vanweë sy skoling in die rabbynse leer met al die tegniese inge­wikkeld­heid van die Mosaïese wet, was hy onge­twyfeld die bekwaamste van al die Apostels om die Nuwe Verbond wat God met die mensdom gaan sluit, deeglik te verduidelik. Dit is juis die tema van die boek van die Hebreërs. Eers beskryf die boek hoe God van die “sewende dag” praat as die dag van rus (Heb. 4:4), en gaan dan voort: “Daar bly dus ’n sabbatsrus oor vir die volk van God” (vers 9).

Hierdie is ’n baie interessante gedeelte. Hebreërs 3 en 4 praat van God se volk wat ingaan in die “rus”. Die Israeliete in die woestyn wou graag God se “rus” ingaan – wat sou beteken dat hulle uiteindelik kon ophou met swerf en hulle in die Beloofde Land kon vestig. Dit het wel gebeur in die tyd van Moses se opvolger, Josua. Wat egter ook hier genoem word, is die feit dat die Here God later vir koning Dawid inspireer het om te skryf van ’n toekomstige rus. Hebreërs sê: “Want as Josua aan hulle rus gegee het, sou Hy nie van ’n ander dag daarná spreek nie” (4:8). Hier word duidelik verwys na die toekomstige Millennium of 1,000-jarige ryk van Christus se heerskappy op die aarde – want die toekomstige Koninkryk van God is die “Beloofde Land” vir ware Christene.

Een Dag Bo ’n Ander Geag?

Sommige mense sal Romeine 14:5-6 as bewys aanvoer dat dit nie eintlik saak maak watter dag ons as Sabbat hou en of ons hoegenaamd enige dag hou, al dan nie. In hierdie geval sê die apostel Paulus: “Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag al die dae gelyk. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees. Hy wat die dag waarneem, neem dit waar tot eer van die Here; en hy wat die dag nie waarneem nie, neem dit nie waar nie tot eer van die Here ...” Maar praat hy werklik van Sabbatonderhouding?

Let op wat sê die res van vers 6: “… en wie EET, eet tot eer van die Here, want hy dank God; en wie NIE EET NIE, eet nie tot eer van die Here, en hy dank God”. Waarvan praat Paulus hier? Romeine 14 begin met Paulus se vermaning aan die Christene in Rome om diegene wat “swak is in die geloof” aan te neem, maar om nie oor hulle gevoelens te oordeel nie (vers 1) In vers 2 praat hy van sommige wat net groente eet om godsdienstige redes – alhoewel die Bybel op verskeie plekke aantoon dat dit aanvaar­baar is om rein vleis te eet. In die gelykenis van die verlore seun byvoorbeeld, berei die regverdige vader die “vetgemaakte kalf” om geëet te word (Luk. 15:23).

In ’n ander brief van Paulus verduidelik hy een spesifieke rede waarom ’n aantal Christene vegetariërs geword het. Meeste van die vleis wat op die mark gekoop kon word, is eers aan afgode geoffer. Hieroor sê Paulus: “Wat dan die eet van die offervleis aan die afgode betref, weet ons dat ’n afgod niks in die wêreld is nie, en dat daar geen ander God is nie, behalwe Een ... Die kennis is egter nie in almal nie; maar sommige, nog altyd bewus van die afgod, eet dit as ’n afgodsoffer, en hulle gewete, wat swak is, word besoedel” (1 Kor. 8:4, 7).

Sommige nuwe bekeerlinge het gedink dat die eet van sulke vleis sou beteken dat hulle deelneem aan afgodediens, maar het nogtans saam met ander Christene daarvan geëet. Dit is die verkeerdste ding wat hulle kon doen, want in Romeine 14 sê Paulus: “Maar hy wat twyfel as hy eet, is veroordeel, omdat dit nie uit die geloof is nie; en alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde” (Rom. 14:23). Of iets inherent verkeerd is of nie, as u dink dat dit verkeerd is, en u doen dit nogtans, dan sondig u!

Aan diegene wat gedink het dat dit reg was om vleis te eet, sê Paulus: “Hy wat eet, moet hom wat nie eet, nie verag nie” (vers 3). Dan gaan hy voort in dieselfde vers: “en hy wat nie eet nie, moet hom wat eet, nie oordeel nie, want God het hom aangeneem”. Paulus vermaan diegene wat dink dat dit reg is om vleis te eet, om nie met hul “beter begrip” te koop te loop nie (verse 15-22).

Waarom sou Paulus sy verhandeling oor die eet van vleis onderbreek om die onderhouding van dae te bespreek? Omdat dieselfde beginsel hier geld! Sommige bekeerlinge wat nog swak was in die geloof en nog nie behoorlik verstaan het nie, het gedink dat sekere dae beter was vir ’n vas, of om sekere voedsel te eet of nie. Ander het gedink dat alle dae dieselfde was sover dit die eet van kos aanbetref.

Christus sê dat wanneer ons vas, ons dit moet doen tot God, sonder dat ander mense noodwendig daarvan hoef te weet (Matt. 6:16). Beide Jode en Heidene het op spesifieke dae van die week of maand “gedeeltelik gevas”. Die Fariseërs het volgens gebruik “twee keer per week” gevas (Luk. 18:12). Die Jode het, as ’n volk, gedurende sekere maande gevas (Sag. 7:4-7). Die Joodse gods­dien­stige leiers was egter verdeeld oor sommige van hier­die dinge. Die Heidene was ook verdeeld oor wanneer, indien wel, hulle hul moes onthou van sekere voedsel. (Verw. Hasting’s Encyclopedia of Religion and Ethics).

Die enigste rede waarom die Sabbat moontlik hier ’n probleem kon skep, sou wees as sommige mense sou dink dat die Sabbat as ’n vasdag gebruik kon word en ander verskil het van dié siening. Die Sabbat as vasdag blyk egter nie die kwessie hier te wees nie. As Paulus oor die Sabbat gepraat het, sou hy dit waarskynlik genoem het – soos in Kolossense 2:16, waar bekeerlinge uit die Heidendom gekritiseer is oor die wyse waarop hulle die Sabbat en Feesdae gehou het. Wat die geval ook al was, die geskil oor dae in Romeine 14 het NIKS te doen gehad met God se Sabbat of Sy ander Feesdae nie!

Die onderhouding al dan nie van die dae wat GOD heilig gemaak het, is nie eens hier ter sprake nie. Dit het alles gegaan oor MENSgemaakte tradisies – die Christene kon sommige daarvan volg, maar moes dit nie aan ander opdring nie. Vir God maak dit nie saak wanneer ons vas nie, behalwe die Versoendag, waarop God ons gebied om te vas. Wat vir Hom van belang is, is of ons dit met die regte gesindheid doen – en dat ons mekaar nie oordeel volgens ons eie persoonlike idees nie.


Dit is in hierdie konteks dat Hebreërs praat van ’n Sabbatsrus wat oorbly vir die volk van God. Die Griekse woord vir liggaamlike rus – katapausin – word in feitlik elke geval in hoofstukke 3 en 4 gebruik. Maar in vers 9 het God die gebruik van ’n ander woord geïnspireer – sabbatismos. Maar beteken dit letterlik weeklikse Sabbatonderhouding? Die Anchor Bible Dictionary verseker ons dat sabbatismos beslis verwys na “onderhouding van die sewende-dag Sabbat”. Die Nuwe Testament leer dus baie duidelik dat die ware Christen moet voortgaan om die sewende-dag Sabbat te onderhou.

Sommige mense reken egter dit beteken net dat ons moet rus van ons sondige werke in ons nuwe lewe in Jesus. Maar let op wat in die volgende vers bygevoeg word: “want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne” (Heb. 4:10). Het God dan “gerus” van Sy werk van SONDE? Natuurlik nie. Hy het gerus van Sy skeppingswerk, Hy het opgehou om Sy beroepswerk as Skepper te verrig. Op watter dag het God “gerus” om aan ons ’n voorbeeld te stel? “God het op die sewende dag van al sy werke gerus” (vers 4). Ons moet ook so maak.

Hierdie verse wys egter dat die Sabbat meer is as bloot ’n herdenking van die skepping. Die Sabbat is inderdaad ’n fisiese simbool of TIPE van iets meer – en ons behoort dit so te onderhou. Maar daardie “iets” is NIE hoofsaaklik die Christen se lewe in hierdie tyd nie. Dit is eerder ons lewe in die toekomstige duisendjarige rus van die Wêreld van Môre – wanneer Jesus Christus die Koninkryk van God oor die hele aarde oprig.

Die Commentary on the Whole Bible van Jamieson, Fausset & Brown sê die volgende oor Hebreërs 4:9: “Hierdie vers wys indirek na die verpligting om steeds die Sabbat te onderhou; want die tipe gaan voort totdat die teenbeeld oorneem”. Aangesien die toekomstige duisendjarige Sabbat nie kan bestaan “voordat Christus kom nie, moet die tipe, die aardse Sabbat, voortgaan tot dan”. Soos ons later sal sien, sal mense selfs in die Wêreld van Môre steeds die weeklikse Sabbat van God heilig.

Hoe duidelik! Hier in die brief aan die Hebreërs vind ons ’n duidelike Nuwe Testamentiese opdrag aan Christene om op die sewende-dag Sabbat te rus. Interessant genoeg, is dit waarskynlik deur die “apostel vir die Heidene” gegee – die einste apostel wat, volgens so baie Protestantse teoloë, die wet van God sou “ontbind het”!

Hierdie gedeelte van Hebreërs sluit af deur te sê: “Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoor­saam­heid mag val nie” soos dié in antieke Israel (vers 11). Die frase “dieselfde voorbeeld van ongehoor­saam­heid” behoort diep weerklank te vind by studente van die Bybel. Net soos Sabbat­skending en afgodediens die twee grootste redes was vir die nasionale gevangenskap en slawerny van antieke Israel, was dit ook die hoofredes waarom die meeste van hul voorvaders gesterf het gedurende die 40 jaar van hul omswerwinge voordat hulle die Beloofde Land ingegaan het.

Lees gerus die aanklag van God teen antieke Israel in Eségiël 20:10-24. Kyk veral wat sê verse 12-13: “Daarby het Ek ook my sabbatte aan hulle gegee om ’n teken te wees tussen My en hulle, dat hulle kan weet dat dit Ek, die Here, is wat hulle heilig. Maar die huis van Israel was wederstrewig teen My in die woestyn; hulle het nie in my insettinge gewandel nie en my verordeninge verwerp, wat die mens moet doen, dat hy daardeur kan lewe; en my sabbatte het hulle baie ontheilig. Toe het Ek gesê dat Ek my grimmigheid oor hulle sal uitgiet in die woestyn om hulle te vernietig”.

Dus behoort ALLE Christene seker te maak dat hulle nie “in dieselfde voorbeeld van ongehoor­saam­heid” val nie – dat hulle die enigste dag van die week wat God heilig gemaak het, die sewende dag, heilig hou!

Die Sataniese Oordrag

Die Nuwe Testament maak dit baie duidelik dat die ware Kerk van God klein sou wees en vervolg sou word. Jesus gee opdrag aan Sy dissipels: “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind” (Matt. 7:13-14).

Jesus noem Sy Kerk die “klein kuddetjie” (Luk. 12:32). In Sy profetiese rede op die Olyfberg waar­sku Hy: “Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van My Naam” (Matt. 24:9). In der waarheid is dit NIE die meerderheid, die “hoof­stroom”, van die Christendom wat “deur al die nasies gehaat word” nie. Hoekom? Omdat hulle baie goed inpas in die wêreld, saamgaan met al die gewoontes en tradisies – en heel dikwels ook met die SONDES van die wêreld.

Maar, het daar nog ’n gehoorsame Kerk bestaan volgens Jesus se beskrywing, ná die tyd van die eerste Apostels – ’n Kerk wat nog getrou die sewende-dag Sabbat van God gehou het? Ja, inderdaad. Om die waarheid te sê, feitlik alle skrywers van kerkgeskiedenis erken dat sedert die Nuwe Testamentiese Kerk gevestig is, derduisende Christene geslagte lank steeds voortgegaan het om die sewende-dag Sabbat te hou!

Ons het reeds Jesse Lyman Hurlbut se stelling gesien: “So lank as wat die kerk hoofsaaklik Joodse lede gehad het, het hulle die Hebreeuse Sabbat onderhou”. Maar is enige skrywer in die Bybel ooit geïnspireer om ons te sê dat die Sabbat later VERANDER sou word?

Natuurlik nie!

Die aktiewe, lewende Hoof van die ware Kerk van God is Jesus Christus. “En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente [kerk]; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees” (Kol. 1:18; sien Ef. 1:22). Verder sê Hebreërs 13:7-8: “Gedenk julle voor­gangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na. Jesus Christus is gister en vandag DIESELFDE en tot in ewigheid”.

Dwarsdeur die Bybel word net een dag afgesonder as die Sabbat – die sewende dag. Dit is Saterdag! Hier is ’n aanhaling van James Cardinal Gibbon, eertydse Aartsbiskop van Baltimore en waarskynlik die bekendste Amerikaanse Katolieke leier van sy tyd. Let op wat hierdie top hooggeplaaste Katoliek in Amerika skryf oor die Sabbat van God in sy bekende boek, Faith of our Fathers: “U kan die Bybel deurlees van Genesis tot Openbaring, en u sal nie ’n enkele reëltjie vind wat Sondag heilig maak nie. Die Skrif bekragtig godsdienstige eerbiediging op Saterdag, ’n dag wat ons nooit heilig hou nie” (1876).

Let op die volgende uittreksel uit The Catholic Mirror, die amptelike nuusblad van Gibbon se aartsbisdom, wat onder sy bestuur uitgereik is: “In die Ou Testament word daar 126 keer na die Sabbat verwys, en al hierdie tekste gee eenvormig uiting aan die wil van God in Sy gebod om die sewende dag te heilig” (9 Sept. 1893). Verder sê die blad: “Ons kan ons dit nie voorstel dat iemand so onbesonne sal wees om die identiteit van Saterdag as die Sabbat of sewende dag te bevraagteken nie, aangesien die volk van Israel Saterdag onderhou vandat die Wet aan hulle gegee is”.

Dieselfde artikel gaan voort: “In ’n indringende, kritiese ondersoek van die Nuwe Testament, vind ons 61 verwysings na die Sabbat. Ons merk ook dat die Verlosser sonder uitsondering die Sabbat (Saterdag) kies om die mense in die sinagoges te onder­rig en wonderwerke te verrig. Die vier Evangelies verwys 51 keer na die Sabbat (Saterdag) ... die ‘Handelinge’ verwys nege keer na die Sabbat, maar dit is die Saterdag (die ou Sabbat)”.

Kyk ’n bietjie na hierdie artikel wat ook later gepubliseer is onder Kardinaal Gibbon se bestuur: “God se geskrewe woord beveel ons duidelik, herhaaldelik en nadruklik om Hom op Saterdag te aanbid, met ’n uiters positiewe doodsdreigement aan diegene wat Hom ongehoorsaam is” (23 Sep. 1893).

Kan ’n mens dit DUIDELIKER kry? Natuurlik sou die ware Kerk van God wat Sy gebooie onderhou, voortgaan om Sy sewende-dag Sabbat te onderhou – vanaf Vrydag sononder tot Saterdag sononder!

George Park Fisher, wat gedurende sy leeftyd ’n gerespekteerde professor in kerklike geskiedenis aan die Universiteit van Yale was, stem saam met Hurlbut dat die vroeëre Christene die sewende dag as Sabbat gehou het. Professor Fisher skryf: “Die Joodse Christene het aan die begin gereeld na die sinagoges gegaan. Hulle het voortgegaan om die Feesdae te hou soos voorgeskryf in die Wet, en het geleidelik Christelike idees en feite met dié dae begin verbind. Hulle het die Sabbat op Saterdag gehou, volgens die Mosaïese gebod” (History of the Christian Church, 1887, bl. 40).

Dus, as God se Sabbat so duidelik gevestig is in Sy Woord – en beslis gehou was deur Sy Kerk wat die Bybel geglo het – waar kom Sondagaanbidding dan vandaan? Die beroemde moderne historikus, Will Durant, skryf: “Die ernstige stemming van die Joodse Sabbat is oorgedra op die Christelike Sondag, wat die Sabbat in die tweede eeu vervang het” (The Story of Civilization, vol. 3, 1972, bl. 599).

Hoe het dit gebeur? ’n Rooms-Katolieke studiekursus sê: “Die [Katolieke] Kerk het die verpligting van Saterdag na Sondag oorgedra” (Father Smith instructs Jackson). Hiermee stem die blad, The Catholic Mirror, saam: “Die Katolieke Kerk ... uit hoofde van haar Goddelike missie, het die dag verander van Saterdag na Sondag” (23 Sep. 1893). Trouens, die Katolieke Kerk se Pouslike Gregoriaanse Universiteit in Rome PUBLISEER weliswaar ’n boek deur Dr. Samuele Bacchiocchi, ’n nie-Katolieke geleerde, wat hierdie einste feit bewys! Die voorwoord is geskryf deur Vincenzo Monachino, voorsitter van dié universiteit se Departement van Kerkgeskiedenis. Hy skryf: “Ons [die Rooms-Ka­to­lieke Kerk] NOEM GRAAG die tesis rakende die ge­boorteplek van Sondagaanbidding wat Bacchiocchi verdedig: vir hom het dit heel moontlik ontstaan nie in die primitiewe Kerk van Jerusalem nie, wat goed bekend was vir sy verknogtheid aan die Joodse gods­dienstradisies, maar eerder in die Kerk van Rome. Die opsegging van die Sabbat en die aanvaarding van Sondag as die dag van die Here, is die gevolg van ’n interaksie van Christelike, Joodse en HEIDENSE godsdienstige faktore” (From Sabbath to Sunday: A Historical Investigation of the Rise of Sunday Observance in Early Christianity, 1977, bll. 7-8).

Teks uit Faith of Our Fathers deur James Cardinal Gibbon, gepubliseer in 1876. Hierdie welbekende Amerikaanse Katolieke leier het duidelik gesê dat daar geen Skriftelike gesag is om die dag van aanbidding van Saterdag na Sondag te verander nie.

“DIE GELOOF VAN ONS VADERS”

Derdens – ’n Geloofsreël, of ’n bekwame gids tot die hemel, moet in staat wees om onderrig te gee in al die waarhede wat vereis word vir saligheid. Wel, die Skrif alleen bevat nie al die waarhede waaraan ’n Christen gebonde is om te glo nie, en die praktiese verpligtinge wat die Christen moet nakom, word nie uitdruklik beklemtoon nie. Behalwe ander voorbeelde wat aangehaal kan word – is die Christen nie verplig om Sondag te heilig en hom te weerhou van onnodige harde werk nie? Is die nakoming van hierdie wet nie een van die belangrikste van ons heilige verpligtinge nie? U kan die Bybel deurlees van Genesis tot Openbaring, en u sal nie ’n enkele reëltjie vind wat Sondag heilig maak nie. Die Skrif bekragtig die godsdienstige eerbiediging van Saterdag, ’n dag wat ons nooit heilig hou nie.

Die Katolieke Kerk leer tereg dat ons Here en Sy Apostels sekere belangrike godsdienstige verplig­tinge bygebring het, wat nie deur die geïnspireerde skrywers1 [van die Bybel] opgeteken is nie. Byvoorbeeld, die meeste Christene bid tot die Heilige Gees, ’n gebruik wat nêrens in die Bybel te vinde is nie.

Ons moet dus die gevolgtrekking maak dat die Skrif alleen nie ’n voldoende gids en geloofsreël kan wees nie, omdat dit nie te enige tyd binne die bereik is van elkeen wat daaroor navraag doen nie; want die Skrif op sigself is nie duidelik en verstaanbaar, selfs rakende sake van die grootste belang nie, en omdat dit nie al die waarhede bevat wat nodig is vir saligheid nie.

1 Sien Joh. 21:25; 2 Thess. 2:14

Die Reg om die Dag te Verander?

Langsamerhand, stadig maar seker, was Satan heimlik besig om die misleide Katolieke teoloë te beïnvloed om die ou “eerwaardige dag van die Son” in die plek van die weeklikse Sabbat in te lei. Per slot van rekening het miljoene heidene reeds daardie dag – Sondag – gehou as deel van hul aanbidding van die son sowel as ander hemelliggame. Hierdie misleide teoloë het gedink dat die verandering na Sondagaanbidding dit makliker sou maak vir heidene om hulle tot die Christendom te “bekeer”!

Maar watter soort “Christenheid” verander God se Tien Gebooie en verwater dan verder die hele lewenswyse wat Christus en die oorspronklike Kerk in die era van die Apostels geleer het? Is dit dan nog die ware Christenheid? Laat Christus Self antwoord: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van My Vader wat in die hemele is” (Matt. 7:21).

Onder Satan se bedrieglike invloed het die Protestantse kerke “moeder Rome” gevolg en die ware Sabbat van God verwerp. Alhoewel hulle ’n paar Katolieke leerstellings verwerp het, was die heidense gebruik van Sondagaanbidding nie een van hulle nie. Tog het baie van die vroeëre Protestantse geleerdes van die Hervorming van beter geweet. Hulle het inderdaad geweet wat die Bybel uitdruklik leer! Let op wat skryf Martin Luther, die eintlike vader van die Hervorming na wie die Lutherse Kerk vernoem is: “Inderdaad, as Karlstadt [een van die weiniges wat teen Sondagaanbidding standpunt ingeneem het] verder oor die Sabbat sou skryf, sou Sondag moes plekmaak, en die Sabbat – dit wil sê Saterdag – heilig gehou moet word” (Against the Celestial Prophets). Maar Luther wou nie die verandering na Sondagaanbidding nietig verklaar nie. In sy Larger Catechism skryf hy: “Om onnodige steurnis te vermy wat ’n verandering sou meebring, behoort [die dag van aanbidding] Sondag te bly” (The New Schaff-Herzog Encyclopedia of Religious Knowledge, artikel getiteld “Sunday”).

Dit is die rede waarom die Katolieke Kerk sê sy “noem graag” dat sy die dag verander het! Want dit bewys dat die Protestante nie op die Bybel staatmaak as hul enigste maatstaf vir godsdienstige gebruike nie, alhoewel dit is wat hulle beweer. Inteendeel – hulle erken die “gesag” van die Roomse Kerk om God se wet te verander! Só verduidelik The Catholic Mirror dit: “Met sy ontstaan het die Protestantse wêreld gevind dat die Christelike Sabbat [Sondag] te sterk ingegrawe was om daarteen beswaar te maak; en daar is toe, vir meer as 300 jaar, onvermydelik berus by die beslissing, wat die Kerk se reg om die dag te verander, impliseer. Die Christelike Sabbat (Sondag) is dus tot vandag toe die erkende voortbrengsel van die Katolieke Kerk ... sonder ’n woordjie van [protes] uit die Protestantse wêreld” (23 Sept. 1893).

Ongelooflik? Ja! Natuurlik het die Katolieke Kerk geen “reg” gehad om die dag te verander nie. Nogtans is dit presies wat hulle gedoen het. Die Protestantse kerke het hulle maar gevolg. Intussen het die ware Kerk voortgegaan om die regte Sabbat te hou, net soos in die tyd van die Apostels. Laat ons nog ’n keer kyk na daardie tydperk. Die gerespek­teerde geleerde, W.D. Davies, skryf:

“Orals, veral in die oostelike deel van die Romeinse Ryk, was daar Joodse Christene wie se lewenswyse nie veel verskil het van dié van die Jode nie. Hulle het dit as vanselfsprekend aangeneem dat die evangelie voortgebou het [op die godsdiens van Moses]; vir hulle het dit nie beteken dat die Nuwe Verbond wat Christus ingestel het tydens Sy laaste ete saam met Sy dissipels… die Verbond tussen God en Israel kragteloos gemaak het nie ... Hulle het steeds die Feeste, soos die Pasga, Pinkster en die Fees van Tabernakels onderhou, hulle het ook volgehou met die besnydenis, om die weeklikse Sabbat te hou en die Mosaïese reëls aangaande voedsel te volg ... Volgens sommige geleerdes moes hulle so sterk gewees het dat hulle, tot die oor­name van Jerusalem in 70 n.C., die DOMINANTE ELEMENT was in die Christelike beweging” (Judeo-Christianism, artikel getiteld “Paul and Jewish Christianity”, 1972, bl. 72, aangehaal deur Bacchiocchi, bl. 151).

As die Sabbatonderhouers die dominante element in die Christendom was vir 40 jaar ná die dood van Christus en die uitstorting van die Heilige Gees, behoort dit nie vir ons iets te sê nie? Is dit nie duidelik dat as Jesus, Petrus, Jakobus, Paulus en die MEESTE van die Christelike Kerk van daardie tyd die sewende dag as Sabbat onderhou het, DIT die dag is wat ons ALMAL behoort te hou nie? Dit is die dag wat die eerste Apostels van Jesus Christus gehou het tot die dag van hul dood.

Hoe DURF die latere teoloë van die Middeleeue Christus se naam plaas op ’n dag wat Hy nooit gehou het nie – NOOIT geheilig het nie! Hoe DURF hulle God se heilige Sabbat vervang met die heidense “dag van die Son” – Sondag! Hoe DURF hulle die identifiserende “uitkenteken” van die SKEPPER en Sy ware volgelinge verdraai!

Maar onder die kragtige invloed van Satan die Duiwel, “wat die hele wêreld verlei [mislei]” (Op. 12:9), het hulle dit gedoen! (Om meer te leer oor die verandering van die heilige Sabbat na die heidense Sondag, vra gerus vir ons gratis boekie Die Dier van Openbaring).

Dit is dus duidelik dat, om waarlik te doen wat die BYBEL leer, ons die sewende-dag Sabbat MOET onderhou – vanaf sononder Vrydag tot sononder Saterdag. Maar as u bereid is om TOE TE GEE aangaande die einste gebod wat die ware God aandui, dan sal u heel waarskynlik die “dag van die Son” eerbiedig saam met die oorgrote meerderheid – die ontelbare miljoene wat, volgens die profesieë, binnekort onderwerp sal word aan die grootste VERDRUKKING in die mens se geskiedenis – oor hul opstand teen die ware God! (Sien Matt. 24:21-22).

Wat om te Doen?

Van al tien die Gebooie, is die vierde een – oor die Sabbat – nog altyd die “toetsgebod” (sien Ex. 16:4). Baie mense kan die ander nege aanvaar – moenie ander gode aanbid nie, eer jou ouers, moenie doodmaak nie, moenie owerspel pleeg nie, moenie steel nie, moenie lieg nie, ensovoorts. Maar die vierde gebod is anders. Om dit te onderhou, beteken om merkbaar anders as die gemeenskap om u te leef, ja, om selfs as “vreemd” of “eienaardig” beskou te word. Tog sê Jesus: “As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie. En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie” (Luk. 14:26-27). [Hierdie Skrifdeel word dikwels só vertaal: “Wie ook al na My toe kom, kan nie My dissipel wees tensy hy My meer lief het as wat hy sy vader en sy moeder, sy vrou en sy kinders, sy broers en sy susters, en homself ook, het nie” – bv. Today’s English Version.]

Ag u die “lof van mense” hoër as die lof van God? Of het u die GELOOF en die MOED om God se gebooie te gehoorsaam – selfs al sou u u werk, u vriende en miskien selfs sommige van u familie moet verloor?

Dwarsdeur die Bybel dui God aan dat Sy ware volgelinge Sy gebooie onderhou. In Openbaring 12 beskryf God die ware Kerk – die klein kuddetjie – wat moes vlug van die Romeinse Ryk gedurende die duister Middeleeue (vers 6). Dan voorspel Hy hoe dit weer sal gebeur – in ons tyd (vers 14). Laastens, beskrywe God Satan se WOEDE teen die Kerk: “En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou” (vers 17).

In Openbaring 14:12 beskryf God die karakter van Sy heiliges: “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in [of liewer van] Jesus bewaar”. Let daarop dat die heiliges nie bloot sommige “nuwe” gebooie van Jesus bewaar nie. Hulle hou God se gebooie deur die geloof VAN Jesus Christus in hulle – nie net hulle geloof IN Hom nie (vgl. Gal. 2:20). Want, deur die Heilige Gees, leef Christus Sy lewe in ons en stel ons in staat om onsself, die wêreld, en Satan te oorwin. Deur die Heilige Gees se werking in ons lewens is ons dus in staat om God se geestelike wet te GEHOORSAAM!

Openbaring 22:14 beskryf diegene wat vir ewig saam met God die Vader en Christus in die Nuwe Jerusalem sal leef: “Salig is die wat SY GEBOOIE DOEN, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad”.

In Sy bekende Olyfbergpredikasie opgeteken in Mattheus 24, beskryf Jesus die tyd wanneer ware Christene weereens vir hul lewens sal moet VLUG. Dié tyd is net om die draai, want in hierdie profesie is dit geplaas net VOOR die Groot Verdrukking, waartydens die HELE mensdom uitgewis sou word as dit nie vir God se bonatuurlike ingryping is nie. Jesus waarsku Sy getroue volgelinge wat om te doen wanneer daardie Verdrukking nader kom: “En bid dat julle vlug nie in die winter of op die SABBAT mag plaasvind nie” (vers 20). Hy het duidelik geweet dat Sy ware dissipels in die tyd van die einde nog altyd die ware Sabbat sou HOU!

Saterdag vs. Sondag
Verklarings van Ander Kerke

Jesus Christus sê van die Fariseërs: “Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is. Want terwyl julle die gebod van God nalaat, hou julle aan die oorleweringe van mense vas ... Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou” (Mark. 7:7-9). Let egter op wat ander kerke erken aangaande hulle eerbiediging van Sondag in plaas van Saterdag.

ROOMS-KATOLIEKE KERK

Stephen Keenan, A Doctrinal Catechism, bl. 174:
Vraag: Is daar enige ander manier om te bewys dat die Kerk die mag het om voorskriftelike feeste in te stel?

Antwoord: As sy nie sodanige mag gehad het nie, sou sy nie kon doen waarmee alle moderne godsdienstiges saamstem nie – sy sou nie Sondag-aanbidding, op die eerste dag van die week, kon instel in plaas van aanbidding op Saterdag, die sewende dag nie – ’n verandering waarvoor daar geen Skriftelike magtiging is nie ...

Vraag: Wanneer Protestante die Sabbat ontheilig deur op Saterdag te werk ... volg hulle dan die Skrif as hulle enigste geloofsreël ...?

Antwoord: In teendeel, hulle het slegs die magtiging van tradisie vir hierdie gebruik. Deur die Sabbat te ontheilig, breek hulle een van God se gebooie, wat Hy nooit duidelik herroep het nie, ‘Gedenk die Sabbatdag, dat jy dit heilig’”.

The Convert’s Catechism of Catholic Doctrine, 3de uitgawe, bl. 50:
Vraag: Watter dag is die Sabbatdag?

Antwoord: Saterdag is die Sabbatdag.

Vraag: Waarom hou ons Sondag in plaas van Saterdag?

Antwoord: Ons hou Sondag in plaas van Saterdag omdat die Katolieke Kerk, op die Raad van Laodicea [c. 363] die plegtigheid van Saterdag oorgedra het op Sondag”.

Catholic Press, 25 Aug. 1900:
“Sondag is ’n Katolieke instelling, en ... kan slegs volgens Katolieke beginsels verdedig word... Van die begin tot die einde van die Skrif is daar nie ’n enkele gedeelte wat die verandering vir die weeklikse openbare aanbidding op die laaste dag van die week na die eerste dag regverdig nie”.

METODISTE KERK

Charles Buck, A Theological Dictionary, “Sabbath”:
“Sabbat, in die Hebreeuse taal, beteken rus, en is die sewende dag van die week ... en daar moet erken word dat daar geen wet in die Nuwe Testament is aangaande die eerste dag nie”.

Clovis Chappell, Ten Rules for Living, bl. 61:
“Die rede waarom ons die eerste dag in plaas van die sewende hou, is op geen positiewe opdrag gegrond nie. ’n Mens sal tevergeefs in die Skrif soek na magtiging vir die verandering van die sewende dag na die eerste”.

PRESBITERIAANSE KERK

“The Christian at Work” 19 Apr. 1883 & Jan. 1884:
“Party het probeer om Sondagaanbidding te baseer op ’n opdrag van die Apostels, terwyl die Apostels geen opdrag in hierdie verband gegee het nie ... Inteendeel, sodra ons ons wend tot die litera scripta (letterlike woorde) van die Bybel, het die Sabbatariërs die sterkste argument”.

ANGLIKAANSE KERK

Isaac William, D.D., Plain Sermons on the Catechism, vol. 1:
“Waar word ons hoegenaamd in die Skrif aangesê om die eerste dag te hou? Ons word gebied om die sewende te onderhou; maar nêrens word ons opdrag gegee om die eerste dag van die week te hou nie ... Die rede waarom ons die eerste dag van die week heilig in stede van die sewende is vir dieselfde rede dat ons talle ander dinge hou, nie omdat die Bybel so beveel nie, maar omdat die Kerk dit gebied het”.

EPISKOPAALSE KERK

Philip Carrington, Toronto Daily Star, 26 Okt. 1949:
“Die Bybelgebod sê ’n mens moet op die sewende dag rus. Dit is Saterdag. Nêrens in die Bybel is dit neergelê dat aanbidding op Sondag moet geskied nie”.

BAPTISTE KERK

Harold Lindsell (redakteur), Christianity Today, 5 Nov. 1976:
“Daar is niks in die Skrif wat ons verplig om Sondag eerder as Saterdag as ’n heilige dag te hou nie”.


In nog ’n geïnspireerde profesie oor die EINDTYD wys die Woord van God dat Sy ware diensknegte die Sabbat sal heilig, selfs gedurende die 1,000-jarige ryk van Christus hier op die aarde: “Want soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek maak, voor my aangesig sal bestaan, spreek die Here, so sal julle nageslag en julle naam bestendig wees. En elke maand op die nuwemaan en elke week op die sabbat sal alle vlees kom om te aanbid voor my aan­gesig, sê die Here” (Jes. 66:22-23). Gehoor­saamheid aan die vierde gebod is dus nie “outyds” nie. Dit is eerder die lewenswyse vir die toekoms! Die GANSE MENSDOM sal leer om God se gebooie te gehoorsaam – en om die dae wat God geheilig het, heilig te hou – in die Wêreld van Môre, wanneer die Koninkryk van God binnekort op die aarde gevestig sal word!

Dié van ons wat gewillig is om ag te slaan en ons Skepper nou te GEHOORSAAM – deur Jesus Christus wat Sy lewe in ons leef – sal die ontsaglike geleentheid gegun word om oor stede en volke te regeer, onder Christus se leiding, in die Koninkryk van God. Ons is die ware pioniers wat nou voor­bereidingswerk doen vir die Wêreld van Môre. Ons is besig om te oorwin – ons weerstaan die heersende kragte en neigings van hierdie materialistiese wêreld onder die invloed van Satan. Jesus sê in Openbaring 2:26-27: “En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ’n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van My Vader ontvang het”.

Maar, selfs nou in hierdie wêreldse samelewing, is u nie heeltemal alleen nie. As u die Ortodokse Jode, die Sewendedagadventiste, die Sewendedagbaptiste en baie ander mense van die verskillende Kerke van God insluit, dan is daar miljoene mense wat die sewende-dag Sabbat onderhou. Hulle het gevind, net soos u sal vind, dat dit wel moontlik is om die “toetsgebod” te onderhou en steeds op talle maniere geseën te word en voorspoedig te wees.

U sal selfs in ons uiteenlopende samelewing etlike mense vind wat u moed en toewyding bewonder, alhoewel God dalk nie op hierdie stadium besig is om hulle te “roep” tot volle geestelike begrip nie.

Onthou, daar is miljoene mense wat in alle opregtheid die regte ding wil doen. Maar Jesus sê: “NIEMAND kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag” (Joh. 6:44). Maar indien God besig is om u te roep en u insig in Sy volle Waarheid te gee, dan het u ’n VERANTWOORDELIKHEID OM TE HANDEL volgens daardie Waarheid. In Jakobus 4:17 lees ons: “Wie dan weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde”.

Indien u dan opreg belangstel om God waarlik te gehoorsaam en een van die “eerstelinge” van Sy verlossing in hierdie tyd te word, mag u dalk wil kontak maak met die “klein kuddetjie” van Christus – wat Hy bewaar het in hierdie verwarde tyd waarin ons leef. ’n Belangrike tak van hierdie groep gelowiges is besig om die Werk van God te doen. Dit is die Kerk wat Tomorrow’s World/Die Wêreld van Môre-programme op radio (en televisie – oorsee) produseer en borg, en wat die tydskrif, die Wêreld van Môre publiseer. Laasgenoemde word in baie lande versprei. Ons is die Lewende Kerk van God en ons streeksadres en telefoonnommer verskyn agter in hierdie boekie. Ons het verteenwoordigers in baie van die belangrikste wêreldstede. Dus, as u vrae het oor hoe om die Sabbat behoorlik te onderhou of om saam met ander in u omgewing byeen te kom – of indien u ander vrae oor ware Christenheid het – skryf gerus aan ons of bel ons. Niemand sal u besoek tensy u daarom vra nie. Ons verteenwoordiger sal slegs telefonies met u gesels of u per brief beantwoord. Ons sal geen druk op u uitoefen om by ons aan te sluit of om ons te ondersteun nie, want ons wil seker wees dat God u waarlik “roep”.

Hoe om die Sabbat te hou

Presies hoe moet ons die Sabbat hou? Soos ons gesien het, het die Fariseërs en die Skrifgeleerdes probeer om, tot in die fynste besonderhede, reëls neer te lê oor wat aanvaarbare handeling op die Sabbat sou wees en wat nie. Daardeur het hulle die Sabbat ’n groot LAS gemaak – iets wat God nooit bedoel het nie (verw. 1 Joh. 5:3). Hy het die Sabbat gegee en in ander dele van Sy Woord in fyner besonderhede daarop uitgebrei, maar het hoofsaaklik die breë geestelike beginsels daaroor uitgelê.

Wat sê God aan ons? In die vierde gebod self, sê God: “Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen” (Ex. 20:9). Baie mense sal verbaas wees om te besef dat dit eintlik deel van die gebod is. God het die eerste ses dae van die week bestem vir ons besigheid en werk. Ons Skepper het bedoel dat ons moes werk en produktief wees – ons daaglikse brood verdien. In Spreuke 19:15 sê Hy: “Luiheid laat in ’n diep slaap val, en een wat traag is, moet honger ly”. Die persoon wat dus sy verantwoordelikhede op die eerste ses dae van die week ontduik, is net so skuldig aan die verbreking van die gebod as die een wat op die sewende dag werk!

Dit bring ons by die volgende opdrag in hierdie groot gebod: “Maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God; dan mag jy géén werk doen nie – jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie” (vers 10). Jy mag dus geen regte werk op die Sabbat doen nie – of dit nou jou beroep, persoonlike besigheid, huiswerk of enige inspannende aktiwiteit is en diegene in die omgewing waaroor jy beheer het, mag ook nie werk nie. Om ’n ligte maaltyd voor te berei, of daarna op te ruim, sou nie verkeerd wees nie. Ons vind verskeie geleenthede waar Jesus ’n Sabbat­maal saam met ander geniet het en Hy het nooit gasvryheid op die Sabbat veroordeel nie (sien Luk. 14:1-6).

Maar om op te hou met werk, is nie die enigste vereiste wat God stel nie. Hy gee ook positiewe opdragte. In Moses se herhaling van die Tien Gebooie begin die vierde een met: “ONDERHOU die sabbatdag, dat jy DIT HEILIG soos die Here jou God jou beveel het” (Deut. 5:12). Ons moet na God gaan om te leer hoe om dit heilig te hou. Levitikus 23 gee ’n lys van die “feestye van die Here [nie van die Jode nie] wat julle moet uitroep as heilige samekomste” God sê “dit is MY feestye” (vers 2). Die eerste een wat genoem word, is die weeklikse Sabbat: “Ses dae lank kan werk gedoen word, maar op die sewende dag is dit ’n dag van volkome rus, ’n heilige vierdag; géén werk mag julle doen nie – dit is ’n sabbat van die Here in al julle woonplekke” (vers 3). Dan gee God ’n lys van Sy sewe ander Feeste of Feestye, wat sewe jaarlikse Sabbatte insluit. Hierdie jaarlikse Sabbatte is ook ingesluit deur die gees van die Sabbatgebod.

God se Sabbatte – weekliks en jaarliks – moet gehou word as “heilige samekomste” en is dus dae spesifiek aangewys vir eredienste. Wanneer ons gemeenskap het met ander in wie God woon, dan het ons ook gemeenskap met Hom (sien 1 Joh. 1:3, 7). Die Nuwe Testament sê ons moet seker maak dat ons “... ons onderlinge byeenkomste nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag [die Sabbat van 1,000 jaar] sien nader kom” (Heb. 10:25). Ons moet dus nie versuim om byeen te kom op die dae wat God vir daardie doel ingestel het nie.

Laastens, om werklik te verstaan hoe God wil hê ons die Sabbat moet hou, kyk na wat Hy sê in Jesaja 58: “As jy jou voet terughou van die sabbat – om nie jou sake op my heilige dag te doen nie, en as jy die sabbat ’n verlustiging noem en die heilige dag van die Here hooghou; en as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie geleentheid vir jou sake soek of ydele taal spreek nie; dan sal jy jou verlustig in die Here, en Ek sal jou laat ry oor die hoogtes van die aarde ...” (verse 13-14).

Ons moet dus nie ons eie plesier soek op die heilige dag van God nie. Dit beteken dat ons nie dan ons stokperdjies of ontspanningsaktiwiteite, soos sport, moet beoefen nie. Dit beteken egter nie dat ’n mens geen genotvolle dinge op die Sabbat mag doen nie, want ons moet ons in die Sabbat VERLUSTIG. God moet egter deel wees van wat ons ook al doen. ’n Gesinswandeling in die natuur, byvoorbeeld, is ’n wonderlike manier om in kontak te kom met die grote God wat die mooi skepping gemaak het.

Wanneer die sewende dag aanbreek, moet ons ophou om “ons eie gang” te gaan (die dinge wat ons normaalweg doen), ons eie plesier te soek (ont­spanning, stokperdjies, partytjies, ens.), ydele taal te praat (die alledaagse dinge waaroor ons gesels waarin God geen deel het nie). Hierdie laaste een is dikwels BAIE MOEILIK, want “uit die oorvloed van die hart praat die mond” (Matt. 12:34). Om werklik die Sabbat in die Gees te hou, moet ons FOKUS op God en op dié dinge waarmee Hy wil hê ons besig moet wees in Sy heilige tyd. Dan, soos God beloof, sal ons waarlik geseënd wees.

Afgesien daarvan dat ons op Sy weeklikse Heilige Dag moet aanbid saam met die ware Kerk van God, moet ons ook Christus se woorde onthou, naamlik dat dit “geoorloof [is] om op die sabbat goed te doen” (Matt. 12:12). Dit is dus ’n dag waarop ons siek mense kan bel om hulle te bemoedig; of briewe kan skryf aan siekes of diegene wat op die een of ander manier “ingeperk” is en nie vrylik buite kan rond­beweeg nie, of aan mede-Christene wat eensaam is. Ons kan siek mense of ander wat behoeftig is, op die Sabbat besoek, of hulle oornooi vir ’n maaltyd op Vrydagaand (sien Matt. 25:34-36; Jak. 1:27).

Ons moet dus nie aan die Sabbat dink as die dag wanneer ons nie dit of dat kan doen nie. Inteendeel, ons moet hierdie baie spesiale dag beskou as ’n tyd wat ons werklik kan gebruik om die Bybel diep te bestudeer en te ontleed. Die Sabbat is die tyd wanneer ons kan stilsit en bepeins oor die werklike groot strydvrae van die lewe: Waarom is ons gebore? Wat is die doel van die lewe? Hoe kan ons daardie doel bereik? Hoe vorder ons in die bereiking van daardie doel? Daarbenewens is die Sabbat die ideale tyd vir ongejaagde, weldeurdagte GEBED wat diep uit die hart kom. Sodoende kommunikeer ons met ons Vader in die hemel, aanbid Hom as ons Skepper en leer ons Hom waarlik intiem ken. Dit is dan die wyse waarop ons God se Sabbat HEILIG HOU.


Wil u die geleentheid hê om die ware Sabbat te onderhou, om hartlike, liefdevolle, broederlike samesyn te ervaar saam met ander wat dieselfde oortuigings huldig, en om meer te leer van die plan en DOEL van die Grote GOD? Stel u belang om deel te hê aan hierdie KRUISTOG om die weg voor te berei vir die wederkoms van Jesus Christus? Ons hoop so, want dit sal alles ontsaglik bydra om u geestelike groei te stimuleer. Tensy u byeenkom met diegene wat die ware geloof van Jesus Christus volg en gevoed word met Sy Woord in plaas van met die tradisies van mense, kan u maklik geestelik “sterf”. Die boek van Hebreërs sê: “en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Heb. 10:24-25).

Gaan u, persoonlik, die geloof en MOED hê om die God te gehoorsaam wat aan u lewe gee? Of gaan u die wanopvattings volg van ’n wêreld wat onder die kragtige invloed van Satan staan? U WEET nou dat die God van die Bybel u gebied om Sy Sabbat te heilig. Die uiteindelike loon vir ongehoor­saamheid aan die wet van God is die DOOD in die poel van vuur en swawel. “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here” (Rom. 6:23; vergelyk Op. 21:8).

Net soos God met antieke Israel gepraat het, so praat Hy nou ook met u – deur Sy geïnspireerde Woord: “Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. KIES DAN DIE LEWE, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag” (Deut. 30:19).