El-Roi - Afrikaans

Studies

Gedigte

God

Israel

Profesiee

Satan

Studies

Christenskap van die Apostels

deur Dr. Roderick C. Meredith

Die Lewende Kerk van God

Indien Jesus van Nasaret vandag na die aarde sou terug­keer, sal Hy die godsdiens herken wat Sy naam dra? Sou Hy geskok wees om te vind dat mense wat daarop aanspraak maak om Sy volgelinge te wees, die afgelope 1,900 jaar feitlik ononderbroke oorlog voer teen mekaar: Katoliek teen Katoliek, en Protestant teen Protestant? Dat Sy sogenaamde belydende volgelinge eintlik leerstellings aan­hang wat GEHEEL EN AL TEEN­STRYDIG is met dit wat Hy onderrig het; dat hulle verskillende dae van aanbidding en verskillende gebruike onderhou? En, die belangrikste van alles, dat hulle ’n heeltemal ander konsep van God en Sy doel het as wat Jesus en die oorspronklike Apostels gehad het?

Jesus kan dalk wonder: Waarom gebruik hulle MY naam in al hierdie “dinge?”

Tog erken die meeste opregte godsdiens­geleerdes dat ENORME veranderinge in die belydende Christendom plaasgevind het, wat dit verander het in iets totaal anders as die Christenskap van Jesus en die Apostels! Soos ’n gerespekteerde en bekende Protestante geleerde, Jesse Lyman Hurlbut, erken:

Vir vyftig jaar na die dood van Paulus hang ’n gordyn oor die kerk, waardeur ons tevergeefs probeer kyk. Wanneer daardie gordyn uit­eindelik lig, so om en by 120 n.C., vind ons in die geskrifte van die eerste kerkvaders ’n kerk wat in baie opsigte baie verskil van die kerk in die dae van Petrus en Paulus (Story of the Christian Church, bl. 41).

Indien die leiers, in die periode wat mnr. Hurlbut elders ’n “era van skadu’s” noem, vervul was met en gelei was deur God se Gees, waarom sou die Kerk dan skielik so baie anders wees? Die Bybel vertel ons immers: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Heb. 13:8). Tog is die belydende Christenkerk van vandag nie eens naastenby dieselfde as die een wat Jesus gevestig het nie.

In sy beskrywing van dieselfde periode, toe al die oor­spronklike Apostels en hul opvolgers reeds gesterf het, skryf Hurlbut:

Die aanbiddingsdienste het toegeneem in praal, maar was minder geestelik en hartlik as vroeër. Die kerk­gebruike en seremonies van die heidendom het geleidelik in aanbidding ingesluip. Sommige van die ou heidense feeste het kerkfeeste geword met ’n verandering in naam en aanbidding. Teen 405 n.C. het beelde van heiliges en martelaars in die kerke begin verskyn; eers net as herinneringe, en later om vereer en aanbid te word. Aanbidding van die Maagd Maria was die plaasvervanger vir aanbidding van Venus en Diana; die laaste avondmaal het ’n offerande pleks van ’n herdenking geword, en die ouderling as prediker het ontwikkel tot ’n priester (bl. 79).

Let op mnr. Hurlbut se stelling dat “sommige van die ou heidense feeste kerkfeeste” geword het. Hulle het so “geword” omdat God Self voorspel het dat BOSE mense en vals leiers die oorgrote deel van die Kerk sou oorneem! Onthou die apostel Paulus se geïnspireerde waarskuwing aan die Efesiërs: “Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan. Daarom moet julle waak en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie” (Hand. 20:29-31).

Toe Paulus die omvang besef het van die GELOOFS­VERSAKING wat die meeste van die Kerk sou oorneem, het dit hom emosioneel geraak. Hy het toe “nag en dag nie opgehou … om elkeen met trane te VERMAAN nie”. Min mense is vandag besorg genoeg oor dié groot geloofs­versaking om enigsins trane te stort oor hierdie geweldige veranderinge.

Hoe kon dit gebeur het?

Hierdie groot geloofsversaking het gebeur omdat die mense toe, net soos vandag, nie ywerig daarna gestreef het om vir hulself te BEWYS waar God se waarheid verkondig word nie. Dit is waarom die Lewende Christus die Christene teen die einde van die Era van die Apostels so vermaan het: “Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Op. 2:4-5).

Maar wat van vandag? Hoe kan ons rekenskap gee vir die meer as 400 verskillende kerklike organisasies en sektes wat hulself almal “Christene” noem? Almal met hul verskillende idees, tradisies en benaderinge, maar hulle beweer dat hulle dieselfde Jesus Christus volg?

’n Deel van die antwoord lê in die feit dat baie min belydende Christene werklik hul Bybels bestudeer! Dus BEWYS hulle feitlik niks waarin hulle glo vir hulself deur dit noukeurig in die Bybel na te vors nie! O, hulle bestudeer wel ywerig boeke en artikels oor gesondheid, oor selfverryking of oor beleggings en hoe om meer geld te maak. Maar dit kom nie by hulle op om die BELANGRIKSTE van alle onderwerpe te bestudeer nie: Is daar ’n ware God? Indien wel, wat is Sy DOEL met die skepping van die menslike wesens? HOE kan ons daardie doel vervul? Die Bybel beveel immers: “BEPROEF [bewys] alle dinge; behou die goeie” (1 Thess. 5:21).

Die meeste mense “aanvaar” bloot die godsdiens wat deur hul families oorgelewer is. Die meeste mense “aanvaar” net die gelowe en tradisies wat hulle as kind geleer is. Na aanleiding van die publiek se gebrek aan belangstelling in hul godsdiens, berig die Los Angeles Times se godsdiensskrywer, Teresa Watanabe, só:

Volgens een godsdiensnavorsingsfirma, lees twee derdes van die Amerikaners nie gereeld die Bybel nie of hulle ken nie die name van die vier Evangelies nie. Meer as die helfte in die menings­opname kon nie eens vyf van die Tien Gebooie op­noem nie. Die meerderheid sê dat die Goeie Boek nie ter sake is nie …. “Ons skryf die Bybel steeds hoog aan, maar om werklik tyd daaraan te spandeer en dit te lees, te bestudeer en toe te pas, is iets van die verlede”, sê George Barna. Die redes daarvoor strek van veranderinge in die Amerikaanse kultuur tot die moeilikheidsgraad van die teks self.

Godsdienstige organisasies wend nou ’n groot poging aan om die antieke Skrif se kwynende beeld op te kikker. Bybel­publiseer­ders produseer ’n groot verskeidenheid items, met vertalings en uitgawes gerig op elke denkbare markgroep, om mense te oortuig dat die Boek nóg oudtyds nóg ontoepaslik is (Los Angeles Times, 23 Julie 1999).

Natuurlik is die eintlike onderliggende oorsaak vir dié groot godsdienstige geloofsversaking dat dit Satan se wêreld is en dat hy die oorgrote meerderheid van die mensdom totaal MISLEI het. In die gemaksugtige Westerse samelewing besef die meeste Amerikaners, Kanadese, Suid-Afrikaners en andere nie dat die oorgrote meerderheid mense nog nooit in ENIGE vorm van “Christelikheid” geglo het nie, wat nog te sê in die ware Christenskap van Christus en die Apostels! Die oorgrote meerderheid mense is – en was nog altyd – Moslems, Hindoes, Boeddhiste, Sjintoïste, ateïste [godloënaars] en agnostici [niegelowiges].

’n Baie WERKLIKE Satan is betrokke

As u u Bybel sal bestudeer en glo, sal u vind dat Satan die Duiwel beskryf word as die een “wat die hele wêreld verlei” (Op. 12:9). U sal ook vind dat Satan beskryf word as “die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” (Ef. 2:2), want Satan “saai” ’n selfsugtige, rebelse gesindheid dwarsoor die aarde “uit”. Hy is die een wat misleide mense beïnvloed om ENORME hoeveelhede onge­oorloofde seks, geweld en ’n algemene gees van minagting en wetteloosheid in te sluit in die sogenaamde “vermaak” waaraan u en u kinders elke dag bloot­gestel word, op televisie, in rolprente, oor die radio, of die bose rekenaarspeletjies wat onbeskryflike perversie of geweld naboots. Weet u wie lag eintlik oor al hierdie “pret”? Satan!

Deur die mens se natuurlike belangstelling in seks en opwinding te verdraai en op ’n slim wyse verwronge humor in so baie van die televisie se “situasiekomedies” in te sluit, slaag Satan op ’n slinkse wyse daarin om die mensdom te mislei om hulself te misbruik, te verkleineer en uiteindelik te VERNIETIG – as God nie op die laaste oomblik sou ingryp om dit te voorkom nie (Matt. 24:21-22). Satan is waarlik die “god” van hierdie huidige wêreld!

Die apostel Paulus is geïnspireer om te skryf: “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die onge­lowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Kor. 4:3-4).

Die belangrikste van alles is dat Satan ’n hele reeks totale VALS idees in die hoofstroom­christendom ingespuit het oor die oorsprong en lotsbestemming van die mens, wie God is, wat God se grootse DOEL is en hoe ons daardie doel kan bereik. Daarby het Satan die mense so in die war gebring oor profesie, dat die meeste belydende Christene en selfs die meeste belydende Christen­leraars en priesters eenvoudig tou opgooi en Bybel­profesie feitlik heeltemal ignoreer. Ons Skepper het egter omtrent ’n kwart van die hele Bybel aan “die profetiese woord wat BAIE VAS is”, bestee (2 Pet. 1:19).

Het u al ooit na tradisionele Christelikheid gekyk en uself afgevra: “Is hierdie godsdiens werklik gebaseer op die Bybel? Is DIT die godsdiens wat Jesus Christus gestig en Sy Apostels geleer het?” As Jesus Christus die Verlosser van die wêreld is, dan moet Sy lewe ’n voorbeeld wees vir Sy volgelinge. Maar feitlik niemand VOLG Sy voorbeeld nie!

Christelikheid sonder Christus?

Pleks daarvan het die mens sy eie godsdiens gemaak wat feitlik heeltemal verskil van wat Jesus Christus verkondig en beoefen het. Hulle noem daar­die godsdiens “Christelikheid”, asof dit aan Jesus Christus gekoppel is! Soos die filosoof en teoloog, Soren Kirkegaard, gesê het:

Die Christelikheid van die Nuwe Testament bestaan eenvoudig nie ... wat gedoen moet word, is om lig te werp op ’n kriminele oortreding teen die Christendom wat volgehou is oor die eeue heen, wat gepleeg is deur miljoene (in ’n meerdere of mindere mate skuldig), waardeur hulle skelmpies, onder die dekmantel om die Christelikheid te vervolmaak, God bietjie-vir-bietjie van die Christelikheid beroof het en daarin geslaag het om Christelikheid presies die teenoorgestelde te maak van wat dit in die Nuwe Testament is (Attack upon Christendom, Kirkegaard, 1956, bll. 32-33).

Dit is ernstige woorde, maar eintlik glad nie uniek nie. Professor Rufus M Jones stem hiermee saam in sy mening oor hoe gou Christus se ware leerstellings verwyderd geraak het van die godsdiens wat Sy naam dra:

Indien Christus Self deur Sy latere volgelinge as die model en voorbeeld van die nuwe weg geneem is en ’n ernstige poging aangewend was om Sy lewe en leerstellings as norm en standaard vir die Kerk te stel, sou Christelikheid iets BAIE ANDERS gewees het as waarin dit ontwikkel het. Dan sou “geloofs­versaking” wees wat dit nou nie is nie, dit sou wees ’n afwyking van Sy weg, Sy leerstellings, Sy gees, Sy koninkryk … Wat ons eintlik “Galilese Chris­telikheid” noem, het ’n kort lewensduur gehad, alhoewel daar merkbare pogings was om dit te laat herleef, en hier en daar het geestelike profete daarop aangedring dat enigiets anders as hierdie Galilese godsdiens “geloofs­versaking” is; maar die algemene historiese ontwikkeling het ’n ander roete gevolg en het die klem baie anders laat val (The Church’s Debt to Heretics, Jones, 1924, bll. 15-16).

Ons behoort nie verbaas te wees dat die mensdom probeer het om Christelikheid volgens hul eie idees te herskep nie. Die mensdom probeer al vir duisende jare om sy eie kop te volg. Humanisme, materialisme, sosialisme, kommunisme of kapitalis­me – die samelewing het al so baie filosofieë uitge­dink in die TEVERGEEFSE hoop om betekenis te gee aan ’n lewe sonder God en om deur menslike pogings ’n gelukkige en voorspoedige samelewing op aarde te skep.

Die waarheid is duidelik. Moderne “Christelikheid” het iets “BAIE ANDERS” geword – soos Professor Jones gesê het – as die Christenskap van Christus! En wat is die gevolg hiervan? Nasies is feitlik permanent betrokke in oorloë met mekaar, die rykes gaan vooruit terwyl die armes van honger vergaan en siektes buitensporig toe­neem. “Die meeste mense lei ’n lewe van stille desperaatheid”, volgens Henry David Thoreau. Hy was REG! Maar nóg Thoreau nóg die mensdom in geheel se oë is geopen vir die oplossing, die WAARHEID wat hul lewens met betekenis, vreugde en vrede sal vul.

Sommige mense mag wel sê: “Wat daarvan?” Ons praat nie hier van ’n onbenulligheid nie. Inteendeel, ons praat van die weg na ewige LEWE aan die een kant of ewige DOOD aan die ander kant (Rom. 6:23), want indien u nie die Christelikheid van Christus het nie, het u geen Christelikheid van enige aard nie!

Jesus waarsku: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitge­drywe en in u Naam baie kragte [wonders, NV] gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Matt. 7:21-23). Dit is belangrik om te besef dat Christus aan diegene wat nalaat om die “wil” van die Vader te doen, sal sê: “Ek het julle NOOIT geken nie”. In eenvoudige taal beteken dit dat hierdie misleide kerk­gangers gaan hoor dat hulle die Christus wat hulle na bewering gedien het, eintlik nooit geken het nie. Hulle was nooit werklik bekeer nie. Hulle was nooit werklik “Christene” nie!

Weereens sê Jesus: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Luk. 6:46). ’n “Heer” of “meester” is iemand aan wie ’n mens GEHOORSAAM is. Maar die meeste belydende Christenleraars en hul nalopers volg NIE die uitdruklike leerstellings en voor­beelde van Jesus en die Apostels nie. Die meeste van hulle doen nie eens die moeite om hul Bybels ernstig te bestudeer om uit te vind wat daardie leerstellings en voorbeelde is nie!

Herstel die Christenskap van die Apostels

Die sleutelkwessie is dus ons behoefte en gewilligheid om terug te keer na die ware Christelike geloof “wat EENMAAL aan die heiliges oorgelewer is” (Judas 3). Is u gewillig om werklik te probeer om die Christelikheid van Christus na te volg? Of is u bereid om ’n “kans te vat” in u verhouding met God en u strewe na die ewige lewe?

Om die waarheid te sê, het die “klein kuddetjie” (Luk. 12:32) – die ware Kerk van God – nog altyd die nood­saaklikheid verstaan om te handel volgens die leerstellings en voorbeelde van Christus en die Apostels. Alhoewel baie min mense ernstig probeer het om hierdie patroon na te volg, verstaan baie geleerdes en godsdienstige historici die konsep van die “Jerusalem Kerk van God”. Dit is ’n lewensbelangrike konsep om te begryp as ons opreg belangstel om te stry vir daardie “geloof wat een maal oorgelewer is”.

Die apostel Paulus is geïnspireer om aan die Thes­salonicense te skryf: “Want julle, broeders, het NA­VOLGERS geword van die gemeentes van God wat in Christus Jesus is in Judéa” (1 Thess. 2:14). Handelinge maak dit duidelik dat die aardse “hoofkwartier” van die Kerk van God vir baie dekades die Jerusalem Kerk was. Dit was hier waar die Heilige Gees oorspronklik op die ware Christene uitgestort is (Hand. 2). Dit was hier waar die meeste van Petrus, Jakobus en Johannes se bediening vir baie jare gedoen is (verwys Hand. 4:1; 8:1; 11:1-2). Later het Paulus en Barnabas ook na die leiers in Jerusalem gekom om die groot kwessie van die besnydenis vir die Heidene en verwante vrae uit te klaar (Hand. 15:4-6).

Soos die befaamde historikus Edward Gibbon skryf:

Die eerste vyftien biskoppe van Jerusalem was almal besnede Jode en die gemeente waaroor hulle aan­gestel was, het die wet van Moses met die leerstellings van Christus versoen. Dit was natuurlik dat die primitiewe tradisie van ’n kerk wat gevestig is slegs veertig dae ná die dood van Christus en vir amper veertig jaar onder die onmiddellike beheer van Sy Apostel was, aanvaar sou word as die standaard van ortodoksheid. Die verafgeleë kerke het hul gereeld beroep op die gesag van hul geëerde Ouer” (The Decline and Fall of the Roman Empire, hfst. 15, afd. 1, bl. 389).

Soos hierbo vermeld, was die enigste groot leraars­konferensie wat in die Nuwe Testament genoem word, gehou in Jerusalem. Die oorspronk­like Apostelleiers het hier gewoon. Die ware “Moederkerk” was hier gevestig (NIE in Rome nie!). Dit is na Jerusalem waarheen Paulus en Barnabas selfs al vroeër jare gegaan het vir leiding, soos wat Paulus dit stel: “dat ek nie miskien TEVERGEEFS sou loop of geloop het nie” (Gal. 2:1-2).

Ná die groot Jerusalem konferensie reis Paulus en Silas deur Klein-Asië en besoek die kerke: “En op hulle reis deur die stede het hulle die verordeninge wat deur die apostels en die ouderlinge IN JERUSALEM vasgestel was, aan hulle oorgegee om te onderhou” (Hand. 16:4).

Paulus na Jerusalem vir leiding

Dit is duidelik dat die oorspronklike Apostels en die Jerusalem Kerk van God die geïnspireerde “patroon” vir ware Christenskap gestel het – NIE net vir daardie periode nie – maar vir ALLE tye! In teenstelling met die Protestantse dwaalleer-idees dat die apostel Paulus later deur God gebruik was om Christenskap te “herontdek”, het die ware apostel Paulus van die Bybel – soos ons reeds gesien het – deurgaans diep respek vir die oorspronklike Apostels getoon en hom onderwerp aan die leiers in Jerusalem vir besluite oor alle groot kwessies! En dit was die apostel Paulus wat vir die grootliks Heidense Kerk in Korinte skryf: “Die besnydenis is niks en die onbesnedenheid is niks, maar die onderhouding van die gebooie van God” (1 Kor. 7:19). Die bekende historikus Carl von Weiszäcker het só geskryf in 1895:

Paulus het sy belangstelling nie slegs beperk tot die Christenkerk wat hy vir die Heidene gestig het nie. Sy gedagtes was te verhewe om die Joodse Christendom aan sigself oor te laat. Hy het nie slegs geswoeg vir sy eie werk nie, maar vir die Kerk van God … vir die hele Kerk. Hy het nooit vir ’n oom­blik die ware geboorteplek van die evangelie vergeet nie. Vir hom was die Christene in Jerusalem altyd die [heiliges] …. Hy het egter nie slegs ’n grootse beleid van kerklike eenheid beoog nie, maar sy eerste en gedurige gedagte was dat die primitiewe Kerk die belangrikste goddelike instelling was naas die Evangelie … In die vroeë Apostels sien hy die Apostels van die Here. Van hulle af het die getuienis van die opstanding voortgevloei (1 Kor. 15:1, ff.). Hulle was altyd die Apostels, aan die hoof van Sy Kerk geplaas deur God, die eerstes van daardie goddelik aangestelde mense wat die leier­posisies beklee in die Liggaam van Christus (1 Kor. 12:28) (The Apostolic Age of the Christian Church, bll. 12-13).

Later in Paulus se bediening reis hy weer na Jerusalem: “En toe ons in Jerusalem aankom, het die broeders ons met blydskap ontvang. En op die volgende dag het Paulus saam met ons na Jakobus se huis gegaan, en al die ouderlinge was daar teenwoordig” (Hand. 21:17-18). Let daarop dat Paulus hom gaan bekendstel aan Jakobus, die Here se broer wat, sonder twyfel, toe reeds die hoofapostel in Jerusalem was. Petrus was moontlik reeds onderweg na die “verlore skape” van die huis van Israel in die noordweste van Europa en die Britse Eilande.

Nadat hulle hul verheug het in Paulus se goeie nuus oor God se Werk onder die Heidene, sê die Jerusalem leiers aan Paulus: “U sien, broeder, hoeveel DUISENDE Jode daar is wat gelowig geword het, en almal is yweraars vir die wet” (vers 20). Die term “duisende” verwys letterlik na “tienduisende”. Om nie hierdie getal Joodse Christene te ontmoedig of te verwar nie, vra die Jerusalem Kerk vir Paulus om ’n offerande-seremonie uit te voer om in die openbaar te bewys dat hy GEENSINS iets teenstrydig met God se wette verkondig nie. Soos daardie Jerusalem leiers aan Paulus verduidelik: “neem hulle [die mense] en heilig u saam met hulle en betaal die koste vir hulle, sodat hulle hul hoofde kan skeer en almal kan weet dat daar niks is in wat van u vertel word nie, maar dat u self ook [gereeld] wandel as een wat die wet onderhou” (vers 24).

Indien Paulus ENIGSINS teen God se wette onderrig het – veral teen die GEESTELIKE WET met die Tien Gebooie – sou hy sekerlik nie hierdie seremonie van die wet van Moses uitgevoer het nie! Daardie spesifieke seremonie – moontlik ’n dankoffer na afloop van die Nasireër-eed – was NIE nodig vir ’n Nuwe-Testamentiese Christen nie, maar dit was ook nie “sonde” nie! Paulus se diep respek vir God se wette, vir die oorspronklike moederkerk en die patroon van GEHOORSAAMHEID aan God se wette, het hom gelei in sy besluit om voort te gaan en deel te hê aan die seremonie. Deur Paulus hierin te lei – en hierdie voorbeeld in die Bybel te plaas – wys God aan almal van ons dat Paulus se benadering GEHOOR­SAAMHEID aan God se grootse Wet was, NIE om te probeer wegdoen met God se geestelike wette of draaie daarom te probeer loop en dit te probeer wegredeneer soos so baie Protestantse teoloë onderrig nie!

Wat het Christus op aarde gedoen?

Byna alle belydende Christene verstaan dat Jesus Christus die Wet volmaak moes onderhou om ’n aan­vaarbare offerande vir die mensdom se sondes te kon wees. Maar watter wet het Hy onderhou en wat het Hy van Sy volgelinge verwag? Hier volg ’n beskrywing van hoe Christus Sy missie gesien het:

“Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verby­gaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele. Want Ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrif­geleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie” (Matt. 5:17-20).

Baie Christene besef nie die belangrikheid van hierdie woorde nie. Christus sê dat nie “een jota of een titteltjie” (die kleinste merkies in die Hebreeuse teks) van die wet daaruit verwyder sal word totdat die hemel en die aarde verbygaan nie. Omdat nóg die hemel nóg die aarde verby­gegaan het, moet ons dus verstaan dat die Wet steeds van krag is. Christus het diegene veroordeel wat mense valslik leer om selfs die “minste van hierdie gebooie” te verbreek. Hy het inteendeel verduidelik dat diegene wat die gebooie ONDERHOU en ander ONDERRIG om dit ook te doen, “groot” genoem sal word in die Koninkryk van die hemele.

Het Sy “vervulling” van die Wet hierdie gebooie op enige wyse verander? Of het hulle verander ná Christus se opstanding? Nee! Die hemel en aarde het nie met Sy opstanding verbygegaan nie. Ons moet verstaan wat Hy bedoel het met Sy woorde dat Hy die Wet sou “vervul”. Een geleerde verduidelik Sy woorde soos volg:

Het [Jesus] die [Wet] gevul of vervul? Die algemene woord plerôsai beteken “om te vul”. In [Mattheus] 5:17 gee die meeste vertalings dit aan as “om te vervul”. Die teologiese implikasies word dikwels getrek dat [Jesus] al die profesieë van die [Ou Testament] wat betrekking het op die Jode vervul het, sodat daar nou geen profesieë vir hulle oorbly nie; en dat Hy die [Wet] volmaak onderhou het, sodat niemand dit vandag hoef te gehoorsaam nie. Maar hierdie afleidings is glad nie logies nie. Inteendeel, hulle is teenstrydig met [Jesus] se vorige stelling dat Hy nie gekom het om die [Wet] af te skaf nie. Meer fundamenteel tot die vertaling is egter die vraag of plerôsai in hierdie vers enigsins as “om te vervul” aangegee behoort te word, al dan nie. [Hierdie] vertaler se mening is dat [Jesus] gekom het om die [Wet] en die etiese uitsprake van die Profete te vul met hul volledige betekenis, sodat almal kon weet wat gehoorsaamheid behels. Om hierdie rede sê die Jewish New Testament dat [Jesus] gekom het “nie om die wet af te skaf nie, maar om dit tot vol­tooiing te bring”. Trouens, dit is die onderwerp van die hele Bergpredikasie, en as [Mattheus] 5:17 dus so verstaan word, is dit die sleutelstelling daarvan (Jewish New Testament, Stern, 1995, bll. xxii–xxiii).

Met ander woorde, Jesus het gekom, soos Jesaja voorspel het (Jesaja 42:21), om God se wet “uit te brei” en die volle bedoeling en doel daarvan te beklemtoon. Wat Jesus Christus wou afskaf was die wangebruike van die wet en die mensgemaakte tradisies wat die wet verdraai het. Sy offerdood, versinnebeeld deur die ou tempel­offerandes, het daardie diere-offerandes en wassinge vir Christene onnodig gemaak. Maar Sy lewe het bewys dat die geestelike wet – die Tien Gebooie – van toepassing was en steeds is vir diegene wat daarna streef om Hom te gehoorsaam. ’n Mens kan Sy leerstellings nie behoorlik begryp sonder om die Ou-Testamentiese teksverse en die wet wat daarin vervat is, te verstaan nie, soos Frederick Holmgren dit stel:

Die Ou Testament bring geskenke aan die Christelike tradisie. Een van daardie geskenke is die Tora (die Wet) … Jesus het die Tora van Moses aangehang; Hy het nie gekom om dit te beëindig nie, maar om dit te vervul (Matt. 5:17) – om die leerstellings daarvan voort te dra. Verder het Hy aan dié wat na Hom gekom het op soek na die ewige lewe, dit voorgehou as die wesenlike leerstelling wat onderhou moes word (Luk. 10:25-28). Ten spyte van Jesus se konflik met sommige van die wetvertolkers van Sy tyd, beskou beide Joodse en Christelike geleerdes Hom as iemand wat die Wet geëer en dit nagevolg het. Waar Jesus die komende regering van God verkondig, beskryf Hy nêrens in besonderhede die innerlike karakter van daardie regering nie. Hy hoef nie, dit is reeds in die Ou Testament beskryf … Die Ou Testament is nie ’n verouderde Skrif nie, die lewegewende leerstellings daarvan word benodig deur die Kerk (Frederick C Holmgren, “Preaching the Gospel without Anti-Judaism”, Removing Anti-Judaism from the Pulpit, red. Howard Clark Kee en Irvin J Borowski, 1996, bll. 72-73).

Jesus Christus het inderdaad uit die Ou Testament onderrig gegee, en Hy het daarvolgens geleef, net soos Sy volgelinge.

Wat het die Apostels onderrig?

Ons het gesien dat Jesus Christus duidelik God se Wet onderhou het. Maar sommige kerke beskuldig die Apostels, en veral die apostel Paulus, valslik daarvan dat hulle onderrig het dat Christene nie meer nodig het om Jesus Christus se voorbeeld te volg nie. Ons lees dat sommige mense Paulus se woorde reeds in die tyd van die Apostels verdraai het vir hul eie doel (verwys 2 Pet. 3:16). Tog herinner Paulus die jong evangelis Timotheus: “dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid” (2 Tim. 3:15-16).

Toe Timotheus ’n kind was, was die “Heilige Skrifte” wat hy geken het die Ou-Testamentiese Skrifte. Die meeste boeke van die Nuwe Testament het nog nie bestaan nie! Paulus sê dat hierdie Ou-Testamentiese Skrifte “jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus”. Paulus het geen konflik gesien tussen hierdie Ou-Testamentiese tekste en die Christengeloof en -praktyk nie, en het bevestig dat die HELE Skrif (insluitend die Ou Testament) nuttig is vir leerstelling en vir onderrig in geregtigheid. Dis nie sommer die woorde van iemand wat ander leer dat die Ou-Testamentiese wette afgeskaf is nie!

Die apostel Paulus gee Christene dié opdrag: “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is” (1 Kor. 11:1). Die apostel Johannes stel dat “hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het” (1 Joh. 2:6).

Hierdie twee, net soos al die ander Apostels, het geweet dat Jesus Christus gekom het om die volmaakte VOORBEELD te wees en dat Christene Sy voorbeeld behoort te volg, onderskraag deur die Heilige Gees. Dit was die algemene begrip in die apostel Paulus se tyd, toe Christelikheid deur die Romeinse Ryk versprei het.

“Orals, veral in die Ooste van die Romeinse Ryk, was daar Joodse Christene wie se sigbare lewens­wyse nie merkbaar verskil het van dié van die Jode nie. Hulle het as vanselfsprekend aanvaar dat die evangelie ’n voortsetting was van die [godsdiens van Moses]; … vir hulle het die Nuwe Verbond, wat Jesus tydens die Laaste Avondmaal met Sy dissipels aangegaan het … nie beteken dat die Verbond tussen God en Israel nie meer van krag was nie. Hulle het steeds die Pasga-, Pinkster- en Huttefees onderhou; hulle is steeds besny en het die weeklikse Sabbat en die Mosaïse voedselreëls onderhou. Volgens party geleerdes moes hulle so sterk gewees het dat hulle tot en met die val van Jerusalem die hoofelement in die Christenbeweging was” (Judeo-Christianism, “Paul and Jewish Christianity”, Davies, 1972, bl. 72, aangehaal in Bacchiocchi, From Sabbath to Sunday, bl. 151).

Vir ongeveer die eerste 40 JAAR van die Christendom, gelei deur die Heilige Gees, het die “hoofelement” in die Kerk van God steeds Christus se voorbeeld gevolg in die onderhouding van die weeklikse en jaarlikse Sabbatte soos God dit beveel het. Hulle het steeds die voorbeeld gevolg wat gestel is deur die Jerusalem Kerk van God!

Wie het dit alles durf verander?

Soos ons al gesien het, was dit NIE die apostel Paulus nie! Dit was beslis NIE een van die oorspronklike twaalf Apostels nie. Toe die periode – heel gepas die “Donker Eeue” genoem – aanbreek, het misleide vals godsdiens­leiers begin om feitlik ALLES te verander wat die Chris­telike geloof so totaal verskillend gemaak het van die Heidense kultusse van die Romeinse Ryk.

Sommige mense het verkeerdelik geleer dat Christene ná die ondergang van Jerusalem en die vernietiging van die Tempel nie meer nodig gehad het om die Wet te onderhou soos Jesus Christus en die Apostels gedoen het nie. Daarom is dit belangrik om te weet dat die apostel Johannes, die laaste oorlewende Apostel, die boek van Openbaring geskryf het NADAT die Tempel vernietig is. In dié boek onderhou hy God se Wet! “Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad” (Op. 22:14). Johannes het hierdie woorde van God gehoor en het geweet hoe belangrik dit is om Hom te gehoorsaam: “En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee” (Op. 2:26). Dit is duidelik dat Christene die Wet onderhou het, geleef het net soos Jesus Christus geleef het, lank nadat die Tempel vernietig is! Geleerdes stem saam: “Die eerste Christene het voortgegaan om die Joodse feeste te onderhou [feeste wat die Bybel leer], alhoewel in ’n nuwe gees, as herdenkinge van gebeure voorgestel deur daardie feeste” (Encyclopaedia Britannica, 11de uitg., Vol. 8, bl. 828).

Wat was die Christenskap van die Apostels dan?

Die meeste belydende Christene van vandag het geen idee wat die Christenskap van die eerste eeu eintlik behels het nie! Maar vir dekades – LANK ná die kruisiging en ontvangs van die Heilige Gees – het die ware Christene iets totaal ANDERS geglo, geleef en aanbid as vandag se belydende Christene!

HOE was dit dan anders?

Soos ons reeds gesien het uit Professor Davies se werk, het die vroeë Christene dit “as vanselfsprekend aanvaar dat die evangelie ’n voortsetting was van die [godsdiens van Moses]; … vir hulle het die Nuwe Verbond, wat Jesus tydens die Laaste Avondmaal met Sy dissipels aangegaan het … nie beteken dat die Verbond tussen God en Israel nie meer van krag was nie. Hulle het steeds die Pasga-, Pinkster- en Huttefees onderhou; hulle is steeds besny, en het die weeklikse Sabbat en die Mosaïse voedselreëls onderhou”.

Stadig maar seker, op subtiele wyse, het Satan die duiwel die meeste van vandag se belydende leraars mislei om te glo dat Christelikheid ’n “splinternuwe godsdiens” was – oënskynlik afgesny van die Ou Testament en die leerstellings wat God deur Moses gegee het. Alhoewel party mense nie daarvan bewus is nie, het ’n duidelike anti-Joodse vooroordeel die vroeë Christelikheid in­gesluip, en dit bestaan tot vandag toe!

Maar die Bybelse en historiese feite wys dat Christelik­heid ’n voortsetting was – ’n beklemtoning en ’n “uitbreiding” van die leerstellings wat God deur Moses gegee het – NIE iets splinternuut nie! Die apostel Paulus is in die Nuwe Testament geïnspireer om aan die Christene in Efese (voormalige Heidene) te verduidelik: “So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar mede­burgers van die heiliges en huisgenote van God, gebou op die FONDAMENT van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is” (Ef. 2:19-20). Dus was ’n basiese deel van die “grondlegging”, die fondament van die Christendom – daardie geskrifte en leerstellings van die Ou-Testamentiese profete – daardie geskrifte waarna Christus en die Apostels herhaal­delik verwys het as die “Skrif”!

Jesus Christus was ’n besnede Jood (Luk. 2:21-22; Heb. 7:14). Dit was Jesus se “gewoonte” om die sewende-dag Sabbat te onderhou – saam met die ander Jode (Luk. 4:16). Eerder as om God se Sabbat af te skaf, het Jesus gesê dat die Sabbat vir die “mens” gemaak is – NIE net vir die Jode nie en dat Hy die “Here” van die Sabbat was. Dus is die Sabbat, in effek, die ware “dag van die Here” sover dit die rusdag en aanbidding betref!

Lank na die kruisiging was dit die apostel Paulus se “gewoonte” om die sewende-dag Sabbat te onder­hou (Hand. 18:4). Ons vind ook dat Paulus die jaar­likse Bybel­feeste, soos Pinkster (1 Kor. 16:8), Pas­ga en Ongesuurde Brode (1 Kor. 5:7-8), onder­hou het.

Die ware Kerk van God – twaalf keer die “Kerk [Gemeente] van God” genoem in die Nuwe Testament – is selfs gestig op die Pinksterdag, een van die sewe jaarlikse Sabbatte wat God aan Israel gegee het. Met Sy Wederkoms sal Christus terug­keer tydens die “sewende basuin” (Op. 11:15). Dié gebeurtenis word uitgebeeld deur die Fees van Trompette [Basuine], nog een van die Bybelse Heilige Dae.

Die Lewende Jesus Christus, wat die hele Bybel geïnspireer het, het ook Sy dienskneg Sagaria geïnspireer om te verduidelik dat die HELE WÊRELD ná Christus se Wederkoms die Huttefees sal onderhou! (Lees die hele 14de hoofstuk van Sagaria noukeurig deur). Aangaande die toekomstige duisend­jarige heerskappy van Christus, vertel Jesaja dat met “elke Nuwemaansfees en elke SABBAT sal al wat leef, voor My in aanbidding kom buig, sê die Here” (Jes. 66:23, NV).

Dus is ware Christene wat die Bybelsabbatte en -feeste onderhou in werklikheid “baanbrekers”. Hulle volg nie net die “patroon” van die Christenskap van die Apostels nie, maar is ook “baanbrekers” in daardie lewenswyse wat ALLE nasies binnekort sal leer in die Wêreld van Môre!

As voorbeeld: Die sewende-dag Sabbat beeld die heer­skappy van Christus uit in die komende sewende millennium van die mens se bestaan. Dit is die “rus” wat God van die begin af beveel het (Heb. 4:4). Dit is waarom Paulus só geïnspireer is: “Daar bly dus ’n sabbatsrus oor vir die volk van God” (vers 9). Dit is belangrik om te weet dat sabbatismos die Griekse woord is wat hier as “rus” vertaal is en wat “hou van ’n Sabbat” beteken. Daar­teenoor is katapausin die gewone Griekse woord vir “om te rus”, en dit is die woord wat in die res van Hebreërs 4 gebruik is.

Terloops, indien u volledige en gedokumenteerde BEWYSE wil hê dat Christene die Bybelse Sabbat moet onderhou, skryf gerus vir ons kragtige en lewens­belangrike boekie Watter dag is die Christelike Sabbat? Dit sal gratis aan u gestuur word op u versoek. Skryf aan ons, of skakel ons gerus. Ons adres is agter in dié boekie.

God se Sabbat en Sy jaarlikse Heilige Dae beeld Sy groot PLAN uit, maar die ware Christenskap van die Apostels behels natuurlik veel meer as om net die Bybelse Sabbatte te onderhou. Soos ons al genoem het, behels dit ’n hele LEWENSWYSE gebaseer op Jesus se voorbeeld en Sy leerstelling dat “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van ELKE woord van God” (Luk. 4:4).

Jesus het God se Wet uitgebrei

In die Bergpredikasie skaf Jesus definitief NIE God se geestelike Wet af nie (Matt. 5:17), maar vervul die Tien Gebooie eerder. Hy verduidelik dat ons ons nie net daarvan moet weerhou om ander mense dood te maak nie, maar ons moenie eens na hulle kyk met veragting of haat nie (verse 22-23), omdat dit die “gees” van MOORD is. Ons durf ook NIE ons vyande “haat” nie. Soos Jesus sê: “Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande LIEFHÊ; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg” (vers 44).

Ons moet NOOIT egbreuk pleeg nie, want Jesus sê uitdruklik: “Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek nie. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ’n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het” (verse 27-28).

Die vroeë Christene is geleer dat hulle moet GEE op ’n verborge wyse – NIE met vertoon of met ’n groot “stigting” of “trust” in hulle eie naam om hulle te vereer vir hul vrygewigheid nie (Matt. 6:1-4). Ware Christene moet gereeld en in privaatheid BID – NIE hoogdrawend en met versierde styl voor ander mense nie, en sonder om sekere woorde of frases oor en oor te gebruik in “ydele herhaling” (verse 5-13). Ware Christene moet sekerlik gereeld VAS (verse 16-18), en volgens die Bybelvoorbeeld sonder kos en water gaan om hulself nederig te maak en nader aan die onsigbare God te kom, net soos Jesus (Matt. 4), Moses (Deut. 9:9, 18) en die apostel Paulus (Hand. 9:9).

In ons materialistiese samelewing moet ons verstaan dat die oorspronklike Christene nie toegelaat het dat hulle oorwin word deur begeerte vir geld of materiële dinge soos die meeste belydende Christene van vandag nie (Matt. 6:19-20). Soos Jesus later Sy volgelinge vermaan het: “En by wie in die dorings gesaai is – dit is hy wat die woord hoor, maar die sorg van hierdie wêreld en die ver­leiding van die rykdom verstik die woord, en hy word onvrugbaar” (Matt. 13:22). Christene moet eerder optree soos die boek Handelinge verduidelik: “En die menigte van die wat gelowig geword het, was een van hart en siel, en nie een het gesê dat iets van sy besittings sy eie was nie, maar hulle het alles in gemeenskap gehad” (Hand. 4:32).

Die Christenskap van die eerste eeu was stewig gevestig op die leerstellings van die “wet en die profete” – behalwe vir daardie diere-offers en wassinge wat die offerande van Christus en reiniging deur die Heilige Gees uitgebeeld het. Dié offergawes en wassinge was uitgedien (Heb. 9:9-12). Maar die geestelike WETTE van God is NOOIT afgeskaf nie. Daarom is Jesus se geliefde apostel, Johannes, geïnspireer om te skryf “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die GEBOOIE van God en die geloof in Jesus bewaar” (Op. 14:12).

’n Blik op die Christenskap van die Apostels

As u op die een of ander manier ’n kykie kon kry op ware Christenskap tydens die eerste eeu en selfs later, wat sou u sien? U sou ’n groep toegewyde gelowiges vind wat glo in Jesus as die beloofde Messias. U sou ’n gemeenskap van gelowiges vind vir wie die God van Israel, die God van die Skepping, WERKLIK is, want hierdie mense sou nie net praat oor die persoon Jesus nie, hulle sou DOEN wat Hy beveel het!

Met Christus wat in hulle leef deur die beloofde Heilige Gees, sou hulle AL TIEN die Gebooie as ’n lewenswyse onderhou. Namate hulle leer om “TOE [TE] NEEM in die genade en kennis” (2 Pet. 3:18), sou daar in hul gemeenskap feitlik geen MISDAAD, geen moord, verkragting, diefstal of aanranding wees nie. Feitlik geen seks voor of buite die huwelik en geen ongeoorloofde seks nie. Behalwe vir enkele gevalle van seksuele wangedrag, geen egskeiding en hertrouery nie (Matt. 5:32). Natuurlik sou sulke Christene geen pornografie en GEEN afstootlike seks en geweld van ENIGE aard in hul samelewing se “vermaak” toelaat nie, hetsy in boeke, toneelopvoerings, of (onder vandag se Christene) op televisie, in rolprente, in rekenaar­speletjies of die Internet. Al hierdie toegewyde, opregte families sou eerder hul “Here” GEHOORSAAM, en nie bloot Sy Naam gebruik terwyl hulle lewenswyse alles wat Hy leer, weerspreek nie (Luk. 6:46). Hulle sou rus en God aanbid op die sewende-dag Sabbat soos Hy beveel het, en sou gedurig deur hierdie Bybelse aanbiddingsdag herinner word dat die ware God die SKEPPER is van alles (Ex. 20:8-11).

Byvoorbeeld, ware Christene in die Apostels se dae sou NOOIT baklei of hul medechristene vermoor nie – soos wat herhaaldelik die afgelope paar eeue gebeur het in Frankryk, België, Duitsland en Italië. Die Christene van die eerste eeu, daardie lidmate van God se Kerk, sou NOOIT ooit bid tot die dooie, sogenaamde “heiliges” of tot afgode nie. Hulle sou NOOIT die Maagd Maria aanbid nie. Hulle sou natuurlik weet dat, as ’n normale vrou, Maria ten minste SES ander kinders by haar man gehad het ná Jesus se bonatuurlike geboorte (Matt. 13:55-56).

In die eerste eeu was die toegewyde Christenleraars en -ouderlinge in die Kerk van God hoofsaaklik getroude mans en vaders (1 Tim. 3:1-5; Titus 1:5-9). Hulle is geleer dat sommige mense in die “laaste tye” mislei sou word deur “leringe van duiwels” om dan te glo dat dit verkeerd is vir mans – leraars en priesters gewis hier ingesluit – om te trou (1 Tim. 4:1-3). Vir die gereelde byeenkomste in ’n alledaagse omgewing op die dag wat God geheilig het, Sy Sabbat, is God se leraars dié opdrag gegee: “Verkondig die WOORD; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, ver­maan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot FABELS” (2 Tim. 4:2-4).

Inderdaad, ons het gesien dat die mensdom weggedraai het na “fabels”. In vandag se donker, klam, spookagtige katedrale gaan priesters en predikante geklee in vreemde “ouma-tipe” rokke deur onverstaanbare rituele, sing-praat gebede en lesings – maar verduidelik die Bybel selde. Hulle het baie min te sê oor die lewenswyse wat Christus en die Apostels verkondig het, of oor die kwart van die Bybel wat profeties is, of oor die ware DOEL waarmee God hier op aarde besig is.

Soos die Nuwe Testament dit duidelik stel, die Christene van die eerste eeu sou “van Christus eet” (Joh. 6:57) deur gereelde Bybelstudie. Onthou u God se beskrywing van die Christene in Berea? “Die mense daar was ontvankliker as dié in Thessalonika. Hulle het met groot belangstelling na die woord geluister en elke dag die Skrif ondersoek om te sien of dit is soos Paulus sê” (Hand. 17:11, NV).

Christene van die eerste eeu sou dus opreg probeer om met God se beloofde hulp volgens elke Woord van God te leef. Hulle sou Christus se voorbeeld volg en gehoorsaam wees aan God se wette – NIE aan die gewoontes, kerkgebruike of godsdiensfeeste van die heidene om hulle nie.

Weereens, hulle sou nie slegs glo in die persoon Jesus Christus nie, maar hulle sou glo en BEOEFEN wat Hy geleer het: “As iemand My liefhet, sal hy My WOORD bewaar, en My Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak” (Joh. 14:23). Hulle sou glo wat die apostel Johannes aan die einde van die era van die Apostels skryf: “Wat julle dan van die begin af gehoor het, laat dit in julle bly. As in julle bly wat julle van die begin af gehoor het, dan sal julle ook in die Seun en in die Vader bly” (1 Joh. 2:24).

Die meeste Christene van die eerste eeu sou ’n grondige begrip hê vir die fundamentele leerstelling van die apostel Paulus: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus LEEF in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Gal. 2:20). Die Bybel maak dit duidelik: “Jesus Christus is gister en vandag DIESELFDE en tot in ewigheid” (Heb. 13:8).

Dus sou ware Christene – deurdat Christus in hulle leef – die Tien Gebooie GEHOORSAAM soos wat Jesus gedoen het, die sewende-dag Sabbat en die Bybelse Heilige Dae onderhou soos wat Jesus gedoen het en die hele lewenswyse volgens die voorbeeld van Jesus Christus en die oorspronklike Kerk van die Apostels navolg. Namate hulle saam aanbid, saam gesing en mekaar gedien het, sou hulle gevul word met LIEFDE, met aanbidding en verering vir die Grote God, en met welwillendheid en spontane besorgdheid vir mekaar.

Want Christus sou in hulle Sy liefdevolle, dienende en gehoorsame lewe uitleef. Hulle sou gevul wees met en gelei wees deur God se Heilige Gees (Rom. 8:14). Daardie einste liefde van God vloei in die rivierbedding van die Tien Gebooie. Jesus se geliefde apostel verduidelik dit so: “Want dit is die LIEFDE tot God, dat ons SY GEBOOIE BEWAAR; en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Joh. 5:3).

Hoe het die waarheid verlore geraak?

Party mense onderrig dat hul organisasie toestemming verleen is om Christus se leerstellings te verander, en dat hul lidmate by magte hiervan nie meer Christus se gebooie moet onderhou of Sy voorbeeld volg nie. Die grootste belydende Christensekte noem hulself beide universeel en apostolies en maak daarop aanspraak dat hul menslike leierskap nagespoor kan word tot by die apostel Petrus – en hy het hulle na bewering toestemming gegee om die Bybelse leerstellings te verander, alhoewel Petrus dit nooit gedoen het nie.

Opregte lidmate van daardie kerk sal geskok wees om uit te vind dat baie van vandag se sogenaamde Christene hul geloof nie tot (Simon) Petrus kan naspoor nie, maar tot Simon die Towenaar, wat in Handelinge 8 genoem word! Hierdie Simon die Towenaar was in die middel van die geloofsversaking wat ’n groot gedeelte van die Kerk van die Apostels laat afdwaal het van Christus se leerstellings.

Die Skrif vertel dat die hele Samaria Simon die Towenaar as iemand groots aangesien het en hom “die groot krag van God” genoem het (Hand. 8:9-10). Daardie frase verteenwoordig Simon se “aanspraak om die draer van goddelike openbaring” te wees (The New Testament Environment, Lohse, bl. 269). Simon is gedoop en het ’n Christen in naam geword, maar die apostel Petrus het gesien dat Simon “in ’n gal van bitterheid en bande van ongeregtigheid is” (Hand. 8:23).

Simon se Samaritaanse godsdiens was ook grootliks beïnvloed deur Griekse filosofieë en die vroeë kerklike skrywers het hom uitgeskel. Eerdman’s Handbook to the History of Christianity merk op: “Vroeë Christenskrywers het Simon beskou as die bron van alle dwaalleer” (bl. 100). In die Encyclopaedia Britannica (11de uitg.) se artikel oor Simon die Towenaar word hy geïdentifiseer as “die stigter van ’n skool van Gnostici en ’n vader van dwaalleer”. Die bekende historikus Edward Gibbon het verklaar dat die Gnostici “vele verhewe, maar duistere beginsels wat hulle uit Oosterse filosofieë afgelei het, vermeng het met die geloof van Christus” (The Triumph of Christendom in the Roman Empire, bl. 15).

Simon die Towenaar en andere het daarna gestreef om ’n verwarde geloof te skep, deur gewilde godsdiens te vermeng met hul filosofieë en ’n dekmantel van Christus se woorde daarby te voeg. Sodoende is ’n godsdiens geskep wat grootskaalse aanvaarding sou wen onder die mense. Die bekende historikus Will Durant skryf:

“Christendom het nie die heidendom vernietig nie, maar dit aangeneem. Die sterwende Griekse intellek het ’n oorgangslewe bekom in die teologie en liturgie van die Kerk; die Griekse taal, wat eeue lank oor die filosofie regeer het, het die voertaal van Christelike literatuur en gebruike geword; en die Griekse geheimenisse is deurgegee tot in die indruk­wekkende verborgenheid van die Misdiens. Ander Heidenkulture het bygedra tot die wanordelike gevolg. Uit Egipte het die idees van ’n goddelike drie-eenheid gekom … en ’n persoonlike onvergank­likheid van beloning en straf. Uit Egipte het die aanbidding van die Moeder en Kind en die mistieke teosofie waaruit Neoplatonisme en Gnostisisme gevorm is, het die Christencredo verskuil. Die Christelike monnikstand het ook in Egipte sy voor­beelde en oorsprong gevind. Uit Frigië het die aan­bidding van die Groot Moeder gekom; uit Sirië die opstandingsdrama van Adonis; uit Thracië moontlik die kultus van Dionusos, die sterwens- en reddings­god … Die Mithraïse kerkrituele was so na aan die nagmaal­offerande van die Misdiens dat Christen­vaders die Duiwel beskuldig het dat hy hierdie oor­eenkomste uitgedink het om mense van swakker verstand te mislei. Christendom was die laaste groot skepping van die antieke Heidenwêreld … [Die Nagmaal] was ’n instelling wat lank gelede deur tyd geheilig was; die Heidene het geen onderrig nodig gehad om dit te ontvang nie; deur die beliggaming van die “geheimenis van die Misdiens”, het die Christendom die laaste en grootste van die misterie­godsdienste geword” (The Story of Civilization, vol. 5, Durant, bll. 595, 599).

In die vierde eeu n.C. neem die Romeinse Keiser Konstantyn die Christendom as sy godsdiens aan. Dit sou meer gepas wees om te sê dat hy dit “aangepas” het, aangesien die oorspronklike Christenskap van die Apostels DRAMATIES verander is onder sy keiserlike invloed.

Onder Konstantyn se leiding is die Raad van Nicea gehou in 325 n.C. Hoewel hy toe nog nie gedoop was nie, het Konstantyn toesig gehou oor die Raad se opening­sessie en deelgeneem aan besprekings. Hy was onder die indruk dat dit sy plig as keiser was om toesig te hou oor die daarstelling van kerkleerstellings. Maar het hy toesig gehou oor die Raad as ’n voormalige Heiden wat nou ’n Christen geword het, of het hy die Raad van Nicea gebruik om dit wat die “amptelike” Christelikheid sou word, te infiltreer met sy Heidense agtergrond? Die hoog­geagte historikus Paul Johnson het die volgende opgemerk aangaande Konstantyn se godsdienstige sieninge:

Daar is ’n mate van twyfel oor die omvang van die verandering in Konstantyn se idees … Dit blyk dat hy self ’n sonaanbidder was, [deel van] ’n paar laat-heidense kultusse was met gebruike soortgelyk aan dié van Christene. So het die volgelinge van Isis ’n madonna aanbid wat haar kind voed; die kultus van Attis en Sybele het ’n dag van bloed en vastyd gevier, gevolg deur die Hilaria opstandingsfees, ’n dag van vreugde op 25 Maart; die elitêre Mithraïste, waarvan baie senior leëroffisiere was, het ’n heilige maaltyd geëet. Konstantyn was seer sekerlik ’n Mithraïet en sy oorwinningsboog, opgerig ná sy “bekering”, getuig van die Songod of “onoorwinlike son”.

Baie Christene het nie ’n duidelike onderskeid gemaak tussen hierdie sonkultus en hul eie nie. Hulle het verwys na Christus wat “Sy koets deur die lug ry”, hulle het hul dienste op Sondag gehou, na die Ooste gekniel, en hul Christusgeboortefees gevier op 25 Desember – die geboortedag van die son tydens die wintersonstilstand [in die Noordelike Halfrond]. Gedurende die latere Heidenherlewing onder Keiser Julianus het baie Christene dit maklik gevind om afvallig te raak van hul geloof as gevolg van hierdie verwarring. Die Biskop van Troje het Julianus vertel dat hy nog altyd in die geheim tot die son gebid het. Konstantyn het sonaanbidding nooit laat vaar nie en het die son op sy muntstukke behou. Hy het Sondag tot ’n rusdag gemaak …” (A History of Christianity, Johnson, 1976, bll. 67-69).

As u die bogenoemde geskiedkundige aanhalings nou­keurig lees, sal u verstaan dat feitlik al die aspekte van die HEIDENDOM in die belydende Christendom ingevoer is gedurende die tydperk wat heel gepas die “Donker Eeue” genoem word. Vals begrippe soos die “geheimenis van die Misdiens”, die aanbidding van die Maagd Maria presies volgens die aanbidding van Heidense godinne, die idee van die “kleine Here Jesus” wat op 25 Desember gebore is en om dit “Kersfees” te noem en al die Heidense gebruike van die Saturnalia daarmee te verbind – al hierdie VALS konsepte is verweef in dit wat “hoofstroom” Christendom geword het.

Eeue later het die Protestante “hervormers” ’n paar van die probleme met hierdie Roomse godsdiens herken. Maar, die meeste van hierdie Heidense begrippe was so deeglik in hul verstand ingeskerp dat die hervormers net ’n paar “oppervlakkige” veranderinge aangebring het.

Die “Hervorming” het baie min hervorm

Martin Luther – die “vader” van die Hervorming – en ander hervormers was steeds vyandig teenoor alles wat “Joods” was, insluitend die Sabbat van Jesus Christus, die jaarlikse Feeste en, trouens, letterlike gehoorsaamheid aan die Tien Gebooie. Dit is een van die redes waarom Martin Luther vermetel genoeg was om ’n byvoeging tot God se Woord te maak! In Luther se vertaling van die Nuwe Testament het hy opsetlik die woord “alleen” ingevoeg in Romeine 3:28. Luther was so onversetlik gekant teen die nodigheid om God se Wet te gehoorsaam – moontlik het hy dit verwar met die Katolieke kanonieke wet en Katolieke kerkgebruike – dat hy ’n woord by God se geïnspireerde openbaring gevoeg het!

Romeine 3:28 in die Ou Vertaling van 1933 lees: “Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet”. Luther het die woord “alleen” (sola in Latyn) bygevoeg sodat dit in sy Duitse Nuwe Testament só lees: “ge­regverdig deur geloof alleen” – gewis ’n verkeerde verandering sonder enige ondersteuning in die teks. Toe een kritikus beswaar aanteken oor sy verandering van die Skrif, het Luther uit die hoogte geantwoord: “As julle Pous hom dan enigsins onnodig sou kwel oor die woord sola, kan julle gou antwoord: ‘Dit is die wil van Dr Martin Luther dat dit so moet wees’” (John Alzog, Manual of Universal Church History, Dublin: MH Gill & Son, 1902, bl. 199). Ons kan ook op goeie gesag byvoeg dat geen ander rede gegee is vir dié onbybelse verandering nie. Aangaande sy eie persoonlike dogmatiese oortuigings was Martin Luther waarlik ’n eiesinnige mens.

Sy derde traktaat van 1520, Rakende Christenvryheid, voer aan dat ’n Christenmens geestelik aan geen mens of enige wet onderworpe is nie. Aangesien ons deur geloof alleen geregverdig word, so voer hy aan, is ons nie meer onder verpligting om die wet van God te onderhou nie.

Dit is algemeen bekend dat Luther die boek van Jakobus ’n “sendbrief van strooi” genoem het omdat Jakobus duidelik leer hoe nodig gehoorsaamheid aan die Tien Gebooie is! Let op wat sê Jakobus 2:10-12: “Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword. Want Hy wat gesê het: Jy mag nie egbreek nie, het ook gesê: Jy mag nie doodslaan nie. As jy nou nie egbreek nie, maar doodslaan, het jy ’n oortreder van die wet geword. Julle moet so spreek en so DOEN soos diegene wat deur die wet van vryheid geoordeel sal word”.

Dit is heel duidelik in hierdie geïnspireerde Skrif­gedeelte, dat Jakobus praat van die tien “punte” van die Tien Gebooie. Hy vertel Christene om die HELE wet te onderhou. Jakobus sluit af deur Nuwe-Testamentiese Christene te onderrig om “so [te] spreek en so [te] DOEN” soos diegene wat deur God se wet geoordeel sal word.

Hoewel hulle moontlik opreg was, het die Protestantse hervormers die meeste van die gesindhede téén die wet en téén gehoorsaamheid verder gevoer – dit was gesindhede wat hulle aangeneem het in hul rebellie teen “Moeder Rome”. Hulle was egter, soos Rome, steeds betrokke in ’n Heidense stelsel van vals leerstellings, verkeerde Heilige Dae en vals idees oor God, wat God Self só beskryf in Openbaring 17:4-5: “En die vrou was bekleed met purper en skarlaken en versierd met goud en kosbare stene en pêrels, en sy het in haar hand ’n goue beker gehad, vol van gruwels en die onreinheid van haar hoerery; en op haar voorhoof was ’n naam geskrywe: VERBORGENHEID, DIE GROOT BABILON, DIE MOEDER VAN DIE HOERE EN VAN DIE GRUWELS VAN DIE AARDE”. Namate hierdie soort “Christelikheid” die staats­godsdiens geword het, is ’n magdom voormalige Heidene “bekeer”. Baie het dit gerieflikheidshalwe gedoen eerder as uit berou, en het hul ou gelowe in privaatheid beoefen. Andere het onopgelei die nuwe verwarde geloof binne­gekom en kon slegs die basiese riglyne ontvang.

’n Heidense “Christendom”

Die kerk het nie net nuwe leerstellings van Konstantyn en die Keiserryk gekry nie, maar ook ’n nuwe organisasie­struktuur. Rome het ’n langdurige keiserlike kultusvorm gehad en haar gebruike het ’n tuiste gevind in dié tussen­oplossing van Christelikheid gemeng met Heidendom. Will Durant merk op:

Die Christelikheid … het toegeneem deur die Heidense geloof en rituele oor te neem; dit het ’n triomfantlike kerk geword deur die organisasie­patroon en vernuf van Rome te erf ... Net soos Judea die etiek aan die Christendom gegee het, en Grieke­land die teologie gegee het, so het Rome organisasie gegee; dit alles, plus ’n dosyn ander opgeneemde en mededingende gelowe, het die Christelike same­stelling binnegedring. Die kerk het nie net party godsdiensgewoontes en –ordes eie aan die voor-Christelike Rome oorgeneem nie. Daar is ook die stola (’n Roomse gewaad) en ander ampsgewaad van Heidense priesters, die gebruik van wierook en heilige water met reinigings, brandende kerse en ’n ewigdurende lig voor die altaar, die aanbidding van heiliges, die argitektuur van die basiliek, die wet van Rome as basis vir die kerkwet, die titel Pontifex Maximus [Opperste Brugbouer tussen mens en God] vir die Opperpriester en, in die vierde eeu, Latyn as die adellike en blywende voertaal in Katolieke kerkrituele.

Die Roomse geskenk was bowenal ’n ontsaglike regeringsraamwerk, wat die struktuur vir kerklike regering geword het namate die wêreldlike gesag gefaal het. Gou was die biskoppe eerder as die Romeinse prefekte die bron van orde en die setel van mag in die stede; die metropolitane of aartsbiskoppe sou provinsiale goewerneurs ondersteun of eintlik vervang; en die sinode van biskoppe sou die provin­siale vergadering opvolg. Die Roomse Kerk het die voetspore van die Romeinse staat gevolg; dit het die provinsies verower, die hoofstad verfraai en dissipline en eenheid ingestel van grens tot grens. Rome het gesterf met die geboorte van die Kerk; die Kerk het volwassenheid bereik deur die verantwoor­delikhede van Rome te erf en te aanvaar (The Story of Civilization, vol. 5, Durant, bll. 575, 618-619).

Namate nuwe en vals elemente by hierdie “Christelik­heid” gevoeg is, is die egte elemente verdryf. Soms het dit gebeur weens anti-Semitiese gevoelens. Aangesien Jesus Christus fisies van die stam van Juda was, het baie Gnostici Sy vleeslike voorkoms ontken; hulle het geweier om te aanvaar dat hulle God uit hierdie veragte stam was. Ander mense het Christus se leerstellings verdraai omdat hulle die nasie gehaat het uit wie daardie leerstellings gekom het.

Hulle het geweet dat Christene die “Joodse” Heilige Dae en ander gebruike onderhou het wat die Heidene aanstootlik gevind het. Eusebius, ’n vroeë kerkhistorikus, het geskryf dat diegene wat so ’n sienswyse gehandhaaf het, hul beywer het om die Nuwe-Testamentiese Pasga wat Christus onderhou het, te vervang deur die Paasfees wat kom uit aanbidding van Astarte:

Dit blyk onwaardig te wees dat ons in die viering van hierdie heiligste fees die gebruik van die Jode volg [Pasga onderhou op 14 Nisan], wat hulself so goddelooslik met gruwelike sonde vervuil het, en daarom so verdienstelik getref is met blindheid van die siel … Laat ons dan niks in gemeen hê met die ver­foeilike Joodse klomp nie; want ons het ’n ander gebruik ontvang van ons Verlosser ... Geliefdes, laat ons dan met eensgesindheid hierdie weg aanneem en onsself weerhou van enige deelname in hul onegt­heid … Want hoe sal hulle in staat wees tot gesonde oordeel … hulle, wat sedert hul skuld aan die moord van hul Here, onderworpe is aan die leiding, nie van rede nie, maar van … elke impuls van die mal gees wat in hulle is? … Strewe en bid gedurig dat die reinheid van u gees nie besoedel word deur gemeenskap met die gebruike van hierdie uiters bose mense nie … Almal moet verenig in die begeerte van dit wat gesonde verstand klaarblyklik vereis, vermy alle deelname aan die meinedige gedrag van die Jode (Eusebius, The Life of Constantine, bk. 3, hfst. 18-19, Nicene and Post-Nicene Fathers, 1979, vol. 1, bll. 524-525).

’n Baie “anderse” weg

Ja, baie het onderrig “ons het ’n ander gebruik ontvang van ons Verlosser”. Maar daardie gebruik, daardie weg, is nie in die Bybel te vinde nie. Pleks daarvan word dit gevind in die gebruike van die Grieke en Romeine en ander Europese bekeerlinge wat die Christelikheid opper­vlakkig aangeneem het, maar steeds hulle ou weë gevolg het. Met verloop van tyd het hierdie ou weë die leerstellings van Jesus Christus en die Apostels oorweldig, soos John Romer dit verduidelik:

“Subtiel en listig, sonder dat die biskoppe dit selfs opgemerk het, het die ou gode hul kerke binne­gekom soos die lug van die Middellandse See. Hulle leef steeds in die Christelike kerk­rituele, in die beeldbeskrywing en die feeste van die Christendom.

Toe Julianus in 362 in Antiochië aankom … was die groot Christenstad in rou om volgens die Levantynse beklaging die jaarlikse dood van Adonis, Venus se pragtige geliefde, te herdenk. Alhoewel die heilig­dom van Diana, godin van die stad Efese, verwyder is, is haar beelde versigtig in droë sand begrawe. Maar toe die Derde Raad van die kerkvergadering by Efese plegtig stem dat die Maagd Maria voortaan vereer sou word met die titel Theotokos, die God­bringer, het Efese, wat eeue lank die stad van die maagdelike jagter Diana was, nou die stad van die Maagd Maria, die Moeder van God, geword.

Ook in Egipte is die antieke teken van die lewe, die ankh – wat die gode vir duisende jare op hul beelde gedra het – maklik verander in die Christelike kruis; die beeld van Isis wat haar kind Horus voed, Isis Lactans, het die beeld geword van die Maagd met Jesus aan haar bors … In Rome is Romulus en Remus verruil vir die Heiliges Petrus en Paulus. Reeds in die vyfde eeu moes die Pous die kerk­gangers van St. Petrus vroegoggend keer om nie agteruit die kerktrappe op te loop uit vrees dat hulle Sol, die opkomende songod, sou beledig nie.

Insgelyks was 25 Desember, nou Christus se geboorte­dag, ook die dag van die Sol Invictus fees (Fees van die Onoorwinlike Son) en Konstantyn se verjaarsdag. Hierdie fees is gevier deur groen takke af te kap en klein liggies daaraan te hang, en geskenke is uit­gedeel in die naam van die god. Sol se weeklikse feesdag – Sondag – het die Christen­sabbat geword. Net soos Apollo van Delfi ’n pragtige oorgang gemaak het om die Romeinse Sol Invictus te word, het hy later ’n Christus van die son geword. Al drie van hulle word soms uitgebeeld in hul vurige koetse … met … stralende ligkranse” (Testament: The Bible and History, Romer, 1988, bll. 230-231).

Ons kan dus sien dat ware Christenskap heel van die begin af teengestaan is deur diegene wat dit wou wegkeer van die ware God wie se gebooie deur Jesus Christus onderhou is. Baie van vandag se belydende Christene besef nie presies van waar daardie gebooie gekom het en wie hulle op die Berg Sinaï uitgevaardig het nie.

Die God van die Ou Testament

In Mattheus 22:42-45, daag Jesus die godsdiensleiers uit: “Wat dink julle van die Christus? Wie se Seun is Hy? Hulle antwoord Hom: Dawid s’n. Hy sê vir hulle: Hoe is dit dan dat Dawid Hom in die Gees Here noem as hy sê: Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het ’n voetbank van u voete? As Dawid Hom dan Here noem, hoe is Hy sy seun?” Die Fariseërs kon Hom nie antwoord nie. Hulle het geweet dat Koning Dawid van Israel sekerlik geen menslike “here” gehad het nie. Hierdie teksvers moes dan die twee persoonlikhede in God se Familie beskryf – die een is groter as die ander. Dit behoort ook vir ons duidelik te wees dat Dawid se onmiddellike “Here” – die Een wat later Jesus van Nasaret geword het – aangesê is om aan die regterhand van die Vader te sit TOTDAT dit tyd was vir Hom om Koning van die konings te word.

Die Jode het egter al die tyd geweet dat die komende Messias ’n letterlike “seun van Dawid” sou wees. Hoe kon hierdie een dan ook Dawid se “Here” wees en steeds ’n “groter” God hê wat Hom aansê wat om te doen?

In 1 Korintiërs 10:1-4 lees ons dat antieke Israel in Moses gedoop was en “almal dieselfde geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ’n geestelike ROTS wat gevolg het, en die ROTS was Christus”. Dit is weereens duidelik – soos wat talle Bybelkommentators erken – dat die geestelike Persoonlikheid wat met antieke Israel gehandel het, die Een is wat Christus geword het. Want, soos ons al gesien het, het Jesus gesê dat “niemand” ooit vir “God” gesien het nie (Joh. 1:18) – hier bedoelende die Een wat ons die “Vader” noem.

Maar ons vind tog dat die “God van Israel” net nadat die Tien Gebooie en party van die insettinge aan antieke Israel gegee is, wel aan sommige van Israel se leiers verskyn het. “Daarop het Moses opgeklim met Aäron, Nadab en Abíhu en sewentig van die oudstes van Israel. En hulle het die God van Israel gesien, en onder sy voete net soos ’n vloerwerk van saffierstene en so helder soos die hemel self. Maar Hy het sy hand nie na die uit­gesoektes van die kinders van Israel uitgestrek nie, en hulle het God aanskou; daarop het hulle geëet en gedrink” (Ex. 24:9-11). Dus het meer as 70 van die leiers van Israel “die God van Israel gesien” – NIE God die Vader nie, maar die “Woord” wat later Jesus Christus geword het (Joh. 1:1-12). Kan enigiets meer duidelik wees?

Dit was die Een wat Jesus Christus geword het wat letterlik met Adam en Eva gewandel en gepraat het in die Tuin van Eden. Hy was die Een wat direk met Abraham, Isak en Jakob gehandel het. Hy was die Een wat van “aangesig tot aangesig” met Moses gepraat het (Num. 12:8). Hy was die Een wat die Tien Gebooie van die spits van Berg Sinaï verkondig het! Hy was die Een wat die sewende-dag Sabbat beveel het!

As alle belydende Christene die waarheid geleer is dat die Een wat hul Verlosser geword het die Een is wat die Tien Gebooie gegee het, sou hul optrede heel anders gewees het. Die wêreld sou moontlik ’n BAIE veiliger plek gewees het! Almal sou besef dat ware Christenskap ’n WETS­GEHOOR­SAME godsdiens is, ’n LEWENS­WYSE gebaseer op die groot geestelike wet van God. Hulle sou leer dat – hoewel niemand eensklaps perfek is nie en ons be­veel word om TOE TE NEEM in Christus se karakter – dit moontlik is om Christus se geïnspireerde voorbeeld te volg deur Sy Gees binne-in ons.

Hoe kan ’n Christen leef soos Jesus geleef het?

Die Bybel maak dit duidelik dat Christene God se gebooie moet onderhou. Die apostel Johannes skryf: “En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar. Hy wat sê: Ek ken Hom – en sy gebooie nie bewaar nie – is ’n leuenaar en in hom is die waarheid nie. Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het” (1 Joh. 2:3-6).

Maar hoe kan Christene “wandel soos Hy gewandel het?” As Jesus moes kom en Sy lewe gee omdat almal God se wet oortree het, hoe kan enigeen dan daardie wet onderhou? Die bondigste verduideliking is ook deur die apostel Paulus gegee. “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus LEEF in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Gal. 2:20).

’n Christen gehoorsaam nie die wet op sy eie nie, maar deur die krag van Christus wat binne-in hom leef. Paulus beklemtoon voorts dat wetsonder­houding deur God se genade moontlik is en dat wetsonderhouding NIE genade kan verdien nie. “Ek verwerp nie die genade van God nie; want as daar geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterwe” (Gal. 2:21). Deur God se genade SAL ’n bekeerde Christen die wet onderhou, maar sonder daardie genade kan geen poging enigsins geregtigheid en verlossing bring nie.

Wat moet ’n Christen doen?

’n Mens kan ’n ware Christen herken as iemand wat daarna streef om met Christus se hulp volgens elke woord van God te leef (verwys Matt. 4:4). “Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is” (Matt. 5:48). Deur hul lewe aan Jesus Christus te onderwerp, sal die vrugte van die Gees al hoe meer sigbaar word in ’n Christen se lewe.

’n Christen is meer as net iemand wat die waarheid “ken”. Die Gnostici het geglo dat “kennis” verlossing bring, en vandag sal party mense ontken dat ’n gelowige Christen enigiets hoef te “doen”. Die Skrif gee egter ’n heel ander opdrag: “En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie” (Jak. 1:22).

Christene moet DOEN soos Christus gedoen het. In die “Groot Opdrag” beveel Hy Sy volgelinge: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies … en leer hulle om ALLES te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Matt. 28:19-20). Christene moet Sy boodskap na “al die nasies” neem en hulle “alles” leer wat Hy beveel het! Hulle moes NIE Sy boodskap SO VERANDER dat dit vandag feitlik onherkenbaar is nie!

Ongelukkig het baie mense wat hulself Christene noem, selfs wetsonderhoudende Christene, hul na binne gekeer. Hulle sê dat hulle die “bruid [die Kerk] gereed moet maak” vir Christus se terugkeer. Maar hulle versuim om die Bruidegom se opdragte uit te voer. Hoe kan die Kerk “voorberei” vir Sy koms deur Christus se opdrag om die Evangelie van die Koninkryk aan ALLE nasies te verkondig (Matt. 24:14), nie uit te voer nie? Dit werk nie so nie!

Daarom het die Lewende Kerk van God hierdie boekie aan u gestuur, daarom publiseer ons boekies, tydskrifte, ’n Bybelstudiekursus en ander publikasies. Daarom beeldsaai ons die Tomorrow’s World TV-program [in ander dele van die wêreld]. Daarom gebruik ons die Internet en ander media wat God beskikbaar stel om Sy werk te kan uitvoer, soos Hy die deure open om Sy boodskap aan die wêreld te verkondig as ’n getuienis voordat Hy terugkeer!

Dit is belangrik dat al ons lesers ten volle besef dat diegene van ons in hierdie Werk – dié op die personeel van die Tomorrow’s World TV-program en, inderdaad, almal van ons wat betrokke is by hierdie Werk van die Lewende Kerk van God – toegewyd is tot die taak om die CHRISTENSKAP VAN DIE APOSTELS TE LAAT HERLEEF.

Namate u ons boekies en ander literatuur lees, is dit belangrik dat u besef wat ons doel is. Ons beoog om steeds DIESELFDE BOODSKAP wat Jesus en die vroeë Apostels gepreek het, te onderrig en te verkondig. Ons wil die lewenswyse wat Jesus en die Apostels beoefen en onderrig het, plus die geestelike aspekte daarvan, herstel.

Gelei deur God se Gees, sal ons ook voortgaan om die geïnspireerde profesieë van die Bybel te verkondig en diegene wat gewillig is om te luister na wat die toekoms inhou, te waarsku.

Namate die tyd vir God se ingryping in wêreldsake en die toekomstige GROOT VERDRUKKING nader kom, is dit absoluut lewensbelangrik dat u en u geliefdes seker maak dat u waarlik behoort aan Jesus Christus, die Christus van die Bybel. U moet seker maak dat u God “in Gees en waarheid” aanbid (Joh. 4:23). U moet ook seker maak dat u deel is van die ware Kerk van God wat die Christenskap van die Apostels onderrig en beoefen, daardie Christelike lewenswyse van Jesus en die oor­spronklike Apostels.

“Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê” (Op. 3:13).

Laai af in PDF (118 KB) | Bestel GRATIS Gedrukte Uitgawe
Geliewe daarop te let dat genoemde boekies nie by El-Roi beskikbaar is nie, maar dat u dit direk kan bestel vanaf
Die Lewende Kerk van God of u kan die PDF dokument aflaai indien beskikbaar. Baie Dankie.